Die ewige vreugde van die gelowiges

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-04-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 22
Preek Inhoud: 

Sondag 22

Johannesburg 25 April 2010

Lees: Lukas 16:19-31; Philippense 1:12-26.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydens; Ps 63:2,3,4; Ps 73:10-12; Ps 16:4,5.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Waar dink julle aan wanneer die ewige lewe genoem word? Is dit iets wat ver in die toekoms lê, iets van na hierdie lewe? Is dit iets wat jy ver voor jou uit skuif? Iets wat buite jou daaglikse lewe op aarde staan? Iets waar jy nie aan hoef te dink nie wanneer jy nog jonk en sterk is? Is dit iets vir die siekes en die bejaardes om oor na te dink? Soms lyk dit so. Die lewe hier en nou lyk dan alles te wees. Die einddoel van al ons drome en strewe.

Die Skrif en daarvolgens die kat maak egter duidelik dat die ewige lewe nie buite ons daaglikse lewe staan nie. Nog minder staan dit teenoor ons daaglikse lewe. Wanneer jy glo dan mag jy bely: ek ervaar nou reeds die begin van die ewige vreugde in my hart. Ja, nie eers later nie, maar nou reeds.

Ek verkondig vir julle:

Die ewige vreugde van die gelowiges

1.      Begin hier en nou

2.      Word verdiep wanneer jy sterf

3.      Word voltooi by Christus se wederkoms

Die ewige vreugde begin nou, jy wat glo mag nou alreeds die begin van die ewige vreugde in jou hart ervaar. Maar wat is dit om die vreugde in jou hart te ervaar? Moet jy ’n spesiale gevoel in jou hart hê? Wat gemaak as jy nie die gevoel in jou hart het nie?

Hierdie ervaring is meer as net ’n gevoel. Moenie met jou gevoel begin nie. Ons gevoel is baie wisselvallig, dit gaan op en neer, kan kom en gaan. As die begin van die ewige vreugde daarvan sou afhang, dan was dit maar somber gestel met my lewe.

In Joh 17:3 sê die Here Jesus in sy hoëpriesterlike gebed: "Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het." Wat is dus die ewige lewe? Dat jy God die Vader ken en sy Seun Jesus Christus. Die ewige lewe begin dus hier en nou wanneer jy glo. Dan besit jy die ewige lewe. Daarom sê die Here Jesus ook in Joh 11: 25,26: "wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie." Broeder, suster, seun, dogter, is dit hoe jy jouself sien: as ’n mens wat glo en daarom nooit tot in ewigheid sal sterwe nie? Julle verstaan wat ek bedoel? Wanneer jy glo, dan besit jy reeds die ewige lewe. En die ewige lewe is wat dit sê: ewig, sonder einde. Jy sal dus nooit werklik sterwe nie, ook al vergaan jou liggaam.

Ondertussen praat die kategismus van die ervaring van die ewige vreugde. Dit begin by geloof. Maar die geloof bly nie net ’n saak van jou verstand en wil nie, dit raak ook jou gevoel en hart. Jy begin om dit te ervaar. Jy begin om jou band met die Here te ervaar, om die vreugde in die Here te ervaar. Jy het die Here lief met jou hele persoon, met jou hele hart, met jou hele siel en met jou hele verstand.

Daarom is dit nie net ’n saak van: ek glo dat God bestaan en ek hou daarmee in my lewe rekening nie. Ek wil mos nie hel toegaan nie. Nee, geloof is dat ek helder sien: God het my lief. Hy het sy liefde vir my gewys. Hy het dit gewys op ’n baie wonderlike manier toe Hy sy geliefde Seun verlaat het sodat ek nooit meer deur Hom verlaat sou word nie. Eerder as om my sondes ongestraf te laat bly, eerder as om my ewig verlore te laat gaan, het Hy sy Seun vir my laat sterwe. Het iemand ooit soveel liefde vir jou gewys? Wanneer jy dit besef, dan kan dit jou nie koud laat nie. Inteendeel, dit maak jou gelukkig, bly, oorstelp van vreugde en liefde vir Hom wat jou eers so liefgehad het.

Gemeente, wanneer die liefde my hart begin vul, dan is die lewe vir my Christus, soos Paulus dit in Fil 1:21 formuleer. Jy kan dit enigsins vergelyk met ’n diepe verhouding wat jy ook hier op aarde kan beleef. Soms hoor jy getroude mense sê: my man/vrou beteken alles vir my. Ek kan my lewe nie voorstel sonder hom/haar nie. Ek kan nie sonder hom of haar nie. Met ander woorde die lewe is vir my hom of haar. So mag ons met Paulus sê: die lewe is vir my Christus. Kernagtige woorde. Vir my is die lewe Christus. Mense, wil jy weet wat my lewensgeheim is en wat my lewensdoel is: dit is Christus. Christus is die een wat sin en betekenis aan my lewe gee. Hy is die een op wie alles aankom, sonder wie ek nie kan lewe nie.

Om te lewe is vir my om Christus te ken, om Christus lief te hê, om Christus te dien, om Christus se saak te bevorder, om vir Christus te ly en te stry. My hele lewe, my handel en wandel is op Christus gerig, wil Christus my Redder grootmaak. My lewe word so deur Christus beheers, dat Christus as 't ware my lewe self geword het. Vir my is die lewe Christus. ’n Pragtige belydenis. Kan jy dit Paulus nasê? So ja, dan sal die eer van Christus die doel van jou lewe wees. Dan sal die genade van Christus die krag van jou lewe wees. Dan sal die Woord van Christus jou gids wees. Dan sal die diens van Christus die vreugde van jou lewe wees.

Natuurlik is daar nog baie dinge in ons daaglikse lewe wat op die volle Christus-lewe en op die vreugde in die Here ’n demper sit. Daar is veral die sondes, die tekortkomings. Dieselfde Paulus wat skryf: vir my is die lewe Christus, skryf ook in Rom 7 "As ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig…Ek ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?" Daarom verlang hy na die volmaakte vreugde en lewe. Daarom vervolg hy ook: vir my is die sterwe wins. Dit neem egter nie die begin van die ewige vreugde uit sy hart weg nie. Die begin is daar in elk geval hier en nou, sodra jy en solank as jy glo.

"Vir my is die lewe Christus," impliseer dat ek God dank vir sy verlossing van my lewe. Ek dank Hom dat Hy nie onmiddellik met ons sondige mensekinders afgereken het nie, maar dat Hy sy Seun gestuur het om met die sondes af te reken. Ek dank Hom vir die lewe en ruimte wat Hy nog gee en dat Hy my lewe voor sy aangesig opnuut weer wil laat bloei. Ek dank Hom vir sy goeie sorg. Dat God die Vader my God en Vader wil wees. Wie sou nie gelukkig wees met so ’n God en Vader, met so ’n Skepper en Verlosser nie? So mag ek hier en nou reeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar.

Ook wanneer ek in moeilike omstandighede verkeer. Dink aan Lasarus, die arm bedelaar. Hy het verskriklik gely. Hy het vol swere daar gelê voor die poort van die ryk man. Maar die ryk broeder het nie vir hom omgegee nie. Lasarus is arm en bly arm en siek. Tog mag hy die begin van die ewige vreugde in sy hart ervaar. Kan jy dit voorstel? Sy uiterlike mens mag dan wel vergaan, nogtans word sy innerlike mens dag na dag vernuwe (vgl 2 Kor 4:16). Hy ken mos die Here. Hy glo. Let maar op die naam wat die Here Jesus vir hierdie arm man gee: Lasarus. Dit beteken: God help of God het gehelp. Dis die boodskap wat hy ontvang in sy verskriklike situasie: God help. Dis wat in sy hart troos en vreugde gee, ondanks die uiterlike ellende.

Is dit nie opvallend dat Jesus die arm man juis hierdie naam gee nie? Vir die natuurlike oog lyk dit asof die teendeel waar is. Lasarus, God help. Waar is dan God se hulp? Maar dit is volle werklikheid. Die Here het spesiaal hierdie naam aan die man gegee. God help hom. Terwyl die ryk man geen naam ontvang nie. En ook geen hulp ontvang nie. God laat die ryk man met al sy rykdom verlore gaan.

Dis ’n duidelike waarskuwing vir elkeen van ons. Leef met Christus. Jy het God as helper nodig. Wees nie skaam om ’n Lasarus te wees nie. Jy is dalk nie so arm as die bedelaar van die gelykenis nie. Ook al ervaar jy miskien baie moeites en voel jy jou by tye miskien baie ongelukkig. Eensaam of moeg. Laat die boodskap van die naam Lasarus jou bemoedig: God help. Sy hulp laat ’n mens nooit beskaamd staan nie. Dit gee die vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit laat ’n mens bly wees in die Here, by alle droefheid wat daar ook al is.

So is daar ook perspektief vir vigs pasiënte wat geen uitsig op herstel het nie. Wanneer ’n vigspasient die Here mag leer ken en dien dan is daar uitsig. Dan is daar ’n toekoms. Dit is mos die ewige lewe dat jy God die Vader mag ken en sy Seun, ons Here Jesus Christus. Daarom is dit so belangrik dat die evangelie in ons land verder verbrei word onder alle bevolkingsgroepe. Dan kan ’’n uitgeteerde vigspasient wat werklik op die Here vertrou ’n voorsprong op ons gesonde mense hê. Wanneer ons jong en gesond is, welvarend, dan is die gevaar daar dat ons volledig gefokus is op ons lewe hier en nou. Ons wil dan geniet van die lewe. Of ons laat ons heeltemal in beslag neem deur die jag na aardse skatte, welvaart en geluk. Miskien dink ek: Later sal ek ernstiger word, sodat Christus my lewe word.

Maar, geliefdes, pasop vir so ’n houding. Want met ’n pragtige posisie in hierdie wêreld kan jy jou posisie by God verloor. Dink aan die ryk man. Daarom geniet die lewe met die Here ook as jy jonk en sterk is. Bly dit geniet ook as jy oud word. Dan kan jy in vrede die toekoms tegemoet gaan. Dan hoef jy nie desperaat te probeer om jonk te bly nie. Dan hoef jy ook nie senuweeagtig die gedagte van die dood weg te skuif nie. As jy deur geloof lewe dan is die toekoms mos joune.

Nou die tweede gedagte: die ewige vreugde van gelowiges word verdiep wanneer jy sterf.

Inderdaad jy hoef die gedagte aan die dood nie vreesagtig weg te druk nie. In Christus kan jy mooie dinge sê van wat gebeur wanneer jy sterf. Dit beteken egter nie dat jy die dood self mooi moet maak nie. Die dood bly verskriklik. ’n Mens verlang nie na die dood op sigself nie. Dit sou teen natuurlik wees.

Bowendien, die Here noem die dood ’n vyand, die laaste vyand wat oorwin moet word. Die dood is nie mooi nie. Die dood verbreek pragtige bande wat God geskep het. Die band van die huwelik, die band met jou kinders, met jou ouers, met jou vriende. Die dood veroorsaak dat jy niks meer vir mekaar kan sê of vra nie. En ’n liggaam wat tot stof terugkeer is iets verskrikliks.

Daarom mag jy as christen met die verval van jou lewe moeite hê. Daarom mag jy as christen verdrietig wees oor die verlies van ’n geliefde. Die dood bly verskriklik. Jy raak nooit daaraan gewoond nie.

Maar, broeders en susters, ’n christen bly nie in sy verdriet steek nie. Want daar is meer wat ons daaroor kan sê. God het ook daaroor sy goeie nuus laat hoor. Selfs die dood, wat ’n kwaad is, werk ten goede vir hulle wat God liefhet. Die dood bly verskriklik. Maar as gelowige mag jy weet: wanneer ek sterf dan sal my siel dadelik tot Christus my Hoof opgeneem word. In beginsel is die dood reeds oorwin. Ek mag dan met Christus wees. Iets geweldigs. ’n Stap vooruit. ’n Bevordering.

By tye kan ek dit baie moeilik vind. Die dood lyk die einde te wees. Maar die Here leer ons om in geloof te bely: die dood is nie die einde nie. Wanneer ek sterwe word my siel tot Christus opgeneem. Dink aan die arm Lasarus. Wanneer Lasarus sterf, gryp die engele onmiddellik in. Hulle neem hom op en dra hom na die hemel, na die boesem van Abraham. Voordat my liggaam klaargemaak word vir die begrafnis, laat die Here reeds sy engele hul werk doen. Hy laat my nie op my sterfbed lê nie. Hy maak seker dat ek opgeneem word.

Vir Lasarus was dit ’n wonderlike fees. Want hier op aarde het die man so te sê niks gehad nie. Hy was afhanklik van die vrygewigheid van God se volk. Maar hulle het hom in sy ellende laat lê. Dan gryp God in. God help. Hy gee aan Lasarus ’n baie besondere plek. Langs Abraham , die vader van alle gelowiges. Langs Abraham die spesiale vriend van God. God het die waarheid van Lasarus se naam gewys. Hy het gehelp.

God se genade is groot. Dis geweldig om dit te weet. Wanneer ’n geliefde sterf. Wanneer jy oud word. Wanneer jou liggaam aftakel en jy afhanklik word. Alles kan agteruitgaan, versleg. Maar ek mag tog sterk wees. Want die Here help. Ek sal nie verslaan word nie. Selfs nie op die oomblik van my dood nie.

Dink aan Paulus. Hy het gesê: vir my is die lewe Christus. Ons het onder die eerste punt daarna verwys. Maar dis slegs die helfte van wat hy gesê het. Hy het die sin voltooi deur te sê: en die sterwe wins. Waarom? Want dan sal ek met Christus wees, verklaar hy later. Dis hoe dit gaan. Die Here Jesus het self vir een van die misdadigers aan die kruis gesê: vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. Dink ook aan die woorde van Ps 73:24: "U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem." Die wins van die geloof blyk wanneer ek sterf. Dit is baie vertroostend.

Dis ook ’n baie ernstige saak. Sonder Christus is en bly die dood verskriklik. Dink aan die ryk man van die gelykenis. Dis nie iets wat jy onmiddellik sien nie. Miskien het die ryk man voor die oog van die mense in vrede gesterf. Maar na die oomblik van die dood sien die ryk man dadelik sy verskriklike situasie. Ook in sy oordeel verspil God geen tyd nie. Hy gryp onmiddellik in. God is vinnig met sy oordeel. Ook vinnig met sy genade. God laat ons nie wag nie. Wanneer ek sterf, dan laat Hy my nie aan my lot oor nie. Hy laat my ook nie in ’n diepe en lange slaap val nie. Nee, in geloof mag ek bely: hy neem my dadelik op tot Christus. Daarom, ondanks die verlies deur die dood, gee die dood ook groot wins: my ewige vreugde word verdiep, ek is dan by my Here Christus.

Nou die derde gedagte: die ewige vreugde van die gelowiges word by Christus se wederkoms voltooi, volmaak.

Die Here laat dit nie by die wins van die siel na die dood nie. Daarbo sal Hy my op die laaste dag volkome heerlikheid gee, met siel en liggaam. My vernederde liggaam, wat afgebreek word, sal dan aan die verheerlikte liggaam van Christus gelykvormig word. Dan sal die volkome, volmaakte vreugde en saligheid geniet word.

Solank dit nog nie die geval is nie, bly daar die dood. God se kinders staan reëlmatig langs die graf. Dan is daar die verdriet wat nie weggesteek hoef te word nie. Ons moet dit onder oë sien en dit leer hanteer. Onthou egter dat die Here ook by die graf besig is. Hy help en red. Ook daar. Die lewelose liggaam is ook sy eiendom. Daarom moet jy as christen die liggaam nie as iets minderwaardigs behandel nie. Daarom kremeer ons nie die liggame nie. Ons begrawe die liggaam met sorg en eer. Die begrafnis is eintlik ’n kwessie van saai. Vergelyk 1 Kor 15. Die saad sterf af. Dan maak Christus iets moois daarvan. ’n Verheerlikte liggaam. Sonder kanker, sonder degenerasie van die harsings, sonder artritus, sonder die gebreke van die ouderdom, sonder psigiese probleme, sonder enige gebrokenheid of spanning.

Dan word die lewe so mooi dat die kat. slegs kan aandui wat dit nie is nie. ’n Saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mense ooit opgekom het nie. Dis te mooi om te kan omskryf. Dan is ek met liggaam en siel met Christus. Ek woon saam met Hom. Die groot fees kan begin. Die bruilof van die Lam.

Nee ons sien dit nie altyd so nie. Ons het ons eie gedagtes en verlangens. Ons vra dan nuuskierig: sal ons mekaar daar herken. Ons beskou dit as een van die grootste dinge dat ons ons geliefdes, ons vriende weer sal sien. Ja, daar sal ons almal ontmoet wat in geloof gesterf het. Nie net ons bekendes nie. Baie meer, almal wat werklik by die Here behoort. Ek sal hulle almal ontmoet. En tog sal ek vir niemand ’n vreemde wees nie. Niemand sal my die rug toedraai nie. Elkeen sal die ander liefhê met ’n volmaakte liefde. Daar sal geen eensaamheid wees nie. Geen vervreemding van mekaar nie.

En die mooiste van alles is: daar sal ek by ons Here Jesus wees. Hom wat sy liefde vir my gewys het meer as enig iemand. Meer as enig iemand op aarde dit kon gewys het. Niemand het my ooit soveel liefde gegee as Hy nie. Daarom is dit so geweldig om juis Hom te ontmoet, om Hom te dien. Sonder belemmering deur sondige selfsug. Ongehinderd deur slapheid of siekte. Dan sal ek werklik volkome die Here kan dien. Dan sal ek ook niks anders as dit wil doen nie. Ek ken dan slegs suiwer begeertes. Daar is geen gemis of droefheid meer nie.

Dis waar, die lewe hier op aarde is dikwels reeds mooi, iets waarvan jy kan en mag geniet. Maar daardie lewe sal baie mooier wees. En dit sal mooi wees vir elkeen wat aan die Here behoort. Want die ervaring van die ewig vreugde hier en nou is slegs ’n begin. Soms ’n moeilik begin. ’n Begin wat nog dikwels deur pyn en verdriet oorskadu word. God se kinders word nog dikwels verneder, seergemaak, vervolg. Die sonde veroorsaak ook nog baie moeite en verdriet. Maar, geliefdes, in dit alles mag ons uitsien na die vervolg, na die verdieping van die vreugde by ons sterwe en na die volmaking van die vreugde by Christus se wederkoms. Ons mag uitsien na die groot dag van ons Here Jesus Christus wanneer God alles in almal sal wees.

AMEN

 

 

Net ’n herinnering: Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief C Kleijn

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)