Besaleël en sy spannetjie – kunstenaars vir God se huis!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-05-09
Teks: 
Exodus 31
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Baie van u het in u posvakkie hierdie groen ‘Gasgesin rooster’ gekry. Die doel van hierdie rooster is om gaste in die gemeente tuis te laat voel deur hulle uit te nooi vir ‘n koppie koffie of vir ‘n maaltyd. Sommige van dié wat u naam op hierdie lys sien, sal miskien sê: “Maar dit is nie my sterk punt nie, ek het nie werklik die gawes om dit te doen nie… Haal my liewer van hierdie rooster af!” ‘n Lastige situasie… Want dit is inderdaad so dat dit nie almal se sterk punt is om ander by jou huis te verwelkom nie. Sommige doen dit so natuurlik, hulle is so gesellig; vir ander vra dit baie inset om die gesprek aan die gang te hou. Ja, miskien moet ons dit inderdaad maar oorlaat aan die begaafdes op dié gebied. En tog lees ons, aan die ander kant, onderaan hierdie rooster die opdrag wat die Here in 1 Petrus 4 vir elkeen van ons gee: “Wees gasvry jeens mekaar…”

En so beland ons – sommer-so vanuit ‘n eenvoudige praktykvoorbeeld in ons gemeentelike lewe – in die middel van ‘n belangrike vraagstuk rondom die geestelike gawes in die gemeente, een waaroor daar dikwels verwarring bestaan, en waaroor ons dus behoorlik duidelikheid moet kry. En dit is die vraag: wat is die verskil tussen die gawes van die Gees en die vrugte van die Gees? Beide hierdie beskrywings word immers in die bybel gebruik. Wel, om dit baie eenvoudig te stel: die vrugte van die Gees – waarvan die Skrif onder andere in Galasiërs 5 en Efesiërs 5 praat – is iets wat ons almal moet vertoon, dit is nie opsioneel nie, want dit staan – volgens Galasiërs 5 – téénoor die werke van die vlees; die vrugte is iets wat die Gees in elkeen van ons wil werk, want ‘n goeie boom dra geen slegte vrugte nie en ‘n slegte boom geen goeie vrugte nie. Ondersoek daarom die Skrif om te sien wat die vrugte is wat die Here in elkeen van ons wil werk en by elkeen van ons wil raaksien.

Die gawes daarenteen… ja, dít verskil van persoon tot persoon; dít deel die Gees uit soos Hy dit goeddink. Niemand van ons het álle gawes nie; almal van ons se gawes verskil. En waar daar persone is wat wel dieselfde gawe het, het hulle dit nogtans nie in dieselfde mate nie. As ons dit nou toepas op die konkrete situasie van hierdie ‘Gasgesin rooster’, dan kan ons sê: almal van ons kry die opdrag om gasvry te wees, dit is ‘n vrug wat die Gees in jou wil werk – dus, moenie jou naam laat afhaal nie; en as jou naam nog nie op is nie, haas jou om dit daar op te kry. As jy ‘n goeie boom is, dra dan ook goeie vrugte. Maar wees andersyds ook daarvan bewus: dit is nie vir almal ewe maklik om mense te onthaal nie, almal het nie dieselfde gawes om dit goed te kan doen nie, dit kom nie vir almal ewe natuurlik nie.

Gepraat van ‘natuurlik’ – en dit bring ons by ‘n volgende belangrike vraagstuk rondom die gawes – is die gawes van die Gees noodwendig so natuurlik? Is die gawes wat jy en ek ontvang het, aangebore of val dit net op ‘n goeie dag uit die lug uit? En verder: is daar ‘n verskil tussen talente en gawes? Dit is waarop ons in besonder in hierdie preek wil let. Kom ons luister daarom saam na die Woord van die Here soos wat ons dit vind in Exodus 31.

Tema: Besaleël en sy spannetjie – kunstenaars vir God se huis!
1. Gebore kunstenaars
2. Geheiligde kunstenaars

1. Aan die einde van Exodus 24 word vir ons vertel dat Moses opgeklim het na die Here en veertig dae lank by Hom gebly het. God gebruik hierdie veertig dae om aan Moses instruksies te gee. Hierdie instruksies het spesifiek betrekking op die bou van die heiligdom, die tabernakel, sodat God in die midde van sy volk kan woon. God gee baie noukeurige instruksies oor die tabernakel, oor die inrigting daarvan, en selfs oor die priesters se klere (Ex. 25-30). Hy wys ook vir Moses ‘n soort skaalmodel van die tabernakel, en druk dit op sy hart dat hy alles presies volgens hierdie model moet maak. Vervolgens, in ons Skrifgedeelte, wys God die persone aan wat hierdie belangrike werk sal moet uitvoer. En dan word met name verwys na Besaleël en Oholiab, asook na ‘n anonieme groep kunstenaars.

Nou, van Besaleël word in vers 3 gesê dat die Here hom met sy Gees vervul het. En dan volg onmiddellik daarop: “… met wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid vir allerhande werk, om kunstige planne uit te dink, om dit uit te voer in goud en silwer en koper.” Dit is vir ons almal duidelik dat Besaleël besonder begaafd was op die gebied van die kunste. Maar as ‘n mens dit so lees, dan wonder jy hoe dit presies gewerk het; wat het presies hier in Exodus gebeur? Het Besaleël op daardie einste oomblik – toe die Here die Heilige Gees aan hom geskenk het – sy kunsvaardigheid en sy vakkundigheid vir die eerste keer ontvang, óf het Hy die Géés ontvang om die kunsvaardigheid en vakkundigheid wat hy reeds lankal besit het, volgens God se voorskrif te kan gebruik?

Dit is geen onbelangrike vraag nie, want die beantwoording hiervan sal ons help by die identifisering van die gawes wat die Here aan elkeen van ons persoonlik geskenk het. Ons sukkel soms daarmee, nie waar nie? Ons weet nie mooi waar om te begin soek na ons gawes nie. En gevolglik weet ons ook nie lekker wat ons taak en plek in die gemeente is nie. En daarom is dit belangrik om ‘n antwoord te kry op die volgende vraag: Val die gawes van die Gees sommer eendag uit die bloute uit die hemel op ons neer? – gister was ek geen goeie spreker nie, maar vandag het ek ewe skielik die gawe om in die gemeente onderrig te kan gee…; of: gister kon ek nie orrel speel in die kerk nie, maar vandag tref dit my skielik dat ek ‘n begaafde begeleier van die gemeentesang is. Is dit omtrent hoe die uitdeling van die gawes gebeur? Is dit hoe die Here in sy gemeente werk?

Broers en susters, as ons bietjie verder in Exodus lees, dan sien ons dat dit nie die geval is nie. Ons lees naamlik in Exodus 31:6: “En in die hart van elkeen wat kunsvaardig is…” En in Exodus 36:1: “So moet dan Besaleël en Oholiab en elkeen wat kunsvaardig is…” – Besaleël wás dus alreeds kunsvaardig voordat die Here hom vir sy spesiale taak geroep het. En so ook Oholiab en sy hele span met kunstenaar. Dit is selfs opmerklik dat in die tweede deel van vers 6 van die span kunstenaars letterlik in die Hebreeus gesê word: “En in die hart van elkeen wat wys van hart is, het Ek wysheid gegee, dat hulle alles kan maak wat ek jou beveel het.” Die Here gee hier wysheid (of: kunsvaardigheid, soos ons vertaling sê) aan dié wat alreeds wys (of: kunsvaardig) is! Nou, ons sal in die tweede punt sien wat die Here dan nou eintlik toevoeg. Maar ons kan vir eers net konstateer: hierdie manne hét alreeds die gawe van kunsvaardigheid. Ons het hier sowaar te make met ‘n spannetjie gebore kunstenaars!

En dit leer vir ons iets baie belangriks, gemeente: die gawes wat die Here aan sy gemeente gee, val – in die reël – nie skielik net uit die lug uit nie. Jy kry nie skielik jou spesiale gawe byvoorbeeld op die dag van jou doop, of op die dag van jou belydenis, of op die dag wanneer jy as ampsdraer bevestig word. Nee, só werk die Here nie! Let wel, ek sê: in die reël. Natuurlik is die Here by magte om in besondere gevalle ‘n uitsondering op die reël te maak en iemand in ‘n oogwink te begiftig met ‘n spesiale gawe, maar in die normale patroon val die gawes nie skielik net uit die lug uit nie. En verder moet ons ook besef dat die Gees in die reël ook nie geïsoleerde en gespesialiseerde kerk-talente gee nie. Immers, baie van die gawes wat ons besit, kan ewe goed in ‘n nie-kerklike konteks gebruik word. Wysheid en bestuurstalent, waarvan Paulus in 1 Korinthiërs 12:8 en 28 praat, is nie slegs aan die gelowiges geskenk nie. In die breë samelewing is daar baie ongelowiges wat ook sulke talente het. En hulle kan daarmee selfs goeie dinge doen. En wanneer daar iemand in die gemeente is wat die gawe het om ander te onderrig en dinge helder uiteen te sit, dan is dit nie ‘n gawe wat slegs in die kerk hoef te funksioneer nie; inteendeel, dikwels het sulke mense in die daaglikse lewe ook ‘n werk waarby hulle hierdie talente gebruik, byvoorbeeld as ‘n onderwyser of as ‘n dosent.

Dus, broers en susters, die genadegawes wat aan ons gegee word vir die opbou van die gemeente, moet altyd in noue samehang gesien word met die normale talente en begaafdhede van mense. Sien raak dat daar kontinuiteit is tussen – wat ons noem – die natuurlike en die geestelike. God hou hierdie twee bymekaar! Vir die opbou van sy gemeente maak Hy gebruik van jou karakter, jou aanleg, jou aangebore kapasiteite. Die Gees se werk in ons verdring nie vir een oomblik ons menslikheid nie, Hy beroof ons nie van ons persoonlike eienskappe nie. As dit dus daaroor gaan om jou gawes te ontdek, dan moet jy eenvoudig dáár begin: hoe het die Here my as mens gemaak? Watter soort karakter het Hy my gegee? Wat is die sterk punte in daardie karakter? Waarvoor het ek ‘n aanleg?

Natuurlik, ek weet dat daar nog baie meer is om te sê – ons sal in die tweede punt daarby uitkom. Maar laat ons net eers hierdie punt verstaan en vasmaak: wanneer dit oor die gawes in die gemeente gaan, volg die Here – in die reël – eenvoudig die natuurlike weg; Hy maak eenvoudig gebruik van die skepselmatige, die kreatuurlike – net soos wat Hy by die bou van sy woonplek eenvoudig die ‘aangebore’ kunsvaardigheid van Besaleël, Oholiab en die res van die span gebruik het. En wanneer ons sê ‘aangebore’, dan bedoel ons daarmee nie dat dit los van God staan nie. Want ook dit wat aangebore is, is ‘n geskenk van God; daar is niks wat ons besit wat ons nie van die Here ontvang het nie. Maar ngtans skenk God dit aan ons in die natuurlike weg van geboorte en erflikheid. Daar waar Hy my ongevormde klomp gesien het, daar waar Hy my niere gevorm en my in my moeder se skoot geweef het (Ps. 139), dáár het Hy ook alreeds ‘n karakter en talente aan my gegee en in my geskep, sodat ek dit tydens my lewe in sy kerk en koninkryk sou gebruik. So gewoon, so normaal, werk die Here – tot opbou van sy geestelike huis, die gemeente!

En wanneer ons verstaan dat die Here langs die natuurlike weg talente en gawes vir ons skenk, dan verstaan ons vervolgens ook dat hierdie talente nie outomaties funksioneer nie. Nee, hulle moet ontwikkel en deur die gebruik daarvan geoefen word. Die golfspeler, Tiger Woods, het op drie jaar alreeds golf begin speel, maar hy was toe nog nie so goed soos wat hy op vyftien was nie, en op vyftien was hy nog nie so goed soos wat hy vandag is nie. Soos wat ‘n kind groei en ‘n tiener word, en ‘n tiener ‘n volwassene word, so moet jou talente ook deur groei steeds meer effektief word in die vervulling van jou roeping. In 2 Timotheus 1:6 vermaan Paulus daarom sy leerling Timotheus dat hy die genadegawe, wat in hom is, moet aanwakker. Dit is vir ons ‘n veelseggende aansporing. Bekwaamheid om in die kerk te kan werk, is nie maar net ‘n kwessie van ‘jy het dit, of jy het dit nie’. Nee, God se gawe in jou lewe is ‘n dinamiese iets. Jy kan enersyds in luiheid en ongeloof jou gawes verwaarloos; dáároor skryf Paulus ook aan Timotheus in 1 Tim. 4:14: “Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie…” Wanneer jy jou genadegawe verwaarloos, dan bedroef jy die Gees en jou gawe krimp weg totdat daar uiteindelik niks meer oor is nie.

Daarenteen word jy opgeroep om jou gawes aan te wakker. Dit is soos ‘n vlammetjie wat jy kan aanblaas sodat dit oplaai tot ‘n helder vuur. En dit vra heilige ywer, dit vra ook soms baie harde werk. Om jou gawes te ontwikkel, beteken oefening. Oefening deurdat jy jouself toerus met Skriflesing en gebed; oefening deurdat ons mekaar toerus in groepsverband. Maar ook oefening deurdat jy jou gawes eenvoudig konkreet gebruik. Daar is geen beter leerskool as die praktyk van die gemeentelike lewe nie. Gebruik hier jou gawes, beoefen hulle, ook al is dit met val en opstaan. En laat ons geduldig wees met mekaar wanneer ons ons gawes beoefen… en soms struikel. Die gemeente is veronderstel om ‘n veilige leerskool te wees, sonder voortdurende en afbrekende kritiek op mekaar. Ook ons kinders en jongmense moet weet dat hulle hier hulle gawes kan inoefen; hier moet hulle vaardig word – gee hulle daarvoor die ruimte.

Dus, broers en susters, as ek hierdie eerste punt in ‘n enkele sin kan saamvat, dan sal ek sê: in die natuurlike weg ontvang ons ons gawes, in die natuurlike weg moet ons dit ook ontwikkel. Só het Besaleël en sy span dit ook gedoen.

Vervolgens let ons daarop dat Besaleël en sy span ook geheiligde kunstenaars was.

2. Ten spyte daarvan dat Besaleël en Oholiab en die ander kunstenaars aangebore talente van die Here ontvang het, was dit nog nie genoeg vir hulle om die hand te slaan aan die groot projek om die tabernakel te bou nie. Kerkbou is nie sommer vir enige Jan Rap en sy maat wat talente gekry het nie. En ons besef dit wanneer ons die beskrywing lees wat die Here in ons teksgedeelte van die tabernakel gee: die tent van samekoms (die plek waar die Here en sy volk mekaar ontmoet het), die ark van die Getuienis (wat die hoogheilige troon van die HERE was hier op aarde), die versoendeksel (die bewys van die versoening wat daar tussen God en sy volk bewerk is), die suiwer kandelaar (God se lig by sy volk), die reukaltaar en die brandofferaltaar (waarop die offers gebring is), die waskom (vir die priesters om skoon voor die Here te kan verskyn), die klere van die priesters (wat hulle posisie voor die Here aangedui het). Vir al hierdie heilige dinge was blote kunsvaardigheid nog nie voldoende nie, net so min as wat ons vandag ‘n begaafde spanbou-konsultant van buite-af kan inhuur om die opbou van hierdie gemeente te behartig. Nee, daar is nog meer nodig. En daarom vervul die Here vir Besaleël, as die projekleier, in besonder met sy Heilige Gees (vers 3). En verder het God aan elkeen wat wys van hart is, wysheid gegee (vers 6). Daar moes dus nog iets esktra by die gawes toegevoeg word. Maar wat is hierdie ‘iets’ presies?

Wel, gemeente, die gawes en talente wat ons deur erflikheid en deur aanleg ontvang het, is nie outomaties bruikbaar vir die opbou van die gemeente nie. Dit is nie so dat ek ‘n aangebore musiektalent het, en daarom is ek outomaties geskik vir die begeleiding van die gemeentesang nie; en ook al het ek my onderwys-talent van my ma geërf, dan nog beteken dit nie dat ek ‘n geskikte bybelstudie-leier sal wees nie. In die verbond en in die kerk van die Here is daar niks outomaties nie; niks is vanselfsprekend nie – ek word mos ook nie as ‘n wedergebore christen gebore nie…. of dink ons soms wel so? Nee, broers en susters, my gawes moet – net soos my hele lewe – deur die oordeel heengaan, dit moet deur die wedergeboorte en bekering heengaan. Ons gawes moet – net soos onsself! – weggeruk word van die heerskappy van die duiwel waaronder dit van nature staan. Ons gawes moet verlos en gereinig en geheilig word deur die bloed en die Gees van Jesus Christus. Slegs op dié manier, slegs wanneer ons deur hierdie breuk heengegaan het, slegs dan word ons vermoëns en talente bruikbaar en vrugbaar vir die diens aan God in die midde van sy gemeente.
Besef daarom: jou gawe, jou charisma, is nooit jou besit nie, dit is nooit iets wat jy eenvoudig net kan saamvat kerktoe nie. Nee, dit is altyd presies soos die woord sê: charisma, genadegawe. Ook al sluit die Heilige Gees Homself by die kreatuurlike aan, dan beteken dit nog nie dat die gawe my besit is wat ek op my manier kan gebruik nie. Elke dag moet ek dit as ‘n geskenk van God erken, ‘n geskenk wat ek in verbondenheid aan Hom mag gebruik. Talente is in die kerk slegs charismata – genadegawes – solank as wat hulle in diepe afhanklikheid van die Here, biddend en gelowig, aanvaar en gebruik word. As iemand sy gawe nie op dié manier gebruik nie, het hy géén charisma nie, ook al is hy hoe talentvol! ‘n Persoon kan hoe talentvol wees – ook hier in die gemeente – maar as daardie talente nie deur die Gees geheilig is nie, bly dit onvrugbaar vir God se koninkryk.

Die diepste voorwaarde vir jou om vrugbaar te kan werk met die talent wat aan jou toevertrou is, is dus om in geloof aan Christus verbonde te wees. Die mooiste talente van ‘n spreker of van ‘n skrywer, van ‘n onderwyser of van ‘n orrelis, van ‘n organiseerder of van ‘n kunstenaar bly onbenut en onvrugbaar vir die opbou van die gemeente, wanneer so iemand nie glo nie, of wanneer so iemand – hoewel hy lid is van die kerk – nie van harte aan Christus verbonde is nie. Deur die lees van die Skrif en deur vurige gebed groei jy in jou verbondenheid aan Jesus Christus, en só ontvang jy die gawe van die Gees wat jou aangebore talente heilig maak, bruikbaar maak, afsonder vir diens aan die Here. Jou genadegawe, jou charisma, kan jy dus slegs gebruik op die basis van die regverdiging deur Jesus Christus, en binne die kader van die heiligmaking deur die Gees.

En slegs op dié manier kan jy jou gawes in die gemeente aanwend soos wat God dit van jou vra. Ja, soos wat God dit van jou vra – dit gaan hier dus veral ook oor gehoorsaamheid! My gawes is nie myne om daarmee te maak soos wat ek wil nie; nee, dit is God se gawes, en Hy gebruik dit soos wat Hy wil. En dit is ook presies waartoe Besaleël en Oholiab en die res van die span geroep word. Hulle kry die verantwoordelikheid vir ‘n besondere werk. En daarom kan hulle nie hulle eie kop volg nie, hulle moet goed na die Here luister. Hulle moet alles maak soos die Here vir Moses op die berg beveel het (verse 6 en 11). Die bloudruk is daar, die skaalmodel is daar – bou daarvolgens!

Broers en susters, ons bou vandag aan ‘n geestelike huis wat sy gelyke nie ken nie. Die gemeente van Christus is ‘n huisgesin sonder weerga. Daarvoor wil God ons gawes gebruik. Maar dit móét gebeur in gehoorsaamheid aan Hom. Daarom is ons nie los kanonne wat maar elkeen doen wat ons goeddink nie; ons skiet sommer vanuit die heup uit nie. Ook al het jy die mooiste gawes ontvang, kan jy nie maar net wild en wakker gaan bou nie, want nie elke bouwerk gaan die toets van God se oordeelsvuur kan deurstaan nie. Net omdat ek ‘n gawe ontvang het om die evangelie uit te dra, beteken nie dat ek môre my goedjies kan gaan pak en êrens in die vreemde kan invaar om daar evangelisasiewerk te doen nie; net omdat ek die gawe van Skrifkennis ontvang het, beteken nie dat ek almal by die bybelstudie kan oordonder om my kennis ten toon te stel nie; net omdat ek organisasie-vermoë ontvang het, beteken nie dat elke projek wat ek reël noodwendig tot verheerliking van God nie. Nee, geheilig deur die Heilige Gees wil ons ons gawes op geen ander manier gebruik nie as in ooreenstemming met die volmaakte wil van God, daardie wil wat Hy in die Skrif aan ons geopenbaar het. Daardie Skrif maak ons werklik wys! Wys om te kan onderskei waarop dit aankom – hoe en wanneer en waar dien ek die opbou van die gemeente die beste? Hoe word God verheerlik in die gebruik van my gawes?

Broers en susters, jy word vandag opgeroep om veral twee dinge by jouself te gaan ondersoek.

In die eerste plek word jy opgeroep om na jouself te kyk – wat het die Here vir jou gegee? Waar lê jou sterk punte? Wat het die Here aan jou geskenk wat Hy in die opbou van sy gemeente wil gebruik? Ondersoek jouself! En help mekaar daarby as man en vrou, in gesinsverband, as jongmense onder mekaar. Vra maar vir mekaar: waar, dink jy, sal ek die gemeente van Christus die beste kan dien? Waar lê my gawes? En dan gaan dit nie daaroor om na komplimente te soek nie; nee, dit gaan oor God en sy gemeente, nie oor my nie.

Maar vervolgens word jy ook opgeroep om na jouself te kyk in jou verhouding met die Here – in watter verhouding staan ek tot Jesus Christus? Is ek deur God se genade weergebore? Het ek met my hele lewe deur die oordeel gegaan van wedergeboorte en bekering? Is ek geheilig om bruikbaar te wees in God se Koninkryk? Jou kerklidmaatskap is nog geen versekering daarvoor nie. Moet jouself dus nie te vinnig van hierdie vraag afmaak nie, maar gaan staan eerlik voor die Here. Gaan staan voor Hom en gryp Hom in geloof aan. Vind jou lewe in Hom! Bid tot Hom en laat Hom toe om jou hele lewe in beslag te neem – soos wat die Here met Besaleël en sy spannetjie gemaak het. En vind dan in Hom ‘n skatkis vol geskenke, die mooiste presente – gawes sowel as vrugte, vrugte sowel as gawes. Tot eer van God en tot opbou van sy gemeente!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 116:1, 2, 3 en 5
Sing voor die wet: Skr. 26:1
Wetslesing
Sing Skr. 26:10 en 11
Gebed
Lees: 2 Timotheus 1:3-7
Sing Skr. 13:5-7
Teks: Exodus 31:1-11
Preek
Amenlied Skr. 24:3, 5 en 6
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 116:7-10
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)