Die kerk reis saam na die heerlikheid op die hoogweg van die liefde!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-05-16
Teks: 
1 Korinthiërs 13
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten
 
Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ek wil vandag die reeks oor die opbou van die gemeente afsluit. Daar is nog so baie wat gesê kan word, maar ‘n mens moet êrens stop. Daar is egter een onderwerp wat ons nie mag nalaat nie, want daarsonder sou die koek van enige gemeenteopbou-projek volledig plat val. Hierdie onderwerp is ‘n onmisbare bestanddeel as ons die koek nie wil laat flop nie. En u kan waarskynlik raai wat hierdie onmisbare bestanddeel is…  Die liefde!

In 1 Korinthiërs 12 – só het ons twee weke gelede gesien – begin Paulus met die behandeling van die gawes van die Gees, een van die onderwerpe waaroor die Korinthiërs aan hom geskryf het. Hierdie bespreking van die geestelike gawes strek vanaf hoofstuk 12 tot aan die einde van hoofstuk 14; hierdie drie hoofstukke is ‘n eenheid. Wanneer ons daarom vandag na hoofstuk 13 wil kyk, dan moet ons die twee hoofstukke waardeur hoofstuk 13 omring word, ook in gedagte hou.

In hoofstuk 12 bespreek Paulus die feit dat daar in die gemeente baie verskillende gawes is, maar dat die gemeente, nieteenstaande die verskillende gawes, tog een liggaam is waar elke lid belangrik is en geen lid sonder die ander kan klaarkom nie. En dit was skynbaar belangrik om dit te benadruk, want ons kry in die gemeente van Korinthe die situasie dat lidmate hulle begin beywer het om die opvallende, die skouspelagtige gawes te verkry – gawes soos tongetaal, genesings en openbaringe van die Gees. En die lidmate wat hierin geslaag het, is van ‘n hoër status geag as ander, en hulle het hulleself ook daarop beroem. Maar dan wys Paulus op ‘n eenvoudige wyse, met behulp van die beeld van die liggaam, dat daar geen rede vir hierdie roem is nie. Hoewel daar in die liggaam baie lede is, is dit tog een liggaam, waar al die lede mekaar nodig het.

Paulus wys hier aan die gemeente van Korinthe dat die lidmate daarom nie elkeen vir hulleself moet ywer vir die mees aansienlike gawes nie, maar dat hulle die welstand van die gemeente op die oog moet hê! Elke lid kry gawes om dit in diens van die gemeente te gebruik. En dan verstaan ons ook wat Paulus bedoel wanneer hy in hoofstuk 12:31 sê: “Maar beywer julle met die oog op die béste gawes…” Die beste gawes – is dit die skouspelagtige gawes? Is dit om in tonge te kan praat? Is dit om mense gesond te kan maak? Nee, wanneer Paulus die verskillende gawes opnoem, dan kom hierdie gawes, wat in Korinthe so hoog in aansien was, heel onder aan die lysie (vv. 8-10, v. 28). Om jouself vir die beste gawes te beywer, beteken om te soek na daardie gawes waardeur die geméénte opgebou word, waardeur die geméénte gedien word.

En dit is in hierdie konteks – wanneer Paulus sopas die gemeente opgeroep het om die beste gawes na te jaag – dat hy sê: “… en ek wys julle ‘n nog uitnemender weg.” Broers en susters, dit is die weg van die liefde, wat Paulus dan vervolgens in hoofstuk 13 in die pragtigste taal gaan uitwerk! Die weg van die liefde – dit is op daardie weg dat jy en ek werklik ‘n oog ontwikkel vir wat goed en opbouend vir die ander is, dit is op daardie weg dat jy en ek leer sien wat tot diens aan die ander strek, dit is op daardie weg dat jy en ek ontslae raak van ons egoïstiese en verkeerde motiewe. En die kerk van vandag word saam met die gemeente van Korinthe opgeroep om op daardie weg te gaan; die weg van die liefde is die hoofweg van die kerk op haar pad na die voleinding, op haar pad na die nuwe hemel en aarde. Op daardie weg gaan ons almal saam; op daardie weg is dit nie elkeen vir homself nie, maar soek ons na die béste gawes… ter wille van die eer van God en ter wille van die welstand van die ander!

Tema: die kerk reis saam na die heerlikheid op die hoogweg van die liefde!
1. Niks sonder die liefde nie (vv. 1-3)
2. Alles uit liefde (vv. 4-7)
3. Die liefde bly altyd (vv. 8-13) 

1. Paulus begin in hoofstuk 13:1-3 met enkele hipotetiese gevalle. Veronderstel, sê Paulus, ek het die tale van mense en engele… Die tale van mense verwys in hierdie geval na die tongetaal waarop die Korinthiërs hulself so beroem het; dit is daardie onuitspreeklike klanke wat so indrukwekkend geklink het. Maar Paulus gaan nog ‘n stappie verder, asof die tale van mense nie genoeg is nie: selfs al sou ek ook die tale van engele hê… Dus, selfs al sou ek die hoogste vorm van goddelike taal- en spraakvermoë hê, maar ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. ‘n Stuk metaal en ‘n simbaal maak groot geraas, maar niks meer nie; by beide is daar geraas, maar geen melodie nie. Die beste spraak van aarde en hemel, sonder liefde, is dus slegs ‘n harde geraas.

Vervolgens gee Paulus nog ‘n hipotetiese geval: veronderstel ek het die gawe van profesie. En nie sommer in ligte mate nie.. Nee, veronderstel ek het die gawe van profesie in so ‘n mate dat ek al die geheimenisse kan weet, en al die kennis kan besit… En veronderstel verder ek het al die geloof, sodanig dat ek ‘n berg van sy plek kan verskuif… Sjoe, dit is iets besonders. En dit word des te meer besonder wanneer ons sien in watter volgorde Paulus in hoofstuk 12:28 die gawes opnoem: dan kom die gawe van profesie nie êrens onderaan nie, nee, dit staan op die tweede plek. Dus, dit is geen onbelangrike gawe nie! Maar, sonder die liefde … beteken dit niks nie. Nog een hipotetiese geval: veronderstel ek gee al my besittings weg, of meer nog: veronderstel ek gee my eie liggaam weg om verbrand te word… Dit is nou werklik oorgawe, dit is toewyding! Maar as ek dit nie uit liefde doen nie? Dan help dit niks nie!

Gemeente, Paulus begin dus sy uiteensetting van die weg van die liefde met ‘n ondersoek na die afwesigheid van die liefde – wat is die effek wanneer die liefde afwesig is? Dink daaroor na! Paulus skets vir ons ‘n gemeente waarin die individuele lidmate uitblink in die mooiste en beste gawes, ‘n gemeente met die mees begaafde lidmate, ‘n gemeente met soveel potensiaal. Maar helaas is dit ‘n gemeente sonder liefde, en daarom maak hulle in God se koninkryk meer geraas maak as wat hulle musiek maak. Hulle dreig om in God se koninkryk ‘n gemeente sonder waarde te word, ‘n waardelose gemeente!

En dit is presies wat die Here Jesus in Openbaring 2 vir die gemeente van Efese sê: “Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.” Hierdie gemeente het alles gehad en gedoen, dit was met die eerste oogopslag ‘n model-gemeente! “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het… Bekeer jou!... Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.”

Ons eerste liefde – broers en susters, dit gaan hier nie oor daardie eerste meisie of ou met wie jy, lank-lank gelede, uitgegaan het nie; daardie eerste verliefdheid, waarna daar intussen nog vier ander gevolg het nie. Nee, dit gaan hier nie oor volgorde nie, dit gaan hier oor rangorde/prioriteit! Is die Here vandag die belangrikste liefde van jou lewe? Ken ons Hom nog in sy liefde? Verstaan ons nog hoe Hy Homself in sy liefde aan ons geopenbaar het? Verstaan ons nog wat sy optrede in Jesus Christus so onweerstaanbaar sterk maak? God het sy Seun nie aan ‘n kruis laat spyker om daarmee, soos die Korinthiërs, aandag en aansien en bewondering te soek nie; Hy het sy eie Seun nie die angste van die hel laat deurstaan om daarmee iets aan ander te bewys nie. Nee, so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Liefde het God gedryf om so ver te gaan vir ons verlossing, liefde het God daartoe gebring om nie sy eie saak te bevorder nie, maar die saak van dooie sondaars. Liefde was God se ware dryfveer. Want God is liefde!

En dit is slegs in Hom dat ons kan leer verstaan wat ware liefde is; dit is slegs in Hom dat hierdie klomp individue saam ‘n gemeente kan wees, saam kerk kan wees wat verbonde is aan haar eerste liefde! Liefde is dus nie ‘n bonusnommertjie in die kerk nie, broers en susters; nee, liefde is alles, want die gekruisigde Christus is alles! Ons kan nóg so ‘n begaafde gemeente wees, ons kan van kleins af nóg soveel kennis besit, ons kan die bybel ken van a tot z, ons kan presies weet hoe die kerkorde werk, ons kan alles weet van die ware en die valse kerk… Maar sonder die liefde – daardie liefde wat Christus as inhoud het – word dit alles hol, verloor dit sy melodieuse klank, verloor dit sy werfkrag na binne sowel as na buite. En dan het ons soos die Korinthiërs geword – selfvoldaan, selfversekerd, ‘n verdeelde ligaam en onderling in kompetisie met mekaar. Dit is nie tot eer van Christus nie!

Maar hierdie liefde wat van ons gevra word: hoe lyk hierdie liefde dan? Kom ons let vervolgens daarop (verse 4-7).

2. Ons het nou baie oor die liefde gepraat, ons het gehoor dat alles betekenis verloor wanneer dit nie uit liefde geskied nie. Maar die Gees gaan deur Paulus vervolgens verder om ook duidelik aan te toon wat hierdie liefde dan nou eintlik inhou. Want niemand beter as die Gees weet hoe maklik ons, mense, die inhoud van die liefde uithol nie, hoe maklik ons die betekenis van die liefde goedkoop maak, sodat liefde uiteindelik nog maar net ‘n opgewonde gevoel is… En ons is veronderstel om dit te ken, want ons sien dit in die wêreld om ons heen en ons ervaar dit ons eie lewe. Liefde word so dikwels gelykgestel aan verliefdheid, aan die opgewondenheid oor daardie aantreklike man of daardie mooi meisie. Liefde het in ons tyd ‘n gevoel geword, ‘n emosie – ons hoor dit in allerhande liedjies, ons sien dit in verskillende films, en ons ervaar dit in mense optrede.

Maar, gemeente, weet u wat is die probleem met ons gevoelens en emosies? Hulle verander, hulle fluktueer – die een dag is ons gevoelens daar bo in die wolke, is ons opgewonde oor alles, is ons lief vir almal, en sien ons kans vir enige iets. Maar die volgende dag is hulle daar onder op die grond, lyk alles vir ons donker, is ons met almal geïriteerd, en kan niemand iets reg doen nie. Ons gevoelens is eenvoudig nie ‘n betroubare maatstaf nie. En wanneer ons liefde gelykstel aan gevoel/emosie, dan beteken dit dat liefde onbetroubaar word. Dan weet ek nie meer of ek op jou kan staatmaak nie, want dalk voel jy nie vandag daarvoor om met my te praat of na my te luister nie; en ek weet nie of jy vandag by die kerk gaan opdaag nie, want dalk het jy vanoggend eenvoudig nie daarna gevoel nie; en ek weet ook nie of jy vandag vriendelik met my gaan wees nie, want moontlik is jou gevoelens bietjie af vanmôre. En verder kan ek jou ook nie meer oproep om vir die ander een lief te wees nie, want as jy nie so voel nie, wel ja, dan is dit volgens ons tyd ook nie moontlik om lief te hê nie. En ‘n mens hoor hierdie soort redenasies ook hier in die gemeente: “Jammer, dit is te veel gevra om vir daardie persoon lief te wees. Ek kan eenvoudig nie.” Sien u, hier het liefde sinoniem geword met my emosies, en as my emosies nie daarna voel nie, dan kan ek ook nie vir hierdie of daardie persoon lief wees nie.

Maar, gemeente, dit is nie hoe Paulus die liefde in 1 Korinthiërs 13 beskryf nie. In 1 Korinthiërs 13 het die liefde duidelike kenmerke; ons kan die liefde met duidelike eienskappe omskryf. As iemand dus vir jou vra wat liefde is, dan hoef jy nie maar net nostalgies te sug en te sê: “Ag ja, wie van ons sal ooit die liefde kan beskryf” nie. Of: “hoe sal ons ooit daardie woordelose gevoel onder woorde bring?” Nee! In verbondenheid aan God en Christus, en op grond van sy Woord kan jy sê:

Die liefde is lankmoedig – dit vertoon ‘n gewilligheid om geduldig te wees met die swakhede en die onaangename karakter-eienskappe van die ander – nie net vandag wanneer ek so voel nie, maar elke dag, ook wanneer ons na die erediens hier op die kerkplein met mekaar verkeer. Die liefde is vriendelik – nie slegs teenoor diegene van wie ék hou en by wie ék na hierdie erediens gaan staan nie, maar teenoor almal hier in die gemeente. Die liefde is nie jaloers nie – dit beny nie die ander vir sy of haar gawes nie. Die liefde praat nie groot nie en is nie opgeblase nie – dit vertel nie vir ander van al die dinge wat ek in die gemeente of daarbuite doen nie, ook nie op subtiele wyse nie. Die liefde handel nie onwelvoeglik nie – dus, die liefde tree altyd gepas op,  in woorde en dade en houding, maar ook in kleredrag en uiterlike vertoon. Die liefde soek nie sy eie belang nie, maar dit floreer in ‘n atmosfeer waar mense mekaar vertrou en weet dat elkeen die belange van die ander sal bevorder. Die liefde word nie verbitterd nie – dit word nie voortdurend geïrriteer deur die ander se optrede nie, en dit koester ook nie wraakgevoelens wanneer iemand my te na gekom het nie. Die liefde reken die kwaad nie toe nie – dit hou dus nie rekord van dit wat ander teen my verkeerd doen nie; as gelowiges is ek dus nie ‘n boekhouer van die kwaad nie, maar ek is eerder ‘n vergeetagtige van die pyn en leed wat ander my aangedoen het. Die liefde is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid – ek neem kennis van die kwaad, maar ek verbly my nie daarin nie; ek treur eerder oor die verkeerde wat mense mekaar aandoen. Daarteenoor is ek ontsaglik bly wanneer die waarheid seëvier. Die liefde bedek alles – dit gooi ‘n mantel van stilte oor dinge wat onaangenaam in iemand anders is en waarvan niemand anders hoef te weet nie. Die liefde glo alles – nie op ‘n naïewe wyse nie, maar in geloof dat God alles lei. Die liefde hoop alles – dit is die teenoorgestelde van pessimisme, en dit vorm die kern van ‘n gesonde optimisme; hoop fokus altyd op God in Christus Jesus. En ten slotte: die liefde verdra alles – dit volhard in tye van pyn, swaarkry, verlies en eensaamheid!

Sien u wat die liefde IS, broers en susters? Nee, nie wat dit so af en toe moontlik kan wees nie, maar wat dit IS! Só is die ware, bybelse liefde! Moet ons dit nakom? Ja, dit is die liefde wat die Here van ons vra, elke oomblik van elke dag. En dit hang nie af van ons gevoelens wat van dag tot dag kan wissel nie, maar dit hang af van die opdrag van die Here op wie se liefdesweg ons mag wandel. Dit is ‘n saak van gehoorsaamheid. Ja, liefde is ‘n opdrag! En die wêreld dink ons is van ons kop af as ons dit sê: liefde… ‘n opdrag?! Ja, gemeente, só sê die Here op verskeie plekke in die eerste brief van die apostel Johannes: dit is sy gebod, dat julle mekaar moet liefhê. Dit is ook die samevatting van die hele wet van God, waarna ons net na die erediens saam sal luister. En as die Here die opdrag gee, gaan soek dit dan ook by Hom, gaan kyk by Hom hoe ware liefde lyk, gaan vra vir Hom om dit ook vir elkeen van ons te gee, en gaan beoefen dit dan teenoor mekaar.

En weet ook dat ons nie elkeen alleen op die weg van liefde wandel nie, want hierdie weg is die weg van God vir sy kerk. Ons gaan saam op hierdie weg! Ons het broers en susters om ons heen aan wie ons ‘n voorbeeld kan neem, ons het medegelowiges van wie ons raad kan gaan vra, ons het ouderlinge en diakens wat ons vanuit die Woord van God bemoedig en aanspoor. Ook hierin het ons mekaar nodig om waarlik lief te hê. Broers en susters, gaan vul daarom die liefde met ‘n goeie, bybelse inhoud. Moenie net oor die liefde praat nie, maar wéés ook lief vir mekaar op die manier wat God vir ons hier in 1 Korinthiërs 13 wys. Soos die nagmaalsformulier dit so pragtig stel: “Omdat Christus, ons geliefde Saligmaker, ons eerste so uitnemend liefgehad het, moet ons ook aan mekaar liefde bewys, en nie alleen met woorde nie maar ook met die daad.”

En dan nog ons laaste gedagte: die liefde bly altyd! (verse 8-13)

3. Vir wie die weg van liefde deur God se krag end-uit mag bewandel, is daar ook nog die heerlike belofte dat die liefde altyd sal bly. Profesieë en tale en kennis – al hierdie gawes waarop die Korinthiërs hulleself beroem het, dit alles sal tot niet gaan en ophou (vers 8). Meer nog: hierdie gawes is vandag reeds ten dele – ons ken ten dele en ons profeteer ten dele (vers 9), en dit behoort ons beskeie te maak. En eendag sal dit wat vandag reeds ten dele is, tot niet gaan (vers 10). Maar die liefde, saam met die geloof en die hoop – dit sal bly. En daarom is dit so belangrik dat die blywende ook vandag alreeds ons rigsnoer behoort te wees, broers en susters. As ons kennis beperk is – en ja, ons weet nie alles nie – laat die liefde dan asseblief die deurslag gee. En as ons gawes faal – en dit gaan by tye faal – laat die liefde dan asseblief bepalend wees vir ons optrede teenoor mekaar. Laat die blywende liefde ons vandag reeds begelei om op te maak vir dít wat beperk is.

En natuurlik, ons moet erken dat ook ons liefde nog maar baie gebrekkig is; ons ervaar dit ook so. Ons ervaar dit in ons individuele omgang met mekaar, maar ons ervaar dit ook as hele gemeente. Die liefde is gebrekkig. Die sonde maak dat die liefde, soos wat die Gees dit in 1 Korinthiërs 13 beskryf, dikwels nie in sy volheid na vore kom nie. Ons liefde is nie altyd lankmoedig en vriendelik nie, ons soek nie altyd die belange van die ander nie, ons is nie altyd bly saam met die waarheid nie. Hierdie gebrekkigheid kan ons gerus teenoor mekaar erken, en ons kan onsself ook maar staal vir die tyd wanneer ons gebrek aan liefde moeite en verdriet kan bring.

Maar laat hierdie gebrek ons nie moedeloos maak nie, laat hierdie gebrek ons nie van die weg van die liefde afbring nie. Bewandel saam die weg van liefde. Met val en opstaan, inderdaad, maar ook daar om mekaar weer op te tel, verder te help, aan te spoor, wetende dat die weg wat ons bewandel ‘n heerlike einde het. ‘n Einde waar alle tydelike dinge waarop ons dikwels so ernstig bou, sal vergaan. ‘n Einde waneer sal oorbly: geloof, hoop en liefde in volmaakte teenwoordigheid van God. Maar die grootste van hierdie drie is die liefde. In God se Koninkryk sal die liefde volmaak wees, sal ons van aangesig tot aangesig staan met Hom wat LIEFDE is, die Drie-enige God: ons Vader, wat ons verlos het deur sy Seun aan die kruis te laat spyker, en wat ons daagliks vernuwe deur die werking van sy Gees. Watter heerlike vooruitsig vir dié wat op die hoofweg van die liefde bly – geen pyn meer as gevolg van die liefdelose optrede van ander nie; geen trane meer as gevolg van iemand se liefdelose woorde nie. Net liefde, net God in ons en ons in Hom. En daarom, wanneer Paulus vervolgens weer oorgaan tot die behandeling van die gawes en die orde in die gemeente, dan doen hy dit met die oproep in hoofstuk 14:1: “Jaag die liefde na…” Gaan doen dit, broers en susters, en moenie uitstel nie.

Amen

 

Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 26:4, 5 en 7
Lees: Openbaring 2:1-7
Sing Ps. 141:3-5 (bid tot die Here dat ons nooit ons eerste Liefde verlaat)
Teks: 1 Korinthiërs 13
Kort gebed
Preek
Amenlied Ps. 18:1, 14 en 15
Lees die wet + Matt. 22:34-40 (nie op die bord sit)
Sing Ps. 119:59, 60, 62, 63
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 21:4-6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)