Waak oor die heiligheid van die gemeente teenoor die afgodery van die wêreld

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-05-02
Teks: 
Openbaring 2
Preek Inhoud: 

Openbaring 2:12-17

Johannesburg, 2 Mei 2010

Lees: Númeri 25, Númeri 31:16
Sing: Ps 99:1,2; Ps 99:3-5; Ps 106:12,13; SB 40; Ps 61:1,2,3,6

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Na die briewe aan die gemeentes van Efese en Smirna rig die verhoogde Christus hom tot die gemeente van Pergamum. Waarin verskil die gemeente van die vorige gemeentes? Twee dinge val op: die gemeente woon waar die troon van Satan is en die gemeente is nalatig in die beoefening van die tug. Hulle tolereer skipperaars in hul midde.

Die Here stel homself voor as diegene wat die skerp tweesnydende swaard het. Die tweesnydende swaard wys op die woord van God. Christus word daardeur geteken as diegene wat met sy Woord die stryd voer, wat met sy woord deurdring tot die diepste gedagtes van die hart en vonnis vel, wat met sy word skeiding maak.

Laat ons luister na wat Christus deur hierdie brief tot die gemeentes en so ook tot ons sê.

Ek verkondig vir julle: Waak oor die heiligheid van die gemeente teenoor die afgodery van die wêreld.

1. Julle getrouheid is prysenswaardig

2. Moenie skipperaars tolereer nie

3. Julle is welkom tuis in my gemeenskap

Christus getuig van die gemeente: Jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie. Die gemeente bly hul redding soek by Christus alleen. Dit is vir hulle nie ’n verborge saak nie. Hulle kom daarmee te voorskyn. Hulle bely Christus se Naam as die enigste in die publieke lewe.

Moenie lig daaroor dink nie. Dit was vir hulle geen maklike saak nie. Met nadruk noem Christus die gevaarlike posisie waarin die gemeente verkeer het. Die gemeente woon waar die troon van die Satan is.

’n Troon is simbool van heerskappy. Satan is daar in Pergamum oppermagtig. Satan die groot teenstander van God en sy kerk. Waaruit blyk dan dat Satan juis in Pergamum heers? Kom ons kyk na die stad. Histories gesien was Pergamum die hoofstad van die provinsie Asië. Dit was ’n stad van groot geleerdheid, ryk aan wetenskap en kultuur. Die stad het bv een van die mees beroemde biblioteke uit die antieke wêreld gehad.

Nog belangriker vir ons is dat Pergamum baie afgodery geken het. Daar was groot en beroemde tempels. Die Asiatiese, die Griekse en die Romeinse gode is daar langs mekaar vereer. Pergamum was die stad van die groot sintese van die godsdienste.

Baie populêr in daardie tyd was die afgod Asklepius, die god van die geneeskunde. Uit alle oorde het mense na die beroemde tempel van hierdie afgod gestroom om genesing van siektes te vind. Opvallend is ook die simbool van hierdie god, naamlik die slang wat op ’n paal krul. Hierdie embleem word nog steeds in die mediese wêreld gebruik. Vir ons ’n eenvoudige teken sonder godsdienstige lading. Maar in Pergamum was die slang heilig en moes dit vereer word. Dit was ’n simbool wat ons aan Satan herinner, die slang van die begin. In die diens aan Asklepius, sien ons duidelike trekke van die mag van Satan. Die afgod, wat die simbool van Satan dra, word as redder van die mense geëer.

Dat in Pergamum die troon van satan is, word ook sigbaar in die keiserverering wat daar baie sterk was. Reeds in die jaar 29 voor Christus is daar ’n tempel ter ere van die vergoddelikte keiser gebou. Die stad was aan die keiser gewy.

Ons ontvang ’n beeld van ’n antichristelike mag in Pergamum, die troon van die satan. Pleks van Jesus Christus word afgode as redders gedien. En die keiser, ’n mens, word as God en Heer geëer. Die hele maatskaplike en sosiale lewe word daardeur beheers en bestempel. Pergamum was inderdaad ’n troon van satan, ’n hoofkwartier van die groot teenstander van God.

Dit maak dit vir Christene wat daar woon baie moeilik. En laat ons, broeders en susters, nie dink dat dit ver van ons bed afstaan nie. Die afgode het vandag miskien wel ander name, maar hulle leef ook vandag nog voort. Hoeveel onderwys instellings (bv skole en universiteite) en hoeveel besighede het nie plek vir die troon van satan ingeruim nie? Wie regeer in die onderwys, in die besigheidswêreld en in die vermaaklikheidswêreld? Die mens het homself op die troon gesit. Die afgode van die wetenskap en tegniek, die afgode van menslike prestasie en kuns, seks en kultuur, die afgode van geld en sport, eis in ons land aanbidding op. En wee jou gebeente as jy die aanbidding weier. Jy word van antisosiaal gedrag beskuldig. En wat dink julle van die dinge wat in ons nuwe Suid Afrika heilig verklaar is, soos multigodsdienstigheid, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging, landhervorming oftewel herverdeling. Dit het amper staatsgodsdiens geword. As jy durf om kritiek daarop te hê, tree jy nie net polities inkorrek op nie, maar word jy beskou as ’n vyand van die nuwe Suid Afrika en word jy van rassisme beskuldig. Ons land en wêreld is nog steeds ’n plek waar die sataniese magte hulle in volle krag openbaar. En soos altyd is die aanbidding van die mens die belangrikste onderdeel van daardie godsdiens. Die mens kom eerste en nie God nie. Die mens sit op die troon. Ja, Satan sit op die troon. Ons leef in ’n goddelose wêreld.

Hoe bemoedigend is in so ’n situasie dan die eerste woorde wat die Here Jesus vir sy gemeente van Pergamus skryf: Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. Moenie dink dat Ek julle vergeet het nie. Ek ken die besondere versoekinge van julle omgewing, die gevare wat die geselskap van sekere mense vir julle inhou, die moeilikhede wat julle teëkom in die kring waarin julle beweeg. Ek ken die beproewinge wat julle so swaar vind om te dra; Ek weet hoe uiters moeilik dit is om in julle omstandighede vir My Naam te getuig. Dit alles ken Ek. Maar dit is juis in daardie omgewing, in die gebied waar die duiwel woon, dat Ek My krag aan julle sal skenk, sodat julle aan My Naam kan vashou en die geloof in My nie verloën nie.

Die Here prys die gemeente dat hulle inderdaad sy naam vasgehou het. Terwyl almal roem in Asklepius en die keiser en nog meer afgode, roem hulle in die naam van die Here Jesus. Hulle swyg nie. Teenoor die geroep van die stad: Asklepius is Redder, bely hulle: daar is geen ander naam as die van Jesus nie, die enigste naam wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word. Waar die wêreld roep: die keiser is god en heer en hom as sodanig vereer, daar weier die Christene om saam te doen. Hulle bely: Christus is koning en Hy alleen is waardig om alle aanbidding te ontvang. En so bly dit, broeders en susters, ook vandag nog steeds ons roeping om Christus se naam te bely as die enigste teenoor alle moderne afgode wat hul aanbidding opeis.

Gemeente, so iets moet wel verset oproep. Die samelewing, die staat kan dit nie verdra nie. Wie weier om deel te neem aan die keiser verering word gou beskou as ’n verraaier, ’n bedreiging vir die staat. Dit kan jou jou lewe kos. So het dit ook die lewe van Antipas gekos. Hy is gedood, daar waar die satan woon. Omdat hy geweier het om met die afgode diens saam te doen.

So sien ons, gemeente, dat dit in Pergamum geen maklike saak was om Christus se naam te bely nie. Jy moet as lidmaat goed weet wat jy doen. Jy kan jou lewe daaraan verloor. Tog bly hulle trou ondanks die heerskappy van Satan daar. Christus prys dit in die gemeente. So ’n trou is lofwaardig, ook vandag. Ons sou wens dat meer mense en kerke moediger sou uitkom vir die een naam teenoor die afgode van hierdie tyd. Ja, laat tog elkeen van ons moediger en kragtiger die naam van Christus openlik bely as die enigste naam by wie redding te vinde is.

Tog het die Here ook iets teen hierdie gemeente van Pergamum. Christus veroordeel hulle toleransie van die Nikolaïete. Moenie skipperaars tolereer nie. Dis die tweede gedagte.

Om dit te verstaan moet ons in gedagte hou dat die omstandighede van die gemeente in daardie tyd blykbaar anders was as in die tyd van Antipas. Christus verwys na die dae van Antipas as iets uit die verlede. Jy het – verlede tyd – die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Antipas my getroue getuie was, wat gedood is. Die direkte vervolgings is blykbaar iets uit die verlede. ’n Rustiger tyd het vir die gemeente aangebreek. En die geskiedenis leer ons dat sulke tye juis gevaarlik vir die kerk van Christus kan wees.

As Satan nie slaag om die mense deur geweld en vervolging bang en ontrou te maak nie, dan probeer hy dit dan op ’n sagte, verleidelike manier.

So tree die Nikolaïete in die gemeente op. Die leer van die Nikolaïete word vergelyk met die leer van Bileam. Julle ken die geskiedenis van Bileam, wat Balak die koning van Moab ingehuur het om Israel te vervloek. God het Bileam egter gedwing om Israel te seën. Daarom het Bileam uiteindelik vir Balak die raad gegee: Ons kan God nie beïnvloed nie. Laat ons nou probeer om die volk te beïnvloed. Laat ons die volk lok o.a. deur ons mooi meisies en vroue sodat die besondere karakter van die volk opgehef word. Sodat hulle hul met ons volk vermeng. Wat nie moontlik is deur vervloekings nie, sal ons op daardie manier geluk. Naamlik dat ons ’n wig tussen God en sy volk dryf deurdat Israel hom by God vloekwaardig maak. Dan sal God hom wel op sy volk moet vertoorn en hulle vervloek.

Dit was, gemeente, ’n baie slim plan van Bileam. Via die invalspoort van liefdesverhoudings, een van die gevoeligste en kwesbaarste plekke in die menselewe, dink hy om hulle tot die oortreding van die 1ste gebod te kan verlei. En hy het daarin geslaag. Die Israelitiese manne laat hulle deur die dogters, die vroue van Moab saamsleep. Die Israeliete gaan deel neem aan die offermaaltye en buig hulle vir die afgode neer. En roep hulle God se vloek oor hulle uit.

So is daar in die gemeente van Pergamum die Nikolaïete, geesverwante van Bileam. Ons het hulle reeds in die brief aan die Efesiërs ontmoet. Dis mense wat die kompromie en die aanpassing soek. Dit is die skipperaars wat nie aan hul beginsels vashou nie maar na omstandighede handel, mense wat ’n kompromie met die heidense lewe en godsdiens soek.

Hulle sê: jy kan jou nie altyd afsydig hou nie, jy kan jou nooit heeltemal losmaak van jou omgewing nie. Jy moet tog ook kan leef. Hulle wil niks weet van ’n radikale antitese nie. Dis mense van die sintese. Hulle sien dit nie as ’n kwessie van óf, óf, nie maar as ’n saak van én, én. Dit pas uitstekend by die gees van die stad, die gees van die groot sintese, van die veelgodedom, wat vredig naas mekaar bestaan. Nie Christus óf die keiser nie, maar Christus én die keiser. Christus vir die Sondag en vir jou hart, maar in die week ook rustig meedoen aan die offermaaltye en die keiserverering. Dit behoort tog by die lewe in die samelewing? As jy met sulke klein konsessies jou vryheid en welvaart kan waarborg, waarom sou jy dit nalaat? Die een hoef tog nie in stryd met die ander te wees nie, suggereer hulle dan. Jy moet tog ook dink aan jou maatskaplike posisie en sorg vir ’n goeie verhouding met jou omgewing en familie? Miskien het hulle selfs ’n beroep op die Christelike vryheid gedoen. Hulle probeer die skyn te bewaar van ’n vroom lewe, maar ondertussen hef hulle die antitese op. Deur hul leer en lewe dreig hulle die onderskeid tussen die kerk en die wêreld in Pergamum op te hef, soos Bileam dit in die velde van Moab probeer doen het. Die kerk word van binne uit bedreig in die wese van haar bestaan.

Wat, broeders en susters, so erg is, is dat die gemeente hierdie verleidelike skipperaars laat begaan. Die sonde en die verleiding tot sonde word nie uit die gemeente verwyder nie. Die skipperaars word getolereer. Hulle bly lidmate van die kerk. Hulle kan ongehinderd hul idees propageer en die gemeente daarin saamneem, mislei. Die gemeente wys hulle nie tereg nie.

Christus wil niks van die toleransie weet nie. Die Nikolaïete mag in die gemeente nie getolereer word nie. Deur hulle in die gemeente te tolereer, dreig die gemeente haar besondere karakter as kerk van Christus te verloor. Die opset en lis van Satan is duidelik. In die verlede het hy geprobeer om die kerk uit te wis en ontrou te maak deur dreigemente en bloedige vervolging. Maar daarin het hy nie geslaag nie. Nou sal hy probeer om die kerk van binne uit te bederf.

Broeders en susters, hoe is dit situasie vandag? Is Satan ook vandag nie juis besig om die kerk grense uit te wis nie? Is hy nie daarop uit om die kerk en die wêreld te vermeng nie. Die kerk moet ’n sosiale organisasie word wat haar volkome rig op die opheffing van nood en op nasiebou. Watter plek bly in so ’n gemeenskap dan oor vir die eksklusiewe diens aan die Here Christus? In ons tyd sien ons mense wat ten spyte van hulle vroom en suiwer belydenis op Sondag, in die week die grens met die sondige wêreld oorsteek en dit ook verdedig. Dis mense wat nie soveel fout vind met die Sun city leefwêreld van dobbel en ligte pornografie, so ’n bietjie stout vermaak en Sondagsport nie. Dis mense wat voel dat ons in die nuwe Suid Afrika nie so sterk op ons beginsels moet bly staan nie. Jy kan jouself tog nie isoleer nie? Jy moet tog oorleef?

Ja, geliefdes, hoe sou Christus ons gemeente vandag beoordeel? Hoeveel van hierdie gees van verdraagsaamheid en kompromie het al in ons gemeente ingekom? In hoeverre het ons vrede gemaak met die gedagte dat alles in die lewe om die mens self draai, om die bevrediging van sy behoeftes, om aardse geluk, rykdom en voorspoed? In hoeverre het ons vrede gemaak met talle wêreldse praktyke, met die onsedelikheid en godslastering op televisie en met die bedenklike vorme van ontspanning waaraan ons kinders blootgestel word? En hoeveel kom daar nog tereg van die tug in ons kerke, die onderlinge en kerklike vermaan?

Gemeente, omdat die wese van die kerk in gevaar is, roep Christus op tot bekering: Bekeer jou. Waak oor die kerk van Christus. Hanteer die sleutels van die koninkryk. As hulle hul nie bekeer nie, verwyder diegene wat vanweë hul leer of lewe die kudde van binne uit bedreig. Dit lyk hard. Maar dit is tot heil van die gemeente. Dis ’n saak van gemeente van Christus wees en bly óf die gevaar loop dit nie langer te wees nie. Dis n kwessie van handhawing van die antitese óf toegee aan die sintese en so met die tyd aan die wêreld gelyk word.

As die gemeente nie die nodige maatreëls tref nie, dan dreig Christus om self op te tree met die swaard van sy mond. Hy sal in die oordeel wys dat dit vir Hom erns is. Hy sal die antitese handhaaf. Hy sal die gemeente nie met rus laat nie. Verleiders en hulle wat hulle laat verlei sal getref word.

Gemeente, die Here wys dat ons met mening moet waak oor die heiligheid van die gemeente. Daar is in die gemeente geen ruimte vir skipperaars nie. Ook vandag probeer satan om ons in te palm en ons te verlei om die antitese op te gee. Maar Christus laat hoor - en as jy nie wil luister nie dan sal jy dit voel – dis altyd een óf die ander, dis altyd Christus óf die afgode, Christus óf satan.

Broeders en susters, dis egter nie Christus se laaste woord nie. Soos gebruiklik, kom Christus ook met ’n belofte vir wie oorwin. Julle is welkom by my tuis, in my gemeenskap.

"Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna," sê Christus. Ons word herinner aan die reis van Israel deur die woestyn. Daar kon ’n mens geen kos vind nie. Tog het Israel daar oorvloed gekry. God het brood uit die hemel gegee, manna. In ons teks belowe die Here die verborge manna. In Joh 6 praat Christus oor die ware manna wanneer Hy sê: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie (Joh 6:35). Ons manna is Jesus Christus self, die ewige lewensbrood. By Hom is daar ewige versadiging. Reeds in hierdie lewe gee Christus sy kerk die hemelse brood, Homself. Die evangelie wat in geloof aanvaar word, gee gemeenskap met Hom. Die nagmaal is daar ’n bevestiging van. Die Here self is die verborge manna. Dit is verborge omdat ’n mens dit net deur die geloof kan sien en proe.

Christus belowe ook aan elkeen wat oorwin ’n wit keursteen. Verskillende verklarings word van hierdie woorde gegee. ’n Wit steen is dikwels verbind aan vryspraak. In ’n regsgeding het die jurie twee stene ontvang, ’n wit en ’n swart steen. Die lede van die jurie moes dan óf hul wit óf hul swart steen in ’n kruik werp om aan te gee of hulle die beskuldigde onskuldig óf skuldig beskou het. Indien onskuldig verklaar, sou die wit steen gewerp word. Indien skuldig verklaar die swart steen. Deur ’n wit keursteen te belowe, verseker Christus die oorwinnaars dat Hy hulle onskuldig sal verklaar. Jy hoef dan nie vir sy skerp tweesnydende swaard bang te wees nie. Christus sal jou mos ’n wit keursteen gee as bewys van jou volkome vryspraak. Jy kan sonder verskrikking voor die Regter verskyn.

’n Wit steen is soms ook gebruik as ’n soort toegangskaartjie tot sekere sosiale kringe, spesiale geleenthede of feeste. Hulle het so iets moontlik ook gebruik om toegang tot die groot tempel van Asklepius te verleen. Om daar binne te kom moes jy ’n geslypte stukkie marmer toon. So ontvang jy as kind van God met jou wit keursteen reg van toegang tot God se ewige huis, reg tot die feesmaal van die Lam. Wat ’n bemoediging. Wanneer jy as Christen wil lewe is jy in sekere kringe, geleenthede of feeste nie meer welkom nie. Jy word uitgestoot as iemand wat nie lojaal aan jou sosiale kring of aan die staat is nie. Maar nou kom sê Christus: Ek ken die plek waar julle woon. Ek weet van die gevolge wat julle te vrees het omdat julle Christene is. Ek weet dat julle nie langer in sekere huise of kringe welkom is nie, omdat julle my dissipels is. Wees nie daaroor ontsteld nie. Klein is julle verlies en slegs van korte duur. Want Ek gaan julle my eie keursteen gee. Ek sal My huis vir julle oopstel en julle aan my tafel nooi.

Op die wit keursteen staan ’n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang. Jou nuwe naam onthul die mees karakteristieke en intiemste van jou wese as ’n nuwe skepping van God. Dis ’n naam wat slegs God en jy ken. ’n Geheim tussen God en jou. So wys hierdie belofte na die volle intieme gemeenskap tussen die Here en jou.

Broeders en susters, wat ’n ryke troos vir die gemeente van Pergamum en vir ons. Om getrou aan die Here te bly op plekke waar die troon van die satan staan, is nie maklik nie. Die gevare dreig aan alle kante. Jy moet baie prysgee. Maar nou belowe Christus: wees getrou en Ek sal jou ewige seëninge gee, volkome saligheid in My gemeenskap.

Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

AMEN

 

 

Net ’n herinnering: Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief C Kleijn

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)