Die Drie-enige God – die Bron en die Bepaler van die geestelike gawes!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2010-05-02
Teks: 
1 Korinthiërs 12:4-6
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Daar was ‘n brief in die posbus, gerig aan die apostel Paulus. Toe Paulus die brief omdraai, sien hy tot sy blydskap dat die adres, waarvandaan hierdie brief gestuur is, ‘n adres in Korinthe is. ‘n Brief uit Korinthe! Ja, gemeente, Paulus, die groot briefskrywer, het hierdie keer self ‘n brief ontvang. Die gemeente daar in Korinthe het naamlik ‘n klompie sake gehad waaroor hulle nie klarigheid en eenstemmigheid gehad het nie. Nou ja, wat is dan beter as om eenvoudig ‘n brief aan Paulus te skryf en hierdie sake aan hom voor te lê – dan kon hy mos die gemeente van raad en leiding voorsien. So gesê, so gedaan.

Hierdie brief het Paulus inderdaad bereik, en wat ons vandag as 1 Korinthiërs ken, is Paulus se antwoord op die vrae van die Korinthiërs. Hy verwys op verskeie plekke in 1 Korinthiërs na hierdie briefwisseling. Dink maar aan hoofstuk 7:1: “met betrekking tot die dinge waaroor julle aan my geskryf het…” Ons hoor gedeeltelik dieselfde bewoording in hoofstuk 8:1: “En met betrekking tot die offervleis aan die afgode…” En dan ook weer in hoofstuk 12:1: “En wat die geestelike gawes betref…” Dus, deur die loop van sy brief spreek Paulus een vir een die sake aan waaroor die Korinthiërs aan hom geskryf het. En een van hierdie sake het gegaan oor die geestelike gawes – dít bespreek Paulus in hoofstukke 12-14. Maar wat was dan presies die probleem? Waaroor was daar onenigheid of onduidelikheid?

Wel, broers en susters, dit lyk asof die spreek in tale in Korinthe nogal probleme veroorsaak het – ons sien dit veral in hoofstuk 14. Daar was diegene wat in tale kon praat – wat dit ook al presies beteken het – maar daar was ook ander wat nie daardie gawe ontvang het nie. En dít het daartoe gelei dat diegene wat wel in tale kon praat hierdie gawe as hoër en belangriker as enige van die ander gawes begin beskou het, met die gevolg dat hulle ook hullesélf as hoër en belangriker beskou het as die ‘minder begaafdes’ in die gemeente. Hulle het gemeen dat hulle op ‘n hoër geestelike vlak is as die ander. Ons sien dus dat daar in die gemeente van Korinthe ‘n bepaalde rangorde in gawes met ‘n gevolglike rangorde van persone ontstaan het. Geestelike status het baie belangrik geraak in Korinthe, en daar was ‘n wedywering om die hoogste status te bereik… Nodeloos om te sê dat hierdie situasie konflik en verdeeldheid in die gemeente veroorsaak het. En daaroor word Paulus se raad nou ingewin.

Paulus begin sy beantwoording van hierdie vraagstuk in hoofstuk 12:1: “En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie.” En dan verwag ons eintlik dat Paulus onmiddellik sou wegspring om die Korinthiërs se onkunde rondom hierdie onderwerp van die geestelike gawes uit die weg te ruim. Maar, dit is nie wat Paulus doen nie. Paulus begin nie by die gemeente se onkunde nie, maar hy begin by dít waaroor hulle alreeds kundig was: “Julle wéét dat julle heidene was, weggevoer na die stomme afgode net soos julle ook al gelei is” (vers 2). Paulus wys dus vir die gemeetelede op hulle gemeenskaplike afkoms, hy roep hulle op om nie te vergeet waarvandaan hulle gekom het nie: “Julle was almal ewe dwaas in julle navolging van die stomme afgode. Daar is vir niemand in die gemeente enige rede tot roem nie; daar is geen rede om julleself te verhef nie.” Paulus bring dus die Korinthiërs, een vir een, terug na hulle sondige wortels.

Maar dan gaan Paulus in vers 3 verder deur iets aan die Korinthiërs bekend te maak wat hulle skynbaar nog nie geweet het nie, of nog nie heeltemal verstaan het nie: “Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.” Met hierdie woorde wil Paulus aan die gemeentelede van Korinthe nogmaals ‘n gemeenskaplike basis aanbied, maar hierdie keer in ‘n positiewe sin. Net soos wat die gelowiges van Korinthe ‘n gemeenskaplike heidense afkoms het, net so het hulle ook die gemeenskaplike gawe van die Gees ontvang. En vir iemand wat die Gees van God ontvang het, is dit onmoontlik om Jesus te verloën, want dit is juis deur daardie Gees dat mense leer om Jesus as Heer te bely. Hierdie belydenis – en nie enige geestelike gawe nie, ook nie die spreek in tale nie – is dus die toetssteen van ‘n geestelike mens. Die geestelikheid van die mens word nie bepaal deur die aard van sy gawes nie; nee, die geestelikheid van die mens word bepaal deur die Gees sélf – die Gees wat mense in staat stel om vanuit die duisternis van die heidendom in die lig te wandel, en wat mense in staat stel om Jesus as hulle Heer te bely. Dááraan moet die Korinthiërs mekaar weeg, en nie aan die geestelike gawes wat hulle ontvang het nie.

Dit is so belangrik, broers en susters, dat ons Paulus se inleidingsles goed onder die knie het voordat ons verder gaan om na sy onderrig oor die gawes te luister. So maklik kan die geestelike gawes hier in die gemeente ‘n verdelende faktor word, terwyl dit na sy aard ‘n samebindende faktor behoort te wees. So maklik begin ons onsself en mekaar meet aan die geestelike gawes wat ons ontvang het. Maar dit sou die grootste fout wees, gemeente. Ons mag nie die ander beoordeel op grond van sy gawe/s nie, maar ons moet eenvoudig die vraag stel: bely hy Jesus as Heer? Want dan het hy die grootste van alle gawes ontvang: die Heilige Gees. En dan is ek sy broeder of sy suster, want ek bely ook Jesus as my Heer. En dan lewe ons saam op die basis van die Heilige Gees, saam belyers van Jesus Christus. En eers wanneer ons daardie basis reg verstaan, dan kan ons oorgaan na les 2.

Tema: Die Drie-enige God – die Bron en die Bepaler van die geestelike gawes! Met die oog gerig op Hom kan ek van my gawes sê:
1. Ek het dit gekry
2. Ek wil daarmee dien
3. Ek wil dit laat werk

1. Hoekom praat ek in die tema spesifiek van die ‘Drie-enige God’? Hoekom nie sommer van ‘die Here’ of van ‘die Gees’ nie? Wel, gemeente, omdat ons teks – verse 4-6 – baie duidelik die drie Persone van die Drie-eenheid weerspieël. In effens moeiliker taal kan ons sê dat verse 4-6 ‘n duidelike trinitariese struktuur het (Triniteit = Drie-eenheid; dus, ‘n trinitariese struktuur is ‘n struktuur wat die Drie-eenheid weerspieël). Kyk maar saam met my: vers 4 praat van die Gees (‘n duidelike verwysing na die Heilige Gees), vers 5 praat van die Here (wat in die Nuwe Testament deurgaans ‘n verwysing is na Jesus Christus), en vers 6 praat van God (wat in die bybel meestal gebruik word om na die Vader te verwys). Dus, die gawes wat ons hier in die gemeente ontvang, kom almal uit een bron: die Drie-enige God. En tog het elke Persoon in die Drie-eenheid sy eie inset, sy eie fokus, by die gawes wat hulle sáám uitdeel. Elkeen van die drie Persone plaas hulle eie stempel op die gawes, gee aan die gawes ‘n eie kleur. En dit is waarop ons in die afsonderlike gedagtes van die preek wil let.

Nou goed, die eerste Persoon wat sy eie, besondere stempel op die gawes plaas, is die Heilige Gees. Vers 4: “Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees.” Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik vir ‘genadegawes’, is die woord ‘charisma’, en dit dui op iets wat uit vrye wil aan iemand geskenk word. Die gawes wat elkeen van ons hier in die gemeente ontvang, is dus geskenke, presente. Dit is nie iets wat ons verdien het nie, dit is nie maar net iets waarmee ons gebore word nie, ‘n natuurlike aanleg of so iets nie. Nee, dit is iets wat vrylik en verniet en onverdiend aan ons uitgedeel word.

En let daarop, broers en susters, dat hierdie geskenk-karakter van die gawes spesifiek aan die Géés gekoppel word. Die rede hiervoor is dat Hy die grootste en die eerste van al die gawes is wat die verhoogde Christus vanuit die hemel aan sy gemeente uitdeel. Die Heilige Gees is, by uitstek, Christus se genadige present aan ons; daar is geen groter geskenk wat ons kan ontvang nie! En wanneer ons deur die geloof Hóm ontvang, dan ontvang ons daarmee saam ook al die ander geskenke wat Christus vir ons verdien het. Of in die woorde van Sondag 20 van die Kategismus: dan mag ons in Christus en al sy weldade deel. Ja, in en deur die Heilige Gees, die grootste denkbare present, ontvang jy vervolgens ook die vermoë om leiding te kan gee, ontvang julle die gawe om te kan praat of om te kan luister, ontvang julle die talent om te kan begelei op die orrel of die klavier, ontvang jy die gawe om die nood van ander te kan raaksien, en jy die gawe om die tydsgees te kan onderskei, en jy die talent om te kan skilder, en al die ander gawes wat hier in die gemeente te vinde is. Selfs die mooiste geskenk wat jy al by jou verjaarsdag ontvang het, is niks in vergelyking met hierdie genadegawes nie. En dit is alles verniet, Jesus Christus het reeds daarvoor betaal!

Broers en susters, wanneer ons – gelei deur die Gees – hierdie geskenk-karakater van die gawes in die oog hou, dan kan ons ook verstaan wat Paulus bedoel wanneer hy vroeër in hierdie selfde brief vir die Korinthiërs vra: “Wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” (1 Kor. 4:7) Paulus vermaan hier die Korinthiërs wat hulleself beroem op wat hulle het, wat opgeblase is oor hulle gawes. En dit is wat met elke gelowige gebeur wanneer ons die gawes losmaak van die Gewer, wanneer ons nie gééstelik – dus, gelei deur die Gees, wat die eerste en beste gawe is – met ons gawes omgaan nie. Dan is my gawe nie meer gáwe nie, maar verdienstelike eiendom. Dan is dit ék wat hierdie bybelstudie so goed gelei het, dan is dit ék wat hierdie kerkfunksie so goed gereël het, dan is dit ék wat so baie vir hierdie of daardie bejaarde beteken, en dan is dit ék wat gesorg het dat hierdie kerkgebou so mooi lyk – ék, ék, ék… Die oomblik wanneer dít die algemene gees in die gemeente word, dan dreig die gevaar dat die evangelie van genade verdwyn; dan kan ons hoe ywerig voor die kruis buig, maar in die praktyk het ons die kruis agter ons geplaas en het ons verdienstelike eienaars geword van al die gawes in die gemeente.

Nee, gemeente, slegs wanneer ek deur die Gees my oog hou op Jesus Christus, die Gewer, slegs dan kan ek my gawe sien vir wat dit is – genadegawe, geskenk uit vrye wil, present van liefde. En dan kan ek nie anders as om dit dankbaar te gebruik nie.
Dit is ons tweede gedagte: ek wil daarmee dien.

2. Die tweede Persoon van die Drie-eenheid wat sy eie, besondere stempel op die gawes plaas, is ons Here, Jesus Christus. Luister maar na vers 5: “En daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here.” Die Griekse woord wat hier vir ‘bedieninge’ gebruik word, is ‘diakonia’. Dit laat ons onmiddellik dink aan die diakonie en die diakens, nie waar nie? Maar hierdie woord word nie slegs tot húlle beperk nie; nee, hierdie woord word gebruik met betrekking tot almal wat gawes ontvang het, en dit is elke gelowige. Elke gelowige word opgeroep om sy gawe(s) op ‘n diakonale wyse te gebruik. Dit wil sê, ons word opgeroep om met ons gawes te dien, om daarmee diensbaar te wees, want dit is presies wat hierdie Griekse woord diakonia beteken.

Maar wat het dit te make met ons Here, Jesus Christus? Hoe kom sy besondere stempel op die gawes in hierdie beskrywing van vers 5 na vore? Hy is mos ons Héér, hoe kan Hy dan diensbaar wees? Wel, gemeente, Christus is inderdaad Heer, maar ons weet almal vanuit Filippense 2, wat ons saam gelees het, dat Hy Heer geword het in die weg van diensbaarheid. Hy wat God was “het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Dáárom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is…” (Fil. 2:7-11) Sien jy wie jou Heer is? Hy is die Een wat jou eers kom dien het, wat Homself eers aan jou en my diensbaar kom maak het, ‘n diensbaarheid wat Hom laat opeindig het in Godverlatenheid aan die kruis. Dít is wat Hy vir jou kom doen het! Só is Hy ons Heer, en op dié manier plaas Hy ook sy besondere stempel op die gawes wat Hy saam met die Vader en die Gees aan ons skenk.

Ons Heer vra dus van ons dat ons sy gawes nie sal gebruik om te heers of te oorheers nie, maar om te dien. Hy vra dat ons nie iets sal doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Ons Heer vra van ons dat ons sy gawes volgens dieselfde patroon sal aanwend as wat Hy tydens sy lewe hier op aarde vertoon het. En waar mooier vind ons daardie patroon as in Johannes 13, waar Jesus die dissipels se voete gewas het; daar leer Hy hulle die volgende: “Julle noem My Meester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek dan, die Here en die Meester, julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was. Want Ek het aan julle ‘n voorbeeld gegee om, net soos Ek aan julle gedoen het, ook so te doen” (verse 13-15). Daar het ons dit, klinkklaar en baie eenvoudig.

Die gawes wat ek van die Here ontvang het, is nie bedoel om vir my ‘n posisie in die gemeente te verseker nie; met my gawes het ek nie die reg verwerf om myself bo my broer of suster te verhef nie. Die gemeente het geen behoefte aan allesdoeners, wat as enigstes alles kan doen en die res van die gemeente uitskakel nie; die gemeente het ook geen behoefte aan mense wat die eerste plekke soek nie. Hier in die gemeente werk ons nie met ‘n kompetisie-model nie, maar ontvang ons uit Christus se hand die diens-model, tot opbou van die gemeente. Paulus roep ons immers in hoofstuk 14:12 op om uit te munt tot stigting van die gemeente. Die aandag van elkeen van ons moet daarom nie op onsself wees nie, maar op die ander, op die gemeente: “Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n” (Fil. 2:4) Ons gawes is altyd gemeente-gerig; altyd weg van myself in my soeke van die ander.

En dit vra selfverloëning, broers en susters. Dit vra dat ek van myself vergeet. Dit vra dat ek nie aan wins of aansien vir myself dink nie, maar aan wins vir die gemeente: hoe word die gemeente gedien en gebou? En hierdie vraag geld enersyds vir diegene van ons wat met ons gawes aansien en eer wil verwerf, wat onsself hoog ag met ons gawes. Vir ons sê Paulus in vers 21: “En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie.” Niemand het rede om hoogmoedig te dink dat hy sonder die ander een kan klaarkom nie. Maar, gemeente, hierdie vraag geld andersyds ook vir diegene onder ons wat gawes ontvang het, maar wat dit nie werklik tot nut en stigting van die gemeente gebruik nie. Vir ons sê Paulus in vers 15 en 16: “As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie – behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie – behoort hy daarom nie aan die liggaam nie?” Jy mág nie jou gawes aan die gemeente onttrek nie; jy mág nie slegs kom kry sonder om ook te gee nie. Die liggaam het jou diens ook nodig. Só word sowel die ‘eersoekers’ onder ons as die ‘lyfwegstekers’ onder ons gewaarsku dat hulle diakonaal – diensbaar – in die gemeente betrokke moet wees.

Dit is goed om jou gawes te ken, broers en susters, maar dit is nog beter om hulle nederig en sonder ophef te gebruik. Laat ons mekaar dien, soos wat Christus ons gedien het.

Dit bring ons by ons laaste gedagte: Ek wil my gawes laat werk.

3. Die derde Persoon in die Drie-eenheid wat sy besondere stempel op die gawes plaas, is God die Vader. Vers 6: “en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk.” Weereens wil ek u net verwys na die Griekse woord wat Paulus hier gebruik: ‘energema’ – ons hoor daarin ons woord ‘energie’. Hierdie woord het dus die betekenis van beweging, iets wat werk en wat aktief is. Nou, dit is die unieke en besondere stempel wat God die Vader op die gawes plaas. Hy is immers die Een wat sowel in die werk van skepping en onderhouding van die wêreld, as in die werk van verlossing energiek en aktief dinge doen. Hy is die Een wat in die skepping gespreek het en dit was daar, wat gebied het en dit het daar gestaan (Ps. 33:9), Hy is die Een wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan (Rom. 4:17). Hy is ook die Een wat, volgens Filippense 2:13, in ons werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. God die Vader is dus die groot Aktiewe in skepping en verlossing! Hy doen dinge, Hy laat dinge gebeur.

Nou, broers en susters, deur verbondenheid aan Hom mag ek en jy deel in sy aktiverende en goddelike krag; deur geloof in Hom kan die gawes wat ons ontvang het, ook werklik werkinge wees. Want ons gawes is nooit dooie kapitaal nie; nee, ons gawes het die implikasie van aktief-wees, ons gawes moet omgesit word in aktiwiteite en in take; die gawes, wat ons ontvang het, moet werklik in die gemeente begin funksioneer. Ons moet die gawes dus operasioneel maak. Petrus sê daarom in 1 Petrus 4:10: “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.” Bedienaars (of dalk beter vertaal: rentmeesters) – dit beteken: ons werk met die goed van ‘n ander. Eendag gaan jy aan jou Heer verantwoording moet doen wat jy met sy gawes gemaak het. Jy moet daarvoor sorg dat, wat Hy vir jou gegee het, vrug oplewer. Jy kan dit nie maar net ongeërg vermors nie, jy kan dit nie maar net in die grond gaan begrawe nie. Nee, jy moet jou gawes hier in die gemeente laat werk; jou gawes moet energie uitstraal.

Broers en susters, ons het baie gawes ontvang hier in die gemeente – ons kan dit sê omdat die Skrif dit sê, maar ons kan dit ook sê omdat die praktyk dit bevestig. God het baie in hierdie gemeente geïnvesteer. God het alles uitgedeel wat nodig is vir die opbou van die gemeente. Maar dit beteken vir ons ‘n appél om dan ook al jou energie daarvoor in te sit. Deur die geloof. Tot eer van God. En om só met jou gawes te wérk! Dit is ook wat Paulus aan Timotheus skryf. Hy vermaan hom in 1 Timotheus 4:14 om die genadegawe wat in hom is nie te verwaarloos nie. Jy kan dus nooit agteroor sit en rustig voortdryf op ‘n gawe wat jy eenmaal ontvang het nie. Nee, God stel jou verantwoordelik vir die ontwikkeling en die ontplooiing van jou gawes. Daardie gawes moet steeds weer gemobiliseer word vir God se groot werk. En wie dit nie sorgvuldig doen nie, kan nie vrugbaar wees vir sy naaste nie. Laat ons onsself daarom nie beroem op ons gawes, maar intussen niks daarmee doen nie. ‘n Klein en onaansienlike gawe is in dié geval honderdmaal beter as ‘n besondere en eervolle gawe wat in die begiftigde lê en bederf.

Gemeente, om te sien dat jou gawes werklik gawes is, moet jy die gawe van die Gees hê. Om te verstaan dat jy jou gawes diensbaar in die gemeente moet aanwend, moet jy onder die indruk kom van die diensbaarheid van jou Here, Jesus Christus. En om jou gawes aktief te gebruik, het jy die krag van die Vader nodig. Dit is dus onmoontlik om gawes te hê óf reg te gebruik sonder ‘n lewende verhouding met die Drie-enige God. As ons daarom ‘n charismatiese gemeente wil wees – en ons moet een wees! – dan moet ons nie na onsself kyk nie, dan moet ons nie die krag in onsself soek nie. Nee, laat ons as mense, wat onsself van alle goeie gawes beroof het, die oog vestig op ons God, die Bron en die Bepaler van alle nuwe gawes. Laat Hy ons vervul, laat Hy ons op ons knieë bring, laat Hy ons aktiveer. Aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! (Ef. 3:21)

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 29:1, 4 en 5
Wetslesing + genadeverkondiging 2 Kor. 5:17-21
Sing Ps. 26:5-7
Gebed
Lees:  1 Korinthiërs 12
     Filippense 2:1-13
Sing Ps. 115:3-6
Teks: 1 Korinthiërs 12:4-6
Preek
Amenlied Skr. 21:1-3
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 68:8 en 9
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)