Vervolgde gemeente, wees getrou tot die dood toe

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-04-25
Teks: 
Openbaring 2
Preek Inhoud: 

Openbaring 2:8-11
Johannesburg, 25 April 2010
Lees: 1 Petrus 4:12-19; 1 Petrus 5:6-11.
Sing: Ps 84:1,2; Ps 84:5,6; Ps 61:1-3; SB 39; Ps 90:1,9

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As kind van God moet jy weet dat die geloof in Jesus Christus nie die moontlikheid van lyding en vervolging wegneem nie.   Om in Christus te glo beteken nie dat alles in jou lewe goed sal gaan nie, dat jy net voorspoed sal belewe nie, soos sommiges vandag beweer.  Christus self waarsku sy volgelinge: “In die wêreld sal julle verdrukking hê (Joh 16:33).”  Sy apostel Petrus herhaal dit later o.a. in die gedeelte wat ons gelees het waar hy skryf: “Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie; maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus , moet julle bly wees (1 Petr 4:12,13).  Ons beleef vandag nie die teenstand en vervolging wat die vroeg Christelike kerk beleef het nie.  Beteken dit dat ons glad nie vir Christus ly nie?  Jy soek as student deeltyds werk of vakansie werk.  Wanneer jy egter laat weet dat jy nie bereid is om op Sondag te werk nie, word jou kans om werk te kry skraler.  Of jy ontdek by jou werk korrupte en onverantwoordelike praktyke.  Wanneer jy dit probeer oopvlek word jy geskors en word allerlei valse aanklagte teen jou bedink.  Ons kinders beleef reeds iets van die teenstand/vervolging vanweë Christus.  As jy nie aan sonde wil meedoen nie, word jy uit die groep uitgeskuif en agter ’n bakhand beskinder.  As jy iemand wat die Here se Naam vloek, reghelp word jy as ’n “sissie” of pretbederwer uitgelag.  Onderskat nie die druk wat op jou geplaas word indien jy openlik opstaan vir jou Here en eerlik vir jou geloof uitkom nie.  Die teenstand is werklik en pynlik ook hier in Suid Afrika. 
Christus skryf sy tweede brief aan die vervolgde gemeente van Smirna. Daarin spreek Hy ook elkeen van ons aan. "Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê." Hy het ’n boodskap vir jou en my.  “Vrees vir niks wat jy sal ly nie.  Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.”
Ek vat die boodskap as volg saam: Vervolgde gemeente, wees getrou tot die dood toe.
1. die vervolging
2. die agtergrond van die vervolging
3. die oorwinning
Om die teks goed te verstaan is dit belangrik om iets oor die stad Smirna te weet. Smirna was ’n belangrike hawestad in Klein Asië. Deur handel het dit ’n ryk stad geword. Smirna was ’n mooi en trotse stad. Dit het homself beskou as die roem van Asië. Dit het ’n roemryke stadion, biblioteek, publieke teater en baie tempels gehad. Die christene in Smirna het in ’n situasie geleef waarin hulle aan alle kante die glans van die heidense godsdiens raakgeloop het. Wat ’n kontras tussen hul eenvoudige vergader plekke en die luister van die heidense tempels.
Smirna het ook noue bande met Rome gehad. Tydens die burger oorloë het hulle steeds die kant van Rome gekies. Daarom het die stad die titel van ‘die getroue’ gekry. Die Romeine het Smirna daarvoor beloon deur haar die voorregte van ’n vry stad te gee. In 195 voor Christus het Smirna die eerste stad geword om ’n tempel te bou ter ere van die stad Rome, wat hulle as die godin Dea Roma aanbid het. Later in 23 na Christus het die stad die eer te beurt geval om ’n tempel te mag oprig gewy aan die keiser. So het Smirna ’n stad geword waarin die keiserverering baie sterk was. Dit het oorspronklik begin as ’n spontane bewys van dank aan Rome. Teen die einde van die 1ste eeu het dit egter verplig geword. Een maal per jaar moes elke burger ’n bietjie wierook op die altaar van die vergoddelikte keiser brand. Indien jy dit sou weier, dan was jy outomaties geteken as ’n landverraaier en voëlvry verklaar.
Gemeente, hier het julle die eerste saak wat die lewe van die Christene sterk geraak het en hul lewe in gevaar gebring het. Smirna was ’n entoesiaste sentrum van keiserverering. Daar was ook ’n ander faktor wat dit vir christene moeilik gemaak het om in Smirna te leef. Dit was die aanwesigheid van ’n groot aantal Jode daar. Na die val van Jerusalem het baie Jode hulle in Klein Asië gevestig. Hulle het dikwels in hul eie wyke gewoon. Hul verhouding met die ander burgers was egter uitsonderlik goed. Die Romeine was bereid om konsessies te maak: die Jode hoef nie in die weermag te dien nie. Hul sinagoges is deur die keiser beskerm. Vanweë die goeie verhouding tussen die Romeine en die Jode, kon die Jode redelik vinnig herstel van hul verskriklike nederlaag met die val van Jerusalem. Hul kon weer handel bedryf en binne korte tyd het hulle deel gekry aan die algemene welvaart van die stad.
Nou, in die groot en ryk handelstad Smirna waar Jode en heidene in goeie harmonie saamleef, vergader Christus sy kerk.
’n Mens sou dink, daar moet in so ’n voorspoedige stad baie geleenthede wees. As die Romeine selfs die Jode in die welvaart laat deel, dan moet dit seker tog ook vir die Christene geld. In die verlede was Romeine en Jode immers aartsvyande. Hulle het hewig teen mekaar gestry. Wel, as die Jode getolereer word, ja selfs deur die Romeine beskerm word, dan mag jy tog verwag dat die Christene ten minste dieselfde behandeling sou kry. Hulle het hulle immers afsydig gehou van die Joodse opstand teen die Romeine.
Maar, broeders en susters, vergeet dit maar. Ons hoor Christus sê: Ek ken jou verdrukking en armoede. Die christene leef konstant onder die druk van vyandskap. Hulle word geterg en verdruk. Hulle kan niks begin in die welvarende stad nie. Hulle word ekonomies uitgeskakel, geboikot. Hulle word sistematies aan die kant gesit, sodat hulle gebrek moet ly in ’n stad van oorvloed. Miskien is hulle selfs slagoffers van bendegeweld en plunder en word hul besittings in beslag geneem.
Bowendien het hulle te doen met die kwaadstokery van die Jode. Die Jode versprei allerlei laster praatjies. Hulle spoor die owerheid aan om teen die Christene op te tree. In ’n stad soos Smirna met sy sterk bande met Rome is dit nie moeilik nie. Die Jode is bereid om enigiets te doen om die dit vir die Christene moeilik te maak.
In so ’n wêreldstad Smirna sou ’n mens verwag dat die vyandskap veral van die kant van die heidene sou kom. Die keiserverering stel die Christene mos voor ’n onmoontlike situasie. As Christen weet jy immers dat jy net die enige ware God mag aanbid. Jy mag geen ander gode langs Hom plaas nie. In Smirna word egter talryke gode langs mekaar geplaas. Daaronder het jy die godin Roma en die vergoddelikte keiser. Elke burger moet in elk geval die twee aanbid om sy politieke lojaliteit te wys. As jy eenmaal die twee vereer het, dan mag jy enige god of godin wat jy verkies, dien. Dit moet dus wel uitloop op ’n konflik met die Christene met hul eksklusiewe diens aan God.

Maar, geliefdes, dis opvallend dat die konflik nie daar begin nie. Die aanval teen die kerk kom nie in die eerste plek van die heidene met hul veelgodedom nie, maar van hulle wat sê dat hulle die enige ware God dien. Dit kom van mense wat sê dat hulle Jode is. Mense wat hulle daarop beroem dat hulle kinders van Abraham is. Teenoor Christene en heidene maak hulle aanspraak daarop dat hulle die uitverkore volk van die enige ware God is. Hulle bely volgens Deut 6: die Here onse God is ’n enige Here. Is daar dan geen verwantskap tussen Jode en Christene nie? Hulle gaan tog terug op dieselfde Ou Testamentiese geskrifte? Bid hulle nie tot dieselfde God nie? Tog begin die vyandskap van die kant van hulle wat sê dat hulle Jode is. En dit is ’n fanatiese vyandskap. Hulle is bereid om alles te doen om die Christene te verneder of te vervolg. Hulle maak die Christene verdag met hul lasterlike beskuldigings. Hulle kla hulle aan vir verset teen die Romeinse owerheid. Daarin bly hulle trou aan hulleself. Het hulle Christus nie op dieselfde wyse weerstaan nie? Toe Pilatus probeer het om Jesus Christus vry te laat het hulle uitgeroep: as u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser (Joh 19:12).
Die Jode sweep die heidene op teen die Christene. En die situasie sal nog erger word. Christus sê dat sommige van hulle in die gevangenis gewerp sal word. Die druk sal toeneem. Hulle lewe sal aan alle kante bedreig word: armoede, lastering, gevangenskap. Selfs die grootste offer sal van hulle gevra word: hul eie lewe. Daarom: Wees getrou tot die dood toe.

Ongeveer ’n halwe eeu later sal Policarpus die leraar van die gemeente te Smirna as martelaar gedood word. Dan sal ook duidelik wees hoe aktief die Jode betrokke is by die vervolging van die Christene. Dis die Jode wat die menigte opsweep om hom dood te maak. Hulle lei die geroep van die menigte: dis die leraar van Asië, die vader van die Christene, die verwoester van die gode, wat baie mense leer om nie offers te bring of te aanbid nie. Policarpus moet kies: Óf aan die keiser offer óf verbrand word. Policarpus gee dan die geloofsantwoord: 86 jare het ek Christus gedien en Hy het my nooit beskaam nie. Sal ek nou my Koning, wat my gered het, verloën? Nooit nie! So het hy as martelaar gesterwe. Die geskiedenis vertel ons dat duisende hom gevolg het op die pad van martelaarskap.
Hoe is dit moontlik dat die vyandskap juis begin van die kant van hulle wat teruggaan op dieselfde Ou Testamentiese geskrifte? Ja, hoekom vorm twee aartsvyande, die Jode en die heidene, ’n bondgenootskap teen die Christene? Hoekom span hulle nou saam?

Christus verklaar vir ons die situasie. Hy wys op die kragte wat daar aan die werk is. Dit bring ons by die tweede gedagte van die preek: die agtergrond van die vervolging.
Die felste vyande van die kerk noem hulleself Jode. Hulle maak daarop aanspraak dat hulle God se uitverkore volk is. Feitelik is hulle egter volgelinge van Satan, ’n sinagoge van die Satan. Christus het reeds op iets dergeliks gewys tydens sy aardse bediening. Die Joodse leiers het hulle daarop beroem dat hulle kinders van Abraham was. Jesus sê vir hulle: "As julle kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen; maar nou probeer julle om My om die lewe te bring….As God julle vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan…Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ’n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie" (Joh 6: 39-44).

Die Jode wat Christus aanspreek, die Jode in Smirna en dit geld ook vir die moderne, vrysinnige Christene van vandag, aanvaar nie vir Jesus Christus nie. Hulle aanvaar Hom nie as hul enigste Verlosser nie.  Hulle weier om hulle aan Hom as Here en God te onderwerp.  Hulle volg die groot teenstander van God, die satan, de vader van alle leuen, en die mensemoordenaar van die begin af. Hulle is ’n sinagoge van die Satan.
So kan julle verstaan, geliefdes, hoe die aartsvyande Jode en heidene nou skielik saamspan teen die ware kerk van Christus. So kan julle verstaan waarom die ongelowiges en die valse christene mekaar kan vind in hul teenstand teen die kerk van Christus en teen die ware christelike lewe. Albei word deur satan geïnspireer. En wanneer jy eenmaal jou deur Satan laat inspireer, het jy as moderne Christen geen rede om die eksklusiewe diens van God streng op te neem nie. Dan sal dit geen probleem wees om kompromieë aan te gaan nie. Veral as jou vryheid en welvaart in geding is. Jy moet tog realisties wees. Jy moet tog begrip opbring vir jou nuwe maghebbers en jou aanpas aan die nuwe situasie. Daarom is die Jode bereid om konsessies te maak in antwoord op die konsessies van die Romeinse owerheid. Daarom is hulle bereid om ’n bietjie wierook vir die keiser te brand. In verskeie sinagoges het die Jode selfs kranse en skilde aangebring ter ere van die Romeinse keiser. Hulle het geen moeite met die owerheid nie en kan rustig hul eie godsdiens uitoefen so lank as hulle maar hul lojaliteit aan Rome wys deur die keiser te vereer. Julle sal verstaan dat volgelinge van satan geen probleem het met hierdie een konsessie nie.

Daardeur word dit baie moeiliker vir die troue kerk van God gemaak. As die Jode met hul eksklusiewe godsdiens bereid is om saam te doen met die keiserverering, waarom sou jy as Christen dit nie kan doen nie? As die ander kerke , as die moderne vrysinnige Christene sekere dinge kan aanvaar, waarom moet ons dan aan die kant bly staan? Dit word baie verleidelik. Jy hoef net ’n klein bietjie saam te doen, jy hoef slegs ’n minimale formaliteit te verrig en jou vrede en voorspoed is gewaarborg. In ons multikulturele samelewing hoef jy in die onderwys net ’n klein offer te bring op die altaar van die veelgodsdienstigheid. Jy kan daarnaas nog rustig jou eie godsdiens beoefen en jou geloof in Jesus Christus uitleef. Vir die owerhede is dit gewoon onbegryplik dat jy daarmee probleme het. Behalwe die keiser het die Romeine tog ook ander gode gedien. Waarom kan die christene nie dieselfde doen nie? Die Jode kan dit wel, waarom die Christene nie? So word die Christene ook vandag gesien as spelbrekers, fanatiese, onverdraagsame mense. Laat hulle dan maar die gevolge daarvan voel. Die duiwel probeer om God se volk te verlei om tog die een konsessie te maak. En as hulle hulle nie laat verlei nie, dan gebruik hy geweld teen hulle. Christus wys hulle daarop wanneer Hy sê: "kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp."

Let daarop dis die duiwel wat die lewe van die gelowiges moeilik maak, ook vandag bv via verleiding van die kant van vrysinnige christene. En as hy sy sin nie kry nie, via geweld, via vervolging.

Maar geliefdes, Christus sorg vir die oorwinning. Satan mag rondgaan as ’n leeu op soek na prooi, maar Christus is die oorwinnaar. Dis die derde gedagte: die oorwinning.
Let op die titels wat Christus homself in hierdie brief gee. "Dit sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het." Baie toepaslike en vertroostende titels in die situasie. Die vervolgde kerk het die eerste en die laaste aan sy kant. Jesus Christus was voor alle dinge, voor die geskiedenis begin het en Hy sal ook daar wees wanneer hierdie tydperk afloop. Hy staan bo die tyd en beheer die hele geskiedenis. Satan mag slim en fel wees. Maar Christus is hom voor. Satan mag jou vervolg en jou in die tronk werp. Maar Ek is in beheer, sê Christus. Satan kan nie meer doen en langer optree as wat Ek hom toelaat nie. Ek het hom tien dae gegee om op te tree. "Julle sal 10 dae lank verdrukking hê". Tien dae, beteken ’n beperkte tyd. ’n Relatief korte tyd. Tien dae is nie tien jare nie. Tog is dit ernstig genoeg. Tien is ’n simbool van volheid, kompleetheid.

Tien dae. Christus wys dat Hy ’n sekere definitiewe periode vir die duiwel bepaal het, waarin hy die kerk mag vervolg. Satan bepaal nie self die periode nie. Hy het geen mag uit homself nie. Dit moet hom deur God gegee word.
Wat ’n groot troos vir die kerk van alle tye. Satan het ongetwyfeld baie mag hier op aarde. Hy sal die lewe vir die getroue gelowiges moeilik maak. Ons kan dit verwag. Maar onthou net: die mag van die duisternis is heeltemal onder die beheer van Hom wat wandel tussen die 7 goue kandelaars. Jou koning het alle mag ontvang in hemel en op aarde. Ook mag om die duiwel, die groot teenstander van God en sy kerk, te beheer. Hy is die eerste en die laaste. Hy is Satan voor maar ook: Hy sal die laaste op die slagveld wees. Hy sal die oorwinnaar wees. Is Hy nie diegene wat dood was en lewend geword het nie? Hy het homself met ons vereenselwig en vir ons die dood oorwin. Hy het nou die sleutels van die dood en die doderyk. Hy het die mag om oop te maak en om toe te sluit.
Wat ’n magtige Here en Verlosser het ons. Daarom: Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Satan probeer om jou tot sonde te verlei. Ek het hom oorwin. Hy is aan my onderworpe en Ek gebruik hom vir my doeleindes. "Sodat julle op die proef gestel kan word."

Wanneer jy na jouself kyk dan kan jy inderdaad gaan vrees. Wie is bereid om sy lewe vir sy geloof te gee? As jy let op eie krag dan kan vrees jou hart vervul. Sal jy in staat wees om te volhard? Maar Ek, Christus, is besig met julle, om julle op die proef te stel. Nie om jou krag te ontdek nie, maar om my krag in jou te openbaar. Sodat die krag van my genade in hierdie wêreld sigbaar mag word en my naam verheerlik word. Ag dit as ’n eer om deur beproewinge heen te gaan. Jy word waardig geag om ’n bewys van my krag te wees. Laat my daarom in jou werk tot die einde toe. Ook al moet jy jou lewe daarvoor verloor. Wees getrou tot die dood toe. Bly op my vertrou, die eerste en die laaste, die oorwinnaar van die dood. Vrees nie. As Ek die pad met jou wil gaan, sou Ek jou dan verlaat? As Ek mense toelaat om jou te bespot, te beskinder, uit te sluit, ja self te vervolg of dood te maak, sou Ek jou dan alleen los? Vertrou op My. Dan is jy ryk, maak nie saak hoe arm jy na wêreldse maatstawwe mag wees. Dan is jy ryk in genade, ryk met allerlei geestelike seëninge, skatryk in My, die lewe. Die eerste dood, die liggaamlike dood, kan jou geen skade toebring nie. Dit gee My die geleentheid om jou te verwelkom in my hemelse paleis. En wat meer is: die tweede dood, die hel, kan jou niks maak nie. Ek sal jou die kroon van die lewe gee. Die oorwinningskroon.  Volkome saligheid.
AMEN
 

Net ’n herinnering: Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief C Kleijn


 

Liturgie: 

(kyk in preek)