Die Heilige Gees en sy werk

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2010-04-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Preek Inhoud: 

Sondag 20

Johannesburg, 11 April 2010

Lees: 1 Korinthiërs 2.
Sing: SB 27; Ps 25:6,7; SB 14; Ps 143:8,9.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Durf julle sê dat julle die Heilige Gees besit? Woon die Heilige Gees in jou? Is ons dikwels nie verleë met sulke vrae nie? Wat is dit om die Gees te hê? Hoe weet ek dat die Gees in my woon? Moet ek iets besonders binne in my voel? Wat moet ek dan voel? Die moderne Christendom is sterk op die belewing gerig. Daarom is die Pinkster kerke en charismatiese beweging so aantreklik.

Dit is goed dat die werk van die Gees meer onder die aandag kom. Laat ons egter oppas vir eensydigheid. Waar alle nadruk op die Gees gelê word, blyk dit ongelukkig dikwels dat die mens met sy godsdienstige gevoel of belewing in die middelpunt kom te staan. Aan die ander kant kan dit gebeur dat ons uit reaksie so sterk die leer gaan benadruk dat die lewe versmoor word. Die werk van die Gees en ons geloofsbelewing is albei belangrik. Maar dan moet dit wel in die juiste verhouding en volgorde gesien word. Wanneer jy werklik glo, dan sal jy dit ook belewe. Dis dus: eers geloof, dan belewing. Laat ons nader sien wat die Skrif ons leer oor die werk van die Heilige Gees.

Ek verkondig vir julle: die Heilige Gees en sy werk

1.      die Heilige Gees is uit God

2.      die Heilige Gees is ook aan my gegee

3.      die Heilige Gees laat my Christus ken en bely

Is dit dikwels nie moeilik om ’n goeie voorstelling van die Heilige Gees te maak nie? Die werk van die Heilige Gees lyk so vaag. Met die werk van God die Vader en God die Seun is dit anders. Ons ken die Vader as ons Skepper en Onderhouer. Sy skeppingswerk is sigbaar en tasbaar. Ons ken God die Seun as Woord wat vlees geword het. Vanweë sy verskyning en sy lyding in die vlees het sy werk vir ons grypbaar geword. Ons het te doen met ’n werklikheid wat binne ons menslike horison plaasgevind het. Oog en oorgetuies het hom gesien en gehoor en het dit vir ons opgeskrywe.

Rondom die Heilige Gees lyk alles baie minder duidelik. Probeer maar eers ’n voorstelling te maak van wat Hy is en wat Hy doen. Dit lyk so vaag. Ons wil so graag iets van Hom kan sien en voel. Dit hoef ons nie te bevreemd dat daar in die loop van die geskiedenis allerlei teorieë oor die werk en werkwyse van die Heilige Gees bedink is nie. Op hierdie gebied was en is daar baie ontsporings.

Die Heidelbergse Kat benadruk eers die eenheid van die Vader, Seun en Heilige Gees. Waarom? Omdat juis die loslating daarvan die oorsaak van baie ontsporings is. Van die Heilige Gees bely ons: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God. Die nadruk val nou nie op die Godheid van die Heilige Gees nie. Dit is reeds benadruk in Sondag 8 waar die drie-eenheid bely word. In die antwoord van ons huidige sondags-afdeling staan nie: dat Hy ewenas die Vader en die Seun ware en ewige God is nie. Daar staan slegs: dat Hy saam met die Vader en die Seun dit is. Saam met, dws: die Heilige Gees staan nie alleen nie, maar is saam met die Vader en die Seun ware en ewige God. Die drie Persone – Vader, Seun en Heilige Gees – vorm saam die ware en ewige God. 

Daarom, brs en srs, moenie die Heilige Gees ooit van die Vader en die Seun losmaak nie. As jy dit doen, dan hou jy in beginsel niemand oor nie, ook nie die Heilige Gees nie. Die drie Persone van die goddelike Wese werk saam op ’n volmaakte wyse. Hulle soek die verheerliking van mekaar. Die Heilige Gees tree nie op los van die Vader en die Seun nie, laat staan dat Hy die Woord van die Seun sou verloën of ondermyn. Let maar op wat Christus kort voor sy sterwe gesê het: kom ons lees saam Joh 16:13-15. Die Heilige Gees opereer dus nie selfstandig, los van die Vader en die Seun nie. Hy gaan uit van die Vader en die Seun. Hy praat nie uit homself nie, maar wat Hy van My ontvang sal Hy aan julle verkondig, sê Christus.

Ons het iets dergeliks in 1 Kor 2 gelees. Die Gees ondersoek alle dinge, staan daar, ook die dieptes van God (vers 10). Die Heilige Gees deurgrond die diepste gedagtes van God. Die Heilige Gees ken God se hart. Paulus vergelyk dit met die gees van die mens as hy sê: want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? Jy weet as mens nooit presies wat in ’n ander mens omgaan nie. Dit weet net daardie mens self. Nou, op soortgelyke wyse weet ook niemand wat in God omgaan nie, wat God wil en dink, as alleen die Gees van God. Die Heilige Gees ken God se oorlegginge en planne. Hy ken ook die ongelooflike plan van die Here God om mense in Christus te red. En die Heilige Gees maak die verborge gedagtes van God bekend. Dit gaan vir die Gees juis daaroor dat Hy God se hart aan mense onthul.

Daarom word die Gees ook die Gees van God genoem. Die Gees kom van God na ons toe. Hy praat uit die hart van God. Saam met die Vader en die Seun is Hy ware en ewige God.

Gemeente, wie die Heilige Gees van die Seun losmaak, sal ontspoor. Ons sien dit in die geskiedenis. Deur die Heilige Gees van Christus se woord en werk los te maak kry jy twee tipe mense. Aan die een kant is daar die sogenaamde verligte siele. Jy beroem jou daarop dat jy ’n stem of aanraking van die Gees ontvang het en gaan dan selfvoldaan en selfversekerd die lewe deur as God se uitverkore kind. Aan die ander kant is daar egter ook die massa van twyfelende siele wat tot lydelikheid gedoem is. Jy wag maar op ’n besondere bevinding of stem van die Gees, wat jy nooit ontvang nie. So het baie mense in verskriklike twyfel en onsekerheid oor hul heil geleef. Waarom? Vanweë hul verkeerde siening op die werk van die Heilige Gees. Hulle het die ryke beloftes van vergewing en vernuwing vir hulle nie durf toe-eien nie omdat hulle ’n besondere werking van die Gees – buite Christus se Woord om- verwag het. Dit sou vir hulle beslissend wees. Geloof in die Woord van God sou nie voldoende wees nie. Beslissend sou wees ’n besondere ervaring of belewing.

Dis daarom van lewensbelang, broeders en susters, dat julle die eerste gedeelte van sondag 20 skerp sien en goed vashou. Die Heilige Gees is geen Persoon wat buite die ander twee Persone van die goddelike Drie-eenheid optree nie. Hy spreek nie uit Homself nie. "Hy sal dit neem uit wat aan My behoort," het Christus reeds gesê. Dis dus nie so dat die Gees buite Christus se Woord om, laat staan in stryd met die Woord, my sou aanspreek of aanraak nie. Ek hoef nie te wag totdat ek plotseling of onverwags Hom in my hart voel of ontdek nie. As dit so was, dan sou die Kat moes gevra het: wat voel jy van die Heilige Gees? Maar dit staan daar nie. In plaas daarvan word die vraag gestel: wat glo jy van die Heilige Gees?

Broer, suster, as jy oor die Heilige Gees praat dan moet jy nie alle aandag rig op wat binne in jou gebeur het of sou moet gebeur nie. Jou persoonlike belewing – hoe belangrik dit ook is as teken van ’n lewende geloof - is nie die belangrikste nie. Die Gees rig juis alle aandag op die Vader en die Seun. Daartoe is Hy uitgestuur. Dit gaan oor hulle woord en hulle heerlikheid. Het Christus nie gesê nie: Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig?

Broeders en susters, van die Gees bely die gelowige in die tweede plek dat Hy ook aan my gegee is. Die Kategismus word baie persoonlik. As gelowige mag jy met volle oortuiging sê dat jy die Gees ontvang het. Is dit nie vrypostig nie? Is ons dan nie soos die verligte siele wat met sekerheid stel dat hulle ’n besondere werking van die Gees gevoel het nie? Kan jy dit werklik so stellig sê dat jy die Gees ontvang het? Dit is tog nie vanselfsprekend nie? Dit moet tog aan jou gegee word? Die laaste is seker waar: Dit moet aan my gegee word. Daarom is daar geen plek vir geestelike hoogmoed of selfversekerdheid nie.

As jy dit opreg bely dan sê jy daarmee dat jy die Heilige Gees nie van jouself het nie. Van nature woon helaas die gees van die sonde en van die wêreld in my. Ek kan die Heilige Gees nie self verdien of verkry nie. Dit moet aan my gegee word. As ek dan glo en as gevolg daarvan bely dat die Gees ook aan my gegee is, dan is dit geen hoogmoed of vrypostigheid nie. Dis tog geen hoogmoed om te bely dat ek iets ontvang het nie? Dit is juis ’n teken van nederigheid om te wil lewe van iets wat aan my gegee is.

En gemeente, die nederigheid van die geloof word van elkeen gevra. God het nie verniet aan jou die belofte gegee dat Hy o.a. in jou wil woon en werk nie. Hy het die belofte selfs aan jou verseël toe jy gedoop is in die naam van die Vader, en van die Seun en van die Heilige Gees. Die belofte is geen leë woord nie. Van God se kant is dit opreg: Hy wil deur sy Gees in jou woon en werk. Hoe reageer jy daarop? Jy gaan tog nie God se uitgestoke hand afwys nie? Of wel? Om dit te weier, dit is hoogmoed. Aanvaar liewers sy uitgestoke hand. Glo in God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Dit is nederigheid. Dan mag jy daarvan seker wees dat God sy belofte ook waarmaak in jou lewe, dat Hy in jou woon en werk. Jou geloof is reeds ’n bewys daarvan. Want hoe sou jy glo as die Gees nie eers jou hart, wat toe was, oopgemaak het nie?

Soms word dit as ’n deug gesien om in twyfel te lewe. Jy mag tog nie sommer aanmatig dat jy God se Gees besit nie? Stel jou voor dat jy met ’n ingebeelde hemel hel toegaan! Dan kan jy jou tog beter niks inbeeld nie. God roep ons egter op om alle twyfel te laat vaar. Twyfel is in feite eiewilligheid. "My ja is ja", sê God. As jy sou twyfel of die Heilige Gees in jou sondige hart woning wil maak, let dan op jou doop met die plegtige, goddelike versekering: "ja, Ek wil in jou woon".

Broeders en susters, dit beteken natuurlik nie dat jy nou kan redeneer: ek is gedoop, dus alles is in orde nie. So oppervlakkig is die geloof nie. Die geloof sê amen op God se belofte woord. Die geloof gee homself volkome gewonne aan die goddelike jawoord. Alles wat die drie-enige God gesê en belowe het is waar, ook vir my. Hy het dit immers gesê!

So kan Paulus skrywe: Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is. Ons, gelowiges van die nuwe verbond, het die Heilige Gees ontvang. Dit word genoem as ’n historiese feit, as ’n werklikheid vir die gemeente van Christus.

Wanneer het ek dan die Gees ontvang? Toe die woord van God na my toegekom het en ek die woord in geloof aangeneem het. Paulus het die woord van God se genade aan hulle verkondig. Dit het hy nie met voortreflikheid van woorde of van wysheid gedoen nie. Paulus het sy hoorders nie met oorredende en meeslepende woorde van menslike wysheid probeer beïndruk soos die mense dit gewoond was van wysheidsleraars nie. Hy het nie opgetree soos demagoë wat met allerlei retoriese middele die massa vir hulle trag te wen nie.

Paulus het ook nie gekom met ’n boodskap wat die mense onmiddellik aangespreek het nie. Inteendeel, sy boodskap was ’n dwaasheid vir die natuurlike mens: wie kom nou met die boodskap van Christus as gekruisigde?

In sy manier van optree en in die inhoud van sy prediking het Paulus dus allermins die guns van die mense trag te wen nie. In so ’n wêreldstad as Korinte sou hy baie meer indruk kon gemaak het deur die kunsgrepe van die wysheidsleraars te gebruik. Maar nee, die apostel laat alles in sy prediking weg wat mense in die rondreisende filosowe so gewaardeer het. Na menslike maatstawwe was sy optrede benede die maat.

Waarom doen Paulus dit? Moet hy hom nie meer aanpas aan sy gehoor nie? Paulus doen dit "sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God." (vers 5). Sodat die mense nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is (vers 12). Sou Paulus as ’n slim redenaar sy hoorders vir homself gewen het, dan sou hul geloof nie rus op die krag van God nie, maar op die wysheid van mense. Dan sou menslike welsprekendheid en menslike wysheid hulle in die ban kry en nie die Gees van God nie.

Jy het nie die gees van die wêreld nodig nie, van nature het jy reeds die gees. Jy het die Gees uit God nodig. Geloof wat rus op ’n imponerende menslike gees, help niemand nie. Daarom het Paulus nie met ’n voortreflikheid van woorde of van wysheid gekom nie, maar het Hy gees en krag betoon. Sy prediking het gepaard gegaan met ’n kragtige werking van die Gees. Ja, dmv sy prediking het die Gees self na hulle toegekom en hulle aangegryp.

Dit, broeders en susters, seuns en dogters, sê iets vir ons vandag. Hoe ontvang jy die Heilige Gees? Nie deur gloedvolle betoë, meeslepende woorde, opswepende gedag, dramatiese vertonings nie. Jy ontvang die Gees uit God deur die eenvoudige verkondiging van die woord van die kruis. Daarby skakel God wel die opvoeders in, ouers, onderwysers, onderwyseresse, kategete, predikante ens. Dis waar dat die een die boodskap boeiender kan oordra as die ander. Maar dit gaan oor die inhoud van die boodskap. Die evangelie self is ’n krag van God tot behoud van sondaars. Dit gaan oor Christus. Jou geloof moet nie rus op die welsprekendheid of krag van die spreker nie, maar op die inhoud van die evangelie. Gestel dat jou geloof sou afhang van ’n indrukwekkende spreker. Dan sou blyk dat jou geloof rus op wysheid van mense en nie op die krag van God nie. Wanneer die meeslepende prediker verdwyn, wat dan? Dan hou jy niks oor nie. Dan sou die gewone erediens jou nie meer aangryp nie. Jy het gebou op mense en nie op God nie. Vandaar dat baie mense van bv die Pinkster of charismatiese kerke groot moeite het om die gewone en eenvoudige verkondiging van die evangelie te waardeer.

Ja, broeders en susters dit kom aan op die inhoud van die evangelie. En dit vlei nie die natuurlike mens nie. Die natuurlike mens vind dit benede die maat. Dit is immers nie uit en na die mens nie. Dit is ’n dwaasheid vir die natuurlike mens. Maar dit blyk tog ’n uitsonderlike wysheid te wees, naamlik die verborge wysheid van God. Nooit het so iets in die hart van die mens opgekom nie. Nooit het ’n mens so iets gesien of gehoor nie. Maar die Gees van God dit tot julle heil bekendgemaak.

Dit bring ons by die derde gedagte: die Gees laat ons Christus ken en bely.

Paulus skryf in 1 Kor 2:12: "Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het." Die Heilige Gees is besig as die Gees van wysheid en openbaring. Hy is die groot Leraar van die kerk. Hy maak jou oë oop vir die werk van Christus. Hy leer jou om te verstaan hoe groot die heil is wat God ons in Christus gegee het.

Let daarop gemeente, Paulus praat oor kennis van wat God ons uit genade geskenk het. Hy skryf nie: sodat ons kan weet wat God ons miskien sal skenk nie. Nee, sodat ons kan weet wat God ons geskenk het. Mag jy wel so stellig praat van iets wat aan jou geskenk is? In geloof moet jy so stellig praat. Die geloof sê amen op God se woord. Die Gees van God het die hart van God blootgelê, bekendgemaak. Die Gees het die oë vir God se genade in Christus geopen. Wie dit gesien het weet dit seker. Verlossing is nie slegs vir ander nie, maar ook vir my. God het die Christus ook aan my gegee.

Is dit nie geweldig dat jy God se genade mag ken nie? So het die Gees jou deur ’n waar geloof laat deel kry aan Christus en al sy weldade. Dit is nog nie ’n volmaakte kennis of belewing nie. Maar dit is ’n kennis van wat God uit genade geskenk het. Wat verborge was – wat geen mens kon bedink nie – dit het die Gees aan jou geopenbaar. Daarby het God gebruik gemaak van eenvoudige christelike opvoeding, eenvoudige onderrig en prediking. Jy mag God se hart ken. Wat ’n kennis! Dit gaan ons verstand te bowe. Ek kan slegs in verwondering God aanbid, God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees wat van die Vader en die Seun uitgaan.

So kom die tonge los, die tonge wat God bely en aanbid. Wie God se genade ken, kan nie anders as daaroor praat nie. Liefde-kennis en verwondering dwing ’n mens om te praat. Paulus skryf dan ook in 1 Kor 2:13: Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met die wat die Heilige Gees leer. Ons skaam ons nie om daaroor te praat nie, ook al is dit nie na die mens nie en stuit dit op verset. Ons kan nie anders nie. Sou ons ons aanpas aan ons gehoor, sou ons hulle vlei, dan sou hulle nie die volle evangelie ontvang nie – ’n krag van God vir elkeen wat glo.

Paulus benadruk die woorde wat ons gebruik, die manier waarop ons praat. Daarvan spreek ons ook met woorde wat die Heilige Gees leer. Dit Gees gee ons spreekles. Begrippe wat die natuurlike mens nie ken nie, word ons aangeleer. En ons praat daarvan. Ons skaam ons nie vir die taal van die Gees nie, die taal van die Skrifte en so ook die taal van Christus se kerk. Nee, ons weet dat juis die taal ons heil verwoord. Ons praat van God se roemryke dade. Ons gaan sing van Hom wat verlos, wat sy woord laat uitgaan. Hom wat geloof bewerk, wat lewens vernuwe.

Nou terug na die vraag van die begin: durf jy te sê dat jy die Heilige Gees besit? As jy die evangelie glo en as jy begin om vir die Here te lewe, dan hoef dit vir jou geen vraag te wees nie. Die Gees toon dan reeds metterdaad sy aanwesigheid!

AMEN

 


Net ’n herinnering: Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief C Kleijn

Liturgie: 

(kyk in preek)