God loop met Samuel ‘n pad, sodat hy uiteindelik profeet van God se oorvloedige woord kan word

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2007-11-04
Teks: 
I Samuel 3
Preek Inhoud: 

1 Samuel 3:10b

Ds HH van Alten - Sondag 4 November 2007 - Aflegging
van openbare geloofsbelydenis

Lees: 1 Samuel 3; 
Handelinge 4:23-31
Teks: 1 Samuel 3:10b
Sing: Sien liturgie

Tema: God loop met
Samuel ‘n pad, sodat hy uiteindelik profeet van God se oorvloedige woord kan
word.

Op hierdie pad
herken ons:

  1. Die geduldige onderrig van die
    Here
  2. Die selfstandige antwoord van
    Samuel

Geliefde gemeente van
ons Here, Jesus Christus,

In 1 Samuel 3 lees ons
van die roeping van die jongman, Samuel. Maar voordat ons onsself verder daarin
gaan verdiep, is dit goed om eers ‘n oorsig te kry van die struktuur van
hoofstuk 3. Verse 2-10 vertel ons dus van Samuel se roeping; vervolgens, in
verse 11-18, ontvang Samuel sy eerste boodskap wat hy aan Eli moet oordra. En
hierdie groot, middelste gedeelte van die hoofstuk (verse 2-18) word aan die
begin (vers 1) en aan die einde (verse 19-21) omarm deur twee baie belangrike –
en kontrasterende – mededelings. Kom ons kyk wat die Here hier sê…

Vers 1 vertel vir ons
dat die woord van die Here in daardie tyd maar skaars was, en dat daar nie baie
gesigte was nie. Terloops, ‘n gesig was een van die maniere wat die Here gebruik
het om sy woord aan ‘n profeet oor te dra. Die Here het Homself op daardie
tydstip dus nie dikwels aan die volk geopenbaar nie. Maar hoekom nie? Wel,
waarskynlik omdat die volk onder God se toorn gestaan het. Immers, net hiervoor
in hoofstuk 2 lees ons van die goddeloosheid van die priesters en van die straf
wat die Here daaroor voorspel het. En ‘n paar hoofstukke later, hoofstuk 7, lees
ons dat die volk in daardie tyd die Astartes en ander vreemde gode gedien het.
Dus, daar was algemene afval onder die volk, en die Here het as gevolg daarvan
die lig van sy woord aan sy volk onttrek en toegelaat dat hulle in duisternis
ronddwaal. Die Here het Homsélf op dié manier aan sy volk onttrek…

En, gemeente, dit is
belangrik om hierdie verband raak te sien tussen die teenwoordigheid van die
wóórd van die Here en die teenwoordigheid van Homsélf. Hierdie twee gaan altyd
saam. In 1 Samuel 28 bevestig koning Saul hierdie verband. Ons lees in vers 6
van daardie hoofstuk naamlik dat Saul die Here geraadpleeg het, maar dat die
Here hom nie geantwoord het nie – nie deur drome, nie deur die Urim en nie deur
die profete nie. En dan sê Saul in vers 15 vir Samuel: “… Gód het
van my gewyk en antwoord my nie langer deur die diens van die profete en ook nie
deur drome nie.” God kom dus in sy woord na mense toe – waar sy woord
afwesig is, is God sélf afwesig. En dan moet ons nie dink, broers en susters,
dat, omdat ons die bybel het, God se Woord in ons dae nie meer skaars kan wees
nie. Want hoewel ons die bybel het – en moontlik selfs 4 of 5 bybels in ons
huise het – kan ons nogtans verleer om daarin die woord van God te hoor; ons kan
geestelike doofheid ontwikkel. Ons kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en
hoor, en nie verstaan nie. En só kan God se Woord ook in ons dae skaars wees,
selfs afwesig wees. Die situasie wat 1 Samuel 3 vir ons skets, is dus ook ‘n
gevaar vir 2007 wanneer ons nie meer trou is aan die Here nie… 

Maar as ons nou na die
einde van 1 Samuel 3 spring, dan sien ons presies die teenoorgestelde. Hier is
die woord van die Here weer aanwesig! Die Here het die stilte verbreek! Waar die
Here se woord daarvóór skaars en sporadies was, spreek die Here nou op ‘n
gereelde basis tot sy volk. Gemeente, dit is ‘n teken van God se genadige
teenwoordigheid wanneer sy woord weer vrye toegang onder sy volk het. Dit is ‘n
teken van God se ryk genade wanneer in die kerk die Woord sentraal staan,
wanneer die Skrifte helder en duidelik vanaf die kansel verkondig word, en
wanneer gelowiges die amp van profeet deur hulle daaglikse belydenis laat lewe!
En op dié manier kan die Woord van die Here sy gang gaan – vanaf die kansel,
deur die gemeente, tot diep in die samelewing waarbinne die Here ons geplaas het. 

Ons sien dus in 1
Samuel 3 ‘n beweging vanaf ‘n skaarste in die woord – ‘n hongersnood in die
woord – na ‘n oorvloed van die woord. En tussen die skaarste en die oorvloed
staan nou die jong Samuel, profeet en dienskneg van die Here. Kom ons luister op
hierdie besondere Sondag na die Woord van die Here oor die roeping van Samuel.

Tema: God loop
met Samuel ‘n pad, sodat hy uiteindelik profeet van God se oorvloedige woord kan
word.

Op hierdie pad
herken ons:

  1. Die geduldige onderrig van die
    Here

  2. Die selfstandige antwoord van
    Samuel

1. Dit is
vroeg-oggend en nog donker. In ooreenstemming met die wet van die Here in Exodus
27 het die lamp van God nog in die voorhof gebrand. Beide Eli en Samuel lê ook
nog en slaap. Hulle het hulle afsonderlike slaapplekke waarskynlik in die
byvertrekke van die tabernakel gehad. Die skrywer praat hier van die tempel,
maar ons kan aanneem dat hy dit doen vanuit die konteks toe die tempel alreeds
bestaan het. Op hierdie stadium egter was die Here se woonplek nog steeds in die
tabernakel, die tent uit die dae van die woestynreis. Die skrywer ag dit verder
nodig om te vermeld dat Eli se oë al begin swak word het, sy oë het begin donker
word. En waarskynlik noem hy dit om daarmee te verklaar waarom Samuel, toe hy
die stem gehoor het, homself dadelik na Eli gehaas het. Samuel was skynbaar
gewoond daaraan om snags op te staan vir sy geestelike vader, wat al hoe swakker
geword het.

Na hierdie lang
verduideliking in verse 2 en 3 kom die skrywer ten slotte uit by wat hy eintlik
wil meedeel: die Here het Samuel geroep (vers 4a). En dan is dit opmerklik om te
sien hoe dikwels die werkwoord ‘roep’ hier gebruik word – tot elf keer toe in
verse 4-10. Duidelik is dít dan ook die sentrale tema van hierdie verse – die
Here se roeping van Samuel. Maar… as ‘n mens besig is om hierdie gedeelte deur
te lees, dan wonder jy of die Here se roeping so effektief is, of sy geroep ooit
beantwoord gaan word – tot vier keer toe moet die Here vir Samuel roep. Ons kry
amper ‘n ongemaklike herhaling van gebeure. En dan is die probleem nie soseer
Samuel se gewilligheid nie; inteendeel, wanneer Samuel die geroep hoor, spring
hy onmiddellik op en haas hom na Eli. Hy is vas daarvan oortuig dat dié hom
geroep het. Nee, Samuel is nie onwillig nie. Maar waarom is hy dan so stadig om
te verstaan wat hier aan die gang is? 

Broers en susters, vers
7 verduidelik vir ons waarom Samuel die duidelike aanwysings gemis het. Ons lees
daar: “Maar Samuel het die Here nog nie geken nie; ook was die woord van die
Here nog nie aan hom geopenbaar nie.” Nou moet ons baie goed verstaan dat
hierdie stelling nie die doel het om Samuel te blameer nie, maar eerder om sy
onbegrip aan die lesers te verklaar. Ons vind in hierdie stelling iets anders as
wat ons byvoorbeeld lees in hoofstuk 2:12, waar dieselfde werkwoord gebruik
word. Daar word van die seuns van Eli gesê dat hulle die Here nie ‘erken’ het
nie – letterlik staan daar dat hulle die Here nie ‘geken’ het nie. Dáár word dit
egter as beskuldiging en rede aangevoer vir die goddelose dade van Eli se seuns.
Maar hier, in hoofstuk 3:7, word dit as verklaring gegee waarom Samuel nie reg
op die roepstem van die Here kon reageer nie. Samuel het naamlik nog nie enige
direkte ervaring met die Here gehad nie, hy het nog nie voorafgaande oefening
gehad om God se woord te ontvang nie. Dit is dus geen wonder dat die Here se
roep hom ietwat dronk geslaan het nie. Immers, Samuel was hier op totaal
onbekende terrein. Eers toe Eli begin verstaan het wat hier aan die gang is, het
alles vir Samuel ook in plek geval.  

Maar, gemeente, wat sê
hierdie gedeelte nou vir ons? Want vandag se gelowiges staan nie in dieselfde
posisie as Samuel nie: ons word nie geroep om direkte goddelike openbarings te
ontvang nie, ons is nie profete op dieselfde manier as wat Samuel dit was nie.
Miskien, sal iemand sê, is die boodskap dat ons Samuel se gewillige houding moet
navolg… Daarin is sekerlik ‘n stukkie waarheid, maar dit bring ons nog nie by
die kern nie. Nee, om by die kern uit te kom, moet ons nie soseer vra wat
hierdie gedeelte vir óns te sê het nie, maar moet ons eerder vra wat hierdie
gedeelte oor Gód openbaar. Die ervaring van Sámuel is nie bepalend nie, maar
eerder die karakter van Gód. En wat sien ons hier van God se karakter?  

Gemeente, ons sien die
goedheid en die sagtheid van die Here! Ons sien sy groot geduld met mensekinders.
Hier is naamlik ‘n nuwe stap in die lewe van Samuel, en daarmee saam ook in die
lewe van God se volk. Samuel moet tot ‘n sekere kennis en besef kom, hy moet tot
gereedheid kom om die Here se openbarings te ontvang en om sodoende as sy
profeet te kan optree. En tog is die Here hierin glad nie haastig nie. Hy neem
die tyd sodat Samuel kan leer waaroor dit gaan. En wanneer Samuel effens stadig
reageer, slaak die Here nie ‘n geïriteerde sug nie; Hy verkleineer Samuel nie
omdat hy so stompsinnig is nie; Hy vaar nie teenoor hom uit omdat hy niks reg
kan doen nie; Hy staan nie met sy stophorlosie bo Samuel nie.

Nee, gemeente, die Here
neem die tyd met die jongman, Samuel; Hy gaan in proses met hom – tot vier keer
toe roep Hy hom, laat Hy hom na Eli toe loop, en gee Hy hulle saam die tyd om
hierdie misterie uit te pluis. Die Here weet dat sekere dinge tyd vat, en daarom
géé Hy ook vir ons tyd om Hom te leer ken en sy weë met ons te leer verstaan. Hy
pas sy onderrig aan by ons vermoeëns. Daarin sien ons God se ware karakter. En
dit is presies dieselfde karakter wat die Here Jesus tydens sy lewe op aarde ook
geopenbaar het. Ons lees byvoorbeeld in Johannes 16:12 hoe die Here Jesus vir sy
dissipels sê: “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou
nie dra nie.” Nie nou nie… En daarom moes hulle eers vir die Heilige Gees wag;
dié sou hulle onderrig en hulle in die waarheid lei.  

Gemeente, dit is hoe
Samuel se Meester was, en dit is hoe ons Meester vandag nog is. As jy dink dat
ons God ‘n saaklike, nors en ongeduldige sersant is, dan word dit tyd dat jy jou
beeld van Hom verander. Want ons God is allermins ‘n ongeduldige sersant. Hy is,
inteendeel, in hoë mate geduldig en sagmoedig met ons, Hy neem die tyd met ons,
Hy loop ‘n pad met elkeen van ons. En julle, jongmense wat vanoggend belydenis
van julle geloof gaan aflê, is die lewende bewys daarvan. God het naamlik reg
vanaf die begin van julle lewens in ‘n verhouding met julle getree. Ons praat
daarvan as ‘n verbond. En aan die een kant van daardie verbond vind ons God se
genadige verlossing en sorg oor ons lewens; ons vind sy beloftes van redding en
nuwe lewe. Maar aan die ander kant van die verbond vind ons die gelowige se
antwoord en aanvaarding van God se liefde. Dit is die sogenaamde eis van die
verbond, waarsonder die verbond nie kan voortbestaan nie. Vir die goeie
voortgang van die verhouding móét die ander party op God se liefde antwoord;
geloof is ‘n onlosmaaklike deel van die verbond.

Maar het God van jou
verwag dat jy reg vanaf die begin die volle antwoord moet kan gee? Het Hy vanaf
dag 1 alreeds ‘n volwasse geloofsantwoord verwag? Het God, toe jy drie jaar oud
was, alreeds verwag dat jy ‘n goed ontwikkelde sondebesef moet hê? Het Hy, toe
jy tien jaar oud was, verwag dat jy die kenmerke van die kerk moet ken? Of het
Hy verwag dat jy op vyftien alreeds die leer van die Drie-eenheid van binne en
buite moet ken? Nee, God gee vir ons die tyd om te ontwikkel, om te groei, om
deur middel van die onderrig van ons ouers, die gereformeerde skool en die kerk
te kom tot ‘n volwasse geloofsantwoord, soos wat julle dit vandag wil gee. Dus,
doop en belydenis is onlosmaaklik verbonde, ook al lê daar soms 19 of 20 of meer
jare tussen-in. Deur middel van ‘n proses van groei en ontwikkeling het God se
geduldige onderrig julle gebring vanaf julle doop tot by hierdie pragtige dag. 

En wanneer julle vandag
jul geloofsantwoord in die openbaar gaan gee, dan beteken dit nie dat julle
klaar is nie. Nee, julle moet – en mág ook – verder groei! Ons is
immers nie volmaak nie, en verder is almal van ons ook nie op dieselfde vlak van
kennis en vertroue nie. En daarom kry elkeen van ons – ook dié wat reeds lank
belydende lidmate is – ruimte van die Here om verder te groei, meer te leer, te
verdiep in ons liefde vir die Here. Kyk maar hoe mooi praat byvoorbeeld die
Dordtse Leerreëls oor hierdie ruimte vir groei. Ons lees in DL 1:12 onder andere:
“Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike
uitverkiesing tot saligheid verseker. Dit gebeur in verskillende trappe en nie
vir almal in gelyke mate nie.” Gemeente, wie aan die hand van die Meester gaan,
mag rustig groei. Ja, ons strewe na die volmaaktheid, maar ons bereik dit
stappie vir stappie, geloofstreetjie vir geloofstreetjie. Groei daarom in alle
rus verder, deur die geduldige onderrig van die Here. Maak elke dag eenvoudig
jou bybel oop, lees die woord, oordink dit, maak dit jou eie. Sorg dat jy saam
met ander die bybel bestudeer en mekaar daarin opbou. Sorg dat jy veral die
eredienste getrou bywoon, na die woord luister, dit toepas en daarmee leef
tydens die week. Slegs só volg jy die pad van groei wat die Here gekies het, en
waarop sy seën rus. Slegs só gaan jy, met die Here aan jou sy, op die weg van
ewige vrede. [sing Ps. 139:7 en 12]

Kom ons let nou nog
op die selfstandige antwoord. 

2. Eers
teen die derde keer begin by Eli die lig opgaan oor wat presies hier aan die
gang is. Moontlik het selfs hy ook al verleer hoe die Here Homself aan sy knegte
openbaar; immers, die woord van die Here was skaars in daardie dae, en gesigte
was daar nie baie nie. Wat ook al die geval was, Eli stuur vir Samuel terug bed
toe met duidelike instruksies oor hoe hy die volgende keer op die stem moet
reageer. Ons kan aanneem dat Samuel hierdie keer nie weer aan die slaap kon raak
nie. Spanning het hom sekerlik met gespitste ore laat luister. En inderdaad, die
stem het vir ‘n vierde keer gekom: “Samuel, Samuel!”  

En dan antwoord Samuel,
soos Eli hom beveel het. Maar, gemeente, ons moet in Samuel se antwoord nie
slegs ‘n slaafse navolging van Eli se bevel sien nie. Samuel praat nie maar net
soos wat Eli hom voorgesê het nie. Nee, die Here het Samuel aan die hand gevat,
hom deur ‘n proses van val en opstaan tot kennis en begrip gebring; Samuel moes
leer wie die Here is, en hoe Hy Homself aan sy knegte openbaar. En nou het
Samuel op ‘n punt gekom dat hy gereed is, toegerus is, om in daardie vroeë
oggendure selfstandig en gewillig op die roepstem van die Here te antwoord:
“Spreek, want u kneg hoor.” Samuel verstaan nou; hy besef dat die Here hom
persoonlik roep, en op daardie roeping wil hy antwoord.

En, gemeente, dít is
waartoe God sy kinders wil bring. Hy loop vanaf ons geboorte met ons ‘n pad, Hy
lei ons aan die hand via opvoeding en onderrig, sodat ons uiteindelik kan kom
tot daardie oomblik dat ons verstaan, dat ons ken, dat ons glo. En terwyl die
Here so met ons oppad is, groei in ons die antwoord – en ‘n mens kon dit by
hierdie katkisante sien – en groei in ons ook die begeerte om daardie antwoord
uit te spreek, openlik te sê: “Spreek, Here, want u kneg hoor.” Jongmense, julle
belydenis van hierdie oggend is die resultaat van baie jare se onderrig en
vorming, dit is die resultaat van ‘n proses van val en opstaan en leer. Deur dit
alles bring die Here julle vanoggend tot ‘n selfstandige en gewillige antwoord
op julle doop. Pragtig, hoe die Here alles só lei dat Hy uiteindelik tog die
antwoord kry wat pas by die verbond wat Hy in die doop met julle gesluit het.
 

Besef egter ook die
gewig en erns van hierdie antwoord! Want met julle ‘ja’ vanoggend, met julle
selfstandige “spreek, want u kneg luister”, kom die verantwoordelikheid vir die
lewe met die Here nou op jou skouers. Eers het jou ouers daardie
verantwoordelikheid gedra. En daarom kan die katkisante, as ek hulle vra hoekom
hulle katkisasie toe kom, antwoord: “my ouers het my gestuur.” Heeltemal reg,
hulle het jou gestuur, dit is hulle taak!

Maar nou word dit
anders – nou word die verantwoordelikheid joune. Nou is dit jou
verantwoordelikheid om die keuse te maak om Sondae getrou kerk toe te gaan, nou
is dit jou verantwoordelikheid om te sorg dat jou bybelstudie op peil bly. Nou
is dit jou verantwoordelikheid om jou geloofsantwoord ook met ‘n gelowige
lewenswandel waar te maak. Jy neem vandag die ‘ja’, wat jou ouers by jou doop
uitgespreek het, oor en maak dit jou eie ‘ja’. En jy doen dit nie in die
oortuiging van jou eie krag nie. Nee, wie ‘ja’ sê met oortuiging, weet dat hy
toegerus is met die Woord van die Here. En wie toegerus is met die Woord van die
Here, leer om elke keer weer opnuut te sê: “Spreek, Here, want u kneg hoor.”
Daardie persoon wil elke keer opnuut na die Here luister. Om in die geloof
toegerus te wees, beteken nie dat jy alreeds die eindpunt behaal het nie. Nee,
dit beteken eenvoudig dat jy weet waar om, tydens jou lewensreis, die antwoorde
en die krag te ontvang. My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.
Spreek daarom Here, want ek wil na U luister!

Jou selfstandige
antwoord van vandag, is daarom tegelykertyd ‘n antwoord van diepe afhanklikheid.
Afhanklikheid van die Here; jy het steeds weer nodig om deur Hom onderrig te
word. Jy neem dus enersyds verantwoordelikheid, maar andersyds gee jy ook aan
die Here die leisels van jou lewe. Jy sê enersyds: “Ek glo, Here!”, en andersyds
sê jy daarmee saam: “Kom my ongeloof te hulp.” 

En ons het dit so nodig
om ons ‘ja’ in afhanklikheid van die Hére uit te spreek! Want die pad is nie
altyd maklik nie. Samuel, wat só selfstandig en gewillig die Here se roepstem
beantwoord het, het dit eerstehands ervaar. Samuel word aan die diepkant
ingegooi. Hy moet aan sy geestelike leermeester ‘n verdoemende boodskap gaan
bring, ‘n boodskap waarvan elkeen wat dit hoor, se twee ore sal tuit (vers 11).
Hy moet vir Eli gaan vertel dat die Here hom en sy huis gaan oordeel tot in
ewigheid, en dat daar geen versoening moontlik is nie. Dit is nie verniet dat
Samuel die volgende môre vir Eli vermy het nie; hy was doodsbenoud om hom
hierdie boodskap mee te deel.

Nee, die lewe van die
gelowige, wat na die Here se stem wil luister, is geen plesierrit nie. Dit
beteken dikwels stryd om jou belydenis waar te maak in die lewe van elke dag.
Ons sien dit byvoorbeeld by die apostels. Eers was hulle dissipels, wat nie
alles kon bevat wat Jesus vir hulle te sê gehad het nie. Daarom moes hulle die
koms van die Heilige Gees afwag, dié sou hulle in die waarheid lei. Maar wanneer
die Gees kom, en hulle die opdrag kry om die evangelie te gaan verkondig, dan
bring dit verdrukking en stryd. Hulle word gearresteer, gegesel en sommige selfs
doodgemaak – ter wille van hulle geloof en belydenis in die Naam van Jesus
Christus.

Maar ten spyte daarvan
sien ons die pragtige gebed van die eerste gemeente nadat Petrus en Johannes
deur die Joodse Raad vrygelaat is. Ons lees in Handelinge 4:29: “En nou, Here,
let op hulle dreigemente en gee aan u diensknegte om met alle vrymoedigheid u
woord te spreek…” Hulle laat dus die dreigemente van die Joodse Raad aan die
Here oor. Al waarvoor hulle bid, is vrymoedigheid om die woord te
spreek, om hulle geloof te bely. En dan antwoord die Here op kragtige wyse deur
die huis, waar hulle saam was, te skud en hulle almal met die Heilige Gees te
vervul. En dan eindig vers 31: “en [hulle] het die woord van God met
vrymoedigheid gespreek.” 

Broer en suster, bid
vir die krag van die Gees om jou geloof met groot vrymoedigheid te kan bely in
‘n wêreld wat die Naam van Jesus Christus nie goedgesind is nie, in ‘n wêreld
wat die dwaasheid van die kruis verag. Wees so profete van die enigste Naam
onder die hemel waardeur daar redding is. En mag dit dan vir ons kerke en vir
ons land só uitwerk soos wat ons lees aan die einde van 1 Samuel 3, naamlik dat
die woorde van die Here nie onvervuld bly nie, dat die woord van die Here weer
volop mag wees. In die begin van 1 Samuel 3 was daar ‘n skaarste in die woord
van die Here. Maar deur die diens van sy gewillige profeet, Samuel, wil die Here
weer oorvloed gee! Mag daar in ons kerke en in ons land ‘n oorvloed wees aan die
woord van die Here deur die belydenis van sy profete, die gelowiges. Wees daarom
belydende profete – profete wat eers wil luister (“Spreek, want u kneg hoor”),
en wat vervolgens ook met vrymoedigheid sal verkondig: “Ek sal U Naam met
dankerkentenis prys te midde van die feestelike skare. Jerusalem, ek hoor om jou
altare die lofgeluid wat tot Gods eer verrys.” Dít is die antwoord van die
profete!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.
Amen.
Sing Ps. 47:1-2
Wetslesing + v/a 113
Sing Skr. 26:1, 10 en 11
Gebed
Lees:  1 Samuel 3
      Handelinge 4:23-31
Sing Ps. 2:1, 2 en 6
Teks: 1 Samuel 3:10b
Preek

  • Ná 1ste punt Ps. 139:7 en 12
  • Amenlied Ps. 116:5, 9 en 10

Aflegging van openbare
geloofsbelydenis
Sing katkisante toe Ps. 134:3 en 4 (staande)
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 100
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou
laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan
jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)