Die hele gemeente en die sewende gebod

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2006-02-05
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 41
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van
Alten
.

HK Sondag 41

Ds HH van Alten - Sondag 5 Februarie 2006

Lees: Ps. 51, Joh. 2:1-12, 1 Kor. 6:12-20
Sing: Sien liturgie

Tema: Die hele gemeente en die
sewende gebod

            1. Die
uitsonderlike diepte van ons oortreding van die sewende gebod
            2. Die
verrassende verlossing van ons oortreding van die sewende gebod
            3. Die
diepborende oproep tot onderhouding van die sewende gebod

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,
Die sewende gebod gaan heelwat breër as net wat daar staan in die gebod self,
naamlik “jy mag nie egbreek nie”. Dit is nie die eerste keer wat ons hierdie
konstatering maak nie. So dikwels het ons, by die behandeling van die tien
gebooie, al bemerk dat die Here in Exodus 20 en Deuteronomium 5, waar die wet
neergeskryf is, slegs ‘n enkele oortreding noem, maar wanneer ons verder in die
Skrif gaan rondblaai, dan sien ons dat elke gebod baie meer bevat as net wat
daar neergeskryf is. Onder die sewende gebod val ook byvoorbeeld wat die Here sê
in Levitikus 18, naamlik dat niemand seksuele omgang mag hê met sy ma, sy suster,
halfsuster, kleindogter of ander naby-verwante familielede nie. Daarnaas mag
niemand hom skuldig maak aan homoseksuele verkeer of seksuele omgang met ‘n dier
nie (Lev. 18:22 e.v.). Verder kan ons onder hierdie gebod ook sake plaas soos
gesinsbeplanning, kunsmatige bevrugting, saamwoon, seksuele omgang voor die
huwelik, hoerery, pornografie, selfbevrediging ensovoorts. En in die Bergrede is
dit uiteindelik ons Here Jesus self wat die spits van hierdie gebod aandui
wanneer hy sê dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart
met haar egbreuk gepleeg het. Die sewende gebod gaan dus baie breër as net: jy
mag nie egbreek nie. Ons kan sê dat dit in die sewende gebod in die mees
breedste sin gaan oor hoe die mens in die verhouding van man tot vrou
moet lewe. Want dit is hoe God die mens geskape het: “… man en vrou het Hy
hulle geskape” (Gen. 1:27). En hoe moet hierdie man en vrou nou in
verhouding tot mekaar lewe?

Die feit dat die mens as man en vrou geskape is, dus dat daar van die begin
af verskil in geslag was, word geensins deur almal aanvaar nie. So byvoorbeeld
het die Griekse filosoof Plato oor die androgene mens as die oorspronklike mens
gepraat. In die androgene mens sou die manlike en vroulike element op volmaakte
wyse verenig gewees het. Maar die straf van die gode het hierdie androgene mens
getref, sodat hy in twee verdeel is: óf man, óf vrou… Sedert hierdie verdeling
is die rustelose liefde eindeloos op soek na die verlore eenheid. ‘n Lagwekkende
gedagte van ‘n primitiewe filosoof? Miskien nie so primitief nie, want hierdie
gedagte vind vandag nog aanhang. So byvoorbeeld is daar ‘n Franse skryfster wat
die geskiedenis in drie periodes verdeel. In die eerste periode was man en vrou
mekaar se komplement, met ‘n groot invloed van die vrou. In die tweede periode
het die manne helaas die baas geword en die vroue in verdrukking gekom; ook die
bybel met die skeppingsverhaal pas in hierdie klimaat. En tans leef ons in die
derde periode waarin die verskille tussen man en vrou, volgens hierdie skryfster,
heeltemal wegval. Homoseksualiteit en bi-seksualiteit demonstreer immers dat die
geslagtelikheid glad nie so vas lê soos wat die bybel ons wil laat glo nie. Ook
in moderne feministiese betoë hoor ons hierdie ou gedagte van Plato terugkom.

Gemeente, die Skrif leer ons egter anders. Die Skrif leer ons dat God die
mens vanaf die begin man en vrou gemaak het. Dus, vanaf die begin was elke mens
óf man óf vrou. En ook van hierdie deel van die skepping, van hierdie onderskeid
tussen man en vrou, sê God in Gen. 1:31 dat dit “baie goed” was. Ja, deur die
sonde het daar baie fout gegaan tussen hierdie twee, man en vrou. Deur die sonde
is die harmonie versteur. Maar daarmee het hulle nog nie opgehou om man en vrou
te wees nie. Elke mens word nog as óf man óf vrou gebore. En in die sewende
gebod leer ons: hoe moet die man en die vrou nou in die lewe van elke dag met
mekaar omgaan.

        Tema: Die hele gemeente en die
sewende gebod

            1. Die
uitsonderlike diepte van ons oortreding van die sewende gebod
            2. Die
verrassende verlossing van ons oortreding van die sewende gebod
            3. Die
diepborende oproep tot onderhouding van die sewende gebod

1. In Psalm 51 hoef ons nie te wonder oor die konteks waarin die psalm
ontstaan het nie. Vers 1 en 2 wys baie duidelik dat dit ‘n psalm van Dawid is,
toe die profeet Natan na hom gekom het, nadat hy by Batseba ingegaan het. Ons
almal ken waarskynlik die verhaal uit 2 Samuel 11 en 12: Dawid sien een aand ‘n
mooi vrou, Batseba, besig om te bad. Hy laat haar haal en beoefen gemeenskap met
haar. Toe dit blyk dat sy, as gevolg van hierdie daad, swanger is, laat hy haar
man Uria haal; hy was op daardie stadium met die manskappe besig in ‘n oorlog.
Dawid probeer Uria sover kry dat hy met sy vrou sal slaap. Sodoende kan dit lyk
asof hy vir sy eie vrou se swangerskap verantwoordelik is, en nie Dawid nie.
Wanneer dit nie slaag nie, gee hy opdrag dat Uria op die voorpunt van die
hewigste geveg geplaas moes word, sodat hy in die oorlog kan omkom. En so het
dit ook gebeur.

Ons lees egter in 2 Sam. 11:27: “Maar die ding wat Dawid gedoen het, was
verkeerd in die oë van die HERE.” En daarom het die Here Natan na Dawid gestuur
om hom van sy sonde bewus te maak. En nadat Natan deur ‘n verhaal, ‘n gelykenis,
Dawid op sy sonde gewys het, dan lees ons in 2 Sam. 12:13: “En Dawid sê vir
Natan: Ek het gesondig teen die HERE!…” Dawid besef dat sy sonde nie in die
eerste plek teen Batseba of Uria is nie, hoewel hy teen hulle gruwelik gesondig
het, maar dat sy sonde in die eerste plek teen die Here is. En dit benou Dawid:
ek het teen die Here gesondig! Hoekom? Dit leer Paulus ons in 1 Korinthiërs 6
wat ons saam gelees het. Kom ons kyk kortliks na hierdie gedeelte (miskien is
dit goed om u bybel by hierdie gedeelte oop te hou).

Paulus het bemerk dat die Korinthiërs van hul christelike vryheid iets anders
gemaak het, naamlik “alles is ons geoorloof”. En die gevolg van hierdie leuse
was dat die Korinthiërs ‘n sonde soos hoerery nie werklik as sonde gesien nie.
Immers, alles was hulle mos geoorloof… In hoofstuk 5:1 sien ons dat Paulus een
voorbeeld van hierdie sonde onder die Korinthiërs uitsonder. Ons lees daar: “’n
Mens hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ‘n aard as wat
selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het.
En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het…” Verskriklik
wat die Korinthiërs onder die leuse van “alles is ons geoorloof” beoefen en
toegestaan het. Paulus het egter geen wesenlike probleem met hierdie leuse nie,
maar hy plaas wel onmiddellik twee kantaantekeninge daarby.
In die eerste plek: alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie;
dus, nie elke daad het ‘n heilsame gevolg nie. Voordat jy iets doen, moet jy dus
nie slegs vra: mag ek dit doen nie?, maar ook: wat bereik ek hiermee?
In die tweede plek: alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets
laat oorheers nie; dit gaan hier dus oor selfbeheersing, ek wil nie ‘n slaaf
word van ‘n sekere gewoonte nie, want dan verloor ek die vryheid wat ek in
Christus verkry het.

In vers 13 noem Paulus dan ‘n voorbeeld waar die leuse “alles is my geoorloof”
sonder moeite toegepas kan word: die voedsel is vir die maag, en die maag is vir
die voedsel – so is die twee deur God gemaak en op mekaar aangelê, en
uiteindelik sal beide deur God tot niet gemaak word. Maar dít geld
nie vir die liggaam nie. Die liggaam is nie aangelê op hoerery nie. Nee, die
liggaam is vir die Here en, baie belangrik: die Here is ook vir
die liggaam. Daarmee wil Paulus sê, wat hy in vers 19 duideliker onder woorde
bring: julle liggaam is ‘n tempel van die Heilige Gees wat in julle is.
Hierdie liggaam van ons is die plek waar God deur sy Gees wil woon.

En daarom is hierdie liggaam nie bestem om uiteindelik tot niet gemaak te
word nie; nee, hierdie liggaam is bedoel om deur God opgewek te word, soos Hy
ook Christus opgewek het (vers 14). In die verlossing deur Christus is sowel my
siel as my liggaam ingesluit, sowel my siel as my liggaam behoort
aan Christus. Wil ek dan dít wat aan Christus behoort, dít wat lede van Christus
is, neem en lede van ‘n hoer maak…? (vers 15) Want, gemeente, dit is wat ons
doen in ons sonde teen die sewende gebod – ons neem ons liggame wat deur
Christus se kosbare bloed één met Hom behoort te wees, en ons maak
dit een met die hoerery. En Paulus begrond dít in wat God sê in Gen. 2:24: “… en
hulle sal een vlees wees.” (vers 16)

Broers en susters, hoerery (en dit sluit al ons sonde teen die sewende gebod
in – vul maar self in) is onverenigbaar met die eenheid wat ons in Christus
verkry het. En daarom die oproep in vers 18: “Vlug vir die hoerery.” Enige ander
sonde is buite die liggaam, maar wie die sewende gebod oortree sondig teen sy
eie liggaam – daardie liggaam waarvoor Christus duur betaal het met sy bloed,
daardie liggaam waar die Gees wil woon, daardie liggaam wat aan die Here behoort!

En nou verstaan ons hoekom Dawid so diep terneergedruk is – hy besef dat sy
sonde met Batseba sonde teen die Here is, sonde teen die woonplek van die
Heilige Gees in sy liggaam, maar ook in die liggaam van Batseba. En daarom ook
sy smeking in Psalm 51:13: “Verwerp my nie van u aangesig nie, en neem u Heilige
Gees nie van my weg nie.” “O Here, ek weet ek het my liggaam ontheilig deur u
Gees daaruit weg te skop en plek te gee aan die hoerery, maar wees my genadig!
Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as
sneeu.”

Gemeente, ons liggaam is ‘n tempel. En daar is twee dinge wat kenmerkend is
van ‘n tempel. In die eerste plek: dit is heilig omdat God daar woon. En in die
tweede plek: die eienaarskap van ‘n tempel behoort nie aan die mens nie, maar
aan God. Beide hierdie kenmerke geld ook van ons, gelowiges, se liggaam: dit is
‘n tempel, want die Heilige Gees woon daar; en dit behoort nie aan onsself nie,
maar aan God.
En in ons sonde teen die sewende gebod – en ontwaak uit jou waan as jy dink dat
die sewende gebod slegs egbreuk behels – in hierdie sonde waaraan ons almal
skuldig staan voor die Here, ontheilig ons hierdie tempel, die woonplek van die
Heilige Gees. Dit is hoe diep ons oortreding teen die sewende gebod gaan.
Ons speel nie net met iemand anders se gevoelens nie, ons maak nie slegs ander
seer nie, ons vat nie slegs wat nie of nog nie aan ons behoort nie, ons bevredig
nie slegs ons eie luste nie – nee, ons maak die huis van God – hierdie liggaam –
‘n hoerhuis. Die Gees van God word uit sy tempel verban en ‘n ander gees neem sy
plek in. En gemeente, wanneer ons dít besef, dan sê ons met pyn in
ons harte: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë,
sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.”

KOM ONS SING NOU VAN HIERDIE OORTREDING UIT PSALM 51:1, 3 EN 5

2. Ons het gelees: “Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat
verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.”
Maar Dawid gaan verder: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my
moeder my ontvang.” Ons oortree nie slegs so nou en dan die sewende gebod nie,
nee, dit sit in ons, vanaf die allereerste begin. Ons word daarmee gebore! Hoe
kan dit ook anders, elke huwelik is immers daarvan deurdronge; elke nuwe
geboorte is daarmee vervuil… Behalwe een!

Ons Here Jesus Christus se geboorte was vlekkeloos – Hy is immers ontvang uit
die Heilige Gees. Gebore sonder sonde, gebore sonder dat die oortreding
van die sewende gebod in Hom was. Hy het opgegroei sonder die drange van jong
seuns, Hy het opgegroei as iemand wat nooit op ‘n verkeerde manier na ‘n vrou
gekyk het nie, Hy het volwassenheid bereik sonder om ooit die sewende gebod te
oortree. Volmaak? Inderdaad! Maar hoe kan Hy ons dan verstaan? Hoe kan Hy dan
weet wat ons deurmaak? O, broers en susters, hoe het Hy nie verstaan nie. Ons
Here Jesus het nie met sy kop in die wolke geloop nie, Hy was geen kluisenaar
wat niks van hierdie dinge geweet het nie. Want wat doen die Here Jesus
reg aan die begin van sy bediening? Ons Here Jesus het skaars sy
bediening hier op aarde begin, sy dissipelgetal was nog maar klein… toe kom Hy
op die bruilof in Kana, waarheen Hy saam met enkele van sy dissipels uitgenooi
was. En op hierdie bruilof verrig Hy sy eerste wonder (Joh. 2:11) – ons het
daarvan gelees in Johannes 2.
Jesus kom verskaf vreugde in ‘n bruilofsfees wat gedreig het om plat te val. Hy
kom verander water in wyn om die feesvreugde tot nuwe hoogtes te voer. Want Hy
wil reg aan die begin van sy bediening, die huwelik, die gesin, die
kerngemeenskap vanwaaruit die kerk en die samelewing groei – dit wil Hy kom
herstel, daarvoor wil Hy hoop gee. Hier, by die huwelik kom lê Hy die
eerste hand aan die nuwe skepping. Daardie skepping wat in die paradys so
gruwelik skeefgeloop het, waar die eerste huwelik aan skerwe gespat het, dít
wil ons Heiland kom herstel, kom heelmaak. Hy wil weer feesvreugde gee in
die huwelik, in die seksualiteit, in die gesin… Hoe het ons Here nie verstaan
dat ons juis daar só kwesbaar is nie! Juis daar is ons so swak, juis daar werk
die satan met alle mag aan die fondamente van ons lewe. En ons beleef dit,
broers en susters – nee, nie by die ander nie, by onsself!

Maar daarin wil Christus herstel bring, vergifnis, nuwe lewe – sodat ons leer
stry teen ons misplaaste seksuele drifte, sodat ons ons verhoudings, jongmense,
met bo-menslike kragte, ja, met goddelike kragte, rein hou, sodat ons ons oë en
gedagtes in bedwang hou, sodat ons ons huwelik in alle gebrekkigheid op ons
Rots, Christus, bou! Watter feesvreugde wanneer Christus by ons bruilofte is,
Christus met sy verlossende krag, met sy reinigende bloed – hoe wonderlik
wanneer Hy die beste wyn aandra vir ons huwelikslewe, ons gesinslewe, ons omgang
met die teenoorgestelde geslag! En ja, aan ons lyf ervaar ons dat hierdie nuwe
lewe nog maar in die ontkiemingsfase is, dat die sonde nog baie stukkend maak,
maar gemeente, loop dan die pad na die kruis – sien die bloed wat Christus
gestort het om jou en my sondes, wat ons teen die tempel van die Heilige Gees
begaan het, af te was, sien dat Christus gekom het om van die hoerhuis ‘n
Godshuis te maak. En loop dan verder na die graf – sien dat Christus nie meer
daarin is nie, want Hy het opgestaan; Hy het ons voorgegaan in die opstanding
van die liggaam, geheiligde liggame, volmaakte tempels. En loop verder na die
Olyfberg – en sien dat Christus opgevaar het na die hemel. En weet U wat Hy daar
besig is om te doen – Hy is besig om die bruilofsmaal in gereedheid te bring. Ja,
ons is oppad na die bruilofsmaal van die Lam; ons gebrekkig huwelike, ons
gebroke huwelike, ons besmette lewe met die teenoorgestelde geslag sal eendag
volledige genesing vind in die ewige huwelik met ons Verlosser, in die
bruilofsmaal van die Lam. Sukkel u om dit te glo? Kom dan volgende week aan die
nagmaal – kom proe dit, kom sien dit. “Christus het ons gebied om die nagmaal te
vier totdat Hy kom. Ons geniet aan die tafel ‘n voorsmaak van die oorvloedige
vreugde wat Hy ons belowe het. Ons sien met groot verlange uit na sy verskyning
in heerlikheid, na die bruilofsmaal van die Lam, wanneer Hy die wyn saam met ons
sal drink in die koninkryk van sy Vader. Laat ons daarom bly wees, ons vreugde
wys en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam kom!”

KOM ONS SING VAN HIERDIE FEES UIT PSALM 118:9, 10 EN 12

3. Ten slotte: die diepborende oproep tot onderhouding van die sewende
gebod. Paulus sluit die Here se Woord in 1 Kor. 6 soos volg af: “Want julle is
duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God
behoort.” God het duur vir ons betaal, Hy het ‘n belaglike prys betaal vir iets
wat niks meer werd was nie – Hy het sy eie Seun gegee. Niks werd of nie – God
het vir ons betaal en daarom behoort ons nou aan Hom! En dáárom, broers en
susters, die dringende oproep van hierdie vers: Verheerlik Gód dan in
julle liggaam en in julle gees! Sien u die gerigtheid in hierdie vers:
Verheerlik Gód! Gemeente, dít is wat ons onderhouding van
die sewende gebod moet bepaal. Ons soek met alles wat ons is, en uit liefde vir
die God wat ons gekoop het uit die kloue van die satan, na sy eer!
En gemeente, die Skrif leer ons dat wanneer dit gaan oor die verheerliking van
God, dan gaan dit tegelykertyd ook altyd oor die beste vir ons naaste. Die eer
van God en die welstand van die naaste – dit beteken dat my hele optrede in my
verhouding tot die teenoorgestelde geslag weg van myself gerig is!
Ek is nie meer na binne gekeer nie, ek soek nie meer myself nie, nee, dan
soek ek die A(a)nder – die Here en my naaste.

En dit het ingrypende konsekwensies vir ons lewe met die sewende gebod van
die Here. Selfbevrediging word dan Godsverheerliking. Dan soek ek nie meer om my
eie luste op die teenoorgestelde geslag te botvier nie, maar dan word die
teenoorgestelde geslag my broeder of suster in die Here. Of indien hy of sy nie
glo nie, word dit iemand aan wie ek die blye boodskap van verlossing kan bring.
Dan soek ek in die huwelik nie meer slegs my eie voordeel nie, maar dan soek ek
die beste vir die ander. Dan ywer ek om die aantrekkingskrag van pornografie
teen te staan deur my gerigtheid op die Here. En noem maar op…

En gemeente, deur voortdurende gebed om ‘n rein hart en ‘n vaste gees in ons
binneste, soos Dawid daarvoor bid in Psalm 51:12, dan kom daar in ons weer die
vreugde van die heil, dan word ons weer ondersteun deur ‘n gewillige gees,
gewillig om die goeie te doen, gewillig om sondaars die weë van die Here te
leer, sodat ook hulle hul tot Hom kan bekeer. Want gemeente, dáár begin
dit – in die binneste, in die hart. Die Here word nie tevrede gestel deur
allerhande uiterlike offers nie. Nee, die offers van God is ‘n gebroke gees; ‘n
gebroke en verslae hart sal Hy nie verag nie. So soek Hy dit, by elkeen van ons
persoonlik. En dan jubel ons tong weer van die geregtigheid van God, dan
verkondig ons mond weer die lof van die Here!

Gemeente, nog een aspek. In die Ou Testament word die verhouding van die Here
tot sy volk dikwels met ‘n huwelik vergelyk. En die verbreking hiervan het gelyk
gestaan aan hoerery. Hierin sien ons, broers en susters, dat die sewende gebod
nie slegs persoonlik en fisies is nie, maar ook in die verhouding van die
gemeente met die Here iets te sê het. En daarom dat Dawid ook in Psalm 51 kan
afsluit met woorde wat met die eerste oogopslag nie lekker in die geheel van die
psalm inpas nie, maar wat baie betekenis het wanneer ons dit sien in die konteks
van die verhouding van die Here tot sy gemeente: “Doen goed aan Sion na u
welbehae; bou die mure van Jerusalem op. Dan sal U ‘n welbehae hê in die offers
van geregtigheid, in brandoffer en voloffer; dan sal hulle stiere offer op u
altaar.” Dawid pleit hier vir God se genade oor sy volk, sy kerk. Gemeente, hoe
het ons nie nodig om ook op hierdie dieper vlak die stryd teen die oortreding
van die sewende gebod aan te gaan nie. Laat ons as gemeente daarteen waak dat
ons in geen enkele opsig aan die Here ontrou is nie, laat ons die Here smeek om
hierdie gemeente op te bou en aan ons goed te doen. Wanneer Hy aan hierdie huis
nie bou nie, vergeefs bou ons daaraan. Vergeefs werk ons dan om hierdie masjien
te laat draai. Van die Here is ons afhanklik in hierdie huwelik van die hoë God
met nietige mensekinders.

Broers en susters, die sewende gebod gaan oor die verhouding van die man tot
die vrou, maar ook oor die verhouding van die Bruidegom, die Lam, tot sy bruid,
die kerk. Laat ons ons aan hierdie Bruidegom toevertrou, laat ons in alle ontrou
wat ons self pleeg maar ook in alle ontrou wat teen ons gepleeg word, by Hom
vergifnis en genesig vind. Laat sy bloed ons heilig, laat sy bloed ons soos rein
maagde voor God stel, vlekkeloos, sonder vlek of rimpel. Dan is die tempel skoon
– die tempel van my liggaam, die tempel van die gemeente. Dan neem God sy intrek,
dan word ons vol van sy Heilige Gees.

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het.
Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.
Amen.
Sing Ps. 132:5 en 6
Wetslesing
Sing Ps. 106:2, 3, 18 en 20
Gebed
Doopsbediening
Sing Ps. 103:7 en 9
Lees: Psalm 51   Johannes 2:1-12   1 Korinthiërs 6:12-20
Sing Ps. 51:1
Teks: Heidelbergse Kategismus, Sondag 41
Preek
• Na eerste punt: Psalm 51:3 en 5
• Na tweede punt Psalm 118:9, 10 en 12
Amenlied Ps. 50:8 en 11
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 32:2, 4 en 5
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou
laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan
jou sy vrede gee. Amen.

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak
asseblief ds HH van
Alten
.

Liturgie: 

(kyk in preek)