Die lewende troos van die uitverkiesing

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1
Preek Inhoud: 

Ps. 95: 1, 2, 3
Ps. 95: 4
Ps. 16: 1- 5
Ps. 25: 1, 2, 3
Ps. 25: 4, 5
Lees: 1 Korinte 13
Teks: D.L. l par. 12 - 14

Geliefde gemeente,

Vandag wil ons weer verder praat oor die onderwerp: uitverkiesing. Hierdie onderwerp is in die Bybel heel nadruklik aanwesig. En een van ons belydenisgeskrifte, die Dordse Leerreëls is vir 'n groot deel aan die onderwerp gewy. En tog ervaar baie mense dit as 'n moeilike onderwerp. Ons moeilikheid word moontlik vernaamlik veroorsaak deur die feit dat ons as mense graag wil redeneer. As gereformeerde mense is ons gewoond daaraan, en hou ons daarvan om oor geloofsonderwerpe te redeneer en te argumenteer.

So kan ons byvoorbeeld op 'n bybelkring of vereniging 'n onderwerp behandel. Jy kan selfs die leer van die uitverkiesing behandel. Daarmee is niks verkeerd nie. Maar ons moet nie meen dat daarmee die saak klaar is nie. 'n Dogma oor die uitverkiesing kan jy behandel. Maar die saak van die uitverkiesing, as 'n lewende werklikheid in jou lewe, kan jy nie behandel nie, maar moet jy glo en ervaar.

Paragraaf 14 van die Dordse Leerreëls sê: Hierdie leer van die Goddelike uitverkiesing moet vandag nog op die regte tyd en plek in die kerk van God uiteengesit word. Maar daar staan onmiddellik 'n waarskuwing by. 'Hierdie leer moet egter oordeelkundig, met gelowige eerbied en heilige ontsag, sonder 'n nuuskierige ondersoek na die weë van die Allerhoogste, verkondig word'. Let daarop: dit moet verkondig word. En wel tot eer van die Heilige Naam van God en tot 'n lewende troos vir Sy volk.

Dit moet verkondig word tot 'n lewende troos.

Hoor u in hierdie woorde hoe die Dordse Leerreëls ons hier weg trek van 'n dorre teologiese uiteensetting? Die uitverkiesing moet verkondig word. Moet gepredik word! En wel tot 'n lewende troos.

En daarmee is ons by die saak waarvoor ek vandag u aandag wil vra. Die lewende troos.

Daarby is u, gemeente, almal heel direk betrokke. Ek kan vir u 'n poging doen om die Lewende troos uit te teken, en vir u aan te reik. Maar uself moet dit in ontvangs neem. Uself moet daardie troos ervaar!

Ons tema: DIE LEWENDE TROOS VAN DIE UITVERKIESING.

  1. Hoe God sekerheid van jou verkiesing skenk.
  2. Hoe 'n mens sekerheid van sy verkiesing ervaar.

Ons tema is dus: Die lewende troos van die uitverkiesing. Maar dit roep onmiddellik 'n vraag op. Pas dit eintlik wel by mekaar: Die troos van die verkiesing?

Die verkiesing is mos iets wat verborge is. Dit sink vir ons oë weg in die onsigbare diepte van God se ewigheid. En iets wat verborge is, is tog onbekend. Jy weet niks daarvan nie, en dus kan dit jou ook nie vertroos nie.

Nou is dit inderdaad 'n feit, dat in die verlede die prediking van die uitverkiesing tot baie ongelukke gelei het. Die waarskuwing in paragraaf 14 is dus heeltemal tereg. Onoordeelkundige prediking van die verkiesing het ontsaglike skade aangerig in die kerk. Daar was 'n tyd dat die prediking streng dogmaties geword het. Die kerkgangers is doodgepreek met sogenaamde goddelike waarhede, maar die harte van die mense is nie geraak nie. Die liefde van die lewende God is nie verkondig nie, en daarom is in die harte van kerkgangers geen liefde aan die brand gesteek nie. 'n Dooie ortodoksie het gelei tot 'n dood geloof en tenslotte tot 'n dooie God.

En met name die leer van die uitverkiesing het, deurdat dit losgemaak is van die liefde van die lewende God, geweldig baie stukkend gemaak. Immers, toe het mense begin redeneer. En dan begin hulle hul redenering onmiddellik op die verkeerde punt, naamlik in die feit van die verkiesing en die verwerping. Daar is 'n onveranderlike besluit van God... Dus... ! o die gevaarlike dus, die verwoestende dus, die goddelose dus! Want dan word die saak verder soos volg gestel: Daar is mense wat die belofte van die bybel in geloof en gehoorsaamheid wil aanvaar. Daar is mense wat die Here Jesus graag wil liefhê en volg. Maar, daar is 'n uitverkiesing. En dit maak die hele saak wankelrig, want jy weet nie of jy uitverkies is nie. Want jy is of verkies of nie verkies nie...

En so word agter die goeie God van die Evangelie, 'n andere, 'n onbekende God geskep, naamlik die God van die voorbeskikking. Die verborge God wat in die verborge 'n onwrikbare besluit geneem het, waaraan Hy Self en ons almal sonder meer onderworpe is. En so word die verkiesing van ewigheid gehanteer as 'n breekyster om die hele Verbond met Sy beloftes op losse skroewe te sit.

Wel, hierdie manier van dink is inderdaad rampsalig vir die geloof en vir die Christelike lewe.

Want hierdeur word ernstige gelowiges, kindertjies van die Here, in geweldige onsekerheid gebring. Jy kan wel glo, maar jy weet nooit of jy wel uitverkies is nie. En dan help dit alles niks nie. En so kom die angs in die lewe. Van die lewende troos van die Dordse Leerreëls bly dan niks meer oor nie.

Rampsalig vir die geloof.

Rampsalig ook vir die Christelike lewe het ek gesê, want jy kry ook mense wat anders op die leer van die verkiesing reageer. Hulle sê: Wel, as ek uitverkies is, kom ek in elk geval in die hemel. Wat sal ek my bekommer oor 'n Christelike lewensstyl? Wat sal ek moeilik doen oor God se gebooie? Dit maak mos nie saak nie. As ek uitverkies is, dan is ek in elk geval gered.

En as ek nie uitverkies is nie? O, nou ja, dan maak dit ook nie saak hoe ek leef nie. Ek kan my wel inspan vir 'n Christelike lewensstyl; ek kan myself verloën deur gehoorsaam te wees aan God se gebooie, maar wat help dit alles as ek tog nie verkies is nie? Dan maak dit ook nie saak hoe ek lewe nie

Wel dit is nou wat paragraaf 13 van die Dordse Leerreëls noem, ydellike en ligsinnige praat oor die uitverkiesing. Die volksmond praat in die geval van 'sware' gereformeerdes!!!

Maar hoe moet dit dan wel? Hoe kom ons van die geloof in God se beloftes uit by die uitverkiesing deur God? Die mooiste beeld wat ek daarvoor kan bedink (en dink vir uself daar lank oor na!), dit is die beeld van 'n huis met 'n deur. 'n Mens kom binne deur die deur van die geloof, en dan bevind jy jou onder die dak van die uitverkiesing. Jesus Christus staan by die deur en nooi jou binne, Hy trek jou na binne. Deur die poort van die geloof. En dan staan jy onder die dak van die verkiesing.

Jy kry ook mense ('sware' gereformeerdes, meer swaar as gereformeerd trouens) wat die dak wil afhaal, en voor die deur sit. Wel, dan kom jy nooit meer in nie, natuurlik. Dan bly jy buitekant staan en aarsel. Hoe kom ek binne. Want in die dak is nie 'n deur nie.

Die uitverkorenes word op God se tyd van hulle ewige en onveranderlike uitverkiesing tot saligheid verseker.

Let op die woord verseker. Die gelowige mag weet van sy verkiesing. Want hoe sal hy anders getroos wees? Om getroos te wees, het jy tog sekerheid, houvas nodig?

Wel, God gee dit. Natuurlik gee God dit. Hy weet tog wat ons nodig het. Ons het keer op keer aandag gevra vir die liefde van God. Sy liefde werk agter die verkiesing. Wel, liefde kan tog nie verborge bly nie? Liefde soek tog 'n weg om hom uit te spreek?

En daarom maak God 'n weg waarlangs ons sekerheid oor ons uitverkiesing ontvang.

Daarvoor moet ons begin (dink aan die beeld van die deur om die gebou in te gaan) met die aanvaarding van God se belofte in die Skrifte.

Daar moet jy begin. As jy daar nie wil begin nie, as jy die Bybel nie op sy eie gesag as Woord van God wil aanvaar nie, dan kom jy nêrens nie. Jy moet begin met die beloftes van God in die Bybel ernstig te neem, en vir jouself te aanvaar.

Die Here kom in Sy Woord na jou toe, en maak daarop aanspraak dat ons vir Hom vertrou. Hy wek ook ons vertroue, hoe meer ons lees in Sy Woord, hoe beter ons Hom leer ken. Daarmee groei ons vertroue. En so ontstaan daar 'n relasie met God. 'n Lewende verhouding.

En binne daardie lewende verhouding, in die lewendige omgang in die Verbond, wil die Here vir jou die geheim van Sy liefde wys. Hy wil vir jou al hoe duideliker maak, Sy keus vir jou is 'n keus uit sy hart; dit is die keus van Sy liefde.

Oor daardie liefdekeus, oor daardie uitverkiesing, want daaroor gaan dit, hoe kan mens daaroor afstandelik praat? Asof dit slegs 'n leerstuk is, 'n dogma, 'n voorbeskikking, 'n noodlot, of hoe mense daarvoor maar kan praat.

Nee, wie met God omgaan in Sy Verbond, hy leer vir God se liefde ken, en dan hoor hy en verstaan hy dat God in Sy liefde 'n keus gemaak het, vir jou.

Wie so vir God leer ken, het inderdaad kennis van God.

En daarmee het hy ook die ewige lewe.

Volgens 'n Woord van die Here Jesus: 'Dit is die ewige lewe, dat hulle God ken. ' God ken. Jy mag God ken omdat Hy vir jou wil ken.

Omdat Hy met jou gemeenskap wil oefen.

En binne daardie lewende gemeenskap met God, mag jy ook kennis ontvang van God se diepste verborgenheid, naamlik, die feit van jou uitverkiesing. God wil jou daarom sekerheid skenk, sodat jou lewensgemeenskap met Hom tot volheid kan kom. Vol van blydskap. Vol vreugde omdat jy aan God se verkiesende liefde nooit meer hoef te twyfel nie.

2. Hoe jy die sekerheid van jou verkiesing kan ervaar.

Daaroor in punt 2.

Ons wil nog 'n slag na paragraaf 12 kyk. Hierdie paragraaf slaan versigtig maar tog onmiskenbaar 'n triomfantelike toon aan. Ons lees oor geestelike blydskap. Ons verneem van heilige vreugde.

En dit is voorstelbaar. Immers, watter mooier boodskap is daar as dat jy as gelowige sekerheid mag ontvang oor God se onveranderlike liefdeskeus vir jou? Dit is die lewende troos waarvan ons eerder gepraat het.

En so stel paragraaf 12 ons op opgewekte toon die vraag: Wil jy sekerheid oor jou verkiesing deur God? Wel, kyk na jouself! As jy goed kyk, dan kan jy God se uitverkiesing in jou eie lewe sommer raaksien.

Is daar by jou geloof in Jesus Christus? Is daar by jou kinderlike vrees van God? Is jy ooit bedroef oor jou sondes? Wil jy graag dat jou sondes vir jou vergewe word?

Is dit alles daar? Maar dan kan jy gelukgewens word! Dan is jy deur God uitverkies!

Of dink jy dat jou geloof 'n aksie van jouself is? Meen jy dat jy uit jouself 'n kinderlike vertroue op God het? Dink jy dalk dat 'n mens uit homself oor sy sondes bedroef is? Verwag jy dat 'n verworpene graag vergewing van sy sondes wil hê?

Die vrae vra is om die vrae te beantwoord. Die antwoord is naamlik: Natuurlik nie! Hier is duidelike blyke van die werk van die Heilige Gees!

Van jouself uit is jy tot alle kwaad geneig, maar die feit dat jy anders wil, dat jy berou het oor sondes, dat jy vergewing soek ensovoorts, dit alles is onmiskenbare tekens van die intense werksaamheid van die Heilige Gees in jou!

Hy wil dat ons God steeds beter leer ken. Dit is Sy taak om dit by alle uitverkorenes te doen, en Hy wil ook dat jy dit self ook so ervaar. Ons moet langsaam maar seker leer om die waarheid van God in ons eie hart en lewe terug te vind, te herken, te ondervind, te ervaar.

Dit is 'n lewenslange proses waarmee die Heilige Gees steeds besig is. Daarby maak Hy ook gebruik van ons eie aktiwiteit: soos luister na Sy Woord, bid, mediteer, die sakramente gebruik, ensovoorts. So oortuig die Heilige Gees 'n mens steeds meer van die waarheid. Hy leer vir ons om God lief te hê, om Hom te vrees en te dien. En dan kom daar by ons reaksie. Dit kan nie anders nie.

Ons gaan dit steeds meer en steeds sterker ervaar. Daar kom groei in die ervaring. Dit alles as reaksie op die werk van die Heilige Gees. Uiteraard is die reaksie, omdat dit 'n reaksie is, van persoon tot persoon verskillend. Die een ervaar dit sterker as die ander. Die een ervaar dit anders as die ander. Die een is veel eerder geneig tot 'n sterk emosionele betrokkenheid as die ander.

Paragraaf 12 het vir die verskil in geloofservaring van mense ook duidelik oog. Die tweede sin: Dit gebeur in verskillende trappe en nie vir almal in gelyke mate nie.

Daarin is die Dordse Leerreëls werklik pastoraal. Nie alle mense is dieselfde nie, en daarom is hulle reaksie op die liefde van God en die werk van die Heilige Gees, ook nie dieselfde nie.

Dit kan mos. Jy kan byvoorbeeld vir twee persone presies dieselfde uitsig wys, en die een sal reageer met: Fantasies, ek het nog nooit so iets moois gesien nie. En 'n ander sal op dieselfde plek sê: Ja, dis mooi hier. Altwee geniet dit, altwee waardeer dit, maar die een uiter hom baie anders as die ander.

En dit is heeltemal aanvaarbaar.

So is dit ook met die reaksie van die verskillende gelowiges op die voortgaande verkondiging van dieselfde evangelie, die middel waarmee die Heilige Gees steeds met elkeen van ons besig is.

Die reaksie moet kom.

Maar dit moet jou reaksie wees!

Nie elkeen ervaar die droefheid oor sy sondes ewe diep nie.

Nie almal belewe 'n sterk dors na geregtigheid nie.

Nie elke dag snak ons na die wederkoms van Christus nie.

Maar waar daardie ervaring is van droefheid oor jou sondes, van blydskap oor jou reddding deur Christus, van vreugde dat jy deel mag wees van Christus, gemeente, daar mag jy sê: Dit alles is bewyse van God se liefde vir my!

Dit alles is onmiskenbare vrugte van Sy uitverkiesing. Dit is nou die kennis van God en van Sy liefde wat die Heilige Gees vir my wil leer!

Let wel: hierdie kennis kan jy nie uit 'n boekie leer nie. Dit is 'n kennis wat slegs daar groei waar jy daagliks omgaan met die God van die Verbond.

Waar jy daagliks jou dankbaarheid uitspreek vir Sy genade. Waar jy steeds weer verwonderd staan oor Sy liefde vir jou.

Uit daardie geloofservaring, uit daardie intieme omgang met die Here groei vanself jou sekerheid. Al hoe meer besef jy, jy is 'n kind van die Here. Hy het jou geroep, en Hy het jou geregverdig.

Dus het Hy jou ook verkies.

En daarom het jy sekerheid. En waar jy sekerheid het, is jy getroos.

En daarmee is daar weer volop ruimte vir nog meer geestelike blydskap en heilige vreugde.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)