Jesus wys jou biddend die pad van die diepste na die hoogtepunt

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Preek Inhoud: 

27-01-92

SONDAG 52 HK

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 150 : 1, 3
Gebed
Skriflesing: Jakobus 1:1-18 + DL V par 4-5, 11
Sing: Ps. 106 : 1, 3, 18, 19
HK Sondag 52
Prediking
Sing: SB. 28 : 3, 4
Geloofsbelydenis
Sing: SB. 32 : 1, 2
Dankgebed
Kollekte
Sing: Ps. 106 : 20
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

een van die wonders van die natuur is die berge. Die hoogtes is indrukwekkend, die uitsig adembenemend. Wanneer jy 'n bergrug beklim het, het jy hoog bo die wêreld uitgestyg. Jy voel jou naby die hemel, naby die Skepper. Dis net, wanneer jy in 'n diep kloof kyk, dat je weer bewus is van die duiselingwekkende hoogte. As jy aan hoogtevrees ly, het jy 'n probleem. Maar nee, dit is nie die hoogte waarvir jy bang is nie, dit is die diepte. Dit is die angs dat jy kan val, wanneer jy in die diepte staar.

Erger nog is die angs, wanneer 'n mens weet wat dit is om in sonde te val. Niemand is bang om hoog te styg, byv. in die agting van die mense. Om te val, dis vreeslik. Om God se vrede kwyt te raak, dis nog erger. DL V par 4-5 vertel wat gebeur, wanneer jy nie gewaak het nie en in versoeking geval het. Dan 'bedroef hulle die Heilige Gees, versteur die oefening van die geloof, verwond hulle gewete ernstig en verloor soms 'n tyd lank die besef van God se genade". Jy hoef egter die diepte nie te ken om bang daarvir te wees nie. Hoekom sou jy eers so diep val dat jy God se genade en vrede vir jou besef verloor het?

Die diepte is in die 6de bede baie duidelik. "Lei ons nie in versoeking, maar verlos ons van die Bose". Ons is dan egter al naby die lofprysing, die hoogtepunt van die gebed.

JESUS WYS JOU BIDDEND DIE PAD VAN DIE DIEPSTE NA DIE HOOGTEPUNT

Ons mag bid

  1. vir veiligheid (v/a 127),
  2. met vrolikheid (v/a 128),
  3. deur sekerheid (v/a 129).

1. VAN DIE DIEPTE NA DIE HOOGTEPUNT: VIR VEILIGHEID

Dit lyk asof die 6de bede 'n dieptepunt is. Versoekings, die Bose: dis die ergste op aarde, die mees onterende in die mens, 'n gevaar vir alles wat God wil reg maak. Jy kan sê: dit is die 3de, die diepste lewensbehoefte. Na die daaglikse brood (die 1ste lewensbehoefte, vanaf die skepping gereken) en die daaglikse vergewing (die 2de lewensbehoefte, vanaf Golgotha gereken) benodig ons aanhoudend die veiligheid wat die Here moet gee. Ja, met die 6de bede sit ons een stap verder as die 5de bede. Ja, dit is óns skuld wat die Here moet vergewe. Na die erkenning "ja, ek is self skuldig", mag jy ook sê: Vader, ons is darem maar swak. Agter ons sondes staan mos die aanleidings tot sonde (die versoekings) en die verleier tot sonde (die Bose). Jesus wys jou hoe om in gebed te gaan en hoe om so die pad uit die diepte te soek. Jesus wys jou hoe om in gebed eerlik te wees en die dieptes van jou hart te laat deursoek.

Groot mense, erken maar: 'ons is van onsself so swak dat ons nie 'n oomblik staande kan bly'. Ja, jy mag jou kinders leer blymoedig in die Here te wees. Jy mag hulle leer dat daar by God ons Vader altyd vergewing is. Jy mag hulle wys hoe om bly met jouself te wees, omdat die Vader om Christus ontwil jou liefhet. Jy sal jou kinders egter vir hoogmoed bewaar: deur hulle ook te leer om hul diepste swakheid te erken. Dit is die swakheid waarin Jesus Christus jou wil sterk maak. As ons so glo en lewe, sal daar nie vanselfsprekendheid wees nie. En dis die vanselfsprekendheid van die genade wat so 'n groot gevaar in die kerk is. Dit kan jou geloof blind maak, wanneer jy gewoond raak aan die genade. Die 6de bede wil verhinder dat jy die 5de bede maklik bid.

Jy leef met jou swakheid, jou kwetsbaarheid as sondig mens in die werklikheid van 'n stryd: die stryd tussen God en Sathan. In die stryd in die versoekings 'n wapen. Wie se wapen? Die woord "versoeking" het ons gereserveer vir die pogings van die Bose om jou te laat struikel. Daarteenoor praat ons van "beproewing": dit is die ingrype van God self om jou geloof sterker te laat staan. Die Bybel gebruik somtyds dieselfde woord: hoe ons dit vertaal, hang af van wie dit veroorsaak. Jak. 1:2 sê: "Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle in allerhande versoekings val". Die NAV lees: "julle moet baie bly wees, wanneer allerlei beproewings oor julle kom". Die laaste is duideliker. Jakobus sê mos ook: "Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: ek word deur God versoek, nie; want God kan nie versoek word nie, en Hyself versoek ook niemand nie" (vs. 13). Jesus leer jou bid: "Lei ons nie in versoeking nie". Dat sê: gee ons nie aan versoekings oor nie, want dan gee U ons aan Sathan oor.

God mag ons wel beproef. Dit is duidelik dat in vs. 2 van Jakobus 1 "beproewings" bedoel is. "Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle in allerhande versoekings val". Nee: as jy in allerlei beproewings kom. In die beproewing weet jy: die Here is naby my. Hy het 'n mooi bedoeling, noudat ek swaarkry. Dikwels kom die duiwel daarby; dan word die beproewing terselfdertyd 'n versoeking. Ons weet: God lei alle dinge. Ook die omstandighede waarin ons swaarkry: siektes, die verlies van 'n geliefde, te min kanse, armoede. God mag ons in daardie omstandighede nie loslaat nie, want dan word dit bloot versoekings wat ons kan laat val. As die Here naby bly, dan kan jy in die geloof groei. "Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal jy die kroon van die lewe ontvang" (vs. 12).

Jesus wys jou biddend die pad uit die diepte. In die diepte wil Hy saam met jou stry. As jy die vyande maar regtig sien. Dit is die duiwel; dit is alles wat die duiwel in die wêreld, in die lewe misbruik; dit is selfs alles wat hy in jou misbruik. Daarom noem die Kategismus: ons doodsvyande, duiwel, wêreld en ons eie sondige natuur. Jy ook, jy kan jou eie doodsvyand word. Dit is wanneer jy van die nabyheid van die Here wegdwaal en jouself meer liefhet as jou Heiland.

Die lewe was alreeds 'n stryd, voordat u dit verstaan het. U mag bly wees dat die Heilige Gees u oë oopmaak om nie kwetsbaar te wees nie, maar om die beskerming van die Here te soek. So leer jy om te bid: daagliks om die beskerming van God in die stryd van die lewe te bid. Dit is die Heilige Gees wat jou in jou swakheid kan sterkmaak, sodat jy nie te diep val nie. Wanneer jy in sonde geval het, mag jy bid "vergeef ons ons skuldes". Daarop volg elke dag die woorde: "en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose". Dan besef jy weer hoe duiselingwekkend diep dit sonder die Here is. Die Heilige Gees wil jou bystaan, wanneer jy versoek word. Dit is die een werk van die Gees: Hy wat jou geloof in die liefde tot God voed, maak jou terselfdertyd sterk teen die Bose.

2. VAN DIE DIEPTE NA DIE HOOGTEPUNT: MET VROLIKHEID

Die Onse Vader is 'n baie sterk gebed. Dit is hoekom jy so baie houvas tydens die bid het dat jy by 'n lofsang kan uitkom. Jy mag begin met sê: Onse Vader, in die hemel! Dan bid jy vervolgens oor God se naam, oor sy wil en oor sy koninkryk. God se bekendheid moet op aarde groei, sodat altyd meer mense Hom erken. Die mensheid moet sy wil uitvoer, sodat sy gesag op alle terreine van die lewe sigbaar word. Sy koninkryk moet kom: die heerskappy van God sal die sonde en die bose beveg en oorwin. Daar lê soveel krag in die eerste drie bedes dat jy kan uitroep: "van U is mos die Koninkryk, die krag en die heerlikheid"!.

Ook in die drie bedes wat oor ons behoeftes gaan, kom jy agter: dis 'n sterk gebed! Die daaglikse versorging in God se skepping, die vergewing van jou sondes én die sondes van God se hele volk, die beskerming in die stryd teen die duiwel en sy koninkryk: dit alles laat jou besef hoe sterk God Drieënig daarin werk. Dis sy wêreld wat Hy wil win. Dis sy mense wat Hy wil red. Dis sy liefde wat Hy wil wys. Daar is niks so erg of Hy wil uithelp. Honger en dors, sonde en skade: in die naam van die Here mag jy daarteen veg. Deur in die eerste plek altyd te bid. Dit is so sterk dat jy kan uitroep: "van U is mos die Koninkryk en die krag en die heerlikheid, tot in ewigheid"!

In die lofprysing erken jy: God, onse Vader is met heel sy wese en al sy mag aan die kant van sy kinders. Hy het mag oor alles, Hy wil ons goeie dinge gee, ons mag Hom altyd prys. Jy kan Hom mos in die aangesig van ons Here Jesus! Ja, dit lyk ooroptimisties: om te sê dat God alle goeie dinge kan en wil gee. Want daar is mos baie skade, daar is mos beperkings in hierdie lewe wat jy nie kan oorwin nie. Die lewe van 'n christen is beslis nie 'n droom nie. Wat bly daar in die dieptes oor van die lofprysing? Dit: dat God Drieënig met sy hele wese, as Vader, in die Seun en deur die Heilige Gees saam met jou stry! Ja, daar is nog beloftes wat nie vervul is nie. Daar is nog 'n stryd om te voer, daagliks. U mag egter weet: ek is deel van God se toekomsplanne. Met God is daar altyd daardie vrolikheid in die lewe: Hy is sterk, Hy is ons Koning, Hy is heerlik. Ja, my lewe is sterflik: ek kom dit in my werk en in my gesin agter. Hy is egter ewig en sy ewige liefde het my tog al oorwin. Ja, daar is baie dinge vrot deur die sonde. God het egter die vrot plekke begin uitsny, sodat daar gesonde en nuwe lewe sigbaar word. Hy is heerlik en ewig en jy mag vandag en tot in ewigheid daaraan vrolikheid ontleen. Hy is besig om alles uit die diepte te haal en tot die hoogtepunt van volmaakheid te bring.

3. VAN DIE DIEPTE NA DIE HOOGTEPUNT: DEUR SEKERHEID vs. 5-6

"Amen": die eerste woord van die gebed wat 'n klein kindjie leer sê. Voordat hy inhoudelik kan bid, word hy betrokke in die eerbied: hy moet sy hande vou, sy oë toemaak, ons bid nou saam. Sy eerste woord is die beaam van die gebed. Nee, almal weet dat 'n kindjie van twee of drie jaar oud nog nie bewustelik bid nie. En tog word hy betrokke in die eerbied wat sy hoogtepunt in die woordjie "amen" kry. Daar begin die werking van die Gees in sy hart: by die eerbied wat hom vang en vashou tot die "amen". Die geloof begin in dié omgewing van eerbied.

"Amen": dit is waar en seker! Wat is waar: jou woorde? Wat is seker: jou wense? Ja! Jou woorde en jou wense in die gebed is waar, wanneer jy leer bid het. Kyk, die letterlike betekenis van die woordjie "amen" kom goed uit, wanneer Jesus self dit gebruik. Hy het die woordjie dikwels gebruik om dit wat Hy wou sê, in te lei: "Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle ...". "Amen, amen, Ek sê vir julle ...". Wat Hy sal sê, is die waarheid. Jy mag van Hom leer hoe om te praat, hoe om met jou God te praat. Nee, bid is nie net: dat jy vir God 'n lys wense kom vertel nie. Nee, die gebed begin by God self: by die bewuste aanspraak. Jy weet mos wie dit is wat jy so dringend aanroep in gebed. "Onse Vader wat in die hemel is": jy mag alreeds op die hoogtepunt begin. "Amen" sê is: jy is oortuig van Hom!

Dit is ook wat Jakobus leer in vs. 5: "as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel ...". In die geloof bid: dit is wat in die Onse Vader gebeur. Jy sluit jou oë en rig jou hart op God. Die Heilige Gees wil dan God se nabyheid vir jou oopmaak. Bid is: jy gaan God se wêreld binne. In die geloof bid: "sonder om te twyfel", sê Jakobus. Ja, daar is baie twyfel in ons hart. Daar is ook baie vrae wat nog nie rus in ons hart gekry het nie. Jy mag egter nie aan God twyfel nie.

Ek dink daar is een uitsondering op hierdie reël. Daar is mense wat nog nie regtig glo nie: wat hulleself nog nie heeltemal aan God oorgegee het nie. Vir sulke mense is die bid dikwels: God soek om sekerheid te kry. Ek dink God sal dan verhoring gee, ook dan. Wie begin om te bid, is daarmee selfs dikwels besig om die twyfel uit te dryf. Nie aan God twyfel nie: aan sy wysheid, sy liefde, sy almag sal jy nie twyfel nie. As jy Hom nie mooi ken nie, sal jou gebed wegwaai, sodra jy "amen" gesê het.

Wanneer jy "amen" sê is jy, sê ons Kategismus, alreeds seker van die verhoring. 'Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer'. U moet mooi lees. Daar word nie gesê: God sal alles maak soos ek dit van Hom gevra het. Nee, op 'n fynsinnige wyse word hier uitgedruk dat God meer weet en suiwerder weet wat ek benodig. Jou gebed word nie verhoor presies soos jy dit gevra het nie, maar baie sekerder nog. Soos Gód dit sal verhoor, is dit nog mooier, nog sekerder as wat jy dit kon gevra het, as wat jy dit kon geweet het. "Amen" ek is seker God sal in sy oneindige wysheid en genade ook my gebed gebruik. Daarvan kan jy seker wees, lank voordat jy iets van verwerkliking van jou wense sien.

"Amen": die hoogtepunt van die gebed wat voorbou op die hoë lofprysing. So oortuig is ek: die Here moet dit weet, die mense mag dit hoor. Hoe diep die Gees my dwing om in my selfondersoek te gaan, Hy laat my uitkom by God se beskerming: teen myself, die wêreld en die Bose. Hoe diep ek ook gaan in my lewe, die Here help my om te bly bid en Hom te bly loof: met vrolikheid. Hoe diep my behoeftes ook is, die Here leer jou om so te bid dat jy in sekerheid "amen" kan sê.

En: die Woord van God is so kragtig en duidelik, die opdrag om te preek so sterk en mooi dat ook die dominee kan sê:

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)