God vergeef nie onvoorwaardelik nie

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 51
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 51 H.K.

LITURGIE:
L. Matth. 18: 15-35
Ps. 86: 3, 6
Ps. 86: 5
Ps. 32: 1, 3, 4
Ps. 40: 6
Ps. 40: 1, 5

Broeders en susters,

Word ook u by die lees van die gelykenis van Matt. 18 altyd weer deur 'n gevoel van verontwaardiging bekruip?

Die houding van daardie slaaf wie se eie skuld heeltemal afgeskryf was- dit was onbegryplik! Hy het nog maar pas gelede self op sy knieë gelê om om genade te smeek- en nou is hy so hardvogtig wanneer 'n kollega op soortgelyke manier vir hom begrip en geduld vra.

Daar is vir homself ek-weet-nie-hoeveel kwytgeskeld- en nou kan hy aan 'n ander een nog nie eers 'n paar rand kwytskeld nie.

Hoe kan 'n mens so ondankbaar en kliphard wees?

Kinders reageer alreeds so, wanneer hierdie gelykenis aan hulle vertel of voorgelees word. Baie verontwaardigd kan hulle dan wees oor so'n onmens.

Maar dit kon wel eens so wees, broeders en susters, seuns en dogters, dat u, sonder om dit te besef, verontwaardig oor usèlf is.

Want die HERE Jesus hou vir ons met hierdie gelykenis 'n spieël voor. Om ons te laat skrik. Daardie ondankbare, onbarmhartige slaaf- is dit nie maar al te dikwels my sprekende ewebeeld nie? Gedra ons ons nie dikwels teenoor mekaar net soos hy nie? Ons, groot mense. Maar julle, seuns en dogters net so goed.

Is ons teenoor mekaar wel altyd vergewingsgesind?

Dit is dan ook beter om by hierdie gelykenis nie verontwaardigd te word nie Maar om elke keer weer daarvan te skrik. En om beskaamd te word.

Ons vra dikwels aan God om vergewing. Meer as een keer 'n dag. Ons sluit haas onwillekeurig elke gebed met die vraag af. Ons seuns en dogterts leer al baie jonk om dit te bid.

Maar vergeef òns ook vir ànder?

As dit nie so is nie, hoef ons ook nie by God om vergewing te vra nie. Dit het die Here Jesus Christus meer as een keer baie duidelik gemaak: "As julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge nie vergewe nie".

Dis diè dat Christus ook baie opvallend aan die vraag om skuldvergewing wat Hy vir ons in die "Onse Vader" geleer het, die woorde "soos ons ook ons skuldenare vergewe" toegevoeg het.

Die wat daardie toegevoegde gedeelte nie kan sê nie, hoef ook die eerste gedeelte nie te vra nie. Want daardie twee behoort onlosmaaklik bymekaar.

Duisende male verongeluk dan ook die volmaakte gebed alreeds voordat dit die troon van God bereik het, omdat dit op die vyfde bede skipbreuk gely het. Want ons God in die hemel wil nie luister na die wat met 'n klinkklare leuen voor Hom nader nie.

Dus bly dit noodsaaklik, gemeente, dat ons ons bewus is daarvan wat of ons sê wanneer ons die vyfde bede in die mond neem. Dit bly nodig dat ons hierdie bede in sy volle omvang ons eie maak. Ons sal ons verhouding teenoor God èn ons naaste grondig moet ken. Daarom moet ons vanaand uit God se Woord weereens leer:

GOD VERGEEF NIE ONVOORWAARDELIK NIE

HY VERWAG BY ONS GEBED OM SKULDVERGEWING:

  1. DAT ONS ONS EIE SKULD BELY
  2. EN DAT ONS ONS SKULDENAARS JAMMER KRY

1. As dit vir ons maar moeilik is om 'n ander mens voluit te vergewe, het dit altyd as oorsaak, gemeente, dat ons nog nie naasteby verstaan het hoeveel vergewing ons sèlf allereers nodig het nie.

Die wat die sonde by homself nie raaksien nie, hou die sonde by 'n ander vas. Ons sal die ander nie gou jammer kry solank ons ons eie skuld nie regtig bely nie.

Daarom is dit nodig, as ons nie op die ondankbare, hardvogtige slaaf uit die tweede gedeelte van die gelykenis van Matt. 18 wil lyk nie, dat ons die eerste deel van daardie gelykenis mooi tot ons laat deurdring. Soos daardie slaaf aanvanklik voor sy heer gestaan het- so staan ons almal voortdurend voor ons Heer in die hemel. Voordat ons aan ons onderlinge kewssies toe kom, het God eerste 'n kwessie met ons.

"Die Koninkryk van God kan vergelyk word met 'n sekere koning wat met sy diensknegte wou afreken... "

God roep ons in sy Koninkryk ter verantwoording. Ons moet teenoor Hom, as ons groot Koning, rekenskap aflê. Niemand kan daaraan ontkom nie.

Wie nie vrywillig voor Hom verskyn nie, sal van self eendag deur God se engele gehaal word.

Ons verplaas in ons gedagtes daardie moment wat ons voor God moet verskyn om onsself te verantwoord, onwillekeurig meestal na ons sterfdag. Of natuurlik na die dag waarop Christus na die aarde terugkom, as ons hier dan nog lewe.

Jy sien soms dan ook dat mense veels te lank 'n onverantwoorde lewe lei, teen beter wete in, omdat hulle in hulle hart rekening hou daarmee dat hulle làter wel meer met mening die HERE kan gaan dien. Seuns en dogters gedra hulle partykeer so dat hulle die konkrete bekering van 'n oppervlakkige, wêreldse levensstyl telkens nog maar voor hulle uit skuif, omdat hulle hoop dat hulle later, as hulle ouer is, hulle ook nog wel kan bekeer.

Nie selden nie word sulke mense daarby deur 'n groot angs vir die sterwe beheers. Wanneer hulle aan die dood dink word hulle doodsbenoud. Want dàn moet hulle voor God verskyn! Dan word hulle ter verantwoording geroep....

Maar so'n angs moet daar enige dag maar wees, broeders en susters. So'n angs sou daar by party kerklidmate dalk wel bietjie meer mag wees, elke dag. Want die beeld wat Christus in die gelykenis van Matth. 18 oproep, is iets van elke dag. Elke dag opnuut vra God rekenskap van ons. En soos ons daagliks om ons daaglike brood moet vra, meot ons ook daagliks om vergewing van ons skulde smeek. Anders word die toorn van God daagliks op gegaar.

Daarom konfronteer God ons daagliks met ons sonde. Hy roep ons voor Hom en reken ons voor wat alles ons Hom skuld.

Ja, God moet self dit eers aan ons voorreken, broeders en susters. Ons sou vanuit onsself nooit daarmee kom nie. Ons sien self nog nie naasteby raak nie hoe groot ons skulde by God is. Ons het maar 'n baie oppervlakkige gevoel van skuld. Natuurlik, ons sê dit die Kategismus grif na dat ons almal: "arme sondaars" is. Maar ons bedoel daarmee dan dikwels nie veel meer as dat nou maar eenmaal niemand van ons 'n volmaakte mens is nie. Maar daarom tree ons ook maar nie in besonderhede nie. Aan elkeen makeer wel iets. Maar dit voel vir my dat ek regtig nie soveel slegter as die ander is nie. En feitlik hoef niemand van ons hom te skaam nie.

Ons hou eintlik onsself nog stewig orent. Want wee jou as iemand die moed het om 'n ander persoonlik i. v. m. 'n konkrete sonde aan te spreek: 'n sonde in ons gesin, ons huwelik, die besteding van ons geld of so meer. Dan staan ons sommer op ons agterste pote. Dan vererg ons ons bloedig. Ons wil dìt nie hoor nie!

Maar dit bewys dan hoe weinig diep ons besef van skuld by God nog sit. In die beste geval erken ons ons skuld in 'n aantal misstappe, in bepaalde swakhede wat telkens terugkeer, karakterfoute in ons lewe.

Maar as u nou 'n keer saans 'n lysie moes maak van konkrete sake waardeur u daardie dag u skuld by God groter gemaak het- hoe lank sou daardie lysie word? U sou dalk lank moes nadink om tot tien punte te kom.

As dit aan ons lê word ons skuldbesef nie groot nie. Vanuit onsself word die bede om vergewing nie gou 'n skreeu uit die diepste van ons hart nie.

God moet eers ons skuld aan ons voorhou. Eers moet Hy ons met die akte van beskuldiging konfronteer.

Maar dit doen God dan ook aanhoudend.

In elke kerkdiens, wanneer sy Verbondswet gelees word. Wanneer in die preek sy Woord bedien word. Tydens elke huisbesoek, wanneer sy verbondseise aan u voorgehou word. Dit gebeur in die katkisasieklas, maar ook so dikwels as wat u by die huis die Skrif oopmaak en lees, alleen of saam.

Dit is die betekenis van God se Woord. So dikwels as wat die Skrifte oopgaan kom God as die groot Koning voor ons staan om ons skuld by Hom oop te vlek en om ons tot belydenis daarvan op te wek.

Maar dan leer God se Woord ons ook al gou dat ons skuld in veel meer as maar net 'n aantal misstappe, uitspattinge en flaters bestaan. Dit behoort òòk daarby, maar dit nie alleen nie. Ons skuld is minstens soseer dat God in ons lewe heel veel nie gesien het wat Hy nou juis wel wou gesien het en moes gesien het.

Nie net wat ons verkeerd gedoen het nie, maar nog veel meer wat ons nie gedoen het, maak ons skuldig by God.

Ons kom voortdurend kort in ons lewe.

As ons saans met ons lysie van misstappe by God sou kom, sou Hy sê: Ek verkwalik jou dat daardie lys weer so lank geword het- en Ek sou dit nog wel tien keer so lank kon maak. Maar Ek het hier 'n lys wat juis lank moes gewees het, en Ek verkwalik dit vir jou nog baie meer dat hierdie lys so kort gebly het. Want Ek het vandag reg op die liefde van jou hele hart en van jou hele siel en van jou hele verstand en van al jou kragte gehad- die oorvloedige liefde van jou hart en mond en hande. Maar hoeveel hèt Ek gekry? Of liewer: hoe min?

Daar staan op jou lysie jy het dinge gesê wat jy nie moes gesê het nie. En Ek stem saam. Maar daar ontbreek op my lys veel meer dinge wat jy juis wel moes gesê het. Jy moes my met jou hele krag liefhê- maar hoeveel energie en tyd het jy feitlik in my saak gesteek? Was jy nie veels te veel met jou eie dinge besig nie?

Jy moet my liefhê met jou hele verstand- maar het jy nie die hele lange aand jou verstand op non-aktief geplaas en met leë t. v. - programme jouself ledig gehou nie?

En jy, het jy jou nie maar bietjie van jou huiswerk afgemaak omdat jy met 'n sestig persent wel tevrede is?

Jy sou my liefhê met jou hele hart en jou hele siel- maar waarvan was jou hart vol vandag?

Kyk, gemeente, so reken God. Hy tel die tekort ook saam. Hy vra dat ons ons vir 100 persent in die diens van sy Koninkryk stel.

U sal die diepte van u skuld wellig die beste verstaan as u nog 'n slag aan die vorige bedes in die "Onse Vader" dink: "Laat u Naam geheilig word" het ons gevra. Maar heilig, roem en prys u Hom nou ook in al sy werke? Rig u u hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop dat sy Naam om u ontwil nie gelaster nie maar geèer en geprys word?

"Laat u Koninkryk kom" het ons gebid. Maar laat u uself nou ook so deur sy Woord en Gees regeer dat u u hoe langer hoe meer aan Hom onderwerp?

"Laat u wil geskied" was die derde bede. Maar gee u nou ook u eie wil prys om God se wil sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees? Voer u u amp en beroep net so gewillig uit soos die engele in die hemel?

"Gee ons vandag ons daaglike brood". Maar erken u nou ook by enige sny brood wat u eet dat God die enigste Bron is van alles wat goed is?

Voel u hoeveel ons kortkom? Ons is nie klaar daarmee om ons misstappe op te skrywe nie. God dwing ons om ook alles wat in ons lewe ontbreek, vir onsself bymekaar te tel. Dat ons teenoormekaar plaas wat alles ons van Hom gekry het en nog steeds kry, en wat Hy van ons daarvoor terugontvang.

En dan kan ons dit nie eers sàkelik doen nie. Nie soos werknemers by 'n werkgewer nie. Maar ons staan as kinders teenoor 'n Vader vol liefde. Dit is nie net 'n Koning wat ons as nietige slawe ter verantwoording roep nie. Maar 'n Vader wat ons met liefde oorlaai het, kyk ons in die oë en sê: waar was jou liefde vir My vandag?

Sou daar dan nie diep binne-in ons die skuldgevoel dat ons Vader se liefde nie gewaardeer het nie, begin tril nie, broeders en susters? Die onrus dat ons Vader se vertroue geskend het?

As God as Vader ons in die oë kyk- sou ons dan nie besef: ek kàn heeltemal nie onder sy oë kom nie?

Die kneg in die gelykenis van Matth. 18 het nog homself probeer red deur te sê: "Gee my tog bietjie uitstel en ek sal alles betaal". Maar ons weet tog van beter? Wie van ons kan sy skuld by God, sy tekort aan liefde vir Vader en sy saak, ooit wegwerk? Die selfgesentreerdheid is by ons so ingewortel dat ons die skuld alleen nog maar groter kan maak.

So ver moet ons kom, gemeente, dat ons soos Luther in sy monniksel inmekaarkrimp met die angstige vraag: Hoe kry ek, ellendige mens, 'n genadige God? So ver dat ons maar die liefste sou wil wegvlug, wèg by die beseerde soekende oë van Vader!

Maar as ons so ver kom, leer Christus ons juis, met die vyfde bede, om nie weg te vlug nie. Maar om te gaan, met daardie groot skuldbesef van ons. En om dit vir Vader te bely: ja Vader, dit is wat ek kortkom: die totale liefde vir U. Dis wat ontbreek by my. Ik besef nog nie die helfte daarvan nie, U weet dit nog baie beter as ek. Hier staan ek, hier lê ek op my knieë as 'n arme sondaar.

Nee, en dan beteken "arme sondaar" nie: beklaenswaardig of iets dergeliks nie, gemeente. "Arm" wil hier sê: ek het niks om dit weer reg te maak nie. Ek staan met leë hande voor U. As dit aan my lê moet U my vir goed wegstuur, my hele tekort in rekening bring.

Maar as ons so tot God nader, mag ons as arme sondaars ons beroep op Hom wat self vir ons geleer het om hierdie gebed te bid. Ons Borg Jesus Christus. Hy was bereid om ons skuld op Hom te neem en dit by God te vereffen deur daarvoor met sy eie lewe te betaal. Hy het vir ons geleer: Gaan vra maar: Vader, vergeef my my skulde! As jy dan ook maar jou skuld raaksien en bely!

Die wat opreg sy skuld bely vir God en agter Christus skuil, kan die Heilige God darem in die oë bly sien. Beskaamd en terselfdertyd verwonderd. Vol dankbaarheid. Want die ontvang vergewing. Verniet. Om Christus ontwil.

Die hoef ook nie meer vol angs oor sy sterfdag, of oor die laaste dag te wees nie. Want die skuld is daartussenuit. Kwytgeskeld. Deur Christus voldoen.

Maar alleen as ons daaglik dit bly vra. En dus ook daagliks ons skuld bly oordink en bely. Want God wil sy genade alleen gee aan die wat Hom sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.

Hy vergeef nie onvoorwaardelik nie.

2. Of u rêrig so God om vergewing vra, skuldbewus, met 'n verslae hart, sal nou uit die praktyk blyk, broeders en susters.

Dit word onvermydelik in u omgang met u naaste sigbaar.

Want in God se Koninkryk kry ons nie net met God te make nie, maar loop ons ook mekaar raak, as medeslawe. Maar u mag ook sê: as broeders en susters, saam kinders van Vader.

In ons omgang met mekaar moet nou blyk of ons wel regtig skuldbewus God in die oë gekyk en regtig vergewing gesoek het. Die gelykenis van Matth. 18 is deur Christus vertel as 'n reaksie op 'n vraag van Petrus: "Here, hoe dikwels sal my broer teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? " Diè vraag het by Petrus 'n houding wat daar ook nog maar al te veel by ons leef, verraai. Hierdie houding: mens kan mos nie bly aangaan met vergewe nie! Dikwels al het ek iemand hoor sê, as daar 'n rusie of onenigheid ontstaan het: ek weier om nog 'n keer die minste te wees! Ek was nou al 'n paar maal daar, ek het dit probeer, ek maak nie weer so nie.

Wat was daar al baie slepende kwessies, ook in die kerk, omdat die egte bereidheid om te vergewe nie daar was nie. Hoe kan ook in 'n huwelik, in 'n gesin die klimaat soms lank gespanne bly, omdat die een nie teenoor die ander die minste wil wees nie.

Petrus het gevra: "hoe dikwels moet ek vergewe? ". Maar in die gelykenis wat Christus dan vertel verlê Hy die aksent. Ons kry nie 'n antwoord op die vraag hoe dikwels ons 'n ander moet wil vergewe nie. Maar ons leer om onsself af te vra: hoe diep wil ek die ander vergewe? Is ek wel bereid om die ander van harte te vergewe (kyk vs. 35), omdat daar ook so onnoemlik veel aan my vergewe moet word? Besef ek wel met my hele hart hoeveel vergewing ek nodig het? Is my hart wel vol van vergewing?

Daarom teken Christus in die gelykenis in die twee taferele die verskille ook opvallend groot. In die eerste tafereel staan 'n slaaf teenoor sy koning. In die tweede tafereel staan twee slawe teenoor mekaar.

In die eerste tafereel skuld die slaaf sy koning 10. 000 talente. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling het probeer om dit in Rande weer te gee en vertaal: miljoene rande. U kry miskien bietjie 'n oog daarvoor as u bedink dat in 'n ander gelykenis aan 'n slaaf hoogstens 5 talente toevertrou word om daarmee te gaan werk en wins maak. Daardie 5 was al baie. Hier is dit 10. 000.

Maar in die tweede tafereel moet die medeslaaf nog 100 pennings betaal. En hier sê die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling: 'n paar rande.

So lê in God se Koninkryk die verhoudings: wat beteken ons skuld teenoor mekaar in vergelyking met die skuld wat ons stuk vir stuk by God, die HERE het?

En as God om Christus ontwil ons jammer gekry het, moet ons mekaar dan nie jammer kry nie? As God so oorstelpend en volkome my skuld afskryf, mag ek dan die skuld van 'n medeslaaf aan my, 'n medekind van God, wat baie baie kleiner is, vashou? !

Nee, dit beteken nie dat ons mekaar se sondes voortaan maar moet goedpraat nie, gemeente. Dat ons oor alles heen huppel, of dit in die doofpot stop. Christus het in hierdie hoofstuk Matt. 18 so pas nog vir sy dissipels geleer dat 'n broeder wat sondig -en dit kan ook 'n sonde in die onderlinge verkeer wees- onder vier oë bestraf moet word. Ons hoef die sonde as sodanig nie te verdra nie. Ons màg dit nie eers nie. Maar as ons regtig met 'n hart wat nog vol is van die vergewing wat ons self ontvang het, die ander soek, probeer ons om in 'n so klein as moontlike kringetjie dit wat daar kom te lê het, weg te kry.

"Vergewe" beteken in die grieks letterlik: "wegdoen", "dit wat daar lê tussenuit haal en opruim". Dit is dus baie meer as 'n briefie stuur of 'n hand gee in die trant van: "kom ons praat maar nie meer daaroor nie. Ek moet dit seker maar vergewe, maar ek kan dit natuurlik nie sommer vergeet nie. Dit word natuurlik nooit weer soos vroeër nie".

Nee, broeders en susters, die wat van harte wil vergewe, begeer niks liewer nie as dat dit weer heeltemal regkom en dat ons mekaar net so bly in die oë kan kyk as wat ons saam God in die oë mag kyk.

Die gelykenis van Matt. 18 bevat 'n waarskuwing, gemeente.

Ons onderlinge verkeer is as 't ware die proef op die som. Daarin moet blyk waarvan ons hart vol is. Daarin moet blyk waaroor ons praat as ons God om vergewing vra. Ons mag daardie hoë woord "vergewing" alleen teenoor God in die mond neem as ons teenoor mekaar blyk gee daarvan dat ons besef hoeseer onsself vergewing nodig het. Hoe vanselfsprekend dit dus vir ons is om 'n ander jammer te kry.

Daarom het ons Here self ons gebed om skuldvergewing aangevul met die woorde: soos ons ook ons skuldenaars vergewë. Dit beteken natuurlik nie dat ons in ons vergewingsgesinde houding teenoor ons naaste vir God 'n voorbeeld gee hoedat ook Hy moet vergewe nie. Maar ons vergewingsgesindheid vorm die bewys dat ons wèèt wat vergewing is omdat ons ook self soveel vergewing van God moet kry. Wie self van genade leef is ook teenoor 'n ander genadig.

Maar dit mag u ook omdraai: wie nie genadig teenoor die ander kan wees nie, leef klaarblyklik ook nie regtig van God se genade nie. Wie die ander nie van harte kan vergewe nie, het self ook nog nooit God regtig om vergewing gevra nie. Sy hart is mos nie vol daarvan nie. Diè het ook geen vergewing nie.

Ons moet dus maar nie te gou verontwaardigd raak oor die slaaf van die gelykenis van Matth. 18 nie, broeders en susters. Moet maar liewer daarvan skrik. Lyk u dalk op die slaaf in die tweede tafereel van die gelykenis? Maar was u dan al ooit soos die slaaf in die eerste tafereel?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)