Ons daaglikse brood as middel in die Koninkryk van God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 50
Preek Inhoud: 

Ps 72: 1, 2, 3
Ps 125: 1-7
Geloofsbel
Ps 126: 1, 2, 3
Lees: 1 Timoteus 6: 3-21
Teks: Sondag 50

Brs en srs, gemeente van ons Here Jesus Christus!

Die Onse Vader is 'n gebed waarin alles gaan om die Koninkryk van God. God is besig om sy koninkryk op hierdie wêreld te vestig. As burgers van die Koninkryk is ons geroep om van die koms van die Koninkryk 'n gebedssaak te maak. Daarom bid ons: Laat u Koninkryk kom. Maar ook: Laat u wil geskied, en: Laat u Naam geheilig word.

Ek wil vir een aspek van hierdie Koninkryk u besondere aandag vra. Hierdie Koninkryk is 'n saak waarby heel direk mense betrokke is. Immers die Koninkryk is daar waar mense hulle in gehoorsaamheid onderwerp aan die Here.

En dit is die rede dat die vierde bede, die bede om ons daagliks brood beslis in hierdie Koninkryksgebed opgeneem word. Want waar mense in die program van die Koninkryk 'n plek het, moet noodwendig ook voorsiening gemaak word vir hul liggaamlike behoeftes.

Die christelike geloof is in die opsig dan ook buitegewoon ewewigtig. In veel religies word geestelike en liggaamlike behoeftes heeltemal van mekaar losgemaak. Soms so dat dit niks met mekaar te doen het nie.

By ander religies word die liggaamlike behoeftes so ondergeskik gemaak aan die geestelike sake dat gevra word dat jy moet loskom van jou liggaam om werklik die geestelike ervaring te kan kry.

In die Bybel is dit alles volledig in balans. Die mens as mens kry sy volle plek. Ook die liggaamlike behoeftes van die mens is in die geheel opgeneem.

Daarom kan ons in die kerk ook bid vir die nood van alle mense. As daar b. v honger is iewers in die wêreld dan is ons as christene geroepe om te bid om uitkoms uit die nood. Nie dat die einde van daardie nood hul totale redding beteken nie, maar liggaamlike nood is dikwels 'n verhindering om die evangelie te hoor. Daarom moet dan aan daardie nood eerste aandag gegee word.

Daarom sal ons as kerk ook altyd moet bid om vrede in die land. Om rus en orde en beeindiging van geweld. Waarom? Omdat ons glo dat aardse vrede die eintlike saak is?

Nee, ons bid vir vrede omdat vrede 'n belangrike middel kan wees in die bevordering van die Koninkryk van God.

In ons gebed om ons daaglikse behoeftes gaan dit nie daarom dat ons meen dat voorsiening in die behoeftes die einddoel is nie. Nee, ook dit is 'n middel ter bevordering van die koms van die Koninkryk.

Ons tema vir vanmiddag se preek is:

Ons daaglikse brood as middel in die Koninkryk van God

Ons sien

  1. dat ons moet bid
  2. wat ons moet bid

U sal almal wel verstaan dat dit in hierdie gebed waarin ons vra om ons daaglikse brood nie om brood alleen gaan nie.

By hierdie gebed kan ons maar rustig alles insluit wat mens nodig het vir sy lewensonderhoud.

Elke mens het behoefte aan allerhande sake en streef na bevrediging van daardie behoefte. Ons leef boonop in 'n wêreld waarin die behoeftes wat jy het ook steeds weer gestimuleer word deurdat jy sien wat 'n ander het. Dan wil jy dit ook hê.

En as jy nog nie so 'n behoefte het nie dan is daar 'n hele klomp adverteerders wat by jou tog die behoefte probeer skep sodat jy tenslotte ook moeite gaan doen om die behoefte te vervul.

Dit is maar hoe 'n ekonomie werk. Ons is almal deel daarvan of ons wil of nie.

Wel, heel die wêreld van koop en verkoop, van produksie en konsumpsie word saamgevat in hierdie eenvoudige gebed: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

Wat vir ons die meeste opval is die verstommende eenvoud daarvan. Vader, gee vir ons.

Ons het netnou verwys na die hele ingewikkelde ekonomiese wêreld waarvan jy deel is. Kom kyk 'n bietjie na jouself. Voordat jy jou eerste selfverdiende broodjie kan koop het 'n hele paar dinge gebeur.

Jy moes gebore word in 'n gesin waar hulle vir jou versorg en leer praat het. Daarna moes jy sewe jaar laerskool deurgaan om 'n aantal basiese sake soos reken en skryf en algemene kennis onder die knie te kry.

Vervolgens moes jy deur vyf jaar hoër onderwys gaan om op die basiese kennis uit te brei. Daarna moes jy nog 'n vak leer wat vir jou die nodige bekwaanheid gee om jou werk te doen. Voordat jy dit alles agter die rug het is minstens 'n kwart gedeelte van jou lewe verby.

En as jy dan eindelik van jou eersverdiende geld iets vir jouself kan gaan koop, word van jou gevra om soos 'n kind op die knieë te gaan en te bid: Vader, gee vir my. Betoon vir my u genade en skenk vir my my daaglikse brood.

Dit is wat ek bedoel met die verstommende eenvoud van hierdie gebed.

In die heel ingewikkelde wêreld waarin jy vir jou brood moet werk en waar jy soms biiter swaar kan kry onder jou werk, bly jy by die Here nog steeds 'n kind. 'n Kind wat slegs kan vra. Verstaan u, daar is geloof nodig om so te maak.

Die eenvoud van 'n kinderlike geloof: Vader, gee vir my my daaglikse brood.

Tegelyk is dit nie 'n klein ding dat ons met hierdie gebed by die Here mag kom nie.

Ons nader mos met ons gebed tot die Almagtige God, die Skepper en onderhouder van heel die wêreld. Kan u voorstel dat die God Hom kan besighou met kleingoed soos u daaglikse brood?

As dit nie was dat die Here Jesus ons nie so geleeer het nie, sou ons nooit met so'n saak voor die troon van God durf kom nie.

In die opsig is die christelike geloof heel uniek.

Jy mag die aandag van die Here vra vir jou daaglikse behoeftes as mens. Die Here wil Hom daarmee bemoei.

Daar word van ons nie gevra om slegs met wat ons beskou as geestelike sake by die Here te kom nie. Nee vir die Here is alles in ons lewe belangrik. Want hy behandel ons as mense. Hy het ons mos so gemaak? En daarom wil Hy nie dat ons 'n teëstelling sou maak tussen natuurlike en geestelike sake nie.

Die lewe is een. Want alles behoort tot die een skepping van die een God.

En daarom wil die Here geraadpleeg word deur ons op elke lewensterrein.

Jy mag van Hom vra: Gee ons ons daaglikse brood.

Let spesiaal op die tweede woordjie 'ons'. Gee ons ons daaglikse brood.

Ons brood. Daarin klink iets van, ons het mos reg daarop.

Gee my my deel.

Kan jy dit eintlik wel so vra? Alles is tog genade?

Jy kom tog altyd as 'n bedelaar by God?

Ja, en tog ook nee.

Inderdaad alles is genade by God. Dit wil sê teenoor Hom kan ons nooit van verdienste praat nie. Genade staan dus teenoor verdienste.

Maar genade staan nie teenoor reg nie.

Ons het regte by God. Nie uit onsself nie. Maar deur Jesus Christus. Hy het vir ons regte by God verwerf.

Namelik die reg van kinders. Kinders hoef by die huis tog ook nie elke dag te smeek as bedelaars om 'n stukkie brood nie?

As daar 'n maaltyd klaargemaak word is dit tog vanselfsprekend dat vir hulle ook hul deel daar is?

Dus binne die Verbond is dit 'n reg om jou brood uit die hand van die Here te ontvang. Maar die Here wil wel elke keer daarvoor gevra word.

Sodat ons nooit sou vergeet dat ons van Hom afhanklik is.

Hy wil graag Sy seën gee oor elke maaltyd wat ons gebruik.

Elke keer roep ons daarom sy Naam aan in gebed en danksegging en so word elke huis waarin gedank word vir die sorg van die hemelse Vader 'n tempel waarin sy Naam woon.

In die tempel bring ons ons more-offers van gebed en ons aandoffers van lofprysing.

So kom God aan sy eer. En dit is waaroor dit gaan in die Koninkryk van God. As God nie sorg vir die lewensonderhoud van sy kinders nie, dan is daar tenslotte nie meer kinders om Hom te prys nie. Die Here self maak dit vir ons moontlik om as mense werksaam te wees in sy Koninkryk. In daardie Koninkryk is ons besig om sy Naam te heilig en om sy wil te doen. God self gee ons daarvoor die middele in hande. Om te begin ons daaglikse brood en verder alles wat ons maar nodig het in diens van sy Koninkryk.

2. wat ons moet bid

Gee ons vandag ons daaglikse brood.

In hierdie bede vra ons dus heel beskeie. Ons vra vir vandag.

Nie vir die hele toekoms nie. Natuurlik sou ons almal graag 'n bietjie meer sekerheid oor die toekoms wil hê.

Want laat ons eerlik wees, dit is wat ons gewoonlik die meeste pla. Ons weet wel, nou op die oomblik is daar nog voldoende. Ons kan daarmee klaarkom. Maar wat van die toekoms?

Sal daar ook dan nog genoeg wees?

Kan ons dan nog ons paaiemente betaal? Kan ons dan nog in ons lewensonderhoud voorsien?

Dit is die vrae wat pla.

Hoe graag wou ons daarop 'n antwoord hê. Want dit sou vir ons vandag soveel te meer rus gee.

Bekommernis oor die toekoms kan ons vandag veel van ons vreugde en dankbaarheid ontneem.

Ons wou graag 'n bietjie meer sekerheid hê.

Maar dan sê die Here Jesus vir ons: Jy kry nie meer as net vir vandag nie. Jy sal vir more jou vertroue op God moet stel.

Wie meer sekerheid wil hê as dit, handel dwaas. En dan gebruik die Here Jesus die voorbeeld van die man wat 'n goeie oes gehad het. Hy laat skure bou om alles te bewaar. Hy gaan homself geniet. Hy het vir God nie meer nodig nie.

Die dwaas, sê die Here Jesus. God laat hom dieselfde nag nog sterwe.

Die dwaasheid van die man was nie dat hy iets wou bewaar vir die toekoms nie. Dit getuig van verstandigheid. Maar sy dwaasheid was dat hy gedink het dat hy daarmee sy toekoms in eie hande gehad het.

Iemand wat reserverings maak vir die toekoms is verstandig.

Dit sou dwaasheid wees om die Here op jou betaaldag uitbundig te dank vir sy goedheid en om dan dieselfde dag alles uit te gee. Dan het jy die res van die maand niks. Dit kan jy dan God nie verwyt nie, maar dit is jou eie dwaasheid.

Ook vir 'n gelowige wat elke dag bid om die sorg van sy hemelse Vader is daar niks mee verkeerd om vir 'n pensioen te spaar nie. Of 'n versekering af te sluit nie. In die opsig moet elkeen doen wat binne sy vermoë is.

Maar tegelykertyd moet jy besef dat dit geen werklike waarborge kan gee nie. Jy kan vir 'n pragtige pensioen spaar, maar die dag dat jy daaraan toe is ontdek jy dat jou geld geen waarde meer het nie, omdat die inflasie dit verteer het.

Jy kan ook 'n groot versekering afsluit vir uitkering op die dag dat jy wil aftree, maar dit kan wees dat jy daardie dag nie gaan haal nie.

Jy kan belê in tal van fondse en na verloop van jare moet jy ontdek dat jou aandele waardelose stukke papier geword het.

Wat ek hiermee wil sê is dit: Geen mens het werklik 'n waarborg dat sy besparings van vandag hom vir more gaan help nie.

Ons sal moet vertrou op God, en nie op ons voorrade of op ons reserves nie.

Jou hemelse Vader gee vir jou groter waarborg as watter polis ook al.

Van daardie waarborg alleen kan 'n mens onbekommerd lewe.

Onbekommerd, dit is nie dieselfde as sorgeloos nie.

Sorgeloosheid is altyd dwaas.

Maar onbekommerdheid is 'n kenmerk van 'n gelowige.

Dit is goed om dit vandag nog 'n slag rustig aan mekaar voor te hou.

Ons weet almal dat dit ekonomies met die land bitter sleg gaan. Ons het almal op een of ander manier met die situasie te doen. Ook al spring die meeste van ons egte armoede nog vry, rondom ons is die verarming massaal.

En niemand kan voorspel watter effek dit in die toekoms sal hê nie.

Rede tot sorg? Ja, definitief.

Moet ons dus ons onbesorgdheid inlewer? Nee tog nie.

Onbesorgdheid is mos 'n geskenk wat die Here vir sy kinders wil gee. Onbesordheid is dink ek een vand ei mooiste geskenke wat 'n mens in sy lewe kan ontvang.

Wie kan werklik bly wees? Hy wat onbesorgd is.

Wie kan hom werklik dankbaar voel? Presies, die persoon wat bly is met wat hy het en hom nie laat pla oor die dag van more nie.

Maar onthou hierdie onbesorgdheid is 'n geloofsgeskenk. Dit wil sê, die geskenk ontvang jy slegs in die weg van geloof.

En daardie pad sal ons steeds aan mekaar moet wys.

En vervolgens sal ons ook met mekaar daardie pad moet gaan.

Raak jy net gespanne as jy aan die toekoms dink?

Voel jy net onrustig as jy probeer voorstel hoe die komende tien jaar in ons land sal lyk?

Kan jy nou moeilik dankbaar wees want o wee wat gaan van ons word?

Begin dan om te glo dat God inderdaad jou Vader is.

En vervolgens dat Hy ook soos 'n Vader sal sorg. En onthou, slegs hierdie geloof kan van ons dankbare mense maak wat die Here elke dag prys.

Weet julle nog dit is waaroor dit gaan in die Koninkryk van God. Daar moet burgers wees wat die Here elke dag prys.

Dit kan jy nie as jy alleen maar besorg is.

Dit kan jy nie as jy alleen maar bang vir die toekoms is.

Bedink dat al jou welvaart wat jy tot op hede ontvang het 'n genadegeskenk van God is. Jy mag daarvan geniet solank jy dit het. Doen dit en dank die Here daarvoor.

Maar bly besef dit alles is slegs tydelike sake.

Soos Paulus sê in 1 Tim 6: 7: " Ons het niks in die wêreld ingebring nie, ons kan ook niks daaruit wegneem nie. Daarom as ons kos en klee het dan moet ons daarmee tevrede wees. "

Wie kos en klere het, het reeds rede tot dankbaarheid. Jy het dan al genoeg om die Here te prys.

Maar as jy dink, dit is nie genoeg nie en jy wil meer, dan val jy in versoeking.

Dan val jy in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes. Jy kom in die mag van die begeerte na meer. Daarmee is jou dankbaarheid heen.

Paulus noem hier in die besonder die gevaar van geldgierig-heid.

Geldgierigheid is dat jy jaag na steeds meer geld.

Dit is 'n direkte bedreiging van die geloof.

Geldgierigheid en geloof kan nie in een huis saamwoon nie.

Jy word of gedryf deur die begeerte na geld of jy word gedryf deur jou liefde tot God.

Een van twee. Maar nooit altwee tegelyk nie. Dit is onmoontlik. Want die twee geldgierigheid, en geloof wys in 'n heel teenoorgestelde rigting.

Ons rigting is klaar bepaal.

Ons het maar een doel om na te jaag. Die Koninkryk van God.

Dit is al waaroor dit gaan.

Daaraan het ons ons hande en as dit goed is ons hart vol.

Waar die Koninkryk van God die doel is waaroor alles gaan, sal God wel sorg vir die middele om die doel te bereik.

Dit beloof Hy.

Ons moet net daarvoor vra.

Dan kan ons vol vertroue verder

Ons gebed om voorsiening in alle nood moet heel beskeie bly.

Maar ons verwagting mag heel groot wees.

Die Here gee altyd bo verwagting.

Maar dit vra geloof om dit te sien.

En 'n dankbare hart om dit te geniet. Amen

6 September 1992

Liturgie: 

(kyk in preek)