Die kinders van God leer vra om die heiliging van die Naam van die Vader

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 47
Preek Inhoud: 

Ps 24: 1, 2
Ps 24: 3
Ps 99: 1 - 5
S.B. 28: 1
Ps 96: 1, 2, 5
Lees: Esegiel 36: 16-38
Teks: Sondag 47

Broeders en susters, kinders,

In die Kategismuspreek van vanmiddag wil ons verdergaan met die bespreking van die gebed wat die Here Jesus vir ons geleer het.

In Sondag 46 het dit gegaan oor die wyse waarop ons God moet aanspreek in ons gebed. Onse Vader, wat in die hemele is.

Dit is vir ons 'n voorreg om God as Vader te kan aanspreek. 'n Voorreg dat Christus as Eniggeborene van die Vader, dus as enigst reghebbende om die VaderNaam uit te spreek, ook vir ons die bevoegdheid gee om 'Vader' te sê. Net soos Hy mag ook ons 'Vader' sê.

Maar hierdie voorreg gee vir ons ook 'n roeping. As ons net soos Jesus Christus Vader vir God mag sê, maar dan moet ons ook net soos Christus op aarde besig wees met die eer van die Vader.

"Vader, U Naam het ek verheerlik op die aarde". Op hierdie wyse gee die Here Jesus 'n kenmerking van sy werk op hierdie wêreld. Daarvoor het Hy mos gekom. In alles wat Hy gedink, gedoen en gespreek het, het Hy geywer vir die eer van die Naam van God op hierdie wêreld. Daarvoor het Hy gelewe, daarvoor het Hy gesterf. Met een doel dat God se Naam geheilig sou word.

Wel, as hierdie Seun van God kinders van God op aarde roep dan is die eerste wat Hy vir hulle wil leer dat ook hulle hul sal beywer vir die heerlikheid van die Naam van die Vader. Omdat hulle dit nie uit hulself doen nie daarom moet hulle daarom leer vra: In die gebed. Ja, as eerste bede selfs. Vader laat U Naam geheilig word.

Ons verkondig u vanmiddag God se Woord soos volg:

DIE KINDERS VAN GOD LEER VRA OM DIE HEILIGING VAN DIE NAAM VAN DIE VADER.

Daardie Naam word geheilig

  1. deur die Vader Self
  2. deur ons sy kinders

Laat U Naam geheilig word. Dit is die eerste bede. As ons hieroor begin nadink is die eerste vraag wat by ons opkom: Deur wie moet eintlik daardie Naam geheilig word? Wat vra jy nou in jou gebed, dat God Sy Naam moet heilig, dus dan doen God dit Self.... Of is dit die bedoeling dat ons moet bid dat ons onsself sal inspan ten behoeve van die heiliging van daardie Naam.

Dit het vir u dalk opgeval dat die Kategismus heel duidelik kies vir die tweede moontlikheid. Dit is ons wat God se Naam moet grootmaak. Dit is ons wat Hom moet prys om alles wat Hy doen. Die Kategismus kyk selfs na die ongelowiges wat deur ons heiliging van God se Naam tot Jesus Christus getrek word.

Tog is hierdie keuse van die Kategismus dat net ons die Naam van God moet heilig wel baie eensydig. In die bede: Laat U Naam geheilig word lê n. l. ook duidelik 'n vraag of God Self Sy Naam wil heilig in hierdie wêreld. Ofwel, of Hy die heiligheid van Sy Naam wil wys sodat sy Naam nie ongestraf gelaster kan word nie.

Ons het 'n gedeelte gelees uit die profesie van Esegiel. As ons die hoofstuk lees sien ons baie duidelik dat die Here Self ook besig is met die heiliging van Sy Naam.

Kom ons kyk 'n bietjie na die hoofstuk. Eintlik gee die Here daar verantwoording van sy optrede teenoor Israel. Wat het gebeur? Die Here het sy volk vanwee hul sondes teenoor Hom uit die land Kanaan uitgegooi. Hulle moes in ballingskap gegaan het.

Immers hulle het hul land deur hul sondes verontreinig. En dit wil die heilige God nie aanvaar nie. Dus hier is Sy Naam as heilige God in geding. Dus vandaar die ballingskap.

Maar wat gebeur nou: Die heidene wat sien dat die volk Israel nie meer in Kanaan bly nie maak hieruit 'n verkeerde gevolgtrekking, vs 20: Hierdie mense is die volk van die Here en hulle moes uit sy land uittrek! Ofwel: die Here Jahwe was as hul God nie sterk genoeg om hulle te beskerm nie! Dit is die afleiding wat die heidene maak! Verkeerd, maar nogtans, hierdeur word die Naam van die Here gelaster, asof Hy 'n swak God is.

Maar dit was nie die oorsaak van die ballingskap nie. Dit was mos Israel se sondes. Dus nou word eintlik deur Israel God se Naam ontheilig. Via die misverstand van die heidene dus. !

Maar so wil God sy heilige Naam nie laat belaster nie. En daarom, net daarom gaan God weer 'n verandering bring in die lot van sy volk.

Waarlik, nie om hulleself nie, maar net omwille van Sy heilige Naam alleen. Luister maar vs 22: Ek doen dit nie om julle ontwil nie, o huis van Israel maar terwille van My heilige Naam wat julle ontheilig het onder die nasies waar julle gekom het.

Die Nasies sal weet dat Ek die Here is.

Hulle sal agterkom dat My Naam die Grote en Almagtige is.

Hulle sal agterkom dat Ek My Naam kan heilig.

Wel, vir hierdie heiliging van Sy Naam sorg God dus self.

Die nasies sal weet dat Ek die Here is!

So het dit mos ook begin met Israel. U kan dit maar nalees. By die tien plae in Egipte klink dit amper soos 'n refrein: Die Egiptenaars sal weet dat Ek die Here is.

Omwille van daardie Naam het God sy volk in lewe geroep. Omwille van daardie Naam het Hy hulle bewaar in die woestyn. Dus ons kan maar so saamvat: As die Here Sy Naam gaan heilig dan sal daar groot dinge gebeur.

Dan bring Hy sy volk na die beloofde land. Ondanks alles. Terwille van Sy Naam. Dan gooi Hy hulle die land uit by die ballingskap. Omwille van Sy heilige Naam. En as God dan weer Sy Naam gaan heilig, dan kan daar 'n res van die volk terugkom onder die beskerming van die Here.

En so sien ons: die heiligheid van God se Naam is 'n drywende krag in die geskiedenis. In die geskiedenis van kerk en wêreld. Dus as God Sy Naam gaan heilig, dan gaan daar dinge gebeur in die wêreld!! En daarom broeders en susters, seuns en dogters, moet ons terdee weet wat ons doen as ons van die Here Jesus die bede oorneem: Laat U Naam geheilig word!

Vader, heilig U Naam!

Dit beteken: wys die heerlikheid van U Naam om te begin in die kerk. Laat vir ons sien terwille van U heilige Naam, U talle seeninge soos eendag Israel die seeninge van die Naam ervaar het.

Maar dit is slegs een kant: Heilig U Naam onder ons beteken ook: Wee ons as ons as N.T. gemeente nie meer volgens U gebooie lewe nie. Wee ons as ons nie meer opkom vir die heiligheid van U Woord nie. Wee ons as ons in ons lewe sal gedra soos ongelowiges. Of as die diens van God maar 'n randverskynsel in ons lewe word.

Immers as God Hom dan die Heilige sal betoon en sal optree tot heiliging van Sy Naam, dan kan met ons dieselfde gebeur wat met Israel gebeur het, dan ontneem die Here ons ons erfdeel. Hy is mos die Heilige. Vanwee die heiligheid van Sy Naam sal Hy altyd met sy oordeel begin by die huis van God, dit is by die kerk.

Dus daarom: weet wat u doen, broeders en susters, as u bid: Heilig u Naam! Dan vra jy mos dat Hy in sy heiligheid alles sal wegbrand wat nie met die heiligheid van Sy Naam ooreenkom nie.

Immers al ons dade is besmet met sondes. Ons gedagtes. Onheilig is hulle. Selfs ons gebed kan die vuur van God se heiligheid nie deurstaan nie. As God werklik Sy Naam sal heilig in ons lewe, dan kom ons almal om.

Tensy.... ja, tensy ons ons toevlug soek by Hom wat ons hierdie gebed leer bid het. Die Here Jesus Christus.

Vader heilig U Naam, bid dit nooit buite Christus om nie, broeders en susters, immers dan bid jy 'n oordeel na jou toe.

'n Verterende vuur. Bedink daarby ook dat hierdie bede 'n eskatologiese karakter het. Eskatologies dit beteken dit het te doen met die einde van hierdie wêreld.

Wie bid: Laat U Naam geheilig word bid daarmee ook: Vader doen weg uit die wêreld alles en almal wat sondig is. Hoe lank sal u nog aansien dat U Naam in hierdie wêreld vertrap word. Hoe lank sal u nog geduld oefen met mense wat die evangelie van Christus verdraai en verwerp?

Dus gemeente besef dit goed: U is met groot en ernstige sake besig in die gebed om heiliging van God se Naam. Jy bid daarmee dat die uiterlik van hierdie wêreld sal verdwyn en dat 'n nuwe aarde sal kom met 'n nuwe mensheid. 'n Mensheid wat op hierdie aarde reeds geleer het om die Naam van die Here aan te roep tot hul behoudenis.

2. HOE GOD SE NAAM DEUR SY KINDERS GEHEILIG WORD

Noudat ons gesien het dat God Self sy Naam kan heilig, nou besef ons dat Hy daarby dus geen mense nodig het nie. Hy kan Sy Naam heilig sonder dat daardie Naam deur mense erken word. Hy kan ook by die heiliging van Sy Naam die hele wêreld vernietig.

Maar dit is nie wat Hy wil nie.

En dis hoekom Hy Sy Seun gestuur het sodat Hy (Jesus Christus) vir die mense kon leer hoe heerlik en heilig die Naam van God is. God wil dat in navolging van Jesus Christus ook mense van hierdie aarde weer God se heilige Naam sal prys.

En daarom sê die Kategismus is die eerste wat ons bid: Gee dat ons U reg sal ken.

Ons bid dus dat ons vir onsself nie 'n verkeerde voorstelling van God sal vorm nie. Dit gebeur n. l. baie gou.

Mense kan so praat en dink oor God asof Hy 'n goeie oubaas daarbo is, wat daarvoor sorg dat dit met hulle goed gaan in die lewe. Dit is 'n God aan wie jy danksê vir jou welvaart. 'n God wat pas by jou behoeftes aan godsdienstigheid. As jy Hom nodig het kan jy maar roep en verder stel jy eintlik nie soveel in Hom belang nie.

Wel, dit is ontheiliging van Sy Naam as ons so oor Hom dink en praat. Want so 'n goedige God is 'n onskadelike God, wat nie opkom vir die regte van Sy Naam nie.

Daarom wys die Kategismus vir ons 'n ander weg. Gee ons eers dat ons U reg sal ken. God reg ken, dit kan 'n mens net uit Sy Woord. Daarin openbaar Hy Homself mos.

Laat U Naam geheilig word. Daarmee vra jy dus: Gee dat ek U sal ken soos U is.

Maar dit kan jy net bid by 'n oop Bybel.

Die probleem met ons is dat ons dikwels al gou meen dat ons God al ken. Ons weet wie Hy is. 'Ek weet waar ek my hulp moet soek', kan sommige mense so mooi vroom sê. Asof dit wel genoeg is!

Ek weet waar ek my hulp moet soek. Asof die Bybel 'n soort telefoongids is wat jy kan naslaan as jy iemand soek.

Inderdaad van 'n telefoongids is maar een ding wat jy moet weet en onthou. Die plek waar jy hom gebêre het.

Maar die Bybel is 'n ander ding. In die Bybel, in die Woord ontmoet jy die Here. Uit die Woord leer jy Hom ken... en liefhê. Gee dat ek U reg sal ken. Hoe kan 'n mens dit nou bid en tegelyk sê: een keer op 'n sondag kerktoe is genoeg vir my. Twee preke is te vermoeiend.

Gee dat ek U reg sal ken. Hoe kan jy dit vra en tegelyk sê: Bybelstudie dit is vir die liefhebbers daarvan, maar nie vir my nie.

Laat U Naam geheilig word. Dan bid ek ook dat ek God se Naam sal prys in al sy werke. In daardie werke word mos sigbaar sy almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid. Dit is 'n geweldige belydenis, broeders en susters, seuns en dogters.

In al God se werke skyn sy almag en goedheid. Ons sien daarvan inderdaad iets in die wonders van die skepping, die pragtige natuur met berge, riviere, bome en bosse. Maar dit geld ook van verwoestende aardbewings, van vernietigende oorstromings, van afskuwelike droogtetoestande. Kan 'n mens ook daar God se goedheid en barmhartigheid in sien?

Wel, nie ek nie. Ek vermoed u ook nie.

En tog gemeente is dit so. Deur die geloof weet ek dat dit so is. Ek bly vashou dat daar niks gebeur buite God se sorg nie. Ek glo dat daar tog almag, wysheid, geregtigheid in al daardie werke van God aanwesig is. En daarby bid ek: Gee Here dat ek dit sal sien.

Want wat is dit moeilik om veral in moeilike en bittere lewenservarings die hand van God te sien en te aanvaar. Kinders van God wat alles van Hom verwag, kan ook deur vreeslike rampe getref word. En hoe moet 'n mens dan nog van God se goedheid, almag en wysheid bly praat?

Dan is daar maar een weg: Bid, bid en nog eens bid.

En bly vashou dat God die almagtige Vader is wat weet wat goed is. En laat ons dit ook maar steeds weer vir mekaar sê: Dan word mos die Naam van God deur ons geeer. Geheilig.

Ja, die Here Jesus vra selfs dat ons dan nog God se Naam moet roem en prys. . Dit lyk amper 'n onmoontlike opgawe. Die Here te roem in bittere lewenservarings. En tog is dit moontlik.

Deur die geloof.

'n Mens kan dit soms sien by mense wat 'n hoe leeftyd het. Dan het 'n mens talle dinge meegemaak. Hulle het gestaan aan die graf van man of vrou of kinders. Hulle het in talle opsigte 'n swaar pad gegaan. 'n Lewe vol swaarkry.

En tog gaan hulle hul weg met blydskap. Met die blydskap van die geloof. Hulle kyk dankbaar terug op die lewe. Want al die dinge wat hulle moes verduur het, het hulle gedra in die geloof. Hulle het daarin ondanks alles tog wysheid en goedheid van God bely en ervaar.

Dit is 'n verkwikking om met sodanige mense 'n slag te gesels oor die lewe. Immers bo hulle lewe sien jy dan inderdaad die heerlikheid van God se Naam helder skyn.

Tenslotte bid ons dat ons ons hele lewe, ons gedagtes, woorde en werke so skik en rig dat God se Naaam om ons ontwil nie gelaster word nie, maar geeer en geprys sal word.

Duideliker as so kan skaars gesê word wat in heel ons lewenswandel die heiligheid van God se Naam in geding is.

Daagliks bid om die heiliging van God se Naam en daarby 'n lewensstyl vertoon waarin niks christeliks te sien is nie, dit is 'n groot teenstrydigheid.

Hoe kan jy bid of God Hom die Heilige sal betoon, as jou kollegas nie eers weet, jy is 'n christen nie? Dan kan jy beter stop met die bede: Heilig U Naam! Of liewers: Bekeer jou! Gee 'n ander rigting aan jou lewe.

As jou lewe in die wêreld tot nou toe slegs gerig was op die eer van jou eie naam, leer jou om te bedink hoe om God se Naam die eer te gee.

Want jou eie naam sal jou nie kan behou in die komende oordeel nie. Elke inspanning wat jy jou daarvoor getroos het sal jou uiteindelik nie help nie en in die louteringsvuur vergaan.

Maar wie Hom ingespan het in hierdie lewe vir die Naam van Sy Vader in die heme, hy sal van daardie Vader eer ontvang.

O Vader in die hemel hoog
tot wie ons ophef hart en oog
ons bid in stil eerbiedenis:
gee dat U Naam, wat heilig is
deur ons geken, geeer, gevrees
in alles mag geheilig wees.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)