Hoe dankbare kinders met geld en goed omgaan

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 42
Preek Inhoud: 

Voor diens: Skb 49: 1-7
Ps 125: 1-5
Ps 125: 6, 7
Ps 49: 1, 2, 3
Ps 126: 1, 2, 3
Lees: Prediker 2
Teks: Sondag 42 H.K.

Brs en srs, sns en dgtrs!

Op die lys van menseregte wat in 1948 deur die Vergadering van die Verenigde Volke vasgestel is kom ook 'n reël voor oor eiendom en besit.

Elke mens het die reg op ongesteurde besit van sy eiendom en die owerhede is geroepe om die reg te beskerm. Hierdie mensereg is 'n pragtige ding en dit is definitief die moeite werd om jou vir handhawing van so'n reg in te span. In die wêreld is in tal van lande hierdie reg glad nie 'n vanselfsprekende saak nie. Die maghebbers kan sommer iemand se besittings afvat en jy kan niks daaraan doen nie. En waar owerhede dit self doen is daar gewoonlik ook baie ander rowers wat hulle self op koste vn 'n ander bevoordeel.

Dus die omskrewe mensereg op ongesteurde besit van jou eiendomme is 'n waardevolle saak.

In verband met die 8e gebod kan die vraag opkom of dit dalk oor dieselfde gaan.

Die antwoord op die vraag is: vir 'n deel wel. Vir 'n ander deel nie.

Ek bedoel dit, die mensereg op genot van jou eiendom is 'n reg wat slegs gehandhaaf kan word teenoor en temidde van jou medemense. In die sin sluit die mensereg op genot van jou eiendom aan by die 8e gebod. Jy mag nie steel nie. Jy mag nie aan jou naaste se goed vat nie.

Maar hieraan is ook 'n ander kant. Die reg op genot van jou eiendom is nie 'n reg wat jy kan handhaaf teenoor God nie.

Teenoor God kan 'n mens nooit en te nimmer praat van menseregte nie. Teenoor God kan 'n mens geen regte handhaaf nie. In ons verhouding met Hom kan ons maar net van genade praat.

As God al ons goed in een keer wil afneem, wat kan ons sê?

Dit is sy volste reg.

God kan ons ook allerhande sake gee. Ook dit is sy reg.

Al wat ons in materiele sin ontvang is genade by God.

En dit is waaroor dit gaan in die 8e gebod.

Die gebod staan in die kader van die dankbaarheid.

Soos al die 10 gebooie reels van dankbaarheid is.

Hierdie gebod gaan oor ons dankbare omgang met geld en goed.

Dit is die tema vir vanoggend se preek:

Hoe dankbare kinders met geld en goed omgaan

  1. Hulle ontvang dit uit Vader se hand
  2. Hulle bestee dit tot Vader se eer

Gemeente, ons begin maar weer om vas te stel dat die wet wat God vir sy volk Israel gegee het bedoel is om hulle by hul vryheid te bewaar. God het sy kinders bevry.

En Hy wil nie dat die vryheid weer verlore moet gaan nie.

Ook op die gebied wat deur hierdie gebod aangeraak word, is die gevaar van slawerny glad nie denkbeeldig nie.

Immers die mens is 'n mens van vlees en bloed. Vir sy lewe het hy allerhande materiele goed nodig. Dit is ook die materiele goed wat vir hom genot kan verskaf.

Wel, die gevaar is dan dat die mens gaan meen dat sy materiele welvaart sy lewensgeluk kan bepaal. Hy begin jaag daarna.

Daar kruip sommer maklik 'n begeerte in sy hart. 'n Begeerte na meer. Nog meer. En voor jy dit weet is jy 'n slaaf.

'n Slaaf van jou begeertes.

Voor jy dit weet is jy soos die Here Jesus dit noem 'n dienaar van die Mammon. En waar jy 'n dienaar van Mammon geword het moet jy begin skipper met die diens van die Here. Altans jy gaan dit probeer. Jy gaan eers 'n poging doen om altwee te dien. Aan die een kant verwag jy baie van materiele welvaart en aan die ander kant wil jy ook probeer om God tevrede te hou.

Maar dit gaan nie werk nie. Mens kan nie twee here dien nie, waarsku die Here Jesus. Dit is of God of die Mammon.

Kies wie jy wil dien.

Maar onthou kies, een van twee.

Nou kan daar wel 'n vraag opkom.

Kan 'n mens in materiele opsig dan glad nie ideale hê nie?

Behoort 'n christen eintlik so te wees dat hy glad nie omgee vir iets wat mooi is in hierdie wêreld of wat aangenaam is in die lewe?

Almal streef tog daarna om in 'n goeie huis te kan bly.

Of jy wil baie graag 'n wêreldreis maak om iets te sien? Is daardie tipe ideale vanaf die begin dan heeltemal verkeerd?

'n Mens wil tog ook graag in materiele sin iets bereik?

Wel, ek dink dit is heeltemal legitiem.

Al waar dit om gaan is die manier waaarop jy werk aan 'n ideaal.

Is dit vir jou een van die dinge van die lewe?

Of het jy werklik jou hart daarop gesit en moet alles wyk vir daardie ideaal?

As die laaste die geval is dan is daar rede om op jou pasoppens te wees. Want dan gaan die ideaal jou beheers.

En dan is jy nie meer vry nie. Dan het jy opnuut 'n slaaf geword. Die slaaf van jou begeerte. Jou begeerte na eer, na erkenning, na genot.

Gewoonlik straf hierdie tipe begeerte homself af.

Want die ding wat jy so begerig gesoek het gee vir jou tog nie die bevrediging wat jy verwag het nie.

Dit kan dit nie gee nie. Want jy het in jou begeerte na die ding die mees kosbare opgeoffer wat 'n mens in hierdie lewe kan ontvang.

Namelik jou vermoë om dankbaar te wees. Jou vermoë om tevrede te wees. Jou vermoë om te kan geniet wat jy ontvang het.

Onthou gemeente, om te offer op die altaar van Mammon is baie duur.

Jou begeerte na meer laat offer jou om te begin jou tevredenheid, vervolgens offer jy jou geestelike gesondheid, jy het mos nie meer tyd vir die diens van die Here nie. Jy het nie geleentheid vir 'n rustige gebed nie. Jy is mos te besig.

Jy het nie tyd om in die Bybel te lees en dit vir jouself te oordink nie. Jy is te besig. En so offer jy jou geestelike gesondheid op die altaar van jou begeerte.

Vervolgens offer jy jou relasies op. Jou relasies in die gesin. In die familie, in die vriendekring en in die gemeente. Jy het daarvoor nie meer tyd nie.

Vervolgens offer jy jou liggaamlike gesondheid op. Deur die voortdurende spanning in die jag na meer protesteer jou liggaam deur allerhande waarskuwingseine af te gee, maar jy onderdruk liewers die seine met meer rook en meer drink en meer werk.

Inmiddels het jy moontlik nog 'n offer op die altaar van Mammon gebring.

Die offer van jou goeie gewete.

Want op 'n stadium kom jy in 'n posisie dat dit steeds makliker raak om jouself te bevoordeel in finansiele sin.

En daarmee het jy dan die hoogste prys betaal.

Jy sus jou gewete dat dit nie verkeerd is wat jy doen nie.

Jy kan argumente bedink wat vir jouself aanvaarbaar klink.

Maar inmiddels staan jy nie meer vry ten aansien van hierdie gebod nie.

Jy het jou vryheid verruil vir 'n vorm van verslawing.

Werkverslawing, geldverslawing of wat ook maar.

Die grootste skade wat jy daarmee doen betref nog nie eens jou naaste nie.

Die grootste skade doen jy aan jouself.

Jy het van God vergeet. Of jy het Hom weggeskuif uit die deel van jou lewe wat oor hierdie sake gaan.

As jy so begin leef het, wat wil jy dan nog praat van die belofte van die Here?

Die belofte dat Hy as jy in Sy weë wandel sal waarborg dat jy genoeg het?

Hy het mos vir jou gesê: Ek sal jou Vader wees. Ek sal vir jou sorg dat jy nie kortkom nie!?

Waarom doen mense, ook kinders van God dit steeds weer?

Hoekom gaan so baie van hulle dieselfde paadjie?

Is dit nie omdat hulle soek na sekerheid?

Na sekuriteit in 'n onsekere wêreld.

Maar vir 'n kind van God is dit mos nie nodig nie.?

Hy het mos reeds sekuriteit. Die sekuriteit van 'n liefhebbende Vader in die hemel?

Jy is sy verloste kind.

Hy het jou tot vryheid geroepe. En daarom mag jy jou deur niks laat bind nie.

Dis hoekom die Here hierdie 8e gebod gee.

Hy sorg vir jou en daarom het jy die goed van jou naaste nie nodig nie.

Dus al waaroor dit gaan is dat ons almal moet leer om kind te wees. Dit vra natuurlik geloof. Geloof wat jy nie uit jouself het nie. Geloof wat jy net ontvang in die weg van gebed en gereelde omgang met die Here.

'n Kind is baie bevoorreg. 'n Kind hoef nie self sy inkomste te verdien nie. Hy kry die nodige. Hy hoef dit nie te steel nie. Hy kan dit net vra. Die ouers kan soms iets weier maar nie vanweë gebrek aan liefde nie, dan is daarvoor ander redes. So kan God ook iets weier wat ons moontlik graag sou wou gehad het.

God beloof vir ons sy genade.

Daarin is alles opgeneem. En dit is vir ons genoeg.

As jy dit verstaan en in jou lewe toepas dan is jy gelukkig. Want dan is jy vry.

Vry van begeerte, vry van gebondenheid aan geld en goed.

Vry van die mag van Mammon.

Vry van die sluipende angs om eendag al wat jy bymekaar gemaak het weer te verloor.

Iemmand wat hom so laat vrymaak het, die se lewe word oorheers deur dankbaarheid.

'n Gelowige wat beperkte finansiele middele het word deur God vergoed. God vergoed hom met tevredenheid. En tevredenheid word gekenmerk deur blydskap. Dit kan ons lees by die Prediker. Wie kan eet en wie kan geniet sonder God?

Aan 'n mens wat welgevallig is voor sy aangesig gee Hy wysheid en kennis en vreugde. So'n mens kan die lewe wat hy ontvang ook geniet.

Maar as jy sonder geloof in jou hemelse Vader allerhande goed op aarde versamel, onthou God vir jou die vreugde om daarvan te kan geniet. Want dan bly jy altyd 'n ontevrede mens. Dan ken jy nie blydskap en dankbaarheid nie.

Pasop daarvoor, gemeente, dat ons die dankbaarheid van verloste kinders van God tot geen prys verloor nie.

2. Hoe dankbare kinders hul geld en goed tot eer van die Vader bestee

In die inleiding het ons gepraat van die mensereg om eiendom te besit en te beskerm. Toe het ons ook bygesê: Teenoor God kan ons uit die aard van die saak nie so'n reg handhaaf nie.

In ons verhouding met God praat ons nie van ons regte nie, maar eerste van Sy regte.

Ook met betrekking tot ons geld en goed.

Ons erken die Here as die Eienaar van al wat ons het. Alles wat ons op die aarde aan goed verwerf is slegs geleende goed.

As ons dit wat meer van harte sou erken, sou ons baie minder probleme en sorge hê.

Dan sou ons met soveel groter blymoedigheid ons gawes ter beskikking stel in die Koninkryk van God.

Dit is altyd weer verbasend hoe vindingryk mense kan wees in verskonings om hul geld in hul sak te hou as dit gaan oor finansiele ondersteuning van allerhande sake. Die gerieflikste ekskuus is altyd: Ek het dit nie.

Ek kan dit nie bekostig nie.

Maar die vraag bly dan, het jy dit moontlik wel gehad, het jy jouself dalk op 'n te ruim lewenspatroon vasgelê sodat jy inderdaad niks meer oorhou nie.

Jy kry mense wat nie geld gee vir die onderhoud van die skool nie, met as argument: Ek dink nie dis nodig om 'n eie skool in stand te hou nie.

Jy kry mense wat nie gee vir skulddelging op die kerkgebou nie, met as argument: ek het indertyd daarteen gestem.

Of mense wil hul vvb nie verhoog nie, met as rede, ek stem nie saam met die uitgawes waarop die kerkraad besluit het nie.

Of jy gee nie vir die sendingwerk in Belhar nie, want jy dink dat dit op 'n ander manier aangepak moet word.

Ensovoort.

Tot wanhoop van die mense wat verantwoordelik is vir die finansies.

Natuurlik kan jy altyd wel 'n rede aanvoer hoekom jy nie hoef te gee nie.

Maar terwyl jy so besig is met redes te bedink, vra jou net af of jy daar eintlik tog nie 'n stukkie slawerny in jou lewe ingekom het nie.

Waar is jou dankbaarheid?

Of kan jy so moeilik dankbaar wees?

Wel keer dan nog 'n slag terug na die allereerste beginsels van die christelike geloof.

Jy is 'n sondaar. 'n Gebore sondaar. 'n Slaaf van allerhande begeertes.

Maar die Here het jou daarvan bevry. Hy het met sy evangelie in jou lewe gekom. Om jou te verlos.

Laat jy jou nou nog verlos of klou jy tog maar liewers vas aan jou self, aan jou eie dinge, aan jou eie sekerhede, aan jou eie lewensstyl.

Die Here Jesus wys daarop dat daar maar een plek is waar jou geld en goed veilig is. Dit is in die hemel. Maar daarnatoe kan jy dit self nie dra nie. Dit word daarnatoe gedra nadat jy dit weggegee het.

Bedink dat jy met 'n pragtige bybelse beeld 'n rentmeester is. 'n Beheerder. 'n Bestuurder.

Wel as jy goeie beheer gevoer het, as jy baie versamel het op die rekening van jou heer, dan sien jy daarna uit om aan die heer verantwoording te kan doen. Jy kan trots wees op wat jy bereik het. Hoe eerder die Heer kom hoe beter.

Maar as jy die rekening van die heer geplunder het en alles na jou eie rekening oorgebring het, dan het jy rede om die koms van die Heer mat angs en bewe tegemoet te sien.

Want jy weet terdeë: jou bestuur was nie juis ten voordele van jou heer nie.

Jy het net jouself gesoek. Wee jou, wat gaan gebeur as hy kom?

Baie mense het die idee van die lewe dat hulle daar is om soveel as moontlik te verdien om vervolgens jou self daarmee lekker te bederf.

Die Bybel hou ons iets anders voor. Ons is daar op die aarde om die Here te dien en vir Hom die eer te gee.

Sy Naam moet op aarde eer ontvang.

Dit kan ons doen deur met betrekking tot ons aardse goed ons liefde tot God en ons naaaste te wys.

As gelowiges is ons die sout van die aarde.

Daarom as ons bestedingspatroon skaars afwyk van die van die buurman wat die diens van die Here nie in die middelpunt van sy lewe stel nie, dan is daar iets grondig verkeerd.

Jy het jou laat verlos deur Christus, of nie.

Een van twee. En dit blyk ook uit die manier waarop jy met geld en goed omgaan.

In die opsig sal ons ons elke dag moet bekeer, gemeente.

Ons sal ons vandag na die preek weer moet afvra: Hoe staan dit by ons?

Blyk uit ons vrygewigheid ons dankbaarheid aan God?

Blyk uit ons beskikbaar stel van finansies dat ons heel tevrede kan wees met wat ons het?

Is ons werklik blymoedige gewers?

Is ons werklik dankbare gebruikers wat uit die hand van die Vader kan geniet wat ons ontvang?

Onthou net dit: Julle mag leef in die Koninkryk van God.

In daardie Koninkryk heers totaal ander reëls as in die wêreld.

In die wêreld raak die persooon wat sy goed weggee steeds armer.

In die Koninkryk van God word die persoon wat gee steeds ryker.

Wie in die Koninkryk van Christus vir homself versamel word al hoe armer. Totdat jy uiteindelik alles verloor.

Maar wie tydig die les van die Boek Prediker ter harte neem is 'n ryk mens. Want daar is geen groter rykdom as om 'n dankbare kind van God te wees.

Amen.

21 Junie '92

Liturgie: 

(kyk in preek)