Die verbond van God se trou beskerm jou as man of vrou

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 41
Preek Inhoud: 

13-10-91

SONDAG 41

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 51 : 2 skuldbelydenis by huweliksontrou
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 51 : 5, 6 verlange na skuldvergewing
Skriflesing: Maleagi 2 : 6-16
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 45 : 1-2, 9-10, 12-13 'n liefdesgedig vir die huwelik
Sondag 41 HK van die koning
Prediking
Sing: Ps. 128 : 1, 2
Dankgebed
Sing: Ps. 128 : 3, 4
Seën

Gemeente van ons Here Jesus,

egskeiding: 'n hartseer onderwerp. Die skade van 'n geskeurde huwelik is baie groot. Seksualiteit: 'n moeilike tema. Daar is so baie misbruik van die liggaam van man en vrou. Skade, misbruik is woorde wat gebruik moet word nádat die wysheid van die HERE so geïgnoreer is. Daar is so baie broers en susters wat hul eie skade saamdra en so baie graag die herinneringe sou wegbrand uit hul geheue. Kon ons maar 'n keer opnuut begin! Hoe kan jy terugkom by die suiwerheid en die natuurlikheid wat ons goeie God bedoel het? Is daar 'n pad om opreg oor "kuisheid" en terselfdertyd oor seksualiteit te praat? Ja, dis die mooie van die leerdiens: ons mag rustig en eerbiedig vanuit God se bedoeling dink.

In twee kort vrae en antwoorde belig die Kategismus die gebod teen egbreuk. Eintlik gaan die Kategismus daarvan uit dat die egbreuk deur God verbied is, sonder om oor die onderwerp spesiaal te praat. Die Kategismus neem altyd elke gebod as die spits van 'n hele terrein van die lewe. Die 7de gebod gaan daarvan uit dat verbreking van die huwelik nooit toegestaan is nie. Vanuit dié uitgangspunt word jou geleer na man en vrou te kyk: die twee geslagte van die mensheid in watter relasies, op watter moment hulle mekaar ook ontmoet. Twee kort vrae vir een enkele preek, terwyl ons 'n kursus man/vrou in ses keer hou.

Ons mag nou opnuut voor die aangesig van God wat elkeen sien soos hy of sy is, die fundamentele hoor: wat sy goeie wil vir jou as man en vir jou as vrou is. Wat is vandag suiwer in 'n wêreld wat net die sonde en die misbruik wys? Elkeen mag luister: u wat 'n huwelik ontvang het of jy wat nog alleen is, u wat alleen agtergebly het en julle, jongmense wat mekaar eers nou ontdek. Die Kategismus praat oor manne en vroue, seuns en dogters in die rykdom van relasies in God se wêreld. Ek preek oor:

DIE VERBOND VAN GOD SE TROU BESKERM JOU AS MAN OF VROU

Ons sien

  1. die suiwering,
  2. die verbinding,
  3. die samewerking van man en vrou.

1. DIE SUIWERING VAN MAN EN VROU

Die waarheid oor man en vrou begin by die skepping. Nee, ek kan dit nog sterker sê: die waarheid oor man en vrou begin in God se gedagtes. 'n Man en 'n vrou: die twee mense is die verwerkliking van sy ideaal. Dit is in God gebore. Dié feit waarborg die skoonheid en die suiwerheid van man en vrou. Dit is hoekom dit selfs baie natuurlik is om oor reinheid en heiligheid in hierdie verband te praat.

Ons praat nou ook oor die seksualiteit: die genieting van die liefde tussen man en vrou, die spesifieke gevoelens, die behoeftes van die manlike en die vrouelike mens. Dit is 'n pragtige tema om aan te verduidelik hoe nau die liggaamlike en die geestelike kant van die mens 'n eenheid vorm. In v/a 109 word gesê dat jou liggaam én jou siel 'n tempel vir die Gees is. Nie net die siel nie, ook die liggaam. Jou liggaam is die deel van jou mens-wees wat tasbaar, sigbaar is. Jou siel is die onsigbare, maar net so werklike deel van jou bestaan: die gedagtes, die gevoel, die verlange. In die aantrekkingskrag tussen seuns en dogters, mans en vrouens kom dit uit: daar is die sigbare, dit wat jy mooi en aantreklik kan noem. Daar is onmiskenbaar ook die onsigbare: die krag waarmee jy jou tot die ander aangetrokke voel, die gedagtes wat in jou groei. God het die mens so gemaak: met 'n tasbare liggaam om te handel en 'n geestelike lewe wat dink en voel. God het die mens baie mooi gemaak: 'n man of 'n vrou. God het die verlangens ('luste' sê die HK) net so geskep as wat Hy die met die liggaamlike, sigbare vorme van die manne- en die vroueliggaam gedoen het.

Die wêreld het baie natuurlik met 'n verbond tussen God en die mens begin. Daar was liefde van God en gehoorsaamheid by die mens. Die bondgenootskap het God met 'n egpaar gesluit: om saam met hulle die geskiedenis van lange eeue en volle jare, van besige dae en heerlike aande te begin. Dit is baie goed vir ons om daardie suiwerheid en natuurlike heiligheid ons in te dink. Ons lewe mos met besmette gedagtes, beskadigde ervarings. Daar is 'n absolute teenstelling tussen mense wat groot hartseer het om wat verlore is en mense wat nog hul romantiese drome droom. God gee jou in sy Woord die kans om "suiwer en heilig" op 'n natuurlike wyse te sien! Alles tussen man en vrou was mos deel van die natuurlike bondgenootskap met God. Hulle lewe en liefde was iets waarvan ook die Skepper geniet het.

Praat ek nou alleen vir egpare en nie vir mense wat alleen is nie? Kom ons dink aan die Here Jesus. Hy was 'n natuurlike, heilige mens wat nie deur sondige gedagtes of dade misvorm was nie. Hy sou 'n pragtige, vervulde lewe kon reggekry het. Hy sou die vrou van sy keuse gelukkig gemaak en haar ruimte gegee om haarself te ontplooi het. Hy sou van vriende en vriendinne kon geniet het. Die Heiland het egter tussen ons tipe mense in gekom: agterdogtige, hoogmoedige, owerspelige en selfsugtige mense. Sulke mense was nie in staat om Hom te ontvang nie. Op hierdie aarde kon Jesus nooit self trou nie. Dit was nie sy roeping, dit kon sy roeping hier nooit wees nie. Hy het deur ons sondes alleen sy pad moes loop. Hy het nie genieting in die liefde van 'n vrou net vir Homself gesoek, Hy het nie 'n mooie taak vir Homself in die groot maak kinders gekry nie. Sy taak was om suiwer te leef, temidde van mense wat om hul misvorming gered moes word. Hy moes eers die skepping vir mans en vrouens suiwer maak.

Ja, deur al die offers van sy lewe het Hy die gehoorsaamheid van die eerste verbond vervul. Hy het genade by die Skepper bewerk, sodat alle mense, manne en vroue, seuns en dogters opnuut by God kon uitkom. U kan by God uitkom: met u liggaam en u siel. Christus wil u dade, gebare en woorde (die tasbare) en u gedagtes en luste (die onsigbare) heilig. Hy het alle sondes op aarde gesien en juis daarom wou Hy u suiwer, sodat u weer natuurlik is! Skaam wees oor jou sondes mag nooit verhinder dat jy Hom nie soek nie. Jy mag by Hom opnuut begin! Hy ken jou lewe: van binneuit tydens sy eie lewe op aarde, van bo sedert dat Hy opnuut aan God se regterhand sit. By Hom kan jy suiwerheid soek: by Hom wat suiwerheid op aarde gewys het. Dan kan jy verstaan dat dit vir God normaal is 'n mens "'n tempel van die Heilige Gees" te noem.

Die HERE God het by Sinaï sy gebooie gegee: om die lewe in die dae en die nagte in die beloofde land te beskerm. So kon die volk die bepalings van die verbond by elke daad en enige droom in gedagte hou. So kon die lewe van mans en vrouens in alle relasies gehelp en geheilig word. Jy kom voort uit 'n huwelik, volgens God se plan: jou lewe kom voort uit dit wat God geheilig het. Sommiges leef in die huwelik, volgens God se leiding. Hoe u lewe vandag is, die Heiland wil almal suiwer met die oog op die heiligheid van die daaglikse lewe voor sy aangesig. Wat daar aan sondes was, Hy wil u uit genade suiwer maak. Dit is nie 'n droom nie, maar werklikheid!

2. DIE VERBINDING VAN MAN EN VROU

Ons het eers gepraat oor elke man en vrou in sy selfstandigheid: soos ons almal uit 'n huwelik voortgekom het en soos almal, ook getroude mense persoonlik onder God se oë lewe. Nou praat ek spesiaal verder oor die huwelik. Almal moet mos die huwelike respekteer. Dié een van jou ouers, die van jouself of die huwelik van jou naaste. Die trou van God se verbond skep mooi verhoudings op aarde. Die belangrikste verhouding is die huwelik.

Die Bybel praat ook oor die huwelik as 'n verbond. Die een man en vrou sluit saam 'n verbond. Ons vind dié omskrywing in die profesie van Maleagi [teks 2:15 opsoek]. Die profeet gesel die volk oor die praktyke van egskeiding. Die HERE neem die offers van sy volk nie meer aan nie, omdat Hy "getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond". Die "vrou van jou verbond": jy het vir die res van jou lewe beloftes teenoor haar gemaak, en jy het haar beloftes aanvaar. Daar is bewustelik 'n verbond tussen julle gemaak. Die HERE was op daardie dag getuie. Hy is ook aanwesig, Hy is ook getuie wanneer jy jou belofte sou breek. Dié uitdrukking lees ons ook in die Spreuke [teks 2:17: opsoek om met dié van Mal. te vergelyk]. Daar word die vrou wat owerspel pleeg, beskuldig: dit is sy "wat die vriend van haar jeug verlaat en die verbond van haar God vergeet" (2:17).

In die teks van Maleagi is dus die man en in Spreuke 'n vrou aangespreek. Dit weerspieël die werklikheid van manne wat hulle vrou verlaat en van vrouens wat hulle man agterlaat. Daar is nog 'n ooreenkoms wat opval: by die skuldige vrou word die man "die vriend van haar jeug" genoem, by die man wat egbreuk pleeg is sy "die vrou van jou jeug". Dit wys baie mooi op die tyd van hulle eerste liefde, die tyd waarin beloftes vanuit die wonder van die liefde gemaak word. Man en vrou bely dan dat hulle deur God self verbind is én hulle verbind hulleself aan mekaar: 'n vrywillige gelofte vol beloftes vir die toekoms. Twee ooreenkomste dus: a. die huwelik word 'n verbond genoem en b. die jare van die eerste liefde word in herinnering geroep. Daar is egter ook 'n belangrike verskil. Want in Spreuke word die "verbond", die huweliksbeloftes duidelik "die verbond van haar God" genoem! Dit is God wat dié verbond van die huwelik ingestel het. Dit is Hy wat getuie was en is. Die beloftes aan mekaar is ook aan die HERE gerig: 'belowe u voor die aangesig van God"!

Man en vrou, saam in die eenheid van die huwelik: dit is die groot lyn in die Bybel. Een man en een vrou: hulle "sal mekaar aanhang", nadat hulle die ouderlike huis verlaat en hul eie huis gebou het. Die "huis" wat gebou word, is in die Bybel altyd die lewende huis, namelik die gesin waaraan man en vrou die lewe mag gee. Na die ouderlik huis kom die eie huis; en dit is sekerlik nie die droomhuis wat jy teen groot kostes bou nie. Die HERE moet daardie huis seën. Sy gebooie wil dit beskerm. "As die HERE die huis nie bou nie ..., sê Ps. 127:1. Inhoudelik gaan dit dan oor die lewe in die huis: die werk, die kos en die kinders. Die verbinding van man en vrou moet sterker wees as die sement tussen die stene van hulle huis.

Hier lê twee redes hoekom seksuele gemeenskap voor die huwelik verkeerd is: daar is nog nie 'n verbond wat voor God se aangesig gesluit is én daar is nog nie 'n huis wat die verbinding van man en vrou beskerm nie. Nie 'n verbond en geen huis nie: onthou dit, dink, bid daaroor.

U wat getroud is, dink aan u huwelik as 'n verbond wat u vrywillig en saam in God se aanwesigheid gesluit het. Toe u liefde jong en die aantrekkingskrag groot was, het u gekies en bely dat God die keuse voor u gelei het. In dié verbond is trou 'n sterker krag, 'n meer egte liefde as wat romantiek en geluksaligheid dit is. Dié trou en dié liefde sluit mos ook die HERE in. Iemand het gesê: elke goeie huwelik is 'n driehoeksverhouding. Julle twee en die HERE! Wanneer 'n derde mens in jou huwelik inbreek, word die HERE as die eintlike derde weggeskuif. Daar lê ook 'n troos in daardie omskrywing van die huwelik as 'n driehoek: ook wanneer die een mens sy verbond verbreek, bly vir die ander die HERE. Hy bly u trou.

Die verbond van die huwelik, die liefde wat God tussen mense geskep het, is so kosbaar dat dit die geliefkoosde vergelyking van die HERE self word. Hy vergelyk sy liefde tot sy volk met 'n huwelik waarin Hy die man en Israël sy geliefde is. Die jare vanaf die bevryding uit Egipte noem Hy die liefde op die eerste blik. Dieselfde vergelyking is nou nog meer geldig: Christus se liefde is so groot dat Hy die kerk sy bruid, sy aanstaande vrou noem. Trou is 'n vorm van die liefde wat jy by God leer. Die mooi verbond van God in Christus beskerm man en vrou. Die liefde tot God verbind jou nog sterker tot liefde om te gee. Die trou van God was voor jou so sterk, Hy sterk jou trou as jy swak is. Die verbinding tussen man en vrou: Hy maak dit sterk, ook as julle saam julle swakte besef het. Twee sondaars het saam die pad vorentoe gekies. Wees dan nie verbaas as dit uitkom in watter mate julle altwee sondige, swak mense is nie.

Egbreuk is iets wat die HERE haat. U weet hoe sterk daardie woord is: "Ek haat egskeiding" (Mal. 2:16). Ons kom ons gevoelens eers agter, wanneer daar klaar onherstelbare skade is. Die HERE het egter vanaf Sinaï elke Sondag gewaarsku: "Jy mag nie egbreek nie", die 7de gebod word tot aan die jongste dag eindeloos herhaal. As die liefde en trou sterker moet wees as wat die sement tussen die stene van jou huis is, dan is God se gebooie die bouvoorskrifte. Maak jou huis nie onveilig deur die liefde te laat afbrokkel nie. Hou die verbinding lewend, pleks van droog. Dink by die sondes en swakhedes van die ander aan die HERE wat in die naam van Jesus daagliks jou swakhedes en sondes sien en dit tog vergeef.

3. DIE SAMEWERKING VAN MAN EN VROU

Ek het gesê: die genade waarin God u ontvang, gee u selfstandigheid. U is verantwoordelik voor die HERE, u is die mens wat Hy gawes gegee het. Vandaaruit gee God elkeen sy taak. Vanuit die liefde van God mag almal saamwerk op aarde.

Dit beteken is die huwelik: u mag saam die take uitvoer wat u huwelik aangaan. Die kinders wat die Here gee, is van u saam. Die opvoeding is iets waarvir u altwee tyd moet vat. Ja, in die daaglikse lewe kry elk sy eie taak. Die moederskap gee die vrou die groot taak van versorging. Sy bou die meeste die huis. Die man sal meestentyds die werk doen wat die inkomste inbring. Tog is ook dit saamwerk. Die maatskaplike feit dat hy dit is wat die geld verdien, gee hom nie 'n groter eer nie. Sy maak dit moontlik vir hom om te kan werk. Sonder haar samewerking kan hy niks nie. Die omgekeerde is ook waar: sonder die steun, die daadkrag van haar man, kry die vrou nie alleen haar gesin reg nie. Dit is die kinders van hulle saam. Die grootste is: man en vrou moet saam voor die aangesig van die Here lewe. Die lewende geloof deur die Heilige Gees is in hulle huis 'n gesamentlike verantwoordelikheid. Twee mense, twee natuurlike tempels vir die Gees, net wanneer altwee die genade soek.

Vanuit die genade kry elkeen ook sy eie taak in die kerk en ten opsigte van die naaste. Ook daar is samewerking: met ander mense wat die Here geroep het om Hom te dien. En daar, in al die ander relasies tussen mense, moet opnuut die gebod van die HERE sterk wees. Orals waar mans en vrouens, seuns en dogters mekaar ontmoet, sal daar respek vir die ander moet wees, ook respek vir die ander wat God ook as man of vrou geskep het. Daar is baie ontmoetings tussen mense van dieselfde en die ander geslag. Dan speel dade, gebare en woorde 'n groot rol in die kommunikasie. Dan is daar die gedagtes en luste wat enige mens beïnvloed. Dit alles kan geseënd gebruik word: wanneer elkeen daarvan bewus is dat die Gees jou dade, gebare en woorde opmerk. Die Gees sal jou gedagtes en verlangens moet regeer.

Kom ons dink weer aan Jesus, ons Here. Hy het alleen geleef en alleen gely. Dit beteken twee dinge beteken: sy eensaamheid én sy selfstandigheid. Oor die eensaamheid van sy lewe het ons al by punt 1 gepraat. Ook sy selfstandigheid is belangrik: sy krag het Hy in God gesoek. Die verlossing wat Hy bewerk het, raak eerste jou in jou selfstandigheid teenoor God. Jy, soos net die Skepper en niemand anders jou sien en ken, mag uit genade voor sy aangesig lewe. Jy is gekies en geroep soos die vrou of die man wat God jou gemaak het. Aanvaar uit sy hand dan ook jou eie lewe, jou eie aard, jou eie liggaam. Die unieke persoon wat Christus wil suiwer maak. Die verlossing wat Hy in sy eie krag bewerk het, raak dan ook die relasies waarin jy mag lewe. Dit is baie waar vir u wat 'n huwelik van die HERE gekry het, maar net so vir elkeen wat op sy eie moes bly. Die genade vir jou maak jou 'n selfstandige en waardevolle mens: vir God, vir jouself en vir al die naastes wat God in jou lewe 'n plek gegee het. So mag jy soek om natuurlik en heilig te lewe in alle kontakte wat daar mag wees.

As jy die Heilige Gees ken, sal jy ontdek wat heilig is. Dit is nie onnatuurlik nie, dit is baie natuurlik en baie veilig en baie mooi. Hy sal dit vir jou in jou omstandighede wys, as jy met jou hele liggaam en siel Hom liefhet. Dan sal Hy, die Gees, jou help om jou verlangens en jou dade, jou gedagtes en jou gebare in die geloof te beleef.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)