Eerbied vir die Here moet blyk uit die gebruik van Sy Naam

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 36
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 36 H.K.

LITURGIE:
L. Exodus 3: 1-15
Ps. 105: 1, 2
Ps. 105: 3
Ps. 135: 1, 6, 7, 8
Ps. 75: 1
Ps. 113: 1

Broeders en susters,

'n Naam is 'n kwesbare ding. Jy kan dit op verskillende maniere gebruik: jy kan 'n naam hooghou - jy kan 'n naam ook deur die slyk haal.

Jy kan 'n naam met ere vermeld - jy kan 'n naam ook doodswyg.

Jy kan vir 'n naam reklame maak - jy kan 'n naam ook bespotlik maak en op borde en spandoeke saamdra in 'n protesdemonstrasie.

Dit wat jy met 'n naam maak het alles daarmee make hoedat jy teen die draer van daardie naam aankyk. Die naam staan mos vir die persoon. So funksioneer by ons 'n naam: met 'n naam kan jy iemand roep en sy aandag vra; deur die naam kan jy jou iemand voor die aandag roep en sy persoon voor die gees haal. Die naam roep die persoon op. En die hele geskiedenis wat aan daardie persoon verbonde is

En as jy nou daardie persoon hoogag - dan sal jy ook sy naam hooghou. Maar minag jy daardie persoon - dan sal jy ook sy naam neerhaal.

Die God van die hemel en die aarde het ook 'n Naam aangeneem, broeders en susters. Ons kan ook sy Naam op die lippe neem, in boeke en blaaie skryf, op spandoeke saamdra.....

En dus het God Hom ewe kwesbaar soos ons almal wat 'n naam dra, opgestel. Maar wee die mens wat God se Naam nie slegs met vrees en eerbied gebruik nie! Wee jou, as jy dit waag om met God se Naam te spot, om sy naam deur die slyk te haal. Wee jou, ook as jy sy heilige Naam onnadenkend en agteloos in die mond neem. Ja, wee jou, selfs as jy deur stil te bly of dit toe te laat jou aan sulk oneerbiedige gebruik van God se heilige Naam mee skuldig maak.

So klink die waarskuwing uit die mond van die HERE self in die derde gebod van sy Verbondswet, waarna ek vanmôre met u moet luister.

Ek kan die inhoud van die derde gebod so saamvat:

EERBIED VIR DIE HERE MOET BLYK UIT DIE GEBRUIK VAN SY NAAM

  1. ONS MAG DIE HERE IN SY NAAM NABY WEET
  2. ONS MOET DIE HERE NOU OOK IN SY NAAM NABY WEET

1. Ja, 'n naam is 'n belangrike kommunikasiemiddel, gemeente. 'n Naam oorbrug afstand en gee jou houvas aan die persoon. Selfs as jy die persoon nie sien nie, is die noem van sy naam genoeg om te weet oor wie dit gaan.

Dis diè dat God ook 'n naam aangeneem het. Om ons aan Hom houvas te gee. Om kommunikasie met Hom moontlik te maak. Hy die Onsienlike, wat 'n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, het nogtans in ons lewe binnegekom en sy Naam as 'n realiteit op ons lippe gelê. Want Hy wil 'n God van naby wees, 'n lewende werkelikheid in ons lewe van aldag. Hy wil by ons woon en met ons wandel.

U onthou van verlede Sondag: dis nie nodig dat ons daarvoor eers 'n aantal rituele handelinge uitvoer nie. Soos die heidene wat hulle afgode deur middel van beelde binne bereik wil kry. Ons hoef nie van ons kant 'n kommunikasiemiddel in te stel waardeur die HERE Hom aan ons kan openbaar nie. 'n Tipe van 'n kragdraad en 'n skakelaar om die onsigbare en gevaarlike hoogspanning van God onder beheer te kry. Ons mag dit selfs nie! Die HERE haat enige poging om Hom onder beheer te kry. Hy beskou dit as 'n misdaad. Ons hoef Hom nie na ons toe te haal nie. Hy kom self wel na ons toe. Ja, Hy is lankal in ons lewe aanwesig, al voordat ons daarvan bewus was. En Hy is nie 'n ongrypbare mag wat ons in hande en onder beheer moet probeer kry nie. Maar Hy is 'n Vader wat ons onder sy hande laat groei het en sindsien in sy hande en onder sy beheer hou. Hy benodig geen rituele manipulasies om in ons lewe te kan binnekom nie, maar Hy vra geloof dat Hy lankal in ons lewe binne is. Hy verlang dat ons hoor na sy Woord en gehoorsaam is aan sy Woord.

Daarom het Hy ons niks sigbaars en tasbaars om met Hom te kommunikeer in die hande gegee nie. Hy verbied dit selfs. Want met so'n sigbare en tasbare kommunikasiemiddel sal ons tog sommer meen ons het Homself daarmee nou in hande en in ons diens, aan ons ondergeskik, van ons afhanklik.

Hy het ons net sy Naam in die mond gegee. Sy Naam mag die enigste kragdraad wees waardeur sy goddelike hoogspanning in ons lewe voelbaar word. Sy Naam wat ons kan aanroep so dikwels ons maar wil. Sy Naam, wat ons leer dat Hy nie, soos die afgode van die heidene, 'n God van ver wat telkens opnuut binne bereik gebring moet word, is nie. Maar dat Hy, die enigste ware God, die Lewende, altyd 'n God van naby is.

As Moses in Deut. 4 aan die volk Israel voorhou dat hulle nie moet probeer om die HERE soos die heidenvolkere deur middel van allerhande sigbare voorwerpe naby te kry nie, sê hy in vs. 7: "Want watter nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? "

En die HERE hou dit self ook aan sy volk voor in Psalm 50 as hulle meen dat hulle met 'n ywerige offerdiens Hom binne bereik kan hou: "Offer dank aan God" m. a. w. probeer nie om deur offers af te dwing dat God iets vir jou gaan doen nie, maar bring offers uit dankbaarheid vir alles wat God alreeds vir jou gedoen het. En as jy My hulp benodig: moenie dat jy dit deur offers probeer regkry nie: "Roep My aan in die dag van benoudheid; Ek sal jou uithelp en jy moet My eer".

Ons hoef maar 'n kik te gee, en ons sal ervaar dat Hy daar is.

Die hele wêreld spreek van sy reeële aanwesigheid. Sy Naam is op alle wande van hierdie wêreld geskryf. Die natuur, ons eie lewe, die geskiedenis- die hand van die HERE is daarin. "O HERE, onse HERE, hoe heerlik is U Naam op die ganse aarde!"

Ja, sy Naam self sê dit mos al vir ons. Is God se naam nie: JAHWE nie? Wat in ons Bybelvertaling deur HERE met almal hoofletters weergegee is. Die Naam wat beteken: "Ek is wel deeglik daar!"

Ons het gelees hoekom die HERE juis hierdie Naam aan Moses saamgegee het Egipte toe: Moses mog aan die Israeliete in Egipte gaan vertel dat die God van hulle vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob, die ellende van sy volk gesien en hul jammerklagte gehoor het, ja, hulle smarte ken. En dat Hy daarom nou sy volk uit die hand van die Egiptenaars sou verlos om hulle in die land Kanaän terug te bring.

Maar Moses is bekommerd dat die kinders van Israel, as hy sal sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, dadelik sal reageer: Hoe is sy naam? En Moses bedoel daarmee: hulle sal vir my vra: wat beteken sy naam nog vir ons? Hy het nie so'n beste reputasie nie. "Die God van Abraham, Isak en Jakob"- bestaan Hy feitlik nog wel? Daardie God het wel mooie beloftes aan ons vaders gegee, maar wat sien ons vandag van daardie beloftes?? Ons word jare lankal hier in Egipte gekwel. Ons kinders word vermoor. Watter God is dit? Hy het nie bepaald naam gemaak nie! Ons het sy naam nie so hoog meer nie.

En dàn gee die HERE vir Moses die Naam JAHWE in die mond, wat in ons Bybels vertaal is met: EK IS WAT EK IS. Die Hebreeuse werkwoordsvorm wat gebruik is, lê 'n swaar aksent op die woordjie "daar wees". Ek vertaal daarom liewer met: EK IS WEL DEEGLIK DAAR! Die Israeliete mag dalk dink dat die God van Abraham, Isak en Jakob nie meer bestaan nie, of van hulle vergeet het, of hulle in Egipte nie meer kan bereik nie, maar dan sal hulle nou agterkom dat Hy nog wel deeglik daar is. En dat Hy sy beloftes hoegenaamd nie vergeet het nie. Inteendeel, God sal nou in aksie kom en die land Egipte van van sy aanwesigheid dawer. Die HERE sal sy Naam eer aandoen.

En Hy het sy Naam eer aangedoen! Hy het deur sy plae oor Egipte en die verlossing van Israel 'n Naam gemaak tot ver in die omtrek, sodat 40 jaar later Ragab in Jerigo nog vir die verspieders sê: "Die skrik vir julle het alreeds op ons geval en al die inwoners van die land beef vir julle. Want ons het gehoor wat die HERE alles vir julle gedoen het in Egipte en daarna. Want die HERE julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder!"

Die Israeliete self het dit dikwels nog nie raakgesien nie hoeseer die HERE sy Naam waarmaak nie. In die woestyn, en later ook dikwels in die land Kanaän, het hulle die HERE versoek. En "versoek" beteken: jy glo nie dat die HERE aanwesig is en jou sal help nie. Jy twyfel aan sy nabyheid. Soos ons byvoorbeeld lees van die ontevredenheid en opstandigheid van die volk by Massa en Meriba; dan sê die Bybel: Hulle het die HERE versoek deur te sê: Is die HERE in ons midde of nie? Maar hulle twyfel was nie God se skuld nie. Dit was maar net hulle eie kleingeloof en ongeloof.

Moet ons vandag nog daaraan twyfel of die HERE in ons midde is, as 'n God van naby, broeders en susters? Moet ons nog onsself afvra of die betekenis van die Naam JAHWE wel werklikheid is?

As ons terugkyk op al die eeue wat sinds die uittog uit Egipte gevolg het, moet ons tog erken dat die HERE 'n geweldig indrukwekkende reputasie opgebou het. Hy het tenslotte sy Eniggebore Seun in die wêreld gestuur om sy naam aan die mense te openbaar. Ons Here Jesus Christus het in sy Persoon en werk ons daarvan kom oortuig hoeseer sy Vader 'n God van naby is, 'n God wat by die mense wil woon. Jesus van Nasaret is die bewys dat dit is: IMMANUEL, GOD MET ONS. Sy Naam is sindsdien dan ook onlosmaaklik met die Naam van sy Vader verbonde. Ook Hy het nou 'n Naam bo alle naam ontvang.

Maar die Naam moet ons dan ook genoeg wees. Want meer as 'n Naam gee God ons van Homself nie in beheer nie. Nog altyd is dit: elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word.

U ken natuurlik hierdie woorde, gemeente. Dit loop soos 'n refrein deur die Bybel. So word die eerste publieke erediens van God se kinders aangedui, alreeds in Gen. 4: "Toe het hulle die Naam van die HERE begin aanroep". Want dit was vanaf die begin die verskil tussen die kultus van die heidene en die erediens van God se volk: God se kinders het slegs 'n Naam gehad. Die Naam van hulle God. Maar diè Naam was 'n reputasie. Diè Naam het boekdele gespreek. In die Naam was God self vir hulle 'n lewende werkelikheid. En so dikwels hulle sy Naam aangeroep het, het hulle hulself aan Hom uitgelewer, hulleself aan Hom toevertrou. En het hulle baie konkreet ervaar dat elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, gered word.

Maak ons vandag nie nog presies dieselfde nie, broeders en susters? Hoe begin ons elke erediens? "Ons hulp is in die Naam van die HERE, wat die hemel en die aarde gemaak het". Ons roep die Naam van die HERE aan. En dan weet ons op daardie selfde oomblik almal oor wie ons praat. Maar dan is die HERE op daar dieselfde oomblik ook met sy hulp by ons aanwesig! Al is daar maar twee of drie in sy Naam byeen, daar is Hy in hul midde. Hy, soos ons Hom uit 'n lange kerkgeskiedenis en uit ons eie lewensgeskiedenis leer ken het. Hy met sy hele reputasie: JAHWE, Ek is wel deeglik daar!

2. Maar as die HERE dan so in sy Naam naby ons is, verstaan u ook, gemeente, hoeseer dit die HERE kwes as sy heilige Naam sommerso in die mond geneem word. Sonder enige vrees en eerbied. Daaruit blyk mos 'n miskenning van sy reputasie. Of selfs 'n brutale veragting daarvan. 'n Openlike ontkenning van sy bestaan.

Dit gebeur as mense met die HERE spot, sy Naam as 'n vloekwoord in die mond neem en, as hulle daarop aangespreek word, dit met 'n grynslag nog 'n keer ekstra doen. Dit gebeur by diè mense wat die Naam van God of van ons Here Jesus Christus tot 'n stopwoord gemaak het. U verstaan tog wat daaragter steek, broeders en susters? Hoekom durf hulle so onbekommerd en brutaal met God se heilige Naam omspring? Omdat hulle die betekenis van hierdie Naam nie ken en glo nie. Hulle glo nie dat God werklik daar is nie. En dus is hulle nie bang vir Hom nie en het hulle geen ontsag vir Hom nie. Met iemand vir wie jy ontsag het, spot jy nie! Maar God en Jesus Christus is vir hulle nie meer as name nie, sonder inhoud, sonder reputasie, fantasiefigure uit die christelike tradisie.

Mens kan die HERE nie meer kwes as deur so te maak nie. Geen sonde is groter en vertoorn God meer as die brutale lastering van sy Naam en die veragting van sy reputasie nie.

Ons sal nie so gou opsetlik vloek nie. Nogtans kan ook in ons gebruik van die Naam van die HERE al hoe meer die eerbied en die ontsag verdwyn. Die Naam van die HERE kan ons so vertroud op die ore val dat ons dit toenemend in die mond neem sonder om nog daarby na te dink oor Wie ons praat. Soos 'n beeld van God sommer tot 'n gebruiksvoorwerp kan word, 'n ding waarmee jy al hoe nonchalanter begin omspring, so kan ook die Naam van die HERE in ons daaglikse en kerklike gebruik tot 'n gebruiksvoorwerp word waarvan die waarde devalueer, omdat ons al hoe minder nog besef wàt ons doen. Omdat ons al hoe minder bewus daarvan is Wie daar in hierdie Naam meekom.

Dit kan gebeur op dieselfde oomblik wat hier vanaf die kansel die derde gebod aan u voorgehou word: "Jy mag die Naam van die HERE nie ydellik gebruik nie..... " Dit gebeur as ek as voorganger die wet voorlees sonder dat ek met my gedagtes daarby is; net uit sleur. Ek ken die wet mos omtrent uit my hoof.

Dit gebeur as u, terwyl die verbondswet aan u voorgehou word, glad nie luister nie -u het die wet mos al so dikwels gehoor- maar u gedagtes na van alles laat wegdwaal.

So kan ons teen die derde gebod sondig tydens die preek, ek al by die voorbereiding daarvan in die studeerkamer en daarna ook by die bediening daarvan hier op die preekstoel, en u op u plekkie in die kerkbank: die Naam van die HERE word veelvuldig gebruik, maar sonder verwondering en ontsag by die spreker sowel as by die hoorders.

Ons Psalmgesang kan 'n oneerbiedige gebruik van die Naam van die HERE word, as ons gedagteloos dit wat opgegee is, sing.

'n Gesprek tydens 'n huisbesoek kan misbruik van God se Naam word, as daar nie van hart tot hart oor ons lewe met die HERE gepraat word nie, maar die gesprek slegs van weerskante met vroomklinkende pligplegings aan die gang gehou word.

'n Katkisasieklas kan in sonde teen die derde gebod ontaard, as die dominee en sy katkisante pligmatig die uurtjie volmaak en die voorgeskrewe les afwerk, sonder enige verwondering en ontsag vir Hom oor Wie elke Sondag van die Kategismus spreek.

U daaglikse Bybellesing by die huis staan bloot aan hierdie gevaar en selfs u gebed kan soseer 'n sleur word dat u maar net altyd dieselfde sinne aanmekaar ryg, terwyl u met u aandag heeltemal êrens anderste is.

Ons kan bepaalde woorde in ons woordeskat opneem waarvan ons die betekenis nie eers meer raaksien nie en hulle dus te pas en te onpas in die mond neem. Soos: "halleluja", wat tog niks anders as "loof die HERE" beteken nie. Of: "A Dieu", daardie mooie afskeidsgroet uit die Franse taal, wat nie net "vaarwel" of so iets beteken nie, maar "Ek dra jou aan God op!".

Nog erger word dit as ons die Naam van die HERE skynheilig in die mond neem: ons praat baie vroom oor die HERE, maar ons stry onderwyl vir ons eie eer en ons eie sakies in die kerk. Of ons ignoreer die vermaan van die ampsdraers, kies ons eie koers, maar meen onderwyl dat ons nog altyd die naam van die HERE kan aanroep un gebed.

Ook met al hierdie voorbeelde kwes ons die HERE, broeders en susters. Omdat uit die gebruik van sy Naam blyk dat ons nie meer te volle bewus daarvan is nie, Wie die Draer van hierdie Naam is. Omdat die betekenis van hierdie Naam: EK IS WEL DEEGLIK DAAR, vir ons blykbaar geen lewende werklikheid meer is nie.

Die HERE het die derde gebod daarom ook bewus so breed moontlik geformuleer. Hy verbied nie net dat ons vloek, spot of laster nie. Hy verbied nie alleen misbruik van sy heilige Naam nie. Hy verbied enige ydele gebruik van sy Naam, enige gebruik sonder rede of sonder dat daarby nagedink word. Mens sou die teks van die derde gebod dalk die beste so kan vertaal: Jy mag die Naam van die HERE jou God nie sommer gebruik nie.

Eerbied en ontsag verwag die HERE. Omdat ons Hom self in sy Naam naby weet. In al sy heiligheid.

Ja, ons moet selfs bewus daarvan wees dat die HERE so naby ons gekom het, dat Hy sy Naam, sy hele reputasie regstreeks aan ons lewe verbonde het! By ons doop het die Drieenige God sy Naam onlosmaaklik aan die naam van 'n mensekind verbonde. En nou draag ons die Naam van die HERE altyd en orals saam met ons.

Maar nou kan dus ook God se heilige Naam om ons ontwil gelaster word. Ons lewensstyl, ons woorde en dade kan so wees, dat daardeur die reputasie van die HERE teenoor buitenstaanders geskaad word. Omdat hulle in ons lewe glad nie kan agterkom dat ons naby God en Hy naby ons leef nie.

Die HERE verwag juis dat ons sy reputasie hooghou. Dat ander mense uit ons hele lewenshouding kan agterkom Wie die HERE, die God van ons doop is.

Daarom moet ons sy eer ook openlik verdedig teenoor al die lasteraars, spotters en huigelaars wat sy Naam deur die slyk haal, of eenvoudig doodswyg. Ons kan dit nie stilswyend aansien dat onder 'n afgedwaalde christendom vandag die Naam van ons God op allerlei maniere misbruik en aan feitlik heidense sake verbonde word nie. Ons kan ons nie afsydig hou van dit wat ander mense met die Naam van die HERE doen nie. Omdat ons weet Wie die HERE is. Ons laat ons God mos nie sommer belaster of ignoreer nie?

Eer is teer, en seker die eer van die HERE moet ons ter harte gaan.

Want ons ken Hom, in sy goedheid en genade. Maar ook in sy toorn! En wee elkeen wat die Naam van onse God sonder ontsag in die mond durf te neem. Hy sal agterkom dat hierdie naam darem meer as net 'n naam is. Dat die reputasie van hierdie naam nie ten onregte is nie: HY IS WEL DEEGLIK DAAR. Wie dit nie wil glo nie, sal dit ondervind. Hy sal daar wees. In sy toorn.

Sy Naam is vreeslik, hoog verhewe
Hom vrees is wysheids-aanbegin.
Kom wandel dan diè heilsweg in!
Sy Naam sy ewig lof gegewe.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)