Eer is teer, sekerlik van die Heer

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 36
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 36 H.K.

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 113: 1, 2
Gebed
L. Levitikus 24: 10-16 & Mattheüs 7: 15-23
Ps. 52: 4
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis of Ps. 46: 6
Gebed
Kollekte
Ps. 135: 1, 8

Broeders en susters,

"Eer is teer", sê ons weleens.

Ons bedoel daarmee dat 'n mens se eer en goeie naam nogal kwesbaar is. Die mense kan almal met liefde en respek oor jou praat, maar daar hoef maar net een persoon te wees wat fluister-fluister begin slegpraat van jou, of jou eer is aangetas. En as niemand dit keer nie, word jou naam binnekort deur die modder gesleep.

"Eer is teer"- met daardie uitdrukking waarsku ons daarom mekaar om versigtig te wees met die naam van ons naaste. Dit mag nie ons skuld wees as daar mense is wat iemand begin slegmaak nie. Ons moet juis sy eer en goeie naam so veel as moontlik beskerm en hooghou.

"Eer is teer"- so ervaar ons dit ook m. b. t. ons éie eer en goeie naam. Ons is almal nogal eergevoelig. Ons is baie sensitief oor hoe mense oor ons praat. Praat hulle met waardering oor my? Of kom jy agter dat hulle liefs nie te veel oor my wil sê nie? Hulle skinder tog nie agter my rug nie? !

Ons is taamlik liggeraak as ons die gevoel het dat 'n ander slegpraat van ons. Ons eer is teer!

Maar hoe teer is dan die eer van die HERE! As daar een sensitief is vir die gebruik van sy Naam, is dit wel die HERE. Ja, u mag die HERE ook "eergevoelig" noem, gemeente. Want daar is niemand meer gespits op die eer van sy Naam nie as die HERE. Hy het hierdie hele wêreld geskep tot eer van sy Naam. Hy het ons, mense, tot sy kinders aangeneem sodat ons sy Naam sou verheerlik. En regdeur die geskiedenis was die HERE besig om Naam te maak.

As dit vir ons al onverdraaglik is dat andere mense slegpraat van ons, hoeveel te meer moet dit dan vir Hom, die HERE, onverdraaglik wees!

Ons gee dikwels self aanleiding dat die mense oor ons begin skinder. Maar die HERE nooit en te nimmer.

Nogtans word selfs sy Naam deur talle mense met spot of minagting gebruik en deur die modder gesleep. Ja, ook ons kan ons daaraan skuldig maak!

Daarom roep die HERE ons, sy kinders, elke sondag op om bewus te wees daarvan dat ook sy eer teer is. Ons moet versigtig met mekaar se naam en goeie eer wees. Maar ons moet nog veel meer versigtig met die Naam van ons God en Vader wees.

Ook vanaand, deur hierdie preek, wil die HERE ons weer daarvan bewus maak.

Want my boodskap is:

EER IS TEER, SEKERLIK VAN DIE HEER

In vier punte wil ek daarvan iets sê:

  1. DIE HERE NEEM MINAGTING VAN SY NAAM HOOG OP
  2. DAAROM MOET ONS IN HIERDIE WêRELD SY NAAM HOOG HOU
  3. MAAR ONS MOET ALLEREERS IN ONS EIE LEWE SY NAAM HOOGAG
  4. WANT SY NAAM IS HOOG VERHEWE

1. "Omdat die oordeel oor 'n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen", het die Prediker gesê.

Ons kan dié waarheid ook maar op die misbruik van die Naam van die HERE toepas. Sênou dat elkeen wat vloek, direk dood sou neerval. Daar sou ongetwyfeld heelwat minder gevloek en die spot gedrywe word met God se heilige Naam.

Maar noudat dit lyk asof die vloeker ongestraf sy gang kan gaan, het vir baie mense die misbruik van God se Naam die gewoonste saak van die wêreld geword. Ja, daar is mense wat opsétlik die Naam van die HERE deur die slyk haal. Meestal is dit afvallige christene wat by die Naam van die HERE grootgemaak is, maar later hul rug vir die HERE gedraai het. Mens sou verwag dat hulle na hul openlike breuk met die HERE en sy kerk eenvoudig die Naam van die HERE nie of skaars meer sou noem. Hulle glo mos nie meer in sy bestaan nie.

Maar inderwaarheid ontketen sulke mense meestal juis 'n lasterkampagne teen die HERE. Dit is asof hulle nooit meer heeltemal van Hom kan loskom nie en nou hul gewete probeer oorskreeu deur in felle haat die Naam van die HERE te beswadder.

Die filosoof Friedrich Nietszche was so'n persoon. En jy kry dieselfde by bepaalde moderne romanskrywers. Maar ook by politici en kabaretartieste wat dit by hul optredens nie kan nalaat om die HERE en sy kerk op die een of ander manier belaglik te maak nie.

Dis opvallend dat ons so'n reaksie feitlik maar net by afvallige chrístene raakloop. Mense wat met die Mohammedanisme of die Boehddisme breek, maak nie so nie. Tog is dit wel verstaanbaar: Allah en Boehdda bestaan nie. Maar die HERE is 'n lewende werklikheid en niemand kry dit reg om Hom heeltemal uit sy lewe uit te ban nie.

Uit hul spot en laster spreek háát teen die HERE. Hulle minag Hom.

Maar hulle is nie meer bang vir Hom nie. Vrees en ontsag is daar nie meer nie. Die HERE straf jou mos tog nie, al belaster jy Hom ook hoe.

Dié misvatting, dat die HERE die misbruik van sy Naam ongestraf laat bly, is ongetwyfeld ook die rede daarvan dat baie mense wat nie opsetlik die HERE wil slegmaak nie, nogtans sy Naam te pas en te onpas in die mond neem. Selfs by heelwat christene het God se Naam en die Naam van ons Here Jesus Christus 'n stopwoord geword. Hulle is nie eens bewus daarvan wat hulle sê nie! En hoeveel boeke is daar waarin jy om die ander bladsy die Naam van ons God as 'n kragterm raakloop.

Straf God die gevloek en gespot regtig nie meer nie, gemeente?

Ons het vanaand Levitikus 24 gelees. Uit daardie geskiedenis met die seun wat die brutale moed gehad het om God in sy eie laer in die gesig te vat, word dit baie duidelik hoe hoog God hierdie sonde opneem.

Daardie seun in Lev. 24 was 'n halfbloed: sy ma was wel 'n Israelietiese vrou, maar sy pa was 'n Egiptenaar. Hy het nie eintlik by God se volk behoort nie en mog ook nie in Israelse laer woon nie. Tydens Israel se reis deur die woestyn na Kanaän het 'n hele groepie van sulke mense saamgetrek, maar hulle moes in 'n aparte laer langs die Israeliete bly. "Vreemdelinge" word hulle in die Skrif genoem.

Moes so'n vreemdeling ewe swaar gestraf word as 'n Israeliet? Kan jy 'n seun met 'n goeddeels heidense agtergrond die lastering van die HERE se Naam ewe swaar aanreken as 'n verbondskind wat in die kerk grootgeword het? Moses het nie mooi geweet nie, en het oor hierdie geval eers aan die HERE raad gevra. Maar die HERE is onverbiddelik (kyk vs. 16: ) "Wie die Naam van die HERE laster, moet sekerlik gedood word. Die vreemdeling net soos die kind van die land- as hy die Naam laster, moet hy gedood word. "

Geen sonde is groter en vertoorn God meer as die lastering van sy Naam nie.

Daardie geskiedenis van Lev. 24 het lank terug plaasgevind. Maar wat dit aanbetref het die HERE niks verander nie, broeders en susters.

Dit mag dan so wees dat Hy vandag nie meer 'n vloeker direk dood laat neerval nie, Hy laat sy gevloek egter geensins ongestraf bly. Hy stel vandag sy straf maar net uit vir die groot oordeelsdag wat kom. Maar uitstel is nog nie afstel nie. Vreeslik sal dit eendag wees om in die hande van die lewende God te val!

2. Dalk sal u nie so gou self vloek nie. Alhoewel, in 'n vreeslike drifbui......

Maar die gevaar bestaan wel dat ons aan die belediging van ons God gewoond raak. Jy hoor partymaal dat mense sê: by ons by die werk word daar soveel gevloek- ek skrik lankal nie meer daarvan nie. Ek hóór dit nie eens meer nie.

En hoeveel sou daar onder ons wees wat regtig nie meer 'n boek eenkant lê as hulle agterkom dat in daardie boek God se Naam misbruik word nie?

Maar as ons daarvan nie meer skrik nie, vrees ons dan die HERE nog wel? !

Ons weet mos dat die HERE Hom eweseer vertoorn oor elkeen wat die lastering van sy Naam nie sover moontlik teëgaan en verbied nie.

Ook dit het Hy alreeds in daardie geskiedenis van Levitikus 24 duidelik gemaak. Daar was 'n hele aantal mense wat daardie halfbloed seun hoor vloek en laster het. Hy het mos in geveg geraak met 'n Israelitiese man. En by vegpartye versamel daar altyd dadelik 'n hele klomp toeskouers.

Toe daardie seun op so'n gruwelike wyse God se Naam deur die modder gesleep het, het die omstanders wel so geskrik dat hulle ingegryp het en hom na Moses toe saamgeneem het.

Maar as die HERE vervolgens aan Moses laat weet, dat hierdie seun gestenig moet word oor sy sonde, betrek die HERE nadruklik al daardie omstanders in die uitvoering van die vonnis. Voordat die vloeker gedood word, moet almal wat sy belediginge aan God se adres gehoor het, hul hande op sy kop lê. Verstaan u daardie simboliese gebaar? As God se Naam belaster word, kan niemand neutraal bly nie. Almal wat die lastering gehoor het, word nou gedwing om hul houding te bepaal. Stem hulle saam met die vloeker? Of verwerp hulle hartgrondig sy laster? Deur hul hand op die kop van die vloeker te lê, lê die getuies die verantwoordelikheid op homself terug. Hulle neem afstand van dit wat hul gehoor het en pak die skuld op die vloeker se kop alleen.

Die blote hóór van 'n vloekwoord maak jou voor God dus alreeds skuldig, gemeente! Want dit is vir die HERE eweseer onverdraaglik dat ons aan die misbruik van sy heilige Naam gewoond raak. Ons moet daarvan net so skrik soos Hy. En daarvan nadruklik afstand neem.

In die Ou Testament moes die getuies saamwerk aan die dood van die vloeker. Elkeen moes 'n klip na hom gooi.

Dit vra die HERE vandag gelukkig nie meer van ons nie. Ons mag juis aan sy bekering saamwerk. Ons mag iemand wat God se Naam misbruik, nog waarsku en probeer bewus maak daarvan Wié se Naam hy in die mond geneem het.

Ek weet, broeders en susters, dis dikwels maar 'n moeilike ding, om vir ander mense te laat besef hoe 'n ernstige sonde die misbruik van God se Naam is. Ons is maar skaam, bang dat ons uitgelag sal word, of dat die mense kwaad vir ons word..... Kan jy jou meerdere teregwys as hy vloek? Mag jy as 'n gewone soldaat jou sersjant of offisier berispe as hy God se naam as 'n kragterm gebruik? Is dit gepas om as leerling jou onderwyser daarop te wys dat hy 'n sonde doen waarop die HERE die doodstraf gestel het?

Eer is teer, en sulke mense sal waarskynlik danig in hul eer gekrenk voel.

Maar die eer van die HEER is meer, en daarom verwag Hy van ons dat ons allereers sy Naam hoog hou in hierdie wêreld.

Ook as iemand nie wíl luister nie en hom bloedig vererg oor ons teregwysing, mag ons nie swyg nie. Ons kán nie swyg nie, want dan staan ons self mee skuldig aan daardie misbruik van God se Naam. Dis in hierdie geval beter om jou die toorn van jou meerdere op die hals te haal, as om jou die toorn van die HERE op die hals te haal. Jy kan beter jou werk verloor as sy guns verspeel.

Natuurlik is dit belangrik om die regte toon aan te slaan as ons iemand anders op sonde teen die Derde Gebod moet wys. Jy kan dit op so'n manier doen dat die ander nog twee keer so hard begin vloek en spot. Ons sal 'n vindingrykheid moet ontwikkel om die Naam van ons God op so'n wyse te verdedig, dat mense hul begin skaam en na ons wil luister. Daarom is dit nie genoeg om net ons mond oop te maak as ons 'n ander hoor vloek of spot nie. Ons sal by elke geleentheid wat daar is, die Naam van ons God moet hoog hou.

Die Jode het uit die geskiedenis van Lev. 24 die afleiding gemaak dat ons die Naam van die HERE glad nie in die mond mag neem nie. U sal 'n Jood nooit die Naam HERE of JAHWE hoor uitspreek nie. Hy gebruik altyd 'n omskrywing.

Natuurlik het die HERE dit nie bedoel nie. Inteendeel, Hy wil juis hê dat sy Naam deur ons bely, aangeroep en geprys word, soos die Kategismus tereg sê.

Moet maar kyk in die Psalms hoe dikwels God se Naam daar vrymoedig genoem word; en hoe ons, ja alle volke, opgeroep word om hierdie heilige Naam te loof en te prys.

Daar is vandag ook chrístene wat die neiging het om die noem van die HERE se Naam maar so veel as moontlik te vermy. As hulle met jou oor die weer praat, die reën en die droogte en so meer, weet hulle baie van "die natuur", maar jy sal hulle die Naam van die HERE nie hoor noem nie. Of hulle gesels oor die ontwikkelinge in die wêreldpolitiek en hulle weet baie van president Bush, van Gorbatsjov, van Staatspresident De Klerk en die ANC, maar die Naam van die HERE kom glad nie ter sprake nie.

Ook dan verwag die HERE dat ons daarteen in verset kom, broeders en susters. Ons wat Hom ken in al sy grootheid goedheid mag ook dit nie stilswyend toelaat nie. Ook dan moet ons ons monde oopmaak en die Naam van ons God hooghou. En ook nou geld dit: God vertoorn Hom ook oor elkeen wat hierdie sonde nie sover moontlik teëgaan en verbied nie.

3. Maar die wat teenoor ánder die HERE se Naam wil hooghou, moet natuurlik allereers sélf die heilige Naam van God nie anders nie as met vrees en eerbied gebruik.

Ons sal ons moet verset teen die misbruik van God se Naam in hierdie wêreld. Maar ons sal allereers onsself telkens weer moet afvra hoe sorgvuldig ons in ons eie lewe met God se Naam omgaan.

Die HERE verbied in die Derde Gebod mos nie net gevloek en laster en so meer nie. Hy omskryf baie breër: ons mag sy Naam "nie ydellik" gebruik nie. Daardie woord beteken soiets soos: sommer, onsorgvuldig, sonder om nog daarvan bewus te wees van Wíe ons praat. En aan so'n gebruik van God se heilige Naam maak ook ons ons nog maar alte dikwels skuldig.

U en ek kan teen die Derde Gebod sondig op dieselfde oomblik wat dit hier vanaf die preekstoel voorgelees word.

Dit gebeur as ek as voorganger die wet voorlees sonder dat ek met my gedagtes daarby is; net uit sleur. Ek ken die wet mos omtrent uit my hoof. Onderwyl kan ook u die woorde oor u heen laat gaan sonder om te luister -u het die wet mos al so dikwels gehoor. En dan sondig u en ek teen die Derde Gebod.

Ja, ons kan gedurende die hele diens aanhoudend teen die Derde Gebod sondig. Ons het mos ons diens begin met die belydenis dat "Ons hulp is in die Naam van die HERE wat die hemel en die aarde gemaak het". Maar as ons tydens die diens nie bewus is daarvan dat hierdie groot en genadige God deur sy Heilige Gees in ons midde is nie, as 'n aantal jongmense êrens op die agterste banke meer aandag vir mekaar en mekaar se grappies het as vir die Woord van die HERE, as u die preek benut om u agterstallige slaap 'n bietjie in te haal- in al sulke gevalle beledig ons die Naam van die HERE.

Ons Psalmgesang kan 'n oneerbiedige gebruik van die Naam van die HERE word, as ons gedagteloos dit wat opgegee is, saamsing.

'n Gesprek tydens 'n huisbesoek kan misbruik van God se Naam word, as daar nie van hart tot hart oor ons lewe met die HERE gepraat word nie, maar die gesprek slegs van weerskante met vroomklinkende pligplegings aan die gang gehou word.

'n Katkisasieklas of 'n Bybelles in die skool kan in sonde teen die derde gebod ontaard, as die leermeester en sy leerlinge pligmatig die uurtjie volmaak en die voorgeskrewe les afwerk, sonder enige verwondering en ontsag vir Hom oor Wie elke bladsy van die Bybel boekdele spreek.

U daaglikse Bybellesing by die huis staan bloot aan hierdie gevaar. En selfs u gebed kan soseer 'n sleur word dat u maar net altyd dieselfde sinne aanmekaar ryg, terwyl u met u aandag by heel ander dinge is.

Maar u gebruik van die Naam van die HERE word veral een groot vloek indien u in u daaglikse lewe die wil van die HERE in die wind slaan.

Dis hoekom ek vanaand ook daardie gedeelte uit Matt. 7 met u gelees het. Nie elkeen wat sê "Here, Here", is aan God welgevallig nie. Slegs dié wat ook aan die wíl van die HERE gehoorsaam is.

Teoloë wat dik boeke skryf oor Jesus die Messias en gevoelig kan preek oor die God van Israel, maar onderwyl gevaarlike dwaalleer propageer, is besig om hulle die toorn van God op die hals te haal.

Mense wat die Bybel laat buikspreek om hul rassistiese opvattings te verdedig, krenk die HERE in sy eer.

Kerkmense wat in voortdurende onmin met hul naaste lewe, maar onderwyl die pragtigste inleidings hou op die Mannevereniging, beledig die Naam van die HERE. 'n Man wat sy vrou verwaarloos of mishandel, kan sy Bybel maar beter dig laat en sy gebed maar liewer nalaat. God wil dit nie hoor nie want dit klink Hom soos 'n vloek in die ore.

Is u bewus daarvan, broeders en susters, dat u ook op dié wyse teen die Derde Gebod kan sondig en die HERE kan beledig? Vroom gepraat word brutale laster as u terselfdertyd van die wil van die HERE niks wil weet nie.

Want dan weet u nie van Wie en tot Wie u praat nie. God se Naam het vir u klaarblyklik sy inhoud verloor.

4. Kan u verstaan waarom die HERE al dergelike misbruik van sy Naam nie kan verdra nie, gemeente? U weet mos wat sy Naam beteken: JAHWE het die HERE Homself genoem. Ons Bybelvertaling, altans die Ou Afrikaanse vertaling, gee daardie Hebreeuse Naam altyd weer met: HERE met almal hoofletters. Maar as mens JAHWE vertaal, beteken dit eintlik: EK IS WEL DEEGLIK DAAR.

So wil God by ons bekend staan. Al kan ons Hom ook nie sien nie, ons mag weet dat Hy wel deeglik daar is. Trouens, het Hy sy aanwesigheid nie in die loop van die eeue indrukwekkend bewys nie? Hy het deur sy werk in die skepping en die geskiedenis sy Naam alle eer aangedoen. Hy is sy Naam ten volle werd: hierdie God is geen verre vreemde nie, maar is nadruklik aanwesig.

Ons hoef sy Naam maar in die mond te neem en ons mag Hom naby ons weet.

Hierin verskil die HERE van alle afgode. Jy kan 'n afgod wel roep, maar hy hoor jou nie en help jou nie. Hy is eenvoudig nie daar nie. Daarom benodig die heidene 'n hele aantal rituele om die hulp en bystand van hul gode onder beheer te kry. By die HERE is dit nie nodig nie.

As Moses in Deut. 4 aan die volk Israel voorhou dat hulle nie moet probeer om die HERE soos die heidenvolkere deur middel van allerhande sigbare voorwerpe naby te kry nie, sê hy in vs. 7: "Want watter nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? "

Ons hoef maar 'n kik te gee, en die HERE is die ene oor en die ene hulp. Dit is die refrein regdeur die Bybel: "Elkeen wat die Naam van die HERE aanroep, sal gered word".

Om alle twyfel uit te ban het God tenslotte sy Eniggebore Seun in die wêreld gestuur om sy Naam aan die mense te openbaar. Ons Here Jesus Christus het in sy Persoon en werk ons daarvan kom oortuig hoeseer die Naam van sy Vader die waarheid is. God is 'n lewende werklikheid. Jesus van Nasaret is die bewys dat dit is: IMMANUEL, GOD MET ONS. Jesus se Naam is sindsdien dan ook onlosmaaklik met die Naam van sy Vader verbonde. Ook Hy het nou 'n Naam bo alle naam ontvang.

Kan u dan verstaan, gemeente, dat dit vir die HERE onverdraaglik is as mense nou nog durf te maak asof Hy geen realiteit is nie? As daar nou nog mense is wat sy hoog verhewe Naam sonder eerbied en ontsag in die mond durf te neem? As selfs sy eie kinders onsorgvuldig of skynheilig sy Naam gebruik sonder om van sy heilige aanwesigheid ten volle bewus te wees?

Eer is teer. By niemand meer as by die HEER. Hierdie preek was bedoel om u daarvan weer des te meer bewus te maak. AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)