God se Naam wil in jou hart weerklink

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 36
Preek Inhoud: 

18-10-92

SONDAG 36-37

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 78 : 3, 4
Gebed
Skriflesing: Eksodus 32:30-33:4, 33:12-34:7
Sing: Ps. 78 : 20 [om die erns te besef]
Kategismus : Sondag 36+37
Prediking
Sing: Ps. 24 : 2, 3
Geloofsbelydenis
Sing: Ps. 113 : 1, 2
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 33 : 11
Seën

Gemeente van Christus Jesus, ons Here,

die name wat ons dra, kan op verskillende wyses gebruik word en dan ook verskillende uitwerking hê. Jou naam onderskei jou van die ander: as jou naam genoem word, meld jy jou en antwoord, terwyl die ander stil bly. Jou naam is 'n roepnaam.

Die noem van jou naam kan nog 'n uitwerking hê. Die naam kan ook dit wat ander oor jou weet, wakker roep. Jy is mos in talle opsigte by die mense bekend. Jou naam is jou reputasie. Die noem van jou naam sê baie oor jou.

Ek wil nog 'n derde effek van die gebruik van 'n naam noem. Wanneer daar 'n verhouding tussen mense bestaan, roep die hoor van die naam ook gevoelens wakker. Wanneer 'n seun lief is vir 'n dogter, is die blote hoor van haar naam genoeg om sy hart te laat opspring! Jou naam het gevoelswaarde.

Dié drie uitwerkinge van die noem van 'n naam is ook daar by die Naam van die HERE.

  1. As jy Hom aanroep, antwoord Hy.
  2. As jy oor Hom praat, ken jy vir Hom.
  3. As jy Hom hoor noem, word jy warm.

Saam sê die drie uitwerkinge: GOD SE NAAM WIL IN JOU HART WEERKLINK

Nou kyk ons eers terug op die eerste twee gebooie van die wet van die HERE.

Ons het gesien: daar is 'n noue verband tussen die 1ste en die 2de gebod. God wil as die Enige gedien word en as ons Here. Dit roep om jou geloofsbelydenis. Die 2de gebod vul aan hoe die Here wil dat ons Hom dien, naamlik in 'n lewendige geloof. Jou geloofsbelydenis (die reaksie op die 1ste gebod) wat jy met die mond uitspreek, moet deur middel van jou lewe aangevul word (in reaksie op die 2de gebod). Die 3de gebod is nou die kroon op die eerste gebooie: die Here gee nie 'n afbeelding van Homself nie, maar Hy gee sy Naam! Sy Naam is die houvas wat jy het, die spieël waarin jy Hom sien, die beeld wat Hy van Homself skep.

Dit is wat Eksodus 32-34 wys. Die sonde van die maak van 'n goue kalf was 'n poging om die HERE, die God wat hulle uit Egipte uitgelei het, sigbaar te maak en by hulle te hê. Dit was 'n sonde teen die 2de gebod. Daarna stel Moses voor om tot die HERE op te klim en Hom vir vergewing te vra. Die groot angs is: sal God sélf wel saamgaan op die verdere pad??

"Maak my tog u weë bekend dat ek U kan ken", vra Moses. Hy vra dus vir insig in die handelwyse wat die HERE sal volg. "Die weë" is God se planne. Hy wil die hart van die HERE ken. Die HERE se antwoord is verrassend en hartverwarmend: ""Moet Ek self saamgaan?". Asseblief, HERE, sê Moses: "As U nie self saamgaan nie, laat ons dan nie hiervandaan optrek nie". Dié gesprek is bekend, omdat dit so mooi is. Luister egter ook vir die vervolg. Want dié toesegging van die HERE is vir Moses nog nie genoeg nie.

Moses soek vir 'n manier om die volk te kan wys dat die HERE hom, Moses, wél genadig was en vir hom geluister het. Hy soek vir homself 'n ekstra sekerheid dat die HERE saamgaan. Hy vra: "Laat my tog u heerlikheid sien". Die antwoord van die HERE is: "Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die HERE uitroep". Pleks van sien ontvang hy: hoor! Ja, Moses mag onder die indruk van God se majesteit kom. Hy sal egter nie God kan sien soos jy 'n mens sien nie. Hy mag wel God se Naam hoor. Ons vra: ja, maar Moses het tog al baie kere die HERE se stem gehoor? Watter verskil sal dit maak om ook nog God se Naam te hoor noem? Kyk, dis te maklik om te sê: Moses mag nie die HERE sien nie, maar wel sy Naam hoor noem. Want hy sien wel iets, naamlik die majesteit van God.

Hy hoor ook meer, naamlik die inhoud van die Naam, die indruk wat die HERE maak.

Dié gebeure is in Eks. 34:5v beskrywe. Eers kry Moses twee nuwe kliptafels, opnuut die wet in 10 gebooie. Dan lees jy daar: "En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van die HERE uitgeroep"! Nee, dit is nie Moses wat dit uitroep nie. Dis die HERE wat oor Homself uitroep: "HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou". En die HERE sê nog meer oor Homself. Die uitroep van die Naam is: baie oor Homself sê! Dit is name en baie eienskappe wat Hom beskrywe. Dit is sy roepnaam: op grond daarvan en met die name mag jy Hom aanroep en sal Hy antwoord. Dit praat ook van sy reputasie: so wil die HERE bekend staan en soveel verwagtings mag jy oor Hom hê. Dit het gevoelswaarde: die ontferming word op talle maniere uitgedruk om jou hart te laat opspring, want jy hoor liefde! Dis baie meer as die blote besit of noem van 'n naam. Dit is alles wat die HERE vir sy volk is.

Dit wat die HERE oor Homself uitgeroep het, gaan nog verder. Eers het Hy genoem wat ons bly maak. Daaraan voeg Hy ook toe wat ons eerbiedig moet onthou: "wat die sondes wat nie vergewe is, nie ongestraf laat bly nie, wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en kleinkinders, tot in die derde en vierde geslag". Onthou u: dis byna presies wat die HERE in sy wet na die 1ste en 2de gebod sê! Oor die wat Hom liefhet en die wat Hom basies haat. Nou egter blyk: dit is deel van die inhoud van die Naam van die HERE. Eers kom die vergewing, maar jy mag die sonde wat sonder bekering bly, nie vergeet nie. God kry dit nie reg nie.

Ons, die mense van die christelike kerk, ken vir die HERE, die God van Israel as: God wat Vader, Seun en Gees is. Wat in die hemel woon, wat mens geword en op aarde geleef het en wat jou hart wil bewoon. Veral die Naam Jesus sê alles: as die roepnaam op aarde en in die hemel, die reputasie van verlossing van siekte en sonde, die gevoelswaarde van jou Heiland en Here, Jesus Christus. Dié naam van God wil in jou hart weerklink!

Kom ons pas dit nou vervolgens toe op die uitlegging van die Kategismus in Sondae 36 en 37. Die drie betekenisse van die Naam van die Here kan ons 1. op die samelewing en 2. binne die kerk toepas.

1. In die samelewing onder die mense

Noudat God sy Naam bekendgemaak het, word dit ook misbruik. Dit gebeur oral waar gevloek word. Die Afrikaans gebruik "vloek" ook vir die woorde waarmee mense skeld. 'n Vloekwoord is hier 'n lelike woord. "Vloek" is in die Kategismus net: God se naam slegsê of misbruik. Ja, leer die Kategismus: ons mag nie deur stil te bly ons aan sulke verskriklike sondes skuldig maak nie. Mense wat vloek gebruik God se roepnaam, maar soek nie vir Hom nie. Hulle ken nie eers God se reputasie nie: dis "ydel" gebruik, asof dit Hy sommer iets of sommer niks is om te vloek. Nou moet jy vir jouself vra: wat voel jy wanneer iemand God se naam misbruik? Want die Naam het ook gevoelswaarde. Wanneer jy niks voel, besef jy nie watter Naam daar misbruik word nie. As dit jou wel ontstel, sal jy versigtig probeer praat. Want dit moet jou ook ontstel dat daar 'n mens die toorn van God raak kan loop.

Nie vloek nie en die vervloeking keer. Daar is egter ook nog 'n positiewe betekenis in die samelewing onder die mense. Ons sal die heilige Naam van God met vrees en eerbied gebruik, sodat Hy deur ons reg bely en in al ons woorde en werke geprys word. Neem sy Naam maar op jou lippe, wanneer daar gekla word oor die situasie van die land: oor geweld en droogte, oor duurte en sedelike verval. Praat van die pragtige wil van die Here w3at net goed vir die mense is. En wanneer een ander eerder as wat jy dit maak, God se Naam gebruik: wees bly wanneer hy dit opreg bedoel. Stel dankbaar vas dat die Here nog meer kinders in die land het wat Hom wil loof en prys.

Ons het tot nou toe by elke gebod gevra: wat mag ons verwag van die publieke betekenis van God se wet, byv. met die oog op 'n nuwe grondwet? Wat mag jy as 'n christen nou oor God se Naam in Suid-Afrika wens? Moet die Naam, om 'n byvoorbeeld te noem, deur alle owerheidspersone gebruik word? Ek dink jy kan nie verwag dat iemand wat nie 'n belydende christen is, die HERE in seënwense en gebede betrek nie. Dit sou ontheiliging van dié Naam wees. Dus sal in die nuwe Suid-Afrika die Naam van God baie minder deur die owerheidspersone gebruik word. Dus word daar meer van elk van die gelowiges verwag. Dit is goed wanneer ons dit besef.

'n Ander voorbeeld is die gebruik van die eed. Dit is pragtig om by 'n belangrike geleentheid jou belofte met 'n eedaflegging op God se Naam te bekragtig. Jy roep dan mos God as getuie aan: publiek, elkeen mag dit uit jou mond hoor dat die HERE oor jou sal waak en jou aan jou woord mag hou. So praat v/a 101 oor sweer: godvresend, dus terwyl jy God vrees by dié Naam. Jy soek dan openlik die eer van God wie se Naam jy aanroep. Jy soek dan ook die heil van jou naaste in wie se belang jy moet sweer.

Mag jy ook van alle mense eis dat hulle ook die christelike eed aflê? Nee, daar moet ruimte vir 'n ander wees om met 'n belofte te volstaan. Jy mag hom nie daartoe dwing om God se Naam ligtelik op sy lippe te neem nie. Hou hom maar aan sy belofte en vertel van God wat sy mense motiveer om trou in die werk en aan jou opdrag te wees. Dan sal die Naam van God uit jou hart kom en in jou mond weerklink. Dit is alles wat jy oor Hom mag weet, die beeld wat jy van Hom mag teken: met woorde wat jy soek en gevoel wat jy wys.

2. In die gemeenskap van die kerk

Die Naam van God wil in jou hart weerklink. Elke mens wat binne 'n Gereformeerde kerk grootword, hoor baie oor die HERE. Al die kennis weerklink in sy Naam. Alles wat jy oor God Drie-enig wéét, is dié Naam.

* Jy leer hoe om die roepnaam te gebruik: om jou in gebed op die eienskappe van die Here te beroep. Here, vergewe my sondes, want U noem uself 'n genadige God!

* Jy ken vir sy reputasie. Here, U besoek die sondes van ons as ouers wanneer ons kinders dit van ons geleer het; wil ook hulle van u liefde oortuig en hulle harte vul met u Gees.

* Wat nou van die derde betekenis van die Naam: praat ons genoeg oor die gevoelswaarde wat heel die kennis van God Drie-enig het? Of is daar teveel stil en kil harte waarin niks tydens die gebede en in die kerkdienste of in gesprekke weerklink nie?

Ek vra vir almal: dink asseblief baie oor dié aspek van God se naam. Werk die hele openbaring van God se wese en eienskappe in jou hart deur sodat daar werklik geloof groei? Ja, die kerk is ryk aan kennis vanuit die volheid van God se openbaring. Jy hoor baie oor Hom en leer hoe om Hom aan te roep. Dit beteken egter niks sonder die gevoelswaarde van sy Naam nie. Vra vir die Heilige Gees om dit in jou hart te laat weerklink, sodat jy warm word by die hoor van Jesus se naam en by die noem van 'n Vader in die hemel. Dan sal jy weet: dis die Gees van God in my hart.

"Jy mag die Naam van die HERE nie ydelik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam tog nog misbruik nie ongestraf laat bly nie". Dit is wat onder die eerste twee gebooie staan: om jou die warmte en die waarde van die diens vir die Here mooi te laat besef. Ydelik gebruik: dit kan jy maak deur met baie kennis 'n pligmatige gebed te bid. Of deur met baie woorde in die kerk en met vurige taal oor die ander kerk nog niks oor Hom te sê nie. Hoe praat ons op die Bybelstudieaande? Oor tekste praat is baie maklik, want ons verstand is genoeg ontwikkel. Oor dit wat die HERE vir ons sê praat: dit kan net met die warmte van die geloof. En dit is: die werk van die Gees wat in ons midde wil wees.

Onthou julle Moses se angs: dat die HERE dalk nie saamgaan nie? Is ons wel bang dat God dalk nie met ons saamgaan nie: in jou huis, in die kerk, op die paaie wat ons loop? Sy Naam word ontheilig wanneer ons nie die liefde het nie. Wanneer sy liefde nie orals weerklink nie: om ook ons naaste en ons broeder en ons suster in sy liefde en met sy opdrag te soek. Met woorde en dade waarin God se ontferming spreek.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)