Ons erediens moet orediens wees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 35 HK

LITURGIE:
L. Jeremia 7: 1-28
Ps. 105: 1, 3
Ps. 105: 2
Ps. 50: 1, 2, 8, 11
Ps. 81: 4, 9
Ps. 81: 11, 13, 15

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die toon van die Tweede Gebod klink opvallend ernstig. In heelwat gebooie sê die HERE net: "Jy mag nie.... ". Maar in hierdie gebod voeg Hy nadruklik toe hoe gevaarlik dit is om hierdie gebod te oortree: Hy is 'n jaloerse God en sonde teen hierdie gebod kan verwoestende gevolge hê tot in die lewe van jou kinders en kleinkinders.

Maar hoeveel van u neem hierdie gebod ook regtig ernstig, broeders en susters? Hoeveel van u is regtig beïndruk deur die nadruk waarmee die HERE hier waarsku?

Ons skrik almal as daar onder ons gevloek word en iemand die Naam van die HERE misbruik. Die kerkraad tree dadelik op as daar oortreding van die Sesde Gebod openbaar word, byvoorbeeld ingeval twee broeders in 'n ernstige publieke konflik geraak en in haat en nyd met mekaar omgaan.

Daar is kinders van die HERE wat hul lewe lank daaronder gebuk gaan dat hulle in hul jeug die Sewende Gebod oortree het. Hulle durf die Nagmaal skaars meer te vier want hulle is bang hulle eet en drink 'n oordeel oor hulleself.

Maar wie van u het al ooit van die tafel van die Here weggebly omdat u die Tweede Gebod van God se Wet geskend het?

Tog kom oortreding van hierdie gebod baie meer voor as wat u dalk dink. Juis hierdie sonde lê aanhoudend en loer vir ons en ondergrawe ongemerk die lewe in die verbond met die HERE. En reeds baie mense het hul juis deur oortreding van hierdie gebod God se toorn op die hals gehaal. Dis dié dat daar so'n ernstige waarskuwing klink in hierdie gebod. Uit daardie waarskuwing spreek God se besorgdheid vir ons. Hierdie gebooie wil ons mos bewaar by die lewe met Hom wat ons deur Christus terugontvang het; die egte lewe waarin die Paradys in ons lewe terugkom.

Maar ons staan voortdurend bloot aan die gevaar dat ons méén ons is nog baie godsdienstig terwyl ons inderwaarheid lank al besig is om in die slawerny van die heidendom terug te gly.

Dit wil ek vanaand vir u probeer duidelik maak as ek u verkondig:

ONS EREDIENS MOET OREDIENS WEES

WANT:

  1. WIE NIE MEER HOOR NIE, WORD ONGEHOORSAAM
  2. WIE NIE WIL HOOR NIE, MOET VOEL.

1. In ons Bybelvertaling sê die HERE in die Tweede Gebod van Homself dat Hy 'n jaloerse God is. Dit wek die indruk asof dit in hierdie gebod nog steeds oor die dien van afgode gaan. Dit lyk asof die HERE nogmaals waarsku dat die bestaan van ander gode in ons lewe vir Hom onverdraaglik is.

Dan sou die Tweede Gebod dus 'n tipe van 'n uitbreiding op die Eerste Gebod wees. In Kategismusboekies van die Roomse en Lutherse Kerk is die Eerste en die Tweede Gebod dan ook saamgevoeg en het die Derde Gebod die Tweede geword en so voorts. Om nogtans Tien Gebooie te hou, het hulle die Tiende Gebod weer in twee afsonderlike gebooie opgedeel.

Maar so'n indeling van die Tien Gebooie is in stryd met die Hebreeuse teks. Boonop word daarmee die bedoeling van die Tweede gebod heeltemal misverstaan. Want in hierdie gebod sny die HERE wel deeglik 'n ander saak aan as in die Eerste.

In die Eerste Gebod verbied die HERE die verering van ander gode naas of in die plek van Hom.

Maar in die Tweede Gebod verbied God 'n bepaalde tipe van verering van Hom, die HERE, Sélf. Hy wil nie vereer word deur middel van beelde, gewyde pale en so meer, soos die heidene in daardie dae met hul afgode gekommunikeer het.

Op dié wyse wil die HERE nie gedien word nie.

So'n beeldediens staan vir ons gevoel ver van ons af, broeders en susters. Ons maak vandag geen beelde in ons kerke meer nie. Ja, jy kan dit by primitiewe volkere nog raakloop. En die Roomse Kerk maak nog so. Maar ons, in 'n Gereformeerde Kerk? Beelde om die HERE te vereer?

Dit is seker ook maar die rede hoekom ons so weinig beïndruk is deur die waarskuwing van hierdie Tweede Gebod. Raak hierdie gebod ons vandag nog wel? Is dit vir ons nie 'n verouderde gebod nie?

Om dié gevaarlike misverstand af te sny, het ek vir vanaand 'n Skriflesing gekies wat baie mooi kan duidelik maak dat die Tweede Gebod 'n veel breër terrein bestryk as net die maak van beelde.

Ons het Jeremia 7 gelees. In hierdie hoofstuk bly afgode of beelde of gewyde pale goeddeels buite die gesigsveld. Daar wás in daardie dae ook nie veel beelde en gewyde pale meer in die twee-stamme-ryk Juda nie. Want die jong koning Josia het, na die tirannie van die goddelose koningin Atalia, in 'n indrukwekkende reformasie alle afgodsbeelde, altare vir vreemde gode, gewyde pale en hoogtes in die land laat verwyder.

Die eerste indruk wat ons van die mense kry, is dan ook baie gunstig. Kyk nog 'n slag na vs. 2: die hele Juda het na Jerusalem gekom om die HERE te aanbid. Dalk het Jeremia sy opdrag om in die tempelpoort te gaan staan en preek gekry op een van die groot feesdae in Israel, of op 'n spesiale vas- of biddag. In elk geval stroom daar 'n menigte mense na die huis van die HERE, in hul feesgewade, om die HERE by 'n stroom van offer te loof en te aanbid. 'n Kerk vol heilbegerige mense. Wat is mooier as dit?

Maar die preek wat die profeet dan in die Naam van die HERE moet hou, is vol verwyt en dreiging! Pleks van dat die HERE sy volk laat groet met die woorde: "Genade vir julle en vrede.... ", moet Jeremia sê: "Vervloek is julle as julle jul nie gou bekeer nie!".

Waarom? Wat is fout?

Wel, die volk volbring wel in groot getalle die erediens vir die HERE, maar dit het 'n erediens sonder orediens geword.

Moet maar kyk hoe dikwels dié verwyt in hierdie hoofstuk klink: vs. 13 "Julle het nie geluister nie... ", vs. 23 en 24 "Ek het hulle beveel: Luister na my stem...... maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie.. ", vs. 26 weereens "Maar hulle het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie... ", vs. 27 "Hulle sal ook na jou nie luister nie", sê die HERE vir Jeremia, en dasn moet Jeremia vir hulle sê, vs. 28: "dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie.... ".

Israel se erediens word wel weer presies volgens die voorskrifte onderhou, maar dit is nie veel meer as die uitvoering van 'n klomp uiterlike rituele nie: offers, wassinge, gebede uitspreek. Die Wóórd van die HERE beheers nie werklik hul lewe nie. Hul ore en hul hart staan nie oop vir die stém van hul God nie.

En dit is vir die HERE onverdraaglik omdat Hy Homself juis op hierdie punt onderskei van alle afgode. Afgode is stom. Hulle kan nie praat nie. Hulle kan ook niks doen nie. Kyk gou Jeremia hoofstuk 10: 5: "Soos 'n voëlverskrikker in 'n komkommertuin in hulle: hulle kan nie praat nie; ja, hulle moet gedra word want hulle kan nie loop nie. Wees nie bevrees vir hulle nie, want hulle kan geen kwaad doen nie, maar daar is ook geen goeddoen by hulle nie".

Daarteenoor is die HERE die God wat met een enkele Woord die hemel en die aarde tevoorskyn geroep het. Hy het gespreek en daar was lig, son, maan en sterre, land en water, berge en blomme, voëls, visse en ander diere. Met dieselfde stem het Hy die mens geroep, op sy plek gesit en aan die werk gesit in sy skepping. Hy het met die mens 'n verbond gesluit wat allereers gebaseer sou wees op hoor en gehoorsaamheid. Sy spreke moes die middelpunt van die lewe en die erediens van sy kinders wees. Die mens moes voortdurend in die luisterhouding leef: "Spreek Here, want u kneg hoor".

Na dié ge-hoor-saamheid het die HERE na die sondeval sy volk Israel teruggeroep. Dit het al met Abraham begin. Feitlik het God net een ding aanhoudend van Abraham gevra: geloof in, en daarom onderwerping aan sy betroubare Woord.

En dit het ook die hart van die verbond geword wat God in die Sinaï-woestyn met Israel gesluit het. "Hoor, Israel, die HERE jou God is 'n enige HERE. Daarom moet die woorde wat ek jou vandag beveel, voortaan in jou hart wees... ".

Laat jou erediens allereers 'n orediens wees!

So'n erediens ken die heidene nie. Hulle gode kan mos nie praat nie. Dit is dan ook die heiden se probleem: hoe moet jy kommunikeer met 'n god wat nooit sy stem laat hoor nie, wat altyd maar ver en opgrypbaar vir die mens bly? Hoe kan jy van sy kragte profiteer?

En dis dié dat hulle beelde begin maak het.

Nee, ook heidene het wel geweet dat daardie beeld nie die god self was nie. Ook hulle het geglo 'n god is 'n gees, 'n ongrypbare wese wat êrens ver weg woon. Ook heidene het geglo in 'n hemel. Maar juis daarom het hulle iets sigbaars en grypbaars benodig om die god wat ver is, naby te kan bring, om sy kragte wat ongrypbaar is, binne bereik te kan bring.

Hulle het geglo dat, as jy 'n beeld aan jou godheid wy, hy daardeur met jou wil kommunikeer en daarin sy kragte konsentreer. In die beeld kom die verre godheid naby en kry jy sy kragte onder beheer.

Maar op die wyse wil die HERE beslis nie vereer word nie. Hy haat so'n erediens.

Kan u verstaan hoekom, gemeente?

Omdat dit in die verhouding tussen God en die mens die rolle heeltemal omkeer en God feitlik aan die mens ondergeskik maak.

Die inisiatief gaan nou van die mens uit en die mens maak nog slegs kontak met sy god vir sover hy daaraan behoefte het.

En daarvan is weer die onvermydelike gevolg: omdat jy nie na jou god hoor nie, is jy ook nie regtig aan hom gehoorsaam nie. Jy luister nie na jou god en maak soos Hy wil nie. Maar jy wil hê jou god moet na jóu luister en maak soos jy wil.

Jou godsdienstige rituele het 'n middel geword waardeur jy oor die krag en die bystand van jou god kan beskik so dikwels jy dit nodig ag. Jy soek met jou erediens op die ou end nog maar net jouself en nie meer jou god nie. Jou erediens het louter eiebelang geword. En al lei jy ook 'n goddelose lewe, as jy maar jou godsdienstige rituele nakom, hou jy jou god aan jou kant.

Dit het ook die geval geword in Jeremia se dae. Uiterlik is die erediens deur koning Josia se reformasiewerk weer heeltemal in ere herstel. Maar vir die merendeel van die volk was dit ook nie meer as 'n uiterlike herstel nie. Hulle bring weer die offer soos in die wet voorgeskryf, hulle kom op die groot feesdae tempel toe en vervul die voorgeskrewe verrigtinge. Maar kyk hoe is hul lewe: hul vertrap God se wet met die voete; steel, doodslaan, vals sweer en owerspel is aan die orde van die dag. En by die huis vereer hulle nog steeds naas die HERE Baäl en Astarte.

Hul netjiese verrigtings by die tempel is dus niks anders nie as 'n soort lewensversekering om te kan staatmaak op die hulp van die HERE. Kyk wat sê hulle vir mekaar as die nuusberigte kommerwekkend is: "Moenie bevrees wees, die HERE se tempel, ja, die HERE se tempel is mos by ons".

Kyk, gemeente, dít is die sonde waarvoor die HERE in die Tweede Gebod so indringend waarsku! Jy onderhou trou 'n aantal godsdienstige pligplegings, maar onderwyl is jou hart ver van die HERE af. Jou ore is toe vir sy Wóórd.

Maar dan verstaan u nou ook dat hierdie gebod regtig nog nie verouderd is nie. Dié gevaar dreig nog aanhoudend om ons lewe in die verbond met die HERE te ondergrawe.

Ook vandag nog is God die God wat allereers met sy Woord na ons toe kom. Nog altyd is Hy die eerste in die verbond, wat ons roep en geloof en gehoorsaamheid vra. Ons hoef Hom nie deur bepaalde godsdienstige rituele na ons toe te manipuleer nie. Hy het uit eie inisiatief na ons toe gekom, Hy het inmiddels alle afstand tussen Hom en ons indrukwekkend oorbrug deur die Gees van sy Eniggebore Seun in ons te laat woon en werk.

Maar ook die Heilige Gees kom nie sigbaar en tasbaar na ons toe nie, maar sprékend. Ons moet hóór na wat die Gees tot die gemeente sê. God verwag van ons nie allereers allerhande aktiwiteite nie. Hy vra nie 'n swaar inspanning om met Hom in die verbond te mag verkeer en op sy bystand te mag reken nie. Hy vra net dat ons hoor en glo. Ja, die Nuwe Testament praat 'n paar maal van die gehoorsaamheid van die geloof. Die HERE vra oop ore en 'n hart vol opmerksame liefde vir Hom. En 'n lewe waarin ons luister na sy wil.

Ook ons kan dit sommer vergeet en ons erediens reduseer tot die voldoen aan 'n aantal godsdienstige verpligtinge wat daar nou maar eenmaal van 'n kerkmens verwag word: Bybellees, bid, kerk toe kom, jou kinders laat doop, nagmaal vier..... Dit alles kan 'n roetine word waar ons hart buite staan omdat ons hart deur heeltemal ander dinge -afgode- in beslag geneem word. Maar ons godsdiens is ons lewensversekering. Ons kan nou seker maar op die HERE se hulp staatmaak.

Ook ons kan meen dat dit genoeg is as ons ons kinders na die Gereformeerde skool, die katkisasieklasse en die verenigings toe laat gaan. Op dié wyse verseker ons ons van 'n plekkie vir hulle in die hemel. Hoedat hulle vir die orige lewe, of ons hulle die liefde vir die HERE en sy diens ook voorlewe- daaroor bekommer ons nie eintlik nie.

Ook onder ons kan dit voorkom dat mense 'n sondige weg gaan waaroor hulle vermaan moet word; maar daardie mense is deur die vermaan glad nie beïndruk nie want: "hulle leef as ordentelike christenmense, lees op 'n reëlmatige basis uit hul Bybel, kom kerk toe en so meer, dus...... "

Hoe dikwels het ek ook al moet meemaak dat mense hulle aan die opsig en tug van die kerkraad onttrek en dan die mooiste verskonings maak: "nee, maar hulle leef nou baie digter by die HERE, in daardie ander kerk preek die dominee so wonderlik en die onderlinge verkeer van die mense is so pragtig.... "

Maar as dit 'n erediens is waarby die ore toegemaak is vir die konkrete vermaan uit die Woord van die HERE, is dit sonde teen die Tweede Gebod. As jy jou eie gang gaan en nie eers gehoorsaam na die wil van die HERE gevra het nie, is jy darem besig om die toorn van die HERE oor jou lewe en dit van jou nageslag los te maak.

Want in al sulke gevalle lyk die uiterlike erediens nog wel heelwat te wees, maar die belangrikste ding is nie meer daar nie: die oop ore vir die Woord van die HERE, die hartlike gehoorsaamheid aan die HERE se wil.

Jy begin die HERE dien op jou eie manier. En algaande vereer jy nie meer die God van die Bybel nie maar jou eie denkbeeld van God. En stadigaan gly jy weg in die heidendom.

En as daar geen bekering kom nie, gaan hele geslagte verlore.

2. Die HERE presenteer Homself in die Tweede Gebod nadruklik as 'n jaloerse God. Daardie vertaling: jaloers kan, soos ons reeds gesien het, misverstaan word. Dit wek die indruk asof die HERE afgunstig op die afgode is en die Tweede Gebod dus slegs 'n tipe van aanhangsel by die Eerste Gebod is.

Miskien is dit beter om die Hebreeuse woord te omskryf met: die HERE is 'n God wat Homself laat geld. As ons meen dat ons met ons godsdienstige rituele die HERE na ons hand kan leer en ons eie opvattings van God daarop begin nahou, sal Hy ons laat agterkom hoeseer ons ons in Hom vergis. Hy sal wys Wie en hoe Hy werklik is. Wie nie na Hom wil hoor nie, sal Hy laat voel!

Dit het die volk Israel ervaar!

Die HERE herinner in Jeremia 7 aan dit wat met Silo gebeur het waar vroeër die tabernakel gestaan met daarin die verbondsark: vs. 12. U ken daardie geskiedenis: ook 'n tipiese voorbeeld van sonde teen die Tweede Gebod. God se volk het soos die heidene geleef en die priesters Hofni en Pinehas het daarin voorop geloop, sonder om deur hulle Pa Eli metterdaad gekeer te word. Toe het daar 'n oorlog met die Filistyne ontstaan en in die eerste geveg het Israel swaar verliese gely. Maar toe haal hulle die HERE se verbondsark uit Silo. Soos heidene die beeld van hul afgod uit hul tempel haal. En hulle meen die HERE sal hulle nou sekerlik help om die oorwinning te behaal. God is mos in hul midde!

Die teenoorgestelde het egter gebeur. Hulle het opnuut 'n verpletterende neerlaag gely, die vyand het die Ark buitgemaak en dit het die einde geword van Silo as woning vir die HERE. Die HERE het gedug laat voel dat Hy nie soos die afgode is nie.

Jeremia moet aan daardie geskiedenis herinner, om God se volk in sy dae te waarsku. Moenie 'n fout maak met die HERE nie. Jy kan Hom nie deur 'n aantal uiterlike verrigtings manipuleer sodat Hy verplig is om jou jou sin te gee nie. As jy nie meer na Hom luister nie, het ook al daardie verrigtings vir Hom geen waarde meer nie. Kyk vs. 22 en 23: selfs die offerdiens kan hulle maar staak, of anders maak hulle maar 'n heidense braaiparty daarvan, maar Hy soek dit nie meer nie. Hy soek gehoorsaamheid. En wie nie wil hoor nie, moet voel.

Hulle meen die aanwesigheid van die HERE se tempel sal hulle red in die dag van gevaar? Inderwaarheid sal dit met die tempel net so gaan as met Silo. God sal dit tot die grond toe afbreek.

So waarsku die HERE ons as ons meen 'n aantal uiterlike verrigtings is voldoende om op sy hulp en bystand te kan staatmaak. Hy kan dit nie verdra nie dat sy volk in sy erediens nie werklik Hóm soek nie, maar feitlik maar net hulleself. Hy merk dit wanneer ons erediens nie voortkom uit die liefde en verwondering van ons hele hart en lewe nie, maar maar net in uiterlike pligplegings bestaan. En vir Hom is dit nie minder as 'n misdaad nie. 'n Misdaad wat Hy aan die kinders tot in die derde en vierde geslag sal besoek.

Nee, dis nie so dat die kinders dan die straf moet dra wat die ouers verdien het nie. Die HERE het duidelik laat weet dat Hy nie die kinders straf oor die sonde van die ouers nie. Maar hierdie dreigende woorde in die Tweede Gebod bevat 'n waarskuwing juis vir die ouers: as die Woord van die HERE nie volledig jou lewe regeer nie, maar jou godsdienstigheid nie veel meer as 'n aantal roetiene handelinge is nie, moet jy nie verbaas wees as jou kinders en kleinkinders jou voetstappe druk en nog meer as jy vir God se lewende woord doof word nie. Na drie, vier geslagte het die lewe volslae goddeloos geword. Jy gaan vandag miskien nog wel trou kerk toe, jy vier nog Nagmaal en lees by die huis jou Bybel. Maar omdat dit maar net rituele geword het, sal jou kinders daarin al baie slordiger word. En jou agterkleinkinders gaan glad nie meer kerk toe nie, ken die Bybel totaal nie meer nie, soek ook geen enkele kontak met die HERE meer nie. Omdat die Woord van die HERE uit die lewe verdwyn het, het die HERE Self Hom uit die lewe teruggetrek. En die duiwel het weer die beheer oorgeneem.

Ons ken baie voorbeelde daarvan, broeders en susters. Van families wat uit die kerk en in die wêreld verdwyn het, omdat die omgang met die HERE 'n uiterlike aangeleentheid geword het, waar die liefde van die hart nie meer by betrokke was.

Ons weet van families waarvan die ouers op bloot gevoelsmatige en onkerklike gronde hulle aan die kerkraad onttrek en by 'n ander kerkgemeenskap gevoeg het. Die kinders het nog 'n stappie verder gegaan en nog eiesinniger geword in hul lewe met die HERE. En hoe meer die ore vir God se Woord diggegaan het, des te meer het die lewe in die greep van die goddeloosheid gekom.

Ja, ons het hele kerkgemeenskappe op die wyse sien weggly in 'n lewe waarin daar vir die God van die Bybel nie meer eintlik 'n plek is nie.

Laat u daardeur waarsku.

Ja, wees dankbaar dat die HERE u elke Sondagoggend daarvoor waarsku. Daarin wys Hy sy liefde vir u. Hy wil u vashou in die lewe waarin Christus u teruggeplaas het: 'n lewe met Hom in die middelpunt. Want alleen dié lewe is die egte lewe en het toekoms.

Teenoor die vreeslike bedreiging in die Tweede Gebod staan daar mos ook die wonderlike belofte van God se oneindige barmhartigheid "tot in die duisendste geslag" (dit is 'n beter vertaling as "aan duisende") van die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou.

As ons een en al oor vir sy lewende Woord is, hoef ons sy toorn nie te vrees nie. Wie nie wil hoor nie, moet voel, het ek gesê. Dié moet God se toorn tot in sy agterkleinkinders voel.

Maar wie wel wil hoor, sal óók voel. Die sal God se genade en liefde oor sy lewe mag voel tot in verre nageslagte.

Daarom: wie ore het om te hoor, laat hom hoor!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)