Die gevaar van beeldediens is ook vir ons vandag nog steeds nie denkbeeldig nie

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 35 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 105: 1, 2
Wetslesing
Ps 105: 3
L. 1 Sam 4: 1-11
Gebed
Kollekte
Ps 50: 4, 7, 8, 11
Prediking
Ps 103: 9
Gebed
Ps 78: 3, 4
Seën

Broeders en susters,

Verlede jaar is daar 'n video gemaak oor die Evangelie volgens Mattheüs. Die hele Bybelboek is deur 'n klompie akteurs gespeel om Mattheüs se boodskap nader aan die mense te bring.

Koerante en ook kerklike blaaie het nogal entoesiasties daaroor geskrywe.

Ek moet egter vir u sê dat hierdie video sommer sonde teen die Tweede Gebod van God se Verbondswet kan word.

Hierdie maande stry regse Boere-Afrikaners vir 'n eie volksstaat. Gister het hulle 'n eie oorgangs-regering ingestel.

Ek sal vanoggend nie hul politieke ideale kritiseer nie, maar ek moet wel vir u sê dat hierdie stryd met heelwat sonde teen die Tweede gebod gepaard gaan. 'n Mens kan dit byna daagliks hoor op radio Pretoria.

U kan deesdae gereeld mense wat as opregte Christene bekend wil staan, hoor sê: Die kerk het eeuelank die ampte gesluit gehou vir vroue, maar ek kan nie insien hoekom 'n vrou nie predikant of ouderling kan wees nie.

Wie so praat, sondig teen die Tweede Gebod.

Ek noem nog een voorbeeld -en nou raak dit u sélf baie persoonlik-: ook u daaglikse gebede, u besigwees met die Bybel, u kerkgang kan sonde teen die Tweede gebod wees, broeders en susters.

U besef dit wellig glad nie, maar dan word dit tyd dat u dit weer léér besef.

Daarom verkondig ek u vanoggend die HERE se Woord oor die Tweede Gebod van sy Wet onder hierdie opskrif:

DIE GEVAAR VAN BEELDEDIENS IS OOK VIR ONS VANDAG NOG STEEDS NIE DENKBEELDIG NIE

Ek kan my boodskap dan in drie punte uitwerk:

  1. HEIDENE WOU MET 'N BEELD HUL GODE BEHEER
  2. DAARDIE GEVAAR KAN OOK ONS EN ONS KINDERS AFFEKTEER
  3. DAAROM MOET ONS DIE HERE ALLEEN VOLGENS SY WOORD VEREER

1. As ek aan u moet duidelik maak dat die gevaar van beeldediens ook vir ons nie denkbeeldig is nie, en hoekom die voorbeelde wat ek genoem het, sonde teen die Tweede Gebod is, moet ons allereers weereens nadink oor die vraag: waarom het die mens in die verlede afgodsbeelde begin maak? Hoekom het die mens hom in aanbidding voor hout of klip neergebuig? Was hy regtig so onnosel dat hy gedink het daardie stuk hout of klip is 'n god?

Nee wat! Ook heidene het natuurlik wel geweet dat daardie beeld nie die god self was nie. Ook hulle het geglo 'n god is 'n gees, 'n ongrypbare wese wat êrens ver weg woon. Ook heidene het geglo in 'n hemel.

U weet mos: as Paulus en Barnabas in Listre in die Naam van Jesus 'n verlamde man gesond maak, roep die omstanders verwonderd: "Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe".

Maar die probleem van 'n heiden was: hoe kan jy met 'n god wat ver woon en ongrypbaar is, nogtans kommunikeer en van sy goddelike kragte profiteer? Die god wat ver is, moet naby gebring word; sy kragte wat ongrypbaar is, moet binne bereik gebring word.

Ook by heidene was daar 'n onbewuste heimwee na die verlore gemeenskap met God.

Ook die heiden het gevoel: ek kan nie sonder God leef nie.

Alleen het die kennis van God al hoe meer by hom vervaag en was God vir hom nog maar net 'n geheimsinnige krag, 'n bomenslike mag.

En dis dié dat hulle iets sigbaars en tasbaars gemaak het as 'n ontmoetingspunt met hul gode. Hulle het geglo dat, as jy 'n konkrete ding aan jou godheid wy, hy daardeur met jou kan kommunikeer en daarin sy kragte konsentreer. In daardie ding kom die ver godheid naby en kry jy sy kragte onder beheer.

Aanvanklik het hulle daarvoor maar net 'n boom gebruik, of 'n gewyde paal.

Maar namate hul gode vir hulle 'n meer persoonlike kleur gekry het, het hulle beelde begin maak.

In die katkisasieklas maak ek altyd 'n vergelyking met elektrisiteit maak, gemeente. Elektrisiteit is vir die meeste mense ook so'n ongrypbare saak. Wonderlik, en terselfdertyd gevaarlik. Jy kan dit nie sien nie, en nogtans is dit daar as 'n geheimsinnige krag met groot moontlikhede en groot gevare.

Eers as jy dit onder beheer gekry het, kan jy daarvan veilig profiteer.

Maar ons het dit onder beheer gekry. Via transformators, kragdrade, proppe en skakelaars maak ons nou veelvuldig van elektriese stroom gebruik.

'n Afgodsbeeld was vir 'n heiden soos ons kragdrade en skakelaars: die middel om die geheimsinnige goddelike kragte op te vang, te lei en sodoende hanteerbaar, beskikbaar en bruikbaar te maak.

Hy kon nou na daardie beeld toe gaan, daarvoor kniel en offer en by daardie beeld die kragte van sy god ondergaan. Hy kon sy god saamdra in prosessies en desnoods die beeld saamneem in die oorlog om dusdoende die goddelike kragte van sy god in die stryd te werp. In die beeld het hy sy god onder beheer gekry.

Maar sodoende het hy eintlik ook die rolle heeltemal omgekeer en sy god feitlik aan hom wat 'n mens is, ondergeskik maak.

Die godheid was aanvanklik wel verhewe en magtig, geheimsinnig en gevaarlik. Maar die mens het kans gesien om die goddelike kragte onder beheer te kry. Met 'n aantal religieuse rituele het hy sy god hanteerbaar gemaak, sodat hy nou vryelik oor Hom kan beskik.

Die godheid kry sodoende ook nog slegs 'n beperkte plek in die menselewe. Jy kan hom nou in 'n tempel wat jy vir hom gebou het, bêre en slegs tevoorskyn haal as jy sy hulp benodig.

Dalk kan ek dit nog 'n keer met die beeld van elektrisiteit verduidelik: alhoewel elektriese stroom vir ons 'n geheimsinnige krag bly, het dit in die praktyk van ons lewe 'n alledaagse gebruiksvoorwerp geword. Sonder vrees en sonder verwondering hanteer ons daagliks dikwels die skakelaars en proppe om van die krag van elektrisiteit te profiteer.

Niemand dink ooit meer na oor die wonder van elektrisiteit nie. Ons gebruik dit net wanneer ons dit nodig het.

Maar dit gebeur ook, as die mens meen hy kan sy god deur middel van religieuse voorwerpe en godsdienstige rituele onder beheer kry. Dan word God gedegradeer tot 'n gebruiksvoorwerp wat jy gebruik vir sover jy dit benodig of daaraan behoefte het. God moet doen wat jy wil, pleks van dat jy doen wat Hy wil. Jy soek met jou erediens op die ou end nog maar net jouself en nie meer jou God nie. Jou erediens het louter eiebelang geword. En al lei jy ook 'n goddelose lewe, as jy maar jou godsdienstige rituele nakom, hou jy jou god aan jou kant.

2. Dié gevaar, broeders en susters, is ook vir die volk van die enige ware God nie denkbeeldig nie.

Juis daarom het die HERE aan sy volk in die Tweede Gebod van sy verbondswet die maak van enige beeld verbied. Israel kon in die beloofde land maklik geaffekteer raak deur die wyse van erediens van die Kanaäniete. Nie direk om ander gode voortaan te vereer nie. Maar om Hom, die HERE, op dieselfde wyse soos die heidene binne bereik te probeer kry.

Die Tweede Gebod is naamlik nie min of meer 'n herhaling van die Eerste Gebod, teen die verering van ander gode gerig, nie. Die Tweede Gebod handel nou oor die verering van die HERE. Maar die Tweede Gebod verbied om die HERE te dien op dieselfde wyse soos die heide hulle afgode vereer. Dis nie genoeg om jou rug op die afgode te draai nie, dis vervolgens ook baie belangrik om op die regte wyse voor die God van Israel te kniel.

Want daardie heidense gedagtewêreld is baie aantreklik en besmetlik.

Dit het al geblyk terwyl die HERE nog besig was om die Tweede Gebod vir Moses op 'n kliptafel neer te skryf: aangesien Moses meer as 'n maand bo op die berg Horeb gebly het, het die Israeliete gedink, hy het gesterf. Maar hulle het op heidense wyse ook gemeen Moses was die kragdraad wat hulle met die HERE verbind het en wat sy goddelike krag beskikbaar gemaak het. En dus moes daar 'n nuwe verbindingsmiddel kom om die kragte van God in op te vang en binne bereik te bring. En so het hulle Aäron 'n goue bulkalf laat maak, 'n simbool van lewenskrag. Nie om die HERE te los nie. Maar juis om die HERE weer onder beheer te kry noudat Moses nie meer daar was nie.

Koning Jerobeam maak later feitlik presies dieselfde, as hy twee beelde van bulle in Bethel en Dan oprig. Hy het gemeen die tempel in Jerusalem is, soos by die heidene, die kommunikasiemiddel tussen die HERE en sy volk. Maar omdat hy uit politieke oorwegings sy onderdane, uit Jerusalem in die ryk van Rehabeam wou weghou, het hy twee nuwe kommunikasiepunte vir die HERE opgerig, sodat sy mense ook sonder die tempel van die krag van die HERE kon profiteer.

Die agterliggende gedagte agter die maak van 'n afgodsbeeld kon selfs veroorsaak, broeders en susters, dat geoorloofde sigbare middele wat die HERE wél in die erediens van sy volk voorgeskryf het, op 'n heidense wyse tot 'n gesnede beeld kon word. 'n Duidelike voorbeeld daarvan is die geskiedenis wat ons vanoggend saam gelees het.

Want hoekom het dit heeltemal skeefgeloop met Israel se blink gedagte om die ark van die verbond in die stryd teen die Filistyne saam te neem?

Was dit as sulks verkeerd om daardie goue verbondskis deur die priesters Hofni en Pinehas uit die Allerheiligste te laat haal?

Baie mense dink so.

Maar laat ons nie te gou wees met ons veroordelings nie.

Die HERE het mos Self vir sy volk geleer om sy ark, sy draagtroon, in die stryd vooraan te laat gaan. Toe hulle nog deur die woestyn getrek het, het die priesters deurentyd die ark vooruit gedra. En die volk het geweet: "Die Heer sal opstaan tot die stryd, Hy sal sy haters, ver en wyd, laat wegvlug voor sy oë. "

Die ark het voor Israel uit in Kanaän binnegetrek. En ons klein kinders weet al watter belangrike rol die goue verbondskis van die HERE by die inneming van Jerigo gespeel het.

Die HERE Self het sy volk geleer: met my ark in jul voorste linies kan julle van die oorwinning seker wees. As God vír julle is, wie sal teen julle wees?

Was dus die besluit om die ark ook nou, in hul geveg teen die Filistyne, saam te neem, wel heeltemal verkeerd? Die Filistyne was mos besig om God se volk weer uit die beloofde land uit te dryf! Dan moes hulle tog in die Naam van die HERE verslaan word? Moes daar nie 'n herhaling van Jerigo kom nie?

Tog het die HERE dié keer sy volk heeltemal in die steek gelaat.

Hulle het die goue kis wel gehaal. Maar die HERE het tuisgebly. Hy het dié keer nie saamgekom nie. En Israel het 'n verskriklike neerlaag gely.

Hoekom?

Omdat die verbondsark vir die Israeliete soos die gesnede beeld van die heiden geword het! Kyk nog 'n bietjie in 1 Sam 4 hoe dikwels die ark hier die verbondsark genoem word. God se volk het wel die ark gehaal, maar van die verbond het hulle al jarelank vergeet! Hulle het die God van die verbond nie meer liefgehad en gedien volgens sy verbondswet wat in daardie verbondsark gebêre was nie.

Die ark was vir Israel nog maar net die prop wat hulle moes insit om oor die HERE se onoorwinlike krag te kan beskik. Hulle het, soos heidene, gedink dat hulle, deur die ark uit die tabernakel in Silo te haal, outomaties die goddelike krag van die HERE teen die vyand in stelling kon bring.

So kan dus selfs onderdele van die erediens wat die HERE Self ingestel het, tot gesnede beelde gemaak word.

By Israel het ook die daaglikse offerdiens wat die HERE Self in sy wet voorgeskrywe het, sonde teen die Tweede Gebod geword.

U ken seker wel die geskiedenis van koning Saul, broeders en susters? Saul het die HERE se duidelike opdrag verag, maar hy meen Hy kan die HERE en die profeet Samuel tevrede stel met offers. Dan sê Samuel: "Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehóórsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van die ramme. Want eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. " (1 Sam 15: 22, 23)

Dieselfde verwyt maak die HERE later aan syt hele volk in Psalm 50, waarvan ons sopas 'n paar verse gesing het: Hy het hul offers nie nodig nie -Hy is nie honger of dors nie!- en Hy verafsku selfs daardie offers as daar nie 'n dankbare hart en 'n begeerte om Hom in 'n godvresende lewe te eer in saamkom nie. "Aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog van My insettinge en neem jy my verbond in jou mond, terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? "

En daardie aanklag klink opnuut uit die Here Jesus se mond aan die adres van die Skrifgeleerdes wat meen dat hulle met al hul uiterlike godsdienstigheid vanself die HERE op hul hand gehad het, terwyl hul hart ver van Hom was.

Verstaan u nou dat ek in die inleiding van my preek sopas kon sê dat ons in die stryd van die Boere-Afrianers vir 'n eie volksstaat heelwat sonde teen die Tweede Gebod raakloop? U kan dit byna daagliks op radio Pretoria hoor, het ek gesê.

Nee, ek sê nie dat daar onder hulle nie opregte Christene is nie. Ek sal ook nie sê dat dit almal mense is wat God se tug haat en sy woorde agter hul werp en slegs 'n uiterlike godsdienstigheid daarop nahou nie.

Maar u mag nie daaraan verbykyk nie dat hierdie mense alte vanselfsprekend aanvaar dat hulle die HERE aan hul kant het in al hul strewe en al hul aksies. Ook as daardie aksies heeltemal onwettig is. Selfs as daardie aksies moord op 'n politieke teenstander soos Chris Hani of terreurdade soos bomaanvalle beteken!

Hulle aanvaar alte maklik dat die HERE die God van die blanke Afrikanervolk is. Asof die blanke Boere-Afrikanervolk identies sou wees aan die HERE se verbondsvolk, sy kérkvolk.

Op die ou end word hul velkleur hul gesnede beeld!

Maar ek hoop dat u dan tegelyk verstaan dat dieselfde gevaar ook ons bedreig. Byvoorbeeld wanneer ons sou meen dat die HERE outomaties verbonde is aan die Vrye Gereformeerde Kerke in hierdie land. En dat dit dus wel reg is tussen die HERE en jou solank as wat jy maar aan daardie kerke behoort.

Ek het gesê: ook u daaglikse gebede, u besigwees met die Bybel, u kerkgang kan sonde teen die Tweede Gebod word.

Want die heidense gedagte dat ons God deur ons godsdienstige pligplegings onder beheer kan kry, kan ook ons en ons kinders sommer affekteer. Ook ons godsdienstige lewe kan soos die aanknip van 'n ligknoppie word: verpligte rituele om die HERE binne bereik te hou: As jy maar kerk toe kom, as jy maar gedoop is, as jy maar gereëld die Nagmaal vier, as jy maar by die huis boeke vat en jou gebed nie vergeet nie... dan het jy outomaties die HERE onder beheer gekry.

Daar is nie meer die voortdurende verwondering dat die HERE, die Almagtige, in sy genade na jou toe gekom het en met jou wil saamleef nie; die HERE se aanhoudende aanwesigheid beheers nie meer jou totale lewe nie, maar Hy het slegs 'n beperkte plek in jou lewe oorgehou: jy skakel Hom slegs in in sover jy Hom nodig het.

Jy leef ook nie meer in vrees en ontsag vir sy heiligheid waarteen jy nog voortdurend sondig nie, maar jy dink jy het Hom soseer onder beheer dat Hy nou wel sal doen wat jy begeer, al doen jy ook in baie opsigte nie wat Hy begeer nie.

En as jy bid, verwag jy God moet jou weer gesond maak, Hy moet jou nuwe werk laat vind, hy moet 'n goeie oes gee, Hy moet jou eendag 'n plek in die hemel gee... En as Hy nie so maak, raak jy opstandig.

Maar as die ouderlinge jou vermaan oor 'n swak kerklike meelewe, of oor 'n sondige lewenshouding, of wat ook al, dan dink jy jy kan jouself verskoon met te sê: maar ek kom tog trou kerk toe! Of: maar ek lees wel uit die Bybel en ek bid gereëld.

Jy kan selfs 'n sondige weg goedpraat met die verskoning dat jy die HERE ernstig oor hierdie saak gebid het en dat Hy jou laat weet het jy is reg. En as die ouderlinge aanhou met vermaan, onttrek jy jou aan hulle opsig en tug en kies 'n ander kerk. Jy kan mos ook in 'n ander kerk die HERE wel dien....

Dan het jou kerkgang, jou Nagmaalviering, jou Bybellees by die huis, jou gebed 'n gesnede beeld geword. Sonde teen die Tweede Gebod.

Wie so maak, wil ongetwyfeld nog nie sy rug op die HERE draai nie. Maar die HERE waarsku in die Tweede Gebod dat jy 'n weg gekies het wat in die heidendom eindig!

Jy gaan vandag miskien nog wel trou kerk toe, jy vier nog Nagmaal en bid by die huis. Maar omdat dit maar net leë rituele geword het, sal jou kinders dikwels al nie meer kerk toe gaan nie, of alleen nog as die Nagmaal gevier word en op Kersaand. Maar jou agterkleinkinders gaan glad nie meer kerk toe nie, ken die Bybel totaal nie meer nie, soek ook geen enkele kontak met die HERE meer nie.

As jy jou kinders in so'n verkeerde godsdienstigheid voorgaan, sal hulle jou voetstappe druk en nog meer as jy vir God se lewende woord doof word. Sodat die HERE Hom uit hulle lewe nog verder moet terugtrek. En na drie, vier geslagte het die lewe volslae goddeloos geword. Die vreeslike toorn van 'n jaloerse God moes 'n hele geslag aan die goddeloosheid prysgee.

3. Daarom moet die HERE se lewende Woord, en nie allerhande dooie rituele nie, u godsdienstige lewe beheers, broeders en susters.

Daarin mag u die HERE daagliks by u weet.

Ons hoef Hom nie naderby te manipuleer nie. Hy kom uit sy eie wel na ons toe.

Hy wil mos nie 'n verre God wees nie, maar 'n God van naby. Dis hoekom Hy 'n verbond met sy volk gesluit het. Hy soek gemeenskap met sy volk. Hy wil met hulle wandel en by hulle woon. Dié woorde gebruik Hy self. Maar daarvoor kies Hy Sélf die tye en plekke en geleenthede. Hy laat Homself nie deur die mens naby haal nie, Hy laat Homself nie deur rituele dwing nie, maar die inisiatief bly altyd en heeltemal by Hom alleen.

En daardie inisiatief is, dat Hy spreek.

Hy kom na die mens toe en roep hom om sy kind te wees.

'n Afgod kan nie praat nie. Die HERE wel. In sy Woord stel Hy Homself bekend.

'n Afgod kan ook nie luister nie. Die HERE wel. En Hy is by u so dikwels u Hom aanroep.

So mag ons met die HERE verkeer:

Hy spreek en ons luister. Hy wys die pad waarop ons met Hom mag saamgaan en Hy vra net: gehoorsaamheid.

Dan mag ons ook self spreek en sal Hy luister. En dan sal ons agterkom dat Hy met sy goddelike kragte in ons lewe heel werklik aanwesig is. Ook daarvan is die geskiedenis van die HERE met sy volk een deurlopende bewys.

God het op die duidelikste bewys hoeseer die gemeenskap met Hom alleen van sy kant tot stand gebring en in stand gehou word, toe Hy sy eie Seun in die wêreld gestuur het om onder ons te woon en om deur sy offer vir ons sondes te bewerk dat God voortaan meer as ooit tevore naby ons kan wees: deur sy Heilige Gees wat in ons harte woon.

Maar ook die Heilige Gees kies nog altyd die weg van die Woord om in ons lewe binne te kom. Net as ons luister en in verwondering die Woord van ons Verbondsgod aanneem, sal ons die goddelike energie van die Gees as 'n werklikheid in ons lewe ervaar. Reddend, vernuwend, vertroostend en bemoedigend.

Dis dié dat ek in my inleiding op hierdie preek ook gepraat het van daardie video wat onlangs van die Evangelie van Mattheüs gemaak is. Ten spyte van alle goeie bedoelings, word ook daardie film sommer sonde teen die Tweede Gebod.

Nog nie eers omdat 'n akteur ons Here Jesus naspeel nie. Maar veral omdat die lewende woord van onse God hier gestol het in filmbeelde. Dit moét wel 'n ernstige verarming van die Evangelie oplewer. Want Mattheüs het mos meer as 'n verhaal vertel. Juis Mattheüs wil vanaf die eerste bladsy aanwys hoedat Jesus Christus die vervulling van die Ou Testament is. Bladsy na bladsy verwys hy nadruklik daarna: "Toe is vervul wat deur die profeet gespreek is... ". 'n Mens kan daardie verwysings alleen verstaan deur die desbetreffende gedeeltes in die Ou Testament na te slaan en in hul verband te lees. Maar dit alles kan in 'n speelfilm geen plek kry nie.

Daarom mag ons van daardie video dieselfde sê as wat die Kategismus van die beelde in 'n Roomse kerkgebou sê: "Ons moet nie wyser as God wil wees nie. Hy wil sy Christene nie deur stom beelde, en ook nie deur 'n gespeelde film nie, maar deur die lewende verkondiging van sy Woord laat onderrig. "

Miskien verstaan u nou ook dat ek kon sê dat iemand wat die oopstelling van alle ampte in die kerk ook vir vroue verdedig met die argument dat hy (of sy!) nie kan insien waarom 'n vrou nie 'n ouderling of 'n predikant kan wees nie, 'n gesnede beeld van die HERE gemaak het.

Wie so praat, het die HERE op maat gesny; aan sy eie maat aangepas. Soiemand pas naamlik, onder die invloed van die moderne lewensgevoel, die HERE, in weerwil van duidelike uitsprake in God se heilige Woord, aan sy eie denkbeelde oor mans en vroue aan.

Maar wie so maak, verval van die een in die ander, verwyder homself al hoe meer van die duidelike uitsprake in God se Woord. Dié raak al hoe meer die HERE kwyt en hou sy eie denkbeelde oor!

Wie die HERE wil vashou, moet aan sy Woord bly vashou. Daarin gee Hy Hom aan ons. Moenie u laat lei deur wat u dink en wat u voel en wat u graag wil hê nie, maar gee aan die HERE die eerste en die laaste woord.

En leer ook van kleinsaf aan u kinders om voor die HERE se Woord sonder teëpratery gehoorsaam te wees.

Dan staan daar teenoor die vreeslike bedreiging in die Tweede Gebod vir u die wonderlike belofte van God se oneindige barmhartigheid "tot in die duisendste geslag" van die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou.

As u u God by uself wil aanpas, word u lewe uitsigsloos.

Maar as u uself by Hom aanpas, soos Hy Homself deur sy Woord laat ken, word die lewe van u en u nageslag eindeloos!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)