Die wet as liefdeblyk in die verbond

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

Ps 81: 1, 10, 11, 12
Ps 119: 1, 2, 3, 6
Geloofsbelydenis
Ps 118: 1, 2, 3
Lees: Ps 119: 1-32
Teks: Sondag 34

Brs en srs, kinders!

Ek wil met u nog 'n slag na psalm 119 kyk.

Die psalm oor die heerlikheid van die goddelike Woord.

Hierdie psalm is in 'n heel spesiale vorm gegiet.

Daar is steeds koeplette van 8 reëls. Dit het julle ongetwyfeld eerder raakgesien.

Maar nou het my by lesing van die psalm hierdie week skielik iets besonders opgeval wat ek nooit eerder gesien het en wat ek vir u wil wys.

Dit is dit. Elke koeplet eindig met 'n soortgelyke uitspraak.

Namelik 'n uitspraak waarin die digter sy liefde vir God se Woord en sy lus om uit die wet van God te lewe onder woorde bring.

vs8: Ek sal my aan u voorskrifte hou, moet my tog nooit verlaat nie.
vs16 Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie.
vs24 U verordeninge is my vreugde, hulle is my raadgewers.
vs32 Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want u verryk my lewe.

Hoor u hoe hulle almal op soortgelyke vlak staan?

Die digter spreek steeds sy lus en liefde uit om volgens die wil van God te lewe.

Lus en liefde om volgens die wil van God na al sy gebooie te lewe. Kom dit vir u ook bekend voor?

Ek hoop. Immers dit is hoe sondag 33 die nuwe mens karakteriseer.

En dit verklaar meteen hoekom ons soms 'n bietjie ongemaklik voel as ons die aangehaalde verse lees of moet voorlees.

Bv vers 16 "Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie. "

Wel, dit voel mos nie altyd so nie. Ons voel selfs 'n bietjie huigelagtig as ons lees: My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur.

Weet u wat die probleem is?

Ek kan maar weer verwys na sondag 33. In ons leef daar ook nog 'n stukkie oue mens. En hierdie oue mens blaas ook sy party in ons siel. Hy laat soms ook ons siel brand van verlange. Maar dan na sake wat ons by die Here af wegvoer.

En daarom is psalm 119 so'n pragtige psalm. Hier kry die nuwe mens in ons spraakles. Hy leer hier om te sê: Here, ek het lus en liefde om in al u gebooie te lewe.

En terwyl hy dit sê voel hy nou en dan sleg dat hy dit nie steeds so kan ervaar nie. Maar dit gee dan weer rede om hom te bekeer.

Want die begin van Psalm 119 is inderdaad 'n heerlike waarheid:

Dit gaan goed met die wat onberispelik lewe, die wat wandel volgens die woord van die Here.

Die wet van God in die lewe van sy volk is dan ook 'n geskenk van sy liefde. Hy het daarmee die goeie met ons voor.

Tegelyk is die wet vir ons 'n moontlikheid om ons liefde tot God vorm te gee.

Die wet as liefdeblyk in die Verbond

  1. God bewerk ons liefde
  2. God vra ons liefde

Gewoonlik hou ons nie daarvan as aan ons 'n wet voorgehou word.

Ons het sommer 'n gevoel daarteen. Want ons verkies om vry te wees.

Maar gemeente, onthou, ons spontane verset teen 'n wet van God in ons lewe is 'n verset wat voortkom uit ons oue mens.

'n Nuwe mens verlustig hom in God se wet. Hy vind dit heerlik om na God se gebooie te lewe.

Maar ons is nie altyd so nie. Dit is die probleem.

Hoe kom 'n mens dan sover? Hoe word sy natuurlike verset teen God se wette verbreek?

Wel, dan moet ons nog 'n slag na Psalm 119 kyk.

Want dan ontdek ons dat ook die digter hom nie alleen maar oor die gebooie van God verbly nie.

Daar is ook ander klanke. Tussen die lofprysings op die wet deur hoor ons die digter voortdurend bid.

Hy weet maar al te goed dat die wandel in God se weë nie sommer vanself gaan nie.

bv vs 5: As ek tog maar net op 'n vaste koers kan bly en my aan u voorskrifte kan hou !
vs10: Laat my nie afwyk van u gebooie nie.
vs18: Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar.

Elke keer blyk weer, die digter sien die heerlikheid van die wet, hy weet ook wel hoe daardie wet hom lewensvreugde gee, maar tog het hy steeds gebed nodig om in die weg te volhard.

So kan ons Psalm 119 verstaan. Hier praat 'n gelowige.

Hier praat 'n nuwe mens wat sy lus en liefde onder woorde bring om in God se weë te gaan.

Maar tegelyk is daar by hom die stryd wat in elke gelowige gaande is.

In hom is daar ook 'n oue mens werksaam wat nie daardie pad wil gaan nie. En daardie oue mens kan maar net deur gebed oorwin word.

Dus die digter van Psalm 119 is nie 'n vroom prater wat homself beter voordoen as wat hy is nie. Hy weet van sy tekortkomings, maar tog dit verhinder hom nie om met blydskap oor die gebooie, die wette van God te sing nie..

En daarom kan ons psalm 119 van harte saamsing.

Ons sing van ons lus en liefde tot God se gebooie sonder om te huigel. As ons maar tegelyk bid: Here maak my oë oop, sodat ek die wonders van u wet kan sien en my daarin kan verbly.

Want die wet is 'n wonder.

'n Wonder van God se genae in ons lewe.

Want sê nou God sou ons nie so'n wet gegee het nie.

Dan sou ons maar ons eie gang kon gegaan het. Ons sou onsself oorgegee het aan allerhande vorme van afgodediens.

Ons naaste sou net iemand gewees het, wat moet dien om my voordeel te verskaf.

Ons sou ons oorgegee het aan leuens en bedrog totdat ons nooit meer vrede sou geken het nie.

Maar God wou ons nie aan die dwaasheid van ons eie begeertes oorgee nie.

Hy wil vir ons 'n Bevryder en Verlosser wees.

En daarom gee Hy sy wet.

Die wet is nie 'n belemmering in ons lewe nie, maar verskaf vir ons juis lewensmoontlikheid. Die wet beskerm ons vryheid.

Laat ek vir u 'n voorbeeld gee om dit te verduidelik.

'n Skip wat 'n riviermonding op vaar moet hom presies hou by die bakens wat uitgesit is. Hierdie bakens lê werklik nie daar om die vryheid van die skip in te perk nie.

Ook al lyk dit oppervlakkig dalk so.

Die skipper wat sê: Ek wil vry wees om te vaar waar ek wil. Ek kyk nie na bakens nie! begaan 'n groot dwaasheid.

Immers kort voor lank stoot sy skip op 'n sandbank waarvan hy hom nie meer afkry nie. Terwyl die ander skipper wat hom presies by die bakens gehou het nog steeds vordering maak.

So is die wet van God 'n seën vir die mens.

Dit waarsku jou om nie die pad te verlaat nie waardeur jy sou vasloop.

En dit is wat ons dankbaar maak vir die geskenk van die wet van God.

Ons het dit nodig.

Sondag 34 vertel vir ons dat God die wet op twee tafels van klip geskryf het.

Na die uitleiding uit Egipte het Hy met hierdie wet na sy volk toegekom. As 'n leefreël om hulle aan te hou.

En tot vandag toe gebruik ons die ou wet van die tien gebooie as 'n rigtingwyser vir ons lewe van dankbaarheid aan die Here.

Tog is die wet nie gegee as iets wat altyd sou moet bly nie.

Dit was 'n tydelike maatreël.

Immers reeds in die ou Testament profeteer Jeremia dat dit eendag sover sal kom dat ons die wet soos geskryf op die kliptafel nie meer nodig het nie.

Eendag sal die wet in ons hart geskryf wees.

Dan hoef die wet nie meer elke keer voorgelees word nie.

Dan doen ons dit wat God wil vanself.

In beginsel gebeur dit reeds by ons bekering.

Dan kom daar lus en liefde in ons hart om in die gebooie van God te lewe. Die nuwe mens staan op.

Maar omdat die oue mens nog steeds nie heeltemal afgesterf het nie, bly ons die maatreël van die uiterlike wet nodig hou.

Elke week weer moet ons daaraan herinner word: Moenie doodslaan nie. Moenie egbreuk pleeg nie. Moenie steel nie.

Tot vermoeiens toe.

Helaas het ons dit nodig. En dit sal nodig bly solank ons oue mens nie totaal afgesterf het nie.

Maar daar kom 'n dag en daarna mag ons vol verwagting uitsien, dat ons dit nie meer nodig het nie.

Want dan sal die wet van God ons in ons hart geskrewe staan.

Dan het ons nie meer nodig dat vir ons gesê moet word: Jy moet so of je mag nie so nie.

Nee dan sal alles vanself spreek.

Op die nuwe aarde het ons die hele wet met ons hele hart tot ons eie gemaak.

Dan weet ons nie eens meer wat sonde is nie.

Maar voordat dit sover is het ons die wet nog nodig. Om te bly by die vryheid wat God vir ons gegee het.

Hierdie pad gaan ons agter ons Here Jesus Christus aan.

Hy het vir ons die weg gebaan deur self die wet te volbring.

Hy het ons bevry van die vloek van die wet en juis daardeur het Hy die moontlikheid geskep om ons te bind aan die wet.

Maar dan as 'n reël van dankbaarheid.

As 'n middel om ons liefde te betuig vir die God wat ons lewe bevry het.

Deur sy offer aan die kruis het Christus ons lewe in die ruimte gestel.

Want daardeur is ons nie meer slawe van die sonde nie, maar is ons vrygemaak tot dankbaarheidsdiens aan die Here.

Christus maak mos deur sy Heilige Gees nuwe mense van ons.

Hy het klaar daarmee begin en daarom het ons as nuwe mense nou reeds lus en liefde in die gebooie van die Here.

En daarom kan ons nou reeds vol blydskap psalm 119 sing.

Ons besef, die wet van God is 'n seën in ons lewe.

En terwyl ons daarvan sing begin ons al hoe meer verlang om na die wil van God in alle goeie werke te lewe.

Ons bid die dag na ons toe dat die wet heeltemal in ons harte geskryf sal wees. Die dag dat die stryd verby is en net lus en liefde vir die diens van die Here oorbly.

2. God vra ons liefde

Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.

Dit is die eerste gebod.

In hierdie gebod vra God van ons dat ons Hom moet liefhê bo enig iets anders in ons lewe. Bo jou liefde vir jou vriend, jou man of jou vrou of jou kinders, jaselfs bo jou eie lewe moet jou liefde tot God uitgaan.

Hy is die allereerste in ons lewe.

Daarby moet ons allereers besef dat dit daarom gaan dat ons die Here moet liefhê om wat Hy is en nie b. v om wat Hy gee nie.

Daar is ook baie mense wie se godsdiens daaruit bestaan dat hulle Hom liefhet om wat Hy vir hulle gee.

U ken daardie tipe godsdienstigheid wel: Kyk, die Here het my baie geseën in die lewe, ek het ryk geword, ek is gesond. Hoekom sal ek Hom nie dien nie?

Wel as jy so praat stel jy eintlik jou liefde tot God afhanklik van die aardse gawes wat Hy gee. Die gawes is vir jou eintlik belangriker as die Gewer daarvan.

Wel, dit noem die eerste gebod nou afgodery.

Want so het al die heidene hul gode gedien.

Hulle het eer betoon aan hul gode op grond van die prinsiepe: Ek gee aan god sodat hy my moet gee!

Ek bring offers met die bedoeling dat hy my moet vergoed vir hierdie investering van my kant.

U verstaan om so God te dien is meer 'n vorm van eiediens as erediens.

Die Here vra dat ons Hom moet liefhê omdat Hy ons liefgehad het. En daardie liefde laat Hy werklik nie altyd blyk in aardse voorspoed nie. Hy kan sy kinders ook beproef met swaarkry en dan vra Hy nog steeds dat ons Hom moet glo dat Hy ons liefhet en reg het op ons diens aan Hom.

As ons die reikwydte van die eerste gebod wil verstaan moet ons sien dat die wet van God funksioneer in 'n liefdesrelasie.

Die Bybel gebruik dan altyd die beeld dat die Here sy volk as sy bruid verkies het.

Sy liefde gaan uit na haar.

En daarom het Hy alleen reg op haar liefde.

Dit is mos die eerste reël in 'n huweliksverhouding. Dat die man en die vrou alleenreg het op mekaar se liefde.

Daarom is die allereerste gebod: Geen ander gode voor my aangesig.

Want diens aan 'n ander god sou dieselfde wees as owerspel in 'n huwelik.

God wil sy bruid vir Hom alleen hê.

Hy het reg op haar.

Dit beteken die Here het reg op ons lewe brs en srs.

Reg op ons liefde. Reg op ons trou daarin.

En dit is vir ons tog altyd weer 'n moeilike boodskap.

Want ons is almal geneig om eerder onsself te dien en onsself lief te hê as die Here.

Ons wil almal graag self bepaal wat ons wil doen of nie wil doen nie. Ons wil ons eie wette en reëls maak.

En voor ons bewus is is ons besig om onsself tot God te verhef.

Dink 'n bietjie na oor die volgende vrae:

Wat is die mees kosbare vir my in my lewe?

Vir wie sou ek die meeste opofferings in my lewe wil bring?

Wat is vir my die ding wat die allerbelangrikste is om in die lewe te kan bereik?

As u hier enigiets anders as die Naam van die Here sou invul kan u weet dat daar afgode 'n rol in u lewe speel.

Nee, die eerste gebod is regtig nie 'n oorbodige gebod vir ons nie.

Noudat ons deur genade as kinders van God aangeneem is, noudat ons die voorwerpe van sy liefde is, noudat ons tot geloof gekom het in ons redder Jesus Christus, nou is daar maar een manier om dankie te sê vir die Here.

Dien geen ander gode naas Hom nie.

Stel op Hom alleen jou vertroue.

As jy dit doen sal dit ook sigbaar word in heel jou lewe. In jou gebedslewe. In jou gesinslewe.

In die manier waarop jy met mense om gaan.

In die manier waarop jy besigheid doen.

En die ander kant is ook waar. Elke keer as jy tog ruimte gegee het aan die sonde in jou lewe. As jy jou oue mens tog weer die beslissing laat neem het, moet jy weet dat jy aan 'n ander god geoffer het.

Die god van jou eie begeerte.

Keer dan terug. Dink aan die feit dat Jesus Christus vir jou die wet volbring het sodat daar vergewing is.

In Sy Naam mag jy dit weer probeer.

Glo net. Daar is maar een God wat die moeite werd is om te dien.

Dit is die God wat jou die moeite werd gevind het om die lewe van sy Seun vir jou oor te gee in die dood.

Amen.

29 Augustus 1993

Liturgie: 

(kyk in preek)