Die wet van God as rëel vir ons dankbaarheid

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van dr. R H Bremmer oor Sondag 34 H. K.

Die wet van die Here geen frustasie nie, maar normatief

Lees: Psalm 119: 1 - 24
Teks: Sondag 34 H.K.
Sing: Sb. 26: 1, 2, 10, 11
na wet Ps. 119: 37 en 38
na belydenis Ps. 146: 4
Ps. 99: 1 - 5
Ps. 147: 7
Ps. 19: 4

Geliefde Broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Hierdie tyd, waarin ons lewe, word nogal eens as die ego-tydperk getypeer. Die ego, die ek van die mens domineer. Die lewensinstelling kan moontlik die beste getipeer word deur: "Ek is ek" en "jy is jy"! Jy doen maar wat jy wil, ek doen wat ek wil. Ons is mos vrye indiwidue wat in ons lewe ons eie pad loop. In Duitsland het 'n boek verskyn wat die kenmerkende titel "Alleen" saam gekry het. Daarin word die "ek wees", die alleen wees, van die moderne mens beskrywe. Die mens wat homself op geen enkele manier bind nie. Waarom offisieel trou? Waarom kinders neem? Jy woon alleen en jy loop jou eie pad.

Met norme en gebooie wil die moderne mens niks te doen he nie. Jyself is mos jou eie norm? Die bekende Franse filosoof het dit al gese: Die mens is vry om sy eie lewensontwerp te maak. Die durf moet 'n mens gewoon he. Hy het daar nie aan gedink om hom deur 'n god die wet te laat voorskrywe nie. Gebooie wat van buite na toe kom, sal jou maar net in jou mens wees frusteer. Onlangs het 'n jong man wat vir 'n misdaad voor die hof gestaan het uitgeroep: Ek steur my aan geen mens nie, ek gaan my eie pad. Die een bring dit filosofies onder woorde die ander se dit soos 'n rou riem. Beide gaan van dieselfde vryheidsideaal uit.

Dis in daardie wereld wat vandag die kerk van God lewe. In die openbare eredienste word elke sondag opnuut die tien gebooie verkondig. Die boodskap staan haaks op die moderne vryheidsideaal. Daar word geen ongeremde vryheid verkondig nie, maar aan die wet van God gebind. Gemeente word ons, deur die verbondswet, in ons mens wees gefrustreer? Of is hulle heilsaam, gebooie ten lewe wat ons lewe seen? Bedink dat die tien gebooie in die kategismus-deel van die dankbaarheid staan.

In sondag 34 staan ons as dankbare mense, wat met 'n bly en dankbaar gemoed vra: Hoe lui die wet van die Here? Want die wet is ons in antwoord 91 as die norm vir ons dankbaarheidswerk voorgehou. As verloste kind van God is dit my begeerte om daarna te luister. In vraag 92 hoor ons iets wat ons ook in Psalm 119: 131 vind: "Met my hele wese smag ek na U gebooie, verlang ek daarna. " So wil ons nou, na die heilsame gebooie van God, luister. Hulle is reel vir ons lewe in dankbaarheid.

DIE WET VAN GOD AS RËEL VIR ONS DANKBAARHEID

  1. Ons word daardeur nie gefrustreer nie;
  2. Ons lewe word daardeur genormeer;
  3. Dit is radikaal.

I In die eerste plek word gevra: Hoe lui die wet van die Here? Die antwoord verwys na Ex. 20: 1-17 en na Deut. 5: 6-21 waar die wet herhaal word. Gemeente is dit eintlik nie vreemd nie? Ons is mos gemeente van die nuwe verbond? In ons plek het Christus mos die wet vervul? Waarom verwys die kategismus ons nie na die gebooie wat Christus vir ons in die bergrede gegee het nie? Of na die reels vir die christelike lewe wat die apostel Paulus in sy briewe vir ons nagelaat het. Baie christene vra, of dit wel sin het om die wet van Moses elke sondag in die erediens te lees? Sou die samevatting van die wet volgens Matt. 22 nie voldoende wees nie?

As God die wet net vir die volk Israel bestem het sou ons die vrae positief kan beantwoord. Dit is egter nie so nie. Dink aan die paradys, het God Adam en Eva sy wil nie bekend gemaak nie? Het God die wet eers op die berg Sinai bekend gemaak?

Geen sprake van. God het Hom met Adam en Eva in die paradysverbond verbind. Dink ons miskien dat God die eerste mense in die verbond nie aan die wet: Jy moet die Here jou God bo alles liefhe en die naaste soos jouself liefhe, gebind het nie? Sekerlik wel en die verbondseis nog in die proefgebod toegespits. Daarin het God die mens beproef of hy wel daadwerklik bereid was om God liefde te bewys, deur hom aan die proefgebod te hou.

Liefde tot God en tot die naaste was vir die eerste mense die verbonds-eis. Die grondwet van die verbond het God bly handhaaf ook nadat sy eerste verbondskinders die verbond verbreek het. Heel mooi vernuwe God die eis van sy verbondsluiting met Abraham sy vrind in Gen. 17: 1: "Ek is God die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees. " Gemeente daarin is alles opgesluit wat ook reeds in die paradys beloof en geeis is. Voorop gaan die belofte: Ek is God die Almagtige; natuurlik bedoel die Here daarmee: dit is Ek vir jou Abraham! Dan volg die verbondseis: wandel voor my aangesig dan sal jy opreg wees.

Nou, waarom kom God op Sinai weer na sy volk toe, om hulle opnuut sy wet te gee? Omdat die wet van God, die goddelike eis van liefde tot God en tot die naaste, onder Israel nie meer lewendig was nie. Die tand van die tyd het die besef van die wet van God weggevreet. Daarom was dit vir God nodig om die wet opnuut in te prent. Gemeente, wat het die Here daarby genadig en vorstelik te werk gegaan. Die afkondiging van die wet van God op die Sinai is vir die volk van God 'n geweldige gebeurtenis gewees. Veral as op die tydstip gelet word, waarop God met sy wet tot sy volk gekom het.

Dis nog maar enkele maande nadat Israel uit Egipte verlos is. Hulle is van Egipte na Kanaan, die land van belofte, op pad. Sinds die verlossing uit Egipte het daar baie gebeur: Die volk het gemurmureer, by Mara vanwee bitter water, in die woestyn Sin oor gebrek aan voedsel, God het hulle toe die manna gegee. By Rafidim vanwee gebrek aan water, Moses het daar op die rots geslaan en water te voorskyn geroep. Wat 'n gemurmureer en rebellie teen God! Soos hulle nou as volk is kan hulle nie verder Kanaan toe nie. Die Here ag dit die hoogste tyd om sy wet opnuut in te skerp. God gaan die verbond vernuwe en sy wet opnuut laat hoor.

Eers moet ons egter aandag aan die opskrif van die wet gee. Dit lui: "Toe het God al hierdie woorde gespreek en gese: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. " Dis jammer dat antwoord 92 in die eerste reel al die woordjie "toe" weggelaat het. In Ex. 20: 1 staan dit daar nadruklik by en is van groot betekenis. Die Skrif se: Toe Egypte agter en Kanaan voor gele het, toe God sy volk uit die afskuwelike slawehuis verlos en met hulle na die land wat oorloop van melk en heuning opgetrek het. Eers na die verlossing het God met die wet gekom. Ons wil vir geen geld van die wereld die woordjie "Toe" mis nie.

Gemeente, 'n opskrif bo 'n wet is van die grootste belang. Dit druk op die hele wet sy stempel af. Voor republiek wording het elke wet begin met: Die goewerneur van die koningin van die Gemenebes met die Parlement bepaal, maar na Republiek wording het die wette begin met: Die Staatspresident en Parlement bepaal. Die opskrif laat sien wie die gesag uitoefen en die aard van die wet kom daarin tot uitdrukking.

Hier kom nou God self en stel homself aan sy volk, as die wetgewer, bekend. Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Gemeente hoor ons hoe die Here beslag op Israel le? Ek is die Here "jou" God. Met hierdie opskrif verklaar die Here dat Hy ons God is, dat ons sy eiendom is! Daarby gaan die verbondsnaam voorop; Here, Ek is wat Ek is, die God waarop jy staat kan maak. Die God wat altyd daar is, na wie jy altyd met jou sorge en skuld mag kom. Die woord God het die inhoud van Skepper van hemel en aarde, die Almagtige wat alles in sy hande het. Die God, is nou ons God.

Ja, dan word daar nog uitdruklik aan toegevoeg: wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny bevry het. Die Egiptenaars het van die Israeliete slawe gemaak. Onder dwang moes hulle al die slawewerk vir Egypte doen! Die plek van slawerny het hulle ook daaraan herinner dat hulle hul seuntjies in die Nyl moes verdrink. Nou gemeente, voor die Here een artikel van sy wet afkondig, vertel Hy eers dat dit Hy is wat hulle uit die plek van slawerny, bevry het. In daar die lig en perspektief staan die tien gebooie wat God gaan afkondig.

Ons moet daar ook op let dat die Here die woord gebooie nie gebruik nie. Nie dat dit 'n verkeerd woord sou wees nie, glad nie. Dis egter opmerklik dat die Here van woorde spreek. Toe het God al hierdie woorde gespreek. God het geen klipharde wette afgekondig wat die lewe in 'n dwangsisteem verander nie. Dis woorde van lewe! Woorde wat ons lewensskip die koers wys. Dis woorde waarmee God ons hart wil bereik, sodat dit vir ons 'n vreugde sal wees om volgens die gebooie te lewe. So kom God met hierdie tien woorde na sy verloste volk toe!

Langs die agtergrond van die tien lewenswoorde is daar nog iets in die opskrif wat ons moet raaksien. Die genade gaan hier heel duidelik aan die wet vooraf! Die evangelie gaan voor die eis. God het vir Israel gese: Julle is 'n vrygemaakte volk. Daardie genade van die verbond het God al in Egipte geproklameer. In die nag van die uittog het op die tafel van al die Israelitiese gesinne die paaslam gele wat vir die Here geslag is. Die bloed van die paaslam is aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel van die huise gestryk waarin die paaslam geeet is.

Was daardie paaslam nie een sterk verkondiging van die verlossing en bevryding uit genade deur God nie? Het Israel nie net so goed as die eersgeborenes van Egipte die dood verdien nie? Maar die bloed het hulle van skuld bevry. Die evangelie van die Lam het aan die eis van die tien woorde van God vooraf gegaan. Daarna het God die genadige verlossing nog eens met die deurtog deur die rooisee onderstreep. Die doopsformulier se daarvan: waardeur die doop afgebeeld is. Die water van die rooisee het net soos die paaslam die genadige bevryding deur God vir hulle verkondig.

As ons dit alles oorsien het God dan nie die reg om in die tien woorde die hart van sy volk vir Hom te vra nie? Kyk na die eerste gebod: Jy mag geen ander gode voor my aangesig he nie. Dit beteken niks anders nie as: Julle sal My alleen dien! Alleen aan My julle hart gee. Dieselfde kom in die tiende gebod weer terug: Jy sal niks begeer wat van jou naaste is nie. Met ander woorde julle begeerte sal alleen na My julle Verbondsgod uitgaan. Wanneer ons dit alles oorweeg, kan ons dan se die wet van God frustreer ons lewe? Dis soos 'n dwangbaadjie?

Die antwoord kan nie anders wees nie as: glad nie! Inteendeel Die wet van God het my lewe in die ruimte en die vryheid van die diens van hierdie God ons vrymaker, gesit. Of is ons gefrustreer as ons die Naam van God heilig en die geseende rus van die Sabbat hou? Frustreer dit ons as ons nie doodslaan nie maar ons naaste liefhet? Is ons lewe gefrustreer as ons nie die vrou van ons naaste mag begeer nie, maar in trou aan ons eie vrou moet lewe? Is ons gefrustreer as ons die goed van ons naaste moet uitlos en met vreugde sy voorspoed aansien? Iemand het eenmaal geskrywe: Die gebooie van God is nie honde wat jou byt nie, maar jou na die lewe in liefde tot God en die naaste, toe blaf.

Het ons nog onthou waarmee die preek begin het? Het dit sin om die gemeente van die nuwe testament, met die wet van die Sinai te vermoei? Kyk dan nogmaals na die opskrif van die wet: Hierdie wet kom van die God wat ons van die slawerny bevry het. Vir Israel was dit die land Egipte, maar wat is dit vir ons?

Kan, mag en moet ons hierdie opskrif nie teen die agtergrond van die werk wat ons Heiland vir ons volbring het lees nie? Het Jesus Christus nie in ons plek op Golgota in die slawehuis van sonde en duiwel ingegaan nie? Het Hy nie in ons plek die tien woorde van die wet van God vervul nie? Het ons Heiland in daadwerklike gehoorsaamheid God nie volmaak liefgehad en die naaste soos Homself nie? Het Hy nie die straf vir ons oortredigs gedra nie. Mag ons nou voortaan hierdie opskrif, as gemeente van die Nuwe-Testament nie soos volg lees: Ek is die Here jou God, wat jou in Jesus Christus deur die werk wat Hy volbring het uit die slawerny van sonde en duiwel bevry het nie?

Gemeente, ons is die gemeente van God wat deur Christus vrygemaak is. Kyk waar by Israel die twee plat klippe, waarop God met sy vinger die wet geskryf het, gebere is. Hulle het in die ark van die verbond gele, onder die goue versoendeksel wat die ark afgesluit het. 'n Pragtige uitbeelding van die versoening, deur die bloed van Christus, van ons wetsoortredings. Elke jaar het die hoepriester die versoenende bloed juis op daardie deksel gesprinkel. Dit het die genade uitgebeeld wat die wetsoortredings van die volk van God bedek het.

Christus het vir ons die wet vervul. Hy het ons ook van die vloek van die wet bevry, deur self 'n vloek te word. So het Hy vir ons die krag verwerf, om die wet van God te onderhou, die wet lief te he en ons lewe daardeur te laat normeer. Die apostel Paulus het daarmee geworstel, om tot die regte siening op die wet van God te kom. Vanuit die fariseisme het Paulus tot Christus gekom. As fariseer het hy die wet van God as 'n dwangbaadjie ervaar en sy hele lewe daardeur beknel gevoel.

Toe Christus in sy lewe ingegryp het, het Paulus ontdek dat sy Heiland vir hom die wet volbring het. Hyself het glad niks by te bring om tot vrede met God te kom nie. Die wet het Paulus wel aan sy skuld en tekortkomings teenoor God ontdek. Openhartig het die apostel daaroor aan die gemeente te Rome geskrywe: "ek sou nie geweet het wat sonde is nie, as dit nie deur die wet was nie. " (Rom7: 7) So het Paulus die krag van die wet leer ken om aan sondes te ontdek. Maar verder aan, in vers 12 skryf die apostel dat hy vanuit Christus die wet ook as reel vir die lewe in dankbaarheid sien: "Die wet is dus heilig, en sy voorskrifte is heilig en reg en goed. "

II Dis glad nie nodig om deur die tien heilsame woorde van God gefrustreerd te voel nie. In Jesus Christus kom die tien woorde na ons toe, as 'n genadige reel vir ons lewe in dankbaarheid. Nee hulle frustreer nie, maar normeer ons wel. Ook dit is genade van God! God laat ons nie aan ons self oor nie. Hy wys vir ons die pad. Hy gee vir ons die norme, die reels vir ons lewe, deur die tien gebooie in ons hande te le.

Gemeente wat is alles wat God gemaak het tog baie goed. Natuurlik had God sy gebooie in 'n ander aantal kan formuleer. God gee egter tien gebooie. Vir elke vinger van ons hande een gebod. Kinders kan die gebooie op hul vingers uit tel en leer. Let ook daarop hoe sorgvuldig die Here die gebooie gerangskik het. Daaroor spreek vraag en antwoord 93. Hoe word hierdie tien gebooie verdeel? In die antwoord word dan na Moses en Christus verwys. Dis meesterlik in die kategismus saamgevat. Deur van twee tafels te spreek word na Moses verwys.

By die tafels moet ons nie dink aan 'n tafel waarvan ons gewoonlik eet nie, maar twee plat klippe waarop God met sy eie vinger die gebooie geskrywe het. God het dit selfs twee maal gedoen. Nadat Moses, by die sien van die goue kalf in woede die twee plat klippe flenters gegooi het, het God weer die tien gebooie geskryf. (Deut. 10: 4) In antwoord 93 word daarvan uitgegaan dat God op die een plat klip die eerste vier gebooie geskryf het en op die tweede die andere ses gebooie geskryf het. Die eerste leer hoe ons teenoor God ons moet gedra, die andereen, wat ons aan ons naaste verskuldig is. So het die kerk eeue lank die woorde van die Skrif oor die twee tafels verstaan.

Die laaste tyd is daar 'n andere verklaring wat oorweging verdien, naamlik: Wanneer in die tyd van die Ou-Testament twee konings 'n verbond met mekaar gesluit het. Het elkeen twee kleitablette saamgekry, op elkeen het die volledige verdrag voorgekom. As daar een breek dan was daar altyd nog 'n tweede een. God het met Israel, wat deur Moses verteenwoordig is, 'n verbond gesluit. Volgens die nuwere uitleg sou op elkeen van die twee plat klippe die tien gebooie geskryf wees. So belangrik het God die wet van die verbond geag.

Hoe die regte verklaring ook mag wees, dit verander niks aan die verdeling van die tien gebooie nie. Die eerste vier stel die liefde tot die Here sentraal, die andere ses die liefde tot die naaste. Ons Heiland het hulle self so verdeel. Ons lees dit in Matt. 22;37-39 waar Jesus antwoord op die vraag van die wetgeleerde: "Wat is die grootste gebod in die wet? " Die wetgeleerdes kon daar ure oor stry. Byvoorbeeld is die gebod: eer jou vader en jou moeder belangriker as die gebod oor die sabbat, of is dit anderste om? Aan daardie vrugtelose stryery wil ons Heiland geen deel he nie.

Meesterlik help ons Heiland die wetgeleerde reg: Jy moet die Here jou God liefhe met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan is: Jy moet jou naaste liefhe soos jouself. Het die Here, met die oog op ons gedrag, die wet hier nie skitterend geformuleer nie? In die eerste vier gebooie staan God sentraal. Alleen Hom dien en eer se die eerste, maar Hom wel volgens sy Woord dien en nie eiewillig nie, se die tweede gebod.

As jy God dien en eer moet jy allereers sy Naam heilig hou, dis die derde gebod. Terwyl die vierde-een se: Hoe kan jy hom beter en intenser dien, as deur een volle dag van die week vir sy diens af te staan? So kom God in die eerste vier gebooie steeds nader na ons toe, Hy kom en le op ons hart, ons lewe en ons tyd, beslag. Die andere ses gebooie vat ons Heiland saam in: Jou naaste liefhe soos jouself.

Eintlik gemeente, staan in die eerste vier gebooie ons naaste nie daar buite nie. As ek afgode voor die aangesig van God het, verlei ek daarin ook my naaste. As ek die sabbat verwaarloos het dit vir my naaste ook gevolge. Alleen in die laaste ses gebooie word ek deur die Here wel heel besonder met my naaste gekonfronteer. My naaste; 'n sprekend woord. Dis die man of vrou wat langs my staan en langs my lewe. God het daardie naaste langs my gesit.

Bybelse naaste-liefde het 'n ongelooflik dieper agtergrond as die humanistiese naaste-liefde. Ja die humaniste ken ook naaste-liefde, en se selfs dat hulle die kerk weer nodig het, om mense respek vir hul naaste by te bring. Maar daar is 'n onoorbrugbare kloof tussen humanistiese naaste-liefde en die naaste-liefde om Gods wil.

As gereformeerdes bely ons dat dit God is wat ons naaste langs ons 'n plek gegee het. Dit maak nie saak nie of dit nou 'n opgeruimde hartelike mens is, of 'n moeilik mens wat ons irriteer. Ons het die naaste wat God in ons gesinne, besigheid, of werkkring langs ons geplaas het te aanvaar en lief te he. Ja dit is vir die gemeente van Jesus Christus in hierdie tyd 'n uitdaging!

Daar word baie oor regstellende aksies gepraat. Hier het ons nou die norm vir die regstellings. Word deur ons in ons besigheid, werkkring en in die samelewing naaste-liefde bewys? Word dit om God ontwil gedoen? Wat sou die samelewing daar anders uitsien, minder hard en ego-sentries, as die tweede tafel van die wet meer volbring sou word. Dink aan die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, waarin Jesus besonder aanskoulik vir ons duidelik maak wie in 'n konkreet moment ons naaste kan wees.

Daar kan nog op 'n aspek van ons normering aan die wet van god gewys word. Die laaste jare is daar baie oor die vraag, of die christelik geloof horisontaal of vertikaal belewe word, gestry. Daar word dan gese die ortodokse christene leef dit te vertikaal uit dis net die verhouding tot God wat bespreek word. Hulle moet hul meer horisontaal instel en op die nood van die wereld in honger en oorlog ingaan.

Gemeente is hier 'n teenstelling? Virseker nie, juis deur die mooie indeling van die wet van God in liefde tot God en tot die naaste word hierdie dilemma afgesny. Dis vir ons onmoontlik om liefdevol ten opsigte van ons naaste op te tree as ons nie tegelyk die Here van harte liefhet nie. Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbind. Die "Ek is ek" en die "jy is jy" van die ego-tydperk word deur die dubbele liefde gebod van God, volkome kragteloos gemaak. Mag God ons daarvoor bewaar dat ons soos die regter uit die gelykenis van Lukas 18 word wat geen eerbied vir God of agting vir 'n mens gehad het nie. Dis nie om dowwe neute nie dat Christus ons waarsku, om na Moses en die profete te luister.

III So het ons tot die laaste gekom. Ons het gesien dat die wet van God ons nie frustreer nie, maar normeer. As laaste wil ons nou die radikale van die wet van die Here oorweeg. Dit kom in die eerste gebod vorentoe. Het ons raakgesien dat die kategismus vir elke gebod 'n aparte sondag gebruik, maar nie vir die eerste gebod nie. Daarmee laat die kategismus sien hoe nou die: Ek is die Here jou God, met die eerste gebod verbind is. Nou Hy die Here ons God is, is dit onmoontlik dat ons ander gode voor sy aangesig sou he nie.

Let op hoe mooi die eerste gebod na die indeling van die wet aangeroer word. Daar word nie gevra wat verbied God in die eerste gebod nie. Tog is dit heel duidelik 'n verbod: Jy mag geen ander gode voor my aangesig he nie. Nee in vraag 94 word nadruklik gevra: Wat gebied God in die eerste gebod. Dit gaan hier om die positiewe, wat vloei uit die eerste gebod vir my konkrete lewenshouding voort? Voordat die kategismus dan met een woord oor die eis van hierdie verbod spreek, word ons eers diep onder die indruk gebring van dit wat in die eerste gebod op die spel staan.

Gemeente, dis nie minder as ons saligheid, ons sieleheil! Terwille van ons saligheid moet ons alle afgodery vermy en ontvlug. Verstaan ons dat in die gehoorsaamheid aan die eerste gebod alles op die spel staan? God kan eenvoudig geen afgode voor sy aangesig sien nie. Hulle word nie geduld nie, in die eerste gebod word hul weggevee. Is die gebod vandag nog aktueel? Natuurlik dink maar aan die moderne religieuse bygelowe, die Indiese godsdienste, reinkarnasie, transendente meditasie, alternatiewe godsdienstigheid en alles waarop die moderne mens vandag vertrou.

Die eerste gebod se weg daarmee. Daar is maar een wat waaragtig te vertrou is en waarop volkome staat gemaak kan word. Dis die Here God, die God van die verbond, die Vader van onse Here Jesus Christus. Dis Hy wat in die verdere uitleg van hierdie gebod sentraal staan. Eintlik is antwoord 94 'n lied, 'n loflied op die betroubaarheid en sorgsame liefde van ons God en Vader. Gemeente, watter voordele het die ego-tydperk tot vandag toe vir die mens gebring? Niks anders nie as sedelike agteruitgang, dwelmverslawing, bloed en chaos. Waaragtige vryheid dit lyk daar selfs nie op, dis slawerny aan magte en demone!

Geseend elkeen wat hom deur die radikale gebod van onse God en Vader laat normeer. Gemeente, gee eerder alle skepsele prys, as dat ons maar die minste of geringste teen die wil van Vader doen. Wees radikaal en waak teen afgode in ons lewe.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)