Deur die wet bewerk Christus die volmaking van ons verlossing

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

SONDAG 34 HK / DS F J BIJZET / 25 AUGUSTUS 1991

PREEK OOR SONDAG 34 HK

LITURGIE:
Ps. 119: 1, 3, 6
Gebed
L. 1 Joh. 3: 1-10 & 1 Joh. 5: 18-21
Prediking
Ps. 119: 20
Geloofsbelydenis
Ps. 119: 35, 48
Gebed
Ps. 19: 4, 5

Broeders en susters,

U het aan die begin van hierdie diens gesing dat u in die Wet van die HERE 'n baie groot vreugde smaak. U het m. b. t. die Wet gesing: "Daarmee bly ek altyd besig, daar 't my soetste oorpeinsing is": Ps. 119.

Het u dit uit oortuiging gesing? Of gedagteloos? Was u bewus van wat u gesing het?

Ek vra dit omdat ek wonder of almal weg regtig soveel van God se Wet hou. Die praktyk het lankal geleer dat daar selfs in die kerk mense kan wees wat nie bepaald staan en juig as jy hulle met die Wet van die HERE konfronteer nie. Die serie preke oor die Wet wat aan die hand van die Kategismus elke jaar 'n keer gehou word, is vir hulle nie die mees aantreklike preke nie. En van konkrete vermaan deur hul ampsdraers wil hulle ook nie so veel weet nie. In die kerk moet daar mos die blye boodskap van God se genade en ontferming oor sondaars klink- waarom dan nog steeds gebod op gebod, reël op reël?

Daar is ook ander mense wat wel die noodsaak van die Wetsprediking raaksien en ook ernstig probeer om volgens God se gebooie te lewe. Maar hulle sug dikwels meer onder die Wet as wat hulle sing van die Wet. Want vir hulle druk die Wet soos 'n swaar las op hul skouers, te swaar feitlik vir mense soos ons is.

Kan ons sing van God se Wet? Is dit moontlik om daardie Wet lief te hê as een van die grootste skatte op aarde?

Ja, dit kan, broeders en susters, en die HERE roep my vanaand om dit weer vir u te leer. Dit kan naamlik as ons die Wet van die HERE leer ken het, nie as 'n lastige dwangbuis wat ons lewe alkant aan bande lê nie, maar as die middel waarmee ons Here Jesus Christus sy verlossingswerk in ons lewe volmaak.

Ek verkondig u daarom:

DEUR DIE WET BEWERK CHRISTUS DIE VOLMAKING VAN ONS VERLOSSING.

WANT DEUR DIE WET LEER SY GEES AAN ONS

  1. DIE VRYHEID VAN DIE LEWE MET DIE VADER
  2. DIE BEDREIGING VAN ONS LEWE MET DIE VADER

1. Die laaste tyd is ons in die Kategismuspreke 'n aantal male vergelyk met iemand wat uit die tronk vrygelaat is. Sowel Ds De Boer as ek het daardie voorbeeld gebruik. Ons wat die doodstraf verdien het, is op 'n wonderlike wyse begenadig en vrygelaat.

Maar wanneer daardie begenadigde misdadiger die tronk verlaat, wat maak hy nou...?

Hy sal 'n hele nuwe lewe moet begin.

Ds De Boer het laat sien dat een van die eerste dinge wat hierdie man sal doen, die koop van nuwe klere sal wees. Sy gevangenisklere mog hy agterlaat, sy ou klere dateer nog uit die tyd van sy vroeëre, slegte lewe- hy wil 'n nuwe begin maak. Dus wil hy nuwe klere dra.

Dié voorbeeld word in die heilige Skrif ook gebruik. Ons, wat deur Christus begenadig is, lê ons ou mens af -asof dit 'n ou baadjie of rok is- en beklee ons met die nuwe mens. En in die Openbaring lees ons dat die kerk wat eendag saam met Christus die bruilofsmaal mag geniet, met rein en blink fyn klere bekleed is.

Maar daardie beeldspraak van die klere wys natuurlik op 'n baie ingrypender verandering wat moet gebeur. Dit gaan min help as 'n begenadigde misdadiger nuwe klere aantrek as hy van binne 'n boef bly. Hy sal 'n heeltemal ander mens moet word. Daarom praat die Skrif op ander plekke van: afsterwing van die ou mens, en: wedergeboorte.

Dis dié dat ek self in 'n eerdere preek gepraat het van 'n reklassering wat daardie vrygelate misdadiger moet ondergaan. So moet ons, noudat ons deur ons Here Jesus Christus van ons skuld by God ontslaan is, 'n grondige heropvoeding ondergaan voordat ons geskik is om weer as volwaardige mense in God se maatskappy te kan lewe.

So'n heropvoeding, daardie reklassering kan ons onsself nie gee nie. Dit het die Kategismus vanuit God se Woord reeds by herhaling duidelik gemaak. Chrístus gee dit vir ons. Hy is as ons Advokaat en Verlosser nie daarmee tevrede dat ons net begenadig word nie. Hy wil vervolgens ook radikaal ander mense van ons maak. Daarom gee Hy na ons vrylating sy Heilige Gees aan ons saam, as 'n permanente begeleier wat ons 'n totale heropvoeding sal laat deurmaak.

En so kom God se Wet weer in die prentjie. Want dié leidraad wat die Heilige Gees by ons reklassering aanhou, is die Wet van God. Hy leer ons weer om volgens God se gebooie te lewe.

So'n reklassering lyk dalk lastig, 'n inperking van jou vryheid. Jy moet leer om voortaan nie meer jou eie gang te gaan nie, maar om met ander rekening te hou. Jy moet jou voortaan aan 'n wet onderwerp.

Maar enigiemand wat 'n bietjie nadink, sal verstaan hoe kortsigtig dit is om jou oor so'n onderwerping aan die wet te vererg. In ons menslike samelewing is dit alreeds so, dat so'nder wet die lewe aan tirannie en willekeur, aan vrybuitery en chaos sou prysgegee wees. Sonder ordentlike verkeersreëls, soos dat jy voor 'n stopstraat en 'n rooi robot moet stop en 'n spoedbeperking moet inagneem, sou dit lewensgevaarlik wees om jou op die pad te begewe. Sonder beskermende wette m. b. t. ons eiendom sou enigiemand ons goed sommer kon vat.

Sonder wet is daar geen vryheid meer nie.

Indien dit alreeds geld van die wette in ons menslike samelewing, hoeveel te meer geld dit dan van God se goeie Wet. Jakobus noem in sy brief nie sonder rede nie God se Wet "die wet van die vryheid". God se Wet wil nie ons vryheid inperk nie, maar ons juis by die vryheid van die lewe met God wat Christus vir ons terugverdien het, bewaar. Hierdie Wet wil ons help om van die lewe weer iets moois te maak. Hierdie wet wil ons help om die lewe regtig as vryheid te belewe.

Want wat vra God feitlik alles in sy Wet, broeders en susters? Onderwerp Hy ons aan 'n hele reeks gebooie en verbooie van raak nie, smaak nie en raak nie aan nie? U weet mos van beter. Ons Heiland het ons self geleer dat jy die hele wet feitlik net in een woord kan saamvat: Ons moet LIEFHê. God vra maar net liefde, liefde vir Hom, en liefde vir ons medemense. Hy is geen polisieman of 'n regter of so meer nie, maar Hy wil ons hemelse Vader wees en ons mag weer sy kinders wees! En Hy is besig om ons weer broeders en susters van mekaar te maak. So'n samelewing soek God: soos in 'n huisgesin waarin die liefde die allesbeheersende leefreël is. 'n Lewe waarin ons ons kan tuisvoel. 'n Lewe waarin alle selfsug uitgeban is en almal die gemeenskaplike geluk wil bewaar. Aan dié doel wil God se Wet diensbaar wees.

Want daarsonder kan ons eintlik nie lewe nie.

Onder hierdie liefdeswet het die lewe van die mens eendag begin in die paradys.

Uit die staanspoor uit was die Wet daar om die lewe op aarde leefbaar te hou.

En na hierdie leefreël het die HERE sy volk Israel teruggeroep na Hy hulle uit die slawerny van Egipteland bevry het. God het sy volk weer sy kinders genoem, en Homself hul Vader en Hy het vir hulle weer geleer om mekaar as broeders en susters te beskou. En Hy het hulle weer opgeroep om hul lewe deur die liefde te laat regeer.

Die een reël was nou wel in tien gebooie uitgewerk, maar ons kan sommer in daardie Tien Gebooie die een oorspronklike eis terugvind: die eerste gebooie maak dit konkreet hoedat ons die HERE ons God moet liefhê met ons hele hart en met ons hele siel, met ons hele verstand en met al ons kragte; die tweede deel van die wet verduidelik hoedat ons ons naaste moet liefhê soos onsself.

Die twee kliptafels waarop die HERE eiehandig sy Wet ingegrif het, moes deur Moses gebêre word in die goue verbondskis, die draagstoel van God waarop Hy as 't ware met hulle saam wou gaan deur die woestyn, sy troon waarop Hy gesit het as sy tent in die midde van Israel se laer opgeslaan is. God wou daarmee maar sê: slegs op basis van hierdie liefdeswet wou Hy by sy volk woon en met sy volk saamgaan. Alleen deur hierdie wet sou die lewe met Hom en met mekaar mos leefbaar kan wees. Alleen deur hierdie wet sou God se volk vry kan bly en nie in die slawerny terugval nie.

U weet, gemeente, dat Israel nogtans die vryheid van die lewe met God al gou weer verspeel het. Hulle het die Wet wel in die verbondsark saamgedra. Maar hulle het die wet nie in hul harte saamgedra nie. En daarom het die geskiedenis van God se volk ook na die bevryding uit Egipte een lange sondegeskiedenis geword, totdat die HERE op die ou end sy woning in Israel tot die grond toe afgebreek het. Dit het al hoe duideliker geword dat 'n samelewing in liefde van God en die mense volslae onmoontlik geword het, tensy Iemand vir eens en vir altyd vir almal die Wet van die HERE in ere sou herstel.

Maar daarvoor het toe God se eie Seun, ons Here Jesus Christus, aarde toe gekom. Hy het gekom om "in alle gehoorsaamheid aan die Goddelike Wet die geregtigheid vir ons almal te volbring", soos ons Nagmaalsformulier dit uitdruk. Hy het Homself in totale liefde vir God en sy naaste in die dood opgeoffer om vir almal die oortreding van die Wet te boet.

Maar Hy het Hom ook tydens sy 33-jarige léwe daarvoor totaal deur God se liefdeswet laat beheers. Nie net in sy dood nie, maar ook tydens sy lewe kon Hy sê met Psalm 40: "Diep in my ingewand, waar liefde en ywer brand, dra Ek u heilige Wet".

Ons het dit alleen aan Hom te danke dat God nie vir ewig 'n end gemaak het aan alle menselewe op aarde nie, maar ons opnuut as sy kinders aangeneem het. Slegs danksy God se groot Seun het daar vir ons weer 'n nuwe lewe in liefde met Vader en met mekaar moontlik geword.

Maar dan sal ons beslis nie kan aangaan op ons ou manier nie. Dan benodig ons 'n radikale heropvoeding. As ons ons herkreë vryheid nie meer wil verspeel nie en nou ook regtig kind van God wil wees, sal ons net soos Christus moet word.

Nou maar goed, om dit te bereik het dus die Heilige Gees aan die werk gespring. Want vanuit onsself sal ons dit nooit en te nimmer regkry nie.

By ons staan, soos Jeremia dit in hoofstuk 17 van sy profesieë uitdruk: die sonde met 'n ystergriffel, ja, met 'n diamantpunt op die tafel van ons hart geskrywe. Maar Christus se Gees het besiggegaan -en dit het dieselfde profeet Jeremia ook alreeds mog aankondig in hoofstuk 31- om pleks van die sonde God se wet in ons binneste te lê en dít op ons hart te skrywe. Hy sal maak dat ons voortaan in God se insettinge wandel en sy verordeninge onderhou en doen.

Hoe doen die Heilige Gees dit? Wel, Hy neem ons as 't ware aan die hand saam en wys vir ons aan hoedat Vader in die hemel die lewe oorspronklik bedoel het. Hy hou gebod vir gebod aan ons voor en laat ons sien hoe goed elke gebod vir ons is. Hy hou ons Heiland aan ons voor in sy totale en alles opofferende liefde vir die Vader en vir ons, en so oortuig Hy ons des te meer daarvan dat 'n lewe volgens God se Wet regtig bevrydend is.

Die mense sê dikwels: nood breek wet. Maar die Heilige Gees leer ons dat God se wet juis die nood breek en dat alle nood veroorsaak word deur oortreding van die wet.

Dit kan partymaal baie onthullend en beskamend vir ons wees! Want hoe duideliker die goeie gebod aan ons gewys word, des te duideliker kom ook die slegte gedrag wat daar by óns dikwels nog is, aan die lig. Maar dit moet ook. Want daardeur sal by ons die begeerte maar net toeneem om te verander, te verbeter, net soos Christus te word. Daarom is wetsprediking sinvol en heilsaam, gemeente. Christus bewerk daardeur die volmaking van ons verlossing. Daarom is selfs gesprekke waarin daar met 'n beroep op God se Wet vermáán moet word, waardevol. Dit staan so mooi in die Dordtse Leerreëls: ook deur die vermanings word die genade meegedeel.

Maar dan moet ons wel, as ampsdraers by ons huisbesoek, as ouers in die opvoeding van ons kinders, as lidmate onder mekaar in die onderlinge vermaan, ons uiterste bes bly doen om duidelik te maak hoe heilsaam God se gebooie is, en hoe kortsigtig en dwaas dit is om jou daarteen te verset.

Dis dwaas om jou oor die Wet te vererg. Dis ook nie nodig om daaronder te sug nie. Sing liewer daarvan, omdat dit u lewe as weer 'n vrye kind van God al hoe mooier maak!

Ja, omdat daarsonder die lewe geen lewe meer is nie.

2. Wie eenmaal die heilsame betekenis van God se Wet weer leer verstaan het, sal ook hoegenaamd geen moeite met die eerste gebod daarvan hê nie. Wat is meer vanselfsprekend as dat God se leefreëls vir sy kinders met hierdie gebod begin? Noudat Hy weer ons Vader wil wees en ons sy kinders mag wees, wil Hy voortaan ook álles in almal wees. Dus mag niks en niemand meer tussen Hom en ons indring en ons gesig op mekaar belemmer nie. Ons moet mekaar voortaan vryelik in die oë kan kyk. Ja, soos sy hart vol liefde na ons uitgaan, moet ons hele hart en siel en verstand en kragte deur liefde vir Hom beheers word.

Ons sal Hom moet vrees soos 'n kind sy vader vrees. Nee, daardie woord beteken nie dat ons báng vir die HERE moet wees soos 'n kind vir 'n onberekenbare en hardhandige pa skrikkerig wegkruip nie. Ons moenie bang vir Vader wees nie, maar ons moet bang wees om hierdie Vader seer te maak. Bang om Hom in sy liefde teleur te stel.

Ons sal Hom ook moet eer, sy Naam hooghou as die beste Vader van die hele wêreld, ja van die hemel en die aarde. Sodat ons heftig in verset kom as iemand anders die Naam van ons Vader deur die modder sleep, of sy plek in ons lewe wil oorneem.

Ons moet ophou om onsself en ons eie eer te soek, eindelik erken dat ons self van die lewe net 'n gemors kan maak, en onsself volledig aan Hom en sy sorg oorgee.

Dit klink aan die begin van die Wet miskien al dadelik negatief, gemeente: Jy mag nie... "Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie". Maar u verstaan nou tog die positiewe bedoeling daarvan? Vader wil ons waarsku. Daar is nog gevaarlike magte is wat Hom weer uit die middelpunt van ons lewe wil verdring. sodat de duiwel weer heer en meester oor ons lewe sal word.

Afgode noem die Bybel daardie magte.

Nee, dit is nie regtig gode nie. Daar bestaan geen ander God as ons hemelse Vader nie.

Maar ons moet nie 'n fout maak nie. Want al bestaan daar ook nie eintlik afgode nie, die duiwel bestaan wel. En die duiwel beskik oor 'n menigte bose geeste wat voortdurend daarop uit is om God se kinders in die slawerny van hul meester terug te trek. En daarvoor gebruik daardie bose geeste enige ding uit ons alledaagse lewe. Dinge wat op sigself goed en deur God aan ons gegee is, maar wat ons, as gevolg van duiwelse beïnvloeding, so in beslag kan gaan neem dat dit ons aandag en vertroue al hoe meer van Vader in die hemel aftrek. Dit skuif tussen Hom en ons in sodat dit Hom toenemend aan ons gesig onttrek.

U eie man of vrou kan 'n afgod vir u word, indien naamlik sy of haar wil vir u wet is bo die wil van die HERE. 'n Nooientjie of 'n kêrel kan 'n afgod vir jou word as sy of haar liefde vir jou belangriker is as die vraag in watter kerk Christus jou wil vergader. U kinders kan afgode vir u word, as u hulle maar net grootmaak om met hulle te kan spog as wonderlike sportsmense of begaafde wetenskaplikes pleks van lewende lidmate van Christus se gemeente. U besigheid kan 'n afgod word wat u aandag so in beslag neem dat daar al hoe minder tyd vir u gesin en die gemeenskap van die heiliges oorbly. Die skool kan 'n afgod vir jou word, as jy goeie slaagsyfers vir jou eksamens belangriker ag as die groei in die kennis van die Here deur middel van die weeklikse katkisasieklasse. Geld kan so 'n afgod word, ons stokperdjies, die televisie, drank en seks..... Ja, enige ding.

En niemand moet die bedreiging daarvan onderskat nie. Die apostel Johannes wat in sy eerste brief so uitbundig geskryf het oor die liefde van God waardeur ons weer sy kinders mag wees en uit die greep van die wêreld wat in die mag van die Bose lê, verlos is, sluit nogtans daardie brief af met die indringende waarskuwing: "Kinders, bewaar julleself van die afgode!". Dit klink soos 'n alarmsinjaal. Kinders- dit is die taal van iemand wat weet hoe swak, weerloos en kwesbaar God se kinders nog altyd in hulleself is. Kindertjies- 'n woord waaruit bewoënheid en besorgdheid spreek. Kinders, wees op julle oppassens! Moenie argeloos wees nie. Voordat julle dit besef het die afgode weer in julle lewe binnegetrek. En julle by die Vader weggetrek.

In die Kategismus word 'n aantal spesifieke voorbeelde van afgodery genoem wat regdeur die eeue 'n groot aantrekkingskrag op God se kinders uitgeoefen het: towery, waarseëry, bygeloof.....

Ook hier kan ons argeloos wees. As ons naamlik dink dis sommer alles kaf, verneukery. Baie kinders van die HERE het alreeds dié fout gemaak totdat hullle in aanraking gekom het met kragte en verskynsele wat hulle regtig nie as bloot menslik kon verklaar nie: soos voorsegginge deur 'n siener, of 'n glasie wat sommer op 'n papiere bord waarop letters geskrywe is, begin rondbeweeg en woorde spel. En toe het al hul sekerhede begin wankel.

Ons moet liewer daarmee rekening hou, soos ek die laaste tyd ook in ander preke aangewys het, dat daar inderdaad aan die duiwel en sy bose geeste kragte gegee is om bedrieglike tekens en wonders te verrig.

Ons hemelse Vader laat dit gebeur om ons geloof op die proef te stel of ons regtig met ons hele hart vir Hom alleen gekies het en sy Woord meer vertrou as die mees bedrieglike verskynsele.

Dit lyk dikwels op die eerste gesig asof sulke paranormale verskynsele jou help om met meer sekerheid in God te glo. Daar gebeur dan bo-menslike dinge, dus daar is tog meer as net dit wat ons kan waarneem en met ons verstand kan bevat. Maar inderwaarheid ondergrawe sulke verskynsele juis algaande jou geloof in God se betroubare Woord. Nie God se Woord nie, maar die wonderlike verskynsele neem jou aandag al hoe meer in beslag. Totdat jy op 'n sekere dag agterkom dat daardie kragte jou nie regtig kan help nie: byvoorbeeld as jy jou egmaat verloor, of as die dokter by jou 'n ongeneeslike siekte vasgestel het. Dan staan jy skielik met leë hande. Teleurgestel in die tekens, maar inmiddels ook vol twyfel aangaande God.

Vir 'n kind van God is hier daarom maar een weg: al hierdie tipe van goed, hoe aantreklik dit ook mag skyn, vermy en ontvlug. Ter wille van ons sieleheil. Want as ons ons met daardie dinge inlaat, gee ons vir die bose 'n groot vastrapplek.

Ons moet van die bedrieglike verskynsele terug na die betroubare Woord. Daaruit alleen kan u die enige ware God reg leer ken. Daaruit alleen leer u om Hom so volkome op sy Woord te vertrou dat u u met alle nederigheid en geduld aan Hom onderwerp en alle goeie dinge van Hom bly verwag, ook as Hy u swaar op die proef stel. Uit sy Woord weet u mos ook dat ons feitlik alle regte verspeel het, in elk geval geen reg het om te kla nie, omdat ons die ewige dood verdien het. Maar ons weet ook dat ons hemelse Vader, noudat Hy sy liefde vir ons indrukwekkend bewys het in die geskenk van sy Eniggebore Seun, ons ook langs 'n pad vol beproewings sal vashou en deurhelp.

Daarom is die Heilige Gees van Christus aanhoudend besig om God se Woord en Wet in ons hart in te dra en dit daar in te grif. Sodat ons niks meer buiten Vader begeer nie. Hy maak ook ons oë oop vir die gevare wat nog aanhoudend ons lewe met die Vader bedreig. Sodat ons nog des te meer die lewe by Hom alleen sal soek.

Ook die komende weke sal die Heilige Gees daarmee besig wees, as ons gebod vir gebod van God se goeie Wet gaan ondersoek.

Is daar nou nog iemand wat sug by daardie vooruitsig? Of wat hom by voorbaat vererg?

Of stem ons nou almal saam met die digter van Psalm 119: "HERE, hoe lief het ek u Wet!"

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)