Die wet van die verbond is die wet van die vryheid

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 34 H.K.

LITURGIE:
L. Jerem. 31: 31-34 & Eseg. 36: 26-28
Ps. 25: 2, 4
Ps. 25: 6
SB. 14
Ps. 51: 5
Ps. 143: 8

Broeders en susters,

'n Preek oor die wet op die fees van die Gees?

Is dit wel passend?

"Waar die Gees van die Here is, daar is vryheid", het die apostel Paulus in sy brief aan die Korinthiërs geskrywe. En is vryheid nie die teenoorgestelde van wet nie? Lê die wet nie juis die vryheid aan bande nie?

Ja, watter plek het die wet feitlik nog in ons lewe, noudat ons in die bedeling van die Gees lewe?

Het die apostel Paulus ook nie geskrywe (dis in sy brief aan die Romeine): "Julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade". Danksy die verlossing deur Jesus Christus. Paulus skryf in sy brief aan die Galasiërs selfs dat ons "dood" vir die wet is. Die wet was daar voor Christus en ons was slawe van die wet. Maar toe het God sy Seun gestuur, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop.

Deur Christus leef ons in die bedeling van die Gees. En waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.

Moet daar vandag nie nog 'n preek oor die Gees kom nie? 'n Preek oor die vryheid van die Gees?

Ja, maar wis u, broeders en susters, dat ook die wet van God in die Bybel die "die wet van die vryheid" genoem word? Jakobus noem die wet so in hoofstuk 1 van sy brief.

Wet en Gees staan nie teenoormekaar nie! Hulle het altwee alles met die vryheid te make.

Met die koms van die Gees verdwyn die wet nie uit u lewe nie. Reg: ons is nie meer onder die wet nie. Maar ons is in die bedeling van die Gees ook nie sonder die wet nie. Juis nie: die Gees van die vryheid bring die wet van die vryheid in u lewe terug.

En daarom is dit glad nie onvanpas nie om vanaand, op hierdie fees van die Gees, u aandag vir 'n preek oor die wet te vra nie. Ek mag u hierdie boodskap verkondig:

DIE WET VAN DIE VERBOND IS DIE WET VAN DIE VRYHEID.

Ons gee daarby aandag aan drie punte:

HIERDIE VERBONDSWET

  1. HET ONS VAN GOD DIE VADER GEKRY
  2. HET VIR ONS DEUR GOD DIE SEUN GEBLY
  3. WORD ONS DEUR GOD DIE HEILIGE GEES OP DIE HART GESKRYF.

1. Die woordjie "wet" het in u ore dalk bietjie 'n ongunstige klank, gemeente. Ons dink by "wet" maar alte gou aan allerlei polisiebepalings: dit mag nie en dit mag nie, dit moet sus en dit moet so..... 'n Ingewikkelde stelsel van reëls en voorskrifte wat ons in allerlei opsigte aan bande lê.

Maar die wet van God is aan ons deur 'n liefdevolle Vader gegee. En dit mag u nooit uit die oog verloor nie.

So mag ons ons God tog noem: Vàder. Diè naam het Hyself ons in die mond gelê. En uit die staanspoor uit het Hy die mense as sy kinders beskou. Daarin het die laaste skepsel radikaal van alle ander skepsele verskil. Hy mog kind van Vader wees. Na God se eie beeld geskape.

En wanneer ons praat oor God se verbond met ons, dan bedoel ons hierdie verhouding tussen die Almagtige Skepper van die hemel en die aarde en ons, nietige mensies: daardie groot God wil ons Vader wees en ons mag sy kinders wees.

Ons word by elke doopsbediening mos weer daaraan herinner: As ons in die naam van die Vader gedoop word, betuig en verseël God die Vader aan ons dat Hy 'n ewige genadeverbond met ons sluit en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem..... In die verbond mag ons lewe soos kinders van Vader in die hemel.

Maar elke verbond het twee dele. 'n Belofte èn 'n eis. Ons word deur God nou ook geroep en verplig tot gehoorsaamheid. Dit mag Vader in die hemel tog van sy kinders verwag!

Dit beteken dat ons hierdie God moet aanhang, vertrou en liefhê met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand en met al ons kragte.

En u hoor: daar kom die wet na ons toe, in die samevatting soos Christus ons geleer het. Waar God se verbond tot stand kom, kom hierdie verbondswet saam. God se verbond kan nie sonder hierdie wet nie.

Maar hierdie wet is dan ook hoegenaamd geen dwangbuis nie. Geen serie verordeninge waardeur die lewe lamgelê word nie.

God vra nie anders as liefde nie. 100% liefde vir Hom en dan ook 100% liefde vir die naaste.

Sy verbond met ons is mos geen kontrak van 'n werkgewer nie. En ewemin 'n nie-aanvalsverdrag. Hy wil ons Vader wees. En wat is meer vanselfsprekend as dat 'n vader van sy kinders liefde verwag en verlang? Die liefde kan nou maar eenmaal nie steeds van een kant bly kom nie. Liefde wil beantwoord word. En dus wil God met ons in liefde saamlewe.

Die wet van die Tien Gebooie is in sy samevatting: God liefhê en die naaste liefhê, dan ook al so oud as die wêreld oud is. Dit was vanaf die begin die reël in die verbond: die lewe moet een en al liefde wees.

God het die mens, die kroon op sy skepping, midde-in sy wye wêreldhuis gesit en het hom alles in die hande en onder die voete gegee. Die hele skepping het vir die mens oopgelê, en in daardie skepping het God se hart vir die mens oopgegaan: 'n hart vol liefde en sorg.

Net een eis het God daarby gestel: dat die mens nou ook in liefde sy hart vir Gòd sou oopmaak en oophou. Nie meer nie.

En daardie een eis wou nie die lewe aan bande lê nie. Nie insnoer nie. Juis nie!

Hierdie verbondseis moes juis die egte lewe moontlik maak. Leefbaar hou.

Wat die water vir die visse en die lug vir die voëls, hul element, dit is God se verbondswet vir sy kinders. Die wet van die ware vryheid. Hierdie wet hou die leefklimaat gesond.

Liefde was vanaf die paradys die leefreël. Liefde vir Vader- dit boal, en wat daaruit soos vanself voortgevloei het: liefde tussen Vader se kinders ondermekaar.

Dit hoef ons dan ook nie te verwonder nie dat God, as Hy na die sondeval sy volk Israel onder sy ou verbondswet terugbring en nou hierdie liefdesreël in Tien afsonderlike Gebooie uitlê, hierdie gebod vooropgesit het: "Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie". Daardie eerste gebod is eintlik die vertrekpunt vir al die nege ander gebooie.

Uiteraard sit Vader dit vir sy kinders voorop. Hy wil àlles vir hulle wees. Ons moet vol van Hom wees. Sodat Hy alles in almal is. Ons moet nou ook alles van Hom alleen verwag. Hom in sy allesomvattende liefde vir ons ken.

So is dit tog normaal? So behoort dit tog tussen 'n vader en sy kinders te wees? So behoort dit sekerlik tussen hierdie Vader en sy kinders te wees.

God eis ons hele lewe vir Hom op. Ons denke en doen, ons inspanning en ontspanning, ons erns en ons vrolikheid, ons liefhê en opvoed.... alles moet van ons liefde vir Vader in die hemel deurtrokke wees.

Vader is daarby wel baie presies. Met die een eis van liefde vra Hy nie veel nie, maar wel alles. Die grootte van ons liefde vir Hom moet tot in die allerkleinste besonderhede blyk. Niks mag ons in beslag neem buite Hom nie. Niks mag hom tussen Hom en ons dring nie. "Geen ander gode voor my aangesig nie", sê God. M.a. w.: niks of niemand mag sy gesig op ons of ons gesig op Hom belemmer nie. God is op hierdie punt baie onverdraagsaam. Hy alleen het die reg op die liefde van ons hele lewe. Hy, ons Vader.

Die Kategismus gee in ant. 94 'n klein opsomming van sake wat daar tussen Vader en ons kan kom. Ons sou diè opsomming nog tien keer langer kan maak.

God wil niks daartussen sien nie.

Weereens: dit is geen knellende greep op ons lewe van 'n harde tiran nie- dit is nie anders nie as die vanselfsprekende aanspraak op ons lewe van 'n liefdevolle Vader. Hy wil dat ons van a tot z vir Hom lewe.

Want anders hèt ons geen lewe nie! Hy is mos die God en Skepper van ons lewe. Aan ons liefde vir Hom hang die verbond met Hom. Die saligheid van ons siel hang daaraan. As die saligheid van my siel my dierbaar is, sal God my dierbaar wees!

2. Hierdie samehang het Adam en Maninne egter uit die oog verloor, broeders en susters. Hulle het vergeet dat hul hele lewe aan die groot leefreël van hul hemelse Vader gehang het. Eers het hulle die duivel tussen God en hulle laat inkom. En toe was hulle eensklaps totaal die sig op God kwyt. Pleks van van liefde vir Hom te brand, het hulle in liefde vir hulleself ontbrand: hulle wou net soos God wees.

Wat is die sondeval anders as dat die mens die wet vir die lewe wat God gegee het, eenkant toe geskuif het? Dit was: aan God die liefde van die hele hart onthou en toe ook alle liefde vir mekaar verloor en net nog deur selfliefde, egoïsme gedryf word. Met alle gevolge daarvan. Want daar waar God se leefreëls verag word, daar breek die lewend stukkend: die lewe met Vader en die lewe met mekaar as Vader se kinders. Daar kom die dood.

En so het die wêreld deur die sonde, dit is dus: deur die wetteloosheid, in die greep van die dood gekom. Deur die sonde is dit hier geen lewe meer op aarde nie. Die mense is God en mekaar kwyt en daardeur is daar geen ander uitsig nie as die ewige dood.

Dit is dan ook genade dat God Hom van hierdie wettelose wêreld nie totaal afgekeer het nie. Dit is wel 'n vergaande liefde dat Hy sy liefdelose kinders nie vir goed gelos het nie. God het verlore kinders weer teruggesoek en die uitsig op die lewe opnuut vir hulle oopgemaak.

Maar toe kòn dit nie anders nie of toe het ook die wet in hul lewe teruggekom. Sonder daardie wet is daar mos geen lewe moontlik nie!

Toe die HERE Israel tot sy volk gekies het en Moses tot hierdie volk mog sê: "Julle is kinders van die HERE, julle God" (u lees diè woorde o. m. in Deut. 14: 1), moes Moses aan hierdie volk ook God se wet as die leefreël in die verbond met God voorhou en inprent. Alleen deur na hierdie wet te lewe, kon hulle kinders van God bly. Alleen onder God se wet bly die lewe gesond. Israel is, na die verlossing uit die slawehuis, weer onder die aloue wet van die lewe geplaas: God liefhê bo alles en die naaste liefhê soos jouself. Nou was dit noodsaaklik dat die HERE hierdie eenvoudige leefreël vir sy van nature wettelose kinders in tien afsonderlike gebooie uitgelê het. Nou moes nader verklaar word hoe jy die HERE moet liefhê bo alles, en hoe jy jou naaste moet liefhê soos jouself.

Maar, gemeente, dit het het onder die Ou Verbond darem nooit regtig goed geword nie, ten spyte van hierdie wet. Die egte lewe, soos dit in die paradys was, het nie weergekeer nie.

Dit het nie aan die wet gelê nie. Dit het aan die mens gelê. Die sonde het soseer op die hart van die mens beslag gelê dat hy God se wet nie in die hart kon dra nie. Die liefde van die hele hart- die onmisbare voorwaarde vir die lewe, was nie meer daar nie.

En so het die wet 'n drukkende las wat God se kinders onophoudelik aan hul ellende ontdek het, geword. Die wet het geëis: jy moet liefhê. En die mens het gevoel: ek is van nature geneig om God en my naaste te haat. Ik kan nie as 'n kind van God lewe nie. Die wet het gesê: doen dit en jy sal lewe. Maar die mens het gevoel: ek kan dit nie doen nie en dus is daar vir my geen lewe nie.

Dis diè dat Paulus die wet "die wet van die dood" genoem het (Rom. 8: 2). Hierdie volmaakte wet het mos aanhoudend daaraan herinner dat God se kinders die dood verdien het. Weereens: dit het nie aan die wet gelê nie; die wet was heilig en goed, die leefreël van die paradys. Maar dit was sondige, magtelose mense aan wie God se wet opgelê is. En die wet kan vir sulke mense nie anders as met die dood dreig nie: "Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskrywe is in die boek van die wet om dit te doen nie".

Die wet kon God se kinders nie uit die greep van die dood losruk nie. Want die wet wys wel die regte pad, maar gee nie die krag om daardie pad nou ook te loop nie. Dis hoekom die wet God se kinders na die Middelaar Jesus Christus, God se eie Seun wat in ons plek aan die eis van die wet kom voldoen het, heengedrywe het. Die wet kon ons nie weer tot kinders van God maak nie, want niemand van ons was by magte om God se wet van harte na te lewe nie.

Dis hoekom God met sy genade gekom het en ons langs 'n ander, 'n wonderlike weg weer tot sy kinders gemaak het: Hy het sy Seun gegee wat in ons plek as Kind van God volgens die wet van God wou lewe en ook die vloek van die wet vir ons wou dra. Christus het deur sy offer die verbond van Vader met ons heeltemal herstel.

Deur Hom mag ons, met al ons sondes wat nog oorgebly het, dus met ons hele wetteloosheid, tog weer tenvolle God se kinders wees. En God wil weer ons genadige Vader wees wat ons ons sondes nooit meer toereken nie.

Dit het Paulus bedoel toe hy geskryf het: "Julle is nie meer onder die wet nie, maar onder die genade". Hy wou daarmee sê: God eis van julle nie meer: doen dit wat Ek in my wet vra en julle sal lewe, nie. Maar: glo in my Seun wat in julle plek my wet nageleef het, en julle sal lewe.

God het die drukkende las van die wet van ons skouers afgevat en die ligte las van die geloof in Jesus Christus daarvoor in die plek gegee. Sy genade is nou genoeg. Die lewe lê weer vir ons oop, nie vanweë ons wetsvolbringing nie, maar vanweë die gehoorsaamheid tot in die dood van ons Middelaar.

Maar is ons nou heeltemal van die wet af, broeders en susters?

Het deur Christus die wet van God nou uit die lewe van God se kinders verdwyn? Ons is nou dus nie meer onder die wet nie; maar is ons daarom nou ook sonder wet? Is God se wet in ons lewe afgedaan? Noudat die wet danksy Christus geen "wet van die dood" meer vir ons is nie, is daar daarom vir die wet nou ook geen plek meer in ons lewe nie?

Seker wel. Wat is mos God se verbond met ons sonder verbondswet. Dit moet tussen God en ons weer word soos dit was: 'n samelewe in liefde.

Dit is vir God nie genoeg dat ons deur die geloof weer sy kinders genoem kan word nie. Ons sal ons ook weer heeltemal as kinders van Hom moet gedra. Dit is nie voldoende dat Christus in ons plek aan die wet van die lewe gehoorsaam was nie. Òns moet ook weer daaraan van harte gehoorsaam word. Ons is deur Christus vrygemaak van die slawerny aan die sonde. Maar nou moet ons ook by diè vryheid bly. Nou moet die wet van die vryheid ons lewe weer regeer.

Daarom is, noudat Christus die nuwe verbond vir ewig regskrag verleen het, die wet nie uit ons lewe wèg nie, maar kom dit juis met die volle gewig in ons lewe terug.

3. Met die gewig van die Heilige Gees van God! Die Gees van die vryheid sal ons by die vryheid wat Christus vir ons terug verdien het, bewaar deur die wet van die vryheid ons nou op die hart te skrywe.

So het God dit al tydens die Ou Verbond d. m. v. Jeremia en Esegiël beloof. In diè gedeeltes wat ons in hierdie diens gelees het: "Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; Ek sal my Gees in jul binneste gee en maak dat julle in my insettinge wandel en my gebooie onderhou en doen".

"Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit, sê die HERE: Ek gee my wet in hul binneste en skrywe dit op hulle hart".

Dit wat ons uit onsself nooit meer kan regkry nie, dit sal God deur die Heilige Gees Self bewerk.

Die wet, die goeie leefreël van die begin wat ons uit ons hart uitgeban het en sindsdien nooit meer van harte kon nalewe nie, sal deur die Gees van God ons nou op die hart geskryf word, ja, in ons hart met onuitwisbare letters ingebrand word. Die Heilige Gees sal ons van harte gewillig en bereid maak om voortaan tog weer vir God, ons Vader te lewe.

Alle afgode moet daar tussenuit. Ons hart moet weer vol van liefde vir alleen God en die naaste word. God wil weer alles in almal word. Die wet van God moet ons weer op die lyf geskrywe staan:

"diep in my ingewand
waar liefde en ywer brand
dra ek u heil'ge wet".

Eers dan is die nuwe verbond regtig nuut. Eers dan sal dit weer wees soos dit was en soos God dit altyd wou hê. Eers as ons lewe brand van liefde vir Hom, tot in die kleinste besonderhede van die lewe van elke dag.

Die wet moet nie uit ons lewe weg nie! Dit moet juis in ons lewe terugkom. Ons op die hart geskryf. Vader se leefreël moet al hoe meer weer ons lewe gaan beheers. Want hoe meer ons weer na daardie wet leef, hoe groter sal die vryheid vir ons word.

Daarom het God die Heilige Gees aan ons gegee. Ook dit behoort by die fees van Pinkster: die vryheid wat Christus vir ons verdien het: 'n lewe met God soos dit in die paradys was, aan daardie vryheid gee die Heilige Gees gestalte deur die wet van die vryheid in ons lewe terug te bring.

Wil u weet hoe die Heilige Gees dit doen, broeders en susters?

God se Gees skryf u God se wet op die hart so dikwels Hy met God se Woord in u lewe binnedring. Dit is dus: so dikwels u u Bybel oopmaak, lees, bestudeer en die onderwysing daaruit ter harte neem.

Dit is dus: so dikwels ons seuns en dogters in die skool en in die katkisasieklas met die wil van Vader in die hemel gekonfronteer word.

Dit is dus: so dikwels die ampsdraers u by die huis kom besoek en u lewe met die wet van u God konfronteer.

Dit is dus ook: wanneer ons in die weke wat voorlê uitvoerig, van gebod tot gebod, ons aan die hand van die Kategismus in die wet van die verbond gaan verdiep.

Langs diè weg en op diè wyse doen die Heilige Gees van God sy vrymakende werk in ons lewe.

En nou kom dit dus maar daarop aan, gemeente, dat ons die Gees sy vrymakende werk in ons laat doen. M.a. w. dat ons as ampsdraers die gebooie skerp en onverkort aan u voorhou, al sny dit dalk ook diep in u sondige en eiewyse vlees.

En dat u u ore en u hart wyd oophou, so dikwels u die wet gestel word.

Dit moet wel, as u saligheid u dierbaar is.

Want die wat regtig vry wil wees, sal ook besef dat hy dit nie sonder die wet kan wees nie.

AMEN.

(Pretoria, 14 Mei 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Alternatiewe Inleiding:

Broeders en susters,

Die Kategismus vra vanaf vandag ons aandag vir die wet van God.

En baie uitvoerig nogal. In maar liefs 11 Sondae. Gebod na gebod word behandel.

Maar moet dit nog wel, gemeente?? Moet die kerk na Pinkster hom nog wel so uitvoerig met die wet besighou?

"Waar die Gees van die Here is, daar is vryheid", het die apostel Paulus in sy brief aan die Korinthiërs geskrywe. En is vryheid nie die teenoorgestelde van wet nie? Lê die wet nie juis die vryheid aan bande nie?

Ja, watter plek het die wet feitlik nog in ons lewe, noudat ons in die bedeling van die Gees lewe?

Het die apostel Paulus ook nie geskrywe (dis in sy brief aan die Romeine): "Julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade". Danksy die verlossing deur Jesus Christus. Paulus skryf in sy brief aan die Galasiërs selfs dat ons "dood" vir die wet is. Die wet was daar voor Christus en ons was slawe van die wet. Maar toe het God sy Seun gestuur, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop.

Deur Christus leef ons in die bedeling van die Gees. En waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.

Ja, maar wis u, broeders en susters, dat ook die wet van God in die Bybel die "die wet van die vryheid" genoem word? Jakobus noem die wet so in hoofstuk 1 van sy brief.

Wet en Gees staan nie teenoormekaar nie! Hulle het altwee alles met die vryheid te make.

Met die koms van die Gees het die wet nie uit u lewe verdwyn nie. Reg: ons is nie meer onder die wet nie. Maar ons is in die bedeling van die Gees ook nie sonder die wet nie. Juis nie: die Gees van die vryheid bring die wet van die vryheid in u lewe terug.

Ek mag u hierdie boodskap verkondig:

Liturgie: 

(kyk in preek)