Die bekering wat Christus in Sy Christene bewerk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 33
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 33 H.K.

LITURGIE:
L. 2 Korinth. 7: 1-11
Ps. 130: 1, 2 / Ps. 130: 1, 2, 4
Ps. 130: 4 / Ps. 51: 6
Ps. 32: 2, 3 / Ps. 51: 5
Ps. 51: 6 / Ps. 32: 2, 3, 4
Ps. 34: 8

Broeders en susters,

Ek moet vanaand dus die ware bekering van die mens aan u verkondig. Ons konkrete lewe as christene moet in die kollig kom. Ons daaglikse lewe met sy stryd teen die sonde, met sy aanvegtings en verleidinge, sy oorwinnings en teleurstellings, sy vreugde en verdriet.

Daar is mense, goeie Gereformeerde broeders en susters, wat nie daarvan hou nie.

Hulle meen dat dit verkeerd is om die méns met sy daaglikse stryd in die kollig te haal. Hulle sê: die Christus moet gepreek word, nie die christèn nie. Hulle is bevrees dat die Christus nie meer in die middelpunt bly staan as ons op die bekering van die christen konsentreer nie.

Daardie vrees het 'n agtergrond: ons kán inderdaad op 'n heeltemal verkeerde manier die belewing van die mens as kind van God, sy stryd en aanvegtinge, sy vreugde en oorwinnings op die voorgrond plaas. Sodat dit wat met die vrome christen gebeur, die aandag dermate in beslag neem dat die Christus uit die gesigsveld verdwyn.

Daar hét dikwels gebeur, en gebeur vandag nog. Daar is baie mense wat helaas so ook die Bybel lees: die Skrif het vir hulle 'n versameling bekeringsgeskiedenisse geword, 'n boek vol verhale van mense met hulle geloofsworsteling.

Wie daarvoor bevrees is en daarteen wil waarsku is natuurlik reg.

Nie die werk van mense nie, maar Christus se werk moet in die middelpunt van ons belangstelling bly staan.

Maar ons moet nou nie in die ander uiterste verval nie! Dis ewe goed verkeerd om uit vrees vir 'n verkeerde mensgesentreerdheid heeltemal te swyg oor dit wat in die lewe van 'n christen gebeur.

Want ook die bekering van 'n mens is in alle opsigte die werk van ons Here Jesus Christus. Maar dit is wel sy werk ín ons, sy christene! Sy werk bewerk iets in ons. Sy werk veroorsaak in ons berou, stryd, vreugde, verdriet....

En dan mag ons -ja, die Kategismus dwing ons in Sondag 33 daartoe- ook op die gevolge van Christus se werk in ons lewe spesiaal konsentreer. Nie om die christen te verheerlik nie, maar om die Christus ook oor hierdie werk van verlossing te loof en te prys.

Daarom verkondig ek u vanoggend:

DIE BEKERING WAT CHRISTUS IN SY CHRISTENE BEWERK.

HY BEWERK DIE BEKERING

  1. UIT 'N WARE GELOOF
  2. VOLGENS DIE WET VAN GOD
  3. TOT EER VAN GOD

1. 'n Mens moet hom bekeer om in die Koninkryk van God te kan ingaan. Dié boodskap klink regdeur die hele Bybel.

Vanweë ons sondes rus God se toorn op ons, sodat ons in sy Ryk nie kan kom nie, tensy ons weer gebore word. En "weer gebore word" is dieselfde as: deur bekering heeltemal 'n ander mens word.

Maar wanneer vind dié bekering, dié wedergeboorte plaas?

Moet ons ons éérs moet bekeer, voordat ons die Koning van die Koninkryk van die hemele kan ontmoet?

Gaan die bekering aan die verlossing deur Koning Christus vooraf?

Daar was, en is, baie christene wat so dink en leer.

Hulle sê: jy moet eers deur die lang en donkere tonnel van 'n toenemende onvrede oor jou sondige lewe, van 'n al hoe groter vrees vir God en verdriet oor jou ellende. Tot die wonderlike dag kom waarop jy jou bekeer. Eindelik bely jy ten volle jou skuld voor God en aanvaar jy die Here Jesus Christus as jou Verlosser. En dan verdryf die lig van Christus al die duisternis en leef jy voortaan as kind van die lig.

Jy is 'n wedergebore mens. Jy is bekeerd.

Bekering is dus die poort tot die lewe met Christus.

Dié wat so leer beroep hulle hul ondermeer op dit wat in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus staan. Bestaan die lewensweg van die christen nie uit drie dele nie? : die kennis van sy sonde en ellende, vervolgens die kennis van die verlossing van sonde en ellende deur Jesus Christus, en so die dankbaarheid vir hierdie verlossing.

Hulle wys ook op Sondag 33: waaruit bestaan die ware bekering van die mens? Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. Dus: eers sterf die ou mens hoe langer hoe meer af, totdat op die dag van bekering die nuwe mens opstaan.

Die verlossing begin dus met bekering.

U kan hierdie opvatting in heelwat sektes raakloop, veral in Pinkstergroepe en by Baptiste. Maar dié gedagte het ook onder Gereformeerdes telkens weer ingang gevind.

Maar as dit regtig so sou wees, broeders en susters, is dit baie snaaks dat die Heidelbergse Kategismus eers nou, in die laaste deel, die ware bekering van die mens aan die orde stel. Waarom eers in die deel van ons dankbaarheid wat op ons verlossing deur Christus moet volg? Moes dit nie al veel eerder bespreek gewees het nie? Al dadelik in die eerste deel oor ons sonde en ellende?

Nee, want ons maak 'n gevaarlike fout, gemeente, as ons die bekering net beperk tot een groot ommekeer in 'n menselewe.

Sekerlik, daar is mense wat so'n indrukwekkende ommekeer meegemaak het. Die bekende voorbeeld in die Bybel is Saulus, die latere apostel Paulus. Maar dis met daardie eerste bekering nie klaar nie. Dit is slegs die begin van 'n aanhoudende daaglikse bekering. Daarna volg nog 'n lewenslange stryd teen jou sondige aard.

Ons lees die Kategismus ook nie reg nie, as ons van die drie dinge wat ons moet weet om getroos te kan lewe en sterwe, drie stadiums in ons lewe maak wat op mekaar volg: eers ellende, dan verlossing en so dankbaarheid. Die Kategismus bedoel dit glad nie so nie. Daardie drie dinge: kennis van ons sonde, kennis van die verlossing deur Christus en weet hoe om God dankbaar te wees, is drie vlakke aan die een diamant van ons christelike troos. Hulle drie behoort by mekaar, beïnvloed en versterk mekaar. Die wetenskap van my verlossing laat my my sonde en ellende nie vergeet as 'n periode in my lewe wat gelukkig verby is nie- nee, dit laat my juis nog sterker besef hoé groot my sonde en ellende nog altyd is. Maar dit dryf my terselfdertyd ook tot 'n al hoe groter dankbaarheid uit.

So is dit ook met die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens waarvan Sondag 33 praat: die is nie twee gebeurtenisse námekaar in my lewe nie. Maar dit is twee kante van een en dieselfde ontwikkeling wat my my hele lewe lank in beslag neem.

En wat u veral moet raaksien: daardie ontwikkeling gaan nie aan my geloof in die vergewing van sondes deur Jesus Christus vooraf nie. Maar dit vloei juis daarui voort.

Dis nie so dat ek deur bekering tot geloof gebring word nie. Maar my geloof in Christus bring my tot bekering. Die begin van die verandering in my lewe lê nie in my eie stryd teen die sonde nie, maar dit lê in my geloof in Christus se oorwinning op die sonde.

Dis die regte volgorde.

Dié volgorde bely ons ook in die Nederl. Geloofsbelydenis art. 24: (EERSTE SIN LEES: "Ons glo dat die ware geloof in die mens voortgebring word deur die hoor van die Woord van God en deur die werking van die Heilige Gees- dat die gelóóf hom weergebore laat word en tot 'n nuwe mens maak, hom 'n nuwe lewe laat lei en hom van die verslawing aan die sonde bevry")

Eers as die Heilige Gees my deur 'n ware geloof in Christus inlyf, groei daar in my lewe bekering. Eers as ek die Seun van God as my Verlosser leer ken het, kom ek regtig op my knieë voor God.

Want wie die Seun leer ken het, ken nou ook die Vader.

Die Seun neem my saam na sy Vader toe en plaas my voor Hom. Vader wat my as sy kínd wil hê. Vader, wat my so liefgehad het dat Hy selfs sy Eniggebore Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir my in die dood oorgegee het.

As ek voor Vader staan en in sy oë kyk, besef ek eers ten volle dat ek nie meer werd is om sy kind genoem te word nie.

Soos die verlore seun uit die gelykenis sy skuld teenoor sy vader nog nie ten volle besef het toe hy honger en ellendig agtergekom het dat die knegte by sy pa 'n beter lewe het as hy nie. Hy het toe wel besluit om weer huis toe te gaan. Maar eers toe hy op sy pa se skouer gestaan en huil het en sy pa hom nie weggestuur het nie, maar weer vol liefde in sy arms gesluit- toe het hy gevoel hoe groot sy skuld teenoor hierdie vader was.

So bewerk Christus eers by ons ook die egte, diepgaande skuldbesef en bekering, as Hy ons saamneem na sy Vader toe en Vader ons om Christus ontwil met oop arms opwag.

Eers dan kom daar by ons die hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het. Eers dan besef ons regtig Wié ons met ons sondige, selfgesentreerde lewe, gekrenk en seergemaak het.

Eers dan groei daar by ons 'n "droefheid volgens God" soos Paulus daarvan praat in die gedeelte wat ons uit sy tweede brief aan die Korinthiërs gelees het. "Droefheid volgens God", miskien moet ons liewer vertaal: "droefheid met betrekking tot God"- Paulus plaas dit teenoor "droefheid van die wêreld". "Droefheid van die wêreld" is feitlik maar net 'n berou vanweë die gevolge van jou sondes. Dít het die verlore seun gehad toe hy nog die varke moes oppas en so honger was dat hy wel die varke se kos wou eet.

Dit kom ook dikwels onder ons voor: spyt oor jou misstap gesien die gevolge. 'n Verloofde paartjie byvoorbeeld wat oor die tou trap, nie een keer in 'n oomblik van swak-wees nie, maar telkens weer, totdat tot hul skrik blyk dat daar 'n baba verwek is- ja, hulle kom verslae na hul ouers en na hul ampsdraers toe. Maar waaroor is hulle die meeste bedroef? Oor die onbeplande en voortydige swangerskap sodat hulle moét trou? Of omdat hulle hul hemelse Vader heelwat kere willens en wetens bedroef het?

'n Broeder of suster wat op owerspel, of 'n seun wat op diefstal betrap word- wat pla hulle die meeste? Dat hulle teen Vader en hul wettige vrou of man swaar gesondig het? Of dat almal nou sal agterkom wat hulle gedoen het en daaroor met mekaar gesels?

Die apostel Paulus het sy broeders en susters in Korinthe in sy eerste brief voor God en Christus geplaas. En dít het 'n opregte droefheid met betrekking tot God by hulle veroorsaak. Hulle het hul sonde leer verstaan as sonde teen Gód. Hulle het die Vader van ons Here Jesus Christus weer in die oë gekyk. En toe wou hulle wel wegkruip vir Hom. Toe het hulle besef dat daar iets radikaal in hul lewe moes verander.

Toe het daar bekering gekom.

Bekering begin dus met geloof, broeders en susters. Bekering begin daarmee dat ons Vader weer as Váder ken; dat ons Hom in al sy liefde en vergewing vir ons ken, omdat ons sy Seun Christus ken. As ons sover gekom het, is die bekering nie verby nie. Dan eers begin die bekering!

Hoekom ek dit so benadruk, vanoggend?

Wel, om u te bemoedig in die stryd teen die sonde in u lewe. Om u te bemoedig in u aanvegtinge, u dreigende moedeloosheid partymaal, u twyfel wat tot onverskilligheid kan lei.

Want u het dit natuurlik lankal agtergekom dat goeie voornemens nie regtig help nie. Dit help nie om opreg te probeer om voortaan bepaalde hardnekkige sondes in u lewe nie meer te doen nie. Ons seuns en dogters weet dit al, in hul stryd teen drifbuie en hul brutale houding partymaal teen pa en ma. Hulle kom dit telkens weer agter in hul stryd teen die onweerstaanbare seksuele begeertes in hul liggaam. U weet dit, broeders en susters, as u al 'n lewe lank worstel met 'n sondige drankverslawing, of gierigheid, of ydelheid, of 'n onweerstaanbare behoefte om te skinder; as u maar so moeilik iemand wat u in die verlede veronreg het, regtig kan vergewe.....

U probeer rêrig om u lewe te verbeter, maar u kry dit maar nie reg nie.

Nee, want wie die sonde wil oorwin, moet nie met die stryd begín nie. Dié moet met oorgawe begin. Met die oorgawe aan Jesus Christus.

U moet nie al hoe wanhopiger na die oormag van u sondes bly kyk nie, maar u moet opkyk na Hom wat in u plek die sondes klaar oorwin het. Begin maar met te glo dat daar vergewing vir al u sondes is. Klamp u vas aan God se gewaarborgde belofte in u doop dat Christus se Heilige Gees wel kan regkry wat u uit uself nooit sal regkry nie: dat u van alle sondes skoongewas word.

Moet dus allereers God se geloftes glo dat u ten spyte van al u sondes nog altyd sy kind mag wees.

U moet u telkens weer gewonne gee aan dit wat God in die evangelie sê.

Dus begin u bekering elke Sondag weer in die kerk waar die Heilige Gees u geloof bewerk en versterk. Dit begin in die kerk waar die vergewing van sondes aan u voorgehou word in die preek, in die bediening van die doop, in die viering van die Nagmaal. Julle bekering, seuns en dogters, begin in die katkisasieklas en vereniging waar julle die evangelie van Jesus Christus al hoe beter leer ken en glo.

U bekering begin in 'n gereëlde en sorgvuldige huisgodsdiens en 'n aanhoudende gebed.

En hoe sterker die sonde aan u trek, des te meer moet u u toevlug neem tot die Woord van u Here; des te yweriger moet u u Bybel lees; met des te meer aandag moet u na die preke luister; met des te meer geloof moet u uself aan God se beloftes van vergewing oorgee.

2. As u so begin, broeders en susters, sal u ervaar dat dit nie sonder gevolge bly nie. Dan begin daar regtig iets in u lewe verander.

Dan bly dit nie net by droefheid en verslaenheid nie. Dan bewerk die droefheid ook bekering. Kyk nog 'n slag na 2 Korinth. 7: Paulus skryf in vs. 11: "Want kyk, juis dit dat julle bedroef geword het met betrekking tot God- wat 'n groot ywer het dit in julle gewerk, ja, verantwoordelikheidsgevoel, verontwaardiging oor die sonde, vrees om God te bedroef, verlange om die Here meer te dien, ywer... "

Die wat God weer in die oë gekyk het, besef skielik weer wat sonde is: 'n skending van Vaders goeie leefreël. En hy wil nie langer so aangaan nie. Hy wil Vader nie langer seermaak nie- hy wil Vader bly maak. En dus word God se wil weer wet in sy lewe.

En God se wet word sy wil.

Ja, dit is dan die vervolg van bekering, gemeente: God se wet begin weer ons denke, ons doen en late beheers. Ek maak nie langer soos ek sélf wil nie, maar ek begin weer maak soos God wil. Ek pas my nie aan aan dit wat mense van my verwag nie, maar ek wil weer doen soos God van my verwag. Jy onderwerp jou aan die reëls van jou ouers, nie omdat jy nie langer rusie wil hê of straf wil kry nie, maar jy weet dat jou hemelse Vader jou deur hulle hand wil regeer. U skik u na dit wat die ouderlinge van u vra, nie omdat u vrees dat hulle anders dalk eendag in 'n tugaankondiging u naam van die preekstoel sal aflees nie, maar omdat hulle u met die wil van u God konfronteer.

God se wet kry weer die eerste en die laaste woord in my lewe.

Dis dié dat die Kategismus juis nou, in die laaste deel, oor ons bekering, die wet van God uitvoerig en baie konkreet, gebod vir gebod met ons behandel, broeders en susters. Dié gebooie moet weer die rigting van ons lewe word.

  • Geen ander gode voor God se aangesig nie: niks en niemand mag tussen God en my meer indring nie: my besigheid nie, die skool nie, die sport nie, my verloofde nie...
  • Gedenk die sabbatdag: die sondag sal vir my 'n dag wees waarin ek my uitsluitend konsentreer op die diens van my God tot sy eer. Op dié dag regeer in elk geval nie die televisie in my huis nie, ook nie die wêreldkampioenskap sokker nie.
  • Eer jou vader en jou moeder: ek besef weer dat dit my hemelse Vader is wat my deur my ouers en al die ander gesagsdraers wil regeer. Ek verwerp enige vorm van rewolusie en wil met politieke partye (links of regs) wat openlik 'n gewelddadige omverwerping van ons huidige regering aanmoedig of daarmee simpatiseer, niks uit te waai hê nie.
  • Jy mag nie doodslaan nie: omdat die dood 'n straf is wat alleen deur God self toegepas mag word, sal ek elkeen, ook my vyande by die lewe probeer bewaar. Ek sal ook my eie lewe nie in gevaar bring deur oormatige alkohol, deur verslawing aan rook, deur gevaarlike sport ens. nie.
  • Jy mag nie egbreek nie: my ligaamlike begeertes is nie op sélfbevrediging gerig nie, maar ek begeer om met die tempel van my liggaam my God te bevredig.
  • Jy mag nie steel nie: nie Mammon nie, maar die HERE is my God.

Noudat my lewe Christus geword het, dring die Gees van Christus met hierdie gebooie in my lewe al hoe verder binne om dit op my hart te skryf.

En ek voel: ek word beter daarvan! Hierdie wet is geen sware juk nie. Ek moet nie my daaraan onderwerp omdat daar mense is wat dit nou maar eenmaal van my verwag nie. Nee, ek voel al hoe meer ek kan nie meer daarsonder nie.

So'n verandering ontstaan nie van die een dag op die ander nie, broeders en susters. Bekering voltrek hom regtig nie op een dag, en nog minder op een bepaalde oomblik nie.

Onthou u nog die beeld van die wynstok wat ek in my preek oor Sondag 32 gebruik het: eers as die Heilige Gees my as 'n dooie loot op die lewende wynstok Christus ent, begin daar weer vrugte in my lewe groei.

Maar het u al ooit gevoel hoe seer dit maak as jou bloed weer deur 'n arm of been wat 'n hele ruk afgeknel was, begin terugstroom? So seer maak dit ook as die wynstok sy lewenssappe weer in heeltemal dooie lote opstoot. Dis 'n pynlike proses.

Die Kategismus gebruik woorde soos: "afsterwing". En dan kan u maar dink aan die partymaal langdurige lydensproses van 'n ongeneeslik sieke. Soos die lewe 'n mens nie sommer loslaat nie, so laat ons ou, sondige natuur ons ook nie sommer los nie.

Die Kategismus praat ook van "opstanding" en "wedergeboorte"- en die woorde wys wel dat daar heelwat in my moet verander voordat ek heeltemal gereed is om in God se Koninkryk te kan ingaan. Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit meer in my hart opkom nie.

Bekering werp my in die stryd. Twee kragte bots op mekaar in my een lewe. Daar is allerhande sake wat ek moet wegdoen. Maar terselfdertyd hang ek nog daaraan. Ek moet enige verleiding tot sonde ontvlug. Maar tegelyk het dit so'n aantrekkingskrag op my.

Bekering plaas my in heelwat opsigte teenoor die wêreld om my heen. Want ander mense, maats van my, kollegás, neem die wet van die HERE nie so absoluut soos ek nie. En hulle lag my uit omrede ek nog so bekrompe leef. Selfs my eie broeders en susters kan dit soms moeilik vir my maak om my lewe alleen en in alles deur God se wet te laat regeer.

U ken hierdie stryd in u lewe natuurlik, broeders en susters. Dat u baie mooi weet wat die HERE wil hê, maar dat u tog telkens weer deur die sonde oorwen word. Dat u wéét, die ouderlinge is reg met hulle waarskuwing, en nogtans bly u u verset: "Ek weet, maar.... "

Moet van die stryd as sulks nie skrik nie. Moet liewer skrik as daar nié so'n stryd in u lewe is nie.

Want die stryd kan maar net beteken dat die Heilige Gees van Christus met die kragte van die toekomstige wêreld in u lewe al hoe meer opdring. U daaglikse stryd beteken die daaglikse voorbereiding op die weer volmaakte lewe eendag in God se Koninkryk.

3. En wie hom regtig bekeer, soek daardie doelwit; die herstelde, volmaakte lewe.

Maar nie uit selfgesentreerde motiewe nie. Nie om vir altyd van die gevólge van die sonde verlos te word nie. Ook nie om eendag triomfantelik te kan neerkyk op al die goddelose mense wat nie in die Ryk van God mog binnegaan nie.

Wie hom regtig bekeer, gee nie om wat ménse van hom sê of dink nie. Hy bekeer hom nie sodat die ménse sal sê: "sjoe, hy is voorbeeldige mens" nie. Maar Hy bekeer hom sodat die mense al hoe meer moet sê: "Die God wat hy dien, Wie is dit? !".

Wie hom regtig bekeer, soek weer God se eer. Dié weet weer:

Hierin is my Vader verheerlik, dat ek as herstelde loot aan die wynstok Christus weer veel vrug dra. God wil weer alles in almal word. Dus moet Hy in elk geval alles in my wees.

Aan dié doelwit werk Christus deur sy Heilige Gees in die lewe van sy christene, gemeente. En as Hy ook in ú lewe daaraan werk, sal u dit baie beslis begin opmerk het. Kyk dan maar gerus daarna. En verwonder u daaroor. Ja, dank God daarvoor. En laat u u daardeur nog des te meer tot 'n voortgaande bekering aanspoor.

AMEN.

(Pretoria, 8 Julie 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)