Verloste mense mag dankbaar soos Christus begin lyk

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 32
Preek Inhoud: 

11-08-91

SONDAG 32

nabetragting op die Nagmaal

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 32 : 1
Geloofsbelydenis van Nicea
Sing: Ps. 32 : 3
Korte Formulier vir die Nagmaalsviering
Sing: SB. 8 : 1
aan die tafel
lees: danksegging
sing: SB. 8 : 2
Gebed
Skriflesing: Psalm 51 : 10-21 + Mattheus 21 : 28-32
Sing: Ps. 51 : 5
Sondag 32 HK
Prediking
Sing: Ps. 51 : 6
Dankgebed
Kollekte
Sing: SB. 24 : 2, 3
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

stel u voor: 'n mens wat na jare en jare opsluiting uit die tronk vrygelaat word. Sy velkleur sal 'n bietjie vaal wees deur gebrek aan buitelug. Sy klere is nie van die jongste mode nie. Hy is bang vir die maatskappy, vir die lewe dalk. Hy besef baie goed dat die samelewing hard is en dat jy self maklik 'n groot fout maak. Sal die mense hom aanvaar: 'n mens wie se swakhedes (ons sê misdade) bekend geword het? In sy eensaamheid het hy dit alles begin besef. Dié man het egter grasie gekry! Hy stap die deur van die gevangenis uit en die vryheid in. Vir die eerste keer sedert jare, noudat sy straf verby is. Hy moet 'n nuwe begin maak en hier lê sy kans!

Dit is waar ons nou is in die volgorde van die Kategismus. Ja, ons het baie uitvoeriger oor die grasie gepraat: die verlossing in Christus, omdat God jou vrygespreek het. Twee woorde is nou belangrik: dankbaarheid en vernuwing. Dit is dankbaarheid vir die grasieverlening én vir die nuwe kans om te lewe! U moet mos mooi verstaan: die HERE verleen jou nie elke keer opnuut grasie, sodat jy net vir 'n rukkie weer van die skuld en die probleme ontslae is nie. Nee, die HERE kyk verder. Hy wil genadig wees óm u opnuut 'n mooi, 'n sinvolle lewe te gee! Die genade is God se middel, die nuwe lewe is die doel. Dit is wat Jesus in jou lewe, in hierdie wêreld wil bereik.

Dit kan lyk of v/a 87 onvanpas is. Noudat ons eindelik oor die nuwe lewe mag praat, word die blydskap onderdruk. Alweer is daar die vreeslike werklikheid van mense wat hulself nie tot God en van hul sondes wil bekeer nie. Hoe sterk hoop ons eintlik op bekering?? Waag ons dit nog om 'n wonder van God te verwag: vir jouself, omdat jy uit jouself nie kán nie of vir die ander wat so 'n groot sondaar lyk? Of dink u eintlik dat bekering maar 'n moeilike, 'n bykans onmoontlike saak is? V/a 87 sê nie: kan sulke mense bekeer word? Dit sê: almal moét bekeer word! Sodat elkeen 'n nuwe lewe kan kry. Die evangelie sê vir jou:

VERLOSTE MENSE MAG DANKBAAR SOOS CHRISTUS BEGIN LYK

Want

  1. so prys jy God,
  2. so kyk jy self,
  3. so wys jy Hom.

1. SO PRYS JY GOD

Dit is die eerste Sondag in die laaste deel van die Kategismus. Dit is die begin van 'die dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is'. Dié Sondag sê: mense, ons mag dus glo dat daar volkome vergewing vir al ons sondes is!; hoe lyk nou die lewe van 'n mens wat homself weer kind van God mag noem?! Die groot feit van God se genade mag mos ook kleur kry in die mens se daaglikse lewe. Dan is die eerste: so 'n mens vat eers tyd om God te dank en te prys! Nee, hy vat nie net 'n bietjie tyd nie, maar hy word 'n mens wat God oneindig dankbaar is en bly. Dit moet jou stempel. Ons het mos gesê: verloste mense mag soos Christus begin lyk. Kyk maar na Hom om te sien hoe Hy sy blydskap oor sy Vader geuiter het. Hoe dikwels het Jesus God gedank! Hoe dikwels het Hy oor sy Vader in die hemel gepraat! Hoe baie kere het Jesus die Psalms aangehaal.

Vanmôre het ons die beginverse van Psalm 51 gesing. As jy nie mooi weet hoe om jou skuld te bely nie, vat hierdie Psalm en bid met dié woorde. U moet egter ook vir die doel van die skuldbelydenis kyk. Mens soek mos dat die skuld verby is en dat daar weer ruimte kom om in God se goedheid asem te haal. In die gang van die gebed van Psalm 51 kom dit al vinnig uit: "laat my blydskap en vreugde hoor" (:10). En ook: "skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees" (:12). In vers 15 kom dit dan tot 'n hoogtepunt. Die mens wat bid, wil ook weer waardevol word: "Ek wil oortreders u weë leer, dat die sondaars hulle tot U kan bekeer". Voeg maar rustig die woorde in: "dat die sondaars (net soos ek mog ervaar) hulle tot God bekeer". Teenoor jou broer of suster of jou naaste getuig van God se genade: dit doen jy uit persoonlike ondervinding! Enige ampsdraer weet dat God se genade oor homself hom motiveer. So leer mens ook met vers 17 sê: "Here, breek my lippe oop, dat my mond u lof kan verkondig". Dit is die eintlike hoogtepunt van hierdie gebed. As jy weer wens om God te kan prys, is jy alreeds vervul van dankbaarheid. Die Heilige Gees het dié mens wat die genade ontvang het om so te kan bid, al vervul.

Dit is ook 'n punt om jouself dikwels op te ondersoek. Vra vir jouself, voordat jy bid: is ek werklik dankbaar teenoor die Here? Wanneer die dankbaarheid en blydskap nie meer in jou hart lewe nie, is die band van die geloof besig om te verdor en te sterf. Tensy daar sielkundige probleme is wat dit veroorsaak, moet jy oor jouself skrik, as dit sover gekom het. As jy nie meer dankbaar is nie, kry die probleme en die vrae, die eie idees en jou wense die oorhand. Dan vervaag ook die eerbied, daardie sterk besef van God se majesteit. Onthou altyd: dit was sy majesteit dat God Homself in genade neergebuig en jou hand gevat het. Daarom kan 'n christen ook nie baie tevrede met homself wees nie. Tevredenheid sien mos op jou eie posisie, jou eie prestasie. Dit is dankbaarheid wat kyk vir wat God elke dag opnuut geskenk en jou laat behou het. Dit is hoe mens sy God elke dag gaan prys.

2. SO KYK JY SELF

Die Kategismus begin met die vraag oor "goeie werke". U weet dat dit nie opvallende dade is nie. Dié Bybelse uitdrukking sê dit is mooi dade. Al die dinge waarin u as christen aktief is en wat vir God mooi is. Verwag daarby asseblief nie dinge van uself wat mense oor u verwonderd laat wees nie. Die goeie, mooi dinge van die geloof is dié wat u vir die Here doen. Dit is eerste u geloof: die aktiwiteit as 'n gelowige in u omgang met die Here. Dit is u gebede, u Bybellesing, u offers, die getuienis van die geloof: dit is in die allereerste plek die mooi dade van jou as christen! Daarna kom die dade ten opsigte van u naaste: soos u hulpvaardigheid, die trou in u daaglikse werk, die gawes wat u van u inkomste skenk, die bereidheid om saam te staan in die werk van die Koninkryk van God. Dit is die mooi werke wat op die geloof volg.

Nou sê die Kategismus: God wil in u lewe ook vir vernuwing werk, sodat u self die vrugte pluk. Dit is dan die pluk van die vrugte van die genade: 'om vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid te kry'. Dit is: sekerheid aangaande die geloof in jou hart. Mense vra dikwels: dominee, ek is nie seker dat ek 'n werklike christen is nie; ek ervaar niks nie. Dit is mense wat eintlik baie graag meer in die diens van die Here sou wil doen, maar wat nie die moontlikhede meer het nie. Die verlange vir mooi vrugte laat hulle twyfel. Ek sê dan: man, jou verlange is alreeds 'n pragtige vrug, 'n bewys vir jouself dat jy lief is vir die Here! Kyk vir die eenvoudige, maar wonderlike vrug. Kyk self: verloste mense mag soos Christus begin lyk! Christus se groot wens was mos ook om sy Vader te dien en sy mense te help. Die dade wat almal kan sien, is nie noodwendig vrugte van die geloof nie. Dit kan wees dat jy wel mooi, opvallende dinge doen, maar dat dit nie uit jou hart kom nie; dat jy dit nie eerste vir die Here en uit dankbaarheid doen nie. Soek dan veral vir die egte vrug: die bly geloof en die liefde.

Staar jouself in jou swakheid ook nie blind op die uiterlik van mense wat nooit afgehou is van die Nagmaal nie, wat aktief en deur almal aanvaar is, mense wat probleemlose en vrolike lidmate is. Dit kan wees dat jy anders voel as hulle. Jy het wél 'n groot probleem, jou probleem. Dalk weet ander mense dit. As daar by die HERE vir jou ruimte is, dan is die kerk jou tuiste! Hoekom? Nie omdat die mense so vriendelik is nie, maar omdat dieselfde mense almal publiek gewys het: ons mog opnuut by God terugkom. Dit het u gewys, toe u na die Nagmaalstafel kom loop het. By die sigbare van die sakrament is daar ook: die daad van u. U voete het die rigting van die tafel gekies. U het dit tog asseblief nie gedoen net omdat mense verwag dat ook u aangaan nie.

In die inleiding van die preek het ek gesê: ons verwag nie eintlik wonders van verandering, van bekering nie. As mens kyk na die omstandighede waarin iemand vasgevang is, wanhoop ons dikwels dadelik. Byv. as jy deur die evangelisasie of in die sending met sosiale probleme in aanraking kom. Of as daar 'n situasie gekom het wat gesins- of huweliksmoeites wys. Laat ons dan begin om die mense aan God se genade op te dra en nie die situasie ook te wil beoordeel nie. Kom ons hoop vir verandering, vir bekering, vir 'n wonder van God se hulp: dat daar vrugte van geloof kom wat die mens bly as sy bekering aanvaar. Dit is die wonder wat die Here aangekondig het: "Voorwaar, Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God". U kan tog van wonders vertel? Soos ons persoonlik, wanneer ons terugkyk, tog oor u eie lewe kan vertel! Die wonder dat Hy die geloof in jou bewaar het. Die verandering waarvoor jy solank gebid het. Die bekering wat jou soveel moeite gekos het. Die mooi vruggies wat daar beslis is. Die vrugte by jouself sien: die help jou ook om jou broer of suster te help nadink oor die vrugte van sy of haar lewe met die Here.

3. SO WYS JY HOM

Die Here Jesus het in sy Bergrede al gesê: "Laat julle lig so skyn voor die mense dat hulle julle goeie werke sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik" (Matt. 5:16). Goeie werke is alles wat 'n christen van sy Heer geleer het. Wat jy van Hom gesien het: die Evangelie wys mos wat Jesus gedoén het. Dit was daar vir almal om te sien! Hy het gehoorsaamheid aan sy Vader se wil gewys.

U wat weet hoe ons Heiland se werke was, u mag ook daarin soos Hy Hom begin lyk. So sal u die Heiland vir die mense wys. As daar 'n ding is wat opval in jou lewe en iemand vra vir jou hoekom, sal jy tog oor Christus praat?! Wanneer iemand sien dat jy jou Bybel saamdra (op die werk, by die skool) en dat jy daarin lees, kan dit gebeur dat jou daaroor 'n vraag gevra word. Hoekom lees jy sommer so uit 'n Bybel? Daar lê 'n natuurlike kans om oor Jesus te praat: wie Hy is, wie Hy vir jou is. As dit opval dat jy reëlmatig bid en iemand vra vir jou hoekom, dan het jy nie 'n keuse nie: vertel oor Jesus in wie se naam jy God die Vader gevra het vir 'n seën op daardie dag.

Jesus se eie gehoorsaamheid is 'n onnavolgbare mooi voorbeeld. Ons lewe met ons gehoorsaamheid nog op die standaard van die gelykenis wat ons gelees het. 'n Vader vra vir sy seuns afsonderlik of hulle in sy wingerd wil gaan werk. Die een seun sê "nee", maar hy maak tog wat Vader vra. Die ander een sê maklik "ja", maar hy hou sy belofte nie (Matt. 21). Ek hou meer van die eerste wat weier, later skaam voel en tog maak wat sy vader vir hom gevra het. Hy kom tot insig, hy "bekeer homself". Ek dink dat ons eintlik meer soos die tweede seun lyk: hom wat gehoorsaamheid belowe en sy vader uiterlik tevrede stel, maar wat stil-stil nie doen wat hy belowe het nie. As jy doen wat Christus vir jou vra, kan dit nie stil-stil wees nie. Dit sal opval, want jy doen dan mos die goeie werke wat Hy graag sien.

Wie soos Christus wil begin lyk, mag ook leer om nie vir die mense skaam te wees nie. In 'n skyn-christelike land is ook dit nodig: dat ons saam praat hoe om 'deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus te kan wen'. Dat jy lidmaat van 'n kerk is, is nie opvallend nie. Dat jy die naam van die Here sommer so noem, ook nie. Dit is wel opvallend as jy soek om inhoudelik oor die werke van ons Heiland te praat. Dit val wel op wanneer jy op alle terreine van die lewe die Woord van God wil laat regeer. En dat ons saam moeite doen om die evangelie te verkondig: orals en vir baie mense. Dit val op as daar in die gemeente liefde en ruimte is vir die besigheid van die Here: om sondaars te vernuwe. Sondaars, soos ons.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)