Die Here Christus in die hemel het die sleutels van Sy koninkryk aan sy kerk hier op aarde gegee

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 31
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 31 H.K.

LITURGIE:
L. Matth. 23: 1-15 & Lukas 11: 52 & Matth. 16: 13-19
Ps. 25: 2, 4
Ps. 25: 5
Ps. 119: 38, 39, 48
Ps. 65: 3
Ps. 118: 7, 10

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

In die kerk beskik nie net die koster oor sleutels nie. Ook die leraar, die ouderlinge, die ampsdraers dra sleutels en gebruik hulle ook. Die sleutels van die koster versink selfs in die niet by die sleutels van die ampsdraers. Want die koster beheer slegs die sleutels van hierdie kerkgebou. Maar die ampsdraers beheer nie minder nie as die sleutels van die koninkryk van die hemel.

So bely ons dit mos in Sondag 31 H.K.: in die kerk word die sleutels van die Koninkryk bewaar en gehanteer.

Verstaan u nog die veelseggende betekenis van hierdie beeldspraak, broeders en susters?

'n Sleutel is 'n belangrike instrument. Want 'n sleutel gee toegang, of juis nie! 'n Sleutel beslis oor binnegaan of buitestaan. Sonder sleutel gaan die deur nie oop nie en bly alles wat àgter daardie deur lê, onbereikbaar. Maar mèt die sleutel word nie net die deur oopgemaak nie, maar word ook alles wat agter daardie deur gelê het, binne ons bereik gebring. 'n Sleutel is maar 'n kleine ding, maar daaraan kan groot gevolge verbonde wees. 'n Sleutel is 'n magsmiddel met 'n betekenis wat jy nie moet onderskat nie.

Die wat die sleutel het, het 'n magsposisie. Baie mense is van daardie een man afhanklik: sluit hy oop, dan is die weg vry; sluit hy toe, dan bly die toegang geblokkeer.

As die koster vanoggend alle deure wat toegang tot ons kerkgebou gee, nie sou oopgesluit het nie, sou ons almal, danksy daardie een man, ons diens nie betyds kon gehou het nie. So belangrik is die man met die sleutels.

En nou sê die Kategismus in Sondag 31: daar bestaan ook sleutels van die Koninkryk van die hemel. On God se Koninkryk kan jy nie sommerso binnewandel nie. Die toegangspaaie staan nie wyd oop nie. Nee, daar is sleutels wat die toegang oopsluit, of juis nie. Daardie sleutels beslis oor jou ingaan in hierdie ryk van ewige vrede deur Christus se bloed, of jou buitestaan.

Die wat in hierdie ryk wil inkom, die wat in hierdie ryk die versoening met God en so die nuwe, ewige lewe wil ontvang, is van hierdie sleutels afhanklik. Sonder die sleutels kry hy dit nie reg nie.

En hierdie sleutels lê in die hande van die kerk.

Die Here Jesus Christus, die eintlike Eienaar van die sleutels, het hulle aan haar toevertrou. Die kerk het die magsposisie ontvang om oor die toegang tot die Koninkryk van die hemel te mag beskik.

En die wat dus in God se ryk wil ingaan, kan die kerk nie verby gaan nie. Want die weg na die Koninkryk loop deur die kerk.

Daaroor moet ek u vanmôre God se Woord bedien, gemeente, ooreenkomstig die belydenis van Sondag 31 H.K.

Saamgevat is dit die boodskap van die preek vanmôre:

DIE HERE CHRISTUS IN DIE HEMEL HET DIE SLEUTELS VAN SY KONINKRYK AAN SY KERK HIER OP AARDE GEGEE.

En dan wys ek u op die verband tussen hierdie sleutels en

  1. DIE WETTIGHEID VAN DIE KERK
  2. DIE ERNS IN DIE KERK
  3. U REDDING DEUR DIE KERK

1. Nie die opstellers van die Heidelbergse Kategismus nie, maar die Here Jesus Christus self het die uitdrukking "sleutels van die Koninkryk van die hemel" in omloop gebring, broeders en susters.

Ons het in Matth. 16 gelees hoedat de Heiland vir Petrus -en in hom ook vir die ander apostels- gesê het: "Ek sal jou die sleutels van die Koninkryk van die hemele gee en wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel gebonde wees; en wat jy ook op aarde mag ontbind, sal in die hemel ontbonde wees".

Met hierdie eienaardige, maar wel veelseggende beeldspraak het Christus sy apostels tot kosters van sy Koninkryk benoem. Wanneer Hy weer hemel toe gegaan sou wees, om vereers dààr as Koning die troon te bestyg, sou die apostels op aarde die deurwagters van sy Koninkryk wees. En met die sleutels wat aan hulle toevertrou is mog hulle beslis oor die binnegaan en buitestaan. Niemand kan voortaan in die ryk van Christus ingaan nie, of hy moet verby die apostels. Net hulle het die sleutels wat pas in die slot.

Ons gaan hierdie beeldspraak van sleutels des te beter verstaan, as ons dit in samehang met Christus se woord aan die Fariseërs in Matt. 23 en Lukas 11 lees, broeders en susters. Wanneer Christus die apostels tot kosters van sy Koninkryk benoem, ontneem Hy aan ander diè amp. Want daar wàs lankal mense wat die beskikking oor die sleutels van die Koninkryk gehad het om die skatte daarvan te ontsluit.

Dit was al vanaf Moses se dae die Skrifgeleerdes, die wetgeleerdes in Israel. Hulle was van ouds aangestel om die pad na God se Koninkryk te wys om te ontsluit.

Maar die Here het moet vasstel dat die Fariseërs en wetgeleerdes in sy dae toenemend hulle sleutelposisie misbruik het. Soseer, dat Hy hulle 'n verwytende "Wee julle!" in die gesig geslinger het: "Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die Koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie. Julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak. en as hy dit geword het, maak julle hom 'n kind van die hel, twee maal erger as julle self".

Die skrifgeleerdes het nog wel gewigtig met 'n sleutelbos gerammel en die indruk gewek dat hulle die belangrikste mense in God se Koninkryk was, maar die sleutel wat werklik in die slot van daardie ryk gepas het, het hulle buiten gebruik gestel.

Die evangelis Lukas het die verwyt aan die adres van die skrifgeleerdes so uit Christus se mond opgeteken: "Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem".

En hierdie opvallende uitdrukking help ons baie om die beeldspraak oor sleutels van die Koninkryk van die hemele te verstaan. Want dit is natuurlik nie egte sleutels nie. Dit is 'n beeld.

Die Koninkryk van God is slegs toeganklik deur die sleutel van die kennis.

En dan moet ons diè uitdrukking sleutel van die kennis nie opvat as: "sleutel tot die kennis, die sleutel wat die deur tot die kennis oopsluit" nie. Maar Christus het bedoel: die kennis is self die sleutel tot God se Koninkryk.

Wie kan in die Koninkryk van die hemele binnegaan? Elkeen wat kennis het van sy eie sonde en ellende teenoor God se grootheid; elkeen wat kennis het van God se verbond en van versoening alleen deur voldoening; elkeen wat weet dat genade alleen ons nog kan red van die ewige ondergang. En dan geen teoretiese kennis, 'n saak van maar net die verstand nie. Maar 'n kennis waar jy met jou hele hart en siel by betrokke is. So'n kennis ontsluit soos 'n sleutel voor jou die lewe in God se Koninkryk.

Daardie kennis was aan die skrifgeleerdes toevertrou. In die boekrolle van die Ou Verbond. Die Wet van Moses en die profete.

En hulle moes hierdie kennis die volk bybring. Hulle, as die kenners van God se verbondswoorde, moes God se verbondsvolk daarin onderrig. Soos u in die Ou Testament byvoorbeeld in Maleagi 2: 7 kan lees, waar die HERE self sê: "Want die lippe van die priester moet kennis bewaar, en uit sy mond word onderrig gesoek... ".

So was die skrifgeleerdes die portiers, ja, meer nog: die kosters van God se Koninkryk. Hulle het die sleutel gehad, die kennis, om dit op die volk oor te dra en so die Koninkryk vir hulle oop te sluit.

Maar die wetgeleerdes het hulle sleutelposisie misbruik. Hulle het die enigste sleutel wat in die slot van die Koninkryk pas, naamlik die kennis van die verbond met die heilige God, weggeneem. Hulle kèn die wet, hulle het die teks en die letter van die wet van die verbond, hulle sit op die stoel van Moses en gee die volk, die skare wat die wet nie ken nie, onderrig aangaande die lewe met God. Maar op so'n wyse dat hulle die Koninkryk sowel vir hulleself as vir die volk juis toesluit. Hulle onderrig, hulle groot geleerdheid, hulle tallose reëls en bepalings, hulle hele leersisteem, vorm juis 'n verhindering vir die Koninkryk van Jesus Christus. Want die regte kennis aangaande God en sy verbond het hulle van die kerk af weggeneem. Want hulle het nie gesien en nie geleer dat die Christus die "einde van die wet" is nie. Hulle het nie verstaan en die volk nie leer verstaan nie dat die skrifte in alles van die Christus getuig. Die kennis wat hulle die volk bybring is een van gevaarlike eiedunk, waarin daar geen plek vir 'n offer vir die sondes meer nodig is nie.

Dis hoekom Christus aan die skrifgeleerdes hul sleutelposisie ontneem het om dit voortaan aan sy apostels toe te vertrou.

En het u gesien, gemeente, op watter moment die Here daartoe oorgaan? Wanneer Petrus namens al die apostels reguit bely het: "U is die Christus, die Seun van die lewende God!".

Wanneer dit blyk dat die kennis wat daar by die skrifgeleerdes gemakeer het, wel by die dissipels aanwesig is. Hulle ken die geheim van die verbond met God, blykens Petrus se belydenis. Hulle ken die Christus van God. Hulle weet diè weg na God se Koninkryk. Diè weg loop oor Hom wat oor Homself gesê het: "Ek is die weg, die waarheid en die lewe". Die dissipels het die kennis wat die wetgeleerdes, ten spyte van al hulle kennis, mis.

En daarom mag hulle nou ook die sleutelposisie van die wetgeleerdes oorneem. Hulle sal van hulle Here verder onderrig aangaande Homself en sy ryk ontvang - en dit is nog wel noodsaaklik: eers na Pase sal hulle oë heeltemal oopgaan vir die Skrifte- en dan word hulle in die wêreld uitgestuur met die opdrag om hierdie belydenis, dat Jesus die Christus is, uit te dra. Hulle moet die mense die règte kennis bybring met bevel van geloof en bekering om vir hulle die toegang tot God se vrederyk te ontsluit.

Hulle ontvang van Christus nou die sleutels, want dit hang voortaan van die geloof in hulle woord af of iemand in die ryk van die hemele mag binnegaan of moet bly buitestaan.

Die pad en die poort na die Koninkryk is voortaan te vinde in die apostoliese kerk.

En nou is die eerste gevolgtrekking wat ons uit hierdie verhaal mag maak, broeders en susters, dit: dat daar dus 'n onlosmaaklike band bestaan tussen die sleutels wat Christus sy apostels gegee het en die wettigheid van die kerk. M.a. w. die ware apostoliese kerk hier op aarde word slegs daar gevind waar die sleutels gebruik word wat in die slot van die Koninkryk van die hemele pas. Nie orals waar mense hulleself kerk noem en skynbaar indrukwekkend met sleutels rammel, is ook die wettige kerk met die poort na God se Koninkryk nie.

Ons bely in die Ned. Gel. Belydenis (Art. 29) dat die ware kerk maklik aan die volgende kenmerke uitgeken kan word: wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die skaramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik word om die sondes te straf. Suiwere prediking en tug: is dit nie die sleutels wat ook in Sondag 31 H.K. genoem word nie? En die sakramente behoort onlosmaaklik daarby, want tug is suiwerhouding van die sakramente.

Daarom is by hierdie Sondagsafdeling die heel eerste vraag: waar is die ware kerk van Christus? Waar vind ek die regte sleutels wat werklik in die slot van die Koninkryk pas? En dààrby moet ek my dan gehoorsaam voeg, as ek in die Koninkryk wil binnegaan. Dan moet ek nie na mènse kyk nie, broeders en susters: aantreklik of minder aantreklik, nie na geboue nie: groot en aansienlik of klein en onooglik, nie na sogenaamde ouderdom of wat ook al nie. Die enigste norm is: waar word die suiwere Woord van Christus bedien met bevel van geloof en bekering? Waar word die ampsdraers aan God se verbondwoorde alleen gebind en verplig om alles wat daarteen stry, te verwerp? Waar word my die regte kennis aangaande die Christus en sy verlossingswerk vir ons geleer?

Daar alleen vind u ook die poort en die sleutels na God se Koninkryk.

En ek moet my onttrek aan alle ampsdraers wat die sleutel van die kennis weggeneem het en juis besig is om vir my die ingang in God se ryk te verhinder. Anders sal die "Wee jou!" van Christus ook my tref!

Sondag 31 maak dit onmoontlik om die kerkvraag te omseil, gemeente. Waarom is u hier, vanoggend? In hierdie kerkgebou, by hierdie ampsdraers. Dit mag slegs oor hierdie rede wees dat u daarvan oortuig is dat hier die sleutels gebruik word wat u regtig toegang gee tot die lewe in die Koninkryk van Jesus Christus. Die wat in God se Koninkryk wil binnegaan, moet begin om erns te maak met sy kerkkeuse.

2. Maar dan moet ons ons vervolgens ook die erns van dit wat daar in die kerk gebeur, terdeë bewus wees. Dit is die tweede waarvoor ek vervolgens aandag vra.

Ons moet voortdurend daarvan bewus wees dat in die kerk dus beslis kan word of mense in die Koninkryk van die hemele binnegaan of vir ewig moet buitestaan!

Heel eerste moet die ampsdraers daarvan bewus bly. Hulle moet die sleutels wat hulle van die apostels mog oorneem, sorgvuldig bewaar en daarvoor sorg dat hulle dit nie verloor nie. M.a. w. Hulle moet daarvoor bid en werk dat hulle die regte kennis aangaande Christus en sy Koninkryk uit die Skrifte bly ken en al hoe beter leer ken, sodat dit die allesbeheersende in hulle ampsdiens sal bly. Hulle moet bly studeer in die Skrifte, geduldig luister, en in allerhande aktuele situasies van God se volk vandag probeer om te verstaan wat die wil van God is. Ampsdraer wees beteken nie om 'n sosiale of maatskaplike werker te wees, of 'n direkteur van 'n onderneming nie. 'n Ampsdraer is deur Christus aangestel om te beskik oor die ewige lewe of die ewige dood van ander mense! Daarom moet sy lippe kennis bewaar en moet sy mond aanhoudend onderrig gee. Reddende onderrig vir elkeen wat dit glo. Onderrig aangaan Jesus Christus en sy offer vir ons sondes.

Ook, ja veral, as hulle op weerstand stuit, moet hulle nie swyg nie, maar met des te meer erns die Skrifte oopmaak en op onderwerping aandring, om tot die hart wat besig is om hom te sluit, deur te dring. Desnoods moet die tug toegepas word om 'n mens te laat besef dat die poort van die Koninkryk besig is om vir hom dig te gaan. Dit hang mee van die diens van die ampsdraers af of die mense wat aan hulle sorge toeertrou is, eendag sonder verskrikking voor die regterstoel van Jesus Christus kan verskyn. Die woorde wat hulle nou spreek, en die tug wat hulle nou bedien, is mee beslissend vir aanstonds. En wee die sleutelbewaarder wat die sleutels nie reg gebruik het nie, of hulle selfs kwytgeraak het.

Maar ook u as gemeente moet u hierdie erns van die werk van die ampsdraers bewus bly, broeders en susters. Niemand in die gemeente kan hierdie sleuteldraers meer ignoreer nie. Niemand kan sê nie: "Ek kan ook sonder die kerk en sonder 'n preek sondags wel glo". Niemand moet dink: "Ek kan my kinders ook sonder die katkisasie wel by Jesus grootmaak, daarvoor het ek die predikant nie nodig nie". Niemand moet meen: "Ek het daardie jaarlikse huisbesoek van die ouderlinge nie so nodig nie. Wat het hulle feitlik ook met my uit te waai? "

Want Christus self het nou hierdie manne in sy diens geneem om vir u die toegang tot sy ryk te ontsluit. En as u hulle diens, hulle woord ignoreer, sluit u voor u self die Koninkryk toe!

Ons sal steeds daarvan bewus moet bly: die ampsdraers in die kerk verrrig hulle werk op gesag van Christus. Deur hulle mond spreek die Koning van die Koninkryk van die hemele self ons aan. En dit gee aan die woorde van daardie paar mense so'n ontsaglike krag: hulle spreek die sleutelwoord.

U kan nou nooit meer 'n preek aanhoor met die welwillende belangstelling van 'n objektiewe toehoorder wat benieud is wat die leraar hierdie keer sal presteer nie. En u kan 'n preek nie sommerso vir kennisgewing aanneem as dit u nie aanstaan nie. Jy kan nie jou daarvan afmaak nie deur te sê: "Hy kan wel meer beweer!". U kan nie sommer die besoek van die ouderlinge weier omdat u hulle boodskap nie meer wil hoor nie.

Want elke preek, elke woord van 'n ouderling op huisbesoek kom met die gesag van Christus na u toe. En dus is dit altyd een van twee: of u moet u daardeur laat gesê, of u moet die ampsdraer so gou as moontlik daarop aanspreek dat hy na u oortuiging iets gesê het wat nie in ooreenstemming met die woord van sy Sender was nie.

Dit kàn natuurlik gebeur. Want nie die man self het gesag nie, maar die woord wat hy moet deurgee. Maar dan moet daardie woord wel in ooreenstemming met die woord van Christus wees, natuurlik. Dààraan mag enige spreke van die ampsdraer getoets word. Daaraan moèt die spreke van die ampsdraer voortdurend getoets word en desnoods moet die hele kerkraad of selfs die kerkverband ingeskakel word om teen 'n verkeerde spreke van 'n ampsdraer wal te gooi. Dit gaan mos om die sleutels van die Koninkryk!

Maar as die ampsdraer die woord van sy Here bring, dan moet ook elkeen voor daardie woord buig. Ook as dit sny in jou sondige vlees, as dit teen jou eie begeerte indruis, as dit jou eie verkeerde sienings ontmasker, sondige swakhede oopvlek. Die woord wat namens Christus gespreek word, is nou maar eenmaal nie altyd aangenaam vir die hoogmoedige mensehart nie. Maar wee jou as jy daarom nie wil luister nie. Jy sluit vir jouself die skatte van die ryk van Christus toe.

Want in die woord van sy sleuteldraers kom Christus self na ons toe. Hy het gesê: "Wat julle ook op die aarde mag bind, sal in die hemele gebonde wees; en wat julle op aarde ook mag ontbind, sal in die hemele ontbonde wees". En dit wil sê: julle mensewoord op aarde- daarvan sal eendag blyk dat dit God se Woord vanaf die troon in die hemel was. Na die woord van die ampsdraers sal God self oordeel, sowel in hierdie as in die toekomstige lewe. Enige woord van 'n ampsdraer wat hy in ooreenstemming met die Woord van sy Here gespreek het, kry gevolge by God. In daardie so gewone ampsdraers ontmoet ons niemand minder nie as die groot God.

Dit is dan ook van 'n huiweringwekkende erns as ampsdraers sover moet gaan dat hulle in die naam van die Here Jesus Christus verklaar dat 'n broeder of suster, wat homself alreeds buite die gemeente van Christus gesluit het weens sy ongeloof en goddelose lewenshouding, nou ook buitegesluit wòrd, buite die gemeenskap met Christus gestel word en nie meer deel in die geestelike weldade wat God aan sy gemeente skenk.

Gemeente, dan verloor soiemand maar nie sy lidmaatskap van 'n klub kerkmense nie.

Maar dan word soiemand van die lèwe afgesny. Buiten die Koninkryk van die lewe gesluit.

Die poorte van die doderyk sluit daardie mens weer in.

3. Want dit moet u bly raaksien in al die erns waarmee die optrede van die ampsdraers na u toe kom: daardeur wil Christus u red van die doderyk. Christus plaas hierdie twee mos self teenoor mekaar in Matt. 16: die poorte van die doderyk en die sleutels van die hemelryk.

Die poorte van die doderyk, die ryk van die satan, daardie mag van dood en verderf waardeur die hele lewe verwoes word, het sinds die sondeval ons almal oorweldig. Ons lê van onsself midde in die dood.

Maar teenoor daardie doderyk het Christus aan die bou van sy gemeente begin. En hierdie bouwerk van Hom alleen sal dit teen die bolwerk van die dood uithou. Want aan sy gemeente het Christus teenoor die poorte van die doderyk die sleutels van sy hemelryk gegee. En deur daardie sleutels word in die kerk die onaantasbare lewe oopgesluit. Lewe waarop die dood geen vat meer kan kry nie. Lewe, verdien deur die Seun van die lewende God self.

Dit is ontsaglik ernstig in die kerk, maar daarom ook ontsaglik mooi: daar word geveg vir u redding!

In elke preek, in elke huisbesoek, tydens die katkisasies en by alle pastorale gesprekke, ook as daar indringend vermaan word, is Christus besig om te bewys dat die doderyk nie meer die laaste woord op aarde het nie. Maar dat Hy met sy Koninkryk opruk. Sy ryk van lèwe, deur die herstelde gemeenskap met God en met mekaar. En daarmee soek Hy ook u.

Wie dit eenmaal raakgesien het, wil nou tog ook nie anders meer nie as om te lewe in die gemeente van Christus en om die kragte van die Koninkryk van die hemele alreeds hier op aarde te ondergaan?

AMEN

(Pretoria, 23 April 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)