Christus red Sy gemeente van die doderyk deur die sleutels van Sy hemelryk

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 31
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 31 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 18: 1, 2, 9
Gebed
L. Mat. 16: 13-19 (OV) & 2 Kor. 10: 1-8 (NAB) & Sondag 31 HK
Ps. 119: 44, 49
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps. 116: 2, 3, 5
Seën

Is u nog bang vir die poorte van die doderyk, broeders en susters?

Ons het in Mat. 16 uit Jesus se mond gehoor dat die poorte van die doderyk daarop uit is om ons te oorweldig.

"Die doderyk"- daarmee is natuurlik die ryk van die duiwel bedoel. In ou vertalings is altyd van "die poorte van die hel" gepraat. Ons lewe word aanhoudend bedreig deur 'n onsigbare ryk waarin die duiwel die septer swaai. Uit die poorte van hierdie ryk storm die bose geeste na buite om dood en verderf te saai en die totale lewe te probeer verwoes, om hul slagoffers hel toe te sleep.

Die soldate is onsigbaar, maar die skade wat hulle in 'n menselewe aanrig, kan u orals om u heen waarneem. Daar is baie van ons wat dié skade ook in hulle eie lewe saamdra!

Is u nog bang vir daardie ryk? Besef u die aanhoudende bedreiging vir uself en vir u kinders?

Daar is op die hele aarde maar een plek waar 'n mens veilig kan ontkom aan die agressiewe magte van die doderyk: en dit is in die hemelryk waarvan Christus die Koning is. Alleen as ons skuiling soek in die Koninkryk van God kan die dood ons nie langer met sy wrede kloue bykom nie, maar sal ons weer leer wat lewe is.

As u egter in dié Ryk wil inkom, kan u die kerk nie verbykom nie.

Die poort na die hemelryk waardeur u aan die oorweldiging deur die poorte van die doderyk kan ontkom, staan naamlik hier in die kerk. En die sleutels om dié poort oop te sluit het Christus in die hande van die ampsdraers gelê.

Ook dit het die Here Christus gesê in die gedeelte wat ons uit Mat. 16 gelees het.

Daaroor handel hierdie preek vanaand.

Dit gaan oor die werk en die bevoegdheid wat Christus aan u predikante en ouderlinge en diakens opgedra het. Maar dit gaan daarin dus terselfdertyd oor u redding: hoedat u en u kinders aan die greep van die doderyk kan ontsnap.

Ek verkondig u:

CHRISTUS RED SY GEMEENTE VAN DIE DODERYK DEUR DIE SLEUTELS VAN SY HEMELRYK

Ek wys daarby op twee sake:

  1. 'N PAAR MENSE MAG HIERDIE SLEUTELS BEHEER
  2. DIE HELE GEMEENTE MAG VAN HIERDIE SLEUTELS PROFITEER.

1. Dit was natuurlik beeldspraak, gemeente, toe die Here Jesus Christus gepraat het van sleutels van God se Koninkryk wat Hy aan Petrus en die ander apostels sou gee en waarmee hulle moes oopsluit en toesluit.

Hy het inderwaarheid maar net die blye boodskap van versoening deur sy lyding, sterwe en opstanding aan hulle saamgegee om dit orals in die wêreld te laat hoor.

Die Here het in die Bybel meer beelde gebruik vir die taak van die ampsdraers: hulle word wel herders genoem wat God se skape moet roep en oppas, of hulle word met 'n wagter vergelyk wat betyds die alarmtrompet moet blaas.

Maar hierdie beeld van sleutels is darem baie sterk. So veel verantwoordelik- heid wil Christus dus gee aan gewone sondige en beperkte mense dat hulle 'n sleutelposisie mag inneem. U weet mos hoe belangrik 'n sleutel is! Daarsonder gaan jy nie inkom nie. Daarmee kan jy buitengesluit word.

So belangrik maak Christus die woord van die ampsdraers in sy kerk: daarsonder kan u nie in die hemelryk inkom nie; daarmee kan hulle u ook weer uit die hemelryk uitsluit.

Terloops: u moet by die woord hemelryk en Koninkryk van die hemele nie net dink aan iets wat eers eendag gaan kom nie, broeders en susters. Die volkomenheid van hierdie ryk moet inderdaad nog kom, maar die begin van hierdie ryk van Christus is reeds op aarde aanwesig. U kan die verlossende klimaat van hierdie ryk nou reeds ervaar.

Die ampsdraers is dan ook nie net portiers eendag by die hemelpoort nie. Hulle is die bestuurders wat vandag hier op aarde 'n hele sleutelbos ontvang het (Christus het 'n meervoudsvorm gebruik: sleutels) om alle deure en kaste in die ryk van God oop te sluit en 'n magdom aan skatte beskikbaar te stel: vergewing van sondes, 'n herstelde kontak met God, 'n herstelde lewe met die medemens, blydskap, tevredenheid, geduld, hoop.....

Met die sleutels het Christus die hele lewe in sy ryk in hulle hande gelê. Solank as wat Hy self in die hemel is, mag hulle hier op aarde daaroor beskik en dit vir ander beskikbaar stel.

Hulle het die volledige seggenskap oor die gang van sake.

Die deure van Christus se ryk staan dus nie sommer vir almal wyd oop sodat enigiemand sommer kan binneloop nie. Daar is mense by wie jy die sleutels moet kom vra.

Ons het selfs nie as kerklidmate almal die beskikking oor die sleutels gekry sodat ons geen voorgangers, geen besondere ampsdraers benodig nie.

U weet natuurlik dat dié gedagte by heelwat sektes posgevat het. Hulle ken geen spesiale voorgangers wat God se Woord met gesag aan die ander mag voorhou nie. Almal kan die Woord van God spreek, sê hulle, en dit maak nie saak of dit 'n dominee is of 'n gewone lidmaat nie. Elkeen kan sy "getuienis" laat hoor.

Elkeen kan ook sommer op sy eie besluit om 'n sendeling te word en die Evangelie êrens in Suid-Amerika of China te gaan predik. 'n Roeping deur 'n gemeente en die binding aan die gemeente ag hulle glad nie nodig nie.

Maar God se Woord leer duidelik aan ons, dat Christus spesiale ampsdraers in 'n sleutelposisie plaas. Hulle kry die spesiale beheer oor die sleutels van die hemelryk.

Hy het self die apostels daarvoor aangestel. Die apostels het later in elke gemeente wat as gevolg van hulle prediking ontstaan het, nuwe ampsdraers aangestel, dié broeders het na verloop van tyd weer ander broeders geroep....

Dis nie so dat u as gemeente daarby hoegenaamd nie 'n sê het nie. In dié fout het die Roomse en die Engelse kerk geval. Daar het die ampsdraers hulleself in so'n mate bo die gemeente geplaas dat die gemeente glad nie inspraak het as daar 'n nuwe ampsdraer moet kom nie. Die bisskop wys eenvoudig 'n man aan en bevestig hom in sy amp; en die mense moet dit maar aanvaar.

Die Skrif leer egter dat die Here sy gemeente wel deeglik inskakel as Hy 'n paar manne aanstel om die sleutelposisie te beklee.

Paulus en Barnabas was lankal deur die Here self uitgekies vir die Evangelieprediking aan die heidene; nogtans het hulle hul werk eers begin nadat die gemeente van Antiochië hulle in opdrag van die Heilige Gees afgesonder en uitgestuur het.

Daarom het ons in ons Kerkorde gereël dat u as gemeente self u nuwe ampsdraers mag kies, nadat u tevore eers sorgvuldig nagegaan het of hulle wel goéie skatbewaarders in God se Koninkryk kan wees. U mag eers kontroleer of hulle wel voldoen aan die vereistes wat aan so'n sleutelposisie gestel mag word: insig in die gesonde leer, die bekwaamheid om te onderrig, geduld, nugterheid, vriendelikheid....

En as die ampsdraers gekies is, word hulle nie in hulle amp bevestig voordat die gemeente nogmaals sy goedkeuring daaraan gegee het nie. Dan bly daar steeds die moontlikheid om wettige besware teen 'n bepaalde broeder in te dien.

Vir die amp van bedienaar van die Woord het ons selfs 'n weg wat nog baie langer is, ingestel voordat iemand bevestig kan word. Na die teologiese studie wat met 'n goeie resultaat afgesluit moet wees, volg daar nog twee maal 'n kerklike eksamen, die eerste een slegs om beroepbaar gestel te word, en die tweede een om, as 'n beroep aanvaar is, finaal toegelaat te word.

Bowendien moet elke beroep ook nog deur die kerke saam beoordeel en goedgekeur word.

Dit is alles so ingestel om te verseker dat die gemeentes goeie ampsdraers sal ontvang.

Die wat in die sleutelposisie van ampsdraer aangestel word, moet ook altyd binne 'n kerkraad werk. Daarmee word die heersug van enkelinge so veel as moontlik voorkom. En elke ampsdraer word by sy ampsaanvaarding gebind aan 'n Ondertekeningsformulier waarin hy beloof om hom in sy ampswerk te hou aan die belydenis van die kerk en, ingeval hy daarteen besware kry, die pad te loop wat die kerke in so'n geval afgespreek het.

Dit gee die gemeente ook die reg om 'n slegte ampsdraer wat sy sleutelposisie misbruik, te skors en indien nodig af te sit.

Op dié wyse is die gemeente van Christus dus regtigwaar nie uitgelewer aan 'n klompie mense wat hulleself in 'n sleutelposisie geplaas het en nou oor die gemeente wil baasspeel nie. U is as gemeente juis volop daarby betrokke watter ampsdraers, afwisselend, uit u midde die sleutelposisie beklee.

Christus gee vir sy gemeente geen ampsdraers buite haarself om nie.

Wanneer hulle egter een keer langs die wettige weg in hul amp bevestig is, moet elkeen ook daarvan oortuig wees dat dit die Here self is wat hulle nou tot hulle diens geroep het. U moet hulle nou ook aanvaar, nie as die loopjongens van die gemeente, of as die dagbestuur nie, maar as die knegte van die Koning van die Koninkryk van die hemel wat nou in sy Naam met gesag mag optree. Nou kan niemand hierdie manne meer ignoreer nie. Niemand kan sê: ek kan ook sonder 'n preek sondags wel in God glo en salig word; ek kan mos ook self wel Bybellees? nie.

Niemand moet dink: ek kan my kinders ook sonder die katkisasieklasse wel by Jesus grootmaak, daarvoor benodig ek nie beslis 'n dominee nie. Niemand moet sê: daardie jaarlikse huisbesoek deur die ouderlinge is vir my nie so nodig nie. Wat het hulle eintlik ook met my nodig?

Want Christus self het nou hierdie manne in sy diens geneem om sy Woord aan u voor te hou met die eis van bekering en geloof. Hulle mág, ja hulle moét u nou aanspreek..

Hulle mag u beveel om sondags die kerkdienste te besoek en na die Woord wat hulle daar aan u voorhou, te luister.

Hulle het die reg om u almal in u huise te besoek en hulle in te meng in dit waarvan u dalk gedink het dat dit u private lewe was. Want hulle moet namens Christus by u aandring op lewensheiliging oor die hele linie. En dan sal hulle moet praat oor u kerkbesoek, u verenigingsbesoek, maar ook oor die opvoeding van u kinders en u betrokkenheid by hul skoolonderwys, oor u verkeer as man en vrou met mekaar, ook in die slaapkamer, oor dit wat u lees, sien en luister in kourante, op die televisie en oor die radio; hulle moet praat oor u stokperdjies, u gedrag as burger van God se Koninkryk by u werk, teenoor u bure en familie..

Hulle mag eis dat die kinders die katkisasies volg en leer wat aan hulle opgedra word.

Ons behoort te weet, broeders en susters: die ampsdraers in die kerk verrig hulle werk in opdrag en met die gesag van Christus. Door hulle mond spreek die

Koning van die hemelryk self ons aan.

Dis dié dat u 'n preek sondags nooit kan aanhoor met die welwillende belangstelling van 'n objektiewe toehoorder wat benieud is wat die predikant dié keer daarvan sal teregbring nie. U kan ook nooit u eenvoudig nie aan 'n preek of 'n vermaning tydens 'n huisbesoek steur as u oor 'n bepaalde rede nie hou van dit wat gesê is nie. U kan nie uself daarvan afmaak deur te sê: Hy kan wel meer beweer nie. Want Christus het daardie man gestuur om sy boodskap aan u voor te hou. Daarom is dit altyd een van die twee: óf u moet uself laat gesê deur dit wat aan u voorgehou is, óf u moet so gou as moontlik met u predikant of wykouderling gaan praat omdat hy na u oortuiging dinge gesê het wat hy nooit so namens Christus kon gesê het nie.

Want dit kan natuurlik ook gebeur. Die spreke van 'n ampsdraer moet altyd getoets word aan die Woord van sy Sender. En as dit duidelik word dat 'n ampsdraer sy sleutelposisie misbruik om sy eie mening pleks van Christus se boodskap aan u op te lê, mag 'n gemeente nooit onverskillig die skouers daaroor ophaal nie, maar dan moet daardie ampsdraer, en daarna desnoods die hele kerkraad daarop gewys word. En dan moet so'n ampsdraer tot die orde geroep word.

Maar indien die ampsdraer die Woord van sy Here bring, moet elkeen ook buig voor daardie Woord, ook as dit in jou sondige vlees sny en teen jou sondige begeertes indruis, as dit jou eie verkeerde menings ontmasker en jou sondige swakhede oopvlek.

Die woord wat namens Christus gespreek moet word is nou maar eenmaal nie altyd aangenaam vir ons hoogmoedige hart nie. Maar dis dwaas om daarom nie daarna te wil luister nie. Want daardie Woord wil juis die lewe in God se Koninkryk vir ons ontsluit. Daardie woord reik ons die sleutel aan waarmee ons in die lewe mag binnegaan.

U ampsdraers mag dit sommer vir u sê en waarborg dat daar volkome vergewing van al u sondes is om Christus ontwil. Hulle mag u ook God se oordeel aansê as u toenemend u rug draai op die HERE se Woord en Wet.

As iemand dié woord verwerp, gooi hy vir homself die deur van God se Koninkryk in die slot. En ook dit moet die ampsdraers dan op die ou end in die Naam van Christus onomwonde uitspreek: hierdie lidmaat het homself deur buite die ryk van Christus gesluit en wórd daarom ook buiten die gemeenskap met Christus geplaas. Hy deel nie langer in die geestelike weldade wat God aan sy gemeente skenk nie.

Gemeente, in so'n geval verloor 'n mens nie net die lidmaatskap van 'n klub kerkmense nie. Daardie mens word van die léwe afgesny! Hy word prysgegee aan die poorte van die doderyk. As daar geen bekering kom nie, wag die ewige dood vir hom.

2. Want dit moet u bly raaksien in die erns waarmee u ampsdraers dikwels moet spreek en optree: daardeur wil Christus u red van die doderyk.

Met dié doel het Hy die sleutels van sy hemelryk in hul hande gelê. Sodat die hele gemeente daarvan sou profiteer.

Die eenvoudige werk en woord van daardie paar ampsdraers, hul preke en besoeke, hul katkisasies en vermanings, is die middele waardeur Christus die lewe wat Hy vir u terugverdien het, aan u beskikbaar stel. Hy self, die Lewende, kom daarin voor u staan met die lewe wat Hy deur sy dood vir ons verdien het; lewe danksy die versoening van ons sondes. Om te verhoed dat die poorte van die doderyk u oorweldig, sluit Hy u in met die lewe in sy ryk.

Deur daardie gewone manne, wat die Evangelie met sy beloftes en waarskuwings in gewone mensewoorde aan u voorhou, is Christus besig om die herstelde lewe met God by u tuis te besorg, voor u neer te sit en u op die hart te bind.

En Hy doen dit nie een keer en daarna nie weer nie.

Nee, Hy bly daarmee besig. Week in week uit, van sondag op sondag, maar ook in die dae daartussenin.

Want so gou as wat ons aan onsself oorgelaat word, val ons weer terug in die sonde en ruk die poorte van die doderyk weer op. Ons is van onsself so swak dat ons nie een oomblik kan standhou en en ons doodsvyande hou nie op om ons aan te veg nie.

Daarom moet ons telkens weer aan ons eie swakheid en skuldige struikelinge herinner word. Ons moet telkens weer tot geloof in God se beloftes van vergewing en lewe opgeroep word.

Christus sorg daarvoor dat sy genade ons onophoudelik aangesê word. En dat die waarskuwing eweneens onophoudelik bly klink dat elkeen wat hierdie genade verwerp, aan die hel prysgegee word.

En ons moet ons telkens opnuut aan daardie woorde gewonne gee. Ook, of miskien moet ek eerder sê: verál as die woord van die ampsdraers ons diepste oorlegginge oopvlek. As listige uitvlugpogings afgesny word. Want dan is Christus daar om te verhoed dat die vors van die doderyk u langs daardie vlugpad na sy Koninkryk probeer saamsleep.

Moet dus maar dankbaar wees, gemeente, vir die werk van u ampsdraers.

Moet maar dankbaar wees dat hulle die sonde onomwonde bly aanwys, konkreet en persoonlik.

Moet maar dankbaar wees dat Christus aan sy gemeente manne gegee het wat allerhande vorme van dwaalleer moet onderken en afslaan.

Moet maar bly wees met die manne wat u kinders op die leeftyd wat so beslissend kan wees, onder hul hoede neem in die katkisasieklas, en vir hulle deur 'n geduldige onderwysing die ewige skatte ontsluit wat Christus ook aan hulle toegesê het.

Moet maar daarvan profiteer dat u met allerlei persoonlike probleme na u ampsdraers toe kan gaan vir 'n baie vertroulike sielsorg. U ampsdraers wil u by die talle probleme waarvan ons ingewikkelde lewe deesdae so vol is en waarmee ons so maklik kan vasloop, help om te onderskei waarop dit aankom en wat die wil van die Here is en hoe om u lewe nie onnodig te beskadig nie.

Moet dit ook dankbaar waardeer, broeders en susters, wanneer die ampsdraers by u op 'n voortgaande lewensheiliging aandring. Hulle wil daarmee nie u lewe moeiliker maak nie, maar Christus wil daardeur u lewe al hoe ryker maak: ryk vir God. Want u sal agterkom: hoe meer u weer volgens God se goeie gebooie begin leef, hoe mooier die lewe weer word.

Selfs as die tug bedien word en 'n broeder of suster van die sakramente afgehou moet word, is dit nog 'n positiewe saak. Dan word daar 'n intensiewe stryd gestry teen die poorte van die doderyk wat dreig om 'n burger van God se Koninkryk tog te oorweldig. Indien vermaan en waarskuwing nie meer help nie, moet daar wel indringender maatreëls getref word sodat die broeder of suster moontlik daarvan sal skrik en tot inkeer kom.

Gemeente, in die werk van heel gewone manne in die kerk kom die buitengewone sorg van Christus na u toe. In elke preek, in elke huisbesoek, tydens die katkisasies en by alle pastorale gesprekke is Christus besig om te bewys dat die doderyk nie meer die laaste woord op aarde het nie, maar dat sy Koninkryk besig is om beheer oor te neem. Christus het die teenaanval ingesit en ruk op met die léwe.

Wat kan u dus beter doen as om skuiling te soek in Christus se gemeente en uself gewonne gee aan die manne wat die lewe met Christus vir u kan oopsluit?

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)