Ons beleef aan die nagmaal die gemeenskap met Christus

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 30
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 30 H.K.

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 63: 1, 3
Gebed
L. Joh. 14: 18-29 & 1 Joh. 1: 1-2: 6
SB.33: 3
Prediking
Ps. 5: 4, 5, 6
Geloofsbelydenis
Ps. 5: 10
Gebed
Kollekte
Ps. 97: 4, 6, 7
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ek moet vanaand in hierdie een preek heel verskillende vrae aan die orde laat kom.

Eerstens moet ek met u die verskil tussen die Nagmaal soos ons dit van Christus geleer het, en die Roomse Mis bespreek.

Vervolgens kyk ons na die vraag vir wie die Nagmaal ingestel is. En hoe 'n mens jou op die Nagmaalviering moet voorberei.

Tenslotte moet ons dan ook nog praat oor die afhouding van die Nagmaal: ongelowiges en mense wat 'n goddelose lewe lei, mag die Nagmaal nie saamvier nie.

Drie heel verskillende sake.

Tog kan ons aldrie vanuit een en dieselfde gesigspunt bekyk. In die preek van verlede Sondag het ons gehoor dat ons in die Nagmaal die gemeenskap met Christus mag beleef. Hy is nie die groot Afwesige aan die Nagmaaltafel nie. Ons hou nie 'n dodeherdenking by brood en beker nie. Ja, ons dink wel terug aan Christus se dood, maar juis omdat Hy deur sy dood vir ons die lewe weer moontlik gemaak het. Hy leef weer en ons mag mét Hom lewe. Aan sy tafel haal Hy die band met ons des te stywer aan, sodat dat is: Hy in ons en ons in Hom.

Dis dié dat ons praat van die gemeenskap met Christus tydens die Nagmaal.

Maar oor daardie gemeenskap gaan dit steeds in Sondag 30. Vanuit dié gesigspunt kan ons ook na die vrae en antwoorde in hierdie Sondag kyk. Want die sentrale vraag in hierdie Sondagsafdeling is: hoé het ons, en hou ons aan die Nagmaal gemeenskap met Christus? En dan bespreek vraag 80 hoe hierdie gemeenskap tot stand kom: nie liggaamlik soos die Roomses leer nie. Vraag 81 bespreek hoe ons ons op die gemeenskap met Christus moet voorberei: in die geloof. En die laaste vraag leer ons hoe om die gemeenskap met Christus aan die Nagmaal heilig te hou: deur saam as gemeente daarop toe te sien dat daar nie ongelowiges en verharde sondaars aan die tafel toegelaat word nie.

Kom ek vat my boodskap vanaand so saam:

ONS BELEEF AAN DIE NAGMAAL DIE GEMEENSKAP MET CHRISTUS

  1. NIE LIGGAAMLIK NIE
  2. MAAR IN DIE GELOOF
  3. SAAM AS GEMEENTE

1. Dis nie so moeilik om 'n karikatuur van die Roomse Mis te teken nie, broeders en susters. Maar ons sal in elk geval moet erken dat die Roomse teoloë darem 'n poging onderneem het om van die gemeenskap met Christus by brood en beker in reële gebeure te maak. Het die apostel Paulus nie gesê: "Die brood wat ons breek is die gemeenskap met Christus.... " nie? En het Christus nie self vir die Jode gesê: "As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie"?

Maar dan moet mos die brood wat ons breek en eet op die een of ander manier verander in Christus se werklike liggaam! En die wyn in sy bloed.

Hoe sou ons anders van gemeenskap kan praat?

En so het die gedagte gegroei dat ons Here Jesus Christus elke dag weer liggaamlik uit die hemel neerdaal. Dat Christus dan terselfdertyd op talle plekke in hierdie wêreld liggaamlik aanwesig moet wees, is vir die Roomnse teoloë glad nie 'n probleem nie. Hulle glo dat Christus se liggaam by sy hemelvaart goddelike eienskappe gekry het en nou orals tegelyk kan wees.

Tydens 'n plegtige Misviering verander brood en die wyn onder die hande van die priester in Christus se egte liggaam en bloed. 'n Mens kan dit nie sien nie: dit lyk steeds na brood en wyn. 'n Mens kan dit ook nie proe nie: dit proe steeds na brood en na wyn. Nietemin is dit nou Christus se liggaam en bloed wat daar op die altaar voor in die kerk lê.

Die Roomse kerk is daarvan so heilig oortuig dat hulle spesiale brood gebruik: ouel noem hulle dit, wat nie krummel nie. Want sê-nou daar val krummels van Christus se liggaam op die kerkvloer wat deur miere of muise opgeëet word of by die skoonmaak van die kerk opgevee en in die vullisdrom gegooi.

Die mense mag hierdie spesiale skyfies brood ook nie self van die skaal vat en in hul mond stop nie. Jou hande is te onheilig en sê-nou jy laat jou stukkie val?

Nee, die priester lê met sy gewyde hande die brood op jou tong terwyl jy geknield voor hom lê in aanbidding. Om almal uit die wynbeker te laat drink word te gevaarlik beskou. Sê-nou iemand laat die beker val. En om vir almal 'n slukkie uit die priester se hand te laat drink, gaan ook nie werk nie. Daar sal beslis een of ander tyd met die wyn gemors word. Maar dit sou vermorsing van Christus se bloed beteken. Daarom drink die priester alleen, namens almal.

Vir ons as Gereformeerdes is dit alles baie snaaks, broeders en susters. Maar ons sal moet erken dat die Roomse Mis Christus darem baie naby gebring het vir die mense in die kerk.

As ons Nagmaal vier, moet ek altyd by die eerste tafel vir u sê: Moenie op daardie brood en wyn bly sien nie- dit is maar net uiterlike tekens. Ons moet op Jesus Christus sien wat in die hémel ons Voorspraak is aan die regterhand van sy Vader. Maar wie kan sommer in die hemel kyk? Waar is die hemel?

As in 'n Roomse Kerk egter die Mis bedien word, word die gemeente opgeroep om juis wel op daardie brood en wyn te sien. Dit is nie net tekens nie. Christus self het daarin in die kerk neergedaal. Die Woord het weer vlees geword en die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem, offer Homself opnuut onder die hande van die priester op die altaar voor in die kerk. Hy bewerk opnuut vir kerk en wêreld die vergewing van die sondes. En die priester mag die aanwesige gelowiges in die kerk dadelik in daardie vergewing laat deel.

Vir ons gevoel bly Christus by die Nagmaal ver weg: in die hemel. En ons moet gló dat Hy daar vir ons vergewing bepleit by die Vader.

Volgens die Roomse teologie kom Christus so naby as maar kan wees. En dit nie net een keer in drie maande nie, maar daagliks. Ja, Hy bly eintlik permanent liggaamlik in die kerk, want ook as die misviering afgesluit is, bly daardie brood en wyn Christus se liggaam en bloed. Dit word dan ook nie weggegooi nie, maar zorgvuldig gebêre in 'n kassie agter die altaar.

Dis dié dat 'n Roomse kerkgebou altyd oop is en dat daar ook op weeksdae altyd wel mense is wat 'n rukkie kerk toe gaan. Al word daar ook nie 'n diens gehou nie, Christus is mos daar en 'n mens kan sy heilige aanwesigheid altyd ondergaan. Jy kan die gemeenskap met Hom ervaar, alleen al deur kerk toe te kom. Roomse mense behoort selfs die kerk te groet as hulle verbykom. Hul Verlosser is mos daar.

Die Roomse Misleer het die belewing van die gemeenskap met Christus dus baie konkreet wil maak. Tog noem ons Kategismus dit nie minder nie as "'n afgodery wat vervloek is".

Want alle aandag word sodoende afgetrek van Christus se offer wat Hy eens en vir altyd aan die kruis op Golgota volbring het, en gerig op 'n bietjie brood en 'n beker wyn voor in die kerkgebou. Asof jou saligheid dáárvan afhang!

Die priéster eis ook veels te veel aandag vir homself op plaas van vir Christus. Hy is die magtige man wat daagliks die vergewing van jou sondes vir jou by die Vader bewerk deur Christus opnuut onder sy hande op die altaar te offer. Jy hoef as gewone kerklidmaat nie eens daardie Misoffer by te woon nie. Al is daar g'n mens in die kerk nie, elke oggend bedien die priester die Mis en die resultaat daarvan: vergewing van die sondes, bereik jou soos vanself. Net een keer 'n jaar is die Roomse gelowige verplíg om die gewyde brood uit die hande van die priester te ontvang en te eet. Dis op Pase. En verder alleen as jy in sterwensgevaar verkeer. Al die ander kere is net ekstra, maar nie beslis noodsaaklik nie.

Die priester het in die Roomse Kerk so'n magtige man geword dat hy selfs vir mense wat klaar oorlede is, nog vergewing by God kan bewerk met sy Misoffer. 'n Roomse familie kan vir 'n oorlede familielid 'n spesiale Mis aanvra om te probeer bereik dat hy gouer uit die vaevuur mag oorgaan in die hemel.

U sal dan ook verstaan dat daar 'n direkte verbinding lê tussen die Roomse sakramentsopvatting en die ampsopvatting in daardie kerk. Die hiërargie, waarin die ampsdraers as gewyde mense ver uittoring bo die gewone kerkvolk, hang ten nouste saam met hul Misleer.

Maar ek hoop dat u dan ook verstaan waarom die Kategismus hier van 'n vervloekte afgodery praat. Want ten spyte van die hele mysterieuse atmosfeer rondom die altaar in die Roomse Kerk en ten spyte van indrukwekkende woorde en lofgesange oor Christus as die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem, het die offer van Christus op Golgota al hoe meer uit die blikveld verdwyn en het die offer van die priester op die altaar alle aandag opgeëis.

Die Roomses mag dalk met hul Mis ryker lyk, maar inderwaarheid is hulle baie arm. Want hul saligheid lê nie eintlik meer in die hande van ons Here Jesus Christus in die hemel nie, maar in die hande van die kerk met sy personeel. En as die kerk sou besluit om te staak en sy deure sou toemaak, of as daar deur byv. 'n oorlogsituasie 'n hele ruk geen priester beskikbaar sou wees nie, sou die gelowiges van hul saligheid nie meer seker wees nie!

Ons daarenteen kan daarop staatmaak dat Christus se een offer op Golgota vir altyd genoeg was om ons skuld by die Vader te bedek. Ons mag glo dat, al sou daar ook geen predikant in ons kerkverband oorbly nie en daar ook geen leenpredikant uit die buiteland beskikbaar wees nie; en al sou ons meer as twee jaar nie Nagmaal kon vier nie, die vergewing van sondes daagliks na ons toe bly kom uit die hande van ons hemelse Hoëpriester. Al bly Hy ook liggaamlik in die hemel en is ons hier op aarde- ook sonder towery met brood en wyn weet ons Here ons wel te bereik en mag ons die gemeenskap met Hom belewe.

2. Maar hoe bring Christus vanuit die hemel dan wél die gemeenskap met ons hier op aarde tot stand, gemeente? Ek het dit in verlede week se preek ook al aangewys: deur sy Heilige Gees. Toe ons Here liggaamlik na die hemel gegaan het, het Hy in die Persoon van die Heilige Gees na ons op aarde teruggekom. Ons het dit vanaand ook gelees in die 14de hoofstuk van die Evangelie volgens Johannes.

En dit is die Gees wat nou die band tussen Christus in die hemel en sy kerk op aarde so sterk en lewendig hou, dat ons tog van gemeenskap kan praat.

Die Gees bring Christus vlak by ons. Deur in ons die geloof te bewerk en te versterk. Die geloof waardeur óns sien wat die meeste mense nie sien nie omdat jy dit met gewone oë nie kán sien nie:

Ons sien ons God en Vader in die hemel wie se liefde ons op 'n vreeslike manier gekrenk het en nog aanhoudend krenk. Ons sien en ken Hom as die regverdige God wat die sonde wat teen sy allerhoogste majesteit gedoen is, ook met die swaarste straf moet straf- dit is die ewige straf aan liggaam en siel.

Ons sien ook Christus in die hemel, as wat Homself in ons plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van ons weggeneem het deur self aan 'n kruispaal op Golgota 'n vervloeking te word.

Die Heilige Gees bring vir ons die hemel digby en bring ons vol skuldbesef op ons knieë vir ons hemelse Vader en sy Eniggebore Seun.

Hy doen dit deur die Woord van God in die Bybel. En daarby is brood en wyn maar net hulpmiddels: 'n sigbare simboliek om ons geloof nog sterker te maak.

Maar daarom kan 'n mens die Nagmaal ook alleen in die geloof vier, broeders en susters. Dis die tweede saak waarop ons vanaand sou konsentreer. Slegs in geloof kan u aan die nagmaaltafel die gemeenskap met u hemelse Here ervaar.

Dis hoekom by ons kinders nog nie aan die viering van die Nagmaal deelneem nie. In die Roomse Kerk word laerskoolkinders al toegelaat om die gewyde brood, die hostie uit die hand van die priester te ontvang en te eet. Hulle ontvang hul "eerste kommunie" meestal al tussen hul 7de en 9de lewensjaar.

Ons daarenteen laat ons kinders eers 'n hele ruk katkisasieklasse volg om hulle sodoende eers te laat groei in die geloof.

Ja, julle moet eers uit God se Woord jul God en Heiland terdeë leer ken voordat julle kan Nagmaal vier, seuns en dogters. Julle moet julleself met die skrikwekkende skuld wat julle teenoor Hom opgebou het, leer ken. Daarvoor moet julle leer wat die woord "sonde" presies beteken. En waar die oorsprong van die sonde lê. Hoe hoog die HERE die sonde opneem en watter straf Hy op die sonde gestel het.

Julle moet vervolgens ons Here Jesus Christus leer ken as ook jul Borg en Redder. Julle moet weet Wie Hy is, waarom Hy God en mens terselfdertyd moes wees om ons te kan verlos van God se toorn. Julle moet weet van sy lyding en dood in ons plek om by God versoening deur voldoening te bewerk. Julle moet weet waar Hy vandag is en wat Hy daar steeds vir sy kerk doen. Julle moet weet wat jul doop beteken en waarom die Nagmaal ingestel is.

En dan word in die katkisasieklasse ook vir julle geleer dat die HERE met die vergewing van ons sondes alleen nie tevrede is nie. Dis nog maar die halwe werk. Daar moet ook 'n vernuwing by ons tot stand kom, sodat ons die sonde begin haat en ontvlug en in 'n nuwe gehoorsaamheid weer volgens God se goeie gebooie begin lewe. Maar daarvoor moet ons ook leer wát die HERE dan in sy goeie Wet van ons vra.

Al hierdie dinge is in 'n pragtige indeling uiteengeset in ons Heidelbergse Kategismus. Die drie belangrike fasette van ons lewe voor God se aangesig word hierin baie mooi duidelik gemaak: hoe groot ons sondes en ellende is, hoe ons daarvan deur Christus verlos word, en hoedat ons in 'n nuwe lewe van dankbaarheid moet opstaan met Christus, deur die krag van sy Heilige Gees.

Eers as ons kinders dit deeglik leer ken het, word hulle tot die tafel van die Here toegelaat.

En dan is hulle inmiddels op 'n leeftyd dat hulle die twyfeljare van die puberteit agter hulle gelaat het. Dan het die geloof meer geword as 'n teorie uit 'n boekie. Die geloof moet 'n deurleefde werklikheid geword het. Dit word deur die kerkraad dan ook vantevore deeglik getoets. En dan kyk die kerkraad veral ook na die lewe van die katkisante: het die leer van die kerk ook in hul lewe merkbare gevolge gekry? Eers dan is hulle reg om die gemeenskap met Christus ook aan die Nagmaaltafel te kan belewe.

Toelating tot die nagmaaltafel beteken egter nie dat voortaan die les van die katkisasie wel weer vergeet kan word nie, broeders en susters. U sal u lewe lank met die drie fasette van ons lewe met die HERE in sy verbond soos uiteengesit in die Kategismus, moet besigbly.

U weet: ons Nagmaalsformulier roep ons elke keer weer op om onsself voor die Nagmaal eers te beproef. En as dan duidelik gemaak word wat so'n selfbeproewing inhou, word op dieselfde 3 fasette gewys as waarvoor die Kategismus aandag vra. En moet maar kyk hier in Sondag 30 vraag en antw. 81: ook hier spring daardie 3 fasette vorentoe: "Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom? Hulle wat vanweë hul sondes 'n afkeer van hulleself het". Kennis van jou sonde is die eerste voorwaarde. "Wat tegelyk vertrou dat hul sondes om Christus wil vergewe is". Kennis van ons Verlosser en sy werk is die tweede vereiste. "en dié wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hul lewe te verbeter". Derde noodsaaklike punt in die selfbeproewing is die vraag aan jouself of jy nou ook voortaan in 'n nuwe lewe met die Here en met jou naaste wil lewe.

As u die Nagmaal as die hoogtepunt van die gemeenskap met Christus wil bly ervaar, gemeente, sal u u lewe lank so met uself en met u lewe voor God se aangesig moet besigbly.

As u Christus in sy liefde vir u wil ontmoet, sal u u liefde vir Hom steeds aan 'n noodsaaklike selfkritiek moet onderwerp.

Hy, ons Heiland, het Homself tot in die dood vir ons oorgegee. En u is nog steeds g'n moment uit sy gedagte uit nie. Dit bewys die Nagmaal. Sou dit dan nie 'n goeie en noodsaaklike ding wees om uself tenminste voor elke Nagmaalsviering die vraag af te vra hoe of dit met u liefde vir Christus gesteld is? Is u ook bereid uself vir Hom op te offer?

Besef u nog die diepte van sy liefde vir u? Besef u nog die swaarte van u sondeskuld teenoor God wat Christus na die kruisdood gedrywe het? Besef u wel voldoende dat u u skuld nog daaglik groter maak en dat u sonder sy Heilige Gees nooit in staat is om in 'n nuwe lewe op te staan nie?

Om met die vrae besig te wees is die regte en noodsaaklike voorbereiding op die Nagmaalsviering. Alleen so sal die ontmoeting met Christus aan sy tafel elke keer weer 'n fees word. 'n Verwonderde belewing van die gemeenskap met ons goddelike Verlosser.

Natuurlik moet ons nie net in die dae voor die Nagmaal ons lewe met die Here weer 'n keer krities onder die loep neem nie. Ons behoort dit elke dag te doen. Die Kategismus leer ons kinders al dadelik in Sondag 1 dat die besig-bly met ons ellende, die verlossing daarvan en ons nuwe lewe in dankbaarheid nodig is om getroos te kan lewe- elke dag!- en om eendag getroos te kan sterwe.

Maar soos die HERE die Sondag ingestel het om ons weereens ekstra daarby te bepaal hoedat ons elke dag van die week tot God se eer behoort te lewe, so is die Nagmaal ingestel, met sy spesiale voorbereiding, om ons weereens ekstra daarby te bepaal hoedat ons elke Sondag, ja, elke dag in die gemeenskap met Christus mag lewe. In 'n huwelik word elke dag van man en vrou gevra dat hulle hulself krities ondersoek in hul houding teenoor die ander. Maar die viering van die troudag, of kom ons sê: die spesiale belewing van die huweliksgemeenskap van tyd tot tyd in die totale oorgawe in liefde aan mekaar, vorm nog 'n ekstra aansporing om die huwelik goed te hou.

So het Christus ook die Nagmaal ingestel as 'n ekstra prikkel om die lewe in liefde tussen ons goed te hou.

3. Daarom eet en drink huigelaars en mense wat eintlik die sonde liewer het as die vergewing in Christus, 'n veroordeling oor hulleself aan die Nagmaaltafel.

Dié wat aan die tafel nie eintlik die gemeenskap met Christus soek nie maar maar net saam eet en drink om teenoor die mense die skyn op te hou, om hulleself te handhaaf, of omdat hulle meen dat die HERE met hulle baie tevrede kan wees, kwes Christus in sy liefde en roep daarom God se toorn oor hul lewe los.

Maar, en dit is die laaste ding waarop Sondag 30 tenslotte nog wys, dit is nie net die eie verantwoordelikheid van sulke mense nie. Dit raak ons as gemeente almal. Ons sit mos nie as almal los individue aan die tafel van ons Here nie. Omdat ons almal eet van die een brood en drink van dieselfde wyn, en daardeur aan Christus verbind word, vorm ons saam vir Christus een liggaam. Sy een gemeente. Deur sy een Gees saamverbonde.

Maar daarom vorm sonde en selfhandhawing binne die gemeente 'n bedreiging vir almal. Dis soos 'n kankerplek wat deur die hele liggaam kan versprei en die dood tot gevolg kan kry as dit nie uitgesny word nie.

Daarom is ons saam genoodsaak om die sonde in die gemeente hok te slaan en hardnekkige sondaars van Christus se tafel te weer.

As ons verharding in die sonde konstateer, is ons geroepe om te gaan vermaan, eerstens onder vier oë, daarna met 'n paar getuies. As dit nie help nie, moet die kerkraad op hoogte gebring word. Die kerkraad moet na eie ondersoek tot afhouding van die sakramente en as alle vermaan tevergeefs bly selfs tot afsnyding van die gemeente oorgaan.

Want as ons dit nie doen nie, "word God se verbond ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek", waarsku die Kategismus. As ons naamlik nie meer teen die sonde walgooi nie maar dit binne Christus se gemeente aanvaar as iets wat nou maar eenmaal gebeur en wat elkeen self maar teenoor die Here moet verantwoord; of as ons nog maar net weet om te skinder oor die sondes van broeders en susters sonder om iets daaraan te doen, is ons besig ons rug op Christus te draai. Maar daarmee draai ons ons rug op die lewe!

Het Christus nie gekom om die lewe vir ons terug te verdien, juis deur die stryd met die sonde in ons lewe aan te bind nie? As ons leer om met die sonde saam te leef, verbreek ons daarmee die samelewing met Christus. Dan kies ons vir die dood.

Ons mag in die Nagmaal die gemeenskap met Christus beleef, gemeente. Maar dis met hierdie gemeenskap nes met die gemeenskap in 'n huwelik: as 'n vrou die liefdesgemeenskap met haar man verlaag tot 'n pligmatige roetineaangeleentheid af en toe omdat haar hart eintlik by 'n ander man is, kwes sy haar man tot in die diepste van sy wese.

So kwes ons ons hemelse Bruidegom in die diepste van sy siel as ons die gemeenskap met Hom aan die Nagmaal verlaag tot 'n driemaandelikse ritueel sonder verwondering, terwyl ons in die alledaagse lewe die deur weer wawyd oopgemaak het vir die sonde.

So'n veragting van sy liefde kan nie ongestraf bly nie. AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)