Hoe beleef ons by brood en beker die gemeenskap met Christus?

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 30
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 30a HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 123: 1
Gebed
L. Heb 9: 22-10: 18
SB. 8: 1, 2, 4, 5
Prediking
Gesonge Geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps. 110: 1, 2, 5
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dit tref baie mooi dat juis vandag, Hervormingsdag, Sondag 30 van die Kategismus, oor die verskil tussen die ons Nagmaal en Roomse Mis, aan die beurt is.

Die Mis was mos een van die groot strydpunte in die Hervormingsstryd.

Tog kan 'n mens jou afvra of dit nog wel so sinvol om vandag aparte aandag te gee aan die Roomse Mis-opvatting.

Ons kan verstaan dat die Heidelbergse Kategismus 'n belangrike plek inruim vir die bestryding van die Mis. In die jare waarin hierdie leerboekie ontstaan het, was talle Gereformeerdes wat hulle wel aan die Roomse Kerk onttrek het, nog steeds nie heeltemal vry van die Roomse dwalings nie.

Maar ons leef inmiddels 4 eeue later. Daardie twis oor die Nagmaal tussen Katoliek en Protestant lê alweer ver agter ons. Is dit nog sinvol om vandag in 'n preek, wat tog die verkondiging van die blye evangelie moet wees, aandag aan daardie ou leerstryd te gee?

Wie in daardie dae openlik durf bely het dat die Paapse Mis in wese 'n vervloekte afgodery is, het die gevaar geloop om dié belydenis met die dood te moet bekoop. Dié moes bereid wees om die brandstapel te beklim.

Maar vandag het die verhoudings mos heeltemal verander! Rooms en Protestant leef vreedsaam naas mekaar en deur mekaar.

Protestantse en Roomse teoloë is besig om die Mis en die Nagmaal na mekaar toe te praat en die skerp kante bietjie af te slyp. Dit gebeur selfs al wel dat 'n Protestantse predikant saam met 'n Roomse priester 'n eugaristieviering lei. Nog onlangs het hier in Pretoria 'n Roomse pater op 'n protestantse preekstoel gestaan, in 'n NG gemeente. Mens moet vandag mos ekumenies wees in plaas van om mekaar oor allerhande verskille te verketter?

Is dit dus nog wel sinvol om die Roomse Mis vanaand krities te gaan bespreek?

Ja, dit is, gemeente.

Veral noudat die erns van die verskil tussen die Nagmaal en die Mis toegesmeer word en die strydbyl begrawe lyk, is dit van léwensbelang dat die kerk van Christus die fundamentele verskil tussen die Mis en die Nagmaal bly raaksien.

Want die verskil is steeds daar en nog elke dag word daar orals in die wêreld die Mis bedien as 'n verloëning van Christus se enige offer op Golgota en as 'n vervloekte afgodery.

En die verskil raak regtig nie minder nie as ons lewe!

Moet antwoord 80 maar 'n slag mooi lees: die groot vraag by die Mis en die Nagmaal is: Hoé kry ons deel aan Christus en ontvang ons vergewing van al ons sondes? Op dié vraag gee die Nagmaal van die Here en die Mis van Rome 'n teengestelde antwoord: was daarvoor Christus se een offer aan die kruis op Golgota genoeg? Of moet daardie offer nog daagliks deur priesters in die kerk herhaal en toegepas word?

Ons sal dus vanaand nie net 'n interessante kerkstryd uit die verlede bekyk nie. Maar ek moet u uit die Woord van die HERE verkondig hoédat u aan die offer van Christus tot versoening van u sondes, waar ons deur brood en wyn reëlmatig by bepaal word, deel het.

Die hoofvraag in hierdie preek is dus:

HOE BELEEF ONS BY BROOD EN BEKER DIE GEMEENSKAP MET CHRISTUS?

  1. MOET CHRISTUS DAARVOOR TELKENS LIGGAAMLIK AFKOM UIT DIE HEMEL?
  2. NEE, DAARVOOR MOET ONS ONS HARTE OPHEF NA DIE HEMEL

1. Elke keer as ons saam aan die Nagmaalstafel sit, vra ek in 'n paar bekende woorde u aandag vir die groot verskil tussen die nagmaal en die mis, broeders en susters.

Brood en wyn lê voor ons en sal net-nou rondgedeel word. Maar dan roep ek u eers op om nie net u oë te rig op die sigbare tekens van brood en wyn nie, maar om u harte na die hemel op te hef, waar Jesus Christus ons Voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader is.

U aandag word van daardie sigbare tekens losgetrek. Dit is nie meer as tékens nie. Die harte moet omhoog.

Dit is in die Mis presies andersom. Daar word juis wel alle aandag na die brood en die wyn op die altaar voor in die kerk toegetrek. Daar hoef die harte nie omhoog nie, want Christus self kom omlaag!

Kom in u gedagtes 'n oomblik saam met my na 'n Roomse katedraal en laat ons daar so 'n misviering bywoon.

Wanneer ons deur 'n groot portaal in die eintlike kerk ingestap het, trek alles in hierdie indrukwekkende ruimte wat soos 'n kruis gebou is, alle lyne en vorme, ons aandag onwillekeurig vorentoe, na die verhoog voor in die kerk.

Teen 'n agtergrond van hoë, kleurig gebrandskilderde rame en omring deur skilderye en beeldhouwerk staan daar 'n groot tafel, bedek met blinkwit linne, Dit is die altaar wat wag vir die priester.

Ons het skaars 'n plekkie gevind in een van die banke wat ook as knielstoel gebruik kan word -daar trouens plek genoeg, want daar is nie so veel mense in die kerk nie!- of uit 'n sydeur voor in die kerkgebou kom die priester ingestap. 'n Koorknaap stap voor hom uit en dra die skaal met brood en die beker met wyn.

Die orrel begin speel en die priester gaan voor die altaar staan.

Maar dis snaaks: hy gaan nie agter die tafel staan met sy gesig na die kerk toe nie. Nee, hy draai sy rug op ons.

En dan begin hy sing. Dis Latyn, dus ons kan nie soveel daarvan verstaan nie. Ons herken darem Kiri-eleis, Ontferm U Heer, en Gloria in Exelsis Deo, Ere aan God in die hoogste hemele.

Die singe word egter geleidelik al hoe sagter. Oplaas fluister die priester nog maar net.

Onderwyl trek hy die doek weg wat die skaal en die beker nog bedek gehou het.

Dan was hy sy hande, vat die brood en hef dit voor almal se oë omhoog, om dit aan die HERE as 'n offergawe aan te bied. Ook die beker met wyn word op dieselfde wyse omhooggehou.

Na nog 'n aantal gebede en gesange spreek die priester dan die instellings- woorde van die Nagmaal wat ons so goed ken: "Neem, eet, dit is my liggaam" en hef die brood opnuut omhoog, sodat die mense in die kerk dit sal aanbid, terwyl ook die priester self in aanbidding voor die altaar neerkniel.

Dieselfde gebeur ook weer met die wynbeker.

Almal se oë rig hulle nou op daardie brood en wyn. Want priester en kerkvolk glo dat deur 'n wonder die brood nou die vlees van Christus geword het. En die wyn sy egte bloed. Ons Heiland self het uit die hemel neergedaal, liggaamlik. Die Woord het weer vlees geword en die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem, offer Homself opnuut onder die hande van die priester op die altaar voor in die kerk.

Na nog weer nuwe gesange en gebede eet die priester van die brood en drink hy uit die beker. Hy daal vervolgens van die trappies van die verhoog af na 'n bank waarin die paar mense wat in die kerk was, gaan sit het en lê ook op hulle tong van die brood.

Ons verlaat nou maar die katedraal, broeders en susters, want ons het meer as genoeg gesien.

Een ding het baie duidelik geword: Oënskynlik het die Roomse Mis 'n groot voordeel bo ons nagmaalsviering. Want hoe naby word Christus gebring in die Mis!

Wat word die vergewing van sondes naby gebring op die altaar! Uit die hemel daal die Middelaar neer in 'n kerk met sondaars en bewerk opnuut vergewing vir kerk en wêreld. En die priester mag die aanwesige gelowiges in die kerk dadelik in daardie vergewing laat deel.

Hulle sién dat dit gebeur, en hulle mag dit proe met hul mond.

Hoe ryk en troosvol lyk dit. Hoe heilig en heerlik is so'n Roomse erediens.

Dis nie so moeilik om 'n karikatuur van die Roomse Mis te teken nie. Maar ons sal in elk geval moet erken dat die Roomse teoloë darem 'n poging onderneem het om van die gemeenskap met Christus by brood en beker 'n reële gebeure te maak.

As ons ons eenvoudige nagmaalvierings daarmee vergelyk - hoe arm lyk ons dan. Hoe leeg bly dan ons dienste. Want by ons kom Christus nie liggaamlik in die kerk nie, maar Hy bly ver weg in die hemel. Daar bly 'n groot afstand tussen sy hemelse heerlikheid en ons aardse ellende.

Is die Mis nie veel ryker nie?

Ons Nagmaal vertel van 'n Christus wat hoog en ver weg is, nie op die aarde nie maar in die hemel, en wat daar aanbid wil word. Maar die Mis wys ons Christus wat vlak by ons is, wat tot ons neergedaal het in die kerk en op die altaar en wat ons dáár mag aanbid.

En dit nie net een keer in drie maande nie, maar daagliks. Ja, Hy bly eintlik permanent liggaamlik in die kerk, want ook as die misviering afgesluit is, bly daardie brood en wyn Christus se liggaam en bloed. Dit word dan ook nie weggegooi nie, maar sorgvuldig gebêre in 'n kassie agter die altaar.

'n Roomse kerkgebou is altyd oop en ook op weeksdae kan elkeen wat wil, kerk toe gaan. Al word daar ook nie 'n diens gehou nie, Christus is mos daar en 'n mens kan sy heilige aanwesigheid altyd ondergaan. Jy kan die gemeenskap met Hom ervaar, alleen al deur kerk toe te kom.

Maar die groot vraag is, gemeente: is dit regtig noodsaaklik dat ons Here Jesus Christus elke dag nog opnuut uit die hemel moet afkom en Hom deur mispriesters moet laat offer om die versoenende krag van sy kruisdood op Golgota na ons toe te bring? Is dit nodig dat Hy Homself daagliks in 'n kassie agter in die kerk laat toesluit? Die Roomse kerk leer: Ja, jy het geen deel aan Christus en ontvang dus geen vergewing van jou sondes nie as Christus nie elke dag opnuut geoffer word nie.

Maar as dit waar sou wees, sou ons saligheid mos eintlik heeltemal afhang van 'n klein stukkie brood en 'n bietjie wyn in 'n kerkgebou?

Ons ewige lewe sou dan mos in die hande lê van een enkele man in die kerk?

Die priester en die altaar voor in die kerk sou dan dus onmisbaar wees vir almal wat die vergewing van hul sondes in Christus soek.

Ten spyte van die hele mysterieuse atmosfeer rondom die altaar in die Roomse Kerk en ten spyte van indrukwekkende woorde en lofgesange oor Christus as die Lam van God wat die sondes van die wêreld wegneem, verdwyn Christus Self al hoe meer uit die blikveld en het eis die priester die meeste aandag vir homself op.

Die priester is die magtige man wat daagliks die vergewing van jou sondes vir jou by die Vader moet bewerk deur Christus opnuut onder sy hande op die altaar te offer. Jy hoef as gewone kerklidmaat nie eens daardie Misoffer by te woon nie. Al is daar g'n mens in die kerk nie, elke oggend bedien die priester die Mis en die resultaat daarvan: vergewing van die sondes, bereik jou soos vanself.

Die Roomses mag dalk met hul Mis ryker lyk, maar inderwaarheid is hulle baie arm. Hulle is totaal en al afhanklik van die kerk met sy personeel. En as die kerk sou besluit om te staak en sy deure sou toemaak, of as daar deur byv. 'n oorlogsituasie 'n hele ruk geen priester beskikbaar sou wees nie, sou die gelowiges van hul saligheid nie meer seker wees nie!

Die priester het in die Roomse Kerk so'n magtige man geword dat hy selfs vir mense wat klaar oorlede is, nog vergewing by God kan bewerk met sy Misoffer. 'n Roomse familie kan vir 'n oorlede familielid 'n spesiale Mis aanvra om te probeer bereik dat hy gouer uit die vaevuur mag oorgaan in die hemel.

U sal dan ook verstaan dat daar 'n direkte verbinding lê tussen die Roomse sakramentsopvatting en die ampsopvatting in daardie kerk. Die hiërargie, waarin die ampsdraers as gewyde mense ver uittoring bo die gewone kerkvolk, hang ten nouste saam met hul Misleer.

Dit hoef ons glad nie te verbaas nie dat derduisende mense in ekstase raak vir die Pous van Rome nie: jou toekoms, jou ewige geluk lê eintlik in dié man se hande - die hoof van die kerk!

Ons Kategismus noem die hele Misritueel sondermeer "'n afgodery wat vervloek is".

Want alle aandag word afgetrek van Christus se offer wat Hy eens en vir altyd aan die kruis op Golgota volbring het, en gerig op 'n bietjie brood en 'n beker wyn voor in die kerkgebou. Asof jou saligheid dáárvan afhang!

Ja, daardie brood en wyn word aanbid en in 'n plegtige prosessie rondgedra in Roomse streke.

Maar onderwyl is daar by talle Roomses geen werklike liefde en ontsag meer vir Christus. Uitspattighede soos die Karnavalfeeste bewys dit. Die afgodery met die Misbrood en wyn werk dit in die hand: 'n mens kry mos soos vanself, outomaties elke dag vergewing deur die priester se werk in die kerk! 'n Mens moet net oppas dat jy nie 'n doodsonde doen nie, maar nou ja, ook daarvoor kan jy selfs vergewing by die kerk bekom as jy gaan bieg en 'n paar ekstra goeie werkies doen.

Dié vervloekte afgodery word vandag nog orals in die wêreld gepleeg, gemeente, ten spyte van vriendelike ekumenies gebare tussen Rooms en Protestants.

En ons moet die invloed daarvan nie onderskat nie.

Ook Gereformeerdes kan beïndruk raak deur die uitbundige en mistieke atmosfeer in 'n Roomse erediens en dit in die Gereformeerde liturgie wil invoer. Miskien het u wel eens gehoor van Ds Jan van der Vloed, die leraar van die Nederlandssprekende NG gemeente hier in Pretoria wat in sy dienste soos 'n Roomse priester verskillende gekleurde gewade dra en kersies brand.

Ook Gereformeerde mense kan meen dat in ons eredienste hul saligheid bewerk word en dat hulle dus net deur gereeld kerk toe te kom en Nagmaal te gebruik, min of meer outomaties 'n plekkie in die hemel kan bekom. Terwyl daar in die daaglikse lewe skaars 'n hartlike lewe met Christus gevind word.

Ook by ons kan daar broeders en susters wees wat blindelings op die kerk en hul kerklidmaatskap vertrou, pleks van op Christus alleen.

Ook onder u kan daar mense wees wat die dominee as die belangrikste man binne die kerk beskou: as hy voorgaan in die diens is alles baie ryker as wanneer 'n ouderling 'n preek voorlees. As die dominee voorgaan mag die seën van Christus aan die gemeente opgelê word, maar as 'n ouderling moet preeklees kan ons maar net bid of Christus asseblief met sy seën na ons toe wil kom.

As die dominee vir u 'n gebed doen, beteken dit baie meer as wanneer u self bid.

Dis alles Roomse suurdeeg, gemeente!

2. Ons moet Christus nie soek in 'n stukkie brood en 'n slukkie wyn nie, nie in ons kerkgebou en ook nie in die persoon van 'n dominee nie. Ons moet ons harte ophef na die hemel. Daar is Christus vandag, daar bewerk Hy regstreeks by sy en ons hemelse Vader elke dag vergewing vir u en my en daar moet ons Hom aanbid.

Ons kerkgebou is nie 'n heiligdom op aarde nie. Daarom verfoei ons ook die gebruik om 'n nuwe kerkgebou in te wy. Ons neem slegs 'n nuwe gebou in gebruik. En ons gee nie om as in daardie gebou ook 'n onthaal gegee of 'n herdenking gevier word nie. Want ons weet dat Christus Hom nie in daardie gebou laat vind nie. Ons leer in daardie gebou maar net om Hom in die hemel te vind.

Want Hy het, nadat Hy een offer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God om dáár, in die hemelse heiligdom, voortaan daagliks ons skuld by die Vader te bedek.

So sê die Skrif dit onweerlegbaar. Ons het 'n gedeelte van die brief aan die Hebreërs gelees. Staan dit daar nie baie duidelik dat Christus se een offer vir ons sondes genoeg was nie?

Voor Golgota het daar daagliks priesters by die altaar gestaan om deur 'n aanhoudende stroom van offers die sondes in gedagtenis te hou. Meer kon hulle met hulle offers ook nie doen nie. Hulle kon die sondes nie versoen nie, "want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem".

Daarom kon hulle ook nooit ophou met offer nie. Dag na dag, jaar na jaar, eeue na eeu het daar een staan en offer.

Maar toe Christus in die wêreld ingekom het en sy eie liggaam wat God vir die groot offer toeberei het, aan die kruishout geoffer het, het Hy deur daardie offer "vir altyd volmaak die wat geheilig word"

Daarom mog ons Heiland gaan sit in die hemel, broeders en susters. Het u daarop gelet hoeveel nadruk dit in hierdie brief ontvang? Ons vind dit reeds in hfst. 8: 1: "Die hoofsaak van wat ons nou gesê het, is dit: ons het so'n Hoëpriester wat gaan sit het aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemel". En in die gedeelte wat ons uit hfst. 10 gelees het, word die die staande priesters van die Ou Verbond teenoor die Priester van die Nuwe Verbond wat sit, geplaas. Sy een offer was genoeg.

Die mis leer: Christus kry daarbo geen rus nie, want elke dag moet Hy weer aarde toe kom om met behulp van aardse priesters sy kruisdood opnuut in die kerk sigbaar te maak, te herhaal en toe te pas. Maar God se Woord leer: ons Priester sit rustig in die hemel, en Hy bly ook daar, want waar kan Hy beter ons sondes bedek as daar voor die aangesig van sy Vader? Hy benodig geen hulppriesters en geen altaar meer nie, want wat Hy aan die kruis geroep het, staan steeds: "Dit is volbring!"

En as ek nou maar vol vertroue my hart ophef na die hemel hoef ek nie daaraan twyfel nie dat ek die volkome vergewing van al my sondes uit sy hand ontvang, net so werklik as wat ek die brood en die drank uit die hand van die predikant ontvang.

Wie is dus ryker: die wat die Mis meemaak, of die wat die Nagmaal vier?

Rome sê: u ontvang geen vergewing van sondes, u kry geen deel aan Christus en al sy weldade nie, as die kérk dit nie vir u beskikbaar stel nie.

God se Woord leer gelukkig vir ons, en só verseker die Nagmaal dit vir ons, dat die vergewing van ons sondes nie afhanklik is van die hande van mense waardeur Christus opnuut geoffer sou moet word nie. Al sou ook die kerk staak, en geen priester meer die Mis wil bedien nie, al sou geen predikant meer die Nagmaal wil bedien nie, al bly ek ook so ver van 'n kerk dat ek huisgodsdiens moet hou en jare lank die Nagmaal nie kan vier nie, al kan ek weens my siekte of ouderdom nooit meer kerk toe kom nie- my saligheid lê veilig en vas in die hande van my Heiland in die hemel.

Dáár aanbid ek hom.

Terloops: tydens die Wykaand van wyk Oos verlede Donderdag het sommige broeders en susters gewonder of ons wel gesange mag sing waarin Christus afsonderlik aangespreek word. Moet ons nie net tot die Vader bid nie? Dan sou dus SB 8 wat ons vanaand saam gesing het, eintlik ook uit ons kerkboek uitgehaal moet word.

Maar het u gesien dat in ons belydenis, hier in antw. 80 van die Kategismus, rustig gesê word dat ons Christus in die hemel moet aanbid? Met 'n aanbidding van Christus, in ons gebede en ons gesange, is niks verkeerd nie. As ons Hom maar op die regte plek aanbid: in die hemel.

Maar nou nog een vraag: bly ons Nagmaalsviering en ons ander eredienste dan tog nie taamlik arm nie, broeders en susters? Want daar bly darem 'n ontsaglike afstand tussen Christus in die hemel en ons hier op aarde. Ons sê dit wel aan die tafel: "Die brood wat ons breek is die gemeenskap (!) met die liggaam van Christus", maar kan 'n mens dit gemeenskap noem?

Ons kan wel probeer om ons harte na die hemel op te hef, maar ons bly self met beide bene op hierdie aarde vol ellende, stryd en verdriet.

Vra Christus nie die onmoontlike van ons nie?

Nee, want Hy Self is dit wat ons harte bo kortsigtigheid uithef en by ons Here in die hemel laat vertoef. In die Persoon van die Heilige Gees oorbrug Christus Self die afstand tussen Hom in die hemel en ons hier op aarde. Die Heilige Gees bring vir ons die hemel naby. Die Gees gee aan ons geloofsoë om verder te kan kyk as die horison van hierdie wêreld. Die Gees help ons om elke dag Christus as ons Advokaat by Vader in die hemel te weet, om Christus as ons Koning op die hemeltroon te weet, om die onlosmaaklike band te sien wat Christus tussen Hom en ons gelê het. Deur die Gees onderhou ons ook van ons kant daardie band met Christus: ons praat met Hom in ons gebede, ons luister na sy beloftewoorde, ons soek Hom in ons skuldbesef, ons bind opnuut die stryd teen die sonde aan.

So is daar tog wel deeglik gemeenskap met Christus. Ons beleef 'n sterk band.

Daarby is die kerk 'n belangrike hulpmiddel. Deur die preke. Deur huisbesoeke en katkisasieklasse.

Ook deur die Nagmaalsvierings. Daardeur kom die Gees ons harte vervul en saamneem na Christus toe.

Maar die kerk is ook nie meer as 'n hulpmiddel nie!

Want ek hoef hier in die kerk regtig nie iets vir Christus klaar te maak deur geheimsinnige magiese handelinge nie.

Ek hoef u maar net te wys op dit wat Christus lank al vir u klaar gemaak het en u oproep om dít te glo, om dááruit te leef ook as u hierdie gebou weer verlaat.

En as ek dit nie meer sou doen nie, het die tyd aangebreek vir 'n nuwe noodsaaklike kerkhervorming.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)