Die rykdom van die tekens van brood en wyn

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 29
Preek Inhoud: 

Geloofsbel.
Ps 84: 1, 2, 3
Skb 10
Ps 138
Lees: Joh 6: 22-59
Teks: Sondag 29+30a

Brs en srs, sns en dgtrs,

Ons kan se dat ons gemeente in die algemeen bestaan uit tamelik nugtere mense. Moontlik is ons selfs 'n bietjie trots daarop.

Of daardie nugterheid voortkom uit die nederlandse agtergrond van die gemeente, of dat dit eerder te doen het met die feit dat ons gereformeerd is laat ek nou maar in die midde. Ongetwyfeld is dit 'n goeie eienskap om nugter te wees. Dit voorkom dat jy jou halsoorkop in allerhande situasies beweeg waarvan jy agterna moet erken dat dit 'n verkeerde ding was.

Tog het dit ook sy besware om altyd so nugter te wees.

'n Mens kan daardeur ook ongevoelig raak vir allerhande sake. Jy kan so nugter wees dat iets moois jou nie meer kan ontroer nie. Ook iets moois in die kerk. By voorbeeld 'n Psalm of 'n geestelike lied.

Of die atmosfeer van die gebou. Of 'n gebeurtenis in die gemeente. Of 'n preek. Of 'n sakramentsbediening.

Jy is te nugter om jou daardeur werklik emosioneel te laat raak. As dit die geval is, is jy 'n arm mens. Jy mis iets wat tot die verryking van jou lewe kan bydra.

Ek dink dat vanwee hierdie nugterheid baie van ons 'n sekere ongevoeligheid vir simboliek ontwikkel het.

Ons het moeite om 'n simboliese handeling werklik te ervaar as 'n gebeurtenis.

Ons verstaan 'n simboliese handeling wel met ons verstand, maar verder doen dit vir ons nie so baie nie.

Daarom vind baie mense dit maar bitter moeilik om 'n simboliese gebeure soos die viering van die Nagmaal werklik as 'n fees te ervaar.

Ons is nugtere mense. Akkoord, maar laat ons nooit so nugter word dat ons die lewe in die kerk emosieloos ondergaan.

Dan kan ons nie meer saam verdrietig wees nie. Ons kan ook nie meer saam bly wees nie. Dan word alles ewe vlak en egalig.

En dit sou teen die bedoeling van die Here Jesus wees.

Hy het self opdrag gegee om in die kerk met simbole te werk. Nie om die simbole die een en die al laat word nie, maar om die saak wat met die simbool bedoel word by ons tuis te bring.

Oor die verband tussen die simbool en die daarmee bedoelde saak gaan dit vanmiddag.

Ons tema vir die preek is:

Die rykdom van die tekens van brood en wyn

  1. Hulle simboliseer die liefde van Christus
  2. Hulle simboliseer die voedsel tot die lewe

Ons Heidelbergse Kategismus gee uitvoerige aandag aan die Heilige Nagmaal. So uitvoerig dat ons amper moeg daarvan raak. Alweer oor die Nagmaal vanmiddag.

Die gevoel dring hom ekstra op nou dit gaan oor die Roomse Mis. Dis nou nie juis aktueel in ons situasie nie. Die Roomse kerk is ver weg.

Ek wil vanmiddag dan ook nie al te breed aandag vra vir die Roomse Mis en wat daaraan verkeerd is nie, maar die onderwerp vorm 'n aanleiding om na ons eie viering en belewing van die Heilige Nagmaal te kyk.

Nou kan ek nie daaraan ontkom om tog eers iets te se oor die manier waarop in die Roomse kerk met die Nagmaal of die eugaristie, soos hulle dit noem, omgegaan word.

Ons kan dit so karakteriseer: by hulle is al die aandag gerig op die tekens in die Nagmaal.

Op brood en wyn dus. Op sig is aandag vir die teken goed. Maar die teken kan so belangrik gevind word dat die aandag nie van die teken na die eintlike saak gelei word nie, maar net by die teken bly.

Kyk 'n teken is 'n simbool. 'n Simbool is 'n verwysing na iets.

Brood en wyn in die Nagmaal is van daardie simbole. Hulle gee 'n verwysing. Hulle verwys namelik na Jesus Christus en sy werk.

Maar in die Roomse kerk is al die aandag gerig op die teken self.

Hulle se: die brood, dit is die liggaam van Christus. Hier le dit. Dit is heilig. Buig jou neer in aanbidding.

Die wyn dit is Christus bloed. Buig jou neer en aanbid sy bloed. Want dit is goddelike bloed.

Dit lyk nou heel eerbiedig ten aansien van Christus liggaam en bloed, maar die Kategismus se: As jy brood en wyn aanbid as was dit God self dan maak jy jou skuldig aan afgodery. En God het 'n vloek uitgespreek oor enige vorm van afgodery. Ook oor hierdie.

Want so mag jy God nie dien nie. God laat Hom nie dien deur middel van 'n stukkie brood, of deur middel van 'n stuk hout, of deur middel van 'n goue beeld nie.

God wil aanbid word daar waar Hy is. Dit is daarbo in die hemel. En hy wil aanbid word soos Hy is, as 'n God wat Gees is.

Dus wat is die groot misverstand in die Roomse Nagmaals-viering? Dit is dit: hulle gee soveel aandag aan die teken, dat die saak waaroor dit gaan verbygegaan word. Hulle heg so sterk aan die simbool, dat hulle die werklikheid waarna die simbool verwys misloop.

En dit is natuurlik dwaas.

Net so dwaas as die volgende voorbeeld.

Se nou iemand het vir die eerste keer in sy lewe met werk begin waarby hy aan die einde van die eerste maand sy eerste salaristjek kry. R 1000, -. Pragtig.

Hy is trots daarop. Goed.

Hy bewaar hom sorgvuldig. Prima.

As hy by die huis kom sit hy die tjek in 'n pragtige lysie en hang hom aan die muur. Dwaasheid natuurlik.

As jy die tjek nie by die bank gaan versilwer nie, dan help dit vir jou niks nie. Na 'n tydjie is die tjek waardeloos. Die simbool hang nog in sy pragtige lysie, maar jy het nie gedoen wat jy daarmee moes gedoen het nie.

En daarmee verword dit tot 'n waardelose stukkie papier. Jy het die simbool aangesien vir die werklikheid. En daarmee die fout van jou lewe gemaak.

Brood en wyn in die Nagmaal is dus simbole, tekens. Van wat eintlik? Waarna verwys hulle presies?

Mens sou kon se hulle verwys na liggaam en bloed van Christus. Dit is so, maar ook dit is feitlik simbole. Wat is die werklikheid daaragter?

Wel, heel kort gese: Die omvattende werklikheid waaroor dit alles gaan is die liefde Van Christus.

Christus het vir jou lief. In sy liefde het Hy selfs sy lewe vir jou gegee. Daardie feit wil Hy by jou tuisbring. En daarvoor maak Hy gebruik van hierdie tekens.

En dit is jou opdrag om iets daarmee te doen. Om die simbool te verstaan en die werklikhied daaragter jou lewe werklik te laat beinvloed.

En dan begryp jy wel dat die simbool op sig nie so belangrik is nie. Dit gaan net om die gedagte wat deur die simbool oorgedra word. Jy moet dit verstaan en ontvang as liefdes- simbool.

Kom ons vergelyk dit met 'n kus wat jy vir iemand gee as 'n gebaar van liefde of geneentheid. Dit gaan nie om die kus op sig nie. Dit is 'n gebaar waarmee jy iets se. 'n Simbool. So'n kus funksioneer in 'n verhouding. Maar die kus op sig bring niks spesiaals tot stand nie. Al kus jy tien minute agter mekaar vir iemand, as daar geen liefde is nie kan die kus ook nie so'n liefde kreeer nie.

Ek hoop dat u nou verstaan wat ek bedoel as ek se die tekens in die Nagmaal het geen waarde in hulle self nie.

Iemand wat nie glo nie verander geen spier al eet hy die hele broodskaal aan die Nagmaalstafel leeg.

Want dit is 'n simbool en 'n simbool vra ontvankelikheid vir die saak waaroor dit gaan.

Om die brood te eet en die wyn te drink, maar inmiddels nie jouself van harte voorneem om jou lewe aan Jesus Christus toe te wy, gaan jou niks help nie.

Om terug te kom op die Roomse Mis, daar is dit wel so. Jy kry mos die werklike liggaam van Christus in jou maag en dit werk daar op een of ander manier iets uit.

Wel dit is vir ons onmoontlik. Die tekens is bedoel as ondersteuning in jou geloof. Dit is 'n gebaar van Christus na jou toe. 'n Liefdegebaar. En so moet jy dit ontvang anders werk dit vir jou nie.

2. Die tekens van brood en wyn is voedsel vir jou lewe

Ons bid U dat ons met die enige hemelse brood Christus gevoed en verkwik mag word...

U herken hierdie woorde wel uit ons Nagmaalsformulier.

Die woorde is ontleen aan Johannes 6, waar Christus Homself die brood van die lewe noem.

Hy roep die mense na Hom toe met die woorde: Wie na My toekom sal nooit honger kry nie. En wie in My glo sal nooit meer dors kry nie.

As ons die woorde nou direk toepas op die Nagmaalsviering, sou dit kon beteken dat jy in een keer klaar is as jy maar eenmaal van die brood van die lewe geeet het? Dat jy jy dan eens vir altyd versadig is?

Nee, dit nie.

As Christus se: Wie na my toekom sal nooit weer honger kry nie bedoel Hy veelmeer: As jy eenmaal My gevind het as die brood van jou lewe, dan hoef jy nooit meer te soek nie. Jy raak nie meer honger nie, want Ek is altyd daar om vir jou die voedsel wat jy nodig het te gee.

Die voedsel waaroor dit hier gaan is die vergewing van jou sondes. Mense kan honger en dors wees na geregtigheid. Hulle voel daar is dinge verkeerd. Hulle ervaar onvrede. Hul eie ongeregtigheid pla hulle.

En waar jy ook gaan soek, wat jy ook al probeer, dit sal jou bly pla totdat jy by Jesus Christus uitkom. Hy is die brood van die lewe. Hy stil jou honger na geregtigheid.

En Hy sal dit steeds weer doen.

Daarom laat Hy ons ook steeds na die Nagmaalstafel terugkeer.

Hy voed ons daar met die brood van die lewe. Ons kan daarop 'n tydlank teer. Maar ons het dit naderhand weer nodig.

Want hoeveel versterking ons vir ons geloof ook ontvang aan die Nagmaalstafel. En hoeseer ons ons van harte voorneem om die stryd teen ons sondes weer op te neem, na verloop van tydkom die twyfel vrae weer.

Sou die Here my wel sien?

Weet Hy wel hoe ek sukkel?

En ag, ek sien nie kans teen daardie sonde nie. Ek het dit my voorgeneem, ek het dit probeer, maar weer het dit misgegaan.

En dan is die Here weer daar, met die bewyse van sy liefde en trou. Hy is daar en se: neem, eet, dit is my liggaam vir jou!

Eet die hemelse brood.

En word verkwik. Ek sien jou. Ek sorg dat jy weer verder kan.

Eintlik is dit 'n pragtige beeld. Die beeld van voedsel vir die ewige lewe.

Voedsel hou mos lewe in stand. 'n Normaal mens sal ook steeds weer graag voedsel tot hom neem as sy liggaam daarom vra. Jy ken mos die taal van jou maag. As hy begin rammel dan is dit tyd vir voedsel.

Wel, as ons oplettend is op ons geestelike lewe, dan kan ons ook ons siel voel rammel. Daar is voedsel nodig.

As dit gebeur hoef ons gelukkig nie op 'n Nagmaalsviering te wag voor daar iets aan gedoen kan word nie. Daar is ook ander middel om geestelike voedsel tot jou te neem.

Maar 'n feit bly daar is geen middel so welsprekend en so feestelik as 'n Nagmaalviering met jou broers en susters, jou strydmakkers in die stryd van die geloof nie.

Dus laat ons bly wees met hierdie magtige simbool wat ons in die Nagmaal ontvang het.

Ons hoef die waarde daarvan werklik nie in die teken op sig te soek nie. Die brood bly gewone brood. Die wyn is egte wyn.

Maar wie vol verwagting na Christus uitsien vind daarin die troosryke bewyse van sy liefde.

Daarmee kan jy verder.

Want Christus self waarborg dat die bewyse van sy liefde eg gemeen is.

Neem eet, dit is my liggaam wat vir jou gebreek is.

Dan is dit nog steeds so dat Christus daarbo in die hemel is, en ons hieronder op die aarde.

Maar in sy liefdebetoon is Hy ons baie naby. Jy kan dit met die hande tas en met die mond geniet.

En daarom moet ons nou maar wat wegkom van ons nugterheid wat ons so rem. Ons moet leer om werklik bly te wees met die kostelike simbole wat Christus ons gegee het.

Ons weet daaragter is 'n heerlike werklikheid.

En so val vanuit die hemel'n ligstraal op hierdie aarde.

Ons kan verder met hierdie sekerheid:

Daar is niks wat ons kan skei van die liefde van Christus nie.

Dit is so 'n oorweldigende waarheid, daarvan kan 'n mens maar net sing.

Kom laat ons sing. Skrifberyming 10.

Liturgie: 

(kyk in preek)