Die groot liefde van Christus spreek in inhoudryk woorde

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 29
Preek Inhoud: 

21-07-91

SONDAG 29

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 115 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 114 : 1, 4
Skriflesing: Exodus 24 : 1-11, 1 Korinthe 10 : 14-22
Doopsformulier
Sing: SB. 14 : 1
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 115 : 7, 8, 9
Sondag 29
Prediking
Sing: SB. 39 : 1, 3
Dankgebed
Sing: SB. 39 : 4, 5
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

as daar 'n arm mens aan jou deur kom, sal jy hom minstens 'n bietjie kos gee. Jakobus het ons mos namens die Here geleer: "as daar nou 'n broer of suster gebrek aan daagliks voedsel het, en een van julle sou vir hom sê "Gaan heen in vrede, word warm, word versadig", maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie - wat baat dit?" (2:15v). Ons sal soek hoe om 'n arm mens met ons rykdom te te help.

Die Nagmaalsformulier praat van die Here wat "ons hongerige en dorstige harte voed en verkwik". Hy doen dit mét sy gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed". Brood en wyn: voeding en drink, dit wat basies nodig is. Die Here kry daagliks arme mense aan sy deur, aan sy hemelpoort. Hy sien deur ons klere heen hoe ons werklike toestand, die toestand van 'n mens wat deur sy sonde ver van God is: arm en hongerig, naak en koud.

Ja, dink u dalk, maar die Nagmaal praat van ons siele. Die arm toestand van ons medeburgers betref hulle liggame. Nee, dit gaan oor die lewe. Dit gaan in die Nagmaal van my Here Jesus oor my hele lewe wat gered, gereinig moet word. Christus help mense uit liefde: Hy doen dit allesomvattend, terwyl ons as mense dikwels net 'n bietjie in die uiterlike nood kan uithelp.

Met hierdie inleiding wil ek die gevoel in u wakker roep wat aan God se kant moet wees om ons te kan uithelp: in ons innerlike en uitwendige nood. Dit is dié gevoel van liefde en ontferming: die gevoel wat u in menslike relasies ken en wat God van sy kant in die persoon van ons Here Jesus in ons wêreld ingebring het.

Die Nagmaal praat van daardie liefde! Dit is waaroor dit op hierdie môre in die preek gaan. Dit kan lyk of die Here moeilike woorde gebruik: "sy liggaam eet en sy bloed drink". Dit is egter glad nie moeilike woorde nie, maar woorde wat jy in liefde baie mooi kan verstaan. Hulle is mos in liefde uitgespreek: deur Hom wat sy lewe gegee het om u lewe uit u ellendige omstandighede op te hef en menswaardig en Godsalig te maak. Ek bedien u die Woord van ons Here Jesus, die woorde uit die instelling van sy heilige Nagmaal: as Hy van die brood sê "dit is my liggaam" en van die wyn "dit is my bloed".

DIE GROOT LIEFDE VAN CHRISTUS SPREEK IN INHOUDRYK WOORDE

Hy voed ons

  1. met sy liggaam,
  2. tot sy liggaam,
  3. as sy liggaam.

1. CHRISTUS VOED ONS MET SY LIGGAAM

Ja, dit is 'n feit: die Here Jesus gebruik nie baie woorde om die Nagmaal in te stel nie. By die gee van die stukkies brood sê Hy: "Neem, eet, dit is mij liggaam". En by die ronddeel van 'n beker: "Drink almal daaruit, want dit is my bloed". Die Here het nie 'n lang formulier voor die Nagmaalsviering gelees nie. Hy het hierdie kort woorde gespreek. Vir wie in liefde luister, was dié woorde genoeg. Dit het so 'n diep betekenis dat ons 'n lang formulier benodig om dit almal te sê. Mense wat lief is vir mekaar, benodig ook nie baie woorde teenoor mekaar nie. Hulle benodig wel baie woorde om dit vir ander mense duidelik te maak: mense wat hulle liefde nie kan aanvoel, omdat hulle die ervaring mis nie. Sondaars benodig dikwels verduideliking van Christus se liefde, omdat ons dikwels die groot liefde nie aanvoel nie. Dit, terwyl ons óók die geliefdes van Christus is! Om die inhoudrykdom van kort woorde te verstaan moet ons tyd vat, bid, praat, luister: om dit te gaan verstaan, om dit te leer aanvoel.

My liggaam, my bloed: dit sê Jesus, terwyl die dissipels en ons net stukkies brood en wyn in 'n beker sien. Hulle het dit gesien, terwyl Jesus lewendig voor hulle staan. Ons sien brood en wyn, terwyl ons weet dat Christus liggaamlik in die hemel is. Tog spreek die een wat die Nagmaal bedien, die letterlike woorde van die Here uit: "Dit is my liggaam vir u". Dit is twee werklikhede: die brood en wyn lê op die tafel en die Here is in die hemel. Hoe bring ons die twee werklikhede by mekaar?

Dit was die groot vraag in die eeu van die Reformasie. Uit die een groot Reformasie van die 16de eeu het minstens drie kerkgroepe voortgekom wat nie eenheid kon vind in die vrae rondom die Nagmaal nie. Luther en sy leerlinge het gesê: die hemelse liggaam van Jesus is werklik onder die tekens van brood en wyn aanwesig. Zwingli en sy volgelinge het gesê: die Here is in die hemel, die Nagmaal is net 'n maaltyd tot sy gedagtenis. Calvyn het daar tussenin gesê: op geestlike wyse het ons werklik deel aan Christus se verheerlikte liggaam. U verstaan: almal het geprobeer om iets oor dié groot wonder te sê, naamlik dat ons op aarde die Nagmaal met gewone brood vier en met Christus, die hemelse brood gevoed moet word.

Hoe om die twee werklikhede by mekaar te bring: daarvir gebruik die Kategismus in antw. 78 die woorde "ooreenkomstig die aard en die gebruik van die sakramente word die brood die liggaam van Christus genoem. Dit word so genoem: dit is kort woorde vir die groot liefde! Daardie woorde wys vir jou die tekens wat die Here Jesus gekies het.

Ja, Hy het tekens uitgekies. Op die tafel van die Pasga was baie meer aanwesig om uit te kies. Daar was vier bekers met wyn, almal met 'n verskillende betekenis. Daar was die bittere kruide, die simbool van die verdrukking van God se volk, daar was die lam van die paasoffer en die ongesuurde brood. Die Lam het Jesus self geword: die brood en die laaste beker het Hy uitgekies om die tekens van sy Nagmaal te word. Elemente van 'n maaltyd: hulle word die tekens van Sy maaltyd. Die gewone water om te was het Hy al gekies vir die sakrament van die doop. Net so gewoon moes die tekens van die tweede sakrament wees: brood dat gebreek en verdeel kan word, 'n beker wat volgeskenk en leesgedrink kan word. Die gewone brood en die gewone wyn was altyd al die tekens van God se goedheid. Nou word dit die tekens van God se genade, boonop die daaglikse goedheid van God in die daaglikse brood. So naby bring die Here sy liefde: in die kerk kry ons 'n maaltyd opgedien!

Nou sê die Here van daardie tekens: "dit is mij liggaam en my bloed". So naby mekaar is die twee werklikhede gebring: die stukkie sigbare, tasbare, werklike brood én die werklike, ontasbare, onsigbare Here. Dit is: basies is dit een en dieselfde ding. U mag eet en drink, omdat Christus wat gesterf het en nou lewe, u lewe werklik en geestlik wil onderhou. Nee, brood en wyn hoef nie te verander (in 'n wondermiddel) om 'n geestelike werking te kry nie. Die Here is in sy liefde en Gees so naby dat Hy self u wil vervul. Vol word, vervul: dit is wat 'n maaltyd in ons uitwerk. Dit is wat Christus in u wil uitwerk: dat u vol word met Homself, met sy liefde. Hy is die wonder. Die brood: my liggaam, die wyn: is my bloed. Die Here sê: Ek is hier vir jou! Om self jou arme lewe te vul en sinvol te maak, om jou naakte lewe te klee en toonbaar te maak, om jou droë hart te laat vloei van lewende water.

2. CHRISTUS VOED ONS TOT SY LIGGAAM

Die Bybel gebruik darem die mooi woorde "die liggaam van die Here" nie net in hierdie een verband van die Nagmaal nie. Dit is nie net Christus se werklike menslike liggaam waaroor so gepraat word nie. Nee, die apostel Paulus gaan 'n stappie verder. Kom kyk met my nog een keer na die bekende woorde uit 1 Kor. 10:17: "omdat een brood is (wat aan die Nagmaalstafel in stukkies vir almal gebreek word), is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood". Sien u wat gebeur? Die een liggaam van Christus word, so lyk dit, in klein stukkies gebreek en rondgedeel. U almal eet dit en word so saam opnuut die een liggaam. U, al die verskillende mense rondom daardie tafel word die stukkies wat in die nuwe eenheid saamgevoeg word: die gemeente word nou die liggaam van Christus genoem!

Ja, die beeld ken ons: die kerk is die liggaam van Christus. Daar kom ons kerklik spraakgebruik weg: u is lidmate van die een kerk, soos 'n liggaam baie verskillende lidmate, of beter "lede" het. In hoofstuk 12 van dieselfde brief sal Paulus die beeld mooi uitwerk. "Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam - al is hulle baie - een liggaam is, so ook Christus" se liggaam, so ook die gemeente (12:12). Ons ken die beeldspraak, maar verstaan u ook die diepte? U moet mooi onthou dat dit by die Nagmaal begin. Daar waar u sy liggaam mag ontvang, mag u sy nuwe liggaam word. As ons êrens sal verstaan hoe kosbaar Christus se liggaam is, dan is dit rondom die tafel van ons Here. Daar sit almal: die arme en naakte, die hongerige en dorstige siele. Daar deel Christus in brood en wyn sy liefde rykelik uit en sê: nou is julle nie maar net 'n klompie arm mense nie, nou word julle My liggaam.

Dit is 'n groot voorreg om as gemeente die liggaam van die Here op aarde genoem te word! Lees die evangelie en u sal besef hoe lieflik, hoe waardevol Jesus se liggaam in sy jare op aarde was. Dit was sy persoonlike instrument om sy God en sy volk te dien. Onthou hierdie kort definisie maar: sy liggaam is Jesus se persoonlike instrument op aarde. Sy mond het al die wonderlike woorde van die evangelie gespreek, sy hande het mense vol liefde aangeraak. Dit was sy ore wat die smeking van siekes en besetenes, die hoogmoed van die Fariseërs en die leiers gehoor het. Dit was sy voete wat die land deurkruis het, totdat Hy in Jerusalem, die hart van die land en van sy volk, sy lewe en sy liggaam as 'n offer gebring het. Nou is die kerk Jesus se liggaam op aarde: om sy gestalte te verteenwoordig, om sy mond te wees en die blye boodskap te spreek. Nou is die kerk sy hande om barmhartigheid te betoon en te genees. Die gemeente is sy liggaam: die ore wat die nood van die wêreld optel en wat in God se naam reageer. Dit is die groot voorreg om op aarde, in hierdie land die liggaam van Christus te heet.

Ons kan dit in eie krag nooit wees nie. Die probleme van die land is te groot om op eie krag iets te kan uitwerk. Die krag van die kerk lê in die woorde "die gemeenskap met die liggaam en die bloed van Christus", soos u dit in vraag 79 lees. Dit is woorde wat - opnuut - Jesus self gekies het: gemeenskap met Hom persoonlik. As ons in sy gemeenskap bly, dan sal ons moed vind om dit te waag: om die kerk die liggaam van Christus wat nou op aarde is, te noem. In die Nagmaal ervaar ons elke keer opnuut sy nabyheid: hoe Hy sy liggaam en bloed, sy lewe gegee het om ons van sonde te red en sinvol te maak. Die groot liefde van Christus spreek in daardie kort, inhoudryk woorde: Hy voed ons met sy liggaam én ook tot sy liggaam. Die kerk mag op wonderlike wyse 'n nuwe liggaam, die nuwe persoonlike instrument van Christus op aarde wees. In die gemeenskap met Hom sal Hy, die Here dit wees wat sy kerk hanteer, wat oor sy liggaam beskik: as sy oë vol liefde, sy mond vol waarheid, sy hande vol barmhartigheid.

3. CHRISTUS VOED ONS AS SY LIGGAAM

Jou liggaam benodig daagliks voeding. Christus se liggaam op aarde benodig daagliks voedsel uit die hemel. Jy versorg jou eie liggaam, Christus versorg sy liggaam op aarde. Dit is die eenvoudige werklikheid van die Heilige Gees. Ons praat egter nooit sommer so oor die Gees. Hy is altyd die Gees wat met die Here Jesus verbind is. Dit is die wonder van die eenheid van Christus en die Gees. Daar is gemeenskap, kontak en uitwisseling tussen die Here Jesus en die Heilige Gees. Dit is so sterk dat die Bybel daarvir die woord "eenheid" gebruik. As Christus die Heilige Gees daagliks uitstuur aarde toe, kom Hy self saam. Daarom sê ons ook in die Nagmaalsformulier dit so: die Gees woon terselfdertyd in Christus én in ons. Die Gees verbind in sy persoon ons en Christus, omdat Hy in altwee woon.

Nou verstaan u hoekom ons daagliks die voeding deur die Gees van Christus benodig. Hy moet ons naby God se genade hou: om kind van God, lid van Christus te mag wees. Hy moet ons heilig: om ook kerk te kan bly. Hy moet ons gevoelig maak: om te kan luister. Hy moet ons vrymoedig maak: om te kan spreek. Hy moet ons barmhartig maak: om goed te kan doen. Dit leer en kry ons almal aan die mooi Nagmaal. Daar kom ons mos elke keer opnuut by Christus persoonlik uit. Daar sien ons sy offer en leer ons hoe om dankbaar te offer. Daar ontvang 'n hele gemeente die genade om kerk te mag wees, om Christus se liggaam genoem te word.

Broers en susters, onthou altyd: ons lewe in 'n wonderlike tyd. Nee, die situasie van hierdie eeu van sekularisasie en van hierdie land vol onsekerheid is nie mooi nie. Wat wel wonderbaarlik mooi is, is die feit dat dit die tyd van die nuwe verbond is. Dit is die tyd waarin Christus besig is God se genade, die rykdom van sy offer en die gawes van die Gees op aarde te gebruik. Daarvan praat die ander woordpaar in vraag 79: die Here Jesus noem die beker "die nuwe testament in sy bloed". Die nuwe testament is die nuwe verbond. By die instelling van die Nagmaal sê die Here, as Hy die beker ronddeel: "Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament wat vir baies uitgestort word tot vergifnis van sondes" (Mt. 26:28). Die tyd van die nuwe verbond: onthou asseblief elke dag dat God ook in ons tyd genadig is! Vir my, vir baie. Daar begin alles: ook alle gedagtes hoe om kerk in Afrika te wees. God wil in Christus jou nog genadig wees. Onthou altyd die kort, inhoudryk woorde waarin die groot liefde spreek.

Christus voed ons met sy liggaam, tot sy liggaam en ook as sy liggaam. Christus voed ons almal terselfdertyd. Gemeente kan ons mos net saam wees. Hoe vier ons die Nagmaal? Is dit elkeen persoonlik, sodat ek in die vergewing van my sondes die liefde van my Here kan geniet? Of soek ons ook om die gemeenskap met mekaar te geniet? Kom dink met my saam terug aan die gedeelte uit Exodus 24 wat ons eerste gelees het. Dit is 'n pragtige geskiedenis: hoe Moses met sewentig manne naby die HERE mog kom het. Aan die voet van die berg het van tevore die volk eers sy dankoffers gebring. Die een helfte van die offerbloed is teen die altaar gegooi: die middel van versoening moes geheilig word. En die ander helfte is oor die volk uitgegooi. Die spetters van die bloed het die volk bereik! Onthou u nog uit die eerste preek oor die doop: hoe die NT praat van besprenkeling met die bloed van Christus?! Dit is asof die bloedspetters nog sigbaar op jou is. Vir Israel was dit sigbaar: een helfte van die bloed van die offer is oor hulle saam uitgegooi. Nadat hulle opnuut saam met God verbind is, word hulle saam met mekaar verbind. In die een hoeveelheid bloed word hulle almal en saam geheilig.

Ook sonder die geskiedenis van Exodus kon u dit geweet het. Dié hoofstuk is maar net 'n illustrasie, 'n afbeelding tevore, van die werklikheid van Jesus. Sy bloed het aan die kruis neergedrup: vir almal wat in Hom glo. Asof ons almal onder sy kruis gestaan en die bloeddroppels op ons voel val het. So het die water van die doop op u almal neergedrup: die eerste teken van sy groot liefde. Hoe groot is u liefde: vir Hom, vir mekaar? Broers en susters, ons benodig baie liefde en vertroue om saam kerk te wees. Gelukkig is daar eerste God die Vader en die Seun en die Heilige Gees wat wys wat liefde is. Honger en dors, armoede en naaktheid word deur Hom gesien en gesoek: eerste in die harte, vervolgens in die lewe. Die liggaam van Christus mag mos nooit arm en naak wees nie.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)