Christus ontvang ons in Sy gemeenskap aan die nagmaalstafel

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 29
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 29 H. K.

Nie sonder dringende rede nie.

Lees: Johannes 6: 41 - 59
Teks: Sondag 29 H. K.
Sing: Ps 63: 1, 2, 3
na wet Ps 119: 12
na belydenis Ps 46: 4
Ps 138: 1 en 4
Sb 8: 4 en 5
Ps 7: 6 en 8

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Ons ken almal die gelykenis van die bruilof uit Matt. 22: 'n Koning wat vir sy seun 'n bruilofsfees voorberei het. Hy het sy slawe uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie kom nie. Nogeens stuur hy ander slawe, maar die genooides het hulle nie daaraan gesteur nie. Die een het na sy grond en die ander na sy werkplek toe gegaan. Party het sy slawe gegryp en mishandel en dood gemaak.

Dit verbaas ons nie dat die koning kwaad geword het en sy leer gestuur om daardie moordenaars dood te maak en hulle stad aan die brand te steek nie. Maar die bruilof moes aangaan, daarom het hy sy slawe na die straathoeke gestuur om soveel mense as wat hul teenkom, na die bruilofsfees te nooi. Die slawe het slegtes sowel as goeies bymekaar gemaak. so het die feessaal vol gaste geword.

Wie van ons sal by hierdie gelykenis nie aan die nagmaal dink nie? Sou Christus daar self ook nie aan gedink het toe Hy hierdie gelykenis vertel het nie? Waar kan Hy sy liefde beter uitstort as aan die nagmaalstafel? Vreemde gaste het na die bruilof van die seun van die koning gekom; goeies en slegtes. Onwaardiges in hulleself. Maar hulle is genooi en hulle het gekom! Saam met die koning het hulle feesgevier. So mag ons telkens weer aan die feesmaal van Christus ons koninklike gasheer aansit.

Die nagmaal is 'n fees. Die erediens verloop heeltemal anders as wat ons op gewone sondae gewoon is. As dit met ons goed is, het ons onsself op hierdie fees voorberei. Ja, selfs 'n feeskleed aangetrek. Want Christus self kom na ons toe, as die dienaar van die Woord die kansel verlaat en ons namens Christus aan sy tafel ontvang.

Het ons raakgesien dat die kategismus nie minder as drie sondae oor die nagmaal spreek nie? Iemand het die sondae 28 tot 30 die vertroostende herhaling van dieselfde genoem. So kan dit dan ook inderdaad genoem word. In hierdie middelste sondag van die drie dring ons belydenis diep in die geheim van die nagmaal deur.

Dit word gedoen teen die agtergrond van die ingrypende verskille oor die nagmaal wat in die reformasietyd openbaar geword het. Tog is die kategismus daardeur nie agter die tyd nie. In lange plegtige sinne laat hierdie sondag ons sien, hoe groot die heilsgeheim in die nagmaal is. In brood en wyn skenk Christus Homself aan ons weg. Hier aan hierdie tafel! Op 'n heel besondere manier word ons deur Hom in sy gemeenskap ontvang. Heerlik om daar saam met oud en jong oor na te dink. So word ons daardeur in ons geloof en die band van liefde onder mekaar, versterk. Ons spreek met mekaar oor:

CHRISTUS ONTVANG ONS IN SY GEMEENSKAP AAN DIE NAGMAALSTAFEL.

Hy doen dit

  1. Deur die tekentaal van die sakrament;
  2. Tot versterking van ons geloof;
  3. Tot bevestiging van die liefdeband aan mekaar.

I Met vraag en antwoord 78 word ons direk midde-in die hart van die verskil met rome geplaas. Word die brood en wyn dan wesenlik liggaam en bloed van Christus? Die katkisant het die vorige sondag goed geluister toe daar oor die instelling van die nagmaal gespreek is. Krasse taal is daar gespreek. Die Heiland het by die breek van die brood gese: Dit is my liggaam vir julle. Die apostel Paulus het sommer oor die gemeenskap met die liggaam van Christus gespreek.

Ja die katkisant het so goed geluister dat hy vra of dit nie dieselfde is as wat rome oor die nagmaal leer nie? Hulle se mos dat die ouwel, die nagmaalsbrood, die egte liggaam van Christus word. Vandaar dat sy vraag reguit op die hart van die saak aanstuur. Word die brood en wyn dan wesenlik liggaam en bloed van Christus?

Het dit nou wel sin om die ou strydvrae met rome vandag weer te bespreek? Daar is mos baie by rome verander? Die mis word nie meer in latyn, maar in die volkstaal bedien. Die tweede Vatikaans-konsilie het baie in die roomse kerk verander. Ons moet ons tog niks wys laat maak nie, want in die grondstruktuur het daar niks verander nie.

In 1965 het die Pous met krag die transsubstansiasie leer gehandhaaf. Daar is geen sprake van dat rome vandag nie meer leer dat die brood in die mis werklik in die liggaam van Christus en die wyn in sy bloed verander nie. Daarom sal ons ook nie aan ekumeniese nagmaalsvieringe deelneem nie. Dis 'n saak van duidelikheid en eerlikheid! Hoe het dit nou gekom dat die kerk van die middeleeue begin glo het dat as die priester die instellingswoorde van die nagmaal uitspreek die brood in die liggaam van Christus verander en die wyn in sy bloed?

Rome beroep hom ten onregte op die instellingswoorde van Christus. Dink nog eens aan die instelling van die nagmaal: Daar op die tafel le die broodkoeke wat Israel by die Pasga viering geeet het. Die bekers gevul met feeswyn wat daarby gedrink word staan daar langs. Ons Heiland het 'n stuk brood geneem en voor die oe van die dissipels gebreek, en letterlik gese: "Dit is my liggaam"

Natuurlik was dit simbolies bedoel, soos ook die ou testamentiese pasga simbolies was. Die geslagte lam het mos van die offer van Christus lewe gespreek wat Hy die volgende dag eers sou bring. Het die ongesuurde brood nie van die wegdoen van die sonde gespreek nie? Met die gebreekte brood het die Heiland nie letterlik sy vlees bedoel nie, Hyself, nog ongebreek, het die brood dan uitgedeel.

Hoe het die kerk daartoe gekom om die instellingswoorde so letterlik op te vat? Gemeente daar is twee oorsake. In die eerste plek die gewoonte om voorafgaande aan die nagmaal die liefde maaltyd te vier. Die welgestelde gemeentelede het die kos gebring en dit op tafel gele. Daaruit het die gedagte gegroei dat die nagmaal 'n offermaal was. In die tweede plek het hulle in daardie bygelowige en afgodiese tyd, behoefte gevoel om Christus naby te he. Christus in die hemel was so ver uit, aanbidding in brood en wyn het Hom nader gebring.

Op die altaar in die kerk het die ouwel sigbaar gele daar kan die gebed op gerig wees. Stadigaan het so in die kerk die die oortuiging gegroei dat by die uitspreek van die instellingswoorde deur die priester, die brood en wyn in die liggaam en bloed van Christus verander het.

In 1215 in die vierde Lateraans-konsilie, is die idee van die transsubstansiasie definitief as die leer van die kerk vasgele. In 1414 het die konsilie van Konstanz die beker van die gemeente weggeneem. Die priester het vir almal gedrink, want se nou dat van die bloed gemors sou word. Bowendien as die ouwel die liggaam van Christus word, is daarin die bloed ook opgesluit. Die reformasie het dit radikaal uit die kerk verwyder. Luther het weer raakgesien en geleer dat die sondaar alleen deur geloof in die offer van Christus aan die kruis geregverdig word. Dan is dit ook nie meer nodig, om Christus uit die hemel na die altaar in die kerk af te bring nie. Hy is ons voorspraak en onderpand bo by God, daar tree Hy vir ons by die Vader in.

Onvoorstelbaar tragies is dat juis daar, in die nagmaal, waar die eenheid met mekaar in Christus, bely word, die skeuring tussen die reformatore gekom het. Daarin het Luther en Zwingli en later ook Calvyn, nie tot eenheid kan kom nie. Dit moet ons nou verder verduidelik, om sondag 29 verstaanbaar te maak.

In die afwysing van die roomse leer was Zwingli die mees radikale. Hy het gese: Dis onmoontlik dat in die nagmaal Christus self aanwesig is. Dis net 'n gedagtenis maaltyd waarin die lyding en sterwe van Christus op Golgota herdink word. Tegelyk betuig ons dan dat ons, wat die offer van Christus bely, daarin 'n band aan elkaar het. Meer kan die nagmaal nie wees nie. Luther het nie sover gegaan nie, saam met Zwingli het hy van harte die transsubstansiasie-leer verwerp. Ook hy se dat brood en wyn nie in die liggaam en bloed van Christus verander nie. Maar dat die nagmaal bloot 'n gedagtenismaal sou wees verwerp hy net so hartgrondig.

Vir hom het die meeste gepla dat die huigelaars en goddeloses, wat die nagmaal saamvier dan nie meer 'n oordeel oor hulleself eet en drink nie. Daarom het Luther daartoe gekom om te leer dat Christus by die viering van die nagmaal in die brood en wyn werklik inkom. Hy is in, met en onder die teken van brood en wyn in die nagmaal teenwoordig. Luther het dan ook uit alle mag, aan die gedagte van die alomteenwoordigheid van die menslike natuur van Christus, vasgehou. Sy menslike natuur is nie alleen in die hemel nie, maar ook werklik onder ons aanwesig en kom in die tekens van brood en wyn in.

Gemeente in 1529 het Luther en Zwingli persoonlik in Marburg dae lank oor hierdie geskil gekonfereer. Luther was so seker van sy gelyk dat hy by die begin van die gesprek op die konferensietafel geskryf het: "Dit is my liggaam. " Daar het Luther nie van afgewyk nie.

In daardie kritieke situasie van die reformasie het God Calvyn gegee. Saam met Luther het hy die gedagte dat die nagmaal 'n blote gedagtenismaal is, verwerp. Die nagmaal is meer, maar dit het Calvyn nie in die inkom van die menslike natuur van Christus in brood en wyn, gesoek nie. Brood en wyn spreek ons van die ongelooflik sterke band wat daar tussen Christus in die hemel en ons hier op aarde is. Die sterke band, die geloofsband, word deur die Heilige Gees tussen Christus en ons gele. Die band is so sterk dat Christus self by die breking van die brood se: "Dit is my liggaam vir julle. " En by die uitgiet van die wyn: Dit is die nuwe verbond in my bloed. So is my liggaam aan die kruis vir julle verbreek en my bloed vergiet. So het julle deur die geloof en deur die werking van die Heilige Gees daaraan deel.

So spreek ook die nagmaalsformulier: "Om met die ware hemelse brood, Christus, gevoed te word, moet ons nie net ons oe rig op die sigbare tekens van brood en wyn nie, maar ons harte ophef na die hemel, waar Christus ons Voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader is. " Luister nou ook na wat in die formulier daar nog op volg: "Laat ons vas glo dat ons lewe net so werklik deur die werking van die Heilige Gees met sy liggaam en bloed gevoed en verkwik word as wat ons die brood en drank tot sy gedagtenis ontvang".

Nogmaals die band wat die Heilige Gees tussen Christus en ons in die nagmaal le, is so sterk dat ons die brood wat ons eet die liggaam van Christus kan noem. Nie omdat dit in die liggaam van Christus verander nie, maar omdat, soos die slot van antwoord 78 se: Die heilige Gees so oor die sakramente spreek. Ja, dis Christus self wat ons aan sy tafel ontvang. Deur sy dienaars is dit Hy self wat vir ons die brood en die beker gee. Die dienaars ontvang ons namens Christus aan hierdie feesmaal.

Daarom verwerp ons ook die manier van nagmaal vier dat gemeente lede onderling mekaar die brood en wyn bedien, soos die Darbiste en kritiese basisgemeentes dit doen. In sy dienaars is Christus aanwesig, wat vir ons oe die brood breek die wyn uitgiet en aan ons bedien. Ook aan die tafel van hierdie koninklike Gasheer gaan dit ordelik toe. Is dit so geen feesmaaltyd nie? Agter die dienaars sien ons Hom wat ons by die tekens van Brood en wyn ontvang. Christus is daar om na sy gaste om te sien, soos die koning uit die gelykenis in Matt. 22 ingekom het om na sy gaste te kyk. Toe is daar een wat geen bruilofsklere aan het nie!

Die koning vra hom: vriend hoe het jy hier ingekom sonder bruilofsklere aan? Maar die man kon niks antwoord nie. Toe se die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daarmee het die gelykenis in die realiteit van die ewig oordeel gekom, vir hulle wat hierdie Gasheer nie in sy waardigheid erken nie.

Nagmaal vier is kom, omdat Christus ons na sy fees nooi. Dan moet ons verstaan waartoe die Gasheer die fees aanrig, die teken van hierdie heerlik sakrament verstaan en gebruik. Deur brood en wyn word ons in geloof deur die Heilige Gees met Christus verbind. Elkeen wat so in geloof die brood en die beker uit die hand van die dienaar ontvang, hy dra bruilofsklere, maar wie sonder geloof inkom het geen bruilofsklere nie. Ons weet nou wat met so een gaan gebeur!

II So het ons nou saam oorweeg dat Christus ons deur die teken van die nagmaal in sy gemeenskap wil ontvang. Hy doen dit veral om ons daardeur in die geloof te versterk. Hy doen daarby 'n beroep op ons geloof. Daaroor wil antwoord 79 met ons spreek. Het ons raak gesien hoe sorgvuldig hierdie, nie gemaklik te verstane, sondag, in die vraag en antwoordspel tussen kategeet en katkisant, opgebou is?

In antwoord 78 het die leermeester duidelik gemaak dat brood en wyn nie in die wesenlike liggaam en bloed van Christus verander nie. Maar die leerling is nog nie volledig bevredig nie. Daar is nog 'n moeilikheid wat hy sonder aarseling vorentoe bring. Dis tog maar sterke woorde wat Christus gebruik, die brood word sy liggaam en die wyn sy bloed genoem. Kan dit eintlik wel gedoen word, as dit nie die werklikheid is nie?

Ja, sekerlik mag dit; se ons kategismus, maar let nou mooi op want Christus se dit nie sonder gewigtige redes nie. As ons dan antwoord 79 lees, sien ons direk dat Christus twee dinge vir ons se. Hy wil ons iets leer en Hy wil ons iets verseker. Wat eenvoudig word dit hier vir die leerling duidelik gemaak. Jy weet mos dat brood en wyn ons tydelike lewe onderhou? Dis mos duidelik? Nou so wil Ek, jou Heiland, deur my gekruisigde liggaam en my bloed wat vergiet is, jou siel tot die ewige lewe voed. Dis daarom dat Ek so sterk spreek en die brood sommer my liggaam en die wyn my bloed noem.

Gemeente is dit nie heel besonder nie? Ons almal le midde in die dood deurdat ons in Adam reeds teen God gerebelleer het. Dit beteken mos dat ons die ewige dood verdien het. Soos die man sonder bruilofskleed uitgegooi is. Nou kom ons Heiland met die teken van brood en wyn en Hy se vir ons: Sien jy daardie brood en proe jy die wyn? So is Ek vir jou die brood van die lewe. O ja, ons Heiland het in Joh. 6: 49 - 51 gese: "Julle voorouers het in die woestyn manna geeet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wereld kan lewe. "

Gemeente dit gaan hier oor die kwaliteit van die lewe wat Christus skenk: Dis ewig lewe wat nimmer vergaan nie. Dit bring ons dwars deur die dood in die heerlikheid van God. Ons Heiland het hierdie woorde aan die begin van sy werk op aarde gespreek, maar sekerlik die nagmaal daar al op die oog gehad.

Wie die brood van die nagmaal ontvang en eet, het Christus met al die skatte van sy verlossingswerk ontvang. Wie die beker opneem en daaruit drink, die drink die bloed van Christus tot vergewing van sy sondes. Hierdie tekens van brood en wyn bring ons op Golgota aan die voet van die kruis. Sien ons die bloed van die kruis afdruip? Daardie bloed het die Seun van God vir ons skuld en ongeregtigheid vergiet. Daar het Christus die dood oorwin en die duiwel verslaan. Daar het Hy ons op die pad na die ewige lewe geplaas. Dis nie om dowwe neute nie dat ons Heiland gese het: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanner Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van My Vader sal drink.

Nog het antwoord 79 nie klaar gepraat nie. Dis nie alleen dat Christus ons iets in die nagmaal wil leer nie, maar Hy kom ons ook iets verseker. Lees daarom veral nie oor die woorde: 'en nog meer' heen nie. Wat Christus ons in die nagmaal wil verseker gaan bo dit wat Hy ons daarin leer uit! Daarin word nou teenoor Zwingli stelling ingeneem. Zwingli het die volle nadruk op wat ons in die nagmaal doen gele. Ons herinner onsself aan die lyding en sterwe van Christus. Ons betuig in die viering van die nagmaal dat ons aan Christus en aan mekaar behoort.

Maar in antwoord 79 staan Christus sentraal. Dis Christus wat ons in die nagmaal wil leer, maar nog meer wat ons verseker: dat ons deur die werking van die Heilige Gees deel aan sy egte liggaam en bloed gekry het. Sekerlik, ons vier nagmaal tot gedagtenis aan die lyding en sterwe van Christus, maar daar bly dit nie by nie. So seker as ons die tekens van brood en wyn ontvang, kry ons aan sy liggaam en bloed deel.

So is hier, in ons belydenis, die element van gedagtenis vier, in hierdie kragtige versekering deur Christus, ingebou. Hoe ons aan die liggaam en bloed van Christus deel kry word ons hier nie vertel nie, maar wel dat dit deur die werking van die Heilige Gees gebeur. Het ons dan nog meer verklaring nodig? Wel gaan antwoord 79 nog 'n stap verder. In die laaste sin word direk en onmiddelik verband, tussen die evangelie van die regverdiging deur die geloof en die heilige nagmaal, gele.

Want daar word gese: dat al die lyding en gehoorsaamheid van Christus so sekerlik ons eie is asof ons self in ons eie persoon alles gely en aan God vir ons sondes voldoening gegee het. Herken ons die bewoording van sondag 23 daarin? Daar het ons bely: dat God die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus ons skenk en toereken, asof ons nooit sonde gehad of gedoen het nie, ja, asof ek self alle gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het. Daardie sentrale evangelie van die regverdiging deur die geloof word ons hier, in die nagmaal, opnuut verkondig. In brood wat gebreek en wyn wat vergiet word, word dit voor ons sigbaar en tasbaar gemaak.

Het ons dit nie bitter nodig nie? Is dit nie 'n besonder voorreg dat Christus ons daar elke twee of drie maande opnuut van verseker nie? Ek dink dan aan ons jeug wat in hierdie tyd aan so baie versoekings bloot gestel is. Daar is van hulle wat hulle baie eensaam voel, en daardie onlus met dwelms, drank of seks wil verdrywe. Christus ken hulle en weet van hulle moeites en vertwyfeling, soos Hy die ook van ons oueres ken. In die nagmaal kom Christus tot jongere en ouere mense en se: Ek laat jou nou sien dat Ek vir jou skuld gely en genoegdoening gekry het.

Christus verseker ons dat sy lyding en gehoorsaamheid so seker ons deel is as ons hierdie tekens met ons mond eet en drink. Die formule wat die kerk by die viering van die nagmaal gebruik, is ruim en koninklik! Neem eet, gedenk en glo dat die liggaam van Christus gegee is tot 'n volkome versoening van al ons sondes. Regtig, volkome versoening! En by die beker van danksegging: gedenk en glo dat die kosbare bloed van ons Here Jesus Christus vergiet is tot 'n volkome versoening van al ons sondes.

Ja die bloed is kosbaar dit gee volkome versoening van alle sondes! Drink almal daaruit word by die beker gese. Durf ons nie vanwee ons tekortkomings, vanwee ons skulde nie? Gryp ons dit steeds weer aan? Dan die harte omhoog gemeente, ophef na die hemel waar Christus ons Voorspraak aan die regterhand van sy Vader in die hemel is. Ja daar is HY, en tog, deur die werking van die Heilige Gees kom Hy, aan die nagmaalstafel tot ons! Om Homself daar in brood en wyn aan ons weg te skenk. Ons het tog die bruilofskleed van die ware geloof aangeneem? Ons is tog nie 'n gas sonder bruilofskleed aan nie?

III So het ons tot die laaste gekom, waaroor ons wil spreek. Christus ontvang ons ook as gaste aan sy tafel, in sterke liefdes verbinding. Het ons dit opgeval hoe in hierdie sondae oor die nagmaal in die meervoud gespreek word? Christus wil ONS leer en ONS daarvan verseker, dat ONS aan sy lyding en gehoorsaamheid deel het. Dis nie ek en jy wat nagmaal op ons eentjie vier nie. Die nagmaal vier ons in gemeenskap met ons broeders en susters, in gemeenskap met alle heiliges. Juis in die nagmaal kom dit so sterk uit. Wat Paulus van die doop se, geld ook vir die nagmaal: Een Here, een geloof, een doop een God en Vader van almal.

Ja, God, wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. (Ef. 4: 5, 6) Hy se vir ons dat almal wat die een God en Here en die een doop bely ook aan een nagmaalstafel behoort. Wat is dit diep te betreur dat direk na die reformasie Zwingli Luther en Calvyn mekaar nie in eenheid kon vind nie. Dan wil ons nog glad nie praat oor die baie breuke wat daar in die loop van die geskiedenis van ons land, tussen hulle wat dieselfde God wil dien, geslaan is nie.

Laat ons baie bid dat die grote Herder van die skape sy kudde onder een kansel en aan een nagmaalstafel byeen bring. Daarby sal ons steeds daarom moet bid dat ons geen verhindering vir daardie byeen-vergadering sal wees nie. Laat ons onsself vir die byeen-vergadering, in die waarheid, steeds weer opnuut inset.

Christus ontvang ons ook in sy gemeenskap om daardeur die liefdeband te versterk. Soos Paulus skrywe: Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood. Dan vul ons nagmaalsformulier daarby aan: Daarom moet ons almal wat deur ware geloof in Christus ingelyf is saam een liggaam wees. Dit sal ons nie alleen met woorde nie, maar ook met die daad moet bewys.

Nog eenmaal wil ons na die gelykenis, van die bruilof van die seun van die koning, kyk. Saam vier ons die fees van die koning, ons is sy gaste, nou moet ons die feesvreugde oor ons hele lewe laat afstraal. 'n Gemeente wat die nagmaal van sy Heiland feestelik in geloof vier, is 'n geseende gemeente! Alle moeite, twis en onenigheid sal in die gloed van die vreugde wegsmelt.

Ook in hierdie klipharde wereld sal daardie gemeente 'n vuurhaard van liefde wees. Die gemeente sal ook met sterk verlange na die koms van Hom uitsien wat nou nog bo by God ons Voorspraak is. Dan sal ons saam met Hom en alle heiliges in die koninkryk van die Vader die nuwe feeswyn in heerlikheid drink.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)