Christus stig aan die nagmaaltafel die gemeenskap van die Nuwe Verbond

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 29
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 29 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 23: 2, 3
Gebed
L. Hand. 2: 41-47 & 1 Kor. 10: 15-17 & 1 Kor. 11: 20-34
Ps. 133: 1, 2
Prediking
Ps. 45: 9, 10 na die eerste punt van die preek
Gesonge Geloofsbelydenis as Amenlied
Gebed
Kollekte
Ps. 22: 9, 11

Broeders en susters,

Een van die belangrikste momente van die Nagmaalviering is, wanneer die bedienaar die brood van die skaal kry, dit breek en sê: "Die brood wat ons breek is die gemeenskap met die liggaam van Christus". En daarna, as die beker met wyn gehef word en die woorde klink: "Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is die gemeenskap met die bloed van Christus. "

As dit gesê word, klink daar 'n sterke woord deur die kerk: gemeenskap.

Die woord gemeenskap beteken mos soiets soos: alle afstand word oorbrug, daar ontstaan 'n baie intieme band wat saambind.

Die woord gemeenskap dui op eenwording, en die belewing van die een-wees. Dit is dieselfde woord as wat ons gebruik vir die allesomvattende eenwording en eenheidsbelewing van 'n man en sy vrou in die huwelik. Hulle het gemeenskap met mekaar.

Maar dié woord klink dus ook as brood en wyn rondgedeel word by die Nagmaalviering. By brood en wyn beleef die kerk die gemeenskap met sy Heer en Heiland. En so terselfdertyd die gemeenskap as kerklede met mekaar.

Noudat ek aan die hand van die Kategismus die betekenis van die Nagmaal weereens met u moet nagaan, wil ek ons vertrekpunt dié keer in daardie veelseggende woord gemeenskap neem.

En dan wys ek eerstens vir u hoe ons aan die Nagmaaltafel gemeenskap met Christus het, en vervolgens hoe ons daar ook gemeenskap met mekaar het.

Kom ek vat my boodskap so saam:

CHRISTUS STIG AAN DIE NAGMAALTAFEL DIE GEMEENSKAP VAN DIE NUWE VERBOND

HY STIG DAAR DIE GEMEENSKAP

  1. MET HOMSELF
  2. TUSSEN ONS ONDERLING

1. Die Here Christus het sy Nagmaal vir ons ingestel, gemeente, met die bedoeling dat ons Hom sou bly gedenk. Hy het beveel om hierdie maaltyd op 'n gereelde grondslag te hou tot sy gedagtenis.

Dit is óók 'n woord wat altyd klink by ons Nagmaalvierings: "gedagtenis". "Doen dit tot my gedagtenis".

Dit lyk asof daardie woord ons in die atmosfeer van 'n dodeherdenking bring. Te meer omdat die hele simboliek aan die Nagmaaltafel van die dood van ons Heiland spreek: ons gedenk by gebreekte brood dat die liggaam van ons Here Jesus Christus in die dood oorgegee is tot 'n volkome versoening van al ons sondes. En by bloedrooie wyn gedenk en glo ons dat die kosbare bloed van ons Here vergiet is tot 'n volkome versoening vanal ons sondes.

Wyn en brood herinner ons aan sy dood.

Ons verkondig dan ook die dood van ons Here aan die Nagmaaltafel.

Ons haal as 't ware met daardie brood en wyn 'n foto tevoorskyn van die Here Jesus soos Hy vir ons aan die kruis gehang en bloei het.

Ons haal onsself die dag van Golgota weer voor die gees, toe Christus vir ons die dood ingegaan het. En ons gedenk sy baie bitter lyding en sterwe.

Ons gedenk daardie dood as Christus se bruid. Brood en wyn vorm saam die troufoto van die Nieu-Testamentiese Kerk. Hulle wys vir ons die Heiland op die oomblik waarop Hy sy Kerk tot die einde toe wou liefhê. Want die dag van Golgota het die troudag van die kerk geword. Dit het die dag geword waarop die nuwe trouverbond vir ewig bevestig is. Maar ons Bruidegom moes sy liefde vir ons wel met die dood bekoop.

Nietemin hou ons by die Nagmaal nie 'n trieste dodeherdenking nie, broeders en susters. Inteendeel, ons vier die bitter dood van ons Bruidegom as 'n feestelik feit. Ons verkondig daardie dood as 'n blye gebeurtenis- aan mekaar, aan aan die wêreld en teenoor ons God.

Want so dikwels as wat ons hierdie troufoto op die tafel sit in die kerk, hoef ons dit nie te doen as 'n weduwee van wie die man al op die troudag sy lewe verloor het nie.

Nee, die kerk is steeds die blye bruid! Die bruid wat sáám met haar Bruidegom die troudag bly vier en gedenk.

So dikwels as wat die troufoto in die vorm van brood en wyn vorendag gehaal word, gebeur dit nie in gepaste weemoed, ter nagedagtenis aan Iemand van Wie ons baie gehou het maar wat ons veels te vroeg ontval het nie. Want ons Bruidegom is nie meer dood nie. Hy leef en ons mag saam met Hom leef.

Ons is as kerk aan die Nagmaaltafel selfs nie 'n onbestorwe weduwee wie se man op die oomblik onbereikbaar ver weg is nie: êrens in die hemel, en wie sal kan sê waar dit is?

Christus is vanaf sy hemelvaart nie die groot Afwesige aan die nagmaaltafel, sodat ons onsself by gebrek aan beter met net 'n foto, met 'n herinnering tevrede moet stel nie.

Ja, liggaamlik het Hy by sy hemelvaart uit die oog verdwyn. Daar hét 'n bepaalde afstand tussen ons en ons Bruidegom ontstaan. Dis juis vanwee hierdie afstand dat Christus die Nagmaal ingestel het, sodat dit nie sal word: uit die oog- uit die hart nie.

Nogtans hoef ons as sy bruid hier op aarde nie te leef met 'n leë plek nie. Ons Here het by sy vertrek na die hemel nie sommer gesê: "Kyk, Ek is met julle, al die dae... " nie. Hy ís steeds met ons, by ons. Ons kan en mag ook vandag die gemeenskap met Hom beoefen.

Nee, nie op dié manier, soos in die Roomse en die Lutherse kerke geleer word, dat Christus elke keer liggaamlik in daardie bietjie brood en die beker wyn weer vanuit die hemel na ons toe kom.

Wat sy liggaamlike gedaante betref bly ons Bruidegom in die hemel totdat Hy vir eens en vir altyd na ons terugkeer om die gemeenskap kompleet te maak.

Maar in die Gees het Hy by ons gebly.

As ons daardie uitdrukking met betrekking tot ons, mense, gebruik, bedoel ons maar net dat iemand in gedagte by jou bly: 'n familielid wat oorsee is en daarom sêmaar 'n begrafnis nie kan bywoon nie, sal per brief of oor die telefoon laat weet: "In die gees is ek vandag by julle".

Daarmee bly egter die afstand wel skrynend voelbaat.

Maar by Christus beteken dit baie meer dat Hy "in die Gees" by ons is. In die Persoon van die Heilige Gees het Hy na ons teruggekom toe Hy liggaamlik na die hemel toe vertrek het. Moet maar daarna kyk hoedat in die Kategismus in die Sondae 28 en 29 telkens nadruklik gewys word op die aanwesigheid van die Heilige Gees in die Nagmaal. Ook ons Nagmaalformulier doen dit.

Ons Bruidegom wat liggaamlik in die hemel is vandag, is tegelyk in die Gees by ons, sy bruid hier op aarde: deur sy Heilige Gees.

En dis hoekom ons mag sê dat Christus Sélf by ons is aan die tafel -sy tafel- om met ons ons troudag te vier en die liefde te beleef.

Ons gedenk aan die Nagmaaltafel die 'n dooie nie, maar ons vier fees met die Lewende.

Wanneer die apostel Paulus in sy brief aan die Korinthiërs oor die Nagmaal skryf, praat hy telkens oor: "die Here". In daardie benaming "Here" lê opgesluit: Hy is die Lewende, Hy het opgestaan en toe alle mag ontvang in die hemel en op die aarde, Hy troon aan die regterhand van God in die hemel. Hy is dit ook wat vanaf die Pinksterdag deur sy Heilige Gees by sy gemeente woon en saam met haar na die dag toe leef waarop Hy en sy ook weer liggaamlik verenig sal word.

Ons hoef aan die Nagmaaltafel nie, by gebrek aan beter, net mekaar verleë in die oë kyk, of weemoedig op die tekens van brood en wyn bly kyk nie. Ons mag op Christus sien. Ons mag Hom by brood en beker as 't ware in die oë kyk en dit dan sê: só is ons getroud!

In brood en wyn, die beeld van sy liefde vir ons, is die Bruidegom self aanwesig. Hy het hierdie viering ingestel. Sy hande reik elke keer die brood en die beker uit en sy mond sê dan vir ons: "Hierdie brood is my liggaam vir julle. Neem, eet, gedenk en glo dat my liggaam vir julle oorgegee is tot 'n volkome versoening van al julle sondes. Hierdie beker is die nuwe verbond wat deur my bloed tot stand gekom het. Neem dit, drink almal daaruit, gedenk en glo dat my kosbare bloed vergiet is tot 'n volkome versoening van al julle sondes".

So haal Hy elke keer weer die band tussen Hom en ons styf aan.

Met dié doel het Christus die Nagmaal ingestel. Hy wil daar gereeld saam met ons terugdink aan die troudag van Golgota, om vervolgens vir ons te kan sê: So, soos Ek toe was, so is Ek heeltemal, so is Ek steeds dieselfde en so wil Ek vir julle bly. So mag julle My ken en vertrou, so sal Ek met julle verder gaan. Ek, julle Bruidegom omdat Ek julle Borg geword het.

So stig en onderhou Hy gemeenskap met ons en maak Hy ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente: dus verenig deur die mees intieme gemeenskap.

Daarom is brood en wyn ook méér as net 'n foto wat die herinnering aan die verlede lewendig wil hou. Christus het opsetlik 'n gedenkteken aan sy dood opgerig in die vorm van voeding. Want op daardie belangrike dag in die verlede, Golgota, het Christus vir ons die voeding vir die hede geword.

Gebreekte brood en bloedrooie wyn- dit getuig van sy dood. Maar daardie dood is vandag ons brood. Deur sy dood leef ons. Hy het in sy dood ons lewensmiddel geword.

Dit wil brood en wyn tog ook duidelik maak: Christus wil ons daardeur nie net aan sy dood herinner nie. Hy wil ons veral ook in sy dood, in die lewendmakende resultaat van sy dood laat deel. Hy wil ons daarvan verseker dat Hy ons na die ewige lewe toe saamneem, net so seker as wat ons die brood en die wyn, die gedenktekens van sy dood, as 'n lewensmiddel inneem.

Hy wil met daardie eenvoudige hulpmiddels op die tafel alle twyfel by sy bruid uitban: sy mag léwe danksy sy dood! Die sondes is versoen en die lewendmakende Gees is verdien. In en deur sy Heilige Gees neem ons Bruidegom ons nou saam na die Vader toe in 'n nuwe lewe.

Wanneer ons Here so aan sy tafel gemeenskap met ons soek, broeders en susters, kan ons slegs elke keer weer met skaamte en verwondering aan die tafel ons plek inneem.

Met skaamte, omdat ons weer bepaal word by die uitnemende liefde van ons Heiland, wat vir ons, omdat ons anders die ewige dood moes gesterf het, sy liggaam aan die kruis in die dood gegee het en sy bloed laat vergiet het. Golgota moes eintlik ons sterfdag gewees het. Maar Christus het dit tot ons troudag gemaak. Hy het gesterf sodat ons met Hom sou lewe.

Ons neem ons plek in met skaamte, des te meer omdat daar sinds die troudag skaars iets by ons verbeter het. Ons is Christus se aanhoudende liefde glad nie werd nie. Wat is ons 'n grillerige, wispelturige en ontroue bruid!

Maar ons sit terselfdertyd met verwondering aan die tafel van ons Here. Want ons Bruidegom het in weerwil van dit alles nie 'n egskeiding geforseer nie, maar Hy bly ons van sy liefde oortuig. Alle sondes word telkens weer vergewe en Hy is daar om ons te help om 'n beter bruid te word.

Waaraan het ons dit te danke?

So word ons in elke Nagmaalviering ook weer gedwing om ons te besin op ons wederliefde in hierdie trouverbond. Hoe staan dit met ons liefde vir Christus?? Ons oorgawe aan Hom, ons trou? Begeer ons nou ook om hoe langer hoe meer ons geloof in hom te versterk en ons lewe te verbeter?

En dit is dit presies wat Christus beoog het, toe Hy die Nagmaal ingestel en sy kerk beveel het om dit voortaan te vier het.

So bly mos die gemeenskap tussen Hom en ons 'n lewendige saak? So word daar voorkom dat die verbond in die greep van sleur en onverskilligheid kom. So kan dit eenvoudig nie gebeur dat ons aan Hom verby gaan leef en die wonder van die verbond uit die oog verloor nie.

Elke Nagmaalviering as die viering van die troudag, dryf ons weer in die arms van ons Here. En ons word in die geloof, deur die werking van die Heilige Gees, weer so met Hom verenig dat dit is: Hy in ons en ons in Hom.

Maar daarom moet ons die Nagmaal ook bly vier, gemeente. Ons moet van ons kant die gemeenskap met Hom ook soek daar waar Hy Hom laat vind.

Leer u, vaders en moeders, u kinders nog wel verlang na die dag waarop ook hulle die gemeenskap met ons hemelse Bruidegom mag beleef? Wat is vir u belangriker: dat hulle 'n geslaagde huweliksmaat vir hiérdie lewe vind, of dat hulle in die trouverbond met Christus die ewige lewe tegemoetgaan?

En julle, jongmense wat op pad is om volwasse te word: waarna verlang julle meer: om eendag 'n wonderlike troudag met 'n medemens te mag vier of om voortaan die wonder van die troudag met Christus te mag saamvier aan die Nagmaaltafel?

Besef julle dat julle die vraag om toegelaat te mag word tot die tafel van die Here nie langer mag uitstel as wat noodsaaklik is nie; en dat julle daarom nou al die katkisasieklasse moet benut om vol verlange daarnatoe groei?

En as jy by jouself eerlik moet beken dat die verlange na 'n mooie huweliksdag sterker is as die begeerte om ook die nagmaal te mag vier, is jou liefde vir jou hemelse Bruidegom dan wel sterk genoeg?

Niemand moet sê: ek kan ook so wel by Christus behoort; daarvoor benodig ek nie beslis die Nagmaal nie.

Want dit klink na die begin van egbreuk. Hoe sou mos 'n huwelik goed bly as een van beide moedswillig en onnodig die hoogtepunt van die liefdesbelewing, die intieme gemeenskapsoefening, gaan weier?

Christus mag verwag dat ons sy liefde kom beantwoord aan die Nagmaaltafel, en ook van ons kant deur 'n getroue en bewuste Nagmaalviering laat blyk: Ja, so is ons getroud. Ons behoort by Hom. Met Hom alleen kan en wil ons ewig verder gaan.

(Kom ons wek mekaar nou eers tot so'n bruidsliefde op met die woorde van Ps. 45: 9 en 10)

2. Wanneer die Here Christus ons aan die Nagmaalstafel die gemeenskapsbelewing met Hom laat geniet, bepaal Hy ons terselfdertyd ook by die gemeenskap wat ons in die kerk onderling het, gemeente.

Ons sit met 'n hele aantal mense rondom die tafel, maar ons vorm saam Christus se een gemeente. Ons is saam die bruid. Ons mag deur die gemeenskap aan die Nagmaal saam een liggaam met Christus wees, maar dit impliseer dat ons ook met mekaar een liggaam vorm.

"Ons het mos almal deel aan die een brood", het die apostel Paulus geskrywe.

Van die brood by die Nagmaal het Christus gesê: "Dit is my liggaam vir julle".

Ons kry van daardie een brood almal stuk vir stuk 'n afgebreekte brokkie. As 'n teken dat ons almal stuk vir stuk met Christus gemeenskap mag hê. Maar deur daardie gedeelde brood laat Christus ons deur sy Gees ook weer des te sterker die gemeenskap ervaar wat ons onderling saambind.

Ons kan nou in elke geval nie meer as los sand langs mekaar bly lewe nie.

Ons moet by die Nagmaalviering nie net omhoog, na Jesus Christus sien nie. Ons moet terselfdertyd om ons heen, na ons broeders en susters sien en aan almal 'n ruime plek in ons hart gee.

Ons moet besef: ek behoort by hulle en hulle by my omdat ons saam by Christus behoort.

In die kerk waar daar met 'n vaste reelmaat die heilige Nagmaal gevier word, kan en mag daar geen plek bly vir individualisme en egoisme nie, laat staan vir haat en nyd.

Ons kollekteer by ons Nagmaalvierings altyd vir die Diakonie. En dis 'n goeie ding. Ook in finasiële opsig mag niemand in die gemeente van Christus ongetroos leef nie.

Maar met 'n bedrag vir die Diakonie het ons ons verpligtings teenoor mekaar in die kerk nie afbetaal nie!

Ons wat saam van Christus se liefde mag lewe, moet nou ook in liefde met mekaar saamlewe. Dus: alle rusies en kwessies so gou as moontlik probeer beëindig en opruim, alle wrok en gevoelens van gekwes-wees probeer oorwen en uitban en in liefde probeer om, net soos Christus, teenoor die broeders en susters die minste te wees.

Kyk u wel om u heen aan die nagmaalstafel, broeders en susters? Kyk u spesiaal na mense van wie u weet dat u verstandhouding met hulle eintlik nie te goed is nie? En neem u u voor om nog daardie selfde week met hulle kontak te soek om sake tussen u uit te stryk?

Of probeer u dit so reël dat u en hulle in elke geval nie aan die selfde tafel hoef te sit nie? !

Kyk u ook om u heen om te sien watter broeders en susters nie daar is nie? Voel u die pyn van hulle afwesigheid? En neem u u voor om nog daardie selfde week 'n plan te maak om by hulle 'n draai te gooi?

Ook dit wil ons Here Christus bereik met sy tafel elke keer voor in die kerk, gemeente. Deur ons des te sterker aan Hom te verbind, dryf Hy ons ook weer na mekaar toe. Sodat u uself weer die vraag moét afvra: vorm ons wel voldoende een liggaam, nie net met woorde nie maar ook met die daad?

Sit my liefde vir die ander wel so diep dat ek ook kan vergéwe, en met hulle swakhede, onhebbelikhede en gebreke geduld kan hê; omdat Christus met ons almal, sekerlik ook met my, so onnoemlik baie geduld wil hê?

Het ek wel voldoende oog, en veral: hart!, vir juis dié broeders en susters wat ons met mekaar besig is om uit die oog te verloor? Jeug wat al in geen maande meer die eredienste bygewoon het nie?

Was ek al 'n keer by die broeders wie se name deur die kerkraad aan ons voorgehou moes word omdat hulle al hoe meer in die sonde vasgevang geraak het: Br Rein Bron, Br. Evert van Dijk?

Die wat geen oog en geen hart vir sy broeders en susters het, behoort nie eintlik tuis aan die tafel van die Here. Die besondig homself aan die liggaam en bloed van Christus omdat hy die een liggaam van Christus wat hy saam met sy broeders en susters vorm, nie raaksien nie.

Maar laat juis die vrug van ons Nagmaalsvierings al hoe meer mag wees dat ons daagliks toeneem in die ware geloof en so in die gemeenskap met Christus, maar nie minder in die gemeenskap met mekaar nie.

Mag die almagtige, barmhartige God en Vader van ons Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees ons daartoe help.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)