Christus laat ons by die nagmaal gedenk dat Sy dood ons lewe geword het

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 28
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 28 H.K.

LITURGIE:
L. Exodus 12: 1-14
T. Sondag 28 H.K.
Ps. 135: 2, 5
Ps. 135: 8
Ps. 136: 1, 9, 10, 11, 19, 20
SB. 24: 3
Ps. 81: 1, 11

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer ons die heilige nagmaal vier, "verkondig ons die dood van ons Here". So noem ons dit, bietjie plegtig, in navolging van die apostel Paulus.

Ons herinner mekaar by die nagmaalstafel aan die dood van ons Here en Heiland.

Maar dit gebeur hoegenaamd nie in 'n treurige stemming nie. Daar heers rondom die nagmaalstafel geen sfeer van verslaenheid nie. Want "die dood van die Here verkondig"- dit is meer as om 'n tipe van 'n dodeherdenking te hou, waarby ons weemoedig terugkyk na die donker dag van Gogotha waar ons geliefde Heer 'n bittere dood gesterf het.

Ja, ons eet die brood en drink uit die beker "tot sy gedagtenis". Ons hou deur daardie brood en wyn sy dood in gedagtenis. Maar dit is geen droewige gedagtenis aan iets wat deur die dood wreed afgebreek is nie. Inteendeel, ons vier die héérlike gedagtenis aan die bittere dood van ons Here Jesus Christus- hoe teenstrydig dit ook al mag klink.

Ons verkondig die dood van die Here as 'n feestelike saak. Ons herinner by brood en beker mekaar aan die áktuele betekenis van Christus se dood vir ons léwe. Ons sê vir mekaar, en ons bely dit voor die wêreld: Sy dood het ons lewe geword!! Ons leef elke dag van sy dood. Is nie sy liggaam gegee en sy bloed vergiet tot 'n volkome versoening van al ons sondes nie?

Ons kyk nie weemoedig terug nie, maar ons sien ons lewe van vandag en môre as die vrug van Christus se dood. Ons sou die lewe, die egte lewe nie hê nie, as Christus nie vir ons sou gesterf het nie.

Dat ons altyd bewus bly daarvan, neem ons reëlmatig brood wat gebreek is en rooiwyn uit 'n beker, en vier ons sy dood as ons lewensfees.

Die Here self het dit so vir ons geleer en beveel. Hy was dit self wat eerste die brood geneem en die beker omhoog gehou het met die woorde: "Doen dit tot my gedagtenis".

Hy self wou dit so, dat op hierdie wyse sy dood in ons herinnering lewend sou bly.

Ek moet u daaroor God se Woord bedien vanoggend. Ek het as tema vir my preek gekies:

CHRISTUS LAAT ONS BY DIE NAGMAAL GEDENK DAT SY DOOD ONS LEWE GEWORD HET.

WANT DIE NAGMAAL IS 'N MIDDEL WAT ONS HELP OM

  1. AGTERTOE
  2. BOONTOE
  3. VORENTOE TE BLY KYK.

1. 'n Nagmaalviering het vir ons so'n vertroude gebeurtenis geword, broeders en susters, dat ons nouliks meer nadenk oor die vraag waarom ons juis op hiérdie wyse die dood van ons Here verkondig. 'n Eenvoudige tafel, ons nagmaalstel wat 'n bietjie outyds aandoen, die stukkies brood en die bekers wyn- dit alles behoort vir ons dermate tot die vertroude beeld van die viering van die heilige nagmaal, dat ons nie eintlik meer bewus is daarvan hoe Christus daartoe gekom het om op hiérdie wyse sy dood in ons herinnering lewend te hou nie.

Waarom deur middel van 'n maaltyd?

Waarom juis 'n gedekte tafel as monument van sy dood vir ons lewe?

Wel, ons Heiland wás aan tafel, toe Hy die eerste keer brood geneem het, dit gebreek het en dit uitgedeel het met die woorde: "Neem, eet, dit is my liggaam vir julle, dat vir julle in die dood oorgegee word".

Hy hét aan tafel gesit, maar dit was nog nie 'n nagmaaltafel nie- dit was die Pasgatafel waaraan Christus saam met sy dissipels vir oulaas in sy lewe die eeuoue Pasga gevier het. Dit was ook die laaste Pasgaviering wat sy kerk mog vier. Na hierdie nag en na die dag wat daarop sou volg, kon die Pasga as vervul en verouderd afgeskaf word.

Want die Pasga het mos na Hom vooruit gewys. Was Hy nie dié Pasgalam na wie al die voorgaande lammers heengewys het nie?

U weet: die Pasgafees was Israel se bevrydingsfees. Met hierdie fees het God se volk elke jaar die wonderlike uitredding uit Egipte, uit die tirannie van die Farao herdenk. Daardie dódelike tirannie, aangesien die Farao die stadige uitroeiing van God se volk beplan het.

Die egte Israeliet kon en mog hierdie feit nooit vergeet nie. Deur die verlossing uit Egipte was 'n nuwe toekoms vir God se volk oopgemaak. Weggeruk uit die dood mog Israel die pad van die lewe weer loop, agter die God van die lewe aan.

God het toe 'n nuwe begin met sy volk gemaak en aan die hele wêreld gewys hoe groot sy liefde vir hierdie volkie was. Egipte was geteister deur 9 plae, wat mense, diere en gewas op die veld aangetas het. Waarna as hoogtepunt en genadeslag die tiende en laaste plaag gevolg het: die dood van al die eersgeborenes in Egipte. Vanaf die paleis van die Farao tot in die eenvoudigste beesstal het 'n engel van die HERE dood en verderf gesaai, om eindelik sy volk vry te kry.

Maar God se volk Israel is gered danksy die bloed van 'n lam.

'n Lam het 'n beslissende rol gespeel in die bevrydingsnag in Egipte.

Ons het Exodus 12 gelees, gemeente, hoedat die HERE die aandag van sy volk opvallend na daardie verlossende lam toe getrek het.

Reeds 4 dae te vore moes al die huisvaders daardie dier uitsoek en apart sit. Die HERE wou daarmee bereik dat sy volk al 'n rukkie van te vore in hul gedagtes met daardie lam sou besig wees. Wanneer die kinders by die huis gespeel het, het hulle telkens 'n oomblik by daardie lam wat apart van die ander diere in 'n hokkie gesit was, gekom en kyk; en dan het hulle geweet -pa het dit vertel-: die HERE gaan hierdie lam gebruik om ons uit Egipte weg te haal.

Wanneer ma by haar werk verby daardie hokkie met daardie een lam gekom het, het sy 'n oomblik opgehou en werk en daaroor gepeins dat dit dus die middel moes word waardeur God hulle sou verlos.

En wanneer pa saans moeg en gedaan van sy slawewerk by die huis gekom het, het hy eers by sy lam gekyk en by homself gedink: die ellende sal dus byna verby wees. Hoe? Ek weet ook nie, maar God sal weet!

En toe die groot nag aangebreek het, mog die Israeliete leer hoédat hierdie lam hulle redding sou word. Pa moes sy halsslagaar oopsny en sy bloed rondom die deuropening van die huis smeer. Daardie bloed sou in die nag wat aan kom was, die enigste middel wees wat hulle van die onvermydelike ondergang kon red. Want daardie nag sou God se verderfengel nie net verby die huise van die Egiptenaars kom nie, maar ook deur die provinsie Gosen, ook verby die huise van die Israeliete. Die dood wat die Egiptenaars sou tref, het ewe goed die Israeliete bedreig. God soek ook hulle bloed. Net die bloed van daardie lam, wat aan die deurkosyne gesmeer was, kon God se volk vrywaar teen die moordende hand van die verderfengel.

Israel moes leer besef dat hulle verlossing nie 'n vanselfsprekende saak was nie. Hulle het geen reg daarop gehad om uit Egipte weggehaal te word nie. Net uit genáde sou hulle die lewe en die toekoms weerkry. Feitlik moes ook hulle bloed in hierdie nag gevloei het. Hulle het dit alleen aan die plaasvervangende versoenende bloed van dié lam te danke dat die lewe vir hulle weer oopgemaak word.

Die bloed van die lam het dus vir Israel wou leer om 'n afkeer, nie net van die Egiptenaars nie, maar ook van hulleself te kry, en om hulle voor God te verootmoedig, omdat God se toorn oor Israel se sondes nie minder groot as oor dié van Egipte was nie.

En hulle moes leer dat daar net een moontlikheid was om aan die brandende toorn van God te kan ontkom: skuil agter die reddende bloed van die lam.

Om te voorkom dat Israel die les van die nag van die uitredding uit Egipte al gou weer sou vergeet, het die HERE die 10de van die eerste maand tot 'n jaarlikse gedenkdag gemaak. Elke jaar voortaan moes op dié dag 'n pasgalam wat vier dae van te vore in 'n aparte hokkie gesit was, geslag word. Elke jaar voortaan moes alle pa's die bloed rondom die deur van hul huise smeer en die verhaal van die verlossing uit Egipte vir hulle kinders vertel. En duidelik maak hoedat die lewe van vandag en môre sonder die destydse nag daar nie sou gewees het nie. Elke jaar weer moes al die Israeliete, ouers en kinders, verwonderd agtertoe kyk en besef dat hulle die lewe alleen aan die bloed van 'n lam te danke het. Elke jaar weer moes hulle saam die dood van die lam verkondig as die fondament onder hul lewe.

Dié gedagtenis aan die uittog uit Egipte het ook ons Here Christus nog een keer saam met sy dissipels gevier, in die nag waarin Hy sy volk sou liefhê tot die einde toe en sy bloed vir hulle sou vergiet tot 'n volkome versoening van al hul sondes. Petrus en Johannes het die feesmaaltyd sorgvuldig voorberei. Die bloed was alreeds buite aan die deurkosyne gesmeer.

Maar in dié nag het Christus geweet dat daar die volgende dag 'n groter uitredding as dié uit Egipte sou kom. Dit was 'n groot moment toe Christus die restante van die Pasgalam skielik eenkant geskuif het, brood wat tot die bestanddele van die pasgamaaltyd behoort het, geneem het, dit gebreek het en tydens die uitdeling daarvan gesê het: "Dit is my liggaam wat vir julle oorgegee word". En daarna die beker wyn met die woorde: "Hierdie drinkbeker is die nuwe verbond in my bloed; doen dit voortaan tot my gedagtenis". Met ander woorde: moet vanaf vanaand maar nie langer aan die Pasgalam van Egipte terugdink nie. Voortaan moet julle aan my as die verlossende Lam terugdink. Die lam van die Pasganag met sy bloed het destyds die ou verbond van God met sy volk moontlik gemaak, die verbond van die Sinai. Maar dit het 'n swak en onhoudbare verbond geblyk. Die sonde het die spelbreker gebly. Maar môre sal Ek Myself as die beter Lam vir julle oorgee en my bloed offer om 'n nuwe en beter verbond met God moontlik te maak. Ek sal vir al die sondes van my volk eens en vir altyd betaal. Moet dus voortaan nie meer agtertoe kyk na die nag van Egipte nie, maar terugkyk op die dag van Golgotha. Bly as God se volk maar reëlmatig rondom 'n tafel sit en eet, maar konsentreer voortaan alle aandag op My en my dood vir julle lewe.

Die egte, ewige lewe, die rus in die hemelse Kanaän, kan julle net deur my dood binnegaan.

En so vier ons nou die heilige nagmaal, gemeente. "Nagmaal": dié woord herinner ons aan daardie nag waarin ons Here bewus die pad na die dood aanvaar het. Om vir ons die lewe te kan weergee.

Met vaste reëlmaat plaas ons 'n tafel voor in die kerk, met brood en wyn daarop, en ons kyk by hierdie gedenktekens saam agtertoe, na die dag van sy dood.

En dan skik ons elke keer weer met skaamte en verwondering aan die tafel. Met skaamte, omdat brood en wyn ons weer dwing om te besef dat ons sondes voor God so groot was, dat die dood van die Seun van God nodig was om ons te red. Golgotha moes ons sterfdag gewees het. Ons buig aan die nagmaalstafel beskaamd ons hoofde, want ook na die dag van Golgotha het daar in ons lewe so veel sonde oorgebly. Die kerkgeskiedenis is een lange sondegeskiedenis!

Maar juis daarom sit ons terselfdertyd met verwondering aan die tafel, en ons hef ons hoofde dankbaar op: want terwyl ons die dood verdien het, mag ons lewe! Lewe danksy die dood van God se Seun. So lief het God ons gehad, dat Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, sodat ons deur Hom sou lewe.

En so maak die nagmaal elke dag tot 'n dag van verwondering.

2. En dit nog des te meer, broeders en susters, omdat die nagmaal ons nie net dwing om telkens weer agtertoe te kyk nie, maar ons ook help om aanhoudend boontoe te bly kyk.

Ja, boontoe: ons Here hang vandag mos nie meer aan die kruis nie, Hy lê ook nie meer in die graf nie, maar Hy het opgestaan en hemel toe gegaan en vandaaruit gaan Hy nou daaglik met ons saam en gee Hy ons die krag om die lewe wat Hy vir ons weergegee het, te kan leef.

Net so seker as wat ons die brood en die wyn geëet en gedrink en in ons opgeneem het en saamneem huis toe, net so seker mag ons daarvan wees dat ons Here met ons saam gaan huis, en werk toe, en hospitaal toe ja orals na toe.

Ook hierin sluit die nagmaal baie nou by die Pasga aan.

Want die Israeliete moes die lam wat sy bloed vir hulle verlossing gegee het, vervolgens ook eet. Maar hoe!

Die HERE het 'n presiese bereidingsvoorskrif daarvoor gegee. Ons het dit ook gelees in Exodus 12. Die dier mog, nadat dit uit sy halsslagaar leegebloei was, net gevil word. Verder mog die mes nie gebrui word nie. Die kop mog nie af nie, selfs die binnegoed, wat ons gewoonlik eerste uithaal, mog nie verwyder word nie, die pote nie afgekap nie.... Hulle moes die lam in sy geheel bo die vuur braai en vervolgens op tafel lê. Daar moes 'n lám op tafel lê, 'n lam wat nog heeltemal soos 'n lam gelyk het. En dan moes hulle almal van daardie lam eet. Was die dier veels te groot vir een gesin alleen, dan mog hulle dit nie in twee helftes verdeel en een deel vir die buurman se gesin gee nie, maar dan moes daardie twee gesin rondom die een lam aan een tafel sit en eet.

Want hulle sou daardie nag nie net 'n tjoppie lamsvleis eet nie- nee, hulle sou die lam eet wat sy bloed gegee het vir hul redding. Nadat sy bloed hul redding geword het, sou sy vleis hul voeding wees. Gevoed en gesterk deur die vleis van die lam, kon hulle dan uit Egipte uitgaan na die beloofde land toe. Die reis sou nie maklik wees nie, deur die woestyn, vol beproewings en teleurstellings... Maar die vol van die krag van die lam mog hulle op pad gaan.

Dié element van die Pasgaviering, het ons Here ook in sy herdenkingsmaal van die nuwe verbond opgeneem, broeders en susters.

Want ons kyk by die nagmaal nie net na die brood en die wyn as 'n herinnering aan Christus se offer vir ons op Golgotha nie, ons eet en drink dit ook. "Neem, eet, dit is my liggaam vir julle", het Christus gesê. Hy wil ons met sy liggaam en bloed ook voed en verkwik. Nee, ons eet nie sy egte vleis en ons drink nie sy egte bloed nie. Ons is nie kannibale nie. Tog gebruik die kerk hier baie sterk woorde en uitdrukkings: daar kom by die nagmaalsviering so'n noue band tussen Christus en ons tot stand dat dit word: "Hy in ons en ons in Hom". Ja, ons word so met sy geseënde liggaam verenig dat ons "vlees van sy vlees en been van sy gebeente" word. Ons kry "gemeenskap met die liggaam en bloed van Christus". Ons word by Hom "ingelyf". Ons mag Hom as 't ware in ons opneem en saamneem huis toe.

Hoe kan ons so sê?

Wel, moet maar kyk in antwoord 76 van die Kategismus, broeders en susters: ons Here Jesus Christus kom in die nagmaal met sy Heilige Gees na ons toe.

As ons in geloof die nagmaal vier, kom Hy in ons woon met sy lewendmakende Gees, net so seker as wat ons daardie brood eet en die wyn drink. En in sy Gees gaan Hy voortaan met ons saam en ontvang ons van Hom die krag om die pad na die ewige lewe in die hemelse Kanaän te kan loop.

Die lam van die Pasga was dood toe die Israel sy vleis tot voeding vir onderweg geëet het. Maar die Lam van die nagmaal leef, as ons in brood en wyn sy gekruisigde liggaam eet, en sy bloed wat vergiet is, drink. Hy leef hierbo in die hemel, by ons God en Vader, en vandaaruit ontvang ons van Hom die onmeetlike krag van sy Heilige Gees. Ook vir ons lê nog 'n moeilike reis voor. Hy het dit geweet. Deur die nieu-testamentiese woestyn, vol beproewings, aanvegtings, teleurstellings....... Partymaal lyk die reisdoel onbereikbaar en word ons kleingeloof baie groot. Maar dan ontvang ons by die telkens weerkerende viering van die nagmaal weer die krag om te kan aangaan. Eenvoudige brood en wyn dwing ons om agtertoe te kyk, na die dag waarop die lewe en die toekoms vir ewig vir ons oopgemaak is. Daardie brood en wyn dwing ons vervolgens ook om boontoe te kyk: Hy wat die lewe en die toekoms deur sy dood vir ons terugverdien het, is vandag daarbo. En deur sy Heilige Gees is Hy terselfdertyd hier benede, by ons, in ons. En Hy sal ons bring waar ons op eie krag nooit kan kom nie: in die ewige rus.

3. Daarom dwing die nagmaal ons tenslotte ook om vorentoe te kyk, gemeente. Vorentoe na die dag waarop ons Here weerkom en self ons in die hemelse Kanaän sal binnelei.

Die Israeliete tydens die ou verbond het al gou agtergekom dat die uittog uit Egipte nie die finale verlossing gebring het nie. Selfs die intog in Kanaän het nie die einde van alle ellende beteken nie. Die sonde het die lewe in sy verwoestende greep bly hou. Dit het in die eeue na die uitredding uit Egipte al hoe duideliker geword dat daar 'n ander, 'n beter uittog moes kom: uit die slawerny van die sonde. Dierebloed versoen nie regtig die sonde nie. Daarvoor is die bloed van 'n beter offerlam nodig: die bloed van 'n Mens sonder enige sonde wat in staat is om die skuld van die hele wêreld op sy skouers weg te dra. God se volk het dan ook toenemend om Hom begin roep: "Hosanna"- "Ag HERE, gee tog heil!!". En die Pasgaviering het al hoe minder 'n verwonderd agtertoe sien geword, en al hoe meer 'n verlangend vorentoe sien.

Ons, gemeente, mag by ons nagmaalviering gedenk hoedat daardie beter Pasgalam sy bloed tot 'n volkome versoening van al ons sondes inmiddels gegee het. Daarom bly ons wel altyd verwonderd agtertoe kyk. Maar tegelyk sien ons met nog meer verlange vorentoe. Want noudat die groot oorwinning op die sonde behaal is, en God se Seun in die Heilige Gees met ons saamgaan, moet daar mos 'n einde aan alle ellende op aarde gaan kom! Nou moet tog al die oorblyfsels van die sonde in ons lewe uitgeroei word. Nou wil ons altyd by ons Here wees, in 'n volmaakte lewe, in die ewige rus.

Die dag sál kom! Ons Here self het dit beloof. By die instelling van die nagmaal het Hy ons opgedra om Hom by brood en wyn te gedenk "totdat Hy kom". Hy, ons Verlosser wat ons uit die slawehuis van die sonde uitgelei het, kom terug na die aarde om ons vir altyd bo alle ellende uit te lig en ons vir altyd by Hom te neem.

Ook daarom het Hy die nagmaal ingestel: om deur brood en wyn die verlange na dié dag in ons lewend te hou.

Die gedenkteken wat ons Heiland reëlmatig voor in die kerk plaas, is baie eenvoudig, broeders en susters. Brood en wyn. Daar is vir gewone menseoë nie veel om te sien nie. Maar wie met geloofsoë kyk, sien baie! Daardie brood en wyn laat ons agtertoe kyk na die dag van die dood van ons Here, en dan sien ons sommer dwarsdeur die wolke boontoe tot in die hemel, en ons sien vervolgens ewig ver vorentoe: tot op die jongste dag, tot in die ewige lewe.

Want die monument van die dood van ons Here laat ons telkens weer besef dat sy dood ons lewe geword het. En dus verkondig ons by daardie eenvoudige maar veelbetekenende monument met volharding vol verwondering en verwagting die dood van ons Here. Totdat Hy kom.

AMEN.

(Pretoria, 27 Mei 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)