Op ons reis na God se ryk verkwik Christus ons met Homself as die Hemelse Brood

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 28
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 28 H K

LITURGIE:
L. Joh. 6: 35-58 & Art. 35 NGB 1ste gedeelte, totaan: "Verder, hoewel die sakramente... "
Ps. 65: 3, 4
Ps. 65: 2
Ps. 63: 1, 3, 4
Ps. 23: 3
SB.29: 6-9

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons is op reis na God se Koninkryk. Ons is op pad om eendag die ewige vreugde in die Ryk van die hemel te beërwe.

Feitlik sou ons almal by die grens van God se Ryk teruggestuur moet word, want ons is as Adam se nageslag in sonde ontvang en gebore. En vir sondaars is daar geen plek in God se Ryk nie.

Maar ons het van God Self 'n paspoort ontvang om tog in sy Koninkryk te mag inkom. God het aan ons almal in ons doop gewaarborg dat die poorte nie vir ons gesluit sal word nie maar dat sy engele ons vrye toegang tot die rykdomme van sy Koninkryk sal verleen. Om Christus ontwil.

En dus kan ons blymoedig en vol vertroue op pad wees na 'n heerlike toekoms toe.

En selfs als ons soms struikel en in sondes val, hoef ons nie in die sonde te bly lê nie, ons hoef nie aan God se goedheid te twyfel nie- ons paspoort bly geldig en as ons dit nou maar gebruik en dus telkens weer uit die sonde opstaan en aangaan, lê daar 'n wonderlike lewe voor ons.

So, broeders en susters, het ons verlede sondag ons doop weer leer waardeer.

Maar mense wat op pad is, benodig padkos.

En dit kry ons in die tweede sakrament wat Christus vir ons ingestel het: die heilige nagmaal. In daardie eenvoudige maaltyd van brood en wyn ontvang ons die noodsaaklike voeding sodat ons nie halfpad die reis te beswyk nie maar telkens gesterk kan aangaan.

Kom ons fokus vanoggend op die sakrament van die nagmaal. Ek mag u dan verkondig:

OP ONS REIS NA GOD SE RYK VERKWIK CHRISTUS ONS MET HOMSELF AS DIE HEMELSE BROOD

IN BROOD EN BEKER KOM HY NA ONS TOE

  1. SOOS HY WAS IN DIE VERLEDE
  2. SOOS HY IS IN DIE HEDE
  3. SOOS HY SAL WEES IN DIE TOEKOMS

1. Ons eet en drink by ons reëlmatige nagmaalvierings slegs 'n klein stukkie brood en net een slukkie wyn, gemeente. So min dat ons dit skaars in ons mae en in ons are voel. Veel voeding kry mens nie daaruit nie.

Nogtans besit daardie klein stukkie brood en daardie een slukkie wyn so'n enorme voedingskrag dat dit in staat is om ons tot die ewige lewe te voed en te verkwik! Ons het daaraan genoeg om die Ryk van God te bereik.

Want wanneer ons die nagmaalsbrood eet, eet ons nie minder nie as die liggaam van Christus. En as ons die nagmaalswyn drink, drink ons sommer Christus se bloed.

Soos Christus die eerste keer vir sy dissipels gesê het: "Neem eet, dit is my liggaam vir julle.... Hierdie beker met wyn, dit is my bloed.... ", so mag die dominee dit aan die nagmaalstafel vir ons sê: "die brood wat ons breek is die gemeenskap met die liggaam van Christus; neem, eet..... Die beker is die gemeenskap met die bloed van Christus, neem dit, drink almal daaruit.... ".

U weet: oor die betekenis van daardie woorde is in die kerkgeskiedenis reeds heelwat gestry. Ons is mos nie kannibale nie? ! Die brood kan tydens die nagmaal dan nie sommer in vleis verander nie? En die wyn word tog nie bloed nie?

Hoe kan ons dan nogtans sê dat ons in brood en wyn feitlik die gekruisigde liggaam en bloed van Christus eet en drink?

U gaan dié taal aan die nagmaalstafel eers verstaan as u 'n oog daarvoor kry Wie dit is wat telkens daardie tafel in die kerk aanrig en Wie ons daardie woorde in die mond lê. Dis nie die koster of die diakens nie, ook nie die dominee nie. Die apostel Paulus praat in sy eerste brief aan die Korinthiërs, hoofstuk 10, van "die tafel van die Here".

Dis ons Here Jesus Christus Self wat van tyd tot tyd sy tafel voor in die kerk plaas en ons roep tot 'n maaltyd met Hom.

Hy Self is lewend aanwesig so dikwels ons aan die nagmaalstafel sy dood verkondig. Want Hy wat vir ons gesterf het, het mos ook weer uit die dood opgestaan en Hy leef tot in alle ewigheid. En Hy het gesê: "Ek sal met julle wees, al die dae, totaan die voleinding van die wêreld".

Nee, ons sien Hom nie in lewende lywe nie in die kerk nie, liggaamlik is Hy in die hemel, maar deur sy Heilige Gees kom Hy daar na ons toe en nooi Hy ons aan sy tafel om ons te voed op ons reis na God se Koninkryk toe. Hy is die Gasheer as die predikant die brood en die wyn aan ons uitdeel. Hy gee ons wat ons benodig vir ons reis na sy Ryk.

Op dié reis is voedsel vir die maag nie die belangrikste nie. Dit mag ons óók van Hom verwag en vra: "Gee ons vandag ons daaglikse brood". Maar allereers moet ons geloof gevoed en versterk word. En dié voeding gee ons Here ons aan die nagmaalstafel. En hoe! Ons sal sy eie vleis moet eet en sy bloed moet drink.

Ja, dit is 'n sterk, prikkelende woordgebruik. Die Here het dit die eerste keer teen die Jode gebruik blykens die gedeelte wat ons uit Johannes 6 gelees het.

Maar ons Here het bewus dié uitdagende woorde gekies om ons te laat besef wie en wat Hy vir ons is. Hy is in lewende lywe "die brood uit die hemel" wat so'n voedingskrag het dat elkeen wat daarvan eet, tot in ewigheid sal lewe. Maar daarvoor moes die lewende Vader Hom, sy eniggebore Seun, God uit God, eers aarde toe stuur en 'n mens van vleis en bloed laat word. En hier op aarde kon God se Seun slegs daardie lewenskragtige brood word, as Hy eers sy vleis en bloed in die dood sou oorgee. Hy moes sy liggaam, Homself, totaal opoffer vanweë ons sondeskuld by God. So sou Hy sy vleis en bloed tot die ware spys en drank vir die ewige lewe maak. Sy dood sou ons brood word.

As Hy dan oproep om sy vleis te eet en sy bloed te drink, roep Hy dus op om sy offer vir die sondes te aanvaar as die enigste redmiddel van die dood. Ja, Hy roep op tot die totale oorgawe aan Homself, die Verlosser wat God uit die hemel gegee het, noudat Hy Homself totaal vir ons oorgegee het.

Dié oproep van Johannes 6 herhaal Christus feitlik by elke nagmaalsviering, broeders en susters.

Hy lê as 't ware Homsélf op die tafel in daardie brood en daardie wyn. Hy sê vir ons, soos Hy dit eendag vir sy dissipels gesê het: "Neem, eet, dit is my liggaam, dit is my bloed vir julle.... ".

Nee, dan word brood nie skielik vleis nie, en daar verander ook niks aan die wyn nie. Maar die Here Jesus Christus gebruik daardie brood en wyn om ons geloof heeltemal te konsentreer op Hom as ons Verlosser. Hy trek al ons aandag na Hom toe soos Hy eendag in die verlede was, toe Hy sy geseënde liggaam aan die kruis laat spyker en sy bloed laat vergiet het. Nagmaalsbrood en nagmaalswyn is eenvoudige middels wat sy offer vir ons sondes op Golgotha vir ons in gedagtenis roep. So, as offerlam aan die kruis, het Hy vir ons die lewe terugverdien. Ons het dit aan sy dood te danke dat ons vandag mag lewe en op reis mag wees na die ewige lewe in God se Koninkryk.

Dit is die krag van brood en wyn wat Christus self ons aanreik aan sy tafel: ons kry daarin Christus weer te sien soos Hy was in sy hoogste liefde vir ons. Hy het vir ons, wat anders die ewige dood moes sterwe, sy liggaam aan die kruishout in die dood gegee en sy bloed vir ons uitgestort. Hy het die vloek wat op ons gelê het, op Hom gelaai om ons met sy seën te kan vervul. Hy het Homself tot in die allerdiepste smaad en angs van die hel verneder en met 'n groot stem uitgeroep: "My God, my God, waarom het U My verlaat? " sodat ons deur God aangeneem en nooit meer deur Hom verlaat sou word.

Daarop konsentreer ons lewende Here tydens elke nagmaalsviering ons geloof, broeders en susters. Om u en my geloof te voed en te versterk.

As Hy vir ons laat sê: "Neem, eet, gedenk en glo dat die liggaam van ons Here Jesus Christus gegee is tot 'n volkome versoening van al ons sondes", bied Hy Homself aan soos Hy was op die dag van Golgotha en vir ons die lewe uit die dood teruggehaal het. En Hy sê vir ons: aanvaar my offer ook vir jou sondes. Maak jou dit net so eie as wat jy hierdie brood eet en hierdie wyn drink. Besef dat jy in jouself geen lewe het nie. Maar danksy my gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed kry jy die lewe terug. Lewe tot in ewigheid. Lewe in die heerlikheid van God se Koninkryk. Jy hoef nooit daaraan te twyfel nie. Want net so seker as op hierdie oomblik die brood gebreek en rondgedeel word, net so seker het Ek Myself in die dood oorgegee. Maar ook: net so seker as wat jy dit nou eet, en daarna die wyn drink, het Ek dit ook vir jou gedoen, om ook jou sondes totaal by God te versoen.

Aanvaar daarom my offer vir jou skuld, aanvaar my dood as die brood wat aan jou die lewe skenk. Glo dit, en reis gesterk verder na jou heerlike eindbestemming.

2. So, gemeente, voed ons Here Jesus Christus ons met vaste reëlmaat aan sy tafel in die kerk.

Maar ek kan nog meer daarvan sê. Want wanneer Christus deur middel van brood en wyn ons daaraan herinner hoe Hy eendag in die verlede vir ons was, op Golgotha, wil Hy hê ons moet Hom so nog altyd ken in die hede. Ons moet ons nie net in geloof oorgee aan dit wat Hy in die verlede vir ons gedoen het nie. Want Hy doen vandag nog steeds iets vir u en vir my. Sy werk vir ons was met die groot offer op Golgotha mos nie klaar nie, hoe belangrik daardie werk ook was. Toe het Hy vir ons die brood van die lewe geword. Maar vandag wil Hy vir ons ook metterdaad die brood van die lewe wees. Op Golgotha het Hy die lewe vir ons verdien. Maar vandag deel Hy die lewe aan ons uit. Hy moét dit ook daagliks bly uitdeel, want sonder Hom is daar vir ons nog steeds geen lewe moontlik nie.

Hy hang vandag nie meer aan 'n kruis en bloei nie. Vandag sit Hy langs sy en ons Vader op die troon in die hemel. Maar daar is Hy steeds ons Borg wat voortdurend vir ons by die Vader intree. As Mens van vlees en bloed verteenwoordig Hy ons almal persoonlik by die Vader en bedek Hy met sy onskuld en heiligheid die sondeskuld wat ons nog daagliks meer maak.

Daardie werk vir ons doen Hy onsigbaar. Daarom kan ons dit maklik uit die oog verloor. Dit wat jy nie kan sien nie, kan jy mos maklik vergeet. Maar sodra ons van Christus sou vergeet, sou ons onsself van die lewe afsny.

Daarom kom Christus telkens in die nagmaal na ons toe en maak Hy Homself as 't ware weer sigbaar in brood en beker. Hy roep by ons met eenvoudige hulpmiddels die dag van Golgotha in herinnering maar sê vervolgens: dié Verlosser wil Ek nog steeds vir u wees. Ik wil vandag en voortaan namens u voor die Vader staan. Maar dan moet u vandag nog steeds my vleis eet en my bloed drink. Dit beteken: u moet uself totaal aan My uitlewer. U moet die lewe heeltemal buiten uself soek, in My. U en Ek, ons moet volslae een wees. As Ek voor die Vader staan, moet julle en Ek daar feitlik saamstaan. Hierso: Neem, eet, hierdie brood is as 't ware my liggaam, hierdie beker is my bloed.... Net so seker as wat u hierdie brood eet en uit hierdie beker drink en dit in u opneem, neem u as 't ware My in u op, sodat dit is: Ek in julle en julle in My.

Christus wil die band tussen Hom en ons baie sterk aanhaal aan die nagmaalstafel, gemeente. Ja, dié woorde mag ons dan inderdaad gebruik: Hy in ons en ons in Hom. Ons word by Hom ingelyf en vorm as 't ware een liggaam met Hom. Die Kategismus gebruik dieselfde woorde wat Adam op sy Mannin toegepas het toe Hy die mees intieme gemeenskap met haar mog beleef: vlees van sy vlees en been van sy gebeente.

Dit het vir ons nog 'n ekstra voordeel. Want as ons deur die geloof so een met Hom word dat dit is: Hy in ons en ons in Hom, dan mag ons nie alleen in Hom voor die Vader staan nie, maar dan wil Hy ook in ons met ons saamgaan solank ons nog hier op aarde op pad is na die Koninkryk van God. Ons is mos nog onderweg.

Ons Here wat self alreeds in die hemel is, weet hoe moeilik die reis vir ons partymaal kan wees. Hy ken die verleidinge van die Bose beter as ons almal saam. Hy weet hoe maklik ons struikel en geneig is om in die sonde te bly lê. Hy weet ook dat ons sommer kortsigtig en moedeloos kan word as daar baie teleurstellings en beproewings in ons lewe kom. Hy weet dat ons mekaar as reisgenote sommer kan verloor en vergeet om mekaar onderweg met raad en daad by te staan.

Ook daarom kom Christus in die nagmaal na ons toe en sê: Kom eet my liggaam en drink my bloed sodat dit sal wees: Ek in julle en julle in My. Want alhoewel Ek liggaamlik in die hemel is, wil Ek deur die Heilige Gees by julle wees en met julle saamgaan. Ek wil so een met julle wees dat ons saam deur een en dieselfde Gees geregeer word. Dan kan Ek julle telkens weer uit die kortsigtigheid en moedeloosheid lostrek, Ek kan julle wapen teen die gevaarlike aanvalle van die Bose. Ek kan julle ook al hoe sterker aan mekaar verbind deur My Gees sodat julle mekaar ook vashou en meetrek op die reis na My Ryk.

Julle en Ek, ons behoort bymekaar, ons gaan saam. Op eie krag sal julle dadelik beswyk en My Ryk nooit bereik nie, maar Ekself gaan saam met die krag van die Heilige Gees. Ek sal julle bring waar julle self nooit kon kom nie.

3. So, broeders en susters, mag u elke nagmaalsviering u Here en Heiland ontmoet wat die band tussen u en Hom weer styf aanhaal. Hy is, onsigbaar, 'n lewende werklikheid in u lewe en Hy skenk u alle energie wat u benodig om vol goeie moed verder te gaan op u reis na sy Ryk.

Hy laat ook in u die verlange groei om in daardie Ryk te mag binnegaan om Hom eindelik ook sigbaar en liggaamlik te mag terugsien.

Maar weet u hoe ons ons Here Jesus Christus eendag sal terugsien, gemeente?

Ja, met 'n verheerlikte liggaam. Maar nogtans sal Hy ook in die volmaakte Koninkryk van God feitlik nog steeds wees soos Hy was aan die kruis: ons Borg by die Vader. Ook dan sal Hy steeds die brood van die lewe vir ons wees. Ook dan sal daar steeds vir ons geen lewe buiten Hom wees nie.

Moet maar kyk hoedat Christus in die laaste Bybelboek, die Openbaring nog telkens die "Lam" genoem word. As die laaste dag aanbreek en al God se kinders in die Koninkryk mag binnegaan, sal ons saam die "bruilofsmaal van die Lam" eet.

En in die hoofstad van God se Koninkryk, die nuwe Jerusalem, sal "die Lam die lamp" wees. Lewende water sal uitstroom en die geboomte van die lewe van water voorsien uit die troon van God "en van die Lam". En die kerk word ook dan nog steeds "die bruid van die Lám" genoem.

Dit beteken, gemeente: die oorgawe van Christus se liggaam en bloed vir ons sondes sal nooit meer uit ons aandag verdwyn nie. Tot in ewigheid nie. Selfs op die nuwe aarde bly ons Here Self die lewende herinnering aan sy offer. Hy bly die Lam wat die sonde van die wêreld weggeneem het.

So sal ons Hom ook dan moet bly ken. Want selfs dan sal daar vir ons geen lewe buiten Hom moontlik wees nie. Sonder die Lam is daar geen lamp in die nuwe Jerusalem. Buiten die Lam is daar slegs die buitenste duisternis.

So dikwels as wat ons Here ons aan die nagmaalstafel nooi, wil Hy ons ook daarvan alreeds deurdring. Hy kom na ons toe soos Hy was in die verlede, aan die kruis, Hy kom na ons toe soos Hy is in die hede, ons Borg in die hemel en ons Gids deur die Gees. Maar Hy kom ook na ons toe soos Hy eendag op die nuwe aarde vir ons sal wees: die Lam wat tot in ewigheid ons lewe waarborg. Daar sal eendag baie vir ons verander: ons vernederde liggame word aan sy verheerlikte liggaam gelyk gemaak, die sonde is heeltemal uit ons lewe weg en ook die gevolge van die sonde het verdwyn. Die trane word van die oë afgevee en die aarde is weer 'n paradys.

Maar een ding sal nie verander nie: ons afhanklikheid van Christus. Ons sal ook dan nog sy vleis moet eet en sy bloed drink. Die brood van die lewe en die water van die lewe word ook dan nog deur Hom aan ons voorsien.

Daarvan wil ons Here ons aan elke nagmaalstafel deurdring, broeders en susters. Ons lewe lê vir ewig in sy hande sedert die dag van Golgota.

Maar dan verstaan u nou ook hoekom die Skrif ons ernstig waarsku om nie op 'n onwaardige wyse van die nagmaalsbrood te eet en van die nagmaalswyn te drink nie. Daar is geen plek aan die tafel van die Here vir eiewyse, selfversekerde, trotse mense wat wel die brood en die beker aanneem, maar daarin nie Christus se liggaam en bloed, en dus: Christus se offer vir ook húl sondes raaksien nie.

Sulke mense beledig die Gasheer. Ja, Paulus skryf in sy brief aan die Korinthiërs dat sulke mense skuldig staan aan die liggaam en bloed van die Here. Hulle het feitlik die kant van die wat Christus destyds gekruisig het, gekies, beteken dit. Dus speel hulle 'n gevaarlike spel met hul eie lewe.

Aan die tafel van die Here is daar slegs plek vir ootmoedige, skuldbewuste mense wat baie mooi weet dat hulle geen lewe in hulleself het nie.

Daar is slegs plek vir verwonderde mense wat dankbaar die lewe uit Christus se hande aanneem.

Daar is slegs plek vir hoopvolle mense wat verlangend uitsien na die einde van die reis en die ewige lewe met hul Here en Heiland.

Maar súlke mense word aan die nagmaalstafel dan ook so gevoed en verkwik dat hulle onderweg nie meer kan beswyk nie, maar die Ryk van God sal bereik.

AMEN.

SONDAG 28 HK / F J BIJZET / 14 JULIE 1991

Liturgie: 

(kyk in preek)