Die doop as waarborg van God se liefde

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Preek Inhoud: 

Ps 87: 1, 2, 3
Ps 87: 4, 5 Na geloofsbelydenis
Ps 118: 7 -8 Voor tafel-aan tafel
Ps 81: 1, 2, 11, 12 Amenlied
Ps 105: 4, 5, 6 Slotsang
Lees: Jakobus 1: 1-11
Teks: Sondag 27

Geliefde gemeente,

As ons van geloof praat, dan is daaraan dikwels die gedagte verbonde van sekerheid. Jy doen belydenis van die ontwyfelbare christelike geloof.

As jy praat van die Verbond, dan dink jy onmiddellik weer in terme van 'n vaste Verbond. Van ewige trou. Van onwankelbare sekerhede. Ons sing daarvan in talle psalms, soos Psalm 89: so seker sal u trou nooit wankel of beswyk nie.

In die geloof vind ons sekerheid en rus. Daarvan is ons almal terdee oortuig. Maar nou die praktyk. Ervaar ons dit ook so? Is daar in die ervarings van die lewe nie ontsaglik baie wat teen die geloof pleit nie? Is die mens, ook die gelowige mens, nie 'n vat vol teenstrydighede nie? Hy is gelowig, ja, maar soms dring die twyfelvrae so by hom op dat hy innerlik verskeur voel. Hy weet van die sekerheid van die geloof. Maar soms word daardie sekerheid oorspoel deur 'n gevoel van onsekerheid. En omdat onsekerheid een van die ###ongelukkigmakendste gevoelens in 'n mens is, gaan jy op soek na sekerheid. Jy soek sekerheid in die geloof.

Wat doen jy? Gaan lees jy 'n boek oor geloofstwyfel? Of oor 'n sekere probleem wat jou spesifiek pla?

Of gaan jy 'n slag met jou predikant gesels? Of trek jy jouself op aan die vaste geloof van jou ouers of jou grootouers?

Dit is almal moontlikhede. Niks mee verkeerd.

Maar moet wel pasop dat jy nie na hierdie hulpmiddele gryp terwyl jy die belangrikste middel verbygaan.

Die belangrikste middel is die middel wat die Here self beskikbaar gestel het. Die Sakramente. Die Heilige Doop en die Heilige Nagmaal.

Hulle is bedoel om vir jou die sekerheid te gee wat jy soek. Hulle is pande, waarborge van God se liefde vir jou.

Omdat dit vanmiddag oor Sondag 27 gaan gee ons die meeste aandag aan die Doop. Ons tema is:

Die Doop as waarborg van God se liefde

Wat dit beteken

  1. vir onsself
  2. vir ons kinders

In die inleiding het ons die probleem aangesny van onsekerheid in die geloof. Elke mens kan te make kry met twyfels in die geloof.

Twyfels aan die leiding van God in jou lewe.

Twyfels aan die betroubaarheid van die Bybel. Of heel breed: twyfels aan die bestaan van 'n God in die hemel. Veral in jou jeugjare kan daardie twyfel vrae 'n mens verskriklik pla. Dit kan jou radeloos maak.

Nou is die vraag: is so'n twyfel wat steeds weer in jou opkom dieselfde as ongeloof?

Of is dit sonde om sulke twyfels te he?

As ons in Jakobus lees, is die oordeel oor 'n twyfelaar nie mals nie: hy wat twyfel is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want die mens moet nie meen dat hy iets van die Here sal ontvang nie- so'n dubbelhartige man, onbestendig in al sy wee.

Ons wil later nog op die woorde van Jakobus terugkom.

Na my oordeel is namelik vrae oor die geloof, onsekerheid oor jouself as gelowige, ja selfs twyfels aan die bestaan van God, heeltemal legitiem.

Want dit is eie aan die geloof self.

Geloof is namelik 'n vertroue in iets wat jy nie sien nie.

Geloof is 'n oorgawe van jou self aan iemand anders.

Aan Iemand wat jou daaglikse waarneming en begripsvermoe ver te bo gaan.

En dit is vir 'n mens, juis as mens, verskriklik moeilik.

Want dit is in stryd met hoe jy gewoonlik met allerhande dinge omgaan. Jy wil dit eers self sien voor jy dit glo. Of jy wil uit eie ervaring kan praat voordat jy jou met hart en siel aan iets oorgee.

Dus dat ons ons vrae het, dat ons onseker voel oor tal van dinge met betrekking tot die geloof is heeltemal menslik.

Jy sou selfs kon stel 'n mens moet deur daardie vrae gaan wil jy werklik 'n ryp gelowige word met 'n deurdagte en deurleefde siening op allerhande sake.

Dus seuns en dogters, moenie skuldig voel as jy allerhande twyfelvrae het nie. Dit is deel van die geloof. 'n Onmisbare deel.

En die Here het daarvoor alle begrip. Dis hoekom Hy soveel moeite doen om jou daarby te help.

Hy laat vir jou die evangelie verkondig. Elke week weer. Hy gee vir jou 'n bybel om self na God te kan luister en 'n persoon-like verhouding met Hom op te bou. Hy gee tot versterking van jou geloof die Heilige Nagmaal. En waar dit vanmiddag spesiaal oor gaan: Hy het vir jou gedoop.

Laat ons dit vasstel: God is wel toornig oor jou sondes, maar Hy is nie boos oor jou twyfels nie.

Inteendeel Hy wil jou daarin te hulp kom.

Onsekerheid in die geloof is dus 'n feit. Dit kom heel algemeen voor. Maar laat ons ook dit se: Dit is wel 'n ongelukkig feit. Want twyfels en onsekerhede kan 'n mens sy rus en sy blydskap volledig ontneem.

En dit is juis wat die Here so graag aan sy kinders wil gee.

Dus ons moet nie in ons twyfels en onsekerhede berus nie, maar op pad gaan na verkryging van sekerheid.

En waar gaan jy dit nou vind? In jouself?

Moet jy jouself 'n slag regruk? Moet jy jou bekeer van jou twyfelvrae? Nee dit werk nie. Jy kan dit probeer, maar vermoedelik is al wat jy bereik dat jy jou twyfels tydelik begrawe, maar dat hulle later net so weer jou kom pla.

Moet jy die oorwinning van jou twyfels soek by ander mense?

Nee want die geloof van ander mense gaan jou tenslotte nie help nie.

Nee as jy jou twyfelvrae wil oorwin moet daar hulp van buiteaf kom. By Godself vandaan. Hy moet 'n teken gee van sy bestaan, Hy moet 'n bewys gee van sy liefde en aandag vir jou.

Daardie bewys wat van die hemel moet kom moet so wees dat dit hier verstaanbaar is. Dat dit vir jou regtig help.

Maar dit kan nie 'n bewys wees wat deur geen mens betwyfel kan word nie. 'n Soort matematiese bewys wat elkeen, of hy wil of nie wil, sal moet aanvaar. So 'n bewys wil God nie eerder gee as op die Jongste Dag. As Christus weerkom na die aarde dan moet elke knie hom buig.

Dan buig jy nie meer op basis van geloof nie, maar uit oormag.

So 'n tipe bewys kry jy nou nog nie, want dit sou in stryd wees met die karakter van die geloof as hoop op wat nie gesien kan word nie.

Dus die bewys wat ons nodig het moet aan die een kant geloof-ondersteunend wees en aan die ander kant ook geloof -vraend.

Ons soek 'n sigbare teken maar nie 'n vir die verstand onomstootlike bewys nie.

Wel, broers en susters, die Here het so 'n teken gevind. Hy het die Doop tot so'n teken gemaak.

Om dit met die woorde van die kategismus te se: "Hy wil ons deur hierdie goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word. "

Net so seker.

God self stel Hom borg daarvoor. Die teken wat jy met eie oe kan vasstel, is onverbreeklik verbonde met die saak wat daaragter le. Namelik dat God jou reinig van jou sondes en jou as sy kind aangeneem het. In die doop handel die Here self. Dit is heel uniek.

Dit geld sowel by die doop van 'n volwassene as by die doop van 'n kind. Die Here handel daar self.

Dit kom die mees sprekend uit by die doop van 'n kind natuurlik. Die Here doen iets daar. Nie die kind nie. Hy is heeltemal onbewus oor wat daar met hom gebeur of wat oor hom gese word.

Ook die ouers is nie die handelende persone nie. Hulle is bystaanders. Betrokke bystaanders, maar nog steeds bystaanders. Die predikant ook. Hy se nie wat hy van die kind dink nie. Hy kan alleen maar namens die Here praat.

"Ek doop jou in die Naam van die Vader, die seun, en die HEilige Gees. "

Hier spreek die Here tot en oor die kind. Ek doop jou.

My liefde en sorg gaan uit na jou.

Dit is wat u as agtergrond van die doop moet raaksien. Die liefde van God. In sy liefde het hy begrip vir al ons probleme. Hy soek ons met sy liefde. Hy soek ook ons antwoord op sy liefde. 'n Liefdesantwoord.

Hy soek nie die antwoord van onderwerping aan 'n onomstootlike bewys nie. Dit pas mos glad nie by die karakter van liefde nie. Liefde is namelik nie afdwingbaar nie.

'n Liefdesantwoord kan jy nie forseer nie. Dit moet vrywillig kom.

Daarom kom die Here nie met 'n tipe bewys wat jy alleem maar kan erken vanwee die onontkombaarheid daarvan, maar kom Hy met 'n bewys wat geloof werk en tegelykertyd geloof vra.

Die sekerheid wat so'n bewys gee is daarom nie 'n matematiese sekerheid nie, maar 'n geloofssekerheid. Die Here wil met sy bewyse ons twyfels en onsekerhede oorwin.

Soos ons beloof het kom ons nog terug op die woorde van Jakobus oor die twyfelaar. Kyk, Jakobus praat daar oor die gebed.

Daarvan se hy, jy moet in die geloof bid. Dit beteken jy moet bid in die vaste vertrouwe dat jou gebed werklik by die Here uitkom.

In die verband bring hy die twyfelaar ter sprake. Hierdie twyfelaar gebruik die gebed op 'n manier van: baat dit nie, dit doen ook nie skade nie. Jy kan dit altyd probeer. Hierdie twyfelaar vertrou homself nie aan God toe nie, maar gebruik die gebed om iets vir homself te bereik. Van so iemand se Jakobus tereg: die mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. So werk dit nie.

Terug na die doop. Met die doop wil die Here jou twyfels en onsekerhede oorwin. Maar dan moet jy jou ook wil laat oorwin. Vir iemand wat se Ek soek eers 'n harde bewys oor die bestaan van God en Sy betrokkenheid by my lewe, gaan ook die bewys wat die doop lewer niks beteken nie.

Want stel dat dit so onder twee mense sou gaan. Die een se vir die ander omdat hy die liefde van die ander betwyfel: bewys my jy liefde, dan kan die ander probeer wat hy wil, maar hy kan nooit 'n vir die verstand onweerlegbare bewys lewer nie. Want as die ander dit nie wil glo nie kan hy altyd argumente vind om enige liefdebewys wat gegee word te ontkrag. Dan moet jy nie die fout soek by die persoon wat tevergeefs sy liefde wil bewys nie, maar by die persoon wat dit nie wil aanvaar nie.

Liefde kan nie matematies bewys word nie.

Liefde kan alleen maar beantwoord word of geweier word.

Liefde sal altyd egte liefde herken.

Wel met die doop gee die hemelse Vader vir jou 'n bewys van sy liefde. Hyself waarborg dat die doop 'n absolute waarborg is van sy aanvaarding van jou as sy kind. Daar is nie een enkele rede om aan sy woorde te twyfel nie. Daar is geen twyfel moontlik: Jy is sy kind.

Al waar jy nog oor kan twyfel is of jy sy kind ook wil wees.

Wel, dit is nou 'n saak van gehoorsaamheid.

Die Here het van sy kant alles gedoen wat Hy kan om vir jou sekerheid te gee. In die doop gee Hy vir jou die waarborg van sy liefde.

En nou is die woord aan jou. Watter antwoord gee jy daarop?

God soek nou 'n antwoord op jou doop.

Jy kan jou nie jou steeds daaraan onttrek nie. God is baie geduldig. Hy gee vir jou baie tyd. Hy het begrip vir jou aarselinge, maar Hy staan nie toe dat jy die pad kies van die twyfelaar van Jakobus 1 nie.

As jy bid om sekerheid in die geloof, dan moet dit ook werklik 'n gebed wees om versekering in die geloof. Dan moet jy ook werklik op doe kniee en om genade smeek. Dan sal jy dit ontvang. Dan sal God dit eenvoudig gee sonder om te verwyt, om nogmaals die woorde van Jakobus aan te haal.

Maar as jy bly staan en twyfel en se: " As God my wil he dan moet Hy dit maar probeer met betere bewyse", dan gaan dit jou verby.

Want jy het jouself onbereikbaar gemaak vir enig liefde bewys.

2. Wat dit beteken vir ons kinders.

Ons het in die eerste punt benadruk dat God die handelende persoon is in die Doop. Feitlik is ouers wat hul kinders ten doop hou maar net bystaanders. Maar dit roep tog wel 'n vraag op. Dit is tog maar die ouers wat moet besluit om hul kind te laat doop. En as jy nou glo dat God in die doop die handelende persoon is, is jy dan eintlik nie besig om 'n kind aan God op te dring nie?

Dit is tog jou kind? Jy wil graag dat dit gedoop word. Maar is God dan verplig om aan enige kind wat in die kerk gedoop word sy liefde te verklaar? Wat gee jou as ouers die reg om dit te verwag?

Wel, daarop is maar een antwoord: die Verbond.

God het in sy genade besluit om met mense 'n verbond aan te gaan. En die verbond beteken dit: Ek skenk my beloftes aan jou wat glo en ook aan jou nageslag na jou.

Gemeente dit is 'n kolossale voorreg waarvan ons skaars die reikwydte besef.

Bedink dit: sinds die sondeval is die sonde in die wereld.

En hoe word die sonde oorgeplant? Presies, van ouers op hul kinders.

Dit is die vloek wat oor die skepping gekom het. Dit is die vloek waaraan ook die ouerskap onderworpe is. As sondige ouers kan jy alleen maar sondige kinders voortbring. Jy dra die erfsonde oor van geslag op geslag.

Dit is die een lyn waardeur ons met Abraham verbonde is.

Maar daar is ook nog 'n ander lyn. En dit is die lyn van die genade. Die lyn van die verbond. Want ook daardie lyn mag deur ouers op hul kinders oorgeplant word.

So goed as die ouerskap die deurgeefkanaal van die sonde is, is die ouerskap ook die deurgeefluik van die genade.

God gebruik die geboorte van ons kinders as 'n instrument in sy Koninkryk.

Is ons kinders dus anders as ander kinders? Nee absoluut nie.

Maar God kyk anders na hulle. Hulle is die toekoms van sy ryk. En daarom wil Hy met hulle werk. Daarby skakel Hy in sy genade ouers in.

En daarom is dit so vreeslik belangrik dat ons ons as ouers ook as middele in die hand van die Here laat gebruik. Daarvoor moet jy self eers goed daarvan deurdronge raak, dat dit genade is dat jy tot die verbond mag behoort.

Dit maak 'n mens vanself anders. As jyself verwonder is oor die feit dat jy in 'n verbond met God mag lewe, dan is dit nie moeilik om dit oor te dra aan jou kinders.

As jy self leef van die liefde van God, dan beinvloed dit die atmosfeer in die huis. Dit kan nie anders nie.

Natuurlik gaan dan nog steeds dinge verkeerd. As vader en as moeder is jy ook maar bra gebrekkig en dit sien die kinders ook wel. Maar as jy bereid is om jou foute te erken en altyd eerste te wees om jouself af te vra: Is my houding wel reg? , dan leer die kinders by die huis wat dit is om van genade te lewe.

Maar as Ma in die huis as die matrone optree wat nooit verkeerd is nie en Pa is so besig met sy werk dat hy nie meer werklik aandag vir die geestelike ontwikkeling van sy kinders (en van homself) het nie, dan moet jy nie verwag dat die verbond vir die kinders later 'n woord sal wees wat vir hulle enige betekenis het nie.

Die verbond is ook van groot belang vir die jongmense wat besig is om uit te kyk na 'n lewenspartner. Jou eerste doel moet wees dat jy later saam met jou man of vrou die Here wil dien. As dit nie die vooropgesette doelstelling van altwee is nie, dan kom die verbond vanaf die begin in die knel en dan is daar later 'n groot probleem. Dus ek kan nie genoeg benadruk: maak daarvan 'n gebedsaak. En bedink dit is genade van God as jy iemand mag vind waarmee jy saam die Here kan dien.

Genade, broers en susters, dit is die woord waarmee ons die preek van van middag wil afsluit.

Genade van God was dit dat ons vandag aan die Nagmaalstafel kon sit. Want niemand van ons het ook maar enigsins sy plek daar verdien.

Laat daardie genade u elke dag van die komende week laat rykvoel. Prys Hom daagliks uit dank vir sy genade.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)