Die gemeente van God is 'n gedoopte gemeente

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor sondag 27 H. K.

Die gemeente van God is 'n gedoopte gemeente.

Lees: Genesis 17: 1 - 22
Teks: Sondag 27 H. K.
sing: Ps. 135: 1, 2, 3
na wet Ps 25: 2
na belydenis Ps 93: 4
Ps 105: 1, 4, 5
Ps 147: 6, 7
Ps 22: 4

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Dis heerlik dat ons vandag met mekaar oor die doop en veral oor die kinderdoop, mag spreek. Dis mos altyd 'n fees vir die gemeente as daar 'n kind in die midde van die gemeente gedoop word. Saam met die ouers is ons dan bly dat God hulle 'n kind geskenk het. Alles het goed gegaan, die Here het lewe gespaar en lewe geskenk. Daar is dan rede vir blydskap en dankbaarheid. Bowendien het nie alleen die ouers nie, maar ook die gemeente 'n kind ryker geword. Daarom is ons almal bly. Veral, gemeente, die verbond van God word opnuut verseel, nie alleen aan daardie kind nie, maar ook aan ons as gemeente. Daarom sal die gemeente dan ook uit volle bors sing: Die Heer wat van geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie.

Tog moet ons vir een ding in ons pasoppens wees. Ons moet daarteen waak dat ons nie die betekenis en krag van die doop in die moment van die bediening van hierdie sakrament, opsluit nie. Ja die moment is hoog feestelik, maar wat in die bediening van die doop gebeur, gaan hom oor die hele lewe van daardie kind uitstrek.

Ons as die gemeente van God word almal daardeur geraak. Deur elke doop word ons aan ons eie doop herinner. Ons is gedoopte christene! Dink aan die eerste doopvraag waarin aan die ouers twee dinge gevra word; eers: Bely u dat ONS kinders, - let veral op die woordjie ONS - hoewel hulle in sondes ontvang en gebore is en daarom aan allerhande ellende, ja selfs aan die ewige oordeel onderworpe is,

Die tweede ding is: Bely u dat hulle nogtans in Christus geheilig is en daarom as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te wees? Sien ons raak dat daar nie staan "behoort gedoop te word nie, " maar behoort gedoop te wees. Daarin le 'n diep betekenis: Die gemeente van God behoort 'n gedoopte gemeente te wees. In hul midde mag daar geen ongedoopte kind gevind word nie. Die hele gemeente van God word in die bad van die wedergeboorte en van die afwassing van sondes ondergedompel.

Gemeente ons almal ken die geskiedenis van die man wat agtendertig jaar siek was en deur Jesus by die badwater Betesda genees is. Betesda beteken: huis van barmhartigheid, maar vir hierdie man was dit 'n huis van onbarmhartigheid. Agtendertig jaar het hy siek gele sonder een mens wat hom wou help, om tydig in die water te kom, wanneer dit in beweging gekom het. Tot Christus daar gekom het, het niemand die heerlike naam Betesda vir daardie man waarheid laat word nie. Christus het die man gesond gemaak en die barmhartigheid van God vir hom sigbaar en tasbaar gemaak.

Dit geld nou ook van ons as gedoopte gemeente. Die gedoopte gemeente van God is vir ons en ons kinders 'n huis van barmhartigheid. In die doop is ons met ons kinders op Christus gewerp, op die barmhartigheid van God wat ons in die doop sigbaar en tasbaar vir die oe gestel word. Daaroor word in sondag 27 heel nadruklik gespreek. Daarin gaan dit oor die betekenis van die doop vir ons en ons kinders, oor die geweldige realiteit van 'n gedoopte gemeente te wees, 'n huis van barmhartigheid midde-in hierdie goddelose wereld. Ons spreek oor:

DIE GEMEENTE VAN GOD IS 'N GEDOOPTE GEMEENTE

  1. Sy is dit kragtens die bevel van God;
  2. Dit word haar deur die beloftes van God verseel;
  3. Daarin le vir haar 'n kragtige oproep om te glo.

I Ons begin die preek oor sondag 27 met die bespreking van vraag en antwoord 74, die laaste van hierdie sondag wat ons direk in die hart van ons onderwerp bring. Moet die jong kinders ook gedoop word? Dit lyk 'n abstrakte teoretiese vraag, maar as die geskiedenis van die reformasie geken word, weet ons dat die doop van kinders in daardie tyd omstrede was.

Op die agtergrond van hierdie vraag staan die veruitwendiging van die doop in die roomse kerk. vraag 72 rig hom ook al daar teen, met: is die uitwendige waterbad dan die afwassing van die sonde self? Rome leer: deur die handeling van die doop word die kind wedergebore. Ongedoopte kinders kom volgens hulle nie in die hemel nie. Hulle sterf buite die staat van genade en kom in die hemel van die kinders tereg. Dis 'n verblyf in die ewige lewe waar hulle wel die saligheid van die hemel van veraf kan sien, maar dit nooit bereik nie.

Teen daardie veruitwendiging van die doop het die kerk van die reformasie hom fel verset. Binne die reformasie het toe 'n stroming gekom wat met die badwater ook die kind uitgegooi het. Hulle het gese kinders doop? Hoe kom jy daarby? Kinders glo mos nie? Kinders doop is rooms. Daar staan mos geskryf wie geglo het en gedoop is sal gered word.

Waar is nou die geloof van so 'n klein kind? Laat dit eers sy geloof bely, dan kan die kind sy doop ontvang. Hulle het die doop van klein kinders 'n honde doop genoem. Soos 'n hond wat uit die water kom so is dit ook met die doopwater van klein kinders. Dis 'n puur uitwendige handeling. Daar is nog geen geloof wat die belofte in die doop verseel, aanneem nie. Weg met die kinderdoop. So het die wederdopers gepraat.

Vandag kan ons dieselfde argumente van Baptiste en sommige Pinkstergroepe aanhoor. Van kinderdoop wil hulle niks weet nie. Die bekende teoloog Karl Barth was ook 'n teenstander van die kinderdoop. Met 'n sprekend beeld het hy sy gevoelens kenbaar gemaak. Hy het die kinderdoop 'n eksekusie sonder slagoffer genoem. Daarmee het hy bedoel as daar geen geloof is kan nie gedoop word nie. Dis goed om te weet waarop die reformasie die kinderdoop gegrond het, sodat ons teenoor hierdie mense ook getuienis van die waarheid kan gee.

Nou moet ons in die eerste plek vasstel dat in die hele Nuwe-Testament geen plek aangewys kan word, waar die kinderdoop beveel word nie. Het ons dit egter nodig? Ons moet die Skrif nie soos Jehovagetuies gebruik nie, wat 'n leer met Bybeltekste het om op elke vraag met 'n teks te kan antwoord. Ook hier moet ons die leer van die ganse Skrif in rekening bring. Dan is daar heelwat argumente wat die kinderdoop aanbeveel. Daarom begin antwoord 74 ook met die kragtige Ja! Ons sal ons kinders doop. Daar is in die eerste plek die argument dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het. Daardie argument is gewigtig, ons doopsformulier verwys na Gen. 17 waar God in vers 7 vir Abraham se: "Ek bring 'n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is 'n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. " Ons doopsformulier se: Dit wat God tot Abraham, die vader van al die gelowiges se, geld ook vir ons kinders!

Nou moet ons raaksien dat in Gen. 17 nie alleen die verbond deur God tot stand gebring word nie, maar dat onmiddelik daarna in vers 10 die besnydenis ingestel is. Verbond en teken behoort bymekaar! Daar moet ook op die plek van die tot stand kom van die verbond gelet word. In Gen. 16 is die geboorte van Ismael opgeneem en in Gen. 18 word die geboorte van Isak aangekondig. Ismael is deur Abraham verwek toe hy nog nie besny was nie, maar die seun van die belofte sal deur Abraham verwek word nou hy klaar besny is. Uit Isak sal die Messias voortkom!

Toe Abraham nege en negentig jaar oud was, en Ismael al 13 jaar oud, het die Here aan Abraham verskyn, die verbond met Abraham gebring, die besnydenis ingestel, en gese: Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: elke seun onder julle van agt dae oud moet besny word. God het nie nodig gehad om vir Abraham te vertel hoe die besnydenis gedoen moet word nie. Dit was in daardie dae al 'n bekende oosterse gewoonte, wat nou 'n geheel eie betekenis gekry het. God het die teken vir sy verbond in gebruik geneem, soos hy by Noag die reenboog in gebruik geneem het.

Ons wil die betekenis van die besnydenis nog wat meer uitdiep, sonder sig op die besnydenis kan ons die doop van klein kinders nie verstaan nie. Besnydenis is 'n kleine ingreep aan die manlik geslagsdeel. Die voorhuid daarvan word losgesny. Daar word 'n skerp mes vir gebruik en 'n bietjie bloed sal daarby vloei. Die Israeliet het die mes in die vlees van sy eie seuntjie geset. Daardie kind is in sonde ontvang en gebore. Sonder dat hulle dit weet het hulle deel aan die verdoemenis in Adam. In die lewe van elke mens is die erfsonde 'n geweldige werklikheid en daardeur die toorn van God teen ons rebellie in Adam.

Eintlik moes die mes van die toorn van God elke mens dodelik tref. Daarom word die mes op die mees kwetsbare plek van die kind ingesteek. Daarby vloei bloed. Eintlik moes onder die toorn van God al die bloed wegvloei. God sien egter vorentoe na Hom wat al sy bloed vir hierdie skuldige mense sal stort. Jesus Christus sal die toorn van God vir almal wat in Hom is tot in die dood toe wegdra.

Daar is nog 'n kant van die sakrament van die besnydenis wat ons aandag werd is. Die besnydenis het in die vlees van die seuns 'n lidteken agtergelaat, waarmee hul elke dag gekonfronteer is. Elke dag het daardie lidteken vir hulle van die verbond van God gespreek. Soos Gen. 17 se: So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as 'n blywende verbond. God het in Israel grote erns met die heilig sakramente gemaak. Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.

Dink hoe die Here Moses wou doodmaak omdat sy seuns nie besny was nie. Hoe sou hy ook die tweede sakrament, die Pasga, kan instel as hy die eerste een verwaarloos? Sippora vat toe die klipmes, sny haar seuns se voorhuid af, raak daarmee aan Moses se voete en se: Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word. Toe het God vir Moses gespaar.

So sterk het God oor die sakramente van die besnydenis gevoel. Hulle wat egter die kinderdoop bestry, se: Die teken was maar net uitwendig dat die besnedene tot die volk Israel behoort het, maar het geen geestelike inhoud gehad nie. Die besnydenis mag nie met die doop op een lyn gestel word, dit het niks met die genade van God te doen nie.

Sou dit waar wees gemeente dat die besnydenis geen geskenk van die genade van God was nie? As dit dan net 'n uitwendige teken was, hoe het Dawid dan so ontroerend in die 22 Psalm daarvan kan sing? In vers 10 en 11 lees ons: "Ja, U is dit wat my uit die moederskoot uitgetrek het, wat my veilig laat rus het aan my moeder se bors. Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God. " So het Dawid die geloofsekerheid van elke ouerpaar in Israel wat hul seuntjie die agste dag besny het, weergegee. As daar een is wat die vertroostende en bemoedigende krag van die besnydenis in sy lewe ervaar het dan is dit Dawid gewees.

As die besnydenis alleen 'n uitwendige teken was, hoe het die Here dan in Jeremia 4: 4 Israel kan oproep: "Besny julle vir die Here en verwyder die onbesnedenheid van julle hart" Juis die besnydenis van die liggaamlike voorhuid het elke Israeliet opgeroep om die voorhuid van hulle hart te besny. Soos ook ons doop betuig dat ons liggaam in diens van God moet staan. Met die koms van Christus het die verbond nie armer maar ryker geword. Paulus skryf in Rom. 5: 15 "Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en die gawe wat deur die genade van die een mens Jesus Christus, gekom het, is veel oorvloediger aan baie geskenk".

Inderdaad gemeente, in die Nuwe-Testament staan daar nie woordelik dat kinders gedoop moet word nie. Maar nadat Paulus in Kolossense 2 die heerlikheid van Christus beskryf het, word daar deur hom 'n onmiddelik verband tussen besnydenis en doop gele. Hy se: dat ons in Christus besny is, met 'n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te le in die besnydenis van Christus, omdat ons saam met Hom begrawe is in die doop. Die doop is die besnydenis van Christus! Sal die Here wat in die ou bedeling sy genade in die besnydenis aan seuntjies van agt dae verseel het, die verseeling in die nuwe bedeling aan die kinders onthou? Immers nee, genade word nou oorvloediger geskenk!

Tot vyfmaal toe lees ons in die Nuwe-Testament dat 'n huigesin gedoop word; het die kinders nie tot die huisgesin behoort nie? In Hand. 16: 15 staan van Lidia: "Sy en haar huisgesin is toe gedoop. " In 1 Kor. 1: 16 se Paulus dat hy die huisgesin van Stefanas gedoop het. In daardie tyd is tot die huisgesin nie alleen die kinders maar ook die gekoopte slawe met hul kinders gereken. Is dit vir ouers wat kinders wettig aangeneem het geen aanmoediging om daardie kinders vrymoedig te laat doop nie?

Heerlik gemeente wanneer daar 'n kind in ons midde gedoop word. Die gemeente van God is 'n gedoopte gemeente! Dis fees in die kerk as daar 'n kind gedoop word. Heerlik word in antwoord 74 die genade van God in die doop geskenk, beskrywe, as daar gese word: dat aan die kinders nie minder as aan die volwassenes nie, deur die bloed van Christus beloof word, die verlossing van sondes en die Heilige Gees wat die geloof werk. Daardie ryk belofte word in die doop aan ons kinders verseel.

Daarom se die eerste doopvraag dat hulle as lidmate van sy gemeente behoort gedoop te wees. Ja dit staan daar as lidmate behoort hulle gedoop te wees! Daarom sal ons die doop van ons kinders nie nodeloos uitstel nie. Sou ons ook die geskenk van God vir ons kinders nie so spoedig moontlik begeer nie?

II Die gemeente van God is 'n gedoopte gemeente. Dit mag die gemeente wees, daarom is daar ook die bevel om haar kinders te doop. Tegelyk is daar vir ons as gemeente 'n ryke belofte aan verbind. Daaroor word in vraag en antwoord 72 en 73 gespreek. In die begin van die preek is dit al genoem, nou kom ons daarop terug. Heel skerp word direk in sondag 27 gevra: Is die uiterlike waterbad dan die afwassing van die sondes self? Skerper kan die strydpunt insake die doop tussen rome en reformasie nie geformuleer word nie. Dis 'n vraag reg op die man af: Is daar in die doopwater self 'n krag tot wedergeboorte aanwesig? Stel jou dit voor, dan is net die doop al voldoende om die kind innerlik te vernuwe. Asof daar in die doopwater 'n misterieuse krag aanwesig is, soos rome dit ook leer. Nee absoluut nie! Doopwater is gewoon munisipale water.

Die leerling, wat in die leerhuis van die kerk sy vrae stel is nou regtig deurmekaar. Die doopwater gewoon water sonder besondere krag en tog word die doop deur die Heilige Gees die bad van die wedergeboorte en afwassing van die sondes, genoem. Hoe moet ek nou die kloutjie by die oor bring? Gemeente dis nou die diepe geheim van die doop, dis in die noue verband opgesluit, wat God tussen die uitwendig waterbad en dit wat deur God geskenk word, gele het.

Ons vaders het die uitwendige waterbad die teken van die beloftes van God genoem. Dit wat daardeur afgebeeld word die geestelike geloofssaak het hulle die betekende saak genoem. As ons hierdie terme vashou sal ons dit help om die geheim van die doop te deurgrond. Die bekende geskiedenis van Hofni en Pinehas die twee seuns van die hoepriester Eli wat die ark van God in die leerkamp van Israel gebring het. Israel het gedink: as ons die, ark waarbo die Here woon, in die stryd saamvat sal ons seker oorwin. Virseker was die ark die uitwendige teken dat die Here onder sy volk woon. Alleen die ark was nie Godself nie.

Dat die ark die teken van sy teenwoordigheid was, maar nie die betekende saak self nie, het die Here vir Israel vinnig duidelik gemaak. Hy het die ark as buit vir die Filistyne gegee. Teenoor die Filistyne het God egter net andersom opgetree, as hulle dink hulle het die God van Israel gevang, dan val die beeld van Dagon voor die ark in stukke, God laat nou sien dat wie hom aan die teken vergryp, homself ook aan die betekende saak vergryp. So nou is die twee aan mekaar verbind!

Laat ons dit nou op die doop toepas: Die doopwater, die teken is nie identies aan die betekende saak nie! Die teken is daar egter wel nou aan verbind. Antwoord 73 se dan ook heel mooi: God noem die doop nie sonder gewigtige redes, die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes nie. Die teken en die betekende saak is baie nou met mekaar verbind. Sien hoe vloei die doopwater van die koppie van die kind wat gedoop word. Sien dit! So was die bloed en die Gees van Christus ons sondes weg. Daardie kind is in sondes ontvang en gebore, ja selfs in Adam aan die ewig oordeel onderwerp.

Nou kom God na hierdie kind, na sy ouers, na ons as gemeente toe en se: Soos die water die kind was, so was en reinig Ek in my barmhartigheid die kind van die erfskuld. In geloof gryp ons nou die verband tussen die beide aan! Is daar nog twyfel? God Kom ons nog verder tegemoet en se: So waaragtig as die water was en reinig, so waaragtig beloof ek hierdie kind, en die ouers en almal wat hier saam in die kerk vergader is, almal, van al die sondes te was en reinig. Daarvan is die doop my goddelike pand en teken. Immers die kind word in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop. Dring die belowende en versekerende krag van hierdie doopformule wel tot ons deur? Die heilige drieenige God is hier aanwesig en dra in die sakrament van die doop sy genade na ons toe.

Wat is ons partymaal swak in ons geloof gemeente. Telkens word daar deur die duiwel twyfel vrae in ons hart gewek. Soos: Is ek eg 'n kind van God? Is die belofte wel vir my gegee? Hoe kry ek sekerheid? Baie het die sekerheid in hulself gesoek. In onsself word ons teleur gestel. Ons voorneme was om teen die sonde te stry, en tog val ons steeds weer in die sonde terug. Ons is 'n gedoopte gemeente, Ons is soos Dawid in Psalm 22 se: van ons geboorte af aan God oorgegee. Daardie beloftes van God moet ons aangryp, ons met ons doop troos. Dan kan ons bely: van die skoot van my moeder af is U my God.

Die bekende predikant Kohlbrugge van die vorige eeu het op die vraag wat is die troos van die heilige doop, geantwoord: Dat ek in my doop op die koninklike, vaderlike en saligmakende Naam gewerp is, ook met al my skulde sondes en nood in die boek van die lewe opgeteken is.

Dit beteken dat ek 'n ryke God en genadige Vader in die hemel het. Is dit nie troosvol gemeente?

III Ons het nou tot die laaste gekom. Die eerste was, ons is op die bevel van God gedoop. Die tweede, die beloftes word aan ons verseel. Tenslotte is daar in ons doop vir ons almal 'n oproep. In die eerste plek word die ouers van die gedoopte kind daardeur geraak. Hulle hou die kind ten doop. Hulle is die nouste daarby betrek. Deur die doop van hul kind word hulle ook in hul geloof versterk.

Het ons daar weleens opgelet hoe baie in die doopsformulier die woordjie 'ons' gebruik word? Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore. Die verbondswooorde wat God vir Abraham gegee het, geld ook vir ons en ons kinders. Daarom het ons belowe om ons kinders in die leer van die kerk te onderrig en te laat onderrig. As ouers het ons die plig op ons geneem. By elke doop in die midde van die gemeente word ons daartoe weer opnuut opgeroep. Doen ons dit? Is dit die inset van ons lewe? Word dit in woord en daad gedoen, sodat ons kinders sien dat ons ook gedoopte ouers is? Het die kerkverlating van ons jeug, sy wortel nie in die verwaarlosing van ons belofte by die doopfont nie? Is ons lewe in ooreenstemming met wat ons bely? Dis 'n hoe roeping wat daar op ons vaders en moeders in die kerk afkom.

Die doop roep ons almal op gemeente. Ook hulle wat geen kinders ontvang het, of nie getroud is nie. Dis 'n opdrag wat vir die hele gemeente van krag is. Ons almal saam is die gedoopte gemeente, die gesin van God. Die jeug wat in die kerk gedoop is, is ons jeug, hoe gaan ons met hulle om?

Ja, en nou ons kinders self? Seuns en dogters julle het hierdie preek gehoor, miskien het julle nie alles verstaan nie. Maar ons hoop dat julle vanmore verstaan het dat julle by die Here Jesus behoort en daarom lidmaat van sy gemeente is. Christus self het die kinders die hande opgele en hulle geseen. In die verbond is julle kinders van God, dit beteken julle het 'n Vader in die hemel.

Ook julle wat die skool verlaat, in die weermag gaan, gaan werk of verder studeer, kies vandag wie julle wil dien, stel dit nie uit nie. Julle wat soek na 'n lewensmaat, kies nie voordat jy vir die Here gekies het nie. Die Here soek julle hart. Daar gaan van die doop op ons almal 'n diepe en ernstige oproep uit. Paulus het in 1 Kor. 10 daarop gewys dat alle Israeliete onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see deurgegaan het. Omdat hulle almal Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en die see gedoop. Almal het dieselfde geestelike voedsel geeet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit 'n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die Rots was Christus. Tog was God met die meeste van hulle nie tevrede nie, want hulle het in die woestyn omgekom.

Hulle het hul hart nie aan die God van hul doop in die wolk en in die see gegee nie. Laat dit nie van ons gese word nie gemeente. Ons is 'n gedoopte gemeente. Dit is 'n ryke belofte, maar tegelyk 'n ernstige oproep. Om ons hart te gee aan die God waarop ons by ons doop gewerp is. Want: Die Heer wat van geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie; al sy beloftes bly van krag tot in die duisendste geslag. Verbond met Abraham sy vrind bevestig Hy van kind tot kind.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)