God versterk deur die doop ons geloof in Sy verbondsbeloftes

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 27 H.K.

LITURGIE
L. Genesis 17
Ps. 105: 4, 5
Ps. 105: 1
SB. 2: 1, 2
Ps. 111: 5
Ps. 146: 1, 8

Broeders en susters,

So dikwels as wat hier in die kerk die doop bedien word, mag ons iets sien van dit wat ons moet glo.

Dit is mos die bedoeling van die sakrament. "Sakramente is -so het ons in Sondag 25 geleer- sígbare tekens en seëls wat God ingestel het om ons die belofte van die evangelie nog beter te laat verstaan... ". Die doop is dus 'n sigbare hulpmiddel by God se beloftes. 'n Sigbare onderstreping van dit wat God aan ons laat hoor.

Moet ons meestal net hóór, by die doop mag ons ook sién.

Maar nou bestaan die gevaar dat ons ons aan die doop verkyk. Ons kan verkeerd kyk en ons aandag rig op dit wat nie juis die meeste aandag mag hê nie.

Ons kan bv. ons aan die doopwater verkyk en dink dat dit 'n soort towermiddel is waardeur outomaties ons ou lewe van ons af weggespoel en 'n nuwe lewe oopgesluit word. Ons kan meen die water is sélf die reinigingsmiddel waardeur ons skuld by God weggewas word.

Ons kan ons ook aan die dopeling verkyk en dink dat daar in hierdie mens iets besonders gebeur het sodat hy dáárom gedoop kan word. Ons kan dink dat die mens eers alreeds van binne gereinig moet wees, voordat hy van buite die doopwater kan ontvang.

Maar in albei die gevalle kyk ons mis.

En moet veral nie dink dat die gevaar waarvoor ek waarsku bloot denkbeeldig is nie. Die kerkgeskiedenis leer vir ons dat hierdie twee vorme van miskyk telkens weer in die kerk voorgekom het.

Dis dié dat u Sondag 27 in ons Kategismus aantref. 'n Ekstra hoofstuk oor die doop, waarin vir altwee vergissings gewaarsku word. Die Kategismus leer ons in Sondag 27 om ons nie aan die uitwendige waterbad (daardie handvol water) te verkyk nie, en om by die doop ook nie op die innerlike mens te let nie, maar om alle aandag op die Gód van die doop te rig, wat met die doopwater sy verbondsbeloftes aan die dopeling wil onderstreep.

Ek kan die boodskap wat ek vanuit hierdie sondagsafdeling vir u moet deurgee, soos volg saamvat:

GOD VERSTERK DEUR DIE DOOP ONS GELOOF IN SY VERBONDSBELOFTES

ONS MOET DAAROM OP DIÉ BELOFTES VERTROU,

    EN NIE OP

  1. DIE UITERLIKE AFWASSING MET DIE WATER NIE

    EN OOK NIE OP

  2. 'N INNERLIKE VERANDERING IN DIE MENS NIE.

1. By elke doopsbediening opnuut word 'n pasgebore baba met die hoogbejaarde Abraham in verband gebring, broeders en susters.

Ons sing dikwels daardie bekende vers uit Psalm 105: "Die HEER wat van geen wankel weet nie... ". Maar ook as ons 'n ander vers sing -en daar is heelparty ander Psalms wat by die bediening van die doop gesing kan word- hoor ons nog van Abraham in die doopsformuliér. Dit wat God tot Abraham, die vader van al die gelowiges, gesê het, geld ook vir ons en ons kinders, so hoor ons daar.

Ons word dus nog by enige doopsbediening herinner aan die man wat eendag aan die wieg van die kerk gestaan het.

En dit is 'n goeie ding, want by elke nuwe doopsbediening bevestig die HERE aan daardie nuwe kind die verbond met die ou Abraham, sy vrind.

Daarom moet ons maar elke keer weer in ons gedagtes teruggaan na Abraham se tente. In die tent het die HERE destyds mos duidelik gemaak hoe dat Hy met sondige mense 'n verbond tot stand bring en in stand hou.

Daar was 'n dag waarop God die vele volkere voorlopig losgelaat het om Hom voortaan op een egpaar te konsentreer: Abram en Sarai.

Hierdie wegversmalling was nie die gevolg van 'n blikvernouing nie. Dit blyk al meteens wanneer God Abram uit Ur van die Chaldeërs wegroep om te gaan na die land wat Hy hom sou wys: in Abram sal al die geslagte van die aarde eendag geseën word. Abram word die seënbewaarder vir die vele volke.

Maar hy kan dit alleen word as hy voorlopig in die isolement bly waarin God hom sal bring. Die HERE wil in hierdie een man veilig stel dit wat in die lewe van die vele volke dreig om verlore te gaan. God plaas Abram apart en maak hom tot 'n nuwe sentrum vanwaaruit Hy aan die heil van alle volke sal werk: die totale verlossing van die sondes.

Maar vanaf die dag waarop God kom roep het, moes Abram en Sarai leer om met beloftes te lewe. God het nageslag beloof, ontelbaar soos die sand aan die strand en soos die sterre aan die hemel. God het 'n land waarin daardie nagaslag sou mag woon, beloof.

Maar dit het 'n hele ruk wel by beloftes gebly. Land nog kinders het 'n werklikheid geword. En dit het gelyk asof hulle ook nooit 'n werklikheid kón word nie. Want Sarai was onvrugbaar, Abram het al hoe ouer geword en hoe sou 'n uitsterwende geslag vir homself land moet verwerf?

So het die weg waarop die HERE Abram saamgeneem het, uit die staanspoor uit 'n weg van geloof geword. En daar was baie geloof nodig om nie te dink dat hierdie weg wel 'n doodloopstraat moes word nie. Want God het Abram se geloof swaar op die proef gestel.

Ons het Genesis 17 gelees. Nog altyd is daar nie 'n kind uit Abram en Sarai gebore nie. Nog altyd is daar geen duimbreedte grond van Abram nie. Abram het wel al 'n noodoplossing voorgestel: Eliëser, die owerste oor sy huis, moes maar sy erfgenaam word.

Abram het selfs al die tussenoplossing probeer dat hy by Hagar, Sarai se slawin, 'n kind verwek het. Maar God aanvaar nie hierdie oplossings nie. Nee: daar sal 'n eie seun van Abram en Sarai kom.

En nou, in Genesis 17, gaan God wel baie ver. Hy pas selfs Abram en Sarai se name aan: Abraham sal dit wees- vader van 'n menigte van nasies. En Saria word Sara: vorstin. En opnuut praat die HERE van "buitengewoon vrugbaar maak".

Maar nou lê die HERE Homself bowendien vas in 'n verbond: "Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag na jou in hulle geslagte, as 'n ewige verbond.... " So ver wil God gaan. Hy lê al sy beloftes vas in 'n verbondsafspraak. En daarmee lê Hy Homself vas. Hy kan nie meer terug nie. Hy wil ook nie meer terug nie. Hy sal met hierdie Abraham verder kom.

En dan, gemeente, doen ook die besnydenis sy intree. As 'n teken van hierdie verbond van God met Abraham.

Die mes moet in Abraham se geslagsorgaan wat alreeds onbruikbaar geword het. "Verstorwe" sê Paulus mos in Rom. 4. Maar God wil hierdie verstorwe geslagsorgaan tog inskakel vir die voortgang van sy verbond. Uit hierdie ou man sál die menigte wat niemand kan tel nie, groei. Abraham kry die teken daarvan in sy vleis- juis daar waar die saad van die verbond tevoorskyn sal moet kom.

Verstaan u die betekenis van hierdie verbondsteken, broeders en susters?

Hierdie besnydenis het enersyds van Abraham se eie on-mag getuig, maar terselfdertyd van God se al-mag. Abraham was van homself nie bruikbaar vir die groot taak waarvoor die HERE hom uitgekies het nie. Hy kon die saad van die verbond nie tevoorskyn bring nie. Eers moes 'n mes gebruik word en moes daar vleis van die mens weggesny word in 'n pynlike operasie. So dikwels as wat Abraham voortaan homself sou sien, sou hy aan sy eie onmag herinner word. Dit is nie aan hom te danke as God met sy verlossingsplanne verder kom nie.

Tegelyk het die besnydenis Abraham geleer om nou ook alleen nog van God se almag alles te verwag. So dikwels Hy na homself gekyk het, moes hy van homself afsien en hom aan God se beloftes uitlewer. Nie Abraham se prestasie, of Abraham se manipulasie nie, maar Abraham se vertrouwe op God se beloftes sou die toekoms ontsluit. Wat God beloof het bly van krag.

Die verwagting van Isak moes begin met die verwagting van God.

Kyk, so wou hierdie teken 'n versterking wees vir die geloof waarin Abraham hom met al sy magteloosheid aan die almag van God moes toevertrou. In sy liggaam, op 'n heel sprekende plek, het hy nou die waarborg met hom saamgedra dat hy sy God mog hou aan dit wat Hy beloof het. Gelowig mog Abraham met hierdie teken weer die huweliksgemeenskap met sy onvrugbare Sara soek. God was by magte om selfs wat dood is, weer lewend te maak.

Maar dit kon ook nie sonder dié geloof nie! Dit moet vanaand al ons aandag kry, broeders en susters, as ons die betekenis van die teken in die nuwe verbond, ons doop, wil verstaan. Abraham kon nie voortaan net op daardie uiterlike teken vertrou nie, maar hy moes lewe by God se belóftes wat daaragter gelê het. En as hy daardie beloftes nie sou glo nie, sou daardie eienaardige teken ook niks meer vir hom beteken nie. Dan sou die besnydenis 'n bespotlike operasie geword het by 'n man wat al so oud was.

Daar was mos ook nou nog altyd geen seun uit hom en Sara gebore nie, laat staan 'n volk ontelbaar soos die sterre! Dit moes alles nog sigbaar word toe die mes in Abraham se vleis gesny het. Maar as hy hom aan God se beloftes sou oorgee, dán sou hierdie sprekende teken hom help om dwars teen allerlei menslike logika in, hom aan God se beloftes gewonne te gee en sy God op die vervulling van sy beloftes te bly aanspreek.

Ons ken vandag nie meer die besnydenis as verbondsteken nie, gemeente. Want God het met sy verbond al baie verder as destys by Abraham gekom. Die smalle weg van daardie tyd het nie doodgeloop nie. Abraham het sy seun gekry. Meer nog. Uit daardie seun het die God van Abraham op die ou end sy eie Seun gegee, wat met sy kosbare bloed die nuwe en ewige verbond vir ewig vasgemaak het. Hierdie Seun, ons Here Jesus Christus, staan nou in eie Persoon Borg vir verbond met God. En na sy opwekking uit die dood en sy hemelvaart sorg Hy vanuit die hemel daarvoor dat die beloftes wat alreeds aan Abraham gedoen is, nou volledig vervul sal word. Hy roep deur sy Heilige Gees die vele volkere nou na God se een seën toe, om hulle so in die hemelse Kanaän te laat deel. Hy bly nou nie langer by een volk apart staan nie, maar het sy apostels na alle volkere uitgestuur: Gaan dan heen, maak al die nasies tot my dissipels en doop hulle....

Die doop het nou in die plek van die besnydenis gekom. Die simboliek daarvan is wel 'n bietjie anderste. Maar die hoofsaak het dieselfde gebly, en dit moet vanaand ons aandag hê: ook hierdie verbondsteken moet in geloof gebruik word. Ook die doop is deur die HERe aan sy verbondskinders gegee om hulle geloof te versterk.

Net soos die besnydenis wil ook die doop ons leer van van onsself áf te sien en om na God óp te sien. Die water herinner ons aanhoudend aan ons eie vuilheid. Ons kan so in God se Koninkryk nie inkom nie. Maar tegelyk leer die doop vir ons dat God self ons sondes sal wegwas en die toekoms weer vir ons sal oopmaak.

Maar ook nou lê die krag nie in die teken as sulks nie. Van die uiterlike afwassing met die doopwater, voor in die kerk, of in 'n rivier, op die sendingsveld, gaan as sodanig geen enkele krag uit as dit van God se beloftes losgemaak word nie.

Moet u nie aan daardie bietjie water verkyk nie. Dit het geen magiese reinigende krag nie. Dit is net 'n teken. 'n Teken wat alleen betekenis het vir wie God se belofte-woord glo.

Op hierdie punt moet die Heidelbergse Kategismus in Sondag 27 dan ook walgooi teen die Roomse sakramentsleer. Die Roomse Kerk het tog die krag van die doop in die uiterlike afwassing met die water gelê. Soos dit by die mis 'n goddelike krag in die brood en die wyn gelê het. Die Nederlandse Geloofsbelydenis herinner in Art. 15 spesiaal aan hierdie Roomse doopleer, wanneer daar gesê word dat selfs die doop die erfsonde nie geheel en al tot nie maak of volkome uitroei nie. Die Roomse kerk leer naamlik dat die mens wel met erfsonde gebore word, maar sodra die doopwater gevloei het, het daar van die erfsonde niks oorgebly nie en het God se genade daarvoor in die plek gekom. Daarom ken hulle in die Roomse kerk ook die vroegdoop, en as dit moet wees: die nooddoop aan pasgebore baba's wat dreig te sterwe; die doop moet hoe dan ook toegedien word, anders is daardie kind verlore!

Die water het 'n wondermiddel geword.

Feitlik vind ons so'n verkeerde siening op die doopwater ook, in 'n bietjie ander vorm, in groot volkskerke waar alles wat in die doophuis ingedra word, maar gedoop word, sonder om voldoende daarop toe te sien of die doopouers ook by God se beloftewoorde leef.

Want lewe in die verbond vereis allereers: luister! Hoor en gehoorsaam wees. "My gebooie onderhou", sê die HERE in die 2de gebod van sy verbondswet. Want waar nie langer geluister word nie, daar verdwyn die verbond. In die derde en vierde geslag.

Al bly hulle ook nog geslagte lank doop. God se verbond is nie oral waar doopwater vloei nie. Sy verbond is daar waar sy Woord gehoor en geglo word. En dáár word die teken by die Woord van betekenis. As 'n versterker van die geloof.

Broeders en susters, moet daarom nie in u doop geglo nie. Maar glo in die Gód van u doop. Vertrou nie op daardie water nie. Vertrou op God se Woord.

God het Homself, net soos eendag in die besnydenis van Abraham, nou in die doop vasgelê op sy beloftes. Hy wil nou dat ons Hom ook op sy woord glo, as die kinders van Abraham, ons vader. Ons moet leef op sy beloftes. Ons kinders leer om op daardie beloftes te lewe. Soveel as moontlik Skoolonderwys vir hulle soek wat met God se verbondswoorde rekening hou.

Want as ons God se Woord loslaat, gaan ons -al is ons ook 100 keer gedoop- deur ons eie skuld verlore. Dan word die doopwater wat ons tot voordeel gegee was, maar net 'n oordeel vir ons.

Maar as ek my gelowig aan God se Woord toevertrou, dan is die doopwater 'n groot steun vir my. Dan herinner dit my aanhoudend aan God se verbondstrou, dat Hy my Vader wil wees, dat Hy my versorg, ten spyte van my sondes, ja, dat Hy my in die ewige lewe bring.

Nes Abraham staan ek partymaal met die rug teen die muur. Dan kan die vraag benouend groot word: waar bly God se beloftes? ! Wat word daarvan wáár? !

Maar dan waarborg my doop vir my: die HERE wat van geen wankel weet nie, sal nimmer sy verbond vergeet nie. Al sy beloftes bly van krag. Sy Seun staan mos Borg daarvoor!

2. Ek het in die inleiding op hierdie preek gesê: ons kan ons by die doop verkyk aan die wáter van die doop. Maar ons kan ons ook verkyk aan die méns wat gedoop word. En daarop wil ek nou in die tweede plek nog nader ingaan.

Die H.K. vra in Sondag 27: "Moet die klein kinders ook gedoop word? " Agter hierdie vraag lê 'n wêreld van stryd. Die stryd teen die Wederdopers in die dae van die Reformasie. Dié stryd is nog altyd nie klaar gestry nie, aangesien die Wederdopers uit daardie dae hul geesverwante gekry het in die Baptiste en in die diverse Pikstergroepe van vandag.

Hulle redenering lyk logies: in die verbond met die HERE is daar gelóóf nodig. Kyk net na Abraham. En sonder geloof het die teken van die besnydenis mos ook nie gewerk nie? Nou maar goed, klein kinders, babás, kan nog nie glo nie. Hulle is nog te klein daarvoor. Wie of God is, en wat God wil hê- dit gaan hulle verstand nog te bowe. Dus moet hulle ook nog nie gedoop word nie. Hulle moet eers tot geloof kom, en eers dan, by hulle geloofsbelydenis, ook die teken by die geloof ontvang.

Maar hoe deursigtig en eenvoudig hierdie redenering ook al mag lyk, ge, meente, dit is dodelik vir die egte lewe in die verbond met die HERE!!

Want die groot fout wat gemaak word, is dat daar vir die doop 'n aanknopingspunt in die innerlik van die mens gesoek word. Daarbinne moet eers 'n verandering plaasgevind het, daar moet die geloof begin groei het, daar moet bekering op gang gekom het- en eers dan kan daar sprake van 'n verbond met die HERE wees en van 'n beseëling daarvan deur die doop.

En so onderstreep dan die doop dus feitlik die innerlike bekering wat alreeds in die mens tot stand gekom het.

Dalk onthou u nog -die kinders moet dit in die katkisasieklas ook leer-: so'n gedagtegang het ook agter Dr Abraham Kuyper se lerings oor doop en verbond gelê. Kuyper het nie so ver gegaan dat hy die kinderdoop wou afskaf of afkeur nie, maar hy het van die doop wel 'n beseëling gemaak van die verandering wat daar alreeds in die kind wat gedoop sou word, tot stand gekom het. Ons moes daardie baba vir wedergebore hou -dit het alreeds tot die uitverkorenes behoort en die eerste kiem van die nuwe lewe was alreeds deur God geplant- totdat die teendeel geblyk het. En in die laaste geval was die doop 'n vergissing gewees. Nie 'n egte doop nie. Net vermorsing van water.

U sien: jy kan sommer by die doop alle aandag verlê ván God se beloftes ná 'n (veronderstelde) innerlike verandering by die mens. En dan beland ons op die ou end by die humanisme en is die pad oop vir die vrysinnige moderne teologie.

Daarom moet ons liewer nog 'n keer teruggaan na Abraham se tente, om te leer dat ons in die verbond met die HERE ewemin aan die innerlik van die mens as aan die uiterlike teken houvas mag soek.

Het God nie self die pad vir sy verbond met Abraham gebaan deur Hom na Hom toe te roep nie? Nie Abraham het vir God gekies nie- God het vir Abraham gekies en het roepend in sy lewensgeskiedenis ingegryp.

En soos dit begin het, so het dit gebly: God se roepstem het Abraham saamgeneem, het hom voortgetrek, het hom deurgehelp.

En toe op 'n stadium die teken van die besnydenis gekom het, wou die HERE vir Abraham daarmee leer om nou ook alleen van daardie roepstem van die HERE die voortgang van die verbond te verwag. Dis hoekom God eers opsetlik die moontlikheid om kinders voort te bring heeltemal laat opdroog het by Abraham en Sara, om eers daarna, deur 'n wonder, tog nageslag te gee in Isak.

Abraham en Sara is in 'n jare lank moet wag tot die erkenning van hul eie volslae onvermoë gebring. Alle menslike vermoëns is deur God uitgeblus. En daarna het Hy tog uit hierdie huwelik die seun wat beloof was, gegee.

So het die HERE toe eens en vir altyd baie duidelik gemaak dat nie ménse sy verlossingsplanne verder help nie. Geen menslike beslissing nie, maar goddelike beskikking sorg daarvoor dat daar op aarde 'n volk kom wat God wil dien.

Dis dié dat die HERE in sy verbond met Abraham ook meteens die hele nageslag van Abraham wat nog moes gebore word, in sy verbond betrek het. Dis dié dat Isak en voortaan alle seuntjies in die kerk alreeds op die 8ste dag ook besny moes word. Terwyl daar by hulle nog geen sprake kon wees van geloof nie, het hulle alreeds die teken van die verbond in hulle vleis gekry. Om hulle vaders daaraan te herinner, en om ook self, toe hulle opgegroei het, te leer hoe dat God eendag van sy kant af die verbond begin het en nog van kind tot kind bevestig. Nie mense maak die verbond nie. En God wag nie tot 'n mens vir Hom kies nie. Hy kies en roep met sy Woord wat dooies lewend maak. Hierdie seuns sou later as man ook in hul huwelikslewe, saam met hulle vrou -want dan het die besnydenis mos sigbaar geword en 'n rol gespeel, ook vir die vrou!- telkens weer daarby bepaal word dat hulle alleen deur die genade van God aan die verbond van God en aan die verlossing van die wêreld diensbaar mog wees.

God skakel die huwelike nie uit nie. Ouers wat van God se verbondwoorde leef, mag verbondskinders verwek en ontvang. Maar God is van die huwelik ook nie afhanklik nie. Geen enkele egpaar kan verbondskinders maak nie. Hy self sal hulle moet gee.

Wie dit verstaan het, broeders en susters, verstaan mos ook dat God se verbond met ons nooit begin met iets in of aan ons wat vir God nodig is om aansluiting te kan kry nie. Ons word nie eers aantreklik vir God as ons self eindelik so ver is dat ons wel daarvoor voel om God se kind te word nie.

Selfs ons geloof, ons innerlike verandering, is nie 'n voorwaarde vooraf om God se verbondskind te kan word nie. Wie so meen, lê die uiteindelike beslissing oor die verlossing by die mens sélf en "roep die kettery van Pelagius weer uit die hel terug", om dit met die Dordtse Leerreëls te sê.

Die begin van die verbond met die mens lê by God se genadige verkiesing. In die katkisasieklas leer ons: God se verbond met ons ontstaan eensydig: net van God se kant. Hy kom met sy roepstem na die mens toe en skenk vervolgens ook self deur sy Heilige Gees die geloof en die bekering, die innerlike verandering aan ons, sodat die verbond dán ook tweesydig kan bestaan.

God is nie afhanklik van ons gelowig reageer nie, maar kom uit eie inisiatief met sy verbond na ons toe. Hy plaas ons in 'n gesin van gelowige ouers. Of Hy kom op later leeftyd met sy roepstem in ons lewe binne.

In die lig moet u ons doop laat staan.. Die doop spreek nie van óns begin met God nie, maar van Gód se begin met ons.

Maar daarom moet ook die klein kinders gedoop word! Want as die HERE hulle laat gebore word in 'n gesin van ouers wat deur Hom tot sy verbond en sy gemeente geroep is, roep Hy langs hierdie weg klaarblyklik ook daardie kleintjies tot Hom. Hulle is vir Hom nie te gering nie. Hulle behoort net so goed soos die volwassenes by sy volk. Natuurlik, hulle is in sonde ontvang en gebore, hul natuurlike afkoms maak nog nie verbondskinders van hulle nie. Maar God self het dit so beskik dat hulle binne die verbond gebore is, in die kerk grootgemaak sal word en so van kleinsaf ook sal leer om by sy beloftes te lewe. God kan selfs langs die weg van wettige aanneming van 'n kind, ongeag sy vroeëre afkoms, dit in sy verbond opneem, in die kerk binnebring en in sy gemeente inlyf.

Mag daardie kleintjies ook gedoop word? Terwyl ons nog niks van hulle innerlike lewe weet? Terwyl hulle dalk later hul rug op die HERE kan draai?

Ons moét hulle doop! Net soos Abraham sy hele huis moés besny. God wil hê by sy beloftes moet die teken daarvan gevoeg word as 'n onderstreping dat net Hy dit is wat die lewe verlos. Net Hy!

En as hulle dan nóg later hul rug op die HERE durf te draai, het hulle ook geen enkele verskoning meer nie!

Ons moet dit afleer, gemeente, om in die binneste van die mens houvas te soek, of in die afstamming van 'n gelowige mens. Wie meen hy kan of moet daarop vertrou, verval óf tot 'n aanhoudende onsekerheid: behoort ek, met my versondigde lewe, regtig wel by God se verbond?? ; óf tot 'n Fariseese selfversekerdheid: ek behoort by die verbond, dus daar kan met my niks fout wees nie!!

Die doop leer vir ons om op die vastigheid van God se beloftes te bou. Leer ons ook om vir God se toorn te vrees. Leer vir ons om die lewe buiten onsself, in Jesus Christus te soek.

Moet daarom maar so na u doop en na elke nuwe doopsbediening kyk.

En vir u kinders leer om so te kyk.

Bly van die doopwater opsien na die God van die verbond.

Dan raak u nooit klaar gekyk nie!

AMEN.

(Pretoria, 20 Mei 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)