Christus en ons doop

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 26
Preek Inhoud: 

Vertaalde peek van Dr. R H Bremmer oor sondag 26 H. K.

In Christus Jesus gedoop.

Lees: Titus 2: 11 - 3: 7
Teks: Sondag 26 H. K.
Sing: Ps. 81: 1 en 12
na wet Ps 119: 40
na belydenis Sb. 50: 6
Ps. 71: 1, 9, 10, 11
Ps 105: 24
Sb. 33: 3

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Daar is seker wel enkeles onder ons wat hom genealoog gehou het. Genealogie is: die opspoor van jou voorouers. Wie jou oupa en ouma grootjie was en so moontlik nog verder in die geslagte terug. Dis 'n boeiende besigheid, want 'n mens is geen los individu, geen persoon op homself nie. Ons almal staan in die lyn van ons voorouers! Dit verryk 'n mens se lewe as jy kennis van jou voorouers en hul geskiedenis dra.

'n Genealoog kan dan ook nie aan die doopregisters van die kerk verby gaan nie. Reekse van gedoopte geslagte word daarin gevind. Ook die familie Bybel kan partykeer van groot hulp wees. Uit dit alles blyk wel hoe belangrik die doop in die lewe van 'n mens is. Die doop lyf ons by die gemeente van Christus in. Die grondslag van ons lewe word daardeur beheers. Ons is gedoopte christene! Wanneer daar iemand eers op later leeftyd kennis aan Christus kry en tot geloof kom, is die eerste wat hy begeer: dat hy gedoop mag word. Deur die doop word ons met die drieenige God verbind want ons word in sy Naam gedoop. Daarom word die doop registers ook goed bewaar. Dis die tasbare en sigbare bewys van die tot die gemeente van Christus en tot die verbond van God behoor.

Die bediening van doop in die kerk van God is daarom altyd vreugdevol.

Sondag 25 het in die algemeen oor die sakramente doop en nagmaal met ons gepraat. Daarin het ons gesien: Hoe die heilige Gees die geloof in ons hart deur die beide sakramente versterk. In die volgend sondae word verklaar wat elk van die beide sakramente doop en nagmaal vir ons beteken. Soos in sondag 25 staan ook in sondag 26 die kruis van Christus sentraal. Dis Christus wat die doop ingestel het en oor Hom en ons doop word in hierdie sondag gespreek. So spreek ons oor:

CHRISTUS EN ONS DOOP

  1. Deur die doop word ons in die bloed van Christus gewas;
  2. Deur die doop word ons deur Sy Heilige Gees geheilig;
  3. Deur die doop word ons geloof in Sy beloftes gegrondves.

I Hierdie vraag 69 is weer 'n regte kategismus vraag gemeente. Die vraag is reg op die man af: Hoe word JY in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offerande wat aan die kruis gebring is, JOU ten goede kom? Ons mag ook se: wat het JY aan die doop? Wat beteken dit vir JOU? Dis die gemeente van Christus wat met hierdie vraag na sy gedoopte jeug oorbuig en hulle met hierdie reguit vraag konfronteer.

Ja ons weet julle jong mense is baie besig, maar jou huiswerk, jou leer vir 'n toets of die regmaak van jou motorfiets vir die vakansie moet maar net 'n bietjie wag. Ons wil oor JOU doop praat. Moenie se ek het nie tyd nie, want dis van die aller grootste lewensbelang, jy moet daar tyd vir maak. Nou moet die ouer mense in die kerk nie dink o dis vir die jeug bestem dit gaan my nie aan nie. Dis vir almal ewe belangrik, want die geloof is op die doop nooit klaar gekyk of volleerd nie.

Het ons gehoor watter belangrike sake in hierdie sondag 26 wat ons netnou saam gelees het, aan die orde kom? Die mees sentrale in ons lewe word in vraag 69 met krag vorentoe gebring. Die vraag vertel ons dat ons 'n Heiland het wat aan daardie harde kruis op Golgota vir ons gesterf het. Ons weet dat dit aan ons Heiland bloedsweet gekos het.

Hoe word dit nou deur Christus in die Heilige doop, ons op die hart gebind? Hoe word ons deur Christus daartoe in die doop vermaan en onderrig? Ons kan nie onder die doop uit nie, daarin word ons met ons neus op die vaste grond vir ons lewe gedruk. Ons word daarvan verseker dat die grond in lewe en sterwe vas bly. Hoe word dit in die doop gedoen, hoe het ons daar geestelik profyt van?

Let daartoe op die sentrale plek wat Christus ook in hierdie antwoord 69 inneem, naamlik Christus het hierdie uitwendige waterbad ingestel. Dis geen instelling wat mense uitgedink het nie. Dit kom van Hom ons Heiland! En daarby het Hy vir ons beloftes gevoeg! Ek is so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes gewas, as wat ek uitwendig met die water wat die onsuiwerheid van die liggaam wegneem, gewas is. Daarmee het ons by die hart van die verlossing gekom. Wanneer 'n baba gedoop of 'n volwassene by die doopfont kniel, is dit geen plegtigheid wat deur die kerk georganiseer is nie. Absoluut nie dis ons Heiland wat dit vir die Nuut-Testamentiese kerk uitgedink en ingestel het.

Daarin het ons Heiland duidelik by die Ou-Testament aangesluit wat vol van wassinge en reiniging is. Ondanks dat water in kanaan net so skaars as in ons land is, het die Here die reinigende krag van water herhaaldelik in die Ou-Testament gebruik, om die reinigingskrag van die offerbloed en van sy Gees te laat sien. Dink aan die koperwaskom, waarin Aaron en sy seuns hul hande en voete moes was sodat hulle nie sterwe nie. (Ex. 30: 21) So noodsaaklik was die reinigende krag van die water 'n saak van lewe of dood. 'n Melaatse wat gesond geword het moes sy klere en homself met water was, dan eers sal hy rein wees. (Lev. 14: 9)

Ook in die wetgewing aan sy volk het die Here God Homself as 'n groot opvoedkundige geopenbaar. In ons dae maak ons 'n kraan oop en ons bad loop vol, maar in die dae van die Ou-Testament moes dit meestal met kruike uit 'n diep bron opgedra word. So het die wassinge met die kosbare water 'n groot betekenis gehad. Die Heilige Gees het die profete aangedryf om die reinigende krag van water in hul prediking te gebruik.

David bid: Was my, dat ek witter kan wees as sneeu (Psalm 51: 9) en in direk verband daarmee in vers 11: en delg uit al my ongeregtighede. Nadat Israel hom jarelank met afgodsdiens verontreinig het, verkondig Esegiel vir hulle: Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. (Es. 36: 25) Die profeet Sagaria verkondig die volk wat nog onder die sondes van hul voorvaders van voor die ballingskap sug: Daardie dag sal daar 'n fontein oopgemaak word om die koningshuius van Dawid en die inwoners van Jerusalem te reinig van hulle sonde en hulle vuilheid. (Sag. 13: 1) 'n Geopende fontein se die profeet dis maar nie 'n waterkraan nie, maar 'n fontein waaruit strome van water wat reinig en heilig oor Jerusalem stroom.

Daardie beloftes was vir Israel 'n sprekende taal. So het die Here reeds in die Ou-Testament water gebruik, om die afwassing van sonde en skuld uit te beeld. In die Nuwe-Testament word water nie minder gebruik nie. Johannes die Doper staan al tot aan sy middel in die water van die Jordaan en doop. Van al kante kom die inwoners van Jerusalem en Judea na hom toe om sy prediking te hoor en hulle te laat doop. Hulle laat hul sondes deur die Jordaanwater wegwas.

In Israel was dit die gewoonte dat 'n heiden wat hom by die Joodse volk wou aansluit, nie alleen besny moes word nie, maar hom ook moes laat doop. Hierdie doop, proseliete doop genoem, het hul totaal van die heidendom gereinig, dit het die heidendom afgewas. Gemeente wat het Johannes die Doper nou gedoen? Het hy heidene gedoop, nee hy het Israel opgeroep om hulle te laat doop. Ons verstaan dat die Fariseers daar glad nie van gehou het nie. Stel jou voor Israeliete, kinders van Abraham en hulleself die leraars van die wet moet hulle gedoop word?

Die doop is goed vir reiniging van die heidene! Nee se Johannes die Doper, die doop is net so goed vir die kinders van die verbond noodsaaklik. Die verbondskinders is uit hulself net sulke groot sondaars as die heidene dit is. Kyk daar 'n tollenaar wat ondergedompel word. Daarna 'n soldaat waarna selfs 'n priester homself laat doop het. Hulle het die prediking van Johannes verstaan en hulle laat doop, hulle ongeregtigheid laat afwas. So het Johannes die doop van bekering tot vergewing van sondes verkondig. Ons weet hoe die Here Jesus na Johannes toegekom het om Hom te laat doop.

Johannes kon dit nie verstaan nie, moes hy Jesus, die Messias doop? Johannes het die situasie deursien ek is 'n sondaar wat nodig het om deur U gedoop te word, en kom U na my toe? Laat dit nou toe, het ons Heiland gese, want so pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Ons Heiland is nie gedoop vanwee sy eie sondes nie, maar vir die sondes van Johannes die Doper en ons almal wat in Hom glo. So het ons Heiland vir ons Homself laat onderdompel. Sien u hoe mooi die plaasvervanging van ons Heiland hier sigbaar gemaak is? In Hom is ons almal ondergedompel, en het die afwassing van die sondes ontvang.

Dit was 'n magtig moment in die heilsgeskiedenis, die hart van die doop is bloot gele. As daar nou 'n kind of volwassene deur besprenkeling of onderdompeling gedoop word, maak dit prinsipieel geen verskil aan die krag van die teken en seel van die doop nie. Die dienaar doop soos Christus self dit ingestel het: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. (Matt. 28: 19)

Dis wat antwoord 69 vir ons leer, as gese word dat Christus die doop ingestel het en daarby beloof het: dat EK... hoor ons dit? Heel persoonlik dat EK... net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel, dit is, van al my sondes gewas is, as EK uitwendig met die water gewas is wat die onsuiwerheid van die liggaam wegneem. Natuurlik is die krag wat die sonde afwas nie in die water self aanwesig nie. Dit het die kerk van die middeleeue self uitgedink en die Roomse kerk leer dit vandag nog. Die doopwater self het volgens hulle magiese krag gekry wat die erfsonde outomaties by die dopeling wegneem. So dat hulle selfs leer dat 'n kind wat nie gedoop is nie vir ewig van die ewige saligheid uitgesluit is.

Met daardie dwaling het die kerk van die reformasie totaal gebreek. Die doopwater is gewoon water. Maar die water wys na die kruis van ons Heiland, na die bloed wat daar deur Hom vir ons vergiet is. Die doop se soos die water ons van die vuilheid van die liggaam reinig, so is ons deur die bloed van ons Heiland van al ons sondes gereinig. Dit belowe Hy, dit verseker Hy, Daarmee konfronteer hy ons in ons eie doop!

Besef ons wat 'n magtige troos in ons doop opgesluit is? As ons vanwee ons sondige lewe aangeveg word mag ons in geloof ons doop gebruik. Vanwee hul sondes kan jong mense hopeloos met hulself ontevrede wees. Die duiwel kom dan vir jou vra: is jy 'n kind van God, wat sulke slegte dinge dink en doen? Soos ook oueres onder die kwaad in hulle lewe gebuk kan gaan. Maak die duiwel dit vir jou moeilik, gryp dan weer na die doopbeloftes. God self het vir ons gese, hier in die doop het jy 'n onderpand, 'n seel van Myself dat Ek in die kosbare bloed van Jesus Christus die sondes weg gewas het. Die Gees van Christus wil ons sterk in die stryd en die krag van die sonde wat ons lewe wil verbreek. Daar het Christus sy koninklik grootseel aangeheg, Hy is vir ons aan die kruis gegaan en het gemaak dat God weer ons God wil wees.

Die hofdienaar uit Ethiopie het dit goed verstaan. Op sy wa het hy Jesaja 53 gesit en lees: Soos 'n skaap is Hy gelei om geslag te word en soos 'n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie. Met hierdie teks as beginpunt het Filippus Jesus verkondig.

Die hofdienaar het die prediking so goed verstaan dat toe hulle by water kom vir Filippus vra om gedoop te word. Daardie koninklike grootseel op die beloftes van God wil hy nou self ontvang. Die belydenis van geloof en die doop was so na aanmekaar, dat amper gese kan word: As heiden het hy die water ingegaan, as skoon gewasse gelowige daar weer uit opgeklim. Dis die krag van die lewende verkondiging van Jesus Christus, van Woord en sakrament.

Onthou ons die deurtog van Israel deur die Rooisee. Dis in die gebed van die doopsformulier opgeneem. Dink maar dat die Israeliete gehuiwer het toe hulle tussen die mure van water moes deurtrek. Hulle het gegaan en op droe grond is hulle daardeur gelei, maar agter hulle het die water oor die Egyptenare heengestort. So is Israel deur water heen gered, maar die goddelose wereld van daardie dae deur dieselfde water verdelg.

Die eeue deur stroom nou die doopwater deur die wereld. Dit verkondig behoud vir hulle wat hul in geloof laat was, maar kla vir God aan almal wat die water van die doop verag. Ons christen wees, het ons in groot verantwoordelikheid voor God geplaas. Want van elkeen wat veel gegee is sal ook baie geeis word. Dit geld ook vir almal wat in die Naam van die drieenige God gedoop is. Bedink dit, voordat die doop in ongeloof verwerp word.

II Die kerklid wat in sondag 26 na die betekenis van die doop vra, het nog nie klaar gevra nie. Hy het verstaan dat die doop die in die bloed en Gees van Christus gewas wees, uitbeeld. Nou wil hy egter met vraag 70 tot die betekenis van die met die bloed en Gees van Christus gewas wees, deurdring. Antwoord 70 herhaal eers wat in antwoord 69 al gese is, maar gaan 'n stap verder deur ook uit te le wat dit beteken om deur die Gees van Christus gewas te wees, naamlik: om deur die Heilige Gees vernuut en geheilig te wees tot lede van Christus, sodat ons hoe langer hoe meer die sonde afsterwe en in 'n godsalige, onberispelike lewe wandel. Moontlik vra u nou hoe gebeur dit? Hoe word my lewe deur die Gees van Christus, deur my doop vernuwe? Vir 'n antwoord sal ons aandag aan die doopsformule moet gee.

Wanneer 'n kind gedoop word se die dominee Jan ek doop jou In die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. Wat is nou die eintlike betekenis van hierdie doopformule? Daaroor word baie misverstand gevind. Daar is mense in die kerk wat dink in die naam van, beteken: op gesag van, of in opdrag van, dus namens of in opdrag van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees. Soos 'n regter in naam van die wet, dit is op grond van die wet, 'n vonnis ople. Dis egter 'n vergissing.

Die formule wil regtig nie se dat die dominee namens of in opdrag van die drieenige God die kind doop nie. Natuurlik is die predikant via opdrag van die kerkraad wel deur God tot die doop gemagtig, maar die betekenis van die doopsformule reik veel dieper. Die woord doop moet ons in sy volle diepe oorspronklike betekenis van indompel, neem. Soos 'n verfkwas in die verf gedoop word, of 'n pen in die ink. Of ook soos die broers van Josef die klere van Josef gevat en in die bloed gedoop het. So word 'n kind in die naam van Die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees gedoop. Die naam van die drieenige God is soos 'n rivier in vloed, waarin die kind ondergedompel word. Daardeur word die kind in die mees innige verbintenis met die naam van die drieenige God gebring.

In die woord doop le 'n diep simboliese betekenis. By ons doop het ons in die Naam onder gegaan. Met heel ons ou mens en sondig bestaan het ons daarin ondergegaan. Want ons ou mens moet dood en ons sondebestaan moet dood. Die apostel Paulus het dit wonderlik treffend so onder woorde gebring: "Weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die heerlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. " (Rom. 6: 3, 4)

Dis by die diepste geheim van ons doop waar ons nou te staan gekom het. Luister mooi wat Paulus hier se: Ons is in die dood van Christus gedoop. Soos die dopeling totaal in die water ondergedompel word, so is ons saam met Christus gesterf en begrawe. Toe Hy gesterf het, het ons met ons sondes saam met Hom gesterwe. Toe Hy begrawe is het Hy ons sondes in die graf saangeneem. Deur sy dood en begrafnis is ons sondes voor die oe van God uitgewis. En toe God Christus tot die nuwe lewe opgewek het, het Hy in Hom ook ons ook opgewek. Soos die dopeling na die onderdompeling weer uit die water opgekom het, so het ons met Christus tot die nuwe lewe opgestaan.

Ons wat so abstrak dink kan ons dit moeilik voorstel. Tog moet ons om so te se vir ons oe sien: Christus het ons sondes in die graf saamgeneem. Paassondag het Hy uit die graf tot die heerlikheid van die nuwe lewe opgestaan. So is ons in Christus tot die heerlike nuwe lewe opgewek. Verstaan ons nou dat die vernuwing van ons lewe, 'n geskenk van God is? Ons het nie nodig om ons lewe in eie krag anders en beter te maak nie. Ons mag uit die dood en opstanding van Christus lewe! Dis wat die doop vir ons laat sien. Antwoord 70 se: In ons doop word ons deur die heilige Gees tot lede van Christus geheilig.

Deur die Heilige Gees le Christus so op ons beslag, dat ons voortaan aan Hom en nie meer aan hierdie goddelose wereld behoort nie. Deur sy krag gaan ons hoe langer hoe meer van die sonde afsterwe. Dis nie dat ons nou begin om in ons lewe dinge reg te maak nie. Partymaal dink ons mos: Nou gaan ons, ons lewe beter, nou gaan ons in die goeie rigting beweeg. Dis nie reg nie, want ons lewe is al klaar in 'n andere rigting gebring. Dit het Christus deur sy Gees reeds gedoen en dit laat Hy in die doop vir ons sien.

Die Gees van Christus laat ons uit die bloedstorting van Christus aan die kruis lewe. Dis aan die voet van die kruis op Golgota wat ons doop ons bring. Wie daar staan en uit die volbragte werk van Christus lewe, gaan deur die krag van die geloof 'n totaal ander vreugdelewe lei. Die doop verseel dat Christus die roer van ons lewe in sy hande geneem het. Dit doen Hy vir ons. In die boek van God is ons naam, onder die naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, geskrywe. In sy krag is dit nou dat ons teen die duiwel, ons ou mens met al die boosheid wat nog in my is stry. In die krag van Christus sal ons die stryd nie opgee nie of daarin ondergaan nie.

Dit mag ook ons seuns en dogters moed gee, dis 'n moeilike tyd waarin hul lewe. Van al kante kom die verleiding na hulle toe. Dis maklik om dwelmmiddels in hande te kry. Om die wet te oortree word as vrymaking van slaafse bande gesien. Terwyl die samelewing oor geseksualiseer is. So kom dit voor dat jongmense geen verwagting in hierdie wereld meer het nie, en maar 'n einde aan hul lewe maak. Is dit dan geen wonder dat daar tog nog jong mense is wat bewus vir Christus as hul Here en Heiland kies nie?

Daarom gemeente moet ons, ons kinders leer wat hul doop beteken. Praat met hulle oor die doop, sodat hulle wanneer hulle in versoeking en innerlike stryd kom, daaraan mag dink dat hulle 'n gedoopte kind van God is. God het met ons 'n verbond gesluit, ons doop verseel dit vir ons, op die Here kan ek vertrou. Hy laat my nie los nie. Met Christus is ek van die sondelewe van hierdie tyd afgesterf en met Hom tot die nuwe lewe opgestaan. Ons kan nie genoeg vir ons jong mense bid nie, of word dit nie meer gedoen nie? Wat 'n sterk pleit grond het God ons by hul doop daartoe in hande gegee.

III Dis van daardie beloftes wat ook vraag en antwoord 71 getuig. Daar is nou al so baie geweldige dinge oor die doop vorentoe gebring, maar hoe weet ons dit nou? Is dit almal nou werklik waar? Vir seker is dit waar se die kategismus, en daar word na verskillende Skrifplekke verwys. Daarvan wil ons een verwysing kragtig onderstreep, naamlik die uit Markus 16: 16. Daar het ons Heiland gese: Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. Ja ons almal is gedoop.

Ons ouers het ons in hul arms na die doopfont voor in die kerk gedra. Ons is in die Naam van die drieenige God gedoop! Die gemeente het gesing: Verbond met Abraham, sy vrind bevestig Hy van kind tot kind. Deur daardie gebeurtenis, die doop, word nou heel ons lewensgeskiedenis beheers. Daar het ons altyd houvas aan.

Het ons die belofte gehoor wat Christus ons saamgee? Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word. Dis hierdie belofte wat ons met ons ganse hart moet aanneem. Die Here wag op die belydenis van die geloof. As ons hart aan Hom behoort gaan Hy ook ons hele lewe met ons saam. Wat 'n heerlik vooruitsig word hier oopgemaak: Jy sal gered word. Agter die lewe op aarde wag die ewig lewe in heerlikheid. Dood is nie dood nie! Deur die dood heen word die lewe ons deur Christus gewaarborg. In die doop het Christus ons 'n troos in lewe en in sterwe in hande gegee wat geen mag in die wereld van ons kan afvat nie. Geen wonder dat ons Vaders die doop van hul kinders met groot sorg in die doopboek geskryf het nie.

Een ding moet nog gese word. Aan hierdie belofte het Christus ook 'n kragtige waarskuwing verbind: Wie nie glo nie, sal veroordeel word! Daar is 'n ewig lewe, maar daar is ook 'n ewig sterwe. Daar is dopelinge wat nie behou word nie, omdat hulle die God van hul doop verwerp het. Laat dit vir geeneen van ons geld nie. Daar staan baie op die spel: Glo in ons Heiland en word gered. 'n Gemeente waarin jongeres en oueres hul doop verstaan is 'n geseende gemeente. Geloof sy God, die drieenige God van ons doop.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)