God red Sy volk deur die water heen

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 26
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 26 HK

LITURGIE:
Voorsang: Ps. 29: 1, 2, 5
Votum en seëngroet
Ps. 18: 1, 8, 9
Gebed
L. 1 Petr 3: 13-4: 6
T. Sondag 26 HK
SB. 14: 1, 2
Prediking
Ps. 107: 15
Geloofsbelydenis
Ps. 107: 1
Gebed
Kollekte
Ps. 77: 8, 9
Seën

Broeders en susters,

Daar is 'n ooreenkoms tussen ons doopwater en die sondvloedwater.

En ook tussen die doopwater en die water van die Rooisee waarin die HERE die Egiptiese Farao en al sy manne laat verdrink het.

Ons sê dit mos elke keer as hier voor in die kerk 'n klein babatjie gedoop word. In ons gebed tot die HERE: "HERE, U het volgens u regverdige oordeel die ongelowige en onboetvaardige wêreld met die sondvloed gestraf; maar U het die gelowige Noag met sy gesin, slegs agt mense, deur u groot barmhartigheid gered en bewaar. U het ook die hardnekkige Farao met al sy manne in die Rooisee laat verdrink; maar u volk Israel op droë grond daardeur gelei... " En dan sê ons: "Daardeur U het U toe reeds die doop afgebeeld. "

Ons kan dus die doop vergelyk met die sondvloed en met Israel se deurtog deur die Rooisee.

So'n verbinding van ons doopwater met die water van die sondvloed en met die water van die Rooi See is geen vinding van die opstellers van ons doopsformulier nie, broeders en susters. Ons lees daardie verband alreeds in die Skrif. Die apostel Petrus skryf in sy eerste brief, hoofstuk 3, dat die doop 'n "teëbeeld" van die sondvloed is. M.a. w. die sondvloed was 'n soort bloudruk waarvan die doop nou die uitwerking is. En die apostel Paulus wys in sy eerste brief aan die Korinthiërs, hoofstuk 10, op die verband tussen die doop en Israel se deurtog deur die Rooi See.

Ek het in 'n vorige preek oor die doop al 'n keer aangewys in watter opsig ons doop ooreenkoms vertoon met Israel se deurtog deur die Rooisee.

Noudat ek vanaand opnuut na die volgorde van die Kategismus die betekenis van ons doop vir u moet verduidelik, wil ek hierdie keer in gedagte met u teruggaan na die sondvloed Noag se dae, en die ooreenkoms tussen die sondvloedwater en u doopwater vir u aanwys.

Ek kan daardie ooreenkoms so omskrywe, en dit is dan tegelyk die boodskap van my preek vanaand:

GOD RED SY VOLK DEUR DIE WATER HEEN

DAARDIE WATER WAARBORG NAAMLIK

  1. ONS REDDING VAN 'N SLEGTE VERLEDE
  2. ONS REINIGING MET DIE OOG OP 'N HEILIGER TOEKOMS

1. Ek weet: op die eerste gesig is daar meer verskil as ooreenkoms tussen ons doop en die sondvloed.

Wat beteken mos daardie handjievol water by ons doopsbedienings in vergelyking met die massas en massas water waarmee die HERE die hele aarde oorspoel en omtrent alle lewe weggespoel het?

Selfs 'n volledige indompeling in die water, soos vroeër dikwels gedoen is en nog wel gebeur op sendingterreine, betekenis niks in vergelyking met die kolkende watervloed van destyds.

Toe, by die sondvloed, het dan ook orals die klam doodsangs die mense beetgepak, terwyl vandag, by ons doopsdienste, die blydskap oorheers oor die lewe wat God aan ons skenk.

Nogtans is daar 'n ooreenkoms.

Ek het al vir u gesê: die apostel Petrus noem ons doop in die gedeelte wat ons uit sy eerste brief gelees het, die "teëbeeld" van die sondvloed.

Teëbeeld is 'n woord wat ons deesdae nouliks meer gebruik. Maar Petrus bedoel eenvoudig dit wat ons ook elke keer bid met die woorde van ons doopsformulier: deur die sondvloed het die HERE toe reeds die doop "afgebeeld".

Ek het so pas die sondvloed die bloudruk van ons doop genoem: die boutekening waarop 'n mens toe al kon sien wat eendag die Christelike doop sou doen.

Ons doop is maar net 'n nadere uitwerking van die sondvloed.

Daarom beteken ons doop ook méér as die destydse sondvloed, al stroom daar ook nog nie 1% van die water wat destyds gestroom het nie.

Maar in watter opsig bestaan daar dan ooreenkoms?

Wel, broeders en susters, sowel by die sondvloed as by 'n doopsbediening vandag maak die water skeiding tussen God se kinders en die mag van die sonde,

In albei gevalle is die water reddende water wat vir eens en vir altyd afrekene met die slegte verlede en 'n nuwe begin oopsluit.

In albei gevalle laat God se kinders deur die water heen 'n wêreld agter hulle en bring God hulle in 'n nuwe wêreld binne.

Dáárvoor het God eendag die water van die sondvloed gebruik vir Noag en sy gesin.

Natuurlik, daardie water was allereers moordende water om die sondaars van die aarde af te spoel. Derduisende, of dalk selfs wel miljoene mense het in daardie water verdrink en hul lyke is deur die golwe teen die rotse te pletter geslaan.

Die sondvloedwater was 'n indrukwekkende teken van God se toorn.

Sonde bly vir God 'n onverdraaglike saak.

Toe dus die mense die sonde tot die normaalste saak van die wêreld gemaak het, het God tot oorlopens toe vol geraak. Ja, sy afkeer van die sonde het letterlik oorgeloop in die vorm van moordende water wat kolkend en rasend alles saamgesleur het wat in sy pad gekom het.

Geen damwal kon hierdie watervloed keer nie, waterboukundiges moes magteloos toekyk, geen berg, hoe hoog ook al, was teen hierdie watermassas bestand. Die beste swemmers is deur die draaikolke in die diepte ingesuig......

En toe het dit angswekkend stil geword op daardie immense watervlakte waarop eensaam nog slegs 'n lompe hout skuit rondgedobber het: die ark met daarin die gelowige Noag en sy gesin, slegs agt mense.

Daardie moordende water was vir Noag-hulle egter juis die reddende water.

Dieselfde water wat so veel mense in die dood weggespoel het, het Noag en sy gesin in die ark bo die goddeloosheid uitgelig en hulle 'n nuwe wêreld tegemoet gedra, waarin God se toorn bedaar sou wees.

Daardie moordende water het die aarde wat deur die sonde bevuil en onbewoonbaar geword het, dermate skoongespoel dat Noag 'n skone aardbodem mog betree toe hy uit die ark uitgeklim het.

Dis dié dat Petrus in sy brief nie sê dat Noag-hulle van die water van die sondvloed gered is nie, maar dat hy deur die water heen gered is. Die hoofsaak is nie dat die ark Noag van die gevaar van die water gered het nie, maar dat die water hom gered het van die goddeloosheid waar hy tot dusver midde-in moes lewe en wat hom en sy kinders daagliks gedreig het om te besmet.

God het die sondvloedwater gebruik om met daardie slegte verlede af te reken.

Deur die water waarin so veel mense omgekom het, het God aan Noag-hulle genade bewys.

Ja, en dan moet ons nie oor daardie woord genade heen lees nie, broeders en susters.

"Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE", lees ons in die Bybel in Gen 6.

Was Noag nie 'n sondaar nie? Was hy beter as al die ander?

Dis opvallend dat ons direk na die sondvloed die HERE presies dieselfde hoor sê as wat Hy ook voor die sondvloed moes konstateer. Vergelyk maar Gen 6: 5 met Gen 8: 21: ook na die sondvloed is die versinsels van die mens se hart sleg van sy jeug af.

Wanneer Noag aarselend uit die ark spring en met 'n gevoel van beklemming heen en weer loop op die grond wat nog suig van die water, kyk die HERE hom diep in sy hart; en Hy weet hoe dit selfs met hierdie gelowige Noag gesteld is: onbekwaam tot enigiets goeds, geneig tot alle kwaad.

Die sondvloed het wel die meeste sondaars weggespoel, dit was egter nie in staat om die sonde weg te spoel nie.

Die sondige geaardheid is saamgeneem in die ark en sit dadelik weer voet aan wal op God se aarde.

So diep het die sonde wortelgeskiet in die menselewe. Dit is van jongsaf al verkeerd. Van die eerste die beste baba wat na die sondvloed gebore sal word, sal direk al weer gesê moet word: in sonde ontvang en gebore.

Ja, die ou Noag self val al gou na die sondvloed in die sonde, en sy seun Gam laat blyk dat ook hy 'n slegte hart het.

Noag het dit self blykbaar baie goed besef, broeders en susters, dat sy redding deur die water van die sondvloed heen die ene genáde was.

Immers, die eerste ding wat hy doen as hy vanuit die ark terug is op die grond, is om 'n altaar te bou. Hy soek klippe bymekaar uit die slib, sloop droë hout van die ark af en begin diere uit die ark uit te haal om hulle op sy altaar dood te kap en aan die brand te steek?

Hoekom?

Wel, hy besef dat die lewe nie nou weer gewoon voortgaan nie. Daar is na die sondvloed niks meer gewoon op aarde nie. Die totaan die horison leeggespoelde aarde wat nog ruik na die see, weerspieël die toorn van God oor die sonde. En Noag besef blykbaar, dat daar maar iets hoef te gebeur en God se toorn kan ook hom en sy gesin tref. Hulle is mos ook sondaars in hart en niere.

Slegs van God se genáde kan hulle nog lewe.

Noag het dit op 'n manier al besef, toe hy sy altaar gebou en diere begin doodmaak het, dat die water hom nie definitief teen God se toorn gevrywaar het nie. Noag het toe al iets daarvan verstaan dat Iemand anders met sy lewe vir ons moet instaan by God en in ons plek die toorn van God stilmaak.

Dis dié dat hy skuiling gesoek het agter bloed, versoenende bloed, plaasvervangende bloed. Noag het al gesoek vir Christus se bloed!

Maar dan gaan u nou ook verstaan watter ooreenkoms daar bestaan tussen die sondvloedwater en ons doopwater

Die doopwater wat ons almal eendag oor ons heen gekry het, was ook, nes die sondvloedwater, skeidende water. Ook daardie water wou afreken met ons ou verlede.

Nee, oënskynlik stel daardie klein bietjie water niks voor in vergelyking met die watervloed oor die hele aarde waardeurheen Noag destyds gered is nie.

Maar in der waarheid oortref die water van ons doop die water van die sondvloed in alle opsigte. Die doopwater is mos die simbool van die reddende soenbloed van Christus wat inmiddels gevloei het en waar God óns deurheen wil haal.

Die sondvloed het geroep om soenbloed wat eendag geoffer sou moet word.

Maar ons doop wys terug na die soenbloed wat klaar geoffer ís tot 'n volkome versoening van al ons sondes.

Daardie handjievol water stel as sulks inderdaad nie so veel voor nie. Maar die kosbare bloed van God se Seun, waarnatoe dit heenwys, bewerk vir ons 'n baie grondiger afrekening met ons slegte verlede as wat die sondvloed ooit kon regkry.

Die sondvloed het wel 'n skeiding tot stand gebring met die sondaars, maar kon nie 'n breuk met die sonde bewerk nie. Christus se soenbloed is egter in staat om ook ons sondes van ons weg te neem sodat God ons dit nooit meer sal toereken nie.

Ja, dit is die betekenis van ons doopwater, broeders en susters: dit vertel vir ons van die radikale, reddende breuk met ons sondige verlede danksy die bloed van God se eie Seun. Deur Christus se bloed word ons uitgelig bo die sonde wat ons na die ewige dood toe wou sleep en mag ons met God 'n nuwe wêreld sonder sonde tegemoet gaan.

Maar ook vir ons geld - en die Heidelbergse Kategismus sê dit ook met so veel woorde in antw. 70 - dat die die ene genade is.

Dit moet ons altyd bly besef. Soos daar na die sondvloed niks meer gewoon was op aarde nie, so is daar sinds Christus se soenbloed heeltemál niks meer gewoon nie. Ons lewe, ons toekoms, is 'n wonder van God se genade.

Ons word by elke doopsbediening daarvoor gewaarsku dat ons die doop nie uit gewoonte mag gebruik nie. Nie as die gewoonste saak van die wêreld nie.

Die doop dwing ons telkens opnuut tot selfkennis.

Die skeidingmakende water herinner ons mos daaraan hoe dit met ons gesteld was: in sonde ontvang en gebore, sodat God se toorn op ons moes rus. Ook ons het dit verdien om deur God se toorn weggespoel te word.

En daar was meer nog as 'n wêreldvloed nodig om ons van die toorn te verlos: die dood van God se eniggebore Seun.

Die doopwater wil ons so ver bring dat ons skuldbewus 'n afkeer van onsself kry.

U moet daagliks besig bly met u redding deur die doopwater heen, gemeente. Telkens weer besef hoeveel daar nodig was om u van u slegte verlede te verlos. Telkens weer u daaroor verwonder wát Christus se bloed vir u gedoen het. En dan moet u net soos Noag op u knieë kom voor die groot en ontsagwekkende God Wie se toorn ons verdien het; maar wat ons wou red van sy toorn omdat ons genáde gevind het in sy oë.

Maar dan mag u op daardie handjievol doopwater ook volledig staatmaak en u daarop teenoor die HERE telkens weer beroep so dikwels die sonde in u lewe weer kop uitsteek. Daar is met die verlede afgereken!

U hoef nooit meer te vrees vir die toorn van God solank u agter Christus se soenbloed skuiling soek nie. Dit waarborg u doopwater.

God het ons in die doop 'n sterker houvas gegee as die reënboog na die sondvloed. U weet, dit was van God die waarborg waaraan ons Hom altyd mag herinner, dat Hy nooit weer die wêreld onder water sal sit nie.

God het ons egter wel in die vooruitsig gestel dat Hy eendag, op die laaste dag by die groot oordeel, 'n verterende vuur die aarde sal laat skoonbrand. Vreeslik sal dit dan vir die sondaars wees om te val in die hande van die lewende God.

Maar die teken van ons doop waarborg: elkeen wat skuiling soek agter Christus se bloed, word ook deur die vuur heen gered. In die "ark" Christus. Dié is, danksy Christus, vir altyd verlos van die komende toorn.

2. Maar, gemeente, nou word ons deur die reddende doopwater natuurlik ook geroep en verplig tot 'n nuwe gehoorsaamheid.

Daardie reddende water waardeurheen God ons by ons doop laat gaan het, wil nou ook ons eie lewe reinig vir 'n heiliger toekoms. Dis die tweede ding waarop ek nog wil wys vanaand.

Toe Noag-hulle die skoongespoelde aarde weer betree het, het die herinnering aan die water wat nog nie eers heeltemal onder hulle in die grond was weggesak nie, hulle wel gedwíng tot 'n lewe waarin die HERE nog meer gevrees is as tevore.

Die lewe kón gewoon nie meer gewoon voortgaan nie. Die talle halfvergane lyke wat hulle voorlopig nog orals sou raakloop, het hulle eenvoudig verplig tot 'n nuwe gehoorsaamheid aan die HERE.

Hoeveel te meer moet ons dan groei in 'n godvresende lewe, noudat die doopwater ons daagliks Christus se dood voor oë plaas as die gevolg van ons sondeskuld.

Ons kan nou nie meer leef asof daar niks gebeur het nie!

Die doopwater dwing ons om met die wêreld te breek, ons ou natuur dood te maak en God tot die middelpunt van osn lewe te maak.

Daar moet nou so 'n lewe groei dat ons met 'n goeie gewete onder God se oë durf te kom.

Petrus het in die gedeelte wat ons vanaand saam uit sy brief gelees het, geskrywe (3: 21) dat die doop "nie die aflegging van die vuilheid van die vlees is nie", met ander woorde: die water by die doop was nie eintlik ons liggaam, ons buitekant, skoon nie; maar dit is "'n bede tot God om 'n goeie gewete".

Kom ons sê: die doop vra eenvoudig om so 'n lewe dat u en ek met 'n goeie gewete voor God kan verskyn.

Ons kan nie meer aanhou lewe soos die wêreld leef nie. Om nog 'n keer met Petrus te spreek (4: 3): "In die verlede is ons lewe lank genoeg beheers deur heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery. "

Wie nou nog steeds só wil bly lewe, wíl blykbaar nie deur Christus van die dood gered word nie. Dié wórd ook nie gered nie. Dié haal homself des te meer God se toorn op die hals.

Nee, gedoopte mense moet besef dat hul doop vra vir méér. Dat die breuk met die slegte verlede eenvoudig roep om 'n heiliger toekoms, 'n beter lewe met God, 'n lewe met 'n skoon gewete.

Maar hoe ontstaan daar by ons so 'n beter lewe, broeders en susters?

Kla nie ons gewete ons juis aan dat ons teen al die gebooie van God swaar gesondig en nie een daarvan gehou het nie en nog gedurigdeur tot alle boosheid geneig is?

Ons wíl wel graag anders. Ons besef ook dat dit moet verander. Ons probeer ook wel ons bes. Maar die sonde blyk nog so 'n groot mag in ons lewe te wees. Ons val daagliks weer in die sonde. En dan moet ons weer met 'n skuldige gewete voor God verskyn.

Maar het u mooi gelees wat die apostel Petrus geskryf het, gemeente? Die doop is "'n béde tot Gód om 'n goeie gewete".

Die doop is nie slegs 'n aansporing om sélf 'n beter lewe te probeer leef nie.

Die doop, waarmee God Self ons laat doop het, is 'n aansporing vir Hóm om 'n beter lewe by ons te bewerk! Ons mag met 'n beroep op ons doop by God vra vir 'n beter lewe. En dan ook vertrou dat Hy so 'n beter lewe sal gee.

God weet Self maar alte goed dat ons doop vra vir meer. As ons Hom dus daaraan herinner, sal daar ook meer kom: 'n al hoe heiliger lewe, wat die Heilige Gees van Christus sal bewerk.

Ons sien die betekenis van ons doop dikwels te beperk, gemeente. En dan gebruik ons ons doop ook te beperk.

Ons vra, met 'n beroep op die doop, wel om vergewing van ons sondes. Maar vra u ook om 'n toenemende reiniging van die sondes; om die daaglikse vernuwing van u lewe?

Ook daarvoor het God die doop gegee: as die waarborg ook dat (kyk antw 70 van die Kategismus) u die sonde hoe langer hoe meer sal afsterwe en godvresend en onbesproke sal lewe.

Ons mag met 'n beroep op die doop ook aan God vra: HERE, daar moet nou tog baie verander in my lewe? U het my mos nie tevergeefs deur die water heen gehaal, ja, bo die sonde uitgelig nie? U wou daarmee mos 'n nuwe lewe vir my oopsluit?

Daar is nog so veel wat nie voor u aangesig kan bestaan nie; so veel wat uit my lewe weggedoen moet word. Ek wil al hoe meer met 'n skone gewete onder u oë kan kom.

U moet dit doen! Alleen kry ek dit nooit reg nie. Maar u Heilige Gees kan dit doen. En U het dit mos aan my belowe?

So mag ons ons ook op ons doop beroep. En daarin laat blyk dat ons die bedoeling van die doop baie goed verstaan het.

Dis Gods bedoeling dat ons, wat genade in sy oë gevind het, eendag volkome rein 'n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorenes in die ewige lewe.

Ons moet daardie dag sonder om verskrik te hoef wees, met 'n goeie gewete, voor die regterstoel van Christus kan verskyn.

Maar daarvoor moet ons as 't ware opnuut gebore word; heeltemal ander mense word.

Ons kry dit self nooit reg nie.

Maar God het in die doop al belowe dat Hy dit kan en sal regkry as ons dit gelowig van Hom vra.

Ja, ons sal moet vrá. By die HERE werk niks outomaties nie.

Maar wie van ons sou so dwaas wees om nie vir so 'n nuwe lewe met God te vra nie?

As ons immers nou nóg nie met die HERE sy nuwe toekoms tegemoet wil gaan nie, word daardie handjievol water van ons doop vir ons bedreigender as al die water van die sondvloed bymekaar: daardie klein bietjie doopwater word dán vir ons die voorafbeelding van Gods se ewige toornvuur- die vuur waarvan God ons juis wou red.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)