God onderstreep Sy Woord met water

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 26
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 26 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 51: 1, 4
Gebed
L. Eseg. 36: 16-28
SB. 14: 1, 2
Prediking oor Sondag 26 HK
Gesonge geloofsbelydenis
Gebed
Kollekte
Ps. 103: 2, 5
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Na ons viering van die heilige Nagmaal volg nou dus 'n preek oor die heilige doop.

Is dit nie 'n bietjie 'n snaakse stap nie? Is dit nie onlogies om op die Sondag waarop die Nagmaal sentraal staan, oor die Doop te gaan preek nie?

Nee, glad nie.

Onthou u nog wat Sondag 25 vir ons geleer het?

Vraag en antwoord 67: of dit nou God se Woord is, of die Doop, of die Nagmaal- aldrie het basies een en dieselfde boodskap. Hulle is aldrie daarvoor bestem om ons geloof op die offer van Christus aan die kruis as die enigste grond van ons saligheid te wys.

Die nagmaalsbrood en -wyn het ons vandag weer sigbaar aan Christus se kruisdood herinner: deur sy dood mag ons lewe. Sy bloed versoen ons skuld.

Maar al gebruik die Doop ook 'n ander simboliek, dit vertel eintlik presies dieselfde verhaal, .

Daarom kan ons op die nagmaalsondag gerus ook 'n bietjie na die Doop gaan kyk.

So'n noue verbinding van die Doop en die Nagmaal kan boonop sinvol en vertroostend wees vir ons kinders en jongmense.

Hulle kan op 'n nagmaalsondag soms die gevoel kry asof hulle sulke Sondae min of meer eenkant staan. Net grootmense mag mos aan die tafel sit en eet en drink.

Vanaand mag hulle dan hoor dat die hoofboodskap van die Nagmaal basies eintlik dieselfde is as die boodskap van die Doop. En die Doop het God mos aan almal in die kerk gegee, ook aan hulle, al dadelik na die geboorte. God se boodskap is nie net vir grootmense bedoel nie, maar ook vir jongmense en kinders. Selfs vir pasgebore babas.

Ons het vandag in die Nagmaal God se blye boodskap vir ons gesien en geproe in die simbole van brood en wyn; in hierdie preek gaan ek vir u aanwys hoedat die HERE daardieselfde boodskap al eerder met water onderstreep het.

So het ek my boodskap saamgevat:

GOD ONDERSTREEP SY WOORD MET WATER

DAARDIE WATER MAAK DRIE DINGE DUIDELIK:

  1. ONS IS VUIL
  2. GOD WIL ALLE OPGEHOOPTE VUILHEID AFWAS
  3. GOD WIL NUWE VUILHEID HOE LANGER HOE MEER VOORKOM

1. Ek het so-ewe die boodskap wat God in die doopwater wil duidelik maak, 'n blye boodskap genoem. Dit ís natuurlik ook die hoofboodskap van die Doop: God neem sondige mense weer aan as sy liewe kinders en erfgename.

Nogtans bevat die doopwater allereers 'n beskamende boodskap, broeders en susters.

Ons moet skoongewas word. Pasgebore babas wat ongetwyfeld eers by die huis nog gebad is, moet die eerste keer wat hulle in die kerk kom, opnuut gewas word. Grootmense wat deur die Evangelie tot Christus geroep is, moet eers 'n wasbeurt ondergaan voordat hulle in Christus se kerk opgeneem kan word.

Die water by die doop wys dus in die eerste plek dat ons vuil is. En daardie vuilheid sit natuurlik nie aan die buitekant nie.

Dit sit aan die binnekant. Die sonde het ons hele lewe bevuil. Die skuld lê hoog opgehoop en ons geaardheid is sodanig dat ons ook maar net al hoe meer vuilheid sal veroorsaak.

Dié beskamende les wou Johannes die Doper allereers aan sy volksgenote leer, toe hy hulle saamgeneem het in die Jordaanwater in en hulle daar aan 'n wasbeurt onderwerp het. U weet: hy was die eerste een van wie ons in die Bybel lees dat hy begin doop het.

Ook hy mog 'n blye boodskap bring: "Die Koninkryk van die hemel het naby gekom!". Die groot Koning, die Messias, die nuwe Seun uit die huis van Dawid was in aantog.

Maar as die Israeliete hul feesklere tevoorskyn wou haal en die vlae wou hys, moes Johannes hulle vereers keer. Dit was nog nie die tyd vir feesklere nie. Boeteklere sou meer gepas wees.

Hulle wou die Koning tegemoet gaan, hulle Redder? Maar die Koning sou hulle glad nie wil ontmoet nie. Hulle sou nie 'n oomblik in sy nabyheid kon verkeer nie. Hulle was te vuil. Vol sondes.

Hulle het gedink hierdie nuwe Koning kom vyande soos Herodus en die Romeine wegja? Maar dan moes hulle nou leer dat hierdie Koning allereers die stryd met die sonde sou kom aanbind. Die gevaarlikste vyand het in hul eie lewe gehuis!

Johannes het met sy watersimboliek seker maar aangesluit by al die wassinge wat God se volk reeds geken het uit die erediens van die Ou Testament.

Die HERE het in sy wette sy volk op allerhande maniere daarvan deurdring dat hulle eintlik te vuil was om in sy nabyheid te kan woon. Daar was allerlei situasies waardeur 'n mens onrein geword het: as iemand melaats geword het, as iemand begin opgooi het, as iemand met 'n lyk in aanraking gekom het, as vroue en meisies gemenstrueer het....... Dan moes soiemand die laer verlaat. Hy of sy moes beskaamd sy kop buig en uit die nabyheid van die HERE padgee.

En eers as die oorsaak van die onreinheid verdwyn het en daardie mens nog sewe dae ekstra buitekant die laer gebly het, mog hy of sy terugkeer. Maar slegs na hy homself en sy klere in water gewas het.

Die rede hoekom iemand onrein geword het, was nie medies nie, broeders en susters. Dit was nie omdat hulle miskien ander mense ook kon siek maak of soiets nie. Die aanraking van 'n oorledene, of 'n menstruasie maak 'n mens mos nie besmetlik nie.

Maar daardie soort dinge was telkens vir die HERE op die een of ander manier 'n herinnering aan die sondeval. Hy wou daardeur ook sy volk telkens hardhandig herinner aan hul sondeskuld. Dis dié dat Hy eintlik aanhoudend mense uit sy nabyheid weggestuur en oor die verskriklike gevolge van die sonde laat nadink het.

Nou maar goed, dié beskamende element het ons Here Jesus Christus bewaar toe Hy sy dissipels met die sakrament van die Doop in die wêreld ingestuur het.

Die doopwater is allerereers bedoel om 'n mens so ver te kry dat hy 'n afkeer kry van homself vanweë sy sondes, hom voor God verootmoedig en besef dat hy die lewe buite homself moet soek aangesien hy in homself geen lewe het nie. Ons mense lê reeds midde-in die dood. Die sonde waarin ons ontvang en gebore is, maak ons onverdraaglik vir die lewende God. Dit is die eerste les wat ons van die HERE moet leer.

Dis nie 'n les wat 'n mens een keer leer en voortaan weet jy dit, gemeente. Dis iets wat ons elke keer opnuut moet leer. Ons moet met die simboliek van die Doop aan die werk spring! Ons moet onsself elke keer weer laat klein maak deur die herinnering aan die waswater wat daar op ons kop gegiet moes word. So dikwels daar 'n baba gedoop word, moet ons die betekenis van daardie water ook vir onsself weer besef.

U moet 'n bietjie aan u Doop dink as 'n mede broeder of suster met u kom praat oor 'n bepaalde sondige lewenshouding wat hy of sy by u opgemerk het; of as u wyksouderling u oor 'n konkrete tekortkoming in die lewe met die HERE moet vermaan; of as in die prediking gewaarsku word teen die verleidelikheid van die sonde.

Buig u in so'n geval u kop, beskaamd omdat u u eie vuiligheid ken? Of kom u dadelik innerlik in verset omdat u dit maar moeilik kan verdra dat 'n ander u kom vertel dat daar êrens iets met jou nie reg is nie?

U moet 'n slag aan u eie Doop dink as u oor 'n ander se sondes praat! Dit is onbestaanbaar as gedoopte mense uit die hoogte of selfs met leedvermaak praat oor die vuilheid wat in ander mense se lewe.

U Doop sê vir u: Kyk 'n bietjie na jou eie vuiligheid!

Die Doop plaas al God se kinders, ongeag hulle afkoms, ongeag ook hulle velkleur, hulle taal of kultuur, saam voor God se troon en sê: in sonde ontvang en gebore, te vuil om in God se Ryk te kan inkom....... tensy God self heeltemal nuwe mense van hulle maak.

2. Maar dát God nuwe mense van ons wíl maak- dit wys die water van die Doop vervolgens ook vir ons.

Ons wórd mos gewas! God wil die vuiligheid wegspoel.

Dit mog Johannes die Doper sy volksgenote ook duidelik maak met sy doop in die Jordaanwater. Hy het hulle nie weggestuur met die boodskap: "Jammer, maar die poort van God se Koninkryk is toe vir julle" nie. Nee, hy het gesê: "Eintlik is julle te vuil om die Koning wat kom te ontmoet. Maar kom saam, daar is 'n noue poortjie waardeur julle nogtans mag binnekom: 'n tipe van 'n stort waaronder julle eers van top tot toon gereinig moet word. Die wat sy sondes laat afwas, is welkom in die Koninkryk van die hemel. "

Dieselfde blye boodskap het daar ook reeds gelê in al die wassinge wat die Israeliete in die dae van die Ou Verbond telkens moes ondergaan. Hulle is nie net telkens uit die laer, en dus: uit God se nabyheid, weggeja nie. Hulle mog ook telkens, ten spyte van al hul sondes, terugkom en weer voor God se aangesig verskyn in die woning van die HERE. Na 'n grondige wasbeurt was die pad na die HERE toe terug weer oop.

Elke keer as ons 'n Doopsbediening meemaak, herinner ons in die gebed voor die Doop die HERE ook nog aan twee ander gebeurtenisse in die Ou Testament waarby water gevloei het en waardeur ook die Doop reeds aangedui is. Die Noag se redding deur die sondvloedwater en Israel se redding deur die water van die Rooisee. In albei gevalle het daardie moordende water 'n definitiewe skeiding teweeggebring.

Noag was dalk nie so vuil soos die ander mense in sy dae. Noag het met God gewandel. Nogtans het die sonde ook in die lewe van Noag en sy gesin wortelgeskiet. Die HERE sal dit na die sondvloed dadelik vasstel: die voortbrengsel van die mensehart is steeds sleg van sy jeug af, ten spyte van die sondvloed. Noag self sal dit na die sondvloed ook al gou by homself en sy seun Cham agterkom. Familie Noag het dit ewe goed verdien om 'n vreeslike verdrinkingsdood te sterwe.

Nogtans hef God hulle deur die water bo die straf uit en dra hulle deur 'n ark in 'n nuwe lewe in: 'n nuwe lewe onder God se genade.

Die volk Israel was in Egipte regtig nie so veel beter as die Egiptenaars nie. Uit wat die HERE later vertel het, weet ons dat ook hulle daar afgode gedien het en aan allerhande perversiteite saamgedoen het. Hulle was vuil genoeg om saam met die eersgeborenes van die Egiptenaars te moet sterwe.

Nogtans lei die HERE hulle uit Egipte uit en sluit die hoofstuk Egipte af met 'n weg dwars deur die water: water waardeur die verlede definief van hulle afgespoel is en waardeur hulle 'n nuwe lewe tegemoet mog gaan: 'n nuwe lewe in 'n verbond met die HERE.

Dit was alles nog slegs vooruitwysings na die groot wasbeurt wat God eendag vir sy volk sou bewerk. Water kan mos nie regtig die sondes wegwas nie. Daarvoor was die kosbare bloed van God se Eniggebore Seun nodig. Hy het Homself die toorn van ons hemelse Vader op die hals gehaal en daardie toorn totaal op Hom laat uitwoed. Deur Hom staan nou die poort van God se Koninkryk vir ons oop en mag ons sonder verskrikking voor God se troon verskyn. Deur Hom mag ons weer God se liewe kinders en erfgename wees wat Hy met alle goeie dinge wil versorg en van wie Hy alle kwaad wil afweer of tot hul beswil beskik.

Dit wys vandag die klein bietjie doopwater vir ons. Hoe vuil ons ook al geword het, hoe veel vuiligheid ons in ons lewe ook opgehoop het: as ons ons toevlug neem tot Jesus Christus, ons Rooisee, soos die Nederlandse Geloofsbelydenis dit so mooi noem, mag ons die vuilheid agter ons laat en in 'n nuwe lewe met God verdergaan. Terwyl ons die dood verdien, lë doe lewe weer oop vir ons.

Dit sê die HERE op talle maniere vir ons in sy Woord, broeders en susters.

Maar Hy onderstreep dit ook met daardie eenvoudige wasseremonieel voor in die kerk. Om sy Woord by ons te waarborg. En dus: om alle twyfel by ons uit te ban. Net so seker as wat ons daardie wasbeurt ondergaan het, word u sondes weggewas as u glo in die versoenende krag van Christus se bloed.

En ook nou moet ek sê: u moet met u Doop aan die werk spring, gemeente. Dis nie genoeg om gedoop te wees nie. Die Doop het nie outomaties in een keer u skuld by God weggewas nie. Die water roep u maar net op om in Jesus Christus te kom skuil as u ark, om God se Seun te aanvaar as u pad deur die Rooisee.

Die doopwater moet u elke keer weer na Christus toe dryf.

Maar die doopwater wil ook elke keer weer alle twyfel by u uitdryf: daar is geen sonde te groot, of te vreeslik dat daar geen vergewing meer moontlik sou wees nie. En al het u duisend keer in dieselfde sonde geval en die vuilheid laat ophoop tot 'n onoorsienbare berg- Christus se bloed laat in een keer daardie hele berg in die niet verdwyn. U mag dit maar glo! U móet dit glo! Want as u dit nou nog nie glo nie, het u eendag by God ook geen verskoning meer nie. Die HERE het sy beloftewoord mos so duidelik onderstreep. Duideliker kon Hy dit nie doen nie.

3. Die Kategismus wys in Sondag 26 met nadruk daarop dat die doopwater wil duidelik maak dat ons nie alleen met die bloed nie, maar ook met die Gees van Christus gewas word. In vraag en antwoord 70 word dit spesiaal uitgelê.

Weet u wat dit beteken dat God ons ook met die Gees van Christus wil was?

Dit maak die simboliek van die doopwater nog des te ryker.

Ons word gewas met Christus se bloed- dit beteken dat ons opgehoopte skuld afgewas word. Al ons sondes word vergewe.

Maar daarmee het die sonde nie sommer vanself uit ons lewe verdwyn nie. U weet dit maar alte goed. Die sonde bly steeds 'n gevaarlike mag in ons lewe wat ons nog aanhoudend in die vuiligheid laat struikel en val.

Maar die HERE wil ook dit weg hê, broeders en susters. Hy aanvaar nooit die sonde in ons lewe nie. Dit bly vir Hom vir ewig onverdraaglik.

Daar moét verandering, verbetering in ons lewe kom. Noudat Hy 'n nuwe lewe vir ons oopgemaak het deur die bloed van sy Seun, moet ons ook 'n nuwe lewensstyl begin vertoon.

Daartoe roep die Doopwater ons ook op. Ons word deur die Doop ook vermaan en verplig tot 'n nuwe gehoorsaamheid; ons moet voortaan die God van ons Doop liefhê en dien met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons kragte. Ons moet ons ou natuur dood maak en met die sondige wêreld wat ons agter ons mog laat, ook definitief breek....

Maar wie van ons kry dit ooit reg, gemeente? ! Wie van ons is so sterk dat hy die mag van die sonde in sy lewe kan baasraak, sy ou sondige natuur kan doodmaak en as 'n volslae nuwe mens, met sy God kan lewe?

Ek dink, u het almal wel bepaalde sondes waarin u telkens terugval: gierigheid, hoogmoed, die neiging om sleg te praat van ander, oneerlikheid, luiheid en gemaksug, verkeerde seksuele neigings, drankmisbruik......

Dit kan 'n mens partymaal moedeloos maak. Dit kan 'n mens ook onverskillig maak: Dit help tog nie om teen die sonde te stry nie; ek is nou maar eenmaal so. Ek het genoeg probeer om daarvan ontslae te raak, maar ek kry dit net nie reg nie. Mens moet dit seker maar aanvaar.....

Ek sê weereens: Gód aanvaar dit nooit en te nimmer. Maar dit wat u in eie krag nooit sal regkry nie, kry Hy reg. Deur die Heilige Gees van Christus.

En ook dit waarborg die doopwater vir u.

Die Doop vermaan en verplig ons nie net tot 'n nuwe gehoorsaamheid in die lewe met die HERE nie. Dan sou 'n mens al hoe meer wanhopig raak en die doop al hoe minder as 'n blye boodskap van God kan aanvaar.

Die Doop bemoedig ons egter ook tot 'n nuwe gehoorsaamheid. As ons telkens weer in dieselfde sondes val, moet ons nooit daaraan gaan twyfel of God ons nog wel genadig wil wees nie. Ons moet ook nie in die sonde bly lê asof dit tog nie help om teen die sonde te stry nie. Maar ons moet opstaan en aangaan. Want ons stry ons stryd nie alleen nie. Ons het 'n magtige medestryder in ons lewe saamgekry wat ons sal bystaan in die moeisame stryd teen die sonde wat nog in ons agtergebly het: niemand minder nie as die Heilige Gees van ons Here Jesus Christus. Hy sal daarvoor sorg dat daar vorentoe al hoe minder vuilheid sal ontstaan en al hoe meer suiwerheid vir God sal groei.

Dit het die HERE al nadruklik beloof in die gedeelte wat ons vanaand saam gelees het uit Esegiël se profesieë: "Ek sal eendag skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word. Ek sal julle ook 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in julle binneste: Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal máák dat julle weer in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen".

So mag u dus u Doop ook gebruik, broeders en susters: u mag by die HERE ook aan te dring op die afwassing met die Gees van Christus! Ons vra meestal te weinig van God. Ons vra altyd maar net vergewing met 'n beroep op ons Doop.

Vergewing alleen is egter nie genoeg nie. U mag ook vir u God sê: HERE, dit kan mos nie so aangaan nie! Daardie sonde wat my elke keer weer laat struikel, moet tog ook verdwyn? Ek moet tog 'n keer daarvan ontslae raak? Ek kry dit self nie reg nie. Maar U het mos u Heilige Gees ook aan my toegesê in die Doop! Sal u deur die krag van Christus se Gees die stryd teen die sonde in my lewe aanbind asseblief? U het mos belowe, ja, gewaarborg dat U dit sou doen!

Sal u nie vergeet om ook so voortaan u Doop te gebruik nie?

En dan mag u nooit meer wanhoop nie. God ís met ons op pad na die herstelde lewe waar u eendag saam met die gemeente van die uitverkorenes volkome rein, vlekkeloos, dus: sonder enige vuilheid, weer met u God mag lewe.

Sy Woord in die Bybel, die water van die Doop, die brood en die wyn in die Nagmaal vertel almal dieselfde hoopvolle verhaal vir ons.

God het Homself daartoe verbind. Doop en Nagmaal het die karakter van 'n waarborg wat nooit sy geldigheid verloor nie.

Laat ons dan as gedoopte Christene wat vandag ook deur die Nagmaal weereens aan God se beloftes herinner is, vol vertroue met ons God saamgaan na sy toekoms toe.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)