God verlos Sy volk deur die water heen

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 26
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 26 H.K.

LITURGIE:
L. Exodus 15: 1-21
Ps. 136: 1, 10, 12, 13
Ps. 136: 3, 18
Ps. 106: 20 (doop)
Ps. 106: 3, 4, 5
Ps. 77: 7, 8, 9
Ps. 66: 3

Broeders en susters,

So dikwels as wat in die kerk die heilige doop bedien word, bring ons die geskiedenis van Israel se deurtog deur die water van die Rooisee ter sprake.

Ons herinner in ons gebed voor die doop die HERE aan die water van die sondvloed waardeur net Noag en sewe ander gered en bewaar is. Ons herinner Hom ook aan die water van die Rooi See waarin die Egiptiese farao met al sy manne verdrink het, terwyl God se volk Israel droogvoets daardeur mog gaan.

En dan sê ons van daardie indrukwekkende gebeurtenisse uit 'n gryse verlede: U het daardeur toe alreeds die doop aangedui.

Wanneer ons vandag die HERE aan daardie gryse verlede herinner, doen ons dit natuurlik nie omdat die HERE Self daardie gebeurtenisse dalk al weer kon vergeet het nie. Nee, ons wil maar net met die oog op die doop wat net-nou weer bedien sal word, sê: Só het ons U uit die verlede leer ken, HERE. As die God wat langs 'n wonderbaarlike weg, deur water heen, vir Uself 'n volk bewaar en 'n nuwe toekoms oopgemaak het. Maar daarom doen ons nou, in die hede, ook 'n beroep op U, nou dat die doopwater net-nou sal vloei. Wil deur hierdie water heen nou ook hierdie kind van U in u grondelose barmhartigheid red en bewaar. U is mos nog altyd dieselfde God! En in die water destyds het u alreeds gewys wat die doopwater nou werd is. Ja, wat U self werd is!

So'n verbinding van ons doopwater met die water van die sondvloed en met die water van die Rooi See is geen vinding van die opstellers van ons doopsformulier nie, broeders en susters. Ons lees daardie verband alreeds in die Skrif. Die apostel Petrus skryf in sy eerste brief, hoofstuk 3, oor die sondvloed as 'n soort bloudruk van die latere doop. En die apostel Paulus wys in sy eerste brief aan die Korinthiërs, hoofstuk 10, op die verband tussen Israel se deurtog deur die Rooi See en die doop.

En u kan maar kyk: ook in die Nederlandse Geloofsbelydenis, in art. 34, word "die besprinkeling met die kosbare bloed van die Seun van God" (waarvan die doop mos 'n teken en beseëling is) "ons Rooi See" genoem, "waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit wil sê: die duiwel, te ontkom en om in die geestelike land Kanaän in te gaan".

Noudat ek vanmôre die betekenis van ons doop vir u moet verduidelik, wil ek dit doen teen die agtergrond van Israel se redding deur die Rooi See water.

Ek het my boodskap soos volg saamgevat:

GOD VERLOS SY VOLK DEUR DIE WATER HEEN

  1. TOT SY EER
  2. TOT ONS TROOS
  3. TOT OPBOUING VAN SY GEMEENTE

    (U sal weet: hierdie drie dinge noem ons ook elke keer as die doop bedien word: dit moet gebeur "tot God se eer, tot ons troos en tot opbouing van die gemeente")

1. Die wonderbaarlike deurtog deur die Rooi See, of Skelfsee, het by God se volk vir altyd die tonge losgemaak, gemeente.

Toe die volk Israel met droë voete anderkant die See gestaan het, en gesien het hoe die pad waarlangs hulle tussen twee mure van water deurgetrek het, weer in die water opgelos het, het hulle spontaan in 'n massale loflied op die HERE hul God uitgebreek: "Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem.... ".

En daardie loflied op die God wat 'n pad deur die water heen weet, het feitlik daarna nooit meer verstom nie. Want die eggo van daardie lied het onder God se volk bly klink. Die herinnering aan die weg deur die water is in 'n hele aantal Psalms vasgelê, wat tot op vandag nog gesing word. Ons het in dié diens vanoggend die bewys daarvan alreeds gelewer.

Die HERE het vir altyd naam gemaak deur hierdie onmoontlike verlossing van sy volk. Nie net by sy eie volk nie, maar ook by die ander volke: "Die volke het dit gehoor, hulle het gesidder; verskrikking en vrees het op hulle geval. Deur die grootheid van God se arm was hulle stom soos 'n klip, terwyl sy volk deurtrek, terwyl die volk wat Hy verwerf het, deurtrek".

Dit wat ook presies wat die HERE met hierdie wonderlike waterweg beoog het: verbystering by die volkere rondom, verwondering by die volk van die verbond.

Veral die laaste: deur hierdie uitredding deur die water heen moes God se volk meer as ooit tevore die WONDER van die verbond met die HERE besef. Hulle mog hieroor nooit meer klaar gesing raak nie.

Dit was mos 'n feitlik onbegaanbare weg waarlangs die HERE sy volk vir Homself apart geneem het. Die bewys daarvan het die talle lyke wat die Israeliete aan die oewer van die see sien aanspoel het, gevorm. Menslikerwys moes ook Israel deur die water weggespoel gewees het. Die weg van God se volk sou in die water van die Rooi See doodgeloop het.

Opsetlik het God sy volk in so'n situasie gelei dat hulle nie meer voor- of agteruit kon nie. Voor het die water gelê, diep en moerassig, agter het die verharde Farao aangestorm om daardie gevlugte slawevolkie na die gestadige dood in Egipte terug te haal.

En toe het die HERE sommer deur die woeste seë en wilde strome 'n pad gebaan. Soos wand'laars op gebaande weë het Hy sy volk daardeur laat gaan. Die strome het bly staan soos 'n wal, die watervloede het styf geword in die hart van die see. Binne-in die see het die HERE sy volk langs 'n nooit ontdekte spoor op droë grond in veiligheid gebring.

Maar toe die Farao met sy leërmag dieselfde pad wou probeer, het daardie pad skielik weer onbegaanbaar geblyk, sodat almal verdrink het.

Toe het soos vanself 'n uitbundige loflied op die God van die verbond uit die harte en monde van die Israeliete opgewel. Toe hulle veilig almal die oewer bereik het en agter hulle die mure van water weer oormekaar sien en hoor val het, kon hulle nie anders nie as sing ter ere van die HERE, die God van wonderlike genade. Die kolkende en moordende water agter hulle het die magtige bewys van sy onverdiende liefde vir hulle gevorm.

Waarom mog hulle hier lewend en droog anderkant die see staan??

Moes ook hulle nie in die woeste water omgekom het nie? Hulle was regtig nie beter as die Egiptenaars nie. Boonop, ons weet dit uit wat Josua later aan die volk Israel voorgehou het (Josua 24) en u kan ook maar lees wat die HERE self sê in Esegiël 20: hulle het in Egipte al hoe meer hul rug op die HERE gedraai en die drekgode van Egipte gedien!

En nogtans staan hulle hier nou anderkant die dood om 'n nuwe lewe te mag begin. Waarom??

Dit kan slegs die oneindige liefde van die HERE wees, sy "guns" (kyk hoe die Israeliete hierdie woord gebruik in hul lied van Exodus 15, vs. 13). God se guns, sy genadige verbondstrou was so groot dat Hy op onnavolgbare wyse met die uitsigslose verlede van sy volk afgereken het en 'n nuwe toekoms vir hulle, saam met Hom, oopgesluit het. Deur die water heen. Die see was ook vir hulle veels te diep gewees. Slegs danksy God se grondelose barmhartigheid het hulle vaste grond onder die voete gekry en die weg deru die water gevind.

Toe moes God se volk wel sing, vol verwondering, vol ontroering. Sing tot eer van die HERE.

Maar dan het u en ek vandag nog baie meer rede om te sing, broeders en susters. Want die weg deur die water van die Rooi See was nog maar 'n aanduiding, 'n voorafbeelding, 'n bloudruk van die weg wat God met óns deur die doopwater heen gegaan het.

Ek weet, voor die oog is daardie twee nie te vergelyk nie: die Rooisee en die doopvont. Wat beteken mos daardie handjievol water by die doop in vergelyking met die massa's water waartussendeur Israel getrek het en waarin die Farao met sy leër bedolwe is?

Maar ons doopwater vorm mos 'n herinnering aan 'n nog veel wonderbaarliker weg as die weg deur die water van die Rooi See: die verlossingsweg oor Golgotha. God het daar nie maar net 'n Farao met sy leër van ons afgespoel nie. Die duiwel self met sy hele bende het ons agtervolg, terwyl voor ons die onpeilbare diepte van God se ewige toorn opgedoem het.

En toe het die HERE in sy grondelose barmhartigheid vir ons 'n uitweg gebaan dwarsdeur die bloed van sy geliefde Seun! 'n Uitweg waardeur nie net 'n tydelike nuwe lewe in 'n aardse Kanaän vir ons ontsluit is nie, maar die nuwe ewige lewe in die hemelse Kanaän.

Het ons nie nog veel meer rede as die Israeliete om te sing nie, gemeente? Want ook ons kan vra: waarom? Waaraan het ons dit te danke. Wie het hierdie wonderlike uitredding verdien? Wie was dit werd dat God onsuitgekies het om met Hom te mag saamgaan na die hemelse Kanaän toe?

Herinner ons doopwater nie elke keer weer daaraan dat ook ons weg tevore 'n doodloopstraat was nie? Die water getuig van ons verlorenheid. In sonde ontvang en gebore. Kinders wat God se toorn verdien. Ons kan in God se Koninkryk nie ingaan nie.....

En nogtans lê daar 'n pad vorentoe. Deur God self gebaan. Dwarsdeur die bloed van sy geliefde Seun.

Is dit nie om stil van te word nie? Of liewer, om van te sing nie? Sing tot eer van hierdie God van genade, sing van die wonder van sy verbond met ons.

2. Hoe meer ons sing tot eer van die God van ons doop, gemeente, des te meer sal dit tot ons eie troos wees. So dikwels as wat ons met dankbaarheid en verwondering op ons doop terugsien, kan ons ook weer vol vertroue vorentoe. Sal die God wat langs so'n wondere weg ons uit die dood weggehaal en na Hom toe gehaal het, nie ook vorentoe sorg nie?

Dié vertroue wou die HERE destyds ook by sy volk Israel bewerk met die wonderbaarlike pad deur die water van die Skelfsee. Hulle het nog 'n lank pad gehad om te loop. Die woestyn het voorgelê; 'n dor en hete sandvlakte met kale rotse. Geen water, geen kos.... En die beloofde land was nog ver. Die gevare en die vyande was veel.

Maar telkens as hulle op die weg deur die water teruggesien het, kon hulle tog vol goeie moed vorentoe? Het die HERE nie klaar bewys dat Hy die mees onmoontlike reisroete begaanbaar kan maak nie? Sou hul pad ooit nog kan doodloop? Sou die HERE hulle op so'n wyse van die ondergang in Egipte verlos het, om hulle vervolgens in die woestyn te laat omkom?

In die lied wat Moses en die Israeliete aan die oewer van die Skelfsee gesing het, klink dan ook die vaste vertroue dat hulle met hierdie God van die Rooi See hul reisdoel sál bereik. Hulle gaan by voorbaat daarvan uit (vs. 17): "U bring hulle en plant hulle op die bergland van u erfenis, die plek, HERE, wat U as vaste woonplek vir U berei het".

Die deurtog deur die Rooi See het die intog in Kanaän gewaarborg. Hoe het die weg deur die water 'n troos vir die toekoms gegee! Solank hulle daarop bly terugsien het, kon hulle altyd vooruit sien. Die HERE en sy kneg Moses sou die pad, hoe ongebaanbaar ook al, wel baan.

Wanneer die deurtog deur die Rooi See alreeds een en al bemoediging vorentoe vir God se volk was, broeders en susters, hoeveel te meer mag ons ons dan deur ons doop laat troos! Herinner ons doop ons nie daaraan op watter wyse die HERE óns tot sy volk gemaak het nie? Getuig die doop nie daarvan hoe groot sy liefde vir ons is nie? Kinders van die toorn, vyande, goddelose- hierdie soort woorde was op ons van toepassing. En nogtans het God ons so liefgehad dat Hy selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom in ons plek in die dood oorgegee het. Sal dié God ons dan vervolgens sommer weer aan ons lot kan oorlaat??

Ook ons pad, na die hemelse Kanaän toe, loop deur die woestyn: beproewings, siekte, vyande..... Hoe onbegaanbaar kan die pad vorentoe partymaal lyk! Hoe kan die twyfel ook 'n kind van God dan bekruip. Wat gaan word van ons, van ons kinders; in hierdie wêreld, in hierdie land? !

Moet dan maar telkens terugsien op u doop broeders en susters. En vir u kinders leer om hul doop te gebruik. Sou die Almagtige en ewige God wat ons uit die ewige ondergang weggehaal het, nie vir ons 'n ewige toekoms kan gee nie?

3. En nou spreek my laaste punt al byna soos vanself, gemeente. Want as ons op hierdie wyse ons doop aanhoudend gebruik tot God se eer en tot ons eie troos, bewerk die HERE daardeur ook die opbouing van sy gemeente. Opbouing in geloof, in 'n nuwe gehoorsaamheid, in 'n eensgesinde liefde en ywer vir Hom.

Wie deur die doop aanhoudend daaraan herinner word langs watter wonderbaarlike weg die HERE ons uit die ondergang weggehaal en ons na Hom toe gehaal het, dié wil tog niks anders meer nie as om voortaan heeltemal aan hierdie God toe te behoort en vir Hom te lewe?

Ook dit was God se bedoeling met die ongedagte deurtog deur die Rooi See. Hy wou deur hierdie weg deur die water sy volk baie nou aan Hom verbind. Sodat dit vir Israel 'n vanselfsprekende saak sou wees om voortaan eensgesind as een volk hierdie God te dien.

Die apostel Paulus het in sy eerste brief aan die Korinthiërs in hoofstuk 10 geskryf dat die Israeliete "almal in (maar beter vertaald staan daar: tót) Moses gedoop is in die wolk en in die see". Hy het daarmee bedoel: terwyl hulle omsluit was deur die wolk van God en deur die see, wat altwee daarvoor gesorg het dat die Egiptenare die dood ingeja is maar dat vir Israel 'n nuwe toekoms oopgesluit is, het daar 'n onverbreeklike band tussen almal en hul leier Moses, die kneg van God, ontstaan.

Paulus het daarby ongetwyfeld gedink aan wat ons in die laaste vers van Exodus 14 lees: "Toe Israel die magtige daad wat die HERE aan die Egiptenaars verrig het, gesien het, het hulle die HERE gevrees en geglo in die HERE en aan Moses, sy kneg".

Toe Moses die eerste keer in Egipte na die Israeliete toe gekom het met die belofte dat hy in opdrag van die HERE hulle uit Egipte uit na Kanaän sou terugbring, het baie aanvanklik getwyfel of hulle hom wel kon glo. En toen die Farao as gevolg van Moses se optrede die slawerny maar net verswaar het, het party nog meer wantroue jeens Moses gekry. Maar na die redding deur die water van die Rooi See is alle twyfel weggespoel: almal moés hierdie Moses voortaan wel volg. Almal moes aan hierdie Moses voortaan wel gehoorsaam wees. Almal sou voortaan saam met hierdie Moses soos een man die HERE dien.

Moses was maar 'n swak en self ook afhanklike Middelaar, gemeente. Maar ons is eendag tot Jesus Christus gedoop, die meerdere van Moses. Moses het God se volk slegs deur die water van die Rooi See heen uit die slawerny van Egipte uitgehaal; maar Christus het ons deur sy eie bloed heen uit die heerskappy van die duiwel verlos. En soos die HERE deur die gebeure by die Rooi See sy volk op die nouste aan sy kneg Moses verbind het, het Hy ons nou deurons doop in 'n onverbreeklike relasie tot Christus gebring.

Wie gesien het hoe die God van die verbond ons Here Jesus Christus gebruik het om ons van die dood te verlos en om ons in 'n nuwe lewe te laat opstaan, wil nou tog voortaan ten volle by hierdie Christus behoort? Ons band aan hom word soos vanself so sterk, dat ons heeltemal by Hom ingelyf word. Daardie woord gebruik die Bybel, die Kategismus, en ook ons doopsformulier vir ons band aan Christus: ingelyf. Ja, ons kan selfs sê dat ons hele lewe "Christus" word.

En dit veroorsaak onvermydelik 'n nuwe gehoorsaamheid in ons lewe. 'n Nuwe liefde tot die Vader van ons Here Jesus Christus, en 'n lus en ywer om voortaan volgens sy wil te lewe. Want wanneer ons lewe "Christus" geword het, regeer die Heilige Gees van Christus voortaan ons lewe. En dié Gees maak ons saam met Christus van harte gewillig en bereid om voortaan net nog vir die God van ons doop te lewe.

Daardie selfde Gees bind ons ook onderling saam tot een gemeente, almal ingelyf in Christus, almal saam dus een liggaam. Sodat ons mekaar help en vashou op die pad agter ons Here aan na die hemelse Kanaän toe; sodat ons dié wat wegdwaal, terugsoek, vermaan en weer saamneem, dié wat telkens twyfel en in kortsigtigheid onseker raak, bemoediging..... Sodat ons mekaar voortdurend aanspoor en opbou in 'n eensgesinde gehoorsaamheid aan die God van ons doop. Want ons gemeenskaplike doelwit is dat ons almal saam eendag in die ewige lewe 'n plek ontvang temidde van die gemeente van die uitverkorenes. Om daar die God van ons doop vir ewig te loof en te prys oor sy genade.

So, gemeente, is die doop 'n belangrike middel van God waardeur Hy sy eie eer bewerk, aan ons troos verskaf en sy gemeente in 'n nuwe lewe opbou. As ons maar net die betekenis van ons doop bly verstaan en bly gebruik!! Want dit is nie genoeg om gedoop te wéés nie- ons moet met ons doop bésig-wees.

Baie Israeliete wat agter Moses aan deur die Rooi See getrek het en ook aan die oewer uitbundig saamgesing het, het die beloofde land Kanaän nooit bereik nie. Omdat hulle algaande die wonderbaarlike deurtog deur die Rooi See weer vergeet het, nie daarmee aktief besig gebly het nie. Die wat die deurtog vergeet het, het ook die intog nie meegemaak nie.

So is dit ook met ons doop. Ons moet daarmee werk. Want as ons wel gedoop is maar ons doop nie, of nie meer gebruik nie, bewerk die doop wat God tot ons voordeel gegee het, juis die oordeel vir ons.

Tenslotte: ons berei ons weer voor op die Heilige Nagmaal wat ons volgende week hoop te vier. Ek het in my preek nog niks daarvan gesê nie. Maar ek wonder of dit nog wel nodig is. Want kan ons alles wat nou m. b. t. die doop gesê is, nie ook op die nagmaal toepas nie? Net soos in die doop herinner die HERE ons ook in die nagmaal aan die dood van sy Seun op Golgotha waardeur Hy ons op wonderbaarlike wyse van die ondergang gered het.

En so bewerk Hy ook deur die nagmaal sy eie eer as ons Verlosser, 'n verwonderde loflied op sy genade; bewerk Hy ons troos sodat ons weer vol vertroue vorentoe gaan; en bou Hy sy gemeente op in 'n toenemende liefde en gehoorsaamheid in eensgesindheid.

Ek sou dus kan sê: die beste manier om u in die dae wat voorlê op die viering van die nagmaal voor te berei, is om met die betekenis van u doop besig te wees.

AMEN.

(Pretoria, 6 mei 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)