God leer Sy kinders kyk!

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1991-06-23
Teks: 
HK Sondag 25
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus,

die bediening van die heilige Doop vanmôre is 'n pragtige aanleiding om rondom Sondag 25 te praat oor: wat is nou sigbaar in die wêreld van die geloof? Die doop is 'n gebeurtenis wat jou aandag vasvang. Die bewegings is anders: die dominee kom van sy preekstoel af. Die doopvont is anders net 'n stilstaande simbool: nou stap 'n gesinnetjie vorentoe, sodat almal hulle rondom die oop doopvont kan sien. Die woorde van ons Here Jesus klink luid dwarsdeur die kerk en die water vloei oor die kinderkoppie. Daarna spring almal spontaan van hul sitplekke op en ons sing die ontroerende woorde van Psalm 105. Daar gebeur iets sigbaars! Die evangelie wat ons so dikwels hoor, word sigbaar!

Die eintlike vraag waarom dit in Sondag 25 gaan, is: hoe kom daar nou in die lewe van 'n sondige en beperkte mens so 'n groot ding as die geloof? Wat moet gebeur om die geloof 'n werkelikheid in jou te maak? Dit is nie maar 'n klomp oortuigings om aan te leer nie, maar 'n lewende werklikheid wat daagliks groei en ontwikkel? Dié groot vraag is: hoe ontstaan en hoe ontwikkel die geloof? Ons is mos almal bewus daarvan dat ons as mense, as gelowiges baie graag die geloof aan ons kinders en aan andere mensen wil oordra, maar dat dit die voorreg van die Heilige Gees bly om dit te gee. Jy kan jou eie kind nie bekeer, hoe graag jy ook wil nie. Dit gebeur boonop nie altyd soos ons dit wens nie: soos elke ouer dit vir sy kind wens, naamlik dat hy ook lief vir die Here word. Dit is die hartseer: ons probeer om so mooi moontlik die geloof gestalte te gee, maar nie al harte word geraak nie. Asof hulle nie sien dat die Here werklikheid is nie. Waar kom die glo en die sien saam? Kom ons volg die belydenis van die kerk waarin ouers van vroeër hulle wysheid uit God se Woord neergelê het. Ik bedien u God se Woord so:

GOD LEER SY KINDERS KYK!

dit is

  1. kyk met die oë van jou hart,
  2. kyk met die oë van jou hoof:
  3. dit is saam die oë van die geloof.

1. KYK MET DIE Oë VAN JOU HART

Die Heilige Gees, sê v/a 65, werk die geloof in ons harte. Hy is daar besig. Hy is daar onsigbaar besig. Tog kan ons die pad wat die Gees loop, 'n bietjie sigbaar maak: deur eerbiedig daaroor na te dink, deur met jou oë die Skrif te lees. Hoe werk die Gees in 'n mens se hart? Daaroor is die Bybel baie duidelik: Hy maak gebruik van die verkondiging van die heilige evangelie! Die verkondiging: dit evangelie kom van buite af. Die word vir jou gesê. Dit is die werklikheid van die sending: God se dienaars kom soek die mense om hulle te laat luister. Dit is die werklikheid van opgroei in die kerk: jy is deur die Woord van God omgewe. Die Here laat dinge sê wat jou hart moet raak, wat jou hart moet bereik.

Baie bewustelik word hier die woord "Evangelie" gekies: die pragtig nuus! Die nuus dat God om Jesus Christus ontwil genadig is. Daarby word gevoeg die woord "belofte". Dit gaan in die werk van die Gees oor die belofte van die evangelie. Dit sê: man, die goeie nuus is vir jou! Dat dit gaan oor 'n belofte sê ook: man, jy moet dit in geloof aanvaar! Dit is hoe die Gees met die Woord na jou toe kom: met handevol beloftes van God wat jy vervolgens met altwee jou hande moet aanvaar. Dit is: met jou hele hart moet aanvaar. Kyk, dit is omtrent wat ek van God se werk sien gebeur. Ek sê vir u hoe God na u toe kom.

Nou kom daar egter dit by: hoe werk dit nou in die onsigbare plek van jou hart? Hoe gaan die oë van jou hart daarvir oop dat dit werklik geweldige nuus is? Dit is wat niemand vir jou kan reël nie. Nee, dit moet die Gees maak. Hy moet in jou hart aan die werk, sodat jou hart ontvanklik vir God se liefde is. Dit is die wonder van die wedergeboorte, die nuwe begin van jou hart. Dit is die wonder wat die Gees in jou moet skep. Dit is wat ek nie kan sien nie. Ek kan wel vir jou sê: kyk man, God kom met beloftes. Kyk, dit is God wat kom: die Skepper en Verlosser van jou lewe in die persoon van Christus Jesus. Kyk na sy kruis wat so indrukwekkend en angswekkend in die Bybel geteken is. Dalk sal die Gees jou oë oopmaak.

Hoekom gebeur dit dat nie alle kinders en nie alle mense wat die evangelie hoor, ook werklik tot geloof kom nie? Die feit onderstreep die vreeslike werklikheid: ons harte is toegesluit vir God se aantrekkingskrag. Ook die harte van verbondskinders is en bly toegesluit, as die Gees dit nie oopmaak nie. Ons bewe vir die geheim van God se verkiesing én die verwerping van mense. Maar dis nie net bewe nie: dit moet ook so wees dat u die God van die verkiesing blymoedig en dankbaar vir die oë van u kinders teken. Met u hart en u woorde mag u vertel en vertel en vertel! Leer hoe om in die Bybel te kyk: vir God wat met beloftes kom. Vir God wat in die werklikheid van Jesus se lewe en sy dood kom. Ja, en u mag bid, daagliks bid. Hardop en stil: met u kinders en vir elk van hulle persoonlik. Bid vir uself hoe om te kan vertel hoe die Gees werk. Laat hulle sensitief word, wees self gevoelig in u luister na die Woord van God. Dalk sal u kinders die verrassing en blydskap op u gesigte lees. Dalk sal hulle u geloof sien: wanneer u oë weerspieël wat in u hart lewe.

Daar is definitief 'n gevaar in 'n goedgeordende kerklike lewe, naamlik dat die uiterlik van kerk- en christenwees teveel op die voorgrond staan. Dit gebeur definitief as die harte toegesluit is vir mekaar. Dan kan ons baie stry om alles in die kerk goed te laat funksioneer. Ons kan die kinders dwing om in alles saam te maak. Ons moet dikwels vir mekaar vra: is daar werklik die ruimte in die kerk om die geloof te vind? Is ons werklik saam met die kinders besig om die Here daagliks by die huis en op Sondag in die kerk te ontmoet? Die lewende werklikheid is die Here! Hy moet ons lewende werklikheid wees. Hy leer sy kinders om met die oë van die hart te kyk.

2. KYK MET DIE Oë VAN JOU HOOF

Nou wil hierdie Sondag ook 'n inleiding gee op die uitleg van die doop en die Nagmaal. Saam noem ons dit met 'n eerbiedige woord die sakramente wat ons Here Jesus vir sy kerk gegee het. Die inleiding op die betekenis van die sakramente beklemtoon dat dit sigbare tekens en seëls is. Op sigbare wyse wil die Here Jesus die werklikheid van die geloof onderstreep. Ons sien die water van die doop op die kinderkoppie neerdrup. Ons proe die wyn en die brood op ons tonge, nadat ons dit op die skaal en in die beker gesien het.

In die Nederlandse Geloofsbelydenis is geprobeer om te sê hoekom God sigbare tekens by die geloof gekies het. Daar staan dan die woorde: "Ons glo dat ons goeie God, omdat God met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te verseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou"(art. 33). Die rede wat gegee word is: "omdat God met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou". Dit is nie baie mooi vertaal nie. Stompsinnigheid beteken vir ons: baie dom, onnosel. So is dit nie bedoel nie. Dit is nie bedoel om te skeld nie, maar letterlik: ons sinne is stomp, ons is nie meer gevoelig vir die geloof in God nie. Die woord "swakheid" staan ook daarby: as skepsels van na die sondeval het ons die toegang tot God se werklikheid verloor. Dié gedagte kom by Johannes Calvyn weg: die sakrament is God se ekstra middel, omdat ons sinne te stomp is. My hart is te stomp om genoeg aan die hoor van die Woord te hê. In sy genade soek die Here nou 'n pad om nog digter by ons te kom as deur die Woord wat gehoor word. Hy gee ook tekens wat gesien word.

Ek is daarvan oortuig ons kan meer sê. Dit is nie net ons stompsinnigheid en swakheid wat die sakramente noodsakelik maak nie. Dit is ook die 'n teken van die werklikheid van die geloof. Die hele geloof in God Drieënig is so werklik dat ons dit met die sintuie mag ervaar! Die water van die doop voel jy op jou hand en hoof. Die brood en die wyn proe jy met jou mond en jy voel dit in jou slukderm ondertoe sak. Altwee sakramente mag ons ook sien: in en op die skaal, in die hand van die dienaar, in jou eie hand. Is dit nie pragtig om te sê: God skakel nie net ons hart in nie. Ook ons oë: om te sien,
ons ore: om te hoor,
ons tas: om te voel en
ons smaak: om te proe!

Dit is die werklikheid van jou menswees: die eenheid van siel en liggaam soos God self dit geskep het. Alle funksies van die menswees word nou deur Hom in die geloof ingeskakel. Daardeur mag jy weet: God se groot, geestelike werklikheid raak nou aan my klein, menslike werklikheid. God leer sy kinders kyk: ook met die oë van jou hoof, sodat jou hart versterk word.

Wie het die sakramente van die Nuwe Testament uitgedink en ingestel? Dit is Christus, die Seun van God wat eers self mens soos jy geword het. Eers het Hy die Nagmaal gegee: op die laaste dag van sy vryheid, die laaste keer saam met sy dissipels. Na sy opstanding het Hy hulle beveel om deur die doop sy kerk te bou: kort voordat Hyself hemel toe sou gaan om van daaruit sy Gees oor die wêreld uit te stuur. Christus ken ons menswees. Hy weet wat die waarde van wonders en tekens, die aantrekkingskrag van sy nabyheid was. Hy gee nou ook sy nabyheid in die tekens van water en brood en wyn, sodat God se kinders ook met hul sintuie ingeskakel word om te glo.

Natuurlik, die Skrif sê baie duidelik dat die geloof begin by die hoor. Dit is mos alreeds 'n sintuig?! By daardie funksie van die mens begin die Here in sy oneindige wysheid. Ja, dan sal daar ook gehoor deur die Gees gewerk moet word. Dit is net soos die Gees die geloof gaan versterk, so dikwels Hy die sakramente in die lewe van sy kinders inskakel. Dan gebruik die Gees al die sintuie terselfdertyd: eers die hoor van Jesus se eie woorde (by die instelling uitgespreek en voorgesê), dan die sien van die tekens (deur Jesus self uitgekies), vervolgens die voel en proe van die geskape dinge. Terwyl God jou van die tekens laat geniet, sal die Gees dit moet inskakel, sodat dit werklik die geloof in die harte raak. Dan is die werking van die sakramente kompleet: die oë in jou hoof is ingeskakel om nog sterker te leer kyk met die oë van jou hart.

3. KYK MET DIE Oë VAN DIE GELOOF

Nou kan ons die eerste twee punte by mekaar tel: die oë van die hart en die oë van jou hoof maak saam dat mens in die geloof kan sien. Ja, dit bly nog altyd waar: die geloof is 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie (Hebr. 11:1). Dit is hoekom dit so belangrik is hoe om te kyk. God is mos 'n werklikheid, ook as ons Hom met die gewone oë nie sien nie. Sy werklikheid, sy wêreld is groter as ons s 'n. Dit het God baie duidelik gewys, toe ons Here Jesus op aarde gekom het. Hy heet mos "die beeld van die onsigbare God" (Kol. 1:15). Mense soos ons het Hom ontmoet en in die oë gekyk. Ja, ook in daardie tyd moes daar die geloof bykom, voordat mense in Hom die Seun van God gesien het. Die oë van die geloof het meer gesien.

Ook die werklikheid wat rondom God is, het Hy ook in 'n mate geopenbaar. Dink byvoorbeeld aan die engele. As die profeet Elia die engeleleër rondom die stad sien, bid hy vir sy kneg of die HERE ook "sy oê wil oopmaak". Dit gebeur en dan sien ook hy! Hoe het dit gebeur? Dit is 'n ding wat ons nie weet nie. Kan die oë van sterflike mense nog nie sien wat ons oë in die herskepping wel sal sien? Die natuurlike lewe, sê die apostel Paulus, word verdiep in die geestelike lewe. Daardie lewe deur die Gees van God sal ons na die opstanding uit die dode ontvang. Tog het mense op hierdie aarde alreeds so mog sien! Dink ook aan Filippus wat die werklikheid van 'n engel ervaar het wat vir hom gesê het: "staan op en gaan na die Suide". Wat ek nou wil sê is: die geloof sal in die toekoms nog meer en dan werklik kan sien. Die onderstreep nou alreeds vir ons die werklikheid van God. Ook al is die geestelik, dit is baie werkelik.

Sien met die oë van die geloof: dit is hoe God ons nou leer kyk. Dat wil sê: God gee vir jou vandag nie meer nie, maar dit is al baie! God het baie oor sy werklikheid, dit is oor Homself geopenbaar. Dink maar aan alles wat ons in die Kategismus nog kort gelede uit die geloofsbelydenis gehoor het. U mag glo in God wat Drieënig is: 'n groot Vader en sy eie Seun en die heilige Gees. Hy kom vir u in die rykdom en krag van sy Woord. Hy onderstreep dit alles deur in twee eenvoudige sakramente te wys hoe werklik sy genade is. Die vergewing van jou sondes is so werklik as die water wat skoonwas. Dit nabyheid van Christus se liefde is so werklik as die brood wat in jou mond is.

Die swartman uit Ethopië se oë het oopgegaan. Filippus het saam met hom die profesie van die lydende kneg van die HERE gelees. Die hoofdienaar van die koningin van Ethiopië was 'n Jood. Hy is 'n mens wat nog nie verder met sy Bybel gekom het nie. Daar was al eeue lank 'n Joodse kolonie in daardie Afrikaanse land. Ook inlandse mense het die geloof in die God van Israël ontvang. Dis hoekom die staatsamptenaar Jerusalem toe gereis het en daar welkom was om een van Israël se feeste te vier. Dalk het hy wel van Jesus gehoor, maar Hom nie persoonlik geken nie. Hy het sy Bybel onderweg oop, soos die wet beveel, maar hy verstaan niks nie. Totdat die evangelis vir hom die evangelie van Jesus begin verkondig. Dan breek die sig deur en gaan sy oë oop: "Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is"! Die doop wil hy so spoedig moontlik ontvang en ervaar. Dit is ook vir ons die weg: hou jou Bybel oop, soek vir Jesus Christus en verlang om God se heilig Woord te verstaan en die werklikheid van die geloof te sien!

Dan gaan die werklikheid van God, die daaglikse realiteit van die verbond oop. Dit is die ruimte vir die Gees om te werk. Van God uit is die ruimte van sy verbond groot. Dit is mos sy liefde en genade in Jesus Christus. Dit is die see van beloftes waarvan die evangelie vol is. Ons kan die groot ruimte van die verbond van God toemaak: as ons nie die ruimte van die Gees van God soek nie. As ons net sien wat ons self maak en self wens. As ons net vir mekaar kyk en mekaar kritiseer. Ja, dan sluit ons ons oë en ons harte toe, omdat ons nie verder soek nie. Glo dit: God wil sy kinders leer kyk. U mag dit elke dag as sy kinders leer. U mag dit elke dag saam met u kinders leer.

AMEN

Liturgie: 

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 93 : 1, 2
Wetslesing
Sing: Ps. 93 : 4
Skriflesing: Handelinge 8 : 26-40 + artikel 33 NGB
Formulier vir die doop
Sing: Ps. 105 : 5
Gebed
Kollekte
Sing: Ps. 105 : 7, 8, 22, 23
Lees: Sondag 25
Prediking
Sing: Ps. 123 : 1
Dankgebed
Sing: SB. 9 : 1, 5 die sien van die geloof!
Seën