Die blywende troos van die opstanding tot die ewige lewe

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 22
Preek Inhoud: 

Sing: Ps 21: 1, 2, 3
Gebed
Lees: Openb 21: 1-8
Teks: Sond 22 H.K.
Sing: Ps 31: 1-5 (voor preek)
Preek
Sing: Geloofsbelydenis (Amenlied)
Gebed
Kollekte
Sing: Ps 126: 1-3 (slotsang)

Brs en srs, sns en dgtrs!

Vanmiddag is ons toe aan die laaste twee artikels van die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Ek glo: die opstanding van die vlees en 'n ewige lewe.

Dit is nogal opvallend dat altwee vrae van die Kategismus hier vra na die troos van hierdie belydenis.

Watter troos gee die opstanding...? vr 57

Watter troos gee die geloof in die ewige lewe? ... vr 58

Nou kan die mens die vraag na troos seker maar verwag in 'n troosboek soos die Kategismus. Maar daardie vraag word nie elke keer gevra nie. Gelukkig maar. Anders sou die vraagstelling baie eentonig raak. En eentonigheid is die laaste wat ons in die kerk kan gebruik.

Maar in elk geval, hier in Sondag 22 is die vraag na die troos van die belydenis definitief op sy plek.

Troos veronderstel dat daar verdriet is.

Waar is meer verdriet as daar waar die lewe self bedreig word of verlore gaan?

Waar vloei meer trane as juis by die dood?

Vir veel verliese in die lewe kan 'n mens later weer vergoed word, maar nie vir die dood nie. Die dood slaan onherstelbare wonde.

'n Mens kan probeer om tydens sy lewe vrae oor God en oor die dood van hom af te skuiwe. Mense kan daarin behoorlik slaag. Maar in werklikheid skuif jy die vrae steeds voor jou uit. En eendag kan jy dit nie meer doen nie. Dan kom jy met die dood oog in oog te staan. En daaraan onmiddellik verbonde: oog in oog met God.

Juis in die dood ervaar 'n mens God. God in sy oordeel oor die sonde waardeur die dood in die lewe gekom het. Maar ook God in sy genade, God as die Enige wat nog 'n woord het as mense alleen maar kan swyg.

En die woord wat Hy het is 'n woord van troos. 'n Woord van houvas as alles ons ontval.

Hiermee is ons by 'n sentrale punt in ons geloofsbelydenis. Hierdie troos is bied houvas by die sterwe.

En juis daarom bied dit ook houvas in die lewe.

Die christelike lewe kan eers werklik tot ontplooiing kom as ons die troos van die ewige lewe van harte aanvaar het.

Hierdie twee artikels oor wat na die lewe met jou gebeur haal jou dan ook nie weg uit die realiteite van vandag nie. Dit maak jou ook nie onverskillig vir wat daar in hierdie wêreld te doen is nie. Inteendeel.

Mens sou die stelling kon maak dat juis die mense wat baie verwag het van 'n lewe na hierdie lewe, die grootste inspannings gelewer het aan die verbetering van vandag se wêreld.

Ek verkondig vir u vanmiddag:

Die blywende troos van die opstanding tot die ewige lewe

  1. Ons sal altyd met Christus wees
  2. Ons sal ewig God prys

Die eerste vraag van sondag 22 gaan dus oor die opstanding van die liggaam.

In die verband is dit merkwaardig dat in die antwoord onmiddellik oor die siel van die mens gepraat word. Maar die bedoeling hier is nie om die aandag van die liggaam so as moontlik weer na die siel af te lei nie.

Juis nie.

In die antwoord word die opname van die siel min of meer as vanselfsprekend voorgestel. Die redding van die siel was vir die mense uit die tyd dat die Kategismus opgestel is eintlik nie 'n vraag nie.

Want hulle het altyd gevoel, dit is waaroor dit gaan.

Die groot lewensvraag is: Wat gebeur na die dood met jou siel?

Sal jou siel gered word, ja of nee?

Die vraag het in die geskiedenis van die christendom altyd 'n tamelik groot rol gespeel. Ook in die gereformeerde kerkgeskiedenis.

Dikwels is daar gedink: geloof het te doen met jou siel.

En so is dit op die werk van Christus toegepas.

Jesus Christus het gekom om siele salig te maak.

Wel, dit is nou tipies 'n ou Roomse suurdesem.

In die Roomse Kerk is baie gedink vanuit die saligheid van die siel. Dit is waaroor dit gaan in die kerk. Jy leef hier op aarde jou lewe. En op grond van wat jy daarvan gemaak het sal aan die einde van die lewe, by die hemelpoort besluit word of jou siel toegang gaan hê tot die ewige lewe of nie.

Hierdie Roomse gedagtegang is weer 'n voortsetting van die Griekse dinke oor die mens. Hulle het die mens beskou as 'n wese met twee dele. 'n Mens bestaan uit 'n siel en 'n liggaam.

Op aarde is die twee dele aan mekaar verbind en by jou sterwe val die twee dele uitmekaar. Die liggaam verteer hier in 'n graf, maar die siel, as die eintlike ding, keer weer terug na sy bron, na God.

Daarom het hulle ook graag die siel aangedui as die onsterflike siel. Dit was 'n stukkie God in 'n mens, wat lewe in homself het.

Tereg neem die Kategismus heeltemal afstand van hierdie manier van dink.

Immers die groot gevaar van so'n gedagtegang is dat jy siel en liggaam van mekaar losmaak. Vervolgens speel jy die twee teen mekaar uit. Jy waardeer die een hoër as die ander.

Dan gaan jy byvoorbeeld sê: Wat ek met my liggaam doen is nie so belangrik nie, as my siel maar gered word.

So kan mense 'n soort sielevroomheid onderhou, maar inmiddels in 'n sondige lewe volhard met die verskoning dat dit slegs sake van die liggaam betref.

Wel, so'n sielevroomheid is die dood vir die christelike lewe.

En daarom is dit so belangrik dat ons by mekaar hou wat by mekaar behoort. Liggaam en siel vorm 'n eenheid. Die Kategismus gee toe dat hulle tydelik geskei kan word, maar prinsipieel is hulle 'n eenheid. Vandag en in 'n ewige lewe.

Waarom?

Omdat God self die mens so geskep het!

Ons liggaamlikheid is nie 'n tydelike verpakking waaroor ons ons behoort te skaam nie. Ons liggaam is ook nie weggooigoed nie.

Die mens soos hy is, is 'n skepsel van God.

Met 'n siel en 'n liggaam.

So'n mens het dan ook liggaamlike en geestelike behoeftes.

Daardie hele mens het deur die sonde in nood gekom.

En die goeie nuus is dat die Here daardie mens, die hele mens wil bevry.

Daarvoor het Christus gekom.

So praat Sondag 1 al daaroor.

Ek behoort met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my Saligmaker Jesus Christus.

Sien U hoe duidelik dit gestel word?

Nie: Jou siel vir Christus en jou liggaam vir jouself!, nie.

Nee, liggaam en siel behoort aan Christus.

Nou kan 'n mens vra, maar wat is die siel dan eintlik?

Is dit 'n deel van jou? Of is dit dieselfde as jou gees?

Of is dit jou lewensasem?

Ek meen dat die Bybel met jou siel bedoel: jy self, soos die Here jou sien en ken. Jou 'ek'. Met al jou gevoelens en verwagtings, met jou geloof en jou hoop.

Jy self dus, maar dan die binnekant.

Die siel het sy organe, sy uitingsmoontlikhede in die liggaam.

Maar pasop ons kan hier slegs onderskei. Ons kan nooit skei nie. Want God het die mens as 'n eenheid gemaak. En wat Hy as 'n eenheid gemaak het, mag ons nie skei nie.

Nou kom die vraag op, maar wat gebeur by die dood?

Die Kategismus gee tog toe dat daar 'n skeiding kom?

Seker. Die afgestorwe liggaam word gebêre in 'n graf en sal daar verteer. Maar die siel word tot Christus opgeneem. Dit is wat ons bely.

Veel meer weet ons ook nie daarvan nie.

Maar dit is vir 'n kind van God genoeg!

Kyk, die bybel gee nie baie aandag aan wat presies met ons gebeur in die tyd tussen ons afsterwe van hierdie aarde en ons opstanding met 'n nuwe liggaam nie.

Waarom nie? Om die eenvoudige rede dat dit nie so belangrik is nie.

Dit is eintlik 'n saak van perspektief. Vanuit die Bybel word oor daardie periode heengekyk.

Laat ek 'n voorbeeld mag gebruik.

As 'n mens per motor vanuit Pretoria op pad is na Kaapstad dan kom jy op 'n sekere oomblik oor die Dutoitskloof. Dan sien jy die Tafelberg en dan sê jy vir jou kinders: Nou is ons daar!

Jy weet dat jy nog 'n 50 KM moet ry voor jy werklik onder die Tafelberg staan. Maar tog sê jy: Hier is ons.

Wel so praat die Bybel oor die opstanding van die liggaam.

As oor die lewe na die lewe gepraat word gaan dit meteen oor die opstanding van die liggaam.

Want dit is die allesbeheersende doel!

Daardie eindbestemming ontvang al die aandag.

Dit wil nie sê dat ons oor die tyd tussen die afsterwe en die opstanding van die liggaam glad niks kan sê nie.

Nee ons kan alles daarvan sê.

Vandag het ons as gelowiges gemeenskap met Christus.

Daardie gemeenskap beteken alles vir ons.

Wel, as dit alles vir jou beteken, dan hoef dit vir jou glad nie te pla wat die dood daaraan gaan verander nie. Want die dood gaan daaraan niks verander nie.

Sodra jy die oë op aarde vir altyd sluit is jy by Christus.

Dit is die bybelse troos vir elke gelowige wat sterf of 'n geliefde moet begrawe.

Iemand wat in gemeenskap met Christus geleef het, bly daarin lewe. Die dood kan hom van alles skei, maar nie van Jesus Christus nie!

Ons sê gewoonlik van ons dooies: hulle gaan na die hemel.

Maar ons moet die spraakgebruik 'n bietjie aanskerp.

Hulle gaan na Christus.

Soos Paulus dit in sy Tessalonisensebrief sê: "Dan sal ons altyd by die Here wees!"

Dit wat die hemel tot hemel maak, dit wat vir ons die mooie van die hemel uitmaak, is mos die aanwesigheid van Jesus Christus daar!

Daarom is dit so belangrik wat die gemeenskap met Christus vandag vir jou beteken. Want dit is juis die gemeenskap wat deur die dood heen veiliggestel word.

As jy hier op aarde net leef vir die genoeëns van die vlees, dan het die hemel vir jou geen betekenis nie.

Die hemel is nie 'n luilekkerland waar jy 'n lewe wat altyd rondom jouself gedraai het, tot in ewigheid kan voortsit nie.

Al waar dit in die hemel oor gaan is oor Jesus Christus.

Het jy vandag met Hom gemeenskap? Dan is daar troos vir jou.

Die dood sal dit nie kan verbreek nie.

Beteken gemeenskap met die Here Jesus vandag niks vir jou nie?

Verwag dan ook niks van die hemel nie.

Verwag dan ook niks van die opstanding van die liggaam nie.

Want soiets sal daar dan vir jou nie wees nie.

Die opstanding is nie bestem vir mense wat hier op aarde geleef het asof die aardse lewe die een en die al is nie.

As die aardse lewe vir jou die een en die al is, dan sal dit ook die een en die al wees. Dan hou dit eendag op en dit was al. (Behalwe dat jy dan nog met die toorn van God oor 'n vermorste lewe moet klaarkom!)

Gemeente, die opstanding van die liggaam is 'n kostelike belofte.

Hoe dit presies in sy werk sal gaan? Ek weet nie.

Wat ek my daarby moet voorstel? Ek weet nie.

Al wat ek weet is dit: Die Here het Homself bekend gemaak as die Skepper van hemel en aarde.

Geen wonder was vir Hom te groot om sy planne uit te voer nie.

Kyk net na die liggaam wat jy vandag het. En besef wat 'n skeppingswonder dit is.

God het jou so gemaak.

Glo net, Hy gaan jou weer so maak. Die keer met 'n liggaam wat vir 'n ewige lewe bestem is.

2. Ons sal sonder sonde God prys

Die tweede antwoord van hierdie Sondag sê: Dat aangesien ek nou reeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar, ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit...

Sien u hoe ook hier die lewe op aarde en die ewige lewe onmiddellik aan mekaar verbonde word? Daar is kontinuiteit.

Dit gaan vanself oor van die een in die ander.

'n Lewe uit geloof hier op aarde is dus wesenlik dieselfde as die ewige lewe.

Al verskil wat daar is is die een is lewe uit geloof en die ander is lewe in aanskouing.

Hier moet ons glo, daar mag ons sien.

Hier is dinge nog gebrekkig, daar is dit volkome.

Die Kategismus wys dit op 'n kernpunt aan.

Die kernpunt is die saak van die vreugde.

Hier is 'n begin van vreugde, hierna is daar 'n volkome vreugde.

Kom ons wil 'n bietjie daaroor nadink.

Wat is eintlik die begin van die ewige vreugde wat ons nou reeds in ons hart ervaar?

Dan moet ons eers vasstel waaruit die ewige vreugde dan bestaan.

Wel, die ewige vreugde kan vir 'n mens niks anders wees as die doen van God se wil nie.

Wat maak die aardse lewe swaar? Dat ons nie aan die wil van God wou voldoen nie. En nou kan ons nie meer nie. Die sonde staan daartussen. Ons vreugde is baie kwesbaar.

Maar daar is hoop. Vandag reeds. Mense wat hulle deur Jesus Christus laat red, word anders. Hulle begin weer om die wil van God te doen. En daarin is vir hulle 'n geweldige vreugde.

In die krag van Christus sien hulle kans om 'n sonde wat hulle lank beheers het, te oorwin. Watter vreugde van bevryding beteken dit!

Vanweë hul geloof in die Here Jesus begin hulle met liefde omsien na hul medemense. Dit kan 'n mens geweldig blymaak.

Jy gaan kerktoe en kan daar met jou broers en susters sing.

Hoe heerlik is dit!

Dit is nou beginsels van ewige vreugde, gemeente!

Ek vrees dat by ons as dit gaan oor die geestelike en oor die kerklike lewe nog teveel vanuit verpligtings geredeneer word.

Jy behoort kerktoe te kom...

Jy moet psalms sing daar...

Jy is verplig om 'n finansiële bydrae te lewer...

As ons nog op daardie manier voel en met mekaar praat het ons van die evangelie nog maar bitter min verstaan.

'n Ware gelowige is bly om kerktoe te kan kom.

Hy geniet dit om daar die lof van die Here te sing.

Dit is vir hom 'n vreugde om iets vir 'n ander te kan beteken.

Hy gryp met graagte na sy Bybel om te hoor wat die Here vir hom wil sê.

Seker, dit alles is nog maar 'n begin. Deur ons eie sondigheid werk dit nie altyd so nie.

Maar ons het ook 'n sekerheid. Wat hier nog gebrekkig is word eendag volkome.

Daarom het ons vanmiddag weer rede om onsself te ondersoek.

As gemeente, as gesinne, as persone.

Ervaar ons werklik hierdie vreugde?

Onthou antwoord 58 sê: die vreugde moet jy ervaar!

Want stel nou, jy ervaar dit nie so nie.

Jy kom wel in die kerk, maar dit is net omdat jy moet of omdat dit van jou verwag word.

Jy sien nie kans om met blydskap die lof van God te verkondig nie.

Die lewe na die wet van God voel vir jou soos 'n plig wat jou vryheid beperk, maar waaraan jy terwille van die mense of terwille van die Bybel tog maar mopperend voldoen.

Wel as jy so voel, wat verwag jy in hemelsnaam van 'n ewige lewe?

As jy nie nou met heel jou hart by die diens van die Here is nie, as jy nie nou bly is met die gemeenskap van die Here Jesus nie, dan sal jy straks met leë hande staan.

Want daar is 'n onlosmaaklike band tussen begin van die ewige vreugde hier, en die volkomenheid daarvan in 'n ewige lewe.

As daar nie hier 'n begin is nie, val daar later niks te voltooi nie.

Hoe die volkome vreugde presies sal wees, daarvan kan ons weereens nie baie sê nie.

Die Kategismus gee maar net 'n negatiewe aanduiding: geen oog het dit gesien nie, geen oor het dit gehopor nie, in geen mensehart kon dit opkom nie.

O ja, daar is tog ook 'n positiewe aanduiding: Die doel is om God ewig te prys.

Wel, dit was altyd al die doel van God

Daarvoor het Hy mos die eerste mense op die aarde gesit.

Daarvoor het Hy vir hulle 'n liggaam en 'n siel gegee.

Ons sonde wat toe die doel onbereikbaar gemaak het, sal God self eendag heeltemal uitsluit.

En dan is daar niks meer wat ons kan hinder om ons lewe aan sy doel te laat beantwoord nie.

Dan kan ons God vir ewig prys.

Sonder enige remming.

Sonder enige sorg.

Dit gaan 'n magtige ervaring word! Julle sal sien! Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)