Christus se Gees vernuwe Christus se Kerk tot die ewige lewe

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 22
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 22 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 103: 8. 9
Wetslesing
Ps 103: 2
Gebed
L. 2 Kor 4: 14-5: 8
SB 24: 7
Prediking
Ps 30: 3, 8
Gebed
Kollekte
Ps 68: 9

Broeders en susters,

Dit gaan in vanoggend se preek eintlik nog 'n keer oor die kerk.

Dit gaan vandag oor die toekoms van die kerk, die toekoms van ons as kerklidmate.

Verlede Sondag het die Kategismus spesiaal ons aandag gevra vir Christus se kerk op aarde. Ons glo dat die Seun van God, ons Here Jesus Christus, hier op aarde 'n gemeente vir God bymekaarbring. Sy Heilige Gees roep mense met die Evangelie en vorm hulle tot kinders van God.

Maar wat word vervolgens van daardie kinders?

Die Kategismus het in Sondag 21 gesê: Christus vergader 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is. En u het geleer om te mag sê: "Ek glo dat ek van hierdie gemeente 'n lewende lidmaat is en ewig sal bly. "

Maar talloos veel kerklidmate voor u het dit ook so leer sê, in die Katkisasieklas, deur die preke; hulle het ook geglo dat hulle tot die ewige lewe uitverkies is- maar waar is hulle vandag?

Hulle het gesterwe en is begrawe! Hul name is lankal uit die lidmateregister van die kerk uitgehaal. Dalk bêre die skriba nog êrens hul kaart met daarop die aantekening: "oorlede".

Eindig die kerklidmaatskap nie in die huis vir bejaardes nie? Op die begraafplaas?

Nee, gemeente, want al voordat die Kategismus u in Sondag 21 leer glo het dat u ewig 'n lidmaat van Christus se kerk sal bly, het hy in Sondag 20 vir u geleer dat Christus se Heilige Gees in u kom woon en die beheer oor u lewe oorgeneem het. En die Heilige Gees, wat die lewe van Christus in u lewe ingedra het, trek Homself by die dood nie meer uit u lewe terug nie. Nee, Hy is aan u gegee "om ewig by u te bly"

Hy, die lewendmakende Gees, waarborg dat u kerklidmaatskap nie by u dood ophou nie, maar 'n heerlike vervolg kry in die hemel, en eendag op die nuwe aarde.

Hoé die Heilige Gees dit doen- dit vat nou Sondag 22 vir ons saam uit God se Woord. Sondag 22 neem ons saam en wys vir ons wat met Christus se kerk gebeur anderkant die grens van dood en graf.

En daaroor sal dit dus gaan in hierdie preek.

Kom ek vat my boodskap so saam:

CHRISTUS SE GEES VERNUWE CHRISTUS SE KERK TOT DIE EWIGE LEWE

HIERDIE VERNUWING:

  1. WORD VAN DAG TOT DAG OPGEBOU
  2. WORD OP ONS STERFDAG NIE AFGEBREEK NIE
  3. WORD OP DIE LAASTE DAG KLAARGEBOU

1. 'n Kind van God kan vandag die ewige lewe wat die Gees van Christus in ons lewe indra, al voel broeders en susters!

So sê ons dit mos met Sondag 22 H.K.: "Nou alreeds gevoel/ervaar ek die begin van die ewige vreugde in my hart.. ". U almal het eendag geleer om dit na te sê. En u mag dit u kinders voorsê.

Maar dan moet dit nie by "sê" bly nie, natuurlik.

Dan moet u dit ook regtig in u hart gevoel, ervaar: die begin van die ewige vreugde.

Dalk het u nog nooit so oor hierdie sinnetjie in die Kategismus nagedink nie. En wonder u watter gevoel dit dan moet wees.

Die begin van die ewige vreugde nou al voel: wat is dit?

Kan ons nou alreeds voorpret hê oor die nuwe lewe wat aan kom is, soos ons byvoorbeeld voorpret het tydens die voorbereidings van die program vir 'n feesaand? Het die eerste blydskap en vrolikheid alreeds begin? !

Miskien voel u dit nog glad nie.

Die ewige vreugde- dis vir ons iets van láter. Dit sal eers eendag kom. Eendag, as God alle trane van die oë afvee en daar geen dood en geen droefheid en geen geween en geen moeite meer sal wees nie omdat God alles nuut gemaak het.

Maar sover is ons vandag nog nie. Nou is daar mos nog die trane, die geween en die moeite, die dood en die droefheid. Alles sál regkom, eendag, dit glo ons. Maar nou is dit nog nie die tyd vir vrolikheid nie. Ons moet eerste nog deur die afbraak heen. Jonk of oud, ons almal kry daarmee te make dat ons lewe vandag nog uiters broos en kwesbaar is.

Gevoelig vir bakterië en siektekieme; aan slytasie onderhewig as ons ouer word; nie teen gewelddadighede van buiteaf bestand nie.

Paulus vergelyk in die Skrifgedeelte wat ons gelees het, 2 Korint. 5, ons lewe van nou met 'n tent. En daardie beeld verstaan u almal: so'n ding is wel oulik vir 'n rukkie, vir op reis of met vakansie. Maar om altyd daarin te moet wóón, dit is nie so lekker nie. Daarvoor is dit te wankel en te kwesbaar.

En ons kom dit dan ook agter, want ons aardse tent lê sommerso plat. By die een is een stormwind genoeg: 'n hartversaking of 'n beroerteaanval of 'n dodelike ongeluk. By die ander word die tentpen na tentpen losgemaak, net so lank tot die tent inmekaar val: stadigaan word die kragte gesloop deur ouderdom of 'n ongeneeslike siekte.

Maar solank dit nog só met ons is, kan ons dan nou al die eerste vreugde van die ewige vreugde ervaar? !

Nogtans staan dit daar so in Sondag 22 H.K., gemeente.

En ons almal het geleer om dit te sê.

En dit was nie voorbarig nie. Nie oordrewe entoesiasties en dus onwerklik nie.

Want iets dergeliks staan ook in 2 Korin. 5.

Ons lees daar in vs. 5 dat God ons die Heilige Gees as onderpand gegee het van die lewe wat ons van Hom sal ontvang.

En daardie woordjie "onderpand" mag ons uitlê as: "voorskot, vooruitbetaling en daarom waarborg dat die res ook sal kom". Die Gees van ons Here Jesus Christus het in ons kom woon, en in Hom het ons die begin van die ewige, onverganklike, onsterflike lewe soos 'n voorskot ontvang. Vandag al.

In die breekbare tent, wat ons vandag nog is, het die lewendmakende Gees sy intrek geneem.

En dit gaan ons agterkom! Saam met Christus se Gees het daar 'n vernuwende krag in ons brose bestaan binnegekom. Die "kragte van die toekomstige wêreld" het by ons losgekom waardeur ons lewe nie meer net 'n saak wat inmekaar sak, is nie. Want die Gees is aan ons gegee om alreeds die voorbereidings te tref vir die nuwe lewe met die volkome vreugde van eendag wanneer die sterflike deur die lewe verslind is.

En nou is ons dus nie meer alleen aan slytasie onderhewig nie- daar vind in ons lewe nou ook deur Christus se lewendmakende Gees 'n heilsame vernuwing plaas.

Die uiterlike mens vergaan nog wel, maar terselfdertyd word die innerlike van dag tot dag vernuwe. Die buitekant word gesloop deur 'n aftakeling wat geen mens kan keer nie. Sekerlik, maar dit is alleen die buitekant, die liggaam. Die binnekant, ons denke en gevoelslewe, word onderwyl daagliks gerestoureer vir die betere lewe van eendag.

Ja, dit is altwee daar, broeders en susters: die afbraak en die opbou.

Ons kan in ons kortsigtigheid so vaskyk teen die afbraak, op die kragte wat ons lewe sloop, dat ons nie meer 'n oog het vir die opbou wat terselfdertyd besig is om hom te voltrek, dag na dag.

Dink ons nie onwillekeurig dat ons nou die afbraak moet verduur en dat dan eendag die opbou kom nie?

Maar die HERE is nou alreeds volop met die herstelwerksaamhede besig. Daarvoor het Hy ons Christus se Gees gegee.

Die Gees werk voorlopig nog slegs aan die binnekant van ons lewe. Ons lewe moet weer heeltemal op God gerig raak. Ons God en Vader moet weer die een en die al in ons lewe word. Want as dit nie reg kom nie, word nie- wat vang ons aan met 'n buitekant wat vir ewig vernuwe is? Ons sou daarmee nog vir ewig ongelukkig wees!

Dis hoekom die lewendmakende Gees ons dus eerste van binne vernuwe.

Maar daarmee het Hy nou al begin. Dwars teen die aftakeling van die uiterlike mens in.

Meer nog: die aftakeling van buite bevorder selfs die vernuwing van binne. Dit lyk dalk snaaks, maar God se Woord leer, broeders en susters, dat God se Gees die lyde nog laat saamwerk ten goede. Ook in 2 Korint. 4: 17 lees ons dit: die moeite van nou bewerk vir ons die heerlikheid van aanstonds.

D.w. s. God kan dit vir ons, deur verval van kragte, baie moeilik maak. En tog word ons daarvan nie minder nie. Want die Gees skakel dit in, en laat dit juis daaraan saamwerk dat ons nog nader aan die HERE gaan lewe. Ons gaan met nog meer aandag luister na sy Woord, nog vuriger tot Hom bid, nog beter verstaan hoeseer ons sy toorn verdien het maar ook hoe groot sy genade is.

En so breek die nuwe lewe hom al baan in hierdie lewe, terwyl die buitekant geleidelik afbrokkel.

U kyk tog nie daaraan verby nie, broeders en susters?

Elkeen van ons begin op 'n stadium die krag van die dood aan sy lewe voel knaag. Jy word siek, raak invalide, word oud; die kragte word minder, jy kom op die ou end haas geen deur meer uit nie, raak gebonde aan jou stoel, of self aan jou bed gekluister. Miskien word die hospitaal die laaste.

Dan kan 'n mens homself so hopeloos begin voel. Uitgeskakel. Opgebrand, Gedaan. Jy gaan jouself afvra: "Wat maak ek nou nog? Wat beteken my lewe nou nog, vir my familie, vir my omgewing, vir Christus se kerk? Ek is maar net 'n las vir almal!"

U kan egter ook dan nog baie beteken. U kan toenemend meer beteken. As u uself van dag tot dag laat vernuwe het, en nog steeds u laat vernuwe deur die Gees, vorm u vir u kinders, u familie, u broeders en susters, die medepasiënte en die hospitaalsusters die lewende bewys dat God met ons op pad is na 'n nuwe hemel én 'n nuwe aarde toe.

U geduld, u geloof, u vertroue en u oorgawe aan die HERE bring op indrukwekkende wyse die vernuwende wrek van die lewendmakende Gees aan die lig. Mens kan aan u sien dat God besig is om nuwe mense te maak.

Ja, die vernuwing is vir God vandag eintlik alreeds 'n uitgemaakte saak. In prinsiepe het God ons, deur die voorskot van die Gees, al daarvoor klaar.

En as u daarvoor 'n oog kry, gemeente, dan kan u dit Paulus nasê: "Daarom gee ons nie moed op nie, ja, het ons altyd goeie moed, want deur die lewendmakende Gees wat Christus deur sy dood vir ons verwerf het, het die ewige vreugde vandag alreeds in ons lewe begin!"

2. As u daarvoor 'n oog gekry het, kry u vervolgens ook 'n ander kyk op die sterwe as die meeste mense. Die sterwe kan dan nie die laaste wees nie.

Dit is wel die einde van die liggaamlike afbraak. Die sloopwerk word voltooi. Die laaste tou wat die tent nog oorent gehou het, word losgemaak en dit wat nog oor was, sak definitief inmekaar.

Ons hoef daaroor nie lughartig te doen nie. Sterwe is nie die natuurlike keersyde van die lewe nie. Dit is nie 'n natuurlike slytasieproses wat ons gelate oor ons kan laat kom of desgewens deur 'n inspuiting bespoedig nie. Die dood is volstrek teennatuurlik! Dit is 'n uiters vernederende proses waarin 'n mens op die ou end alle mag oor homself verloor en uit hande moet gee. En ook die familie en selfs die slimste dokters staan magteloos.

Die God van die lewe breek eiehandig ons buitekant af. En dit herinner ons nog altyd aan die straf oor die breek van die verbond: "Die dag as jy daarvan eet sal jy sekerlik sterwe".

Dit is die totale ontluistering van die mens wat deur die sonde nie meer aan sy oorspronklike bestemming kon en wou beantwoord nie.

En geen mens verwerk dit maklik nie.

Paulus praat in 2 Korint. 5 van "ontklee, uitgeklee" word waardeur ons naak kom te staan. God vat alles van ons af. Ons word tot op ons gebeente uitgeklee!

Dit mag 'n mens tog benou?

Ons "sug", skryf die apostel. "Ons voel beswaard". Ons wou baie liewer "oorklee" word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word. Sou dit nie baie aantrekliker wees nie? Dat 'n nuwe, onverwoesbare, ewige liggaam sommer in een keer oor ons breekbare liggaam van nou sou heenkom en dit laat wegsmelt soos sneeu vir die son?

Maar dit sal alleen gebeur met die mense wat nog op aarde sal lewe op die dag waarop Christus na die aarde terugkeer. Hulle sal in 'n oogwink verander word sodat hul sterflike liggaam met onsterflikheid beklee word.

Maar tot dié tyd moet die een na die ander nog sterwe en tot stof weerkeer. Liggame word begrawe en vergaan.

Maar daarmee word nie die vernuwende werk van die Heilige Gees wat al tydens hierdie lewe begin het, weer afgebreek nie. Hoegenaamd nie!

Dit word op ons sterfdag nie eers stopgesit, om te wag tot die dag van die opstanding nie. Want die lewendmakende Gees trek Hom by ons sterwe nie voorlopig weer uit ons lewe terug nie, broeders en susters. Sou God die onderpand wat Hy gegee het, die voorskot op die lewe, die begin van 'n eindelose vervolg, by my sterwe skielik weer van my af wegvat, sodat ek totaal in 'n graf verdwyn om daar as 'n dooie te slaap?

U weet: daar is teoloë wat dit leer. Wanneer jy sterf, gaan nie jou siel dadelik hemel toe terwyl jou liggaam in die graf gelê moet word nie. Want, so beweer hulle, 'n mens bestaan nie uit 'n siel én 'n liggaam nie. Jy is een mens wat heeltemal sterf en vereers in die graf verdwyn. Daar is vandag nog geen mense in die hemel nie. Almal lê in die graf totdat die dag van die opstanding aanbreek.

Maar is, nog afgesien van verskeie ander Skrifgedeeltes, dit wat Paulus in 2 Korint. 5 skryf oor die Gees wat ons as onderpand gegee is, nie een van die sterkste argumente teen daardie dwaalleer nie, broeders en susters?

Sou Christus se Gees, na al die vernuwingswerk wat Hy alreeds in hierdie lewe begin het, ons op ons sterfdag weer verlaat? Sou in een oomblik al die opbouwerk weer afgebreek word?

Nee wat, Hy bring ons op ons sterfdag juis daar waar ons moet wees: by Christus, ons Hoof in die hemel, by Wie ons behoort soos sy lede.

Hy het ons tydens ons lewe hier al hoe langer hoe meer na Hom toe laat groei. En wanneer ons sterf, mag ons die moeisame verblyf in die versiekte liggaam verlaat en by die Here gaan woon om daar tot rus te kom.

Wanneer hier op aarde ons hande hulle greep verloor, gryp Christus ons vas en haal ons na Hom toe in die hemel. Die band wat sy Gees alreeds gelê het toe ons nog op die aarde geleef het, word dan onverbreekbaar en nouer as ooit tevore.

Hoé, gemeente?

Hoedat dit sal wees, sonder 'n liggaam by die Here in die hemel inwoon? Ek weet dit net so min soos u. Ons sal maar geduldig wag tot ook vir ons die tyd gekom het.

3. Maar u mag gerus daarna verlang. Dis geen sonde as u begeer om te sterwe en die verblyf in die liggaam te verlaat om by die Here te gaan woon nie. Paulus het ook meer as een keer laat weet dat hy dit begeer het.

As u maar nie die rug op die lewe hier op aarde draai solank die Here u hier nog 'n plek en 'n taak gee nie.

Maar in u lewe en u werk hier mag u uitsien na die volkome hereniging met Christus. Ons leef mos nou nog slegs deur geloof, nie deur aanskouing nie. Nou is dit dikwels nog maar moeilik om ons nie blind te staar op die sigbare dinge nie maar om op die onsigbare te let, aangesien die sigbare dinge tydelik is, maar die onsigbare ewig.

Dit kan baie moeilik wees om in die geweld van die uiterlike afbraak te bly glo dat alles tog eendag sal regkom.

Ons ervaar vandag soms maar min van die begin van die ewige vreugde in ons hart, en ons dreig meer as een keer om tog moed op te gee.

Maar wanneer ons deur die poort van die dood by ons Here Christus mag gaan inwoon, sal ons Hom sien in sy volle glorie. En in Hom sal ons dan ook alreeds die voltooiing van die vernuwingswerk van sy Gees aanskou. Immers, ons sien dan die nuwe, verheerlikte liggaam wat Christus vandag al besit en waarop die dood in der ewigheid geen vat meer kry nie.

So'n liggaam sal ook ons ontvang! 'n Nuwe gebou, nie met hande gemaak nie, 'n ewige huis wat God vir ons sal gee pleks van die wankele tent.

Ons moet noú nog sê: "Ek glo die opstanding van die liggaam en die ewige lewe". Al sê ons dit ook al wel met 'n groot stelligheid: "Ons wéét dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons gebou het van God in die hemele. "

"En daarom het ons altyd goeie moed al weet ons ook dat ons nog nie by ons Here woon nie".

Want daardie nuwe, definitiewe woning hét ons!

Dit beteken nie maar net, gemeente, dat God vir ons na ons sterwe alreeds 'n plek in die hemel gee nie. Ons kry ook nie in die hemel alreeds ons nuwe liggaam nie.

Maar: ons het Christus mos in die hemel, as die eerste heeltemal nuwe mens. En Hy vorm in lewende lywe die waarborg vir die komplete vernuwing van sy hele gemeente. Ons lewe is saam met Christus verborge in God. En wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal ons ook ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. In dié geloof mag ons lewe en sterwe.

Die vernuwing wat Christus se lewendmakende Gees in ons begin het, moet sy voltooiing kry. Eendag sal Christus ons vernederde liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk maak.

Maar dit gebeur nie eerder as op die laaste dag nie. Eers dan word die vernuwingswerk klaar gebou. Dan ontvang ons almal ons nuwe liggaam en is die ewige vreugde kompleet.

Want, broeders en susters, dan het ons nie maar net elkeen 'n nuwe liggaam nie. Maar dan vorm ons in ons nuwe liggame saam met al die heiliges eers reg Christus se een liggaam. Dan is die gemeenskap van die heiliges kompleet. Afgebou.

Dan word ons almal volledig beheers deur die een Gees van Christus en het ons die volle kennis van die Seun van God bereik. Dan het ons in alle opsigte in liefde na Hom toe gegroei wat die Hoof is. En dan is ons terselfdertyd in liefde volop vir mekaar 'n hand en 'n voet.

Dan is Gód se vreugde ewig kompleet.

Want dan is die ou teiken van die skepping eindelik bereik: een volk wat Hom ewig loof en prys. Dáárvoor het Hy mos die mens geskep op aarde. Daarom het Hy sy Seun aarde toe gestuur om ons te verlos uit die mag van die sonde. Daarvoor het Christus se Gees aan die werk gespring. God soek 'n volk wat Hom soos een man loof en prys tot in ewigheid!

Aan die teiken het die lewendmakende Gees van Christus ook vandag weer gewerk, gemeente. AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)