Christus' gemeente is 'n gemeenskap van heiliges

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2018-01-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Voor diens: Ps 36: 1, 2, 3
Ps 93: 1, 2, 3
Ps 93: 4
Ps 32: 1, 2, 3-6
Ps 148: 1, 2, 5 (beurtsang)
Lees: 1 Kor 12
Teks: Sond 21B

Brs en srs, kinders!

Die uitdrukking 'gemeenskap van die heiliges' ken ons almal goed. In gesprekke in die gemeente kan ons die aanduiding gereëld hoor.

Die een sê daarvan: Nee maar hier in Kaapstad ervaar ek baie sterk die gemeenskap van die heiliges.

'n Ander sê: Ag, die gemeenskap van die heiliges, ek merk in die gemeente nie baie daarvan nie.

Uit hierdie twee antwoorde blyk dat die een totaal anders as die ander oor die gemeenskap van die heiliges oordeel.

Tog stem hulle blykbaar op een punt saam. Hieroor: Die gemeenskap is iets wat jy moet ervaar, wat jy moet voel.

En ai tog as jy niks daarvan voel nie, dan staan jy vinnig klaar met 'n beskuldiging. Dit is die skuld van die dominee, dit is die fout van die kerkraad, dit is die gemis van die gemeente.

Gemeente, ek vermoed dat baie klagtes oor die gemeenskap van die heiliges voortkom uit 'n fundamentele misverstand oor wat die gemeenskap eintlik is.

Want gemeenskap van die heiliges is nie in die eerste plek iets om te voel nie, maar is allereers 'n saak van geloof. Daar is gemeenskap van die heiliges. Dit bely ons en dit glo ons.

Net soos by die laaste punt wat in Sond 21 aan die orde kom. Die vergewing van die sondes.

Dit is ook nie in die eerste plek iets om te voel nie, maar allereers 'n saak van geloof. Jy bely dat jou sondes vergewe is. Of jy dit voel is 'n ander saak.

Daar is nog 'n tweede misverstand. Vir baie mense is die gemeenskap van die heiliges blykbaar 'n instelling waaruit jy iets kan haal. Die Kategismus wys ons egter in 'n totaal ander rigting. Die gemeenskap is iets waar jy moet gee. Elkeen is geroepe om in die gemeenskap van die heiliges te investeer.

Dus iemand wat steeds kla oor die gebrek aan gemeenskap van die heiliges kla eintlik homself aan, want hy betoon kennelik nie die gemeenskap waartoe hy verplig is nie.

Iemand wat werklik sy deel bydra aan die gemeenskap van die heiliges sal jy nooit oor gebrek aan gemeenskap van die heiliges hoor kla nie. Hy weet al te goed wat dit is. Hy verrrig sy deel daar ofwel hy gee baie.

Ons tema vir die preek is:

Christus' gemeente is 'n gemeenskap van heiliges

  1. Die bron van die gemeenskap
  2. Die roeping in die gemeenskap
  3. Die basis onder die gemeenskap

Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Omdat daar by soveel mense so totaal verskillende verwagtings tav die gemeenskap van die heiliges leef, is dit 'n goeie saak om vanoggend saam na die Kategismus te luister.

Die antwoord wat op vraag 55 gegee word is: " Ten eerste dat die gelowiges almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap het en deel het aan al sy skatte en gawes"

Die eerste wat vir my opval is dat hier so eenvoudig iets vasgestel word. As 'n feit. Die gelowiges het gemeenskap met Jesus Christus.

Let op: dit is dus iets anders as dat ons ervaar of dat ons voel dat ons met Christus verbonde is.

Natuurlik behoort die ervaring daar nadruklik by. Vir 'n gelowige is dit selfs essensieel.

Maar tog word die gevoel of die ervaring hier nie as eerste genoem nie. Gelukkig nie, gemeente.

Immers ons gevoel kan ons sommer maklik bedrieg. Dit kan bv gebeur dat ons glad nie verbondenheid met Christus voel nie. In sekere situasies kan ons selfs die gevoel hê dat Christus ver van ons weg is.

Maar ons gevoel is gelukkig hier nie beslissend nie. Immers dit is juis die troos van die Bybel en die troos van die belydenis dat hulle vir ons verseker dat Christus tog naby is.

Ons kan dit ook vir mekaar sê as iemnad die nabyheid van Christus in 'n sekere situasie nie kan ervaar nie.

Dan kan jy iemand bemoedig: Christus is by jou! Hy het dit vir jou belowe! Glo dit gerus!

En vanuit die aanvaarding van daardie feit, uit die aanneming van daardie belofte, groei ook weer die gevoel van nabyheid van Christus.

Nou terug na antw 55.

Hier word eenvoudig vasgestel: die gelowiges het gemeenskap met Christus.

Om gemeenskap met iemand te hê, dit is om aan iemand verbonde te wees. Jy behoort by iemand. Jy het 'n vaste verhouding met iemand.

Wel, so 'n verhouding, so'n gemeenskap het die gelowiges met Christus.

En ogv die gemeenskap deel hulle dus in al sy skatte en gawes.

Ons kan daarom vra. Enige tyd.

Dus, brs en srs, as ons praat van die gemeenskap van die heiliges, dan moet ons nie in die eeste plek na die brs en srs rondom ons kyk nie, maar moet ons begin om op te sien na Jesus Christus. Hy stig met ons gemeenskap. Hy onderhou van sy kant af met ons 'n relasie.

Die stigting van die gemeenskap (die gemeenskap van die heiliges) is dan dus net soos die vergadering, beskerming en onderhouding van die gemeente (antw54), die werk van Jesus Christus.

'n Wonderlike werk!

'n Werk wat voortkom uit sy liefde en genade dat Hy met ons gemeenskap wil stig en bewaar.

Dus laat ons baie op ons pasoppens wees om daaroor sommer te kla.

Ons moet die gemeenskap van die heiliges as 'n werk van Jesus Christus prys!

Dus daaroor gaan dit vanoggend. Daardie gemeenskap is nie iets waarvan jy meer of soms minder kan voel nie. Nee die gemeenskap is daar! Ons bely dit!

Ons het deel daaraan. Almal saam en elkeen afsonderlik.

Ons let eers op dit 'almal saam'

Almal saam het gemeenskap met Christus en al sy gawes. Dit beteken die gemeenskap met Christus en die skatte en gawes waarvan sprake is, ontvang ons almal saam. As gemeente.

'n Voorbeeld: 'n Gesin met 'n aantal kinders koop 'n huis. Hulle koop nie vir elkeen afsonderlik 'n kamertjie nie, maar saam 'n huis. Dit is ons huis. En in daardie huis ontvang dan elkeen sy eie plekkie. Jou kamer. Jou bed.

Maar jy kan die eie plekkie nie losmaak van die hele huis nie.

As dit nie meer julle huis is nie, dan is daar ook nie meer jou kamer nie.

Eers is daar die gemeenskaplike. Almal saam. En daarna afhanklik van die almal saam is dit ook vir elkeen afsonderlik.

Wel, so is dit ook in die kerk. Christus' gemeente is 'n gemeenskap. Wat jy in die kerk het, het jy saam.

Wat jy in die kerk ontvang, ontvang jy saam. En daarom kan jy in die kerk nie jou brs en srs verbykyk nie. Jy kan nie jou deel vir jouself uitkry nie.

Wat jy ontvang, ontvang jy saam en eers daarna kan elkeen sy deel daarvan geniet.

'Ons het as lede met die Here gemeenskap', gaan die Kategismus verder.

Ons moenie oor die woord 'lede' heenlees nie. Ons het as lede met Hom gemeenskap. As lede van een liggaam.

Die beeld van lede van 'n liggaam word deur Paulus uitgewerk in 1 Kor 12.

Daar staan ( vs 12): Soos 'n liggaam baie lede het en tog een liggaam is, so ook Christus liggaam. Ons is gedoop tot een liggaam.

Ook hier lê die nadruk op God se werk daarin.

Die lede het mekaar nie gesoek nie.

Die liggaam is ook nie sommer 'n optelsom van lidmate nie, maar die liggaaam is deur God geskape. Hy het in die liggaam lede gegee. En deur die Doop voeg Hy steeds weer nuwe lede toe. Dit is sy werk. Die werk van sy Heilige Gees.

En daarom kan ons nie sinvol van die gemeenskap van die heiliges praat sonder om eers daar te begin. Daar waar God deur Sy Gees mense tot een liggaam saamvoeg. Daar is 'n gemeenskap van heiliges.

Daarom vorm die artikel oor die gemeenskap van die heiliges een geheel met die artikel oor die kerk. Die gemeenskap van die heiliges is daar waar die kerk is. En die kerk is, soos ons verlede week gesien het, daar waar die Woord verkondig word en die sacramente bedien word.

By die sakrament van die Heilige Nagmaal b. v. sien ons heel duidelik hoe Christus sy gawes gee en hoe daardie gawes in gemeenskap geniet word.

Want daar sit ons almal en put uit dieselfde bron.

Daar het ons almal deel aan die een brood. Daar skenk Christus die volle gemeenskap met Hom en dus ook die gemeenskap met mekaar.

2. Ons roeping in die gemeenskap

Vanuit die geskenk van die gemeenskap van die heiliges kom ons nou by die taak wat daaruit voortkom.

Ons lees: Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend.

Weereens laat 'n herlesing van die Kategismusantwoord ons besef dat die gemeenskap van die heiliges nie iets is waaruit jy vir jouself iets kan haal nie, maar eerder die omgekeerde.

Jy moet iets gee.

Die gemeenskap van die heiliges is 'n verpligting. 'n Roeping vir elkeen van ons.

En wat moet ons dan gee? Die Kategismus praat van: 'Elkeen sy gawes'.

Dit is dus jou gawes wat jy moet gee.. Daardie gawes is natuurlik van almal verskillend.

Jy kry mense wat 'n gawe het om ander te bemoedig. Dit is 'n pragtige gawe, maar nie almal het dit nie.

Jy kry mense wat 'n gawe het om ander te onderwys. Ook pragtig maar nie almal kan dit nie.

Daar is mense wat die gawe het om baie geld te verdien. Ons benodig hulle want die meeste van ons het daardie gawe nie.

Daar is mense met 'n diep insig in die Skrifte. Ons kan hulle goed gebruik, want die Bybel is mos die bron van ons geloof.

Ek het sommer vir u 'n aantal totaal verskillende gawes opgesom.

In hierdie gawes gaan dit eg nie om wat jy 'geestelike gawes' sou kon noem, soos bid vir of met iemand, of 'n bybelstudie.

Ook heel ander dinge wat die een wel kan en die ander nie is bruikbaar in die kerk. Jy kry mense wat kan orrelspeel, of tuinmaak of tegnies kapasiteite het om by die kerkgebou probleme te kan oplos. Ek self sou nie graag daardie plate in die plafon wil vervang nie, laat vir my maar 'n aand katkisasie klasse aanbied. Maar hopelik is daar iemand anders wat dit kan.

Elkeen het so sy eie gawes.

Paulus noem in 1 Korinte 12 'n hele verskeidenheid op.

Apostels, profete, leraars, kragte, gawes van gesondmaking, helpers, regerings, allerhande take.

Paulus beskou die verskeidenheid aan gawes as 'n baie positiewe saak.

Stel ons het 'n gemeente van uitsluitlik predikante?

Ek moet nie daaraan dink nie.

Of ons wou almal orreliste word? Nog erger.

Maar gelukkig is dit nie so nie. Die een het hierdie gawe. Die ander weer ander gawes. En ons het almal nodig. Soos ons in 'n liggaam oë en ore en hande nodig het.

Paulus werk die beeld van die liggaam met sy verskillende lede breed uit.

As die hele liggaam oor sou wees, waar sou die reuk wees?

Nee die liggaam is soos dit is. En ook die onderdele het mekaar nodig om 'n gesonde liggaam te kan vorm.

Die kop kan vir die voete nie sê: Ek het julle nie nodig nie!

Dit sou mos dwaasheid wees.

Paulus wil hiermee sê: In die gemeenskap van die heiliges is dit onmoontlik. Die een het altyd die ander nodig.

In die kerk kan niemand sê: Ek behoort daarby en hy ook en sy ook, maar daardie een soek ons nie. Ons het vir hom nie nodig nie.

Dit is in die gemeente van Jesus Christus nou totaal onmoontlik.

Dit wil nie sê dat dit in 'n gemeente nooit gebeur nie. Dit kom voor. In Korinte het dit voorgekom. By ons kom dit ook voor.

Maar juis daarom gee Paulus 'n sterk waarskuwing. Hy gee vir ons heel direkte onderrig hoe ons in die gemeenskap van die heiliges met mekaar moet omgaan.

Jy moet mekaar laat deel in elkeen se gawes.

En die opvallendste is, hoe meer jy daarin gee, hoe meer daar vir jou terugkom.

Miskien nie onmiddellik nie, maar seker op langer termyn is dit so. Hoe meer jy gee, van jouself, van jou gawes, hoe meer jy terugontvang.

Ongelukkig is die meeste van ons maar kort-termyn dinkers.

As jy gee wil jy onmiddellik iets terugontvang, en anders hou jy jou gawes maar liewers vir jouself.

Helaas kom baie mense nooit verder nie.

Ons sou die gee binne die gemeenskap van die heiliges kon vergelyk met saaigraan. Elkeen van die gelowiges ontvang 'n sak graan. Jou gawes.

Wat gaan jy daarmee maak?

Een van twee:

Of: jy vat nie 'n kans nie. Jy hou dit vir jouself. Jy eet dit self op.

Of: jy vat die kans. Jy strooi dit uit. Hier en daar. Jy gee wat jy het. En dan skielik dra dit vrug. Hoe meer jy saai, hoe meer jy oes.

En omgekeerd: Hoe meer jy vir jouself hou, hoe minder vrug.

'n Lewe waarin jy nooit iets anders gesoek het as jou eie voordeel, eindig in eensaamheid.

Maar iemand wat baie in die gemeenskap van die heiliges geinvesteer het sien tot sy eie verrassing baie daarvan terugkom.

Dus laat ons nooit meer vra: Wat lewer die gemeenskap van die heiliges vir my op nie, maar altyd: Wat kan ek in die gemeenskap van die heiliges beteken? Hoe kan ek met my kapasiteite diensbaar wees?

En dit nog wel gewillig en met vreugde. Om mopperend en sugtend jou gawes te gee is nie lekker nie en lewer daarby ook niks op nie. Daarvan word jy nie ryker nie.

Maar as jy met blydskap gee, dan volg die vrug vanself.

In die vorm van blydskap by jouself, in dankbaarheid by die ander en tenslotte versamel jy nog 'n skat in die hemel bowendien.

3. die basis onder die gemeenskap

In hierdie oorvol Kategismus sondag waarin so baie belangrike sake aan die orde kom, hink die vraag oor die vergewing van die sondes maar so'n bietjie agteraan.

Tog is dit ten onregte.

Immers die vergewing van die sondes is die grootste geskenk wat God vir sy kerk wil gee.

Dit is die voorwaarde vir ons omgang met Hom.

Want God is heilig en kan met onheiliges geen gemeenskap hê nie. Daarom is dit noodsaaklik dat ons in Christus geheilig is. Wel, dit gebeur as ons deur die Doop in sy gemeente ingelyf word.

Dan verseker ons die Seun van God dat Hy ons in sy bloed was en reinig van ons sondes.

Dit is die begin van ons heiliging. Dit maak ons reg vir die gemeenskap van die heiliges.

Dit maak ons deel daarvan.

Maar met hierdie noodsaaklike wassing van die doop is dit nie: Eenmaal gewas, altyd skoon nie.

Nee, die reiniging benodig ons steeds weer.

Steeds weer moet ons tot Christus gaan en vir ons die sondes laat afwas.

Steeds weer moet ons geheilig word. Steeds weer benodig ons vergifnis.

Ons moet dit net vra. Dit lyk so maklik. Om vergifnis vra.

Maar dit is die moeilikste wat daar is. Veral as daar 'n groot sonde was wat ons steeds weer pla, dan kan ons voortdurend deur skuldgevoel verteer word.

Dan wil ons alles wel doen om dit ongedaan te maak. So dat dit glad nie gebeur het nie.

Maar ongelukkig kan ons feite nooit meer verander nie.

Tog hoef ons daarom nie radeloos te word nie.

Ons kan vergewing vra. En ons ontvang dit ook.

Dit mag ons glo. Nee, dit moet ons glo.

Immers nie die algemene belydenis van die kerk dat daar vergewing van sondes is, kan jou help nie, maar slegs jou geloof in die vergewing van jou sondes kan jou bevry van die las van 'n skuldige gewete.

Jy moet self vra om die vergewing van jou sondes.

Jy moet glo dat jy dit ontvang.

En as jy dit werklik glo dan sal jy sien, dan voel jy jou ook werklik bevry van skuld.

Dit is die heerlike ervaring wat elke christen daagliks mag ervaar. God bevry jou van die las van jou sondes.

Sondes wat jy bely het, hoef jou nie meer te pla nie.

Jy mag werklik vry daarvan voel.

En as jy so met jou sondes omgaan, dan voel jy ook dankbaarheid dat jy deel is van 'n gemeente van Jesus Christus.

Dat jy deel het aan die gemeenskap van die heiliges.

En dan gee jy ook sommer vir mekaar baie ruimte binne die gemeenskap. Dan sit jy nie meer eenkant en kla dat die gemeenskap van die heiliges vir jou nie genoeg oplewer nie, maar jy gee van jou kant. Ruimhartig.

Probeer maar. Jy sal sien, dit kom terug op een of ander manier. Jy moet net die kans wil vat om uit te deel. Om te saai.

As jy van uit die bevrydende ervaring van die vergewing van sondes leef dan kan dit nie anders of 'n ander sal dit ook opmerk en hom daaroor met jou kan verbly.

So is die gemeenskap van die heiliges een van die mees wonderlike geskenke wat Jesus Christus aan ons as gemeente geskenk het.

Ons moet net leer om daardie geskenk elke dag te geniet.

Amen

13 Junie 1993

Liturgie: 

(kyk in preek)