Die gelowige mag vertrou op sy volharding tot die einde

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Ps. 113: 1, 3
Ps. 113: 2
Ps. 32: 1, 2, 3, 6
Ps. 126
Ps. 138: 1, 4
Lees: Psalm 32 & D.L.hfst. V par. 4 - 8
Teks: Sondag 21a

Broeders en susters,

'Ek glo dat ek van die heilige algemene christelike kerk 'n lid is en ewig sal bly'. Dit is wat ons in Sondag 21 oor onsself in die kerk bely. Nou het ons as mense altyd moeite om 'n belydenis uit te spreek oor iets wat met die ewigheid te doen het. Want as sterflike mense kan ons onsself daarvan eintlik geen voorstelling maak nie.

En as ons dan moet bely dat ons ewig aan die kerk sal behoort, dan word dit nog moeiliker. Want wie is ons om so 'n uitspraak te doen? Nou het ons verlede week gesien dat ons hier eintlik nie belydenis doen van ons eie volharding nie, maar van die volharding van God. Hy bly by Sy keuse. Hy gee Sy ewige voorneme nie op nie.

Wel, dit los iets op met betrekking tot ons eie onvermoë. Inderdaad, as dit van ons afhang kan ons geen belydenis oor volharding uitspreek nie, maar omdat ons glo dat God altyd bereik wat Hy wil bereik, kom ons weer by 'n nuwe vraag. Hierdie vraag: As God dan Sy mense uitverkies het, en besluit het tot hulle ewige redding, word die mens dan nie gedegradeer tot 'n tipe marionet nie? 'n Pop aan 'n toutjie wat nie self kan spring nie, maar net spring soos die onsigbare persoon aan die toutjies trek? Ek bedoel dit, die belydenis van die verkiesing en gevolglik van die volharding, beroof dit die mens nie van sy ware menslikheid nie? Is die veranderlikheid van 'n mens, hoe lastig dit soms ook kan wees, nie juis een van sy mees menslike eienskappe nie. En nog wel 'n aantreklike eienskap ook, want sonder dit sou die lewe moontlik baie oninteressant wees.

DIE GELOWIGE MAG VERTROU OP SY VOLHARDING TOT DIE EINDE.

  1. Hoe die mens daarin mens bly.
  2. Hoe God daarin God bly.

Paragraaf 4 begin met die belydenis van die mag van God. Daardie mag word gestel teenoor die sondige natuur. Die sondige natuur van die mens uit die aard van die saak. En daarmee is ons midde-in die probleem wat ons in die inleiding aangedui het. Hoeveel ruimte is daar in die Dordse Leerreëls vir die funksionering van die mens? Die wyse waarop paragraaf 4 die probleem aan die orde stel, maak duidelik dat heel die leer van die verkiesing en van die volharding van die gelowiges, die mens beslis nie buite die aardse werklikheid trek nie. Eerder is dit so dat juis die werklikheid van elke dag tot sy volle reg kom.

So begin paragraaf 4: "Die mag van God, waardeur Hy die ware gelowiges in die genade bevestig en bewaar, is so groot dat hulle nie deur die sondige natuur oorwin kan word nie". Die feit dat hier gepraat word van 'n oorwinning, verplaas ons onmiddellik na 'n strydtoneel.

Verkiesing beteken nie: Alles kom vanself reg, buite en sonder die mens nie. Nee, die mens is volop in die prentjie. Met sy sondige natuur. En daardie sondige natuur laat van hom hoor. Dit is 'n ontsaglik magtige faktor.

Jy kan eintlik nie eens sê, die mens het 'n sondige natuur nie.

Nee, die mens is 'n sondige natuur. Hy word gelei in al sy dade en gedagtes deur sy sondige natuur.

Daardie sondige natuur is vir 'n mens onoorwinlik. Want dit is mos hyself. 'n Vegter stry in die reël mos nie teen homself nie, hy soek 'n ander as teëstander. Wie gaan nou stry teen homself?

En tog, daar is 'n teëstander. Die teëstander is die mag van God, wat Sy genade in die mens wil bevestig. En die mag is so groot dat die oorwinning op die sondige natuur tenslotte seker is.

Maar dit beteken nie dat die stryd nie swaar kan wees nie. Dit beteken ook nie dat in die stryd geen veldslae verlore kan word nie. Die gelowige moet die stryd voer met as belangrikste wapen die gebed. Die gebed om nie in versoekings gelei te word nie.

En dan blyk dit dat nog steeds veldslae verloor kan word.

Ons teks noem die voorbeelde van Dawid en Petrus.

Dawid was die man na God se hart. Dawid was God se uitverkore gesalfde. Maar tegelyk 'n sondaar. As sy begeerte opgewek word na Batseba, dan neem hy haar. En asof dit nog nie erg genoeg is nie, laat hy daarna haar man, Uria, vermoor.

Dit kan 'n kind van God doen. Tot sulke vreeslike sondes kan 'n uitverkorene van die Here val.

En laat niemand meen dat God, omdat dit 'n uitverkorene betref, dit eintlik nie so verskriklik vind nie. Lees maar in paragraaf 5: "Met sulke growwe sondes vertoorn hulle God vreeslik, verdien hulle die dood. Bedroef hulle die Heilige Gees"... En dit nie alleen soos God vanweë daardie sonde na hulle kyk nie, hulleself verander ook daarvan immers die sonde.. "versteur die oefening in die geloof, verwond ernstig die gewete, hulle verloor soms 'n tyd lank die besef van die genade. "

Dit beteken: God verberg Sy aangesig vir hulle, wat in die sonde leef, en wat daardie sonde nie wil erken nie. En dit is die wyse waarop God Sy toorn laat voel aan Sy kinders. As daar 'n onbelede sonde in jou lewe is, dan kan jy nie 'n oop verhouding met die Here volhou nie. Jy kan vir jouself 'n sonde probeer goedpraat, soos ook Dawid ongetwyfeld gedoen het. Die lewe gaan tog wel verder. En tog, jou gebed werk nie meer nie. Daar is by jou nie meer blydskap in die Here nie.

Jy voel ongelukkig en verlate.

Niemand minder as Dawid self het dit op aangrypende wyse onder woorde gebring, naamlik in Psalm 32.

Toe Ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag, want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos somergloed.

Ons hoor sommer, in die tyd van sy onbelede sonde het Dawid geen lewe gehad nie. God se vriendelike aangesig het vir hom nie geskyn nie.

Totdat Dawid terugkeer. Daar is 'n weg terug. Die weg van opregte berou.

Dit is die weg wat gegaan moet word. Die enigste manier waarop die genadegeskenk van die volharding verkry kan word.

God se besluit staan wel vas. Maar dit is in die besluit opgeneem, dat die mens die weg van geloof, boetvaardigheid en heiligheid moet gaan. In die opsig is die Bybel volstrek duidelik. Sonder heiliging kan jy die Here nie sien nie. Sonder bekering kan jy nie gered word nie.

Sonder berou is daar vir jou sondes geen vergewing nie. Maar al die sake: heiliging, bekering, berou, waarby die mens so totaal, met heel sy wese betrokke is, dit alles bly tenslotte geskenke van God se barmhartigheid.

Want soos ons in paragraaf 3 bely het: God is getrou. Dit staan bo alles vas. God is getrou.

Die woord getrou dui op 'n relasie. Jy is getrou in 'n relasie. Wel, as God getrou is, beteken dit in die eerste plek dat Hy getrou is aan Homself.

Maar ook dat Hy getrou is aan ons, as gelowiges. Die woord getrou gee aan heel die verhouding iets lewendigs. God is die Lewende God. Hy is nie 'n God wat besluit het tot verkiesing van iemand, en dit moet dan uitgevoer word bo en buite die mens om, omdat Hy nou maar so besluit het nie.

Nee, Hy is die Lewende God. En Hy gaan om met lewende mense. En daarom is alles eg. 'n Versoeking in 'n menselewe is eg. As hy in sonde val is dit ook eg. En God se toorn daaroor is ook eg. Al die gevoelens en ervarings van die mens is ingesluit hier.

Ek dink die Dordse Leerreëls is hier so menslik en het soveel gevoel vir die realiteit, juis omdat so sorgvuldig die Bybel nagespreek word.

Met die Bybel, met Sy Woord, kom die Here werklik binne in die lewe van die mens. Uitverkiesing en volharding, dit is nie 'n teorie nie, dit is lewe, die lewe soos dit is.

En daarom mag ons inderdaad sê: In hierdie leer bly die mens werklik mens. Die leer van die uitverkiesing en volharding degradeer die mens nie tot 'n willose voorwerp, wat geen wil of gevoel van sy eie het nie, maar aan die mens word werklik reg gedoen. Aan die mens in sy swak sondige natuur, en aan die mens as voorwerp van God se barmhartigheid.

2. Hoe God hierin God bly.

Nadat paragraaf 4 en 5 aandag gegee het aan die ervarings en gevoelens van die sondigende mens, rig paragraaf 6 ons aandag weer op God. Op wat Hy van Sy kant tydens so 'n val in sonde van een van sy kinders doen.

"God, wat oneindig barmhartig is, neem weens die onveranderlike besluit van die uitverkiesing, Sy Heilige Gees nie heeltemal van Sy eiendom weg nie... "

Let op dat hier weer so pragtig, nie sonder meer vanuit die onveranderlike besluit van die uitverkiesing geredeneer word nie, dit sou iets kouds gee aan heel die gedagtegang.

Nee, daar word eers verwys na God se oneindige barmhartigheid! Vanuit Sy barmhartigheid, waaraan geen grens is nie, gryp Hy in in die lewe van Sy kind. Hy trek Hom, vanweë die erns van die sonde, en vanweë die vuur van Sy toorn daaroor, nie van die mens terug nie, maar hou die mens vas. Die Heilige Gees, God Self bly Sy woonplek handhaaf in die sondaar. Hy wil nie toelaat dat Sy kind homself in 'n ewige verderf stort nie. Hy kan dit nie, want Hy het Sy kind lief. Oneindig lief. Hy is eindeloos barmhartig en grenseloos genadig!

Dit alles glo ons van onse God, en ons prys Hom daarvoor. As God toornig is oor ons sonde, dan is die toorn eg en reëel, maar dit is altyd 'n vaderlike toorn, en nooit 'n vyandelike haat nie. Die verlore Seun kan van sy Vader af weggaan, hy kan van sy kant sy hele erfdeel saamneem en opmors, maar vanuit die Vader gesien bly hy erfgenaam.

Alleen hy moet terugkom om sy erfdeel opnuut te ontvang. En daarvoor is opregte berou nodig, insig in sy eie situasie en 'n hart wat die liefde van die Vader opnuut onthou.

Dus laat nooit iemand sy mond oopmaak en basel oor 'die volharding van die heiliges' terwyl hy in sy sondes bly lê nie. Dis onmoontlik. 'Volharding van die heiliges'... dit is 'n woord wat 'n mens net heel eerbiedig en gelowig in die mond mag neem. Van volharding kan jy alleen praat as jy gesien het, die soewereiniteit van die genade van God.

God bly God, en daarom het Hy alles in Sy hand.

Die Vader hou Sy kinders vas, ook al dwaal hulle ver af. Hy is nie afhanklik van hulle bekering en berou nie, maar wil hulle tog nie sonder bekering en berou red nie.

En nou is die vraag: Hoe doen God dit dan?

Paragraaf 7 vertel daaroor. Daar is eers sprake van onverganklike saad waaruit hulle wedergebore is. Wat dit presies is, kan ek nie met sekerheid sê nie. Dit is in elk geval 'n woord wat herinner aan die werking van die Heilige Gees. As die Heilige Gees werklik iemand tot geloof gebring het, dan bly dit by die mens. Jy kan jouself daarvan nooit weer losmaak nie. Dis iets soos die apostel Johannes skryf: Die Woord van God bly in julle. Jy kan dit 'n tydlank begrawe in jouself. Jy kan 'n eeltlaag van verharding daaroor laat groei, maar dit bly daar.

En as dan opnuut die Here met 'n indringende woord na jou toe kom, dan gee dit skielik 'n weerklank. Soos Dawid sy sonde met Batseba aanvanklik in sy gewete begrawe het, en gemeen het, hy kan daarvan vergeet, daarvan loskom, maar dit het nie gewerk nie.

Maar as dan die profeet Natan met sy beskuldigende vinger wys, dan besef Dawid onmiddellik: Ek het gesondig. Ek moet boete doen. Hier spreek die Here regstreeks tot my.

En dit gee die groot verandering, en dan gaan hy die vereiste pad van berou en boetedoening.

En dan prys hy nie sy eie verstandigheid om betyds berou te betoon nie, maar hy besef die genade van God, hy aanbid Sy ontferming en trou, en word des te yweriger in sy strewe na heiliging van sy lewe.

Want dan kan Dawid ook weer sing: Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.

Hy kan hom opnuut verbly in die vriendelike aangesig van Sy Vader. Want hy weet, dis God, dis God alleen, wat hom bewaar het. Dawid se ontrou is oorwin deur God se trou.

En daaroor gaan dit dan in die laaste paragraaf van ons teks. Paragraaf 8. Die gelowiges word bewaar sodat hulle nie definitief uit God se hand val nie.

Maar heel duidelik is, dit is nie te danke aan eie inspanning of verdienste van die gelowige nie. As dit van 'n mens sou afhang, dan gaan dit in elk geval verkeerd.

Maar omdat dit van God afhang, kan dit glad nie gebeur nie.

Ons heil is tenslotte heeltemal in die hande van God.

Waarom? Omdat God nou maar God is.

Kan God ooit afhanklik wees van die keuse van 'n onseker mens? Moet

God net afwag wie volhard en wie nie?

Nee God kan nie en God wil nie.

Want God is God. En as God is Hy soewerein. En daarom regeer Hy onafhanklik.

Sy raad kan deur geen instelling verander word nie. Sy belofte kan nie verbreek word nie. Sy roeping nie herroep word nie. Die werk van Christus nie ongedaan gemaak word nie, en die werk van die Heilige Gees nie vernietig word nie.

En daarom mag die gelowige die pad wat God wys, vol vertroue gaan. Want God Drie-enig waarborg die einde van die pad.

Die Vader gooi Sy kind nie weg nie.

Die Seun verloor nie Sy eiendom nie.

En die Heilige Gees sal ewig by my bly.

En nou is ons weer terug by die begin van die preek.

Weer stuit ons op die woord 'ewig'.

Die Heilige Gees troos my, en sal ewig by my bly.

En omdat Hy ewig by my sal bly, kan ek aarselend vanweë eie onmag maar tog met vaste stem vanweë God se trou, die slotwoorde van Sondag 21 bely:

Ek is van die heilige algemene christelike kerk 'n lewendgemaakte lidmaat en dit sal ek ewig bly.

Soli Deo Gloria.

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)