Die Heilige Gees is 'n groot geskenk van God

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2017-12-20
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Preek Inhoud: 

Ps 20: 1-5
Ps 104: 16-21 (orig)
Geloofsbelydenis
Skb 14: 1, 2
Lees: Gal 5: 13 -26
Teks: Sondag 20 HK

Brs en susters, kinders!

Dit is vandag Pinksterfees, die fees van die uitstorting van die Heilige Gees.

Nou is dit vir ons gewoonlik tamelik moeilik om ons 'n konkrete voorstelling van die werk van die Heilige Gees te maak.

Die werk van die Vader, ons Skepper is vir ons redelik duidelik. Ons sien die resultaat van sy skeppingswerk elke dag rondom ons.

Die werk van die Seun van God is ook nog wel begrypelik.

Ons ken Hom uit die Bybel as Hy wat op die aarde as mens gekom het. Hy het sy werk gedoen as profeet en leraar, Hy het aan 'n kruis gesterf en is daarna weer opgewek. Nou goed.

Maar nou die Heilige Gees. Hy bly vir ons altyd 'n bietjie geheimsinnig. Hy het iets ongrypbaars.

As ons lees in die boek Handelinge dat mense vervul is met die Heilige Gees, dan bly daar altyd by ons sekere vrae.

Wat is dit eintlik en hoe werk dit?

Hoe het die eerste gelowiges dit ervaar en kan ons ook nog soiets ondervind.?

In hierdie situasie dat ons ons moeilik die werk van die Gees kan voorstel, is die gevaar groot dat onsself allerhande dinge begin invul. Ons kom tot fantasieë. Ons gaan sake aan die Heilige Gees toeskrywe wat Hy glad nie doen nie. Allerhande dinge wat ons met ons verstand nie kan deurgrond nie, word dan maklik aan die Heilige Gees toegeskrywe.

Die omgekeerde kan ook gebeur. Dinge wat die Heilige Gees doen word op 'n ander manier verklaar.

B.v. dit is 'n werk van die Heilige Gees dat ons hier vanmiddag as gemeente by mekaar is. Hy vergader ons. Hy roep ons hier rondom die woordverkondiging.

Maar iemand wat weier om daarin die werk van die Heilige Gees raak te sien sal sê: Dit is maar net 'n gewoonte van kerkmense om elke sondag twee keer kerktoe te gaan. Hulle het daaraan self behoefte.

Dit is miskenning van die werk van die Heilige Gees.

Ander voorbeeld. Dit is die werk van die Heilige Gees dat mense geduld, liefde en selfbeheersing kan opbring, maar ons soek verskoning vir gebrek aan daardie sake in ons lewe deur dit as karaktereienskappe te beskou wat onsself ongelukkig nie besit nie.

Daarom is dit belangrik dat ons ons vanmiddag besin op die werk van die Heilige Gees.

Wat is presies sy werk en hoe raak dit ons as gelowiges?

Op 'n Pinksternamiddag is dit 'n uiters gepaste onderwerp om ons mee besig te hou.

Die Heilige Gees is 'n groot geskenk van God

  1. Die Gees maak ons lewend vir God
  2. Die Gees maak ons vrugbaar vir God

Volgens ons Kategismus is die Heilige Gees saam met die Vader en die Seun die waaragtige en ewige God.

Uitgaande van die eenheid in God kan ons sê: Vader, Seun en Heilige Gees werk aan een en dieselfde doel in die wêreld. Ons sou die doel so kon omskryf: Die drieënige God wil van mense eer ontvang oor sy magtige werke in die wêreld.

Om so'n doel te bereik moet daar aan minstens twee voorwaardes voldoen wees. Daar moet mense wees om God te dien en daar moet 'n aarde wees waarop mense kan leef.

Dit is die Gees van God wat Hom daartoe sit om daarin saam te werk met die Vader en die Seun.

Daarom lees ons al in die eerste verse van die Bybel: "Die Gees van God het op die waters gesweef"

Die Gees, die Heilige Gees van God is daar reeds besig om die lewe te verwek. Wanneer God die Skepper sover is om op die toebereide aarde ook aan mense 'n plek te gee, dan is dit die Gees wat uitgestuur word om aan die mens lewensasem te gee.

Dus daarin sien ons duidelik dat die Gees by die skepping 'n taak het.

Maar veral by die herskepping is die taak van die Gees opvallend.

As die mens hom van God afkeer en vir homself gaan lewe dreig die plan van God te misluk. Dan spring weer die Heilige Gees in.

Ons ontmoet Hom op talle plekke in die O.T. Die Heilige Gees wek profete op om die Woord van God aan die mense te bring.

Mense raak vervul met die Gees en begin profeteer van die nuwe werk wat God sal doen.

Op 'n heel besondere manier sien ons die Heilige Gees aktief as God sy grootste werk van verlossing en herskepping begin.

Dan kom daar 'n boodskapper by Maria en sê: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhogste sal jou oorskadu.

Ook hier is die Gees dus heel direk betrokke. Hy wek die lewe van die Christus. Hy ondersteun die Messias van die begin tot aan die voltooiing van sy werk op aarde.

Maar hierdie werk van herskepping bly nie beperk tot Jesus Christus nie. Nee, in Hom wek die Heilige Gees 'n totaal nuwe mensheid.

Let maar op die Pinksterfees. Daar voer die Heilige Gees die plan van God uit om 'n hele nuwe mensheid in lewe te roep.

Deur die Gees kom groot dinge tot stand.

Veral dit: Mense kan mekaar weer verstaan as daar gepraat word van die groot werke van God. Hulle kan weer met mekaar kommunikeer.

Deur die krag van die Gees kan mense weer oor taalgrense heen met mekaar gemeenskap oefen.

Van watter volk of nasie jy ook al afstam, dit is van onder-geskikte betekenis, want ons verstaan mekaar, so gou dit gaan oor die een groot ding waaraan ons almal op dieselfde wyse deel het. Die nuwe lewe in Jesus Christus.

Maar daar gebeur nog meer op daardie eerste Pinksterdag. Ons lees van siekes en verlamdes wat genees word.

Dit is tekens van die nuwe toekoms wat sal kom.

God sal weer nuwe lewe gee. Hy gaan alles nuut maak.

En dit gee 'n geweldige bevryding. Dit open 'n heerlike uitsig.

Ons is nie meer vasgevang in die bestaande nie, maar ontvang nuwe hoop vir die toekoms.

En dit is nou die werk van die Heilige Gees. Hy leer ons om te glo wat ons nie kan sien nie.

Hy leer aan mense van die aarde om te glo in 'n God in die hemel.

Dit is wat die Heilige Gees in die gemeente doen.

Hy maak mense wat van hulself dood is tot lewende mense vir God.

In die verband skenk die Gees allerhande gawes.

Gawes van profesie, van onderwys, van diens, van vermaning, van leidinggee. As ons daarvoor oop oë het dan sien ons ontsaglik baie van die werk van die Gees in die kerk.

Die Gees sorg dat daar ampsdraers is, herders en leraars, ouderlinge en diakens.

Die Gees bring ons tot die belydenis: Jesus is Heer.

Die Gees kom met die prediking van die Woord.

Die Gees werk met die sakramente om mense tot geloof te bring en hulle in die geloof te versterk.

So wek die Gees lewe in die gemeente en staan dooie mense deur sy krag op tot die lewe.

Tot 'n lewe vir hul Verlosser.

2 Die Gees maak ons vrugbaar vir God

In antw 53 bely ons van die Heilige Gees dat Hy ook aan my gegee is sodat Hy my deur 'n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel laat kry, my troos en ewig by my bly.

Let wel, dit word gesê van dieselfde Gees waarvan ons eers bely het: Hy is saam met die Vader en die Seun, die ware en ewige God.

So staan hier: die ware en ewige God is aan my gegee.

Hy het Homself aan my gegee.

Die lewende God neem besit van my!

Dit is die kolossale wonder van die Pinksterdag!

God gee homself aan al die gelowiges. Nie net aan 'n enkeling nie, nie slegs aan sommige spesiaal bevoorregtes, nee, die Gees word uitgestort oor almal. Almal mag Hom ontvang.

Daarom kan ook alle kinders wat in die gemeente gebore word gedoop word, mee in die Naam van die Heilige Gees.

Elkeen ontvang hierdie geskenk, die Heilige Gees.

Hy kom in ons almal woon en werk.

En nou is die vraag: Kan 'n mens dit ook sien?

Hoe word die werk van die Gees sigbaar?

Op hierdie vrae gee Paulus 'n antwoord in die Skrifgedeelte wat ons gelees het. Gal. 5

Daar gaan dit oor die werke van die vlees teenoor die vrugte van die Gees.

Ons het die Skriflesing by vers 13 begin.: Want julle is tot vryheid geroep, broeders.

Om te verstaan wat Paulus se bedoeling presies is, moet ons besef dat die gemeente van Galasië sterk bedreig word deur dwaalleraars wat hulle wil terugroep na die onderhouding van allerhande wette en reëls.

Paulus noem hierdie strewe van die leraars, 'n valse evangelie.

Immers as die gemeente hierdie pad opgaan dan word die werk van Jesus Christus feitlik weer ongedaan gemaak.

Wie meen dat geloof in Jesus Christus beteken dat jy van nou af onder allerhande wette gestel moet word, het dit totaal misverstaan. Dan begeef jy jou opnuut onder slawerny.

Teenoor so 'n leer wek Paulus sy lesers op: Dink daaraan julle is nie geroep om slawe te wees nie, maar julle is tot vryheid geroep. Laat julle nie opnuut onder die heerskappy van 'n wetsreligie bring nie.

Maar daar is ook 'n ander kant.

Daar was blykbaar ook mense wat met die uitdrukking "Julle is tot vryheid geroepe" 'n heel ander kant opgegaan het.

Hulle het gesê: Is ons nie meer onder die wet nie? Maar dan kan ons maak soos ons wil! Ons bepaal self wat goed of verkeerd is.

En dan sê Paulus opnuut: Ho, ho, moenie julle vryheid gaan misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie.

Want as jt dit doen, dan gee jy blyk daarvan, dat jy van christelike vryheid glad niks verstaan het nie.

Want christelike vryheid beteken dat jy gaan wandel deur die Gees. Inderdaad is daarby nie die wet op sig jou leidsman nie, maar die Heilige Gees.

As jy jou werklik deur die Gees laat lei, dan sal jy nooit jou vryheid misbruik as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar gebruik jy die vryheid om deur die liefde te dien.

Deur die Gees leer jy om God en jou naaste lief te hê.

In Gal 5 stel Paulus dan teenoor mekaar die Gees en die vlees.

Die Nuwe Vertaling vertaal hier vlees deur 'jou sondige natuur'. Dit is presies waaroor dit gaan.

Daarmee word tewens die misverstand afgesny dat Paulus met die woord 'vlees' slegs verwys na sondes wat met die liggaam saamhang. B.v misbruik van seksualiteit of misbruik van genotmiddele soos tabak of dwelms of drank.

Want Paulus bedoel met vlees, is die hele mens met sy liggaam, met sy gees, met sy dinke, met sy gevoelens en met sy dade, maar dit alles sonder God.

Die mens is vlees vir sover hy hom nie deur God laat beheers nie. Hy is vlees as hy hom slegs laat lei deur homself en sy eie belang. Daarom is sondige natuur 'n bruikbare vertaling.

So maak Paulus duidelik wat christelike vryheid wel is en wat dit nie is nie.

Christelike vryheid is nie ruimte vir ontwikkeling en bevrediging van jou selfsug nie, maar is ruimte maak vir die werk van die Heilige Gees.

Sê nie te maklik: Ek laat my deur die Gees lei nie.

Ek het my sondige natuur goed onder beheer.

Want voor jy dit weet het jy tog weer daaraan toegegee.

Weet u wat die probleem is?

Jou sondige natuur het jy vanself steeds by jou. Hy sal steeds probeer om oor te vat in jou lewe.

Maar die Heilige Gees is iemand om wie se bystand jy elke slag weer moet vra.

Ek sal 'n voorbeeld gee.

Dink aan 'n vliegtuig. Hy bly in die lug solank as hy brandstof het. Want die brandstof is die krag waarmee hy die ander krag wat steeds aanwesig is kan oorwin, namelik die swaartekrag.

So gou die brandstof op is kom die vliegtuig vanself ondertoe. Immers dan is daar nog net die swaartekrag wat invloed oefen.

So is ons eie sondige natuur die permanente swaartekrag.

Maar die Heilige Gees is die brandstof wat ons in die lug moet hou.

Daarom moet ons steeds vra om die geskenk van die Gees.

Anders neem die swaartekrag van die vlees sommer oor.

Paulus noem 'n paar voorbeelde daarvan.

Owerspel, hoerery, daar gaan dit oor buite-egtelike geslagsverkeer.

Onreinheid- daarby kan ons dink aan allerhande seksueel prikkelende films in die bioskoop op TV of op video. Dit dompel 'n mens onder in 'n klimaat van onreinheid. Onreinheid het ook betrekking op vuil grappe of op die manier waarop jong mense met mekaar oor seks kan praat.

Afgodery en towery- 'n Mens kan van alles verafgood in sy lewe. Tot popidole of sporthelde toe.

Vyandskap, twis, jaloersheid. Daarmee doel Paulus op al die kwaad wat kan voorkom in menslike verhoudings tot en met moord toe.

Alles werke van die vlees voortkomende uit die sondige natuur waarmee ons almal behep is.

Tenslotte nog dronkenskap en brassery. Hoe maklik kan wat as 'n gesellige braai begin het, daarin nie ontaard nie.

'n Swelgparty waarin jy jouself vetmis is ook 'n werk van die vlees.

As ons heel die lysie van werke van die vlees wat Paulus hier opsom oorsien, ontdek ons dat die omstandighede waarin Paulus dit geskryf het deur die eeue heen nogal verander het, maar dat die mens eintlik nog maar presies dieselfde is.

Alle tegniese ontwikkeling en maatskaplike verbeterings het die mens nie van sy selfsug en sy ek-gerigtheid kon bevry nie.

Hy het nog steeds sy sondige natuur.

En daarom het hierdie woorde van Paulus nie verouder nie: Gebruik die vryheid wat jy het nie as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde.

Paulus gee verdere voorbeelde om aan te toon wat dit inhou: liefde, blydskap, vrede. lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Dit is vrugte van die Gees

Let wel dit is dus nie gewaardeerde karaktereienskappe wat die een meer en die ander minder besit nie. Dit is werklik vrugte van die Gees.

As die Heilige Gees van jou besit geneem het, dan kan jy hierdie vrugte verwag.

Dan kom daar sigbare verandering in die lewe van mense. Jy kan dit opmerk in die gemeente: liefde, blydskap, mildheid, vrede. Dit word deur die Heilige Gees tot stand gebring.

Jy mag dit ook by jouself opmerk.

As jy vorder in selfbeheersing, geduld, liefdebetoon.

Dit is 'n heerlike ervaring as jy merk dat jy ondanks jouself dit steeds beter kan opbring.

Maar bly onthou: Dit alles is slegs vrugte.

'n Vrug kan jy nie maak nie. 'n Vrug kan jy nie produseer nie.

'n Vrug kan slegs groei. Groei uit 'n lewe waar die Heilige Gees werksaam is.

Hierdie groei kan aangehelp word deur gebed en ywer.

Maar... 'n vrug bly altyd 'n geskenk.

'n Gawe van God. En dit hou 'n mens nederig en dankbaar.

Amen.

30 Mei '93 middag

Liturgie: 

(kyk in preek)